Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Bekerings wat nie hou nie, was nooit bekerings nie, en is emosie en soos die saad van die saaier wat opgekom en gou verwelk het. Ware bekerings hou stand!
BROKKIES UIT DIE BOEK: DARIUS PRINS – STAATSVYAND (3)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Die probleem het gekom toe ‘n paar onvoorsiene gebeure plaasgevind het. Die eerste was dat Joe Biden te vroeg sy varkies begin verloor het. Hy moes nog ‘n paar jaar kon vasbyt en die Demokrate kans gee om ‘n geskikte plaasvervanger groot te maak. Dis klink maklik, Amerika is uiteraard ‘n groot land, met baie betroubare en bekwame mense, maar hy maak toe die fout om Kamala Harris aan te wys as sy opvolgkandidaat. Op die oog af sou sy dit dalk kon doen, aangesien sy die regte profiel het – middeljarig, swart, liberaal en ‘n vrou. Sy het nie te veel bagasie nie en sy kon, soos Barak Obama, dalk net werk. Terloops, die Hebreeuse woord ‘barak’, beteken ‘bliksem’, maar die Amerikaners het nie ons verwysingsraamwerk daarvoor nie.
“Nou ja, tannie Harris was toe nie so geskik nie. Sy het telkens foute gemaak, het onnosel goed kwytgeraak en die stemmers het daardeur gesien. Kort storie lank, Donald Trump het die verkiesing gewen. Hy is nie meer jonk nie, het bagasie en jy haat hom of is lief vir hom. Hy gee nie werklik om nie, maar hy het ‘n brose ego. Onthou ook nou dat een van sy groot ondersteuners Elon Musk is en alhoewel hulle later ‘n klaarblyklike uitval gehad het, het Musk sy aandag op Suid-Afrika gevestig. Trump nooi vir Ramaphosa en kie om hom te kom besoek. Onthou nou, hy was skaars ingehuldig of dit gebeur. Elkeen wat bietjie insig gehad het, kon vir Cyril sê dis ‘n lokval, moenie gaan nie. Ongelukkig vir hom, het Ramaphosa net so ‘n groot ego, maar hy verberg dit agter die ronde glimlaggies en sjarmante manier om met mense om te gaan. Maar ons het gesien wat gebeur en hy trap viervoet in die lokval. Trump speel ‘n video en hy wat onse president is, maak of hy niks weet nie.”
“Pleks daarvan dat hy net eerlik was!”
“Kyk, Parraphosa het baie kwaliteite, maar eerlikheid is nie werklik een daarvan nie. Hy het ‘n baie informele manier om met feite te werk. Toe giggel hy en sy afgevaardigdes en Trump, soos my oupa gesê het, neem eksepsie. Julle weet wat het verder gebeur. Die punt is, die pot met die paddas in, moes nog ‘n paar jaar sagter gekook word, maar die ding het nou ‘n krisispunt bereik.
“Die volgende probleem was die onthulling op 6 Julie 2025, met die perskonferensie wat luitenant-generaal Mkhwanazi gemaak het. Hier krap hy die vrotspul oop tot by die minister van polisie en heel moontlik ‘n hele klomp ander senior lede. En pleks daarvan dat Ramaphosa hom vra om ‘n formele klag by die owerhede te lê, doen hy soos hy alewig doen, deur ‘n kommissie aan te stel – in die verlede het dit goed gewerk, met die wapenskandaal, staatskaping, Eskom, Prasa en veral Zondo. Hoe lank is die Zondo-verslag al klaar en niemand is nog agter tralies nie? So, hy is gewoond ‘n kommissie is die plek waar die waarheid heen gaan om in papier te verdwyn. Ongelukkig het hierdie kommissie en die parlementêre komitee te veel openbare blootstelling en die mense wat getuig, lieg mekaar en hulleself in ‘n hoek vas. Dis nou nie almal nie, maar ‘n paar van hulle.
“Die DA en die Brenthurst Stigting doen ‘n meningsopname en bevind dat die ANC se gewildheid daal na vlak bokant dié van die DA. Die paar tussenverkiesings wat daarop volg, bevestig dit en die ANC besef hulle gaan dalk net die volgende munisipale verkiesings verloor en beslis die volgende nasionale een. Die kookpot kon nou nie meer stadig prut nie en hulle sit met ‘n keuse. Hulle gaan òf ‘n haas uit die hoed probeer ruk deur die bevolking met ‘n groter maatskaplike toelae te probeer omkoop, maar dit gaan die beskikbare steelgeld verminder, of hulle moet iets anders doen en dit nogal drasties. Hulle besef ook die blankes raak al meer en meer keelvol en gaan nie meer veel langer stukkie vir stukkie agteroor leun nie. Hulle het nog die ingebore en ingewortelde vrees vir die blankes en moet aan die een kant verhoed dat hulle nie saamstaan nie, en aan die ander kant hulle heeltemal ontmagtig. Hoe? Deur hulle te ontwapen en die sekuriteitsmaatskappye, wat veel meer mannekrag het as die polisie en die weermag gesamentlik, vernietig. Wie gaan ‘n reaksiespan of ‘n lyfwag huur wat nie wapens mag hê nie?
“En dit was nie so beplan nie?”
“Glad nie. Ek wil vir julle ‘n voorbeeld gee, of allegorie vertel. Dis nie iets wat juis in die koerante gekom het nie. Hier naby bly oom Bert Struwig. Hy is die mees vredeliewende mens wat jy maar jouself kan indink. Goedig, goedhartig, gemoedelik. Gelowig en vrygewig. ‘n Paar maande gelede het hy en sy vrou, Laura, dorp toe gery. Hier by die vierrigting stopstraat het hy stilgehou, gesien daar kom ‘n kar van bo af, maar dit was nog ‘n ent weg en dit was in elk geval sy beurt om te ry. Die aankomende kar was ‘n warmgemaakte BMW drie-reeks en dit het teen ‘n enorme snelheid aangekom, die stopstraat oorgejaag en in hulle vasgejaag. Tant Laura was op slag dood en oom Bert het sy arm gebreek.
“Vreemd genoeg het die polisie die toneel redelik vinnig besoek, heel moontlik omdat die jongetjie se pa iemand ken, wat iemand ken. Of die mannetjie onder die invloed van alkohol was, of iets wat hy gerook het, maak nie saak nie, maar hy het net daar gestaan en lag. Tant Laura was bebloed en hulle het haar by die bestuurderskant uitgehaal. Oom Bert het na een van die polisiemanne toe geloop, ‘n luitenant-kolonel, doodluiters sy wapen uit sy holster gehaal en die outjie drie keer geskiet, teruggeloop na die polisieman en sy wapen teruggegee. Oom Bert is onder polisiebewaking in die hospitaal versorg en moes die volgende Maandag in die hof verskyn vir borgaansoek. Die saak is teruggetrek, want, soos ek verstaan, kon hulle nie die polisieman se pistool stuur vir ballistiese toetse nie, wat hy as voorheen uitverhuur en heel moontlik gebruik het by twee ander moorde.
“En?”
“Dis hoe die verloop gegaan het in die politiek. Daar was net te veel gekonkel en die netwerk het te wyd gestrek. Hulle het uiteindelik vasgekoek geraak in hulle eie web. Dit saam met die waterstelsel wat uitmekaar geval het, die amadudula – die mense van Operasie Dudula – wat nie wou bes geen nie, die Bela-wet, OSV, en natuurlik Trump wat die hele pot en kaboedel onder sanksie geplaas het.”
“En die vuur onder die pot het buite beheer geraak?”
“Ja. En die Boere het uitgespring.”
*
“Darius, jy volg ‘n teorie wat jou hierheen gebring het, om te weet of hier van die sogenaamde ‘Skaars Aard Elemente’ is? Die Engelse praat van ‘Rare Earth Elements’?”
“Ja. Onthou, ons, dit is nou ek en ‘n paar betrokkenes, probeer agterkom waarom ons ou volkie so gehaat word. Wat doen ons dat ons uit die weg geruim moet word.”
Bertie Lotz maak sy dra-sak oop en haal ‘n skootrekenaar uit.
“Hier is ‘n lys van al die elemente wat hier gevind is, en wat moontlik gekry kan word. Hulle is elkeen belangrik vir nuwe tegnologiese ontwikkeling in die velde van elektronika, vanaf selfone, mikrogolf-oonde, karre en natuurlik bewapening soos geleide missiele ensovoorts. Ja, en die Chinese, Russe en Amerikaners het almal belang daarby. Die feit is egter, dat nie een van hierdie elemente of minerale uitsluitlik hier voorkom nie. In groter maat as op ander plekke, maar dis nie endemies van hierdie omgewing nie.”
“So, ons is op verkeerde pad?”
“Wel... ja en nee. Wat ek nou sê is moontlik, maar nie beslis nie. Daar is wel ‘n element, maar ek praat nou van hoorsê. Het jy al gehoor van ‘thorium’?”
“Ja, dit lui ‘n klokkie, maar ek is nie ‘n wetenskaplike nie.”
“So, is jy nie heeltemal uit jou diepte nie?”
“Ek is. Maar ek is bereid om te luister en te leer.”
“Nou goed. Thorium kom in relatiewe groot maat voor, maar nie by ons nie. Dit word gebruik as ‘n alternatief vir brandstof in kernkrag opwekkers. Dis is veiliger en laat minder gemors na as uraan. Dit kan ook gebruik word vir mediese isotope vir kankerbehandelimg.”
“Ek moet erken, ek dink nie dis belangrik genoeg om ‘n volk voor uit te roei nie.”
“Nee, dit is nie. Maar daar is ‘n verwante element, wat tans nie eens op die periodieke tabel voorkom nie. Mense lag lekker, want dit is vantevore ‘n element wat in mense se verbeelding voorgekom het en is in ‘n episode of twee op ‘Starwars’, of ‘Startrek’ genoem, ek kan nie onthou nie. Die naam is naby, maar ook anders. ‘Thoranium’. Dit het verwantskappe met thorium, maar ook met uraan. Onthou nou, ek praat van hoorsê en spekulasie. Die ding is – en hier moet jy jou gedagtes terug laat gaan – jy weet dat in die ou bedeling ons wetenskaplikes uraan baie eenvoudiger en goedkoper verryk het vanaf U-235 na U-238? Die tradisionele of geykte manier is om dit met sentrifugale prosesse te verryk. Dit is duur en vat baie lank. Thoranium is die tower bestanddeel, as jy dit so wil noem. Daar is sprake dat van hierdie verrykte uraan, wat destyds geberg is nadat ons kernbomme uitmekaar gehaal is, op die ‘Lady R’ skip, jy onthou seker daarvan, gelaai is. Die Amerikaners weet daarvan en dit is waarom hulle destydse ambassadeur, Ruben Brigety, onmiddellik daaroor kapsie gemaak het. Jy sal seker ook onthou dat hy relatief vinnig herroep is.”
Darius is vir die oomblik uit die veld geslaan. Dis ‘n hele klomp feite wat hier genoem word en hy neem ‘n minuut om dit te verwerk.
“En hier is daarvan? Van die Thoranium?”
“Nee. Sover ek weet is dit by ‘n plek met die naam Steenbokpan.”
“Steenbokpan, naby Ellisras, by Kusile of Medupi?”
“Nee, in die Wes-Kaap. Askies, ek verspreek my. By Steenkampskraal, of daar naby.”
“En dit is belangrik genoeg?”
“Onthou nou, dis ‘n relatiewe onlangse ontwikkeling. Maar ons volk was al voorheen die amperse teiken van uitwissing, met die diamante, goud, Kaapse seeroete en bloot omdat ons die Britse koningshuis se naam Sakkie Klopper gemaak het in die Boereoorlog.”
“Wie is Sakkie Klopper?”
Die Phalaborwa mense lag.
“Dis soort van ons eie village idiot. As jy lank genoeg hier bly, sal jy hom leer ken.”
“Waar gaan ek meer inligting kry oor hierdie Thoranium?”
“Jy sal maar Kaap toe moet ry.”