Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die laaste vreugdes van die lewe is nie net stiller nie maar ook voller en dieper as dié van die jeug. Die aand van die lewe voorsien sy eie lamp; nie ‘n skerp elektriese lig nie, maar die sagte, warm kerslig van Godsvertroue en dankbaarheid.
BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (7)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
“Hulle gaan nie kom nie, nê?”
Hy staan lank stil voor die venster. Die gordyne is weggeskuif, sodat die laaste donkerte van die aand die buitekant in ‘n veilige ondeursigtigheid laat.
“Nee, ek is nou seker hulle kom nie meer nie.”
“Is dit dan tyd?”
“Ja, Liefste, dis tyd.”
“Kan ons wag tot dit lig is?”
“Ja, natuurlik.”
Lida se liggaam is baie maer en uitgeteer van die tuberkulose, of tering, soos die ou mense dit genoem het. “Consumption” noem die Engels dit en as hy mooi daaroor dink, is dit die regte woord. Die tuberkulose vreet aan ‘n mens, totdat niks oorbly nie, behalwe ‘n leë houer van bene.
Onder gewone omstandighede sou sy behandeling kon kry, ‘n relatiewe gewone leefstyl kon volg en selfs miskien gesond word. Die oorlog het dit verhoed en sy word dag na dag kleiner en kleiner. Dis net haar groot, helder, blou oë wat dieselfde is.
Dis die eerste ding wat hom getref het, soveel jare gelede, toe hulle saam op skool was – die treffende, intense blou oë. Sy verliefdheid daarop het intens toegeneem soos hy haar beter leer ken het, maar daar was meer – haar persoonlikheid, die sagtheid van haar manier van doen, die besorgdheid toe hy ligamente in die knie geskeur het en sy saam met die medics op die veld gehardloop het om sy hand vas te hou.
Dit was die laaste wedstryd wat hy gespeel het vir sy alma mater. Net na die matriekafskeid het hy haar gevra om te trou en sy het vir hom gewag terwyl hy sy graad voltooi het. Net nadat hy van die Grens af teruggekom het, is hulle getroud.
Gisteraand het hy die laaste koppie koffie gemaak. Die koffiepoeier is nou klaar en die lepeltjie kondensmelk uit die blikkie het ook nie enigiets vir later gelos nie, behalwe ‘n blinkgekrapte bodem. Die boeliebief was al twee dae gelede klaar, die laaste halwe blikkie soetmielies ook, maar hy het haar nie gesê nie. Sy kon immers al vir ‘n week nie meer eet nie.
Rob maak seker daar is nie meer enige rondte wat in ‘n laai rondlê nie. Nie in die kluis, in die klerekas, selfs ‘n verdwaalde een in ‘n kombuiskas nie.
Hy kry die ou weermag Star B, haal die magasyn uit en vir die soveelste maal kyk hy na die enkele rondte in die loop, as hy die sluitstuk effens agtertoe trek. Dan gaan staan hy weer voor die venster.
Tussen die huis en die boord sal daar ‘n paar hopies mens lê, weet hy, al kan hy dit nie sien in die laaste donker nie. Die sporadiese gevegte het vir dae aangehou en hy het al sy ammunisie weggeskiet. Alles behalwe hierdie laaste een. Hy wens daar was twee.
“Rob, belowe my hulle sal my nie in die hande kry nie, selfs… selfs nadat ek dood is?”
“Ek belowe.”
Lida kyk na waar Rob staan. Sy skouers is steeds breed onder die ou baadjie, maar nie meer so gespierd en dik as wat dit altyd was nie. Die afgelope maande se min eet het daarvoor gesorg. Die min eet en die feit dat hy amper nooit meer as vyf minute van haar af weggegaan het nie.
Is dit wat ware liefde is? Om by ‘n gebroke mens soos sy te bly, al kon hy lankal ontsnap het en aan die lewe gebly het, selfs al het sy soveel maal vir hom gesmeek om dit te doen. Wat het sy gedoen om hierdie fenomenale man se liefde end-uit te verdien? Sy weet daar was mooier en meer sexy meisies wat hom wou gehad het, maar hy het hààr gekies.
Dit was ‘n goeie lewe, met drie mooi dogters uit die huwelik gebore. Wat kon van hulle geword het? Indien enigsins moontlik, sou hulle gekom het, dit weet sy. Daarom moet sy ook uiteindelik die feit aanvaar dat hulle… dood is? Met die aanvaarding van hierdie wete is dit asof ‘n groot vrede van haar besit neem, op dieselfde oomblik as wat die bekommernis uit haar wese ontsnap.
Daar is niks so wreed soos ‘n burgeroorlog nie. In ‘n konversionele een sou die soldate gaan oorlog maak op die slagveld, of dit nou by Bloedrivier, Magersfontein, Spioenkop, Flaandere, Angola of by Iwo Jima is. Met ‘n burgeroorlog is jou huis en tuiste die slagveld en die vyand is jou eertydse bure, werkers, kollegas en selfs vriende. Dan is daar nie ‘n veilige plek om na terug te keer as jy moeg geveg is nie en daar is niemand met wie jy vredesonderhandelinge kan aanknoop nie.
Daar is die soldate nie die mans wat op Kommando vertrek nie en die vroue wat die huis en haard aan die gang hou nie. Daar is kos wat gerantsoeneer moet word en elke keer as water by die put gehaal word, is dit met lewensgevaar. Jy kan ook niemand vertrou nie, behalwe jou eie en in hulle geval is die “eie” drie pragtige dogters en vier kleinseuns. Nie is nie, wàs; daarvan is sy nou seker.
Lida begin hoes. ‘n Onbedaarlike, pynlike hoes, waarin elke uitstaanende ribbebeen teen die dun nagrok span en ontspan. As sy haar hand wegneem, is daar bloed in haar vuis, wat sy skelm aan die vadoek afvee, al weet Rob goed daarvan.
“Bietjie water?”
Hy tel haar kop met teerheid op, terwyl hy die dun, ylerige hare, wat net anderdag nog dik en bruin en weelderig was, met sy ander hand van haar voorkop wegvee. Sy neem ‘n slukkie, meer om hom te troos, as wat sy die water wil hê. Dan skud sy haar kop om te wys dis nou genoeg. Rob laat sak haar kop op die deurweekte kussing en sy eie kop draai hy weg, sodat sy nie die trane kan sien nie.
Hy loop badkamer toe en gaan suig die laaste petrol uit die kragopwekkertjie in die leë ketel in. Hulle gaan nie die masjientjie weer nodig kry nie. Hy gooi die brandstof oor sy en haar vuil dagklere en skuif dit onder die bed in, net diep genoeg dat hy dit kan bykom met die vuur. Hy hou ‘n stukkie petroldeurweekte lap op die bedkassie langs hom.
“Nag, my liefste. Ek kry jou daar anderkant.”
“Rob, vertel my weer wat in Jesaja drie en veertig staan?”
“Moenie bevrees wees nie, want Ek het jou verlos. Ek het jou op jou naam geroep – jy is myne!”
Hy trek die dik baadjie uit en ook sy skoene, gaan lê langs Lida op die bed en maak sy oë vir oulaas toe. Hy weet nie wat om te bid nie, maar glo dat Liewe Jesus sal verstaan.
Hy draai op sy sy, sit sy arms om sy uitgeteerde bruid en rol dan terug op sy rug, sodat sy op sy bors kan lê, soos soveel ontelbare kere in die verlede. Hy skuif haar effens boontoe, sodat hy haar droë, gebarste lippe kan soen. Daar is nog biejie bloed aan en hy proe dit.
Die son steek nog nie sy kop uit nie, maar dit is grys-lig in die kamer. Haar eens helderblou oë is effens dof.
Hy vat een van die laaste vuurhoutjies uit die pakkie, trek dit langs die boksie se kant en dit maak ‘n kras geluid in die stilte. Hy steek met sterk hande, sonder om te bewe, die stukkie lap aan, wat dadelik vlamvat. Dit skroei die hare op sy gewrig, maar dit maak nie meer saak nie; gooi die flentertjie vlam onder die bed in, waar die petrol en klere met ‘n “woep” aan die brand slaan.
Tevrede dat die vlamme tot teenaan die onderkant van die bed brand, sug hy diep, beweeg Lida se kop sodat haar linkeroor teen syne is en haar slaap teen syne. Sy trane loop saam met hare in die spasie tussen hulle nekke in.
Hy haal die pistool se haan oor, druk die loop teen sy regterslaap en druk die sneller. Nie hy of sy hoor die knal as die enkele koeël deur hulle albei se koppe trek nie. Hulle voel ook nie die hitte van die brandende bed nie.
Die huis smeul nog toe die kinders daar stilhou.