Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moenie by jóu pyn en jóu lyding bly vashaak nie. Fokus liewer op God se plan. Dis hoe Jesus die pyn van die kruis verduur het.
BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (4)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Kris gaan noukeurig deur die lys: nege elektriese ingenieurs, ‘n man, Sarel, wat ‘n MSc het in watersuiwering, drie mediese dokters, een neurosjirurg, agt siviele ingenieurs, een wetenskap-onderwyser, vier mynbou ingenieurs (hoogs gekwalifiseerd), ‘n oud-weermag senior offisier, twee regsgeleerdes, en dan ‘n handvol ander spesialiste. Hulle is almal, behalwe vier manne, tussen dertig en vier en sestig jaar oud. Die oudste, die soldaat, is nog baie fiks en gesond.
Die volgende stap is ‘n ernstige probleem, naamlik hoe hulle terug gaan kom in Suid-Afrika. Die voor-die-hand-liggende manier is natuurlik om te vlieg. Tussen hulle het hulle selfs genoeg geld om ‘n private straler te huur. Na ‘n hele oggend se oproepe is hulle moed in hulle skoene: geen vliegredery vlieg meer na Suid-Afrika toe nie en inderdaad na geen land in sub-Sahara nie. Na vele navrae is nie een huurvlugmaatskappy bereid om hulle te neem nie, nie teen enige koste nie.
Selby Maritz is ‘n gekwalifiseerde vlieënier, selfs op veel-motorige vliegtuie, maar hulle kan geen groot-genoeg vliegtuig te huur kry nie. “Die risiko is heeltemal te groot.”
Met ‘n nuus-embargo uit sub-Sahara Afrika en veral uit Suid-Afrika, weet niemand wat die werklike rede is nie. Dit veroorsaak dat die manne net meer vasbeslote word om terug te keer.
“Nou goed, menere, ons kom weer môre hier bymekaar om vier-uur. Kyk wat elkeen uitgerig kan kry en ons besluit dan hoe. Nie ‘as’ nie, maar ‘hoe’.”
*
Dis met ‘n warboel gedagtes dat Nicodemus oor die teerpad loop na waar die mense bymekaar is. Sommige kyk skuldig op as hy aangeloop kom, vir ‘n oomblik stilstaan en dan na die jongerige man loop wat op die opdientafel staan en raas. Nicodemus luister vir ‘n minuut na die man se tirades en moet erken die ou het baie charisma en oortuigingsvermoë. Hy loop nader en beveel die man om af te kom, aangesien die dames die tafel gebruik vir kos.
“En wie is jy nogal, ou man?”
“My naam is Nicodemus Verwey. En jy is die Israeliet uit die Noord-Kaap?”
“Nee, Wes-Transvaal – Noordwes, soos hulle dit nou noem, Oom.”
“Wie is jou ‘Oom’?”
“Dis bloot uit respek dat ek dit sê.”
“Jy lieg man. Jy het nie respek nie, anders sou jy jouself kom voorstel het, voordat jy begin het om nonsens in my kamp kwytraak.”
“Dis nie nonsens nie, Oom. Dis die waarheid en dis my plig om die mense reg te help…”
“So, ek neem aan dat jy met my in gesprek sal tree oor die sogenaamde ‘waarheid’?”
“Natuurlik! En die waarheid is hier in my hand!”
Japie swaai ‘n verwaarloosde Bybel rond.
“Vasie,” vra Nicodemus. “Sal jy asseblief in my studeerkamer my Griekse en Hebreeuse Bybels gaan haal? Ek vermoed die man wil ons beïndruk met sy meerdere kennis.”
Hy draai terug na die man met die spoeg om die mond. “Jy kan mos inderdaad Grieks en Hebreeus lees, of hoe?”
“Nee, maar dis nie waaroor dit gaan nie!”
“Waaroor dan?”
“Oor die waarheid! Dat ek ‘n direkte afstammeling is van Dawid, die koning van Israel en die verlore tien stamme. Dat die Een wat julle as ‘God’ aanspreek se naam eintlik Jahwêh is en sy seun is Jehoshua, nie hierdie ‘liewe Jesus’ wat julle van praat nie.”
“Ou grootseun, al kan ek vir jou uit die oorpronklike tale verduidelik wat geskryf is, gaan jy jou laat oortuig?”
“Nie in ‘n honderd jaar nie! Ek bly by wat die regte en goddelike waarheid is.”
“Goddelike?”
“Ek bedoel ‘Elohim-waarheid’.”
“So, as ek jou nie kan aanvat op ‘n eerlike, akademiese grondslag nie, wat dan van iets anders?”
Die jonger man is uit die veld geslaan.
“Iets anders?”
“Ja, jy is mos nou van koninklike afkoms. Dit gee jou ‘n voordeel. So, kom ons besleg die geskil op ses honderd meter met sestig millimeter mortiere.”
“Ek het nog nooit met een gewerk nie.”
“Okay, dan wat van lang-gewere op ses honderd meter?”
Een van die manne kom aangeloop. Hy fluister dringend in iets in Japie se oor.
“Nee, meneer…”
“Ek is ook nie jou ‘meneer’ nie. Ek is al vir meer as vyf en dertig jaar nie meer een nie. Jy kan my as ‘Doktor’ aanspreek. Ek verdien die aanspreekvorm.”
“Nou goed, Doktor.” Hy lê ‘n sarkastiese klem op die titel. “My vriend sê jy was ‘n skerpskutter in die weermag. Dit is dus onbillik.”
“Wat dan van handwapens op tien meter?”
Die jonger man word bleek.
“Nee, ook nie. Ek wil nie jou bloed op my gewete hê nie.”
“Nou goed, seun. Jy is hoe oud – agt en dertig, veertig?”
“Twee en veertig”
“Ek is amper dertig jaar ouer as jy en jy lyk fris en gesond. Wat van ons armdruk sommer hier op die tafel. As jy wen, loop ek weg en as jy wen, dan vat jy jou gespuis en gaan terug plaas toe. Wat sê jy?”
“Enige tyd!”
Die twee gaan sit oorkant mekaar, weerskante van die tafel. Omdat die jonger man se arm baie korter is as die ouer man s’n, sit hulle ‘n dik boek onder sy elmboog.
“Begin enige tyd wat jy wil.”
Japie span al sy kragte in as hy skielik begin druk. Hy is sterk en jonk, met baie selfversekerde oortuiging. Niks gebeur nie. Hy kyk na ‘n halfminuut op na die ou man se oë.
“Jy lag vir my!”
“Ja, ek doen. Maar gaan voort. Ek is oud en miskien kan jy my moeg maak.”
Japie gryp skielik met sy linkerhand na sy regtergewrig en druk. Die ou man se arm roer nie en hy los met sy linkerhand. Nicodemus span skielik sy kragte in en klap die outjie se hand, kneukels eerste op die tafel, so hard, dat die jonger man uitroep van pyn en skok. Nicodemus bring sy hand weer regop en slaan die jonger man s’n weer hard op die tafelblad. Oor en oor doen hy dit, totdat hy hoor die man se kneukels breek op die hout van die tafel.
“Askies, Oom, ek bedoel, Doktor! Asseblief, ek kry seer, hou tog op!”
Nicodemus laat sy hand los. Skielik is hy woedend kwaad en slaan die jongman met ‘n bakgehoude plathand teen die oor.
“Voetsek jy en jou gespuis terug na jou nes iewers in die Weste!”
Hy kyk na al die ander mense.
“En enigiemand wat saam wil gaan, maak dadelik ook so!”
Niemand reageer nie, maar kyk skuldig af na die grond. Die afstammeling van Dawid hou sy regterhand met sy linker vas en maak homself vinnig uit die voete. Sy navolgers draf agterna, behalwe vir vier manne wat bly staan.
“Kan ons maar bly, Doktor?”
“Ja, julle kan, maar noem my asseblief ‘Oom’.”