Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy waarlik gelukkig wil wees hier op aarde, moet jy jouself verloor in 'n saak wat groter, beter, blywender en van groter waarde is as jou eie klein bestaan. Geen mens kan gelukkig wees as jy net vir jouself leef nie.
GERHARDUS MARTHINUS MARITZ – 1 MAART 1797
"So verleng God die dae van diegene wat hulle ouers eer, in die land van hulle vaders en bewys Hy barmhartigheid aan meer as die derde en vierde geslagte van dié wat Hom liefhet en sy Gebooie onderhou."
Op 27 April 1718 gooi die 't Raadhuis van Vlissingen anker in Tafelbaai, met aan boord die jong man Jan Morits Marits (Die van Maritz is aanvanklik met 'n s gespel). Hy was 'n soldaat in diens van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie. Soldaat wou hy egter nie lank bly nie want van sy aankoms af het hy geweet dat Barntrup in Lippe en sy geboorteland, Duitsland, hom nooit weer sal sien nie en dat hierdie onbekende land sy vaderland gaan word.
Ses jaar later vestig hy hom in Drakenstein as vryman, waar hy in die huwelik tree met Johanna Barendina Labuschagne. Hier in Drakenstein het hy weer sy beroep wat hy in Duitsland voordat hy as soldaat opgekommandeer is, beoefen deur kleremaker te wees en op hierdie manier sy gesin te versorg.
Ná elf jaar moet hy met vier jong kinders by die graf van sy vrou staan. Jan Marits sterf slegs enkele maande nadat sy vrou oorlede is.
Die weesmeesters De Wet en Cruijwagen gee opdrag dat al sy besittings op 'n openbare veiling verkoop word, en behalwe die gewone huishoudelike goedere, was daar ook 'n dosie vingerhoede met naaldwerkringe, twee koperstrykysters, sestien boeke, 'n skryflei en 'n skoolbank.Die oudste kind aan wie Jan reeds onderwys begin gegee het, se naam was Johannes Stephanus. Hy trou op negentienjarige ouderdom met die jong weduwee Elsie Louw in weerwil van bedenkinge van sy pleegouers, Pieter en Anna Labuschagne. Dié weduwee is immers goed sewe jaar ouer as hy en het boonop drie kinders uit haar vorige huwelik. Maar die jong Johannes laat hom nie afskrik nie. Elsie het 'n stukkie grond van haar eerste man, Leonardus Louw, geërf en daar is ook een slaaf, vier perde, twee-en-dertig beeste en honderd skape. Genoeg om 'n bestaan mee te maak. Meer nog, hy het aansoek gedoen by die Politieke Raad om as skoolmeester 'n vaste inkomste te verdien – 'n saak wat na die Kaapse Kerkraad verwys word, voor wie hy eksamen moet aflê voordat die versoek toegestaan word.
Daar volg sewentien moeilike en tog gelukkige jare. Met eindelik ses kinders in die huis, het hulle dit nooit breed nie maar kos-arm is hulle ook nie. Toe Elsie op 43 jarige ouderdom sterf, en die jongste kind pas twee jaar oud is, is dit vir Johannes 'n geweldige slag. Dit is eers ná vier jaar dat hy weer trou – met die jong Martha Pienaar, een van sy oud-skoliere. Hierdie keer is dit háár pa, Salomon Pienaar, Drakensteinse burger, wat bedenkinge het. Afgesien daarvan dat Johannes Marits reeds 'n man van veertig is en ses kinders, dink hy nie dié skoolmeester sal dit veel verder in die lewe bring nie. Hy moes nooit toegelaat het dat sy dogter na dié man se skool gegaan het nie. Die jonge Martha het haar opleiding daar egter as 'n bate beskou waarmee sy ook haar en ander kinders kon leer lees, skryf en met syfers werk. Sy was ook bereid om met die katkisasieklasse te help.
Martha en Jan het hard gewerk en aan die einde van hulle lewe was dit alles die moeite werd. Om hulle tafel het die kinders soos jong wingerdlote gesit. Te ete was daar altyd genoeg. En hulle kon aan hulle kinders meer gee as rykdom en weelde: 'n skerpte van gees en 'n brandende begeerte om meer van alles te weet. Dít was die beste erfenis aan hulle nageslag. Ook sou hulle kleinseun, Gerrit, wat jare later sy stempel op dié land sou afdruk, sorg vir 'n kosbare erfenis aan die nageslag.
Salomon, die derde seun uit die huwelik van Johannes en Martha, was van kleintyd af 'n ondernemende kind wat aanvanklik vir sy ma 'n sterk seun was op die plaas. Wanneer sy skoolmeester-pa die dag nie tyd gehad het nie, was dit klein Salomon wat die boerdery moes versorg.
Op sestienjarige ouderdom besluit hy egter, tot hul ontsteltenis, dit het tyd geword dat hy op sy eie bene staan. Toe hy verneem dat daar werk in Swellendam se omgewing is, verlaat hy sy ouerhuis, Ná hy heelwat in die distrik rondgeswerf het, en nog slegs 'n perd en 'n roer bymekaargemaak het, tree hy in diens van 'n boer, Gerhardus Oosthuijsen. Hy help daar met die boerdery en gee vir die drie jong kinders letteronderwys. In dié tyd kruip die jong Maria al hoe dieper in sy hart. Toe die Oosthuijsens later na Graaff-Reinet verhuis, besluit Salomon om nie agter te bly nie. Daar is hy later met Maria getroud toe hy drie-en-twintig is en sy vyftien jaar oud.
Die eerste kind uit hierdie huwelik gebore op 1 Maart 1797, was 'n seun, Gerhardus Marthinus. In sy kort lewe van 41 jaar sou hy later as Voortrekkerleier een van die mees dramatiese tydsgewrigte in die geskiedenis van sy oupagrootjie se aangenome vaderland meemaak.
Vandag, op 1 Maart 2011, dink ons weer aan die dapper Voortrekkerleier, en saam met die nasate van Gerrit Maritz herdenk ons sy geboortedag - nasate waarvan die bekende oudstoeier Manie Maritz wat hierdie jaar 86 word, sy seun Gerrit, ook dié se seun Manie, en dié se seun Manie Gerrit Maritz, al vier geslagte in die Brits-distrik woonagtig is. Groot-oupa Manie is op 5 April 1925 gebore, en sy seun Gerrit is gebore uit sy eerste huwelik. Toe hy later met Beatrice getroud is, het Gerrit sy hart op Beatrice se dogter, Maritha, verloor en uit hulle huwelik is twee kinders gebore, klein Beatrice en klein Manie. Beatrice is getroud met Heinrich Werner en uit hierdie huwelik is daar 'n seun en 'n dogter gebore. Manie is met Annelie Pieterse getroud en uit hulle huwelik is daar een seun en twee dogters gebore. Die oudste, klein Manie Gerrit Maritz, word hierdie jaar 9 jaar oud, Emilene word binnekort 7 jaar en klein Maderie was pas 1 jaar oud.
So verleng God die dae van diegene wat hulle ouers eer in die land van hulle vaders en bewys Hy barmhartigheid aan meer as die derde en vierde geslagte van dié wat Hom liefhet en sy Gebooie onderhou.