Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Om getrou jou daaglikse werk te doen en verantwoordelikhede na te kom bring gemoedsrus en vrede. Die nalaat van doelgerigte arbeid beroof 'n mens van sy vrede wat van hom 'n beskaafde mens maak.
SUID-AFRIKA VÓÓR 1994
DIE REG OM TE WERK
Jeanette Koekemoer
In die jare vóór 1994, dus voor die onbevoegdheid van die ANC om in stand te hou dít wat hulle onwettig en gratis ontvang het ter sprake was, was dit die blanke regering se beleid om die stelsel van 'n vryemark-ekonomie te steun waarin die private sektor maksimum vryheid gegee is om ekonomiese groei te stimuleer om sodoende werkgeleenthede te skep. Maar die verantwoordelikheid het ook by die staat gelê om te sorg dat sy burgers se reg om te werk uitgevoer word – die reg om te werk veronderstel tog 'n verpligting om werk te verskaf. Daarom was dit uit twee oorde nodig om seker te maak dat daar nie 'n onherstelbare werkloosheidsyfer is nie: die regering se steun aan 'n vryemark-ekonomie, en die regering se eie werkskeppingsprogramme. Hierdie twee uitgange het gemaak dat Suid-Afrika vóór 1994 nie in die onbenydenswaardige situasie was waarin hy nou verkeer nadat die ANC die vryemark-ekonomie met sy kommunistiese stelsel vernietig het nie. Daarby kom die ANC ook nie sy verantwoordelikheid teen sy landsburgers na soos die Departement van Mannekrag in die vorige regering hulle taak vervul het nie.
In die boekjaar 1989/90 het die staat sy verantwoordelikheid nougeset uitgevoer en het al die staatsdepartemente en administrasies sowat R80 miljoen aan werkskepping bestee – vir daardie tyd was dit 'n enorme bedrag. In daardie jaar is 780 698 werkloses as deel van die werkskeppingsprogram in diens geneem. Daarmee is daar sowat 13,3 miljoen mandae gedurende daardie jaar gewerk – iets wat in die Nuwe Suid-Afrika met al sy ekstra 'vakansiedae' en geen dissipline in alle geval onmoontlik is.
Die destydse regering se aanmoediging aan die private sektor vir werkskepping het ook gelei tot talle projekte deur verskeie organisasies. "Werkskepping Suid-Afrika" was 'n gesamentlike onderneming deur die National African Federated Chamber of Commerce (Nafcoc) en die Barlow Rand-stigting. Dit het sowat R2,5 miljoen suksesvol aan sy eerste kontrak bestee om 'n groot aantal Swart ondernemers op die been te bring.
Beperkinge wat gevloei het uit wetgewing asook uit kollektiewe ooreenkomste tussen werkgewers en vakbonde is in 1987 almal opgehef. Lede van alle bevolkingsgroepe kon daarna vrylik beweeg om hul ondernemersregte in 'n wyer gebied uit te oefen.
Dit was ook nie die regering se beleid om immigrante in diens te neem terwyl daar plaaslike persone vir die werk beskikbaar was nie – anders as die ANC vandag wat links en regs onwettige persone in diens stel en so sy eie burgers die reg op werk ontneem (hiervan is die ANC-polisiediens 'n goeie voorbeeld, vandaar die grootste misdaadorganisasie in die land met talle onwettige immigrant-polisiemanne wat die kernoorsaak van die hoë misdaadsyfer in Suid-Afrika is.)
Al hierdie faktore het tot gevolg gehad dat werkloosheid teen Junie 1990 sterk afgeneem het en is die grootste konsentrasie werkers in die vervaardigingsbedryf aangetref (1 461 308); gevolg deur die regering en dienstesektor (1 266 771), handel en akkommodasie (813 808), mynbedryf (186 280), vervoer en kommunikasie (361 268), konstruksie (417 500), finanansies en versekering (186 280) en elektrisiteit (50 900). Sowat 5.4 persent van die arbeidsmag wat in diens was in 1989 was ambagsmanne en vakleerlinge, terwyl die beroepskategorie van professionele, semi-professionele en tegniese werkers sowat 12 persent van die arbeidsmag in diens, uitgemaak het. Daar was wel in minderheid buitelandse werkers in diens geneem maar dit is ingevolge interstaatlike ooreenkomste met buurstate gedoen.
Die bevolkingsopname van daardie tyd wat geen sirkus was soos die afgelope sensusopnames van die ANC nie, het getoon dat werkloosheid veral onder Swartmense, Kleurlinge en Asiërs merkbaar afgeneem het. In Junie 1989 was die werkloosheidskoers vir Swartvroue slegs 16,3 persent, en vir Swartmans 8,3 persent.
Werkloses wat tevore tot die Werkloosheidversekeringsfonds bygedra het terwyl hulle 'n inkomste gehad het, is ruim vergoed wanneer hulle nie meer in diens was nie.
Neem vandag die toestand wat die ANC geskep het met betrekking tot werkloosheid onder alle bevolkingsgroepe. Die ontvredenheid veral onder die Swart massas word by die dag groter, nie net oor daar niks van al die ANC-beloftes teenoor hulle gekom het nie, maar ook omdat daar nie vir hulle werk is nie, net soos daar ook nie vir ons wit kinders en gegradueerdes werk is nie. Moeletsi, die broer van Thabo Mbeki het Donderdag by 'n geleentheid gesê dat die ANC die ekonomiese infrastruktuur wat die Afrikanernasionaliste in die ou bedeling opgebou het, vernietig het en dat dit sal lei tot opstand en revolusie soos in Noord-Afrika. Voeg maar daarby: soos nog nooit tevore gesien nie!