Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As die hoof van ‘n land onreg bedryf en bose wette uitvaardig, mag die gelowige hom nie daarin volg nie. In hierdie verband spel Hand.5:29 vir gelowiges die goue reël uit waar ons lees: “En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense”.
RORKESDRIFT
LAND VAN ONS VADERS
(Lees reeks by Land van Ons Vaders)
Dr WJ de Kock
Uit die pen van 'n Britse soldaat
Wanneer ek dink aan groot nagte in dié land se geskiedenis – nagte van moed, van vlug, nagte van bloed en bid - dan is die nag van 22 Januarie 1879 onder die voorste nagte. Die plek: Rorkesdrift, Natal.
Kyk daar onder, dis Buffelsrivier daar wat met sy groot kronkeldraaie na die Tugela loop en verder, baie verder tot waar ons daardie dae die forte gebou het, nog verder tot by die see waar die seesoldate was in die swaar dae van Ketsjewajo se oorlog.
En daar, effens links, kyk, dis die berg van die "Skaap se Blaarpens" – Isandhlwana – waar 1 000 mense se bloed gevloei het die oggend voor ons die Zoeloes hier gekeer het.
En hier by ons is die plek waar ons handjievol daardie nag gestaan het. Eenkant, daardie selfde woonhuis waar die Sweedse sendeling nou woon, dit was die hospitaal. Daardie kant waar hul kerk nou staan, die pakskuur. Hier was ons laer in die middel, en hier waar ons manne nog rus, onder grafstene, netjies en wit en mooi versorg, hier het hulle tussen die Zoeloes gelê. En die Zoeloes is ook nog hier na al die jare – daar by die groot sinkskuur waar die swart klip tussen die taaibosse staan, daar het ons hulle by hope begrawe voor die warm somerson op hul blink lywe kon skyn...
'n Wonderwerk was dit daardie nag. Noem dit wanhoop, noem dit dapperheid of wat jy wil, maar so iets gebeur net een maal. 'n Verhaal om oor te vertel net om te wys wat vlees en bloed vermag as die dood vlak voor jou staan: siek mense, halfdooies en 'n paar wat skynbaar deur geen koeël of assegaai geraak kon word nie, almal wat soos besetenes skiet en baklei tot dagbreek toe.
Ons het dit nooit verwag nie – dat so iets kon gebeur in dié ellendige ou plekkie waar ons daardie Januariemaand ons manne oor die ponte sien trek het, duisende Rooibaadjies oppad in die arm son oor die bulte om hul eerste kamp onder Isandhlwana se berg op te slaan. Een van die drie rooi kolonnes wat Ketsjewajo se land moes platloop. Maar in tyd van oorlog gebeur dit nie altyd soos jy dit beplan nie; die dinge swaai om en dan moet jy keer. Soos ons hier wat gedink het ons pas mielies en beskuit en siek soldate op tot die oorlog oorkant die rivier oor is...
Dis julle Boere wat die eerste in hierdie wêreld die Zoeloe-assegaai leer ken het. Die land wat julle Voortrekkers wou hê om in te woon, het die Britse kolonie Natal geword. Die krag wat Dingane van Tsjaka geêrf het, het julle Andries Pretorius leeg getap by Bloedrivier en in die Makonko-heuwels. Maar hierdie land oorkant Tugela en tot bo in Drakensberg se hoek het nog die trotse Zoeloe-volk van Panda gedra. Sagsinnige ou Panda wat vriend van Boer en Brit gebly het, en die lemme van sy jongmanne nooit in witmensbloed laat doop het nie. Ook nie toe sy seun Kesjewajo ongeduldig teen die lang vrede diknek begin maak het nie. Meer as 30 jaar het hy goedgehou met die Engelse regering, tot hy na sy vadere verhuis het en Ketsjewajo sy nuwe kraal by Ulundi gebou het, nie ver van waar julle Voortrekkers in 1838 die ou Dingaanstat verbrand het nie.
Van toe af was die pad na die oorlog toe afdraand – afdraand tot die jaar 1879. Kort na die Nuwejaar was dit Brit teen Zoeloe. Ons wou hulle gaan soek oorkant die Tugela, met drie kolonnes. Ek was by die een in die middel, maar by Rorkesdrift moes ek agterbly – by die blikkiesvleis, mielies en beskuit, en die siek kêrels wat deur diarree en disenterie platgetrek is op die pad na Zoeloeland...
Rorkesdrift. Ek weet nou nog nie wie die man was wat sy naam aan die plek gegee het nie. Daardie dae al was dit 'n sendingstasie van die Swede. Twee huise waarvan in die een ons 'n hospitaaltjie gehad het, sowat 35 man. Buitemure van klip, binnemure van klei en party kamers met net 'n buitedeur. Dertig tree verder die ander (ook strooidak soos die eerste) wat 'n kerkie was maar wat ons as stoor gebruik het. Agtertoe, klein krale en vrugteboord, en daar aan die suidekant die koppie wat Oscarsberg heet. Soldate was daar nog nie honderd nie, die meeste van die 24e regiment, die South Welsh Borderers. Ons bevelvoerder was 'n jong luitenant van die Royal Engineers; 'n lang, skraal kêrel met die naam wat vandag beroemd is: John Chard.
Die somerreëns het die swart turfwêreld om Rorkesdrif deurweek daardie jaar, en die gras het liggies gegolf duskant Buffelsrivier en ver oorkant waar ons mense moes wees onder die vingerberg by Isandhlwana. Die sonnetjie het ons lui gebak. Werk was daar nie, behalwe as die waens van Helpmekaar se kant kom met al die kiste en sakke wat in die stoor gestapel word. Chard was onder by die drif besig om die pont reg te maak. Toe gebeur dit, drie-uur daardie middag, 22 Januarie 1879...
Twee ruiters oorkant wink en skree. Een is 'n Boer, 'n luitenant Adendorff. Die perde is kapot gejaag. Die tyding wat hulle bring, is te verskriklik om waar te wees: die Zoeloes het pas die hele kamp onder die berg oorval en uitgemoor! Meer as 'n duisend siele. En hulle kom – hulle kom hierheen, die aasvoëls van Ketsjewajo. Hier is die poort na Natal.
Staan of vlug? Hoe kan jy vlug? Helpmekaar toe? Dis te ver, met siekes daarby en 'n pad wat opdraand loop. Staan? Teen die hordes van Ketsjewajo wat nou reeds halfpad hierheen is, duisende van hulle, bloeddronk van vanmôre se sege oor die Rooibaadjies? Hoe lank kan jy staan voor die assegaaie hul werk doen? Maar daar is nie tyd vir aarsel nie. Daar sal baklei word. Chard en Bromhead het hul besluit geneem en elke man wat op sy voete kan staan, sukkel uit die hospitaal om te help.
Oor 'n uur is hulle hier. Raak vat en gou vat. Matrasse in die vensters, skietgate in die kleimure stamp, beskuitkiste opstapel, mieliesakke pak. Die paar waens trek soos die Boere dit in hul groot gevegte met hierdie mense al so dikwels moes doen. So word kerk, kraal en hospitaal 'n laer, waar 141 man die dood moet afkeer met koeël en bajonet en die leeuemoed wat in die uur van hul nood van elkeen 'n held maak – elkeen behalwe dié wat te swak en siek is om te roer...
Dis vieruur en hulle is hier: die vyand wat geen genade ken nie, twee hele regimente van Ketsjewajo se uitsoekmanne onder bevel van Dabulamanzi self – die Witskilde, die manne van die impies Ulundi en Gqikazi, vars in die stryd, want hulle het vanmôre nie aan die moordslag deel gehad nie.
Het jy dit algehoor as 4 000 Zoeloes op die skilde trommel en stamp op die aarde en Usutu bulder? As die horings agter om jou skamele laertjie sluit en jy weet dis nou hulle of jy! Nie net assegaaie nie, ook koeëls. Want gewere was daar ook – Martini's wat hulle, gode sy dank, nog nie goed kon hanteer nie.
Jy skiet terug en hulle kom weer, jy skiet dood en daar is honderde agter hulle. Dan spring jy maar met die bajonette oor die mieliesakke. Bajonet teen assegaai. Hulle val terug na die boord, die son sak. Hulle kom weer terug. Ons veg van kamer tot kamer in die hospitaaltjie, ons sukkel die kreunende siekes daaruit. Ons breek gate in die kleimure waar net 'n buitedeur is, haal dit net van kamer tot kamer voor die dood sy voet insteek. Skielik is daar die reuk van brandende gras en dit rook. Hulle het die hospitaal aan die brand gesteek! Een van die siekes brand dood. Ons kan hom nie meer red nie. Terug na die binnelaer waar jy laag buk agter die mieliesakke, raak skiet, want elke skoot is 'n wig teen die dood. Tussen ons lê ons eie dooies en sterwendes – aaklig in die grillige, dansende vlamme. Dis 'n helse toneel van worstelende mense, swart en wit, Satanslawaai en krete wat die bloed koud in die are laat loop. Oor alles heen hang die rookwalms waarin jy stik en die brandende reuk van die kruit. Die geweerlope is so warm dat daar blare op jou hande staan. Hoe lank nog? Hoe lank nog voor die patrone op sal wees? Die dak is uitgebrand. Die nag is stikdonker. Daar val weer 'n balk wat soos 'n spooklantern die gruweltoneel verlig. Skiet waar dit roer. Skiet raak. Tot dit nie meer roer nie.
Dit word stiller. Uit die nagkring kom nog enkele flitse. Wat gaan hulle doen, hierdie jaghonde van Ketsjewajo? Eén laaste aanval om ons plat te loop soos die gras van die veld? Maar dis te stil, daar gebeur niks. Die wonder het gebeur – in die ooste skiet die eerste lig van die daeraad deur die hemel oor Zoeloeland. Oorkant Buffelsrivier verskyn hulp – Britse troepe, manne van die hoofmag en die bevelvoerder self. Dabulamanzi het soos die nag self gewyk met sy Witskilde – maar byna 400 het hy om die laer van Rorkesdrift gelaat. Dis hulle wat ons hier in die taaibos begrawe het. En daar lê ons 17 – offer van die nag se verskrikking.
Wie sal sê wie in hierdie nag die dapperste was? Nie almal kan medaljes dra nie. Maar elf kry die Victoria-Kruis, elf vir wat hier plaasgevind het – 'n ongelooflike prestasie in die geskiedenis van die Britse wapens. Hulle moet die simbool bly, almal van hulle, van Chard, Bromhead en dokter Reynolds af tot by die wilde Switser, Schiess, wat soos 'n besetene heen en weer oor die mieliesakke met sy bajonet gespring het en telkens op wonderbaarlike wyse die assegaaie ontwyk het – simbool van die durf en die glorie van die manne van Rordesdrift wat oor geslagte heen spreek...