Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Stilte is kosbaar. Wie met die stilte leer saamleef, word 'n vriend van die stilte. Stilte is nie leeg nie, net so min as wat 'n hemel sonder wolke leeg is. Stilte is soos slaap, dit verfris die wysheid. Geseënd is hulle wat niks het om te sê nie en nie oorgehaal kan word om dit te sê nie.
DIE DAPPER GENERAAL
LAND VAN ONS VADERS
(Lees reeks by Land van Ons Vaders)
Frikkie Kraamwinkel
" 'Ja, Generaal, ek sal gaan.' Toe gaan hy deur die vyandelike linies wat generaal Cronjé by die Modderrivier omsingel het; gee sy boodskap aan generaal Cronjé, en kruip weer terug tussen die wagte deur. Sy klere aan flenters, sy knieë deurgekruip dat die bloed daarvan loop – maar op die gesig van hom en sy generaal duidelik te lees: Hier is 'n daad – ongeëwenaard in hierdie oorlog."
Die oorspronklike handskrif van hierdie vers deur Totius geskryf, hang geraam in 'n Hilversumse villa digby die landhuis Djemna in hierdie pragtige tuindorp waarin president Kruger meer as 'n halfeeu gelede gewoon het:
Die sprokie is aan my vertel:
wanneer die druiwetros weer swel
onder die donker wingerdblad,
dat dan die fyne wyn ook roer
in ver verborge keldervat.
'n Fyn mistieke eenheidsband
verbind Oranje, Nederland
en Afrika deur alles heen.
Hoe ver die golwe ons al omspoel
die diepehart sal altyd voel
ons is verborge-een.
So maklik maak die tyd jou 'n vreemdeling in die verre oord. Dan gryp jou hart vas aan hierdie ankers met die wye wuiwende land van jou vaders in die suide. Uit die villa stap jy in Steynlaan op. Dit word Bothalaan, en nie veel verder nie, kom jy op die hoek van Kruger- en De Wetlaan.
Vandag buig die bome swaar onder die sneeu, en in die strate vries dit hard. Kinders baljaar uitgelate met hulle sleetjies rond; jong mense verlustig hulle met sneeuballe gooi; ou mense stap versigtig, voel-voel, in die bekende maar nou fyn, wit getooide landskap.
Dis nie jou wêreld hierdie nie. Nie die swart turfland van die Springbokvlakte nie... nie die doringveld anderkant Natal se Nkwalenivallei nie... nie die Vrystaat waar die horisonne die oog laat water as jy hulle soek nie. En tog, hier in die vreemde natuur, Steyn, Kruger en De Wet. Jy wil hê húlle moet dit ook sien – hierdie kinders en jongmense en ou mense. Hoe sal jy vir hulle sê: julle moet hierdie tyd in die geskiedenis sien toe Steyn, Kruger en De Wet in die suide van Afrika gestry het. Hierdie tyd toe óns helde ook húlle helde was. Die dag toe Amsterdam sy Transvaalkade, Vrystaat- en Vryheidskade en die Hooge Veluwe sy standbeeld van generaal Christiaan de Wet gekry het. Die dag toe hulle voorouers as kinders angstig by barbier en sigaretwinkeltjies vir nuus van die suiderfront af gewag het; en dan met groot verering van die Boerehelde die stryd gaan oorspeel het op hierdie vreemde grond wat in die water dryf.
In die verbeelding sien jy 'n jong seun. Hy stap met 'n skooltas in die stad Deventer, aan die oewers van die Ysselrivier. Jare later, op die vooraand van die Tweede Vryheidsoorlog, verklaar hy te Bloemfontein in 'n proklamasie:
"Voldoening aan die Britse eise sal neerkom op die verlies van ons onafhanklikheid wat verkry is met bloed en trane". Dan roep hy die burgers van die Vrystaat op om soos een man op te staan teen die verdrukker van hulle reg. Vir hom, president van die Oranje-Vrystaat, Marthinus Theunis Steyn, staan daar vandag 'n standbeeld onder die sneeubelaaide takke van 'n groot beukeboom naby die stasie van Deventer, waar hy destyds matriekklasse by die gimnasium geloop het.
Vir Christiaan Rudolph de Wet – burger van die Oranje-Vrystaat wat op 2 Oktober 1899 met sy drie seuns, Kootie, Isaac en Christiaan, gehoor gee aan die President se oproep, staan daar op die Hooge Veluwe ook 'n standbeeld. Dis nie ver van Apeldoorn nie, waar die tuiste was van Wilhelmina, vorstin wat die hand gereik het aan president Kruger in die dae van donkerheid. Hoe fier en trots is hierdie beeld nie geskep nie! Hoog teen die grou sneeulug staan die beeltenis van hierdie vryheidsheld ferm en beslis veranker op 'n hoë suil. En op die sandveld, met 'n bossie wat nogal wil laat dink aan die Karooveld, gryp die voetstuk aan die vreemde bodem vas; met al in die rondte daarvan, die hand op die roer, die hoofde uitgebeitel van enkele van hulle wat hierdie generaal se dapperste verkenners was. Geen imposante traliewerk daaromheen nie – net 'n rankrosie wat met verloop van jare 'n soort heininkie om die voetstuk probeer groei het.
Geen weelderige huldeskrif op plaat nie – op die suil net dit: De Wet.
Genoeg is dit – De Wet... vir vriend en vyand. Soos dit was, vroeg in die oorlog by Paardenbergdrif: Kort was sy woord, beslis.
"Ek gee u slegs genoeg tyd om so vinnig moontlik terug te gaan na u bevelvoerende offisier en hom te sê dat hy onmiddellik moet oorgee – anders laat ek u bombardeer en bestorm. Tien minute nadat u in die kamp aangekom het, moet die wit vlag wapper."
De Wet het honderd-en-vyftig man en 'n Maxim Norden-feldt gehad. Die Engelse troepe had volgens hulle hom vertel het, ruim honderd man, voorsien van genoeg ammunisie en proviand, en sterk ingegrawe tussen huise en krale. Iedere oomblik het hulle 10 000 man van Belmontstasie verwag om na Lord Roberts te lei.
Skaars was die manskap egter van sy perd af terug in die Engelse stelling, of die wit vlag word gehys. Genoeg was dit: De Wet.
Die hoof, fier omhoog teen die wolke afgeëts op die Hooge Veluwe; so fors gegiet in die ruiterstandbeeld in Bloemfontein, is ook in Londen heelwat later, 23 Oktober 1902, in pentekening vasgelê deur die bekende Hollandse skilderes, Therese Schartze. Die oë vertel jou dit reeds: dapper, fynberekenend – lief vir sy vaderland en sy mense. Hoe het hy nie self hulle moed en durf bewonder nie – veral dié van Willie Steyn, 'n sekere Botha en twee Steytlers, asook twee ander Vrystaters waarvan die name hom deur die jare ontgaan het. Tydens De Wet se eerste kennismaking met Lord Kitchener in die Slag van Honingkopjes, is hulle onder sewe Boere wat deur die vyand gevang en na Ceylon gestuur word. In die hawe ontsnap hulle; swem 'n paar myl na 'n Russiese skip, en bereik Rusland. Van daar deur Duitsland na Holland, en met 'n Duitse skip na Duitswes-Afrika. Deur Boesmanland trek hulle tot in die Kaapkolonie, en sluit aan by die mag van generaal Hermanus Maritz. Vol bewondering verklaar generaal De Wet:
"Wat sal die wêreld van hierdie jong burgers sê? Dapperder en getrouer het ons aardbol nie opgelewer nie. Sulke manne is vir 'n volk baie werd."
En asof dit waar is dat jy in heldedade moet glo om self 'n held te word, deins Christiaan de Wet nooit vir selfs die onmoontlike terug nie. So ook nie sy verkenners nie. Alombekend en onvergeetlik is die naam van die kaptein van die rapportryers, Danie Theron.
In 'n waagstuk wat nooit weer oortref sou word in die heloorlog nie is Danie Theron se antwoord op generaal De Wet se versoek helder en duidelik:
"Ja, Generaal, ek sal gaan." Toe gaan hy deur die vyandelike linies wat generaal Cronjé by die Modderrivier omsingel het; gee sy boodskap aan generaal Cronjé, en kruip weer terug tussen die wagte deur. Sy klere aan flenters, sy knieë deurgekruip dat die bloed daarvan loop – maar op die gesig van hom en sy generaal duidelik te lees: Hier is 'n daad – ongeëwenaard in hierdie oorlog.
Die oorlog sou nog meer hiervan sien: Van hierdie man wie se vierkant skouers sy hoof fier omhoog stoot, 'n leier wat sy teenwoordigheid van gees in selfs die benouendste oomblikke kon behou.
Dis al later in die oorlog. By die Krokodilrivier spreek president Steyn die wens uit om 'n besoek te bring aan die regering van die Suid-Afrikaanse Republiek wat toe in Machadodorp was. Kommandant Steenekamp word tot hoofkommandant verkies, om die President deur die Bosveld na Machadodorp te neem, en generaal De Wet trek openlik na die Vrystaat terug om die vyand se aandag op hom te vestig. Saam met hom 245 man. Nou moet hy oor die Magaliesberg. Olifantsnek en Kommandonek is die naaste twee passe, maar eintlik is Olifantsnek al weer te ver ten weste en Kommandonek tien teen een deur Engelse beset. Daar bly 'n voetpad oor tussen die twee nekke. Op pad daarheen word die eerste groot vyandelike kamp op die Pretoria-Rustenburgpad bespeur, tussen Kommandonek en die Krokodilrivier. Nog 'n groot kamp is sewe myl ten noordweste. En in hierdie wêreld is daar maar net plek-plek lappies bome, en verder oop veld. Die vyand kon hulle duidelik sien. De Wet mik nou vir die grootpad tussen Rustenburg en Pretoria, in die rigting van Wolhuterskop, van waar die voetpad oor die berg nog tussen agt of nege myl is. Twee myl oos van Wolhuterskop kom hulle skielik op twee Engelse verkenners af, en vang een. Hy vertel dat 'n groot vyandelike mag van vooraf in aantog is. Die perde is reeds moeg van die lang dag se trek; die voetpad afgesny, en noord en wes agter hulle twee groot magte. Dwars voor De Wet, die Magaliesberg.
Vinnig vra hy by 'n stroois:
Kan 'n mens daar oor?" en hy wys na die berg.
"Nee, Baas, jy kan nie."
"Het 'n mens al ooit daaroor gery?" vra die generaal verder.
"Ja, Baas, vanslewe."
"Loop daar bobbejane oor?"
Ja, hulle loop daar, maar 'n mens nie."
Tweeduisend voet hoog, die Magaliesberg voor hulle. Toe gee De Wet die bevel: Ruk op, Burgers – ons kan en moet oor waar 'n bobbejaan dit kan doen! Suidwes in 'n kloof op, buite gesig van die vyand – tot effens oor die helfte, daarvandaan reg suidwaarts in volle gesigsveld van die Engelse, die steilste deel van die berg uit. Die perde moet al gelei word. Telkens struikel 'n burger. Telkens gly 'n perd terug. Al moeiliker word dit. Sweet stroom mens en dier af. Die middagson brand ongenadig.
Jy hoor De Wet sê:
"Baie berge is ek al uit. Die ruwe rotswande van Majuba, die styl Nicholsonnek het ek uitgekruip, maar ek was in my lewe nog nooit so moeg soos nou nie." Die burgers besef dit: As die vyand hulle kanonne nou op hulle rig, ontkom niemand dit nie. Mens kan nêrens heen padgee nie. Weer 'n bemoedigende woord van De Wet:
"Die Engelse kan dit alleen doen as hulle 'n Howitzer het, 'n soort kanon waarvan dié kolonnes nie juis baie hou nie."
Byna bo-op die berg. Hier is 'n groot granietplaat, glad soos seep. Mens en dier struikel en val ... gly terug ... begin weer. Die hoogste hoogte word nie bereik sonder 'n laaste kraginspanning nie! Dan die onmeetlike vergesig – 'n oneffe, gebroke veld tussen hier en die Witwatersrand. 'n Lang skaduwee van die berg wat reeds groei in die wuiwende grasveld in ,waar die son die grassaad golwend laat blink. Geen teken van die vyand voor hulle nie.
Miskien is dit die ruiterstandbeeld van generaal De Wet in Bloemfontein wat dit die sterkste vertel: hierdie onverskrokke krygsman is nooit deur die vyand gevang nie. Nie op die slagveld nie; nie deur 'n blokhuislyn tussen Lindley en Kroonstad nie; nie deur 'n kordon van 60 000 troepe by Holspruit nie.
Op die Hooge Veluwe is sy standbeeld wit getooi deur die vallende sneeu in die winterwind van 'n vreemde land. Êrens 'n pentekening, op 'n vreemde bodem gemaak. In Bloemfontein die brandende somerson op 'n ruiterstandbeeld.