Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Niemand saai koring en oes daaruit mielies nie. As jy die ewige lewe wil oes, moet jy die saad van die Gees saai. Wie die vlees saai, oes nie die hemel nie!
DIE NUWE SUID-AFRIKA (16)
Lees reeks by Die Nuwe Suid-Afrika (1990 en verder)
Regskommissie se konsep-menseregte
Winnie Mandela het in Junie 1990 in die VSA gesê sy sal terug gaan bos toe “om die blankes te beveg”. Wanneer Swartes die politieke mag bekom het, neem die meerderheidsgroep oor en plaas die ander onder dwang.
(Kommentaar voorgelê aan die Suid-Afrikaanse Regskommissie oor sy Werkstuk 25 in verband met ’n Menseregte-Akte).
DIE feit dat die Suid-Afrikaanse Regskommissie volgens ’n wet van die politieke owerheid ’n ondersoek gedoen het na en ’n verslag uitgebring het oor die kwessie van ’n Menseregte-akte, verander weinig aan die feit dat die verslag en ’n groot deel van die voorgestelde menseregte-akte neerkom op’n bloudruk vir ’n ingrypend veranderde politieke orde in Suid-Afrika.
Die essensie van die saak is dat die eerste en die laaste tien klousules van die voorgestelde akte (met enkele kwalifikasies) feitlik net as ’n bevestiging van die bestaande regsposisie in Suid-Afrika beskou kan word, en daarom as’t ware oorbodig is. Maar van klousule 11 tot 21 (ook met enkele kwalifikasies) word die grondslae gelê vir ’n rasgemengde bestel wat die gevestigde sosiale en politieke orde moet vervang — inderdaad ’n politieke beleid ingeklee in kwasi-juridiese terme.
Groepsregte
Die Kommissie se Werkstuk 25 gaan mank aan die feit dat die samelewing waarop die voorgestelde Menseregte-akte toegepas moet word, nie geskets en bespreek word in die lig van sy ontvanklikheid vir ’n menseregte-akte nie. Die rede waarom dit nie gedoen is nie, is stellig omdat die fisieke werklikheid van die huidige Suid-Afrikaanse bevolking so ’n gedugte versperring teen die gelykheidsdogma van die menseregte-leerstuk is dat dit nie in berekening gebring durf word nie.
Om daaraan te ontkom, het die Kkommissie as uitweg gekies om erkenning van “groepsregte” weg te redeneer deur te argumenteer dat groepsregte beskerm word as ’n individu se regte beskerm word en hy hom op die howe kan beroep as hy meen dat sy reg as lid van ’n groep aangetas is.
Politiek en kultuur
Ons verwerp die teorie dat ’n vergryp teen ’n volk se kulturele regte herstel kan word deurdat ’n individu hom daarvoor op die hof sal kan beroep.
Die oorwegings daarteen is dat baie weinig individue in ’n gemeenskap hulle interesseer vir land- en volksake; dat nog minder die kundigheid het om so iets aan te pak; en dat selfs al sou dit aangepak word, die finansiële koste en ander vereistes verbiedend geag sal word.
Wat te verwag is, is dat die liberale media, soos nou reeds gebeur, ’n beswaarmaker as ’n politieke moeilikheidmaker/versteurder van goeie verhoudings/rassis sal uitmaak, en as hy die geding verloor, om watter rede ook al, sal niemand waarskynlik daarna bereid wees om dieselfde weg te betree nie.
Dit sal min of meer die einde wees van die beskerming van kulturele en taalregte van die individu.
Dit is om hierdie rede dat aanvaar moet word dat die enigste doelmatige wyse waarop ’n volk vir sy regte kan beding deur kollektiewe optrede op die politieke terrein is, soos die Afrikanervolk se geskiedenis getuig, en soos die bestaan van byvoorbeeld Inkatha bevestig.
Klaarblyklik is dit wat die Kommissie wil verhoed, deur politieke aksie te beperk tot sake wat nie met ras en kultuur te maak het nie. Dit sal uiteraard vereis dat politieke partye veelrassig moet wees, en ’n etniese groep sal dus nie binne ’n veelrassige party vir sy regte kan beding sonder om ander rassegroepe in so ’n party in opstand te bring nie.
Enkeling en groep
Elke persoon het ’n identeit, wat hy/sy ontleen aan die volk/groep waaraan die persoon behoort deur afkoms en/of aanvaarding. Deur goddelike beskikking is ’n persoon van voor geboorte ingebind in ’n gesin, ’n familie, ’n stam, ’n gemeenskap, ’n volk en ’n ras, soos elders hierin beredeneer is. Dit gee aan hom/haar ’n identiteit waarsonder geen persoon kan bestaan nie.
Tussen die persoon en die volk/groep is daar ’n wederkerigheid wat voortdurend beslissend inwerk: binne die groep/volk vind die persoon veiligheid en voortbestaan, en deur die samevoeging van persone vind die groep op sy beurt veiligheid en voortbestaan.
’n Groep/volk se bestaan is net so ’n werklikheid as die bestaan van ’n persoon, hoewel anders en moeiliker te omskryf. Die volk vernuwe homself gedurig deur geboorte en dood, die persoon kan dit die doen nie — soos CJ Langenhoven gesê het: die mens kyk terug en sien ’n wieg; hy kyk vorentoe en sien ’n graf, maar die volk kyk terug en sien ’n graf; hy kyk vorentoe en sien ’n wieg.
Uiteraard is daar twee ordes van regte en waardes ter sprake en kan die persoon nie in dieselfde terme as die volk/groep beskou en beskryf word nie.
Die enkeling is dwaas, die spesie is wys, het Edmund Burke lank gelede gesê. Dit is omdat die volk/groep ’n kollektiewe wete het waarvan die enkeling meestal nie bewus is nie.
Wanneer daar dus sprake van beskerming van “menseregte” is wat tegelyk beskerming van ’n volk se regte sou wees, sodat dit nie nodig is om ’n volk se regte te beskerm nie, het ’n mens te doen met ’n oefening in semantiek wat aan die wese van die saak verbygaan.
Dwing om vir Zoeloes te stem
Klaarblyklik het dit vir die Kommissie gegaan om die daarstelling van ’n bedeling waarin die grondslag gelê word vir die onvermydelike geleidelike likwidering van “groepe” en die opgaan van hulle individue in ’n breë verband van “’n nuwe nasie”.
Regter Olivier het in ’n onderhoud met Beeld van 1 Julie 1989 heelwat lig gewerp op wat die Kommissie se oorwegings en bedoelings in verband hiermee is:
“Dit is die groot debat — die politieke groepsregte”, het hy gesê. “Die kern daarvan is mense wat aan die een kant sê as jy ’n menseregte-akte het wat al die individue op ’n gelyke basis beskerm en jy het ’n demokratiese stelsel, waarom wil jy nog die groepsgedagte in die politiek intrek?
“Die voertuig van die politiek is immers die politieke party, nie die etniese groep nie. Die etniese groep speel sy rol in die kultuur, taal of godsdiens. Hy is uit sy plek in die politiek. ”
’n Mens neem met reg aan dat regter Olivier die opvattings van die Kommissie verklank, en dat sy uitsprake ’n verheldering is van stellings in die betrokke stuk.
Uit die stellings hierbo is dit duidelik dat wat die Kommissie langs die weg van implementering van ’n menseregte-akte in vooruitsig stel, neerkom op volslae gelykstelling, ’n politieke stelsel van een mens, een stem en veelrassige politieke partye.
Die afleiding word bevestig deur regter Olivier se effens later opmerking, te wete: Jy moet toegelaat — en miskien ook verplig word—om ook vir die Zoeloes te stem ... Erken etnisiteit, maar die politiek moet kruissny deur etniese verdelings. ”
Saamgelees met die voorafgaande aanhaling, beteken dit dat ’n politieke party wat op etniese grondslag bestaan om te stry vir kulturele en taalregte, uitgeskakel moet word; en dat die politieke party moet dien om grense tussen rasse en kulture te oorspan, en los moet staan van rassegevoelens en kulturele waardes. Hierdie afleiding is onweerstaanbaar in die lig van die stelling: “Die etniese groep speel sy rol in die kultuur, taal of godsdiens. Hy is uit sy plek in die politiek”.
Hierdie uitspraak is uiters aanvegbaar op verskeie gronde. Die een is dat die geskiedenis van alle lande met etnies meervoudige bevolkings voorbeelde oplewer van etnies gesentreerde politieke partye — België, Tsjeggo-Slowakye, Hongarye, Ciprus, Indië, Nigerië.
Daar hoef ook maar net gekyk te word na Suid-Afrika se politieke geskiedenis van hierdie eeu en selfs verder terug: Die Afrikaner Bond wat uit die taalaksie van die GRA ontstaan het; Het Volk in Transvaal na die Engelse Oorlog; die Nasionale Party wat regstreeks gespruit het uit genl. JBM Hertzog se aandrang op die regte van Afrikaans, en uit wat hy bestempel het as die algemene gevoel dat die Afrikaner se regte verwaarloos word deur die Botha-regering; die 1934-verdeling aan die wortel waarvan die Afrikaners se strewe na ’n republiek, vry van Britse bande, gelê het.
Dit is wensdenkery dat waar Afrikaners en Engelse met hulle gemeenskaplike rasse-afkoms en groot vlakke van kulturele oorvleueling nie eens die grense kon uitwis deur politieke partye nie, die hoë versperrings wat bestaan tussen die Blankes, die Indiërs, die Swartes en die Kleurlinge deur politieke partye uitgewis kan word.
Hierdie visie druis in teen alle werklikheid en die aanskouingsles van die geskiedenis, en is daarom in hoë mate wensdenkery wat spruit uit ’n politieke motivering wat saamval met die volgehoue en bekende aanslae van links op Afrikanernasionalisme.
Die moontlikheid van ’n politieke party wat bo rassegrense uitstyg, is nog nooit verwesenlik waar sulke uiteenlopende rassegroepe bestaan nie, soos in Suid-Afrika. In die VSA bestaan daar ’n “Black Caucus” wat bo-oor partygrense sny — dus ’n politieke hergroepering op etniese grondslag binne, en selfs bo-oor politieke partygrense.
In die 1988-presidentsverkiesing in die VSA het die Swartes blokvas vir die Swart aspirant-kandidaat gestem op grond van etniese oorwegings. In Brittanje dring Swartes aan op die reg om Swart takke binne die Arbeidersparty te stig. Dit is dinge wat ’n betekenis het wat verwerk moet word met realisme en nie geïgnoreer moet word uit intellektuele gerief nie.
Nasiebou
Dat die Kommissie blykbaar met ’n messiaanse menseregtelikheid vervul geraak het wat hom ver buite die grense van ’n juridiese behandeling laat beweeg het, is duidelik uit ’n ander opmerking van regter Olivier in Beeld van 1 Julie 1989, te wete “... in die idee van nasiebou, een nasie, wat bestaan uit verskillende volke—een gelukkige gebalanseerde staat, met een Suid-Afrikaanse nasie daarin, met verskillende volke — moet ons nie die volksverskeidenheid so oorbeklemtoon dat dit nasiebou verhinder nie”.
Die woord “nasiebou”, wat by herhaling deur regter Olivier gebesig word, dui op ’n oogmerk, ’n doel, waarna gemik word—een nasie waarin almal gelyke regte het in “’n demokratiese” bestel. Dit hou in wat regter Olivier op ’n perskonferensie op 22 Maart 1989 aangedui het, naamlik: “Een van die basiese menseregte wat wêreldwyd erken word, is die van gelyke stemreg — waar nie op grond van ras, kleur of geloof gediskrimineer word nie”, dit wil sê ’n stelsel van een mens, een stem wat in Suid-Afrika die kenmerk van ’n anti-nasie sal wees.
In so ’n stelsel sal die verloop van sake in Suid-Afrika so eenvoudig wees soos die maak van ’n optelsom. Die sterkste rasse-groep sal die politieke mag verower, en die kleiner etniese groepe sal of hulle belange en waardes ondergeskik moet stel en hulle met die etniese meerderheidsgroep vereenselwig, of hulle sal etniese belange probeer handhaaf op gevaar af dat hulle feitlik voëlvry verklaar sal word, soos die Matabeles nadat die Sjonas, met Mugabe aan die spits, die mag oorgeneem het in Zimbabwe, en meer as 12 000 van hulle gedood is.
Die eietydse les van Afrika is glashelder: die Swartes verenig bo-oor stamgrense en politieke verdelings solank hulle teen die Blankes te staan kom. (Winnie Mandela het in Junie 1990 in die VSA gesê sy sal terug gaan bos toe “om die blankes te beveg”). Wanneer Swartes die politieke mag bekom het, neem die meerderheidsgroep oor en plaas die ander onder dwang. En die lot van die sogenaamde gematigde Swart leiers was telkens dat hulle of gelikwideer is, of selfs die ekstremiste geword het. Maar telkens en oral in Afrika het die leiers van veelrassige partye (Muzorewa en Smith in Rhodesië, Welensky en Nkumbula in Zambië, Blundell en Kiano in Kenia) net die weg voorberei vir die terroriste-leiers om die politieke mag te bekom. Die voorwaarde hiervoor was telkens volkome gelykstelling en een mens, een stem in “’n demokratiese” bedeling — ’n demokratiese bedeling, om ’n eenpartystaat of diktatuur te vestig op etniese grondslag!
Dit is volkome geregverdig om te sê dat die aandrang op ’n menseregte-akte te maak het met “die regte” waaroor die demagoë en die revolusionêre raas, naamlik politieke regte. Dit is die sinvolle grondslag waarop die saak benader moet word.
Elders as in Afrika waar rassevermenging plaasgevind het, was die resultate rampspoedig. Die bekende professor James A Gregor skryf: “Die geskiedenis teken geen groter tragedie aan nie as die poging deur ’n aantal samelewings om volke van sigbaar uiteenlopende rasse te akkomodeer nie”, verwysend klaarblyklik na Egipte, Indië, Carthage, Rome en die latere voorbeelde soos Portugal en Suid-Amerikaanse state.
Wanneer die owerheid se voet geplaas word op die weg van gelykstelling van rasse en nasiebou, soos die Kommissie se voorgestelde Menseregte-akte in vooruitsig stel, sal dit ’n proses aanskakel wat wetmatig sal voortstu.
In die sestigerjare het die destydse redakteur van The Rand Daily Mail die erkende spreekbuis van die liberaliste in Suid-Afrika geskryf: “Die Nasionaliste geniet dit om daarop te wys dat as ons eers die feit van integrasie aanvaar en begin om dit te akkommodeer, daar geen keer aan is nie. Die Nasionaliste het dit reg. Dit is hoe verandering plaasvind in veelrassige samelewings, soos ons s’n”.
Dan gaan die skrywer voort: “Die Nasionaliste wys ook daarop dat integrasie beteken gemengde skole, gemengde hospitale, gemengde teaters, gemengde sosiale byeenkomste en selfs gemengde huwelike. Inderdaad is dit so. Dit beteken die aftakeling van rasseskeiding op elke terrein. Dit beteken die waarskynlikheid van ’n Swart gesin as bure, ’n Swarte as jou baas”.
Dit is tog klaarblyklik die resultaat wat bereik moet word met die Kommissie se voorgestelde Menseregte-akte as uitgangspunt. En met die aanhaling hierbo uit so ’n egte liberale bron, soos The Rand Daily Mail, is die linkse afkoms van die gelykstellingsidee van menseregte bo alle tywfel bevestig. Dit is wat “nasiebou” in Suid-Afrika beteken wanneer ras as onderskeidingsfaktor misken word.
Die intellektueel ontstellendste aspek van die saak is dat so ’n gelykstellingsideologie wat uitgaan van die enkeling, net kan plaasvind ten koste van die Blankes.
Nasionalisme – vervolg...