Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die bekende uitdrukking "dit is wat binne jou gebeur wat saakmaak, nie wat rondom jou gebeur nie", vind gestalte in Spreuke 15:15 as die digter skryf: "Dit gaan altyd sleg met 'n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is 'n fees".
DIE NUWE SUID-AFRIKA (8)
Lees reeks by Die Nuwe Suid-Afrika (1990 en verder)
Broederbond as wegbreider vir Swart regering
In 1987 is in ’n publikasie van die Universiteit van Pretoria se Departement van Staatsleer oor “Politieke Hervorming in Suid-Afrika” ’n uiteensetting deur my gegee van die verwagte konstitusionele stappe deur die Regering aan die hand van ’n Broederbonddokument van 1986.
In die artikel is onder andere voorspel dat die NP met die ANC sou begin onderhandel en die beginsel van ’n Swart regering sou aanvaar, soos drie jaar later in 1990 gebeur het.
Die tersaaklike deel van die stuk volg hier onveranderd, soos dit verskyn het:
Die mees betekenisvolle aanduiding van konstitusionele beplanning in Nasionale Party-kringe is die Werksdokument van die Afrikaner-Broederbond wat verlede jaar aan sy afdelings gesirkuleer is.
Die betrokke Werksdokument sny oor die hele sosiale en politieke bestel, en die terminologie stem in hoë mate ooreen met die van die Nasionale Party in sy publikasies. Die moontlikheid is nie uitgesluit dat dit opgestel is in noue samewerking met die Departement van Konstitusionele Ontwikkeling nie.
Daar word in die dokument verklaar dat “groepsbelange oor kleurgrense heen kan strek”; “die afskaffing van statutêre, diskriminerende maatreëls moet beskou word as voorwaardes vir voortbestaan”; “die grense van taal- en kultuurregte van groepe is nie so vas omlyn dat dit as die vertrekpunt vir die skepping van alle strukture beskou kan word nie”; “daar behoort dus bewustelik daarteen gewaak te word dat taal- en kulturele regte kunsmatig so breed vertolk word dat eksklusiewe Blanke beheer oor sake wat ander ook raak, in die nuwe prosesse behoue bly”; “etnisiteit impliseer nie die verabsolutering daarvan nie”, ens. ens. Dit is betekenisvol dat by paragraaf 2.8 verklaar word: “Almal moet die terminologie wat gebruik word, eenders vertolk”.
Samehangend met bogenoemde idees, maar in ’n mate tot negativering daarvan, word dit dan gestel: “vryheid van assosiasie, insluitend die reg om te assosieer en nie te assosieer nie, is relevant — dit behels dus ook erkenning van die vorming van ope groepe”.
Botsende stelsels
Die gedagte is derhalwe dat rassevermenging naas rasseskeiding ’n erkende leefwyse moet wees. Dit skep die voorwaarde vir botsende stelsels en vir ’n geleidelike verdringing van rasseskeiding deur rassevermenging. Dit gaan hier om iets soortgelyks as die Wet van Gresham in die geldwese, naamlik dat slegte geld goeie geld verdring. In die samelewing vereis rasseskeiding sterk dissipline, aansienlike inspanning en strawwe maatreels van die owerheid, net soos die handhawing van ’n monetêre stelsel waarin die geldeenheid self waarde het, soos in die geval van goud of silwer. Sodra papiergeld ook as betaalmiddel erken word, verdwyn “die goeie geld” uit sirkulasie.
Aan die ander kant is ’n beleid van rassevermenging ’n “laat-maar- loop-stelsel” wat geen dissipline of inspanning of strawwe maatreëls van die owerheid vereis nie. Weens die menslike aard is die geneigdheid na ’n bestel wat min inspanning en dissipline vereis, en is die natuurlike gang van sake dat die “laat-maar-loop-stelsel” die oorhand kry, veral met behulp van die media, wat dit as navolgenswaardig voorhou, soos sommige media in Suid-Afrika reeds rasgemengde huwelike aanbied.
Die feit dat die Broederbond ingryping in die sosiale orde as ’n voorwaarde vir ingrypende grondwetlike verandering behandel, dui daarop dat daar besef word dat die grondwetlike bestel moet rus op ’n sosiale onderbou wat in ooreenstemming daarmee is.
Nuwe orde
Hoe ver die denke in die rigting reeds gevorder het, blyk uit die feit dat die Broederbond in die betrokke dokument die scenario vir die beoogde grondwetlike bestel redelik volledig skets sover dit die Swartes se posisie betref.
“Dit is dus nodig” word verklaar, “dat alle burgers van die staat effektief moet kan deelneem aan die wetgewende proses, sowel as die proses waardeur die regering aan bewind gestel word”. (Par. 3.4)
Verder: “Dit beteken deelname op alle vlakke van besluitneming en in alle prosesse wathulle belange mag raak”. (Par. 3.6)*
Hierna volg een van die paragrawe wat konkrete inhoud aan die staatkundige model gee. “Dit beteken”, lui dit “dat almal moet kan dien op die hoogste wetgewende en uitvoerende vlakke, wat ook al die toekomstige staatkundige stelsel. Dit kan inderdaad ook beteken dat in sommige modelle die staats- en of regeringshoof nie noodwendig ’n Blanke is nie (soos trouens tans nie uitgesluit is nie), maar die amp moet sodanig ingeklee en deur die uitvoerende gesag ingebind word dat die mag daaraan verbonde nie vir groepsoorheersing aangewend kan word nie”. (Par 3.7)
Swart regering en geen waarborg
Die aanvaarding van die moontlikheid van ’n Nieblanke staatspresident impliseer dat hy deur ’n Nieblanke meerderheidsstem verkies sal kan word. En in ’n volgende paragraaf word die betoog deurgetrek na die logiese konsekwensie. “ Dit beteken”, word verklaar, “dat daar nie meer ’n Wit-verskanste regering kan wees nie. Daar kan egter ook nie ’n Swart-verskanste, of byvoorbeeld ’n Zoeloe-verskanste regering wees nie. Die meerderheid van die regeringslede kan wel Swart wees, maar die stelsel en prosedure moet so werk dat al die groepe effektief kan deelneem en nie deur een groep gedomineer word nie”. (Par. 3.9)
Met die aanvaarding van die vooruitsig van ’n Swart meerderheidsregering is die eerste groot woord gespreek. Die betekenis daarvan word beklemtoon deur die derde laaste paragraaf. “’n Toets wat ons vir die aanvaarbaarheid van ’n stelsel moet aanlê”, lui dit, “moet altyd wees wat in ons belang sou wees indien ons byvoorbeeld in opposisie beland”. (Par. 4.3) Daarmee word enersyds gesuggereer dat die Blankes uit die regeringsmag sal verdwyn en in opposisie teen ’n Swart regering te staan sal kom en andersyds dat daar op een of ander wyse voorsiening gemaak kan word om die Blankes se belange te beskerm, indien dit sou gebeur. Maar met byna skokkende abruptheid word in die daaropvolgende sin verklaar: “Verder moet ons ook daarop let dat menslik gesproke daar geen waarborge bestaan nie.. Ons moet in terme van berekende risiko’s dink...” *
Daarmee is die tweede groot woord uit: Al die gerusstellings dat daar nie groepsoorheersing sal wees nie, dat die regte en aspirasies van groepe beskerm sal word, dat die staatshoof se mag ingebind sal word sodat daar nie groepsoorheersing sal wees nie, dat die prosedure so sal werk dat die groepe nie deur een groep gedomineer sal word nie, ensovoorts, is daarmee weggevee. Die slotsom is dat die Blankes hulle daarmee moet versoen dat hulle politieke mag oorgedra sal word aan ’n Swart meerderheidsregering, dat die Blankes in oppposisie sal beland, met die waarskynlikheid van geen waarborg van enige regte nie. Dit is in elk geval die nugtere verwagting in die lig van die politieke lot wat ander Blankes in Afrika getref het nadat hulle ingestem het tot die beginsel van magsdeling met Swartes. Grondwette en handveste van regte was stukkies papier en is na willekeur misken of herroep, sonder dat die Blankes enige beroep op beskerming gehad het.
ANC betrek by politieke mag
Waar die Broederbond tot hierdie naakte erkenning gevoer is, kon die noodwendige voortvloeisel daaruit, á ľ Afrique, nie vermy word nie. Dit is dat, soos in Kenia, Zambië en Zimbabwe, die terroriste-organisasies as gelykes aan die grondwetgewende proses moet deelneem. Die slotparagraaf van die Broederbonddokument lui dan ook soos volg: “Dit is noodsaaklik dat verteenwoordigers van verskeie magsgroepering aan die opstel van ’n nuwe grondwet deelneem. Daar moet getrag word om die wydsmoontlike verskeidenheid tot deelname te beweeg. Dit sluit groeperinge in wat deur hulle nie-deelname of uitsluiting ’n nuwe grondwet kan laat misluk, al voldoen hulle aan die besliste voorvereiste van die afswering van geweld”. (Par. 4.5)
Daar kan geen twyfel aan wees dat hierdie enigsins kriptiese beskrywing die ANC identifiseer as die groepering wat moet voldoen aan “die voorvereiste van die afswering van geweld”. Wat in hierdie paragraaf beskryf word, is die gestandaardiseerde wyse waarop ’n terroriste-organisasie sy eerste vroëe greep na die hefbome van mag maak. Die terroristeoorlog kan nie deur hom gewen word nie. Dit kan net by die konferensietafel verloor word deur die staat wat aangeval word.
Dit is vanselfsprekend dat as die kommunisties-beheerde ANC deel moet hê aan die opstel van ’n grondwet; hy ook deel moet hê aan die handhawing en toepassing van die grondwet, en dat dit aan hom onbetwisbare reg gee om deel te hê aan die regeringsmag. Vanaf so ’n eerste vastrapplek in die mag word met onverbiddelikheid op vele wyses gedruk en gebeur na groter vastrapplek. En uit die aard van die saak word die morele en prinsipiële weerstand al minder—totdat dit kraak en breek voor “die historiese noodwendigheid” van die Marxisme. So het Suider- Afrika stuk-vir-stuk voor die kommunistiese imperialisme geval.
Dat die Broederbond hierdie waarskynlike uiteinde van ANC-deelname aan ’n grondwetlike konferensie insien, moet aanvaar word, anders moet die veronderstelling wees dat die opstellers van die dokument polities oningelig en stompsinnig moet wees, wat seker nie die geval is nie.
Die aanskouingsles van Afrika is dat wanneer daar begin word met magsdeling oor die rassegrense, dit ’n onophoudelike proses word wat sy eie momentum ontwikkel tot die laaste paaiement van magsdeling betaal is in die vorm van magsoordrag.
(Hierdie vooruitskouing van 1987 is dus werklikheid in 1990).
Vervolg...