Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons vra dikwels waar sal ons krag vandaan kom om al die pyn, droefheid en lyding in ons lewens te oorleef? Ons laat God hierdeur so krageloos lyk, en dit net omdat ons so skraal in ons eie verwagtings is. Onthou dat jy nie met jou ontoereikende krag iets hoef uit te rig nie, jy beskik ook God se krag, ongelooflik groot, dieselfde krag waardeur Jesus uit die dood opgewek is: opstandingskrag, ook vir jou om telkens weer op te staan uit jou pyn.
DIE WARE INLIGTING- SKANDAAL (47)
Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
Die doel met die plasing van hierdie inligting oor die destydse Inligtingskandaal is om die leser perspektief te gee oor hoe Suid-Afrika tot by die haglike verval van 'n swart regering gekom het. Die verraad wat destyds in die kabinet van Vorster, PW Botha, Pik Botha en De Klerk plaasgevind het, nie net teenoor ons Boerevolk nie, maar ook onder en teenoor mekaar in die parlement, getuig van hul veragtelike motiewe en handeling.
In die daaropvolgende maande het ek met vele joernaliste gepraat met wie ek ’n jaar gelede nie ’n woord wou wissel nie. Ek het geduldig vrae beantwoord. Uiteindelik het ek selfs met Eugene Hugo van die Sunday Times gepraat, alhoewel ek gesweer het dat die man wat die storie oor Suid-Afrika se kontakte met Egipte blootgelê het, verdien om geïgnoreer te word. Maar nou het ek besef dat dit my as persoon nie meer geraak het nie. Ek het nie langer vir die regering gewerk nie. Ek sou nie langer die pers beveg nie maar ek sou ook nie boetie-boetie met hulle speel nie. Ek sal eenvoudig elke versoek op meriete takseer.
Ek het nie geweet hoe ek sou reageer as Ken Owen van die Sunday Times my sou nader nie. Viviers van Beeld was outomaties uit. Afgesien daarvan dat hy wou hê dat sy vrou teen my moes getuig, was almal by Beeld op daardie tydstip onwelkom. Ek het geglo dat as jy die redakteur knyp, P.W. Botha of Pik Botha in Kaapstad sou opspring, en omgekeerd. Beeld was nie ’n koerant nie, maar ’n politieke instrument - deel van ’n veldtog uit die Kaap om die Afrikaner se sienswyse in die Noorde te breinspoel. Dit was die Afrikaanse weergawe van The Rand Daily Mail - wat onweerlegbaar die spreekbuis van die Progressiewe Party was. Beeld was net persoonlik meer geniepsig.
Toe my seun Eschel, vir drie dae in Londen vermis was, het Beeld twee van sy verslaggewers na ons woonstel in Pretoria gestuur. Hulle het valslik voorgegee dat hulle verslaggewers van Die Volksblad in Bloemfontein was en het ’n onderhoud met Katy probeer kry. Op daardie - ontydige oomblik vir hulle - het die telefoon gelui en ’n verslaggewer van Die Volksblad uit Johannesburg het begin om Katy oor ons seun se verdwyning uit te vra. Katy het verduidelik dat ons nie die hulp van Buitelandse Sake wou inroep nie, want as Eschel jnr. moes weet dat die Suid-Afnkaanse Ambassade in Londen na hom soek, sou hy nooit sy verskyning maak nie. Vir hom was die Ambassade deel van die vyand. Hy het geweet wat sy moeder by die Ambassade in Parys moes deurmaak. “Die hoof van Eschel se skool het die saak in die hande van Scotland Yard gelaat”, het sy gesê: “Hulle sou hom vind. Dit is al!”
Toe sy die gehoorstuk neersit, het sy na die twee “Volksblad” verslaggewers gedraai: “Hoe durf julle my huis onder valse voorwendsels binnekom? Dit was Die Volksblad wat geskakel het. Gee pad hier!” Hulle het gegrinnik soos plaashonde wat die vet gesteel het en haastig geloop. Dit het hulle egter nie daarvan weerhou nie om die volgende dag ’n storie te publiseer wat geheel-en-al onwaar en onjuis was nie, naamlik, dat die Rhoodies gekla het dat hulle geen hulp van Pik Botha en die ministerie van Buitelandse Sake kry nie. Dit het aan Pik Botha die geleentheid gegee om die rol te speel van die ridder op die wit perd wat, alhoewel hy deur die skone dame versmaad is, nogtans manmoedig sy gang gegaan het! Kort daarna het ons ’n telegram van die skoolhoof in Engeland en ook een uit Oostenryk ontvang dat ons seun opgespoor is en dat alles in orde was. Die seun se moed het hom op die laaste oomblik begewe voordat hy die SAL-vliegtuig in Londen na Johannesburg sou haal. In plaas daarvan het hy, in die winter, deur Europa na ’n vriend se huis in Oostenryk geryloop.
’n Dag later het Pik Botha ’n verklaring uitgereik dat ten spyte van my vrou se “beledigende” aanmerkings, sy Departement (en hy) hulle werk gedoen het. Hulle het die seun opgespoor en ons prokureurs in kennis gestel.
Red nou Suid-Afrika met so ’n spul!
Maar vir Beeld was dit nie genoeg nie. ’n Rukkie later het hulle ’n storie gepubliseer dat ons seun in werklikheid met ’n Amerikaanse paspoort gereis het en dat dit alles die storie van sy verdwyning taamlik verdag maak. Beeld se verslag het die Sekretaris van Binnelandse Sake aangehaal, naamlik, dat hy ook nie geweet het wat aangaan nie. Die berig het ook weer Pik Botha se moedige optrede in die aangesig van Katy Rhoodie se beledigings opgewarm.
Dit was alles pure kaf, want ek het alreeds maande tevore ’n geregistreerde brief na die Sekretaris van Binnelandse Sake gestuur met Eschel se paspoort daarin en aan hom gesê dat my seun Amerikaanse burgerskap aanvaar het. Hy is in Amerika gebore en was wettiglik daarop geregtig.
Katy was baie omgekrap oor Beeld se insinuasie dat haar seun se verdwyning polities gemotiveerd was om Pik Botha in die verleentheid te stel. Vir die eerste keer in haar lewe het sy haar pen opgeneem om ’n brief aan die redakteur te skryf. Beeld het die brief gepubliseer (wat by die feite gebly het) maar het die passasies uitgelaat wat aan die leser vertel hoe die twee verslaggewers haar huis op valse voorwendsel binnegekom het en hoe hulle, nadat hulle gehoor het hoe sy die korrekte situasie aan ’n ander koerant verduidelik, teruggegaan het en met opset ’n vals verslag geskryf het. (Daar was ’n vriendin van Katy teenwoordig wat hierdie optrede van Beeld se verslaggewers kan bevestig).
Katy en ek het Pretoria selde verlaat. Ons het ’n week by Cathedral Peak in die Drakensberg deurgebring. Ook twee dae in Durban en drie in die Kruger Wildtuin met klein Eschel toe hy in die April-Mei skoolvakansie vanaf Engeland na Suid-Afrika gekom het. Sy Oostenrykse vriend het saam met hom gekom en tesame met nog ’n vriend het die vier van ons na Plettenbergbaai gevlieg vir ’n vyf-dag staptoer in die berge van die Tsitsikamagebied.
Vir die polisie was ek seker ’n model van stiptelikheid. Elke dag, vir byna 'n jaar, het ek twee keer, soggens en in die aand, by die polisiestasie aangemeld om ’n boek te teken as bewys dat ek nog in die land was. Ek was net een keer 'n halfuur laat toe my motor onklaar geraak het. Toe Regter Theron deur ’n goedgesinde advokaat, Willem van Drummelen, genader is vir sy toestemming dat ek en my seun op die staptoer kon gaan, is die hele saak binne ’n halfuur afgehandel, sonder dat die ander partye wat die borgtog geteken het enigsins betrokke was.
Vervolg...