Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Misplaaste nasionale en internasionale toekennings maak van geen booswig ‘n eerbare leier nie. Wie soos ‘n engel praat, maar soos ‘n duiwel leef, is soos ‘n heuningby met heuning in die bek en ‘n angel aan die stert!
DIE WARE INLIGTING- SKANDAAL (46)
Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
Die doel met die plasing van hierdie inligting oor die destydse Inligtingskandaal is om die leser perspektief te gee oor hoe Suid-Afrika tot by die haglike verval van 'n swart regering gekom het. Die verraad wat destyds in die kabinet van Vorster, PW Botha, Pik Botha en De Klerk plaasgevind het, nie net teenoor ons Boerevolk nie, maar ook onder en teenoor mekaar in die parlement, getuig van hul veragtelike motiewe en handeling.
In die lig van die nuwe getuienis wat in die laaste maande van 1979 en die begin van 1980 ingewin is, het baie van my vriende en raadgewers soos professor Sas Strauss betoog vir ’n versoek aan die Appèlhof dat die saak heropen moes word. Weer onder Regter Theron, sodat die nuwe getuienis wat die Appèlhof moes bestudeer voordat die saak in Bloemfontein aangehoor sou word, op rekord gestel kon word. Daar bestaan ’n bepaling dat sulke nuwe getuienis voorgelê kan word. Maar Johan Kriegler het aangevoer dat dit om verskillende redes nie nodig was nie. Die belangrikste was dat die hofrekord genoeg bewyse bevat dat ek nooit skuldig bevind moes gewees het nie.
“Die bestaande rekord van die getuienis is jou beste verdediging”, het Kriegler gesê.
Kriegler en Stafford se ontleding van die uitspraak was baie korter as myne. Dit was nie simplisties nie, maar dit was uiters logies, uiters klinies en tersaaklik. In teenstelling met my uitvoerige benadering, was die kern van hulle argument dat die hof net een kardinale vraag moes beantwoord: Bestaan daar ’n moontlikheid dat ek wel die betalings aan die geheime medewerkers kon gemaak het, soos ek beweer het? Daardie vraag, het hulle aangevoer, kon in die volgende vrae onderverdeel word en hulle moes almal deur die Regter in detail
en sorgvuldig gehanteer gewees het indien hy agter die waarheid wou kom: Het die mense werklik bestaan aan wie ek na bewering uit my persoonlike fondue die betalings gemaak het? Was daar werklik rede vir die betalings aan hierdie mense en, indien wel, in watter bedrae en wanneer? Het hulle die toepaslike bedrae ontvang en laastens, het ek die nodige kontant gehad om hulle te betaal?
Indien die antwoord op enige van die vrae negatief was, dan het ek geen verdediging nie. Indien die antwoord bevestigend was dan is dit logieser wyse onmoontlik om my op enige aanklag skuldig te bevind.
Twee verdere vrae het uit die kardinale vraag voortgespruit: Indien dit waar is dat die geheime medewerkers die geld ontvang het en indien die Staat hulle nie betaal het nie (soos Fourie getuig het) is dit dan nie redelik aanvaarbaar dat ek hulle betaal het, soos ek beweer het? Tweedens, as dit waar is dat ek genoegsame private fondse in kontant beskikbaar gehad het en waarvan ek wou ontslae raak, en as daar geen bewyse is nie dat ek die geld op enige ander wyse gebruik het, behalwe om die medewerkers te betaal, wat het van al die geld geword indien dit nie op die wyse gebruik was wat ek verklaar het gebeur het nie?
“Indien ’n mens die getuienis ondersoek”, het Stafford gesê, “dan vind jy al die antwoorde op Kriegler se vrae: die mense wat die geld ontvang het, het bestaan; daar was goeie rede waarom hulle betaal moes word; die bedrae wat aan hulle betaal was, was korrek en nie onredelik nie; hulle het inderdaad die geld ontvang en hy het die nodige kontant gehad om die betalings te maak.
Daarbenewens, die Staat se eie rekords en belangrikste getuie (Braam Fourie) dui aan dat die Staat nie mense soos Abramson en Pegg betaal het nie, alhoewel hulle ’n ontvangsbewys vir R30 000 geteken het. “Aangesien jy nie bedrae van R90 000 in enige van jou eie bankrekeninge of die van jou vrou gedeponeer het nie, is die enigste logiese gevolgtrekking dat jy hulle moes betaal het. Liewe hemel, dit is so logies dat ’n blinde dit met ’n stok kan voel.”
Maar Kriegler se oortuiging dat Regter Theron ’n onskuldige man veroordeel het, het op meer as net logiese afleidings berus en dit het verduidelik waarom hy geglo het dat dit nie nodig was om enige nuwe bevestigde getuienis aan die Hof voor te lê nie. Kriegler se oortuiging het berus op die feit dat die Regter eintlik ’n reeks fundamentele foute in die daarstelling van sy uitspraak begaan het. Hy het hulle vir my aangestip:
“Fundamentele foute en wanvoorstellings ten opsigte van getuienis; fundamentele foute en wanvoorstellings ten opsigte van twispunte; essensiële mondelinge (viva voce) en dokumentêre bewyse was oor die hoof gesien; belangrike feitebepalings is sonder die teenwoordigheid van stawende getuienis gemaak; die Regter het nagelaat om belangrike bepalings ten opsigte van sleutel-oorwegings te maak; afleidings is gemaak wat eenvoudig nie geregverdig kon word nie; afleidings is teen jou gemaak op punte wat nooit aan jou gestel was nie; onderlinge onversoenbare bepalings en afleidings is gemaak; fundamentele moontlikhede is oor die hoof gesien; die kwessie van bewyslas is uit die oog verloor, by uitstek ten opsigte van die afwesigheid van bewyse in sekere areas; die feit dat bewyse ter stawing of weerlegging van jou verduideliking aan die Staat beskikbaar was (maar nie aan jou nie) is totaal oor die hoof gesien, is selfs verontagsaam en ’n bevinding is ten opsigte van aanklagte 1 tot 4 gemaak wat totaal onversoenbaar met bevindinge ten opsigte van aanklagte 6 en 7 is.” Inderdaad het al die punte wat Kriegler en Stafford aan my genoem het in ons geskrewe betoog voor die Appèlhof verskyn.
Die koerante het berig dat ek baie min emosie getoon het tydens die bykans twee ure wat dit vir Regter Theron geneem het om sy uitspraak te lewer. Nadat die Regter my ’n drakoniese vonnis van ses jaar op een aanklag opgelê het, het my gedagtes die loop geneem. Ek sê ’’drakonies” omdat dit so kwaai was. Toe ’n voormalige regsadviseur van die regering se Ekonomiese Ontwikkelingsprogram kort daarna skuldig bevind is aan bedrog waarby R120 000 betrokke was (twee keer soveel as in my geval) is hy tot ’n boete van R5 000 of twee jaar gevangenisstraf gevonnis!
Ek het geweet dat Johan Kriegler wat my so briljant verdedig het sou wou hê dat ek teen die uitspraak appèl moes aanteken. Ek het ook geweet dat hy nie teen die drakoniese vonnis as sulks sou appèlleer nie.
Kriegler se argument was dat die vonnis onbelangrik was, want ek was onskuldig en dat dit die uitspraak self was waarteen ons beswaar gemaak het. Die uitspraak was wettiglik en feitelik verkeerd en kon omvergewerp word. Meeste van die Suid-Afrikaanse koerante het later hierdie punt totaal misgekyk, die S.A.U.K. insgelyks, en het slegs berig dat die appèl teen die vonnis van ses jaar gevangenisstraf suksesvol was. Ons het nooit teen die vonnis geappèlleer nie; ons het teen die skuldigbevinding geappèlleer. Die Appèlhof het uitspraak op my onskuld gelewer, nie of die vonnis te lank of te kort was nie.
Ek het gedink dat indien die Hof verlof tot appèl sou toestaan, Kriegler ook outomaties vir borgtog sal vra, hoewel ons almal persoonlik geweet het dat die Staat alles moontlik sou doen om dit teen te staan. Gelukkig was daar oorwegings wat die Staat moeilik sou kon verontagsaam. Mervin Gross het trompop aan die Staatsprokureur se kantoor gesê dat indien hulle verwag dat ek vanuit ’n gevangenissel die Staatstrustraad moet bystaan met die ontrafelIing van die komplekse transaksies wat ek gedurende die implementering van die Regering se geheime propaganda-oorlog geadministreer het, hulle almal in die Hartebeespoortdam kon gaan spring.
Die week voor die uitspraak het Thys van Heerden en Johan Krause van die Staatsprokureur se kantoor my in die gevangenis kom sien. Hulle was oortuig dat ek skotvry daarvan sou afkom. Hulle was ook seker dat ek dan my reg sou uitoefen en sou vra om onverwyld na Frankryk teruggestuur te word. Hulle wou ’n span prokureurs, advokate, amptenare en sekretaresses bring om al die inligting uit my te tap oor al die geheime projekte wat die Staatstrustraad nie kon ontrafel nie.
Vanaf die oorkant van die tafel in die gevangenis-dokter se spreekkamer, het Van Heerden na my gekyk en gesê: “Indien jy nie saamwerk nie, sal my klant natuurlik toesien dat jou pensioen weggeneem word en jou vrou sal sonder ‘n inkomste gelaat word”.
“Wie is jou kliënt, Thys?”, het Mervin Gross gevra: “Is dit die Staatstrustraad? Die Regering?”
“Ek kan dit vir jou beantwoord, Mervin”, het ek gesê. “Dit is die Staat en hedendaags beteken die Staat P.W. Botha, Pik Botha, Alwyn Schlebusch, Chris Heunis en Owen Horwood”.
“Wel, dit maak werklik nie saak wie my kliënt is nie”, het Van Heerden gesê.
“Jy is doodreg”, het ek bygevoeg, “want wie dit ookal is, sê vir hulle dat hulle na die hel kan vlieg. En sê aan hulle dat hulle my pensioen kan wegneem. Dit sal net verdere bewys wees dat ons met ’n spul Nazi’s te make het”.
“Wag nou Eschel, magtig man, jy moenie sulke dinge sê nie”, het Gross gesê. “Nie almal in die regering tree so eiemagtig op nie”.
“Wel, ek haat dit om op hierdie manier afgepers te word en ek wil seker maak dat hulle weet dat hulle dreigemente my nie bang maak nie. En om my pensioen weg te neem en my vrou sonder inkomste te laat - as dit nie Nazi-gelyk is nie, dan is dit ten minste opregte KGB-styl”.
Aan die end van ons gesprek het Gross aan Van Heerden gesê dat samewerking vanuit ’n sel buite die kwessie was. Daarbuite was sy kliënt gewillig om te help - sonder die noodsaak van dreigemente.
Nadat Johan Kriegler in die Paleis van Justisie verlof gekry het om te appèlleer, het hy opgemerk dat die Staat “gretig” was om my dienste te verkry en dat dit as voorwaarde vir borgtog kon dien. Die “inisiatief” het nie van my kant gekom nie, maar van die Staat. Hy het voorgestel dat borgtog op “’n groot bedrag” vasgestel kon word, “’n baie groot bedrag”, so in die omgewing van R30 000.
Die Staatsprokureur het nie namens sy kliënt teen borgtog beswaar gemaak nie, maar gedurende die middagete-resessie is Van Heerden skynbaar na die Uniegebou ontbied waar Pik Botha hom glo oor die kole oor sy optrede sou gehaal het. Arme Thys van Heerden. Hy moes die Staatstrustraad tevrede stel deur my dienste te verkry en hy moes die regering polities beskerm.
In sy beswaar teen borgtog het die Prokureur-Generaal opgemerk dat ek ook van uit die gevangenis sou saamwerk “as ek wou”. Dit het ’n ligte gegiggel in die hofsaal veroorsaak. Meer mense as ek het blykbaar die belaglikheid van so ’n standpunt ingesien. Maar toe Thys van Heerden na middagete teruggekom het, het die Prokureur-Generaal gesê dat daar ’n “misverstand” tussen Van Heerden en die polisie was en dat hulle standpunt is dat hulle nie borgtog ondersteun nie, maar dat hulle dit ook nie teenstaan nie.
Regter Theron het beslis dat borgtog toegestaan word. Katy en Annemarte het van vreugde uitgeroep en toe my vrou omdraai en glimlag, het ek myself vir die eerste keer sedert die aanvang van die verhoor toegelaat om breed terug te lag.
Daar was ’n verdere snak van verbasing toe Regter Theron borgtog op R90 000 vasstel. Een van die hoogste bedrae in die geskiedenis van Suid-Afrika. Toe die Prokureur-Generaal opmerk dat die Staat die borgtog van R90 000 “genoegsaam” vind, kon ek myself beswaarlik inhou. (Iemand het later opgemerk dat, inflasie buite rekening gelaat, dit die bedrag is wat Paul Kruger van die Britte vir die Jameson inval ge-eis het).
“Genoegsaam! Pure bog!” het ek vir myself gesê: “Braam Fischer, leier van die Kommuniste het borgtog van RI0 000 gekry. Waarom het die Staat nie destyds gesê dat hulle sy borgtog onvoldoende bevind nie?
Majoor Taljaard en kolonel Hulme het my na die Sentrale Gevangenis teruggeneem waar die nodige dokumente vir my ontslag onderteken moes word. Dit was ’n fout en ek is met ’n gevangenismotor na die landdroskantoor teruggeneem om eers vir borgtog te teken wat gesamentlik onderneem is deur die immergoedhartige dr. Boet Kloppers, dr. Connie Mulder, en myself R30 000 elk. Deur toe te laat dat ek vir my eie borgtog teken terwyl daar ’n voorlopige sekwestrasiebevel teen my was, het Regter Theron blykbaar sy eie reël gemaak. Dit was inderdaad ongehoord.
Toe Katy en ek by die Hooflanddros se kantoor uitkom, het die pers die gang volgestaan en dit was slegs met die bystand van die polisie en twee gevangenisbeamptes (wat my nog steeds opgepas het) dat ons kon wegkom. Ons het egter die koerante tegemoet gekom en mekaar omhels en gesoen. Ons was verheug om weer bymekaar te wees en ek glo hulle kon dit op ons gesigte lees.
Baie later het ek nagedink oor die telefoonoproep wat Thys van Heerden daardie dag van die Eerste Minister se kantoor ontvang het.
Terwyl ons almal rondom die landdros se tafel gestaan het, het iemand ingekom en voor ons almal gesê dat die Eerste Minister (nie die Eerste Minister se kantoor nie) met Van Heerden wou praat. Hy het die oproep langsaan geneem en ons kon half-en-half sy opgewonde woorde hoor. Daar was ’n aanhoorder in die kamer langsaan en hy het afgelei dat die Eerste Minister of iemand in sy kantoor woedend was omdat die Staatsprokureur ’n neutrale standpunt oor die borgtog ingeneem het. Dit was ooglopend uit die oproep dat Pik Botha sy opdrag aan die Staatsprokureur verknoei het en dat die regering my in der waarheid ten alle koste agter tralies wou hou. Soos 'n gevaarlike misdadiger, tot tyd en wyl my appèl in Bloemfontein aangehoor sou word. Dit was een manier waarop hulle wou seker maak dat ek ’n tyd lank in die gevangenis deurbring. Ongelukkig vir die Eerste Minister, het Pik Botha se knoeiwerk en Regter Charles Theron se onafhanklikheid, sy planne in die war gestuur. In Suid-Afrika was daar gevalle van manne wat aan moord skuldig bevind was en op borgtog vrygelaat is. Maar in my geval was “bedrog” ’n baie ernstiger oortreding as moord of hoogverraad. Interessant genoeg, toe Cedric Mayson in 1983 op aanklag van hoogverraad verhoor is (wat die doodstraf dra) het Regter P.J. van der Walt die borgtog op R1 000 vasgestel. Regter Theron se bedrag van R90 000 was dus verstommend. Later, in 1983, het Mayson borgtog gebreek en na Brittanje gevlug.
Terug by die Sentrale Gevangenis het ek my “besittings” uit Blok B verwyder en na die ontvangskantoor geneem: die standaard groen gevangenisklere; bruin skoene; die growwe onderklere en slaappak wat met ’n stuk tou vasgemaak moes word; my blikbeker en piering. Terwyl ek by die sel op die tweede vloer uitgestap het, het ek gedink aan die eerste nag van ellende wat ek in die maksimumsekuriteitsblok deurgebring het. Ek is oorspronklik na die afdeling vir eerste oortreders geneem, nadat ek van gevangenisklere voorsien is. Alle ander artikels is van my weggeneem. Selfs die boek wat ek besig was om te lees: Great Expectations van Charles Dickens. Ek is na sel nommer een geneem, maar omdat die lig foutief was, is ek na die blok vir langtermyngevangenes oorgeplaas. Daar was net nie meer ruimte in die afdeling vir eerste oortreders nie. Ons tronke is bra vol.
Daardie nag was daar twee plate-versoeke vir my oor die gevangenisradio. Die gevangenes wou simpatie uitgespreek het. Die radio het ook elke uur die nuus aangekondig dat ek tot 6 jaar effektiewe gevangenisstraf gevonnis is. Elke gevangene wat ek gesien het of met wie ek gepraat het, het ’n woordjie van bemoediging gehad. By ’n halfdosyn geleenthede het persone wat seker nie geweet het dat ek nie rook nie skelmpies sigarette aan my probeer gee. Daar was troosbriefies onder my deur ingestoot; ’n Bybelteks of twee. Maar vir my kon geen bemoediging of medelye vergoed vir die feit dat ek onskuldig in ’n sel opgesluit was waar ek nie die daglig kon sien nie.
Die selvenster was hoog teen die muur ingebou sodat net indirekte lig ingekom het.
Daar was geen lopende water in die sel nie.
Geen toiletfasiliteite nie.
Elke gevangene het ’n outydse wasskottel gehad - halfpad vol water, om te dien as drinkwater en die volgende oggend in te was en te skeer.
Die balie met water en chemikalieë wat as toilet moes dien, het my gewalg.
Ek het geweet dat die regering by die Verenigde Volke en by verskeie intemasionale konferensies oor die behandeling van oortreders gesê het dat hulle die minimum reëls ondersteun wat byna twintig jaar gelede deur die Verenigde Volke neergelê is. Hierdie reëls het behoorlike toiletgeriewe in elke sel vereis en tog hier was die bewys dat die Sentrale Gevangenis, die grootste in die land, na twintig jaar nie sulke geriewe gehad het nie. Ek het geweet dat toestande in ander gevangenisse wat ek besoek het of van gelees het, goed was en aan die minimum standaarde voldoen het; ook dat hulle besig was met die rekonstruksie van die Sentrale Gevangenis, maar ek was nogtans verbaas dat so ’n elementêre higiëniese fasiliteit na twintig jaar nie beskikbaar was nie.
Ek kon myself die reuk gedurende die nag in daardie klein selletjie voorstel as die gevangene maagprobleme sou opdoen.
Ek het ’n misrabele nag op die growwe, bulterige matras deurgebring.
Die volgende oggend het ek vir ontbyt by die ander gevangenes aangesluit: warm hawermeelpap met melk en bruin suiker. Niemand is toegelaat om enigiets te sê terwyl hulle geeët het nie. Die atmosfeer was spookagtig. Daar was ’n paar honderd manne in hierdie lang vertrek, die dak 50 voet bokant hulle koppe. Almal besig om te eet. In ’n doodse stilte. Nadat ek na die hof geneem is en borgtog toegestaan is, het ek teruggekom om my besittings af te haal: ’n tas vol klere, my Omega-horlosie, my goue trouring; ’n skryfblok waarvan die eerste vyftig bladsye volgeskryf was oor alles wat met my in my kinderdae gebeur het, so ver terug as wat ek kon onthou, en nog ’n skryfblok wat die raamwerk van ’n roman bevat het wat ek besig was om te skryf.
Alhoewel gevangenisamptenare my by ’n sydeur uitgesmokkel het, het drie motors vol joemaliste en fotograwe ons deur Pretoria agtervolg (met geen ontsag vir rooi ligte nie) tot by die huis van dr. P.J. Kloppers in Lynnwoodweg. Toe ek uit die motor klim, het Bobby, dr. Kloppers se vrou na buite gehardloop en my omhels. Dit was asof ek tuisgekom het. Hierdie twee mense versinnebeeld die betekenis van vriendskap en moed.
Katy en ek het na die fotograwe gedraai. “Neem asseblief nou al die foto’s wat julle wil, maar ek vra julle mooi, laat ons dan net vir ’n paar weke met rus", het ek gepleit.
Al die joernaliste en fotograwe het ingestem, maar een man, Jack Viviers van Beeld, het nog aanhou probeer om vrae te stel.
“Wag ’n bietjie. Is jy Beeld se man by ‘Boss’ of‘Boss’ se man by Beeld?” het ek gevra. Iemand het my lank gelede vertel dat jy ’n geleibuis is. Ek het net gewonder of jou kollegas dit geweet het”.
Daarop het ek my vrou se arm geneem, die huis ingestap en Viviers
buitekant met ’n skaapagtige glimlag op sy gesig gelaat. In werklikheid was ek besig om met hom die gek te skeer. “Boss” kon baie beter doen as hulle iemand by Beeld wou geplant het.
Die volgende dag het ons na my dogter se woonstel in Randburg gery. Die pers het woord gehou. Daar was nie ’n enkele fotograaf teenwoordig nie. Ek was dankbaar, want ek het geglo dat my voortdurende stryd met etlike lede van die pers nou beëindig moes word.
Vervolg...