Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
DIE WARE INLIGTING- SKANDAAL (44)
Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
Die doel met die plasing van hierdie inligting oor die destydse Inligtingskandaal is om die leser perspektief te gee oor hoe Suid-Afrika tot by die haglike verval van 'n swart regering gekom het. Die verraad wat destyds in die kabinet van Vorster, PW Botha, Pik Botha en De Klerk plaasgevind het, nie net teenoor ons Boerevolk nie, maar ook onder en teenoor mekaar in die parlement, getuig van hul veragtelike motiewe en handeling.
In 1973 het die Regering gesukkel om iemand in Suid-Afrika te vind wat ’n gedefinieerde uiteensetting oor apartheid, of afsonderlike ontwikkeling, kon skryf. Hulle het eers vir Willem van Heerden, doyen van Afrikaanse koerantredakteurs, betaal om dit te doen, maar kon nie sy manuskrip gebruik nie. Daarna het hulle hul na professor Erica Theron gewend, maar sy het halfpad opgegee. Op ’n dag het ek aan dr. Connie Mulder gesê: “Indien julle Nic Rhoodie daarvoor betaal sal hy, Denys en ek dit vir julle binne vier tot ses weke doen”.
Dr. Mulder het mnr. Vorster se goedkeuring verkry en binne ses weke was die manuskrip, The Reality of Multi-national Development op sy tafel. ’n Kabinetskomitee van vier man, dr. Mulder, M.C. Botha, dr. Hilgard Muller en mnr. Marais Viljoen (gewese Staatspresident) is deur mnr. Vorster aangestel om die manuskrip na te sien. Behalwe vir ’n paar woorde hier en daar en ’n paar bykomende paragrawe deur M.C. Botha aanbeveel, is die manuskrip aanvaar presies soos dit voorgelê was - elke enkele bladsy is goedgekeur. Baie van die werk was oorspronklik, soos my hoofstuk wat die integrasie-model van ’n een-man-een-stem sisteem vir Suid-Afrika uitmekaar gehaal het.
My “konflik” met Brand Fourie van Buitelandse Sake soos die pers dit moedswillig beskryf het was nooit persoonlik nie en was deur die pers opgemaak en aangeblaas. Ek het openlik sowel as vertroulik die mening uitgespreek dat Brand Fourie een van die mees intelligente en hardwerkende regeringsamptenare was, moontlik die hardwerkendste. Waarteen ek kapsie gemaak het, was nie Brand nie.
Gerald Barrie was ’n perd van ’n ander kleur. Daar was 'n sekere botweg eerlikheid by hom. Toe hy by Inligting aangestel is, het die heel eerste ontmoeting met die senior amptenare op ’n suur noot begin: “Wel, hier is ek", het hy gesê. “Ek het nie gevra om hierheen gestuur te word nie. Wat is ek veronderstel om te doen?”
Diegene wat gedink het dat die opmerking ’n grap was, het spoedig uitgevind dat die man werklik nie geweet het wat ons probleme was en wat hom te doen staan nie.
Hy was ook ’n amptenaar wat nooit ’n fout wou erken nie maar in teenstelling met Brand Fourie wat oneindig baie tyd gebruik het om ’n memorandum op te stel, ten einde seker te maak dat hy aan die Minister die regte advies gee, het Barrie probeer om die ding op eie houtjie te doen, sonder om die advies van sy senior amptenare te vra. Wanneer die Minister sy voorstelle verwerp of verander het, het Barrie ’n nuwe memorandum opgestel wat al die Minister se eie argumente bevat. Die gevolg hiervan was dat in al die jare van sy sekretarisskap, dr. Connie Mulder nooit, volgens die rekords, 'n enkele aanbeveling van Barrie afgekeur het nie! Almal was herskryf volgens die Minister se aanduidings.
Gerald Barrie se “re-treads” was ’n ou grap tussen die Minister se privaat sekretarisse.
Ek het ook vyande onder my eie personeel gemaak.
Ek het onthou hoe amptenare gedurende Brand Fourie en Gerald Barrie se dienstydperk slegs bevordering op ’n streng senioriteitsbasis gekry het. Meriete was ’n konsep, maar dit was nie ’n beginsel wat hulle verstaan het nie of wat hulle streng wou toepas nie. Met die goedkeuring van die Minister het ek dit alles verander. Ek het aan elkeen ’n kans gegee. Selfs diegene wat my senior amptenare gedink het genoeg geleentheid gehad het. Ek het nooit onderskeid tussen manne en vroue gemaak nie en het die eerste vrou as redakteur van S.A. Panorama aangestel. Ek het vroue na belangrike poste in die buiteland gestuur. Maar as ’n man of vrou eenmaal hul kans gehad het en dit verbrou het, het ek hulle nooit weer ’n kans gegee nie.
Ek was ontsteld oor die massa van dooie hout in die Departement. Ek het gedurig gekla dat daar baie junior amptenare is wat ’n taak beter op eie houtjie kon afhandel as wat twee meer senior amptenare tesame kon doen. Ek wou manne en vroue sien wat daarop ingestel was om hul politieke en akademiese kennis te verbeter, wat oortyd gewerk het, wat idees gehad het, wat nie bang was om van my te verskil nie. Daarom het ek begin om die briljante jongeres te bevorder en die dryfkraglose oueres na die sylyne oor te skuif.
Die dooie hout was gebelgd hieroor.
Binne ’n jaar na my vertrek in Junie 1978, het ek verneem hoe sommige van hierdie mense by hul nuwe base gekla het dat ek hulle nooit ’n kans gegee het nie. Binne ’n jaar was almal bevorder! Hulle moes ’n metamorfose ondergaan het wat aan die wonderbaarlike grens, sonder weerga in die Staatsdiens, en seker nie sonder Pik Botha se hulp nie.
Ek was nie alleen gefrustreer en deur regulasies ingehok nie, maar was insgelyks gefrustreer deur die kwaliteit van die menslike materiaal wat die taak moes uitvoer wat my Minister en agtereenvolgende Eerste Ministers as ’n geweldige belangrike saak vir Suid-Afrika beskou het. Dit het my siek gemaak om te aanskou hoe amptenare probeer het om witvoetjie te soek nadat ek Sekretaris geword het. Kollegas met wie ek vroeër vir baie jare saamgewerk het, sonder dat hulle probeer het om my beter te leer ken, het my nou skielik met uitnodigings vir ete by hul huise oorval.
Ek het opsetlik sosiale en persoonlike omgang met hulle en ander middelslag amptenare vermy, want, het ek altyd aan my vrou gesê, om dit te doen sou beteken dat ek moontlik later my perspektief mag verloor. Ek moes terugstaan ten einde hul werk objektief te beoordeel. Ek het die sosiale verrigtinge van my Departement bygewoon en geniet. In vergelyking met die dooierige tydperk van Gerald Barrie het Inligting soos een dame in die biblioteek gesê het “a
swinging” departement geword.
Die een geleentheid waarby ek kop gegee het en vir ete na ’n amptenaar se huis gegaan het, was as gevolg van my vrou se jare lange vriendskap met sy vrou. Hierdie besondere amptenaar, wie ek later na Parys oorgeplaas het, was altyd voor in die koor as daar witvoetjie gesoek word. Hy was ook vir my die grootste teleurstelling want later toe Katy in Europa desperaat op soek na ondersteuning was het hy sy vrou verbied om haar te help, haar selfs verbied om Katy se tasse met haar persoonlike besittings te bewaar tot tyd en wyl ander reëlings getref kon word. Vir persoonlike moed kry hy ’n ronde nul in vergelyking met Jenny Basson se een honderd.
My jaarlikse verslae aan die Parlement oor my departement se konvensionele aktiwiteite het vir ons baie lof aan die regeringskant in die Parlement, van die Afrikaanse pers en selfs teësinnige goedkeuring van die Opposisie ingeoes. Die Hansard rekord spreek vir homself. Binne ’n bestek van drie jaar het ons die aktiwiteite van die Departement verdriedubbel.
Ek het dikwels gevoel dat ek meer openlik met individuele redakteurs van koerante, Afrikaans en Engels, oor my Departement se probleme wou praat, maar met laasgenoemde was ek gou-gou in ’n deurlopende vete gewikkel. Dit het op 1 Mei 1974 tot ’n krisispunt gekom toe ek ’n gekombineerde byeenkoms van Rapportryers toegespreek het oor die rol wat die Engelstalige pers en buitelandse verslaggewers in die projeksie van ’n ongunstige beeld van Suid-Afrika gespeel het.
Dit was ’n omstrede onderwerp, maar ek het dit deur die Minister laat keur voordat ek gepraat het. Die toespraak, waarvan uittreksels volg, het die dag aangeteken waarop die Engelstalige pers in Suid-Afrika teen dr. Connie Mulder en myself oorlog verklaar het.
“Die pers, en by uitstek die Engelstalige pers, is nie ’n heilige koei nie. Uitknipsels van die Engelstalige pers kan in die Verenigde Volke, die OAE, die Wêreldraad van Kerke en in Moskou en Peking gevind word. Sommige van die mees giftige aanvalle op Suid-Afrika vanuit hierdie oorde, haal slegs die Engelstalige pers in Suid-Afrika as hul bron aan. Nie omdat hierdie seksie van die pers onjuisthede gepubliseer het nie, maar omdat hulle polities partydig was. Hierdie partydigheid het ons kritici en vyande in staat gestel om met gemak daardie selfde verslag te verdraai, deur eenvoudig slegs die feite uit te soek wat hulle pas. Engels is die wêreld-taal en die Engelstalige koerante in Suid-Afrika het die belangrikste bron van inligting vir vriend en vyand geword”.
Daarna het ek gesê:
“Die probleem begin wanneer buitelandse studente, professore en koerantmanne in Suid-Afrika aankom. Geeneen wat ’n vreemde land vir ’n kort tydjie besoek sal meer as net ’n mondjievol van die plaaslike taal aanleer nie, veel minder nog Afrikaans wat in teenstelling met Engels net tot Suid-Afrika beperk is.
“Die besoekende professor neig uit die aard van die saak na die Engelssprekende professore by Engelstalige universiteite, ruil sienswyses met hulle in Engels uit en lees The Rand Daily Mail en ander Engelstalige koerante. Die besoekende nuusmanne het geen tyd om te reël vir vertalings uit die Afrikaanse pers nie en maak slegs staat op wat hy in Engels as ’n voorstelling van die Afrikaanse sienswyse kan vind. Die resultaat is ’n boek of ’n verslag wat dikwels so eensydig is dat Afrikaanssprekende professore en joernaliste in nege uit die tien gevalle rede gevind het om die inhoud sterk af te keur...
“Wat ookal die geval, die feit is dat in soverre as wat dit tuis ontstaan het, is die spieël van politieke mening oor Suid-Afrika wat aan die wêreld voorgehou is, hoofsaaklik dit van die Opposisie Partye...
“Geen nadenkende Suid-Afrikaner sal ooit die Engelssprekende joernaliste van opsetlike wanvoorstelling van feite of bewustelike verskansing van positiewe ontwikkelinge beskuldig nie. (Hoewel ’n paar dit wel opsetlik tydens die “Inligtingskandaal” gedoen het.) Die Engelstalige pers wat die regering teenstaan, het ’n plig teenoor sy lesers. Hulle sal en moet aanhou om uitgesproke omtrent regeringsake te wees. Suid-Afrika het nog altyd ’n vrye pers gehad en die heftige debatte oor openbare sake wat deur hierdie pers aan die gang gesit is, was dikwels vir die hele land van groot waarde. Gevolglik kan niemand in die buiteland ons van politieke stagnasie beskuldig nie. Nietemin, omdat dit partydig en seksioneel is, was die bykomende uitwerking van hierdie taalversperring ... tot die nadeel van die geheelbeeld van die land.
“Dit moet beklemtoon word dat niemand van die opposisie-pers verwag dat sy sienswyse moet verander om die Regering te pas nie. Dieselfde sal ook geld indien die Afrikaanse pers hulself skielik in die posisie bevind dat hulle ’n party ondersteun wat nie aan bewind is nie. Nogtans - en hier is die kern van die saak - watter kritiek hulle ookal van ’n nuwe bewind mag uitspreek sal nie vrylik, outomaties en met gemak aan die buiteland deur middel van kabelberigte, boek en pamflette oorgedra kan word soos wat dit huidig gebeur wanneer die
opposisie-pers ’n volle lading teen Regeringswetgewing afvuur nie, bloot omdat Afrikaans ’n onbekende taal in die buiteland is.
“Die gesonde ontwikkelinge, prestasies en oorwinnings van die NP wat die Afrikaanse pers aan sy lesers voorbehou het, het tot die voortdurende vermeerdering van stemme by agtereenvolgende algemene verkiesings sedert 1948 bygedra... Hierdie ‘goeie nuus’ waaraan hulle voorkeur gegee het, vir gesonde politieke en ander redes, het egter nie sy weg na die buiteland gevind nie, terwyl die ‘slegte nuus’ oor die Regering en die land, waaraan die Engelstalige pers voorkeur en prominensie gegee het (ook vir politieke en ander ewe ooglopende redes) wel sy weg na die buiteland gevind het deur die kanale wat vroeër beskryf is ...
“Dit sal ons help, dit sal Suid-Afrika en al sy mense help, indien die Engelse pers in die moeilike jare wat voorlê altyd sal onthou dat hulle die wêreld se enkele en mees belangrike kanaal van nuus-kommentaar en sienswyse oor Suid-Afrika is. Hulle dra die soort van verantwoordelikheid wat op prysenswaardige wyse deur enkele koerante toegepas word. Maar kan enigeen in alle eerlikheid sê dat dit deur almal van hulle toegepas word?”
Rykie van Reenen, ’n gevierde en bekroonde Afrikaanse joernalis wie deur die opposisie-pers gerespekteer word het my toespraak bygewoon en my agterna vertel dat sy gedink het dat ek die saak “regverdig, sowel as taktvol” gestel het.
Die dag nadat ek hierdie toespraak gemaak het en, sonder dat hy eens die teks gelees het, het Tertius Myburgh, destyds redakteur van The Pretoria News (later van The Sunday Times) ’n hoofartikel geskryf waarin hy my daarvan beskuldig het dat ek “boerehaat” saai. Toe ek met Tertius oor die telefoon gepraat het, het hy gesê dat hy slegs ’n opsomming van my toespraak gesien het. Ek het die volle teks aan hom gestuur, maar hy het nooit sy woorde teruggetrek nie. Ek het sy houding as uiters onregverdig en onprofessioneel beskou.
Uiteindelik het dele van die Engelstalige pers hulself in aktiewe opposisie bevind teen die werk wat in die openbaar en in die geheim deur die Departement van Inligting in die buiteland gedoen is.
Ek huiwer nie in die minste nie om te sê dat daar mense in die Departement van Buitelandse Sake en by die Suid-Afrikaanse Ambassade in Washington was wat nou met die opposisie-pers saamgewerk het in hul pogings om ons werk af te kam. Wat hulle aan Ken Owen (destyds van die Argus groep) en sy vriende vertel het, was om Inligting aan te val op grond daarvan dat ons pogings aan “geheime diplomasie” of “agterdeur diplomasie” gelyk was. Sulke verslae het in The Sunday Times, The Star, The Rand Daily Mail en ander koerante verskyn. Dit is jammer dat hulle nooit die moed gehad het om my te vra nie. Ek sou hulle na ’n toespraak wat dr. Hilgard Muller op 11 September 1974 in die Parlement gemaak het verwys toe hy gesê het:“... daar is niks verkeerds, niks onheilspellends, niks onwaardigs ten opsigte van vertroulike of geheime diplomasie nie”. En daar is geen wet in Suid-Afrika wat sê dat geheime diplomasie slegs deur die Departement van Buitelandse Sake beoefen mag word nie. Dit is ’n besluit wat net by die Eerste Minister en die Minister van Buitelandse Sake berus, en enigiemand anders vir wie hulle ookal wil raadpleeg. Soms raadpleeg die Eerste Minister nie eens sy eie Buitelandse Minister nie, soos John Vorster in die geval van ons Wes-Afrikaanse en Israelse inisiatief gedoen het.
In 1974 en 1975 wanneer ek of my senior amptenare ookal besoek aan die Verenigde State gebring het en die Staatsdepartement nie met die aandag wat ons van Kongreslede en Senatore ontvang het gediend was nie, het neerhalende gerugte oor ons werk uitgelek. Nie aan die Amerikaanse pers of selfs aan verteenwoordigers van die Amerikaanse pers in Suid-Afrika nie, maar aan Ken Owen, destyds die Argus-verteenwoordiger in Washington. (Redakteur van The Sunday Express sedert 1982). Wat hulle na hom uitgelek het en wat hy sonder verifikasie aanvaar het, was dikwels skreiend onwaar.
Owen het die leiding van die anti-Suid-Afrikaanse Amerikaanse Staatsdepartement so getrou nagevolg dat ek verplig was om by sy redakteur in Johannesburg beswaar te maak.
Dit was maar net een voorbeeld van die manier waarop hulle destyds op my jag gemaak het, maar dit verduidelik waarom die Engelstalige pers byna soos besetenes te kere gegaan het toe hulle snuf in die neus kry dat To The Point moontlik geld van die Regering ontvang het en dat The Citizen ’n regeringsmaaksel kon wees.
Vir die regering om ’n Engelstalige koerant te stig om die stand van sake wat ek so pas beskryf het teen te werk, was die grootste van alle sondes.
Vervolg...