Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
“En Ek het vir julle gesê…..Ek is die Here julle God wat julle van die volke afgesonder het” (Lev.20:24).
DIE WARE INLIGTING- SKANDAAL (43)
Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
Die doel met die plasing van hierdie inligting oor die destydse Inligtingskandaal is om die leser perspektief te gee oor hoe Suid-Afrika tot by die haglike verval van 'n swart regering gekom het. Die verraad wat destyds in die kabinet van Vorster, PW Botha, Pik Botha en De Klerk plaasgevind het, nie net teenoor ons Boerevolk nie, maar ook onder en teenoor mekaar in die parlement, getuig van hul veragtelike motiewe en handeling.
In Aix-en-Provence het die son om vyf-dertig opgekom. Om sesuur is my baadjie, das en bruin leergordel deur die wagte aan my terugbesorg sodat ek korrek geklee sou wees vir die Franse hof wat eers om nege-uur sy verrigtinge sou begin.
Binne-in die gevangenis is ’n 200 jaar oue eikehoutdeur met ’n sleutel wat sowat ’n halwe meter lank was oopgesluit. Af met ’n stel trappe. Links, nog ’n ou deur. ’n Lang ondergrondse gang en dan weer trappe wat na die hofsaal op gaan. Die oomblik toe ons die boonste trappe bereik, het blitsligte afgegaan en kameramanne het geskreeu: “Hiematoe asseblief! Kyk hiematoe! Kyk hiematoe vir Associated Press!” Ek het nie links of regs gekyk nie, maar, vasgeboei aan ’n polisieman, by die hofsaal ingegaan en aan die linkerkant my sitplek ingeneem.
Die eerste persoon wat daama ingekom het was Henri Vincent. Daama Katy, gevolg deur professor Sas Straus, Etienne le Roux en Mervin Gross.
Aan die oorkant van die saal het ’n groep manne gestaan. Ek kon sien en hoor dat hulle Suid-Afrikaners is, maar hulle het nie na my gekyk nie. Drie Regters het verskyn. Die president van die hof, staalgrys-krulhare en koue oë, ’n jonger man met sagte bruin hare. Die derde, ’n moderne Romein. Sy swaar ronde gesig en haarstyl het aan hom die voorkoms van ’n oorgewig Julius Ceasar
verleen.
Die verrigting was saaklik. Ek het onskuldig gepleit en die beskerming van die Franse Hof teen uitlewering aan Suid-Afrika gevra op grond daarvan dat die saak teen my polities gemotiveerd was. Die Regter President het verklaar dat die saak oor ’n week aangehoor sou word en dat die hof se bevindinge binne die daaropvolgende week bekend gemaak sou word.
Alles was binne ’n paar minute afgehandel.
Ek kan nog duidelik onthou hoe Katy, slank en deftig geklee in beige, met ’n string wit perels om haar nek, probeer het om aan my ’n suikerklontjie te gee en hoe toornig die Franse polisie tussenbeide getree het om haar te keer. Hulle het heelwaarskynlik gedink dat dit sianied bevat.
Ek is weer deur die ondergrondse gang gelei, terug na die gevangenis waar die ander sowat honderd prisoniers my in Italiaans, Grieks, Duits, Frans, Spaans en ’n dosyn ander tale gegroet het. ’n Duitser wat goed Frans gepraat het, het na my gekom. By hom was ’n Franse prokureur wat op aanklagte van bedrog in ’n bou-transaksie in Cannes gevangenisstraf opgelê is. “Moenie
bekommerd wees nie”, het die Duitser die Fransman se boodskap in Duits getolk. “My vriend hier vertel aan my dat jy in Frankryk nie binne twee jaar uitgelewer kan word nie”.
Dit was kwalik ’n gerusstellende gedagte, hoe jy ookal daarna gekyk het. Die idee om twee jaar in ’n Franse gevangenis vir ’n finale uitspraak oor uitlewering te wag het geensins by my byval gevind nie. Wat ek die graagste wou hê was om daar uit te kom en by my vrou aan te sluit, nie oor twee jaar nie, maar sommer nog dieselfde dag.
Die Franse prokureur en my eie regsadviseurs, sowel as baie ander mense in Frankryk was verbaas toe die uitlewering heelwat gouer as twee jaar verloop
het. Dit het net twee weke geneem.
Gedurende die week voor die verhoor het ek elke dag Henri Vincent ontmoet en drie keer Gross, Straus en Le Roux om vir die saak voor te berei. Nadat hulle elke moontlike oogpunt in ag geneem het, het Vincent, Le Roux, Gross en Strauss saamgestem. Ons het nie ’n waterdigte saak gehad nie, as gevolg van die afwesigheid van getuies, maar ons het ’n wen-saak gehad. Soos Henri Vincent dit gestel het: “ Jy hoef nie ’n armoedige vlugteling uit Iran te wees nie, of ’n sogenaamde vryheidsvegter van Mosambiek, of ’n terroris van die ANC en PAC se ondergrondse beweging in Suid-Afrika om as ’n politieke-vlugteling in Frankryk te kwalifiseer nie. Insgelyks, hoef jy ook nie ’n lid van die Progressiewe Party of die Kommunistiese Party in Suid-Afrika te wees nie, of ’n bomgooier en saboteur, om as ’n opponent van die Botha-regering te kwalifiseer nie. Wat die hof sal ondersoek is of mnr. Botha met die uitreiking van instruksies vir jou arrestasie bloot gemotiveerd was deur die feit dat jy na bewering bedrog gepleeg het, of dat hy en sy regering ook polities-gemotiveerd was. In Chris Barnard se woorde aan my: ‘Jy moet bra onnosel wees as jy nie die politiek in hierdie saak raaksien nie’.”
Natuurlik was Vincent en Barnard reg.
Volgens Franse Wet was die hof veronderstel om vir ’n politieke motief te soek. Van die vele sake van Iraniërs wat deur hul nuwe regering van allerhande misdade en oortredings beskuldig was, het Vincent nie een verloor nie, omdat die hof besef het dat ’n nuwe regime in Iran aanbewind was wat daarop ingestel was om weens politieke redes teen diegene wat uit die land gevlug het wraak te neem. Maar in my geval het die hof blykbaar na niks gekyk nie. Die aanklaer het vir byna ’n uur gepraat. Vincent het vir byna een en ’n halfuur gepraat en aan die hof ’n stapel dokumente van byna ’n voet hoog voorgelê.
Terwyl Vincent gepraat het, het die Regter met die Romeinse krulle aan die slaap geraak.
Aldrie die Regters was veronderstel om die dokumente te bestudeer. Die hof het die namiddag ook gesit om ander sake aan te hoor. Tot Vincent se verstomming het hulle aan hom gesê dat uitspraak al die volgende dag, 8
Augustus, gelewer sou word.
Die uitspraak was teen my.
Toe Vincent die dokumente terugkry, kon hy homself kwalik beheer. Hy het geweet dat dit fisies onmoontlik vir aldrie manne was om al die dokumentasie deur te gaan, nie in 24 uur nie, nie in 48 uur nie, tensy hulle nooit ’n oog toegemaak het nie. Nog meer ontstellend was die feit dat dit wou voorkom, uit die wyse waarop sommige van die beëdigde verklarings nog verseël was en baie van sy lêers nog met rooi band in ’n spesiale dubbele knoop vasgebind was, dat hulle nooit eens oopgemaak was nie!
Die Regters het nooit eens raakgesien dat my aanhouding op sigself wederregtelik was nie aangesien die aansoek om uitlewering aan die kant van die Suid-Afrikaanse Regering gebaseer was op ’n landdroshof se lasbrief wat alreeds verstreke was.
Toe Vincent die namiddag by my aankom, was hy so wit soos ’n laken. “Nou maar goed”, het hy gesê, “ons sal ook begin veg. Ek sal na Parys gaan en vir ’n span advokate reël om appèl by die Franse Appelhof aan te teken”.
Maar dit was die laaste wat ek van Vincent gesien het. Twee jaar later was ons op dieselfde vliegtuig vanaf Parys na Geneve en die eerste ding wat hy gesê het toe hy my sien was of ek onthou hoe hard hy gewerk het en dat hy nie genoeg betaal was nie!
Katy en Mervin Gross het besef dat iets desperaats gedoen moes word, want die Franse was nou kapabel om my op die eerste vliegtuig na Suid-Afrika te suur. Sy en Gross het dieselfde dag nog na Parys vertrek.
In Amsterdam, Holland, het ’n prokureur wat ’n groot wit koevert bewaar het, per huurmotor na Spuisstraat 110 gegaan om dr. Ferrie Hoogendyk, hoofredakteur van Elseviers te sien. Gedurende dieselfde week, na die hof se rekord snelle uitspraak, het die eerste van die Elseviers-artikels oor die geheime propaganda-oorlog van Suid-Afrika en die rol van Eschel Rhoodie daarin, in die pers verskyn.
Die datum was 28 Julie 1979 en het ’n persoonlike brief bevat, deur my onderteken.
Die volgende dag was Katy terug vanaf Parys. Sy het my vertel dat op aanbeveling van Elseviers, hulle twee senior advokate, verbonde aan die Franse Appèlhof in Parys gekry het wat met plesier my saak sou behartig. Hierdie twee manne, Michel Laurain en Pierre Sanglade, was by die lees van my saak in die Parys koerante net so dronkgeslaan oor die Hof se vinnige uitspraak
In die gevangenis het dit gou rugbaar geword dat ek my pleidooi teen uitlewering verloor het. Die prisoniers, wat van hoogs intelligente en Sorbonne opgevoede mense soos die Cannes regsgeleerde gewissel het, tot Oostenrykse juweeldiewe en Baskiese gasarbeiders vanaf Spanje, het hul simpatie getoon deur aan my blokkies sjokolade te gee wat hulle familie op hul weeklikse
besoeke gebring het. Baie van hulle het die vinger-oor-die-keel teken gemaak.
Deur die Duitse gevangene het ek gehoor dat meeste van hulle gedink het dat ek na Suid-Afrika teruggaan om tereggestel te word. Hul oogpunte was ongetwyfeld beïnvloed deur wat gewoonlik met politieke slagoffers in die coup d’etat in ander Afrika-State gebeur het!
Ek het vir ’n week in Aix-en-Provence gebly.
Katy het my twee maal kom sien, om my op te beur en om my te vertel hoe die advokate in Parys met die saak vorder. Ek het haar nie van die toestande in die gevangenis vertel nie uit vrees dat dit haar sou ontstel. Sy het aan my vertel dat sy op ons seun se verjaardag, 27 Julie, een van die Suid-Afrikaanse verslaggewers, Thinus Prinsloo van Rapport, uitgenooi het om by haar en die kinders in die woonstel in Juan-les-Pins te kom eet. Dit was ook sy verjaarsdag. Sy het ook vertel dat Annemarie die volgende dag na Suid-Afrlka sou terugkeer en haar boodskap was: “Ons het jou lief. Moenie wanhoop nie".
Op Dinsdag 14 Augustus het die wagte my skielik meegedeel dat ek my paar besittings moes inpak en klaarmaak om weg te gaan. Hulle het nie geweet waarheen ek sou gaan nie. Weer eens het ek met die hulp van die Duitssprekende tolk gevra of ek my vrou mag laat weet. Hulle het geweier. My advokaat? Hulle het geweier. Kon ek ’n brief skryf, net ’n kort notatjie aan my vrou? Hulle het geweier.
’n Vangwa is agteruit by die hek van die gevangenis ingestoot en weer, in handboeie, is ek na die vangwa gelei waar vier polisiemanne by my aangesluit het. Ek was alleen. Met loeiende sirenes het die vangwa in die pragtige eik-omsoomde hoofstraat van Aix-en-Provence afgejaag. Daardie namiddag, by haar aankoms, het die owerhede aan Katy gesê dat ek oorgeplaas is. Maar hulle het geweier om aan haar te sê wanneer en waarheen. Dit was eers die volgende dag dat sy met die hulp van ’n goedgesinde verslaggewer van die Argus-groep in Londen (wat vlot Frans gepraat het) kon uitvind dat ek na Marseilles geneem is. My advokate in Parys het ook gereël dat ek teen die uitspraak van die Hof in Aix-en-Provence appel kon aanteken.
Ek het gedink dat toestande in die gevangenisse van Nice, Grasse en Aix-en Provence primitief was, maar ek het gou uitgevind dat toestande in Marseilles barbaars was. Dit was vir my ongelooflik dat sulke toestande deur ’n volk so verfynd en ontwikkeld soos die Franse verduur kon word. Klaarblyklik het die skande van “Devil’s Island” en die impak van boeke soos Pappilon op die Franse owerhede geen indruk gemaak nie.
Die Marseilles gevangenis, Les Baumettes was ’n enorme struktuur, vier verdiepings hoog, in die vorm van ’n hoofletter H. Daar was vier duisend mense in hierdie gevangenis aangehou. Vir oefening is hulle een keer per dag vir 45 minute uitgeneem in ’n konkreet binne-hof met ysterstawe aan elke kant, kompleet soos die hokke in ’n outydse dieretuin.
Ek was alleen in ’n sel op die vierde vloer. In die ander selle was daar vier mans per sel. Alhoewel my sel ’n toilet gehad het, met ’n kouewater-kraan direk daarbo sodat dit ook as wasgoedbalie en skottelgoed-opwasbak kon dien, was daar geen vullisverwyderingstel nie. Aangesien die kos meestal uit ’n wit brood bestaan, een koppie swart koffie, hope spaghetti en ander raaiselagtige oneetbare stukkies vleis en groente, het ek verkies om honger te bly. ’n Paar duisend ander gevangenes het dieselfde gedink en die manier waarop hulle van die kos ontslae geraak het was eenvoudig: dit was by die vensters uitgegooi. In die week wat ek in Marseilles deurgebring het, was die gemors net twee keer verwyder. In die somerhitte was die stank van die verrottende kos rondom die gevangenis byna onuithoudbaar en hoe die prisoniers op die eerste en tweede vloere dit verduur het, het ek nooit geweet nie.
Die wagte was onbeskof en bars en het geen vrae geduld nie. Weer eens het ek, sonder sukses, probeer om ’n tandarts te kry om na my gebreekte tand te kyk. In ’n sel, drie deure van my af, was ’n Franse sakeman wat goed Engels kon praat, en wat my vertel het dat hy met ’n agter-kleindogter van die Markies de Sade getroud was. Hy het aan my gesê dat hy al vir vier maande daar wag vir sy appèl om aangehoor te word. Dit was hy wat die stelsel van kommunikasie in die gevangenis aan my verduidelik het. Gevangenes het ’n klein flapsakkie gemaak. ’n Lang stuk tou is daaraan vasgebind. (Die lap en tou word by die bewaarders gekoop). ’n Klein gewiggie, soos ’n koekie seep, word in die sakkie geplaas. Die sakkie word deur die tralies gestoot, dan om en om geswaai, en langs die muur tot by die volgende sel gegooi waar ’n uitgestrekte arm dit gevang het. Die prosedure is herhaal totdat die sakkie sy bestemming bereik het.
In die aande was dit ’n ongelooflike gesig om dosyne van die sakkies langs die tronkmure te sien afskiet, partymaal van die een kant van die gevangenis na die ander. Op hierdie wyse het die Fransman daarin geslaag om vir my ’n Engelse sagteband roman te kry, asook voedselware wat hy as deel van sy weeklikse kruideniersbestelling gekoop het.
Die geld wat my vrou en my advokaat oorspronklik in Grasse aan die owerhede gegee het was nog “onderweg” na Aix-en-Provence en sou my eers in Parys inhaal. Derhalwe kon ek niks koop nie.
Katy het my twee maal in hierdie week in La Baumette kom sien. Daar was min wat sy oor die saak kon sê behalwe dat die advokate my gedurende die week sou kom besoek. Alles het soveel tyd geneem want dit was in die middel van die somer en dan kom alles in Parys, behalwe die toeristebedryf, tot algehele stilstand.
Katy het my die Vrydag kom besoek, geklee in ’n blou bloesie en kopdoek. Haar sagte grys oë het die blou van haar bloes weerkaats. Sy het bly aandrlng daarop dat ek nie verbitterd moet raak of my met haat moet vervul nie. Sy het belowe om vir ewig vir my te wag. “Nadat ek twintig jaar spandeer het om jou na my hand te leer, gaan ek jou nie nou vir enigiemand in die wêreld verruil nie. Jy moet net toesien dat jy hier uitkom as dieselfde man wat ek ken. Ek sal wag. Ons sal eenvoudig al ons emosies en gevoelens in die vrieskas bêre en wanneer jy uitkom, sal ons begin presies waar ons opgehou het”, het sy gesê.
Haar briewe wat Vincent in Grasse en Aix-en-Provence aan my gebring het, het altyd dieselfde onwrikbare gees weerspieël, maar was ook vol liefde, deernis en aanmoediging.
“Om te dink dat ek elke jaar, soveel tyd weg van die huis en hierdie
wonderlike vrou deurgebring het om Vorster se propaganda-oorlog deur te voer”, het ek aan myself gesê. “My idealisme moes my gesonde verstand, indien nie my brein nie, aangetas het”.
Op Dinsdag 21 Augustus is ek om sesuur in die oggend deur ’n klop aan my seldeur wakkergemaak. Die wag het aan my gewys dat ek moet opstaan en my paar persoonlike besittings bymekaar moes kry. Dit was die ou storie. Ek het Katy die volgende dag verwag, maar ek sou verwyder word sonder dat ek haar kon laat weet wanneer en waarheen. Teen hierdie tyd het ek geweet dat dit niks sou help om te argumenteer nie.
Vier polisiemanne het my na die stasie van Marseilles geneem. Daar het nog agt man reg random my stelling ingeneem, gesigte uitwaarts gekeer. Uiteindelik het ons die sneltrein na Parys bestyg. Vier man het by my gesit - my hande vasgeboei en my voete aan die bank vasgeketting. Die gordyne is aan beide kante toegetrek. Ons het al die pad na Parys, vir 10 ure, in byna volkome stille gesit.
Toe Katy die volgende dag by La Baumette aankom, nadat sy, soos
gewoonlik, vir twee ure met die trein vanaf Juan les Pins na Marseilles gereis het en nog twee ure op die bus na die gevangenis gesit het, was ek reeds weg.
Deur middel van wanhopige telefoonoproepe oral oor Parys, het sy daarin geslaag om die advokate op te spoor wat aan my appèlsaak gewerk het. Hulle het Woensdagoggend uitgevind dat ek die vorige dag na Parys geneem is. Dit was te laat vir Katy om ’n oggendvlug na Parys te haal. Al die vlugte was volbespreek. Sy het die namiddag na Parys gevlieg en by Orly Lughawo geland, op dieselfde tyd dat die SAL-747, met my aan boord, na Suid-Afrika vertrek het.
Ons het later uitgereken dat die een vliegtuig geland het toe die ander in posisie gekom het om op te styg.
In Parys is ek na ’n gevangenis wat nog groter as die een in Marseilles was geneem. Maar ek was vir die eerste keer saam met twee mans wat Engels kon praat; ’n Neger van Jamaika wat ’n klein vliegtuigie gekaap het en ’n Australiër wat openlik en lighartig erken het dat hy ’n juweeldief was en vir die vyfde keer in die gevangenis gesit het.
Woensdagoggend het my Paryse advokate my kom sien. Beide was
optimisties. Hulle het sopas van die Minister van Justisie se kantoor gekom waar hulle verseker was dat ek nie binne die volgende paar dae uitgelewer sou word nie en, in elk geval-, dat die Franse Appèlhof alreeds die datum vir die verhoor van die appel op 4 September vasgestel het. Selfs al sou die saak voor die Appèlhof misluk, kon hulle nog steeds na die Franse Staatsraad appelleer.
Dit sou, by benadering, sowat twaalf tot vyftien maande duur voordat die saak by laasgenoemde uitkom. Hulle het my ook verseker dat die uitleweringsdokumente nog nie onderteken is nie.
Volgens die Franse grondwet word twee handtekeninge vir bekragtiging van ekstradisie benodig; diè van die Franse Eerste Minister en van die Minister van Justisie. My advokate het my vertel dat hulle ’n rukkie vantevore met laasgenoemde gepraat het terwyl die Eerste Minister eers oor vier dae in Parys terug sou wees. Hulle het ook aan my vertel dat Katy later die middag na Parys sou vlieg en my die volgende namiddag tydens die normale besoekure sou kom sien.
Tydens middagete het die Australiër ’n klein radio te voorskyn gehaal en nadat hy ’n rukkie daaraan gepeuter het, het ons die stem van ’n Britse aankondiger gehoor. Dit was die BBC-nuus uit London en, tot my verbasing, het die BBC berig dat ek nog dieselfde aand aan Suid-Afrika uitgelewer sou word. Hulle het selfs die tyd van die vlug aangekondig.
Die BBC het geweet wat my eie advokate nie van die Franse Ministerie van Justisie kon verkry nie. Inderwaarheid is hulle eenvoudig belieg.
Ek het nie eens probeer om met my regsadviseurs in aanraking te kom nie. Ek het geweet dat my versoek deur die Franse gevangenisowerhede skouerophalend afgemaak sou word. Later die namiddag het wagte my kom haal en met my besittings na die superintendent van die gevangenis geneem. Ek moes verskeie dokumente onderteken. Ewe skielik het al die geld wat my vrou en
Henri Vincent by verskeie geleenthede by my probeer kry het, te voorskyn gekom.
Ek moes ook teken vir die ontvangs van die amptelike uitleweringsdokument wat die superintendent uit ’n lêer getrek het, waarvan die omslag nogal GEHEIM gemerk was! Ek het botweg geweier, want die lasbrief het geen handtekening gedra nie, nog die van die Minister van Justisie, nóg die van die Eerste Minister en die uitleweringsooreenkoms waarna verwys is, was nie met Suid-Afrika nie, maar tussen Brittanje en Frankryk, gedateer 1876! Wat ’n klug! Ek het vir ’n fotokopie van die uitleweringsbevel gevra, dit gekry, en toe eers die ontvangsbewys geteken.
Buite is ek weer geboei en in ’n vangwa gelaai. Twee polisiemanne het langs my kom sit. Voor die motor was ses polisiemanne op motorfietse. Met hul sirenes voluit aangedraai, het die kavalkade die straat inbeweeg. Terwyl die motorfietsryers die verkeer van die dwars strate gestop het, het ons deur rooiligte na Orly Lughawe gejaag. Die vangwa het by ’n syhek ingedraai en tussen twee ligte tenks ingetrek wat op die teervlak langs die lughawe gebou gestaan het. Buite was ook soldate met masjiengewere.
Die Franse het geen kanse gewaag nie. Hulle sou my veilig aflewer.
“Dit moet deel van ’n baie spesiale ooreenkoms wees”, het ek by myself gedink.
Ons het vir ’n uur in die lughawe-gebou gewag, toe het ’n man die kamer waar ek gesit het binnegekom en in Afrikaans gesê: “Goeie naand doktor. Ek is majoor Taljaard. Dit is kaptein Esterhuizen”.
Die Franse polisie het my by die trappe na die eerste-klas afdeling op die bodek van die vliegtuig opgeneem. Hulle het die handboeie verwyder en uit die SAL 747 uitgestap sonder om eers te sê “Au revoir”.
Majoor Taljaard het nie handboeie uitgehaal nie, maar beleefd voorgestel dat ek myself gemaklik moes maak. Vandat ek hom vir die eerste keer ontmoet het, het hy my altyd uiters beleefd behandel.
Terwyl die vliegtuig gereed gemaak het om op te styg, het ’n Air Inter
vanaf Nice geland met Katy aan boord. Ek was nie daarvan bewus nie. In my verbeelding het ek haar gesien soos sy my na haar laaste besoek in die Marseilles gevangenis verlaat het, elegant, welgekleed en goed versorgd. ’n Pragtige vrou wat my lief het. Ek het dikwels oor die defmisie van geluk gefilosofeer, maar nou het ek my eie uitgewerk: Geluk is die liefde van ’n intelligente en pragtige vrou en die vryheid om daardie liefde te geniet.
Wat ek nie geweet het nie was of ek haar ooit weer sou sien.
Ek was ook intens bewus van die harde werklikheid dat die hofsaak in
Frankryk ’n duurgekoopte klug was en dat die Suid-Afrikaanse Regering ’n deelgenoot in daardie klug was. Geen wonder die gevangenislegger was “Geheim” gemerk nie. Ek het ook nou besef waarom die polisie in Nice so doodseker die aand van my inhegtenisname was dat ek aan Suid-Afrika uitgelewer sou word. Hulle het selfs geweet dat ’n SAL-vliegtuig na Marseilles sou uitwyk om my op te laai. Die pers in Suid-Afrika het geweet. Op een of ander manier het Vincent egter daarin geslaag om die proses te vertraag, maar van die begin af het hy, onwetend, ’n verloorstryd gevoer. Die Franse het besluit om my aan die Suid-Afrikaanse Regering uit te lewer om die pil te versuiker wanneer hulle die nuus moes bekend maak dat alle Suid-Afrikaners voortaan visums benodig om Frankryk binne te kom.
Op die uithangbord staan “Paleis van Justisie”, maar daar was min geregtigheid of wettigheid in die ooreenkoms wat tussen die Franse en Suid-Afrikaanse regerings oor my uitlewering gereël is. Die verdrag waarop die Franse hulle beroep het was ’n ooreenkoms tussen Brittanje en Frankryk uit die vorige eeu toe S.A. nog nie as 'n konstitusionele entiteit bestaan het nie. Die Franse gevangenisowerhede het my van een gevangenis na die ander rondgeskuif sonder dat my advokate of Katy eens geweet het waarheen ek geneem is.
Die Franse Ministerie van Justisie het leuens aan my advokate vertel.
Die Franse Regering het seifs die besluit van die Appèlhof om die saak aan te hoor, geheel en al verontagsaam. Hulle was oorhaastig om my na Suid-Afrika terug te stuur sodat hulle die Ministers van Buitelandse Sake van die OPEC lande wat in die daaropvolgende week in Parys sou vergader, van hulle stappe om sportkontakte met Suid-Afrika te verhoed kon verwittig.
So haastig was hulle dat hulle nie eens die moeite gedoen het om die
uitleweringsbevel te onderteken soos wat die Franse grondwet vereis nie. En die uitleweringsdokumente self was ’n klug en onwettig.
“Liewe Hemel”, het ek gedink, “verlede nag was ek saam met ’n skaker en hier word ek nou self na Suid-Afrika geskaak.”
My laaste gedagte voordat ek aan die slaap geraak het (na die eerste
ordentlike maaltyd wat ek vir meer as ’n maand gehad het) was om te hoop dat Katy nie in haar beangstheid daardie spesiale bandopnames in die bankkelder in Switserland gaan vrystel nie.
Die volgende oggend het ek vroeg wakker geword. Ek het ’n elektriese skeermes van die hoofkelner geleen en onwillekeurig geril by die gedagte aan die skeerdery in die Franse gevangenisse elke oggend. Koue water, ’n stomp skeermeslemmetjie en ’n koekie seep. Na twintigjaar van elektriese skeer was my vel baie gevoelig. Die elektriese skeermes aan boord van daardie vliegtuig was super-weelde, om nie eens van die aangename prikkeling van die naskeermiddel te praat nie.
“Dit is ongelooflik tot watter mate my sin vir waardes verander het”, het ek gedink. “Ek het so gewoond aan die primitiewe omstandighede in die Franse gevangenisse geraak, so gewoond aan klein en beperkte ruimtes, tevrede met so min, dat my lewe in die groot Menlo Park huis en al die luukse wat ek daar gehad het, die ruim studeerkamer, swembad, lugreëing in al die slaapkamers, die tuinhuis, die amptelike Mercedes motor, alles as deel van die lewe van ’n ander persoon voorgekom het, nie van myne nie”.
Ontbyt aan boord was op sigself weelderig in vergelyking met die wit brood en die beker swart koffie wat ek in die gevangenis gekry het. Agterna, terwyl die vliegtuig van die see oor Suid-Wes Afrika net suid van die Kunene-rivier gedraai het, het ek by die venster na die dramatiese ontplooiing van die Suid-Wes Afrikaanse landskap wat ek so goed geken het, gesit en uitstaar.
“’n Maanlandskap” het ek dit in my boek, The Last Frontier in Africa
genoem”.
Ek het gewonder hoe ek in Suid-Afrika ontvang sou word en wat die pers sou sê? Daar was baie in die pers en veral die opposisiepers, wat my as ’n James Bond-tipe gesien het, ’n pierewaaier. Rapport het selfs een foto van my, wat in Nice geneem is, onder die banieropskrif “Romeo van die Riviera” gepubliseer.
So gemeen soos kan kom. Die belangrikste punt in die artikel was die feit dat ’n mens vanaf die balkon van die Hotel in Nice, waar Rapport se verslaggewer tuis gegaan het, op die strand kon neerkyk waar baie meisies elke dag bostukloos in die son gelê het.
“Dit is ongetwyfeld waarom die verslaggewer self ’n hotel op die strand uitgekies het”, het ek gedink. Die hotel waar ekself destyds ingewoon het, was in die binneland, ver van die see af. “Die naaste wat ek ooit aan Franse vroue gekom het, was die lugwaardinne en kelnerinne in Franse restaurants, en om ’n ophef te maak oor enigeen wat na meisies aan die Franse Riviera kyk, waar kaal borste so gewoon soos kaalvoetseuns in Soweto is, het meer refleksie op die redakteur se onkunde oor omstandighede in Frankryk, as op my persoonlike voorkeure gewerp.
Ek het ’n onderhoud in die geheue geroep wat Thinus Prinsloo van Rapport met my gevoer het, waar ek aan hom ’n lys van karaktertrekke van ’n “playboy” oorhandig het. So ’n persoon het ek gesê: “Sou lief wees vir wyn, goeie kos, na disko’s en alle soorte partytjies gaan, nagklubs, perdewedrenne, gereeld na casinos gaan, van een spa na die ander vlieg, van een luukse oord na ’n ander, geklee wees in die nuutste modes en van beeldskone vroue omring wees.” Ek was egter nog nooit in my lewe by ’n perdewedren nie. Ek is gesondheidsbewus, eet elke dag gesondheidsvoedsel, was nog nooit in my lewe by ’n disko nie en sou nie een herken as ek dit sien nie. Ek het eenmaal vyf dae by ’n gesondheidspa by “High Rustenburg Hydro” naby Stellenbosch deurgebring, waar geen pierewaaier dit sou waag nie. Ek het nog nooit in my lewe alkohol gebruik nie. Nooit gerook nie. Ek het partytjies gehaat, skemerkelkies- en andersins, en gedurende my 14 jaar in die buiteland het ek net by twee geleenthede na ’n nagklub gegaan. In my lewe was ek net twee keer in ’n Casino, een keer in 1961 in Las Vegas en een keer in 1970 in San Remo.
“Nogtans het die pers in Suid-Afrika my in ’n sogenaamde ‘playboy’ verander,” het ek aan Prinsloo gesê. “Hulle dink omdat ek so baie gevlieg het ek ’n stralejakker is wat daarvan hou om te vlieg. Wel, ek haat dit. Gaan julle my opvolger, Engelbrecht, ook in ’n stralejakker verander? In die eerste ses maande van sy loopbaan by Inligting, het hy net soveel gereis as wat ek in ’n jaar gedoen het. Net omdat The Sunday Express en The Sunday Times my besoeke aan die Seychelle uit verband geruk het, sonder die vaagste idee oor waarom ons daarheen gegaan het en wat ons gedoen het, probeer julle almal nou om mekaar met die stralejakker- en pierewaaier-stories te oortref. Gaan gee dit nou vir jou redakteur en vra hom om dit te publiseer.”
Rapport het geweier. Koerante korrigeer nie hulle eie sottighede en onwaarhede nie, behalwe as ’n hof of die Persraad hulle daartoe beveel en dan brom hulle vir jare oor die onregverdigheid daarvan.
Ek het myself as konserwatief beskou, met ’n groot voorliefde vir opera, klassieke musiek, ligte opera en populere overtures, ’n gesinsman en sefs in sommige opsigte ouderwets.
“My moeder het my vanaf my twaalfde jaar geleer om inkopies te doen”, het ek altyd aan vriende gesê. “My vrou sê ek is die beste inkopiesman in die land”.
Ander koerante het my anders as Rapport en vennote beskou.
In Engeland het The Observer geskryf: “Hy was ’n unieke verskynsel in
intemasionale diplomasie ... sy hele werkverrigting was opsetlik losgemaak van die koppige agtergrond van Afrikaner burokrasie en diplomasie ten einde hom instaat te stel om geheime ooreenkomste oral oor Afrika aan te gaan ... Hy was ideaal om enige beeld van die onmenslike Boer te weerlê. Hy was sjarmant en atleties, ’n uitstekende tennisspeler; hy het ’n ryk vrou gehad, hy het met deernis oor menseregte en die uiterstes van apartheid gepraat en vir
baie mense was hy ’n opregte idealis. Hy het die uitwaartse beweging van Afrikanerdom in die groter wêreld van internasionale sake en diplomasie verteenwoordig. ”
The Observer en Rapport het nie aan dieselfde man gedink nie.
Toe ek later in onguns verval het, was ek geamuseer deur die siniese houding van die pers wat toe skielik ’n groot ophef van die feit gemaak het dat toe my aanstelling destyds ter sprake gekom het, die Staatsdienskommissie teen die aanstelling van ’n jong man van buite af, met te min administratiewe ondervinding, gekant was. Twee koerante wat besonder uitgesproke was oor hierdie onderwerp in 1978/9, was The Star in Johannesburg en The Sunday Times. Maar in 1972 het hulle geheel en al ’n ander deuntjie gesing.
In hulle boek, Muldergate, het Mervin Rees en Chris Day geskryf: “Hy
(Rhoodie) het ’n gesofistikeerde burger van die wêreld teruggekom, ’n persoon wat in staat was om mense te hanteer, die politici, die media, instansies, lande en hoofde van State. In gesprek het hy ’n voorliefde vir detail gehad, ’n voorliefde wat hy met gemak vanweë sy ensiklopediese geheue kon bevredig. Sy loopbaan en warrelwind prestasies het klem op sy kragtige, oorhalende ekstrovert-persoonlikheid gelê. Hy het ’n georganiseerde verstand en ’n enorme kapasiteit vir harde werk. Sy konsentrasievermoë het diè van ons gesamentlike pogings ver oorskry”.
Kwalik die beeld van ’n lamlendige amateur wat Pik Botha probeer het om aan die wêreld oor te dra.
Ek het my dienstydperk begin deur te versoek om nie ses maande van my tyd in Kaapstad deur te bring, soos ander hoofde van departemente en soos my voorganger gedoen het nie. Tot my grootste bevrediging het die Minister saamgestem dat, met die hedendaagse kommunikasie-fasiliteite, soos data-transmissie, teleks en veelvuldige vlugte na Kaapstad, om nie eers van die telefoon te praat nie, dit ’n verkwisting van die belastingbetaler se geld is vir die Sekretaris om sy vrou en kinders, sy persoonlike klerk en tikster en 'n horde ander amptenare na Kaapstad te neem. Ek het trompop en openllk aan meer as een Sekretaris gesê dat nog hulle, nog hul ministers die teenwoordigheid van die hele top-struktuur van ’n departement in Kaapstad vit’n tydperk van ses maande kon regverdig. Selfs wanneer daar in die Parlement vrae aan ’n Minister gestel word, word dit normaalweg per teleks na Pretoria gestuur sodat
hoofkantoor konsep-antwoorde kon opstel.
My sienswyse het my beslis misnoeë op die hals gehaal.
Ek kon ook nooit die beperkinge aanvaar wat daar op die besluitneming van hoofde van departemente gestel is wat spesialiste op hul gebiede was nie.
Toe die eerste boekdeel van die massiewe Amptelike Jaarboek gereed gemaak is, het ek self besluit dat prof. Piet Cillie, voormalige redakteur van Die Burger, die beste man sou wees om die hoofstuk oor die pers in Suid-Afrika te doen. Later is ek heftig gekritiseer (deur my voorganger, Gerald Barrie) omdat ek nie die saak aan die Tenderraad voorgelê het nie. Toe ek daarvan vertel is, het ek byna ontplof: “Net omdat Barrie nie ’n joernalis was nie en te oningelig is om te weet wie die beste skrywer in die land is, beteken nie dat ek nie so onnosel is nie”. “En sê my”, het ek aan Dawid van der Spuy, destyds hoof van publikasies gesê, “hoeveel joernaliste en redakteurs is daar op die Tenderraad? Wat weet hulle omtrent joernaliste wat jy, ek en hierdie hele departement vol van oud-koerantmanne nie weet nie?”
Ek het baie van die reëls en regulasies van die Staatsdiens totaal onderdrukkend en verouderd gevind. Volgens die regulasies kon ek byvoorbeeld by ’n boekwinkel instap en indien ek ’n boek vind wat in my eie selfstandige oordeel van groot hulp sou wees om Suid-Afrika se saak in die buiteland te bevorder, kon ek wettiglik op eie houtjie ’n besluit neem om eksemplare ter waarde van R250 000 te bestel. Maar indien ek later ’n telegram van ’n Ambassade ontvang wat my vra om dringend drie eksemplare teen ’n koste van R20 per lugvrag aan hulle te stuur moes ek ’n brief aan die Tesourie skryf om hul goedkeuring vir die lugvragkoste te vra. (’n Ware voorbeeld).
Sou die Minister besluit dat die redakteur van Panorama met SAL na die buiteland kon reis om ’n reeks artikels oor Suid-Afrikaanse Lugdienste te doen, was dit wettig. Maar indien SAL self die redakteur sou uitnooi om by hulle vir ’n inwydingsvlug aan te sluit, was dit onwettig, selfs al sou die Minister dit goedkeur. Volgens een of ander obskure regulasie sou so 'n uitnodiging van ’n Regeringslugdiens aan die redakteur van ’n Regeringsblad soos S.A. Panorama, gelykstaande wees aan ’n geskenk! Daarvoor moes Tesourie-goedkeuring gevra word.
“Werk vir my die logika in daardie een uit”, het ek aan my administrasie gevra.
Ek het in hierdie atmosfeer ongemaklik gevoel en ek het skuldig-ingenome gevoel wanneer die Minister ook nou en dan voor dieselfde stommiteite van amptelike rompslomp te staan gekom het.
Dr. Connie Mulder het algaande my meer en meer in sy vertroue geneem, want ek was geheel en al lojaal aan Mulder en het nog familie, nog my gesondheid gespaar ten einde die dinge gedaan te kry wat Mulder wou hê, nie in ’n kwessie van jare nie, maar in ’n kwessie van maande. Ek glo dat Dr. Mulder ook waardering vir my uitgebreide kennis van politieke en sosio-ekonomiese probleme van die wêreld gehad het.
Dr. Mulder se belangstelling het ’n enorme veld gedek. Toe ek hom ontmoet het, het hy drie portefeuljes behartig: Immigrasie, Volkswelsyn en Pensioene en ook Inligting. Later het Vorster ook die Ministerie van Binnelandse Sake aan hom oorhandig. Maar hy kon die kern van ’n saak gou snap en nadat hy die beleid en doelstelling van ’n program uitgespel het, het hy verkies om nie by die besonderhede betrokke te raak nie, maar om oor die vordering en resultate ingelig te word, of watter hindernisse en probleme ookal mag opduik. Hy was nooit kwaadwillig en kleinlik nie en jy kon openlik ’n ander mening uitspreek waarna hy met opregte belangstelling sou luister. Hy het geen manies gehad nie, soos Vorster, omtrent mense wat of vir hom of teen hom is nie.
Vervolg...