Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Twyfel jy of God 'n plan met jou lewe het? Jy vertrou dan op die son, die maan en die getye. En jy glo dat God 'n plan het met dag en nag, met wisselende seisoene van die jaar. Sal God dan versuim om 'n vir jou lewe te hê?
DIE WARE INLIGTING- SKANDAAL (42)
Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
Die doel met die plasing van hierdie inligting oor die destydse Inligtingskandaal is om die leser perspektief te gee oor hoe Suid-Afrika tot by die haglike verval van 'n swart regering gekom het. Die verraad wat destyds in die kabinet van Vorster, PW Botha, Pik Botha en De Klerk plaasgevind het, nie net teenoor ons Boerevolk nie, maar ook onder en teenoor mekaar in die parlement, getuig van hul veragtelike motiewe en handeling.
DIE SONDEBOK WORD
GEARRESTEER (2)
Ek het net ’n paar dae in Grasse deurgebring toe ek op Maandag 25 Julie skielik in die vroeë oggendure na Aix-en-Provence oorgeplaas is. Niemand het my sien vertrek nie. Niemand het my vrou of my advokaat in kennis gestel nie.
Toe Katy en Henri Vincent, plus sowat ’n dosyn joemaliste die volgende dag daar opdaag, is daar eenvoudig aan hulle gesê dat ek oorgeplaas is. Dit het Vincent ure geneem om vas te stel waarheen ek gestuur is.
Ses polisiemanne het in die vangwa gesit waarmee hulle my na Cannes-stasie geneem het. Ses het in die kompartement gesit terwyl ons in die vroeë oggendure op ’n bykans leë, plaaslike trein na Marseilles gereis het. Toe ons by Marseilles afstap, het nog vier polisiemanne by hulle aangesluit. Die tien het ’n kordon om my gevorm en my na ’n wagtende polisie-trok gemarsjeer. Vier manne het by my in die trok geklim toe ons na Aix-en-Provence vertrek het.
Vir die eerste keer het ek besef dat die Franse inderdaad geen kanse gewaag het nie. Dit was nie ’n kwessie dat ek kon ontsnap nie want behalwe dat my hande geboei was, het ek ook kettings om my bene gehad. Maar al daardie manne!! ’n Kordon om my in die openbaar te beskerm. Dit was duidelik dat hulle werklik bang was dat ’n poging aangewend sou word om my te ontvoer, of nog erger, dat ek geskiet mag word. Ek was filosofies oor hierdie moontlikheid.
Ek het geweet dat mense voorheen deur hul eie Regerings om die lewe gebring is, of deur ander Regerings, of ander mense of organisasies wat bang was dat iemand met hulle sak geheime vorendag sou kom. Maar ek is ’n fatalis en het besef dat ek op daardie oomblik niks daaraan kon doen nie.
Ons het vroeg in die oggend in Aix-en-Provence aangekom. Dit is ’n pragtige Middeleeuse stad, noord van Marseilles, wat die setel van die Hooggeregshof van die Maritieme-Proyinsie van Frankryk is.
Weer eens was die gevangenis ’n stukkie geskiedenis. Dit was ’n Monikke-klooster van die sewentiende eeu. Napoleon het dit na perdestalle verander. In die tweede helfte van die negentiende eeu het dit weer eens ’n klooster geword en om en by 1916 weer in ’n gevangenis omskep. Geen verbeterings is sedertdien aangebring nie. ’n Tandarts het my vlugtig in hierdie gevangenis gesien en hoewel hy belowe het dat hy definitief iets omtrent die gebreekte tand sou doen het niks daarvan in die veertien dae wat ek daar aangehou is gekom nie.
Ek is weer in ’n klein sel opgesluit, maar in plaas van twee, het ek nou drie metgeselle gehad. Hulle kon nie ’n woord Engels praat nie, maar met my primitiewe Frans en met behulp van ’n toeriste-woordeboek wat ek toegelaat was om by my te hou, kon ons darem oor die weg kom.
Die kos het afgryslik gebly, maar in die binnehof kon ek darem 23 tree loop instede van elf, soos by Grasse. Die prisoniers het ook ’n uur se oefening in die oggend en namiddag gekry wat darem die verveling van 22 uur in die sel onderbreek het.
Die groter binnehof by Aix-en-Provence het my in staat gestel om meer oefening te kry. Aan die begin het ek van muur tot muur gestap, 23 tree op ’n keer, 200 keer in die oggend en 200 keer in die middag. Sommige van die ander prisoniers het ook gestap, maar na ’n halfuur het hulle opgehou en kaart gespeel of sommer net rondgelê. Later het ek rondom die vierkant gestap, so vinnig as ek kon. In plaas van nege kilometer per dag, van muur tot muur, kon ek nou ’n langer distansie aflê. Op die vierde dag het ’n Fransman, wat my stilweg dopgehou het, by my aangesluit.
In geradbraakte Engels en met gebaretaal het hy aan my vertel dat hy ’n Vreemde Legioensoldaat in die Sahara, Chad, was. Daarna het hy elke dag by my aangesluit vir die oggend-sessie, maar in die namiddag het hy en drie van sy maats uit Corsica in die skaduwee van die muur kaart gespeel.
Ek het aan die toestande in Suid-Afrikaanse gevangenisse gedink waar rehabilitasie nogal ernstig opgeneem word. Waar die amptenare aangemoedig word om sielkunde, sosiologie en kriminologie aan die universiteit te studeer. Aan die moderne fasiliteite. Die sorgvuldige uitgewerkte programme om die gevangenes op ’n konstruktiewe wyse besig te hou en van die gebalanseerde dieët wat aan almal voorsien word, swart en wit. Ek het selfs gedink dat die maksimum sekuriteitsgevangenis vir swartes, soos by Leeukop, al drie die gevangenisse wat ek in Frankryk beleef het, in die skande steek.
In daardie stadium het ek nog nie geweet dat die toestande in die ander gevangenisse waarheen ek nog gestuur sou word selfs erger sou wees nie.
In Aix-en-Provence het ek weer eens ’n sel gedeel met prisoniers wat reeds gevonnis was. Gelukkig het my swaer, Ettiene le Roux (’n prokureur van Pretoria) in daardie stadium saam met Mervin Gross en professor Sas Strauss (Professor in Kriminele Reg aan die Universiteit van Suid-Afrika) in Frankryk aangekom. Katy het ten minste nou morele ondersteuning gehad. Sas Strauss het na Frankryk gekom omdat die saak uniek was. Syne was ’n professionele belangstelling. Net sy vliegtuigkaartjie is betaal. Verder het hy vir homself gesorg. Hulle drie het saam met Henri Vincent my verdediging uitgewerk.
Vincent het aan hulle gesê dat ek oor sowat ’n week in die hof sou verskyn. Daama sou hulle net ’n week hê om hul saak voor te berei, niks meer nie. Die hof sou dan die betoog van die aanklaer en dié van die verdediging aanhoor en sy uitspraak ook binne ’n week lewer.
Intussen het die staatsaanklaer my in die gevangenis kom sien. Hy was van ’n beëdigde tolk van die Britse Konsulaat in Marseilles vergesel. Hulle het aan my ’n kopie van ’n klagstaat gegee wat in Suid-Afrika voorberei is. Vir die eerste keer het ek gesien waarvoor ek in hegtenis geneem is. Daar was ses aanklagte: dat ek gedurende 1976 en 1977 regeringstjeks wat vir geheime
medewerkers bedoel was vir my persoonlike gebruik geneem het. Indien ek nie die geld gesteel het, het die Suid-Afrikaanse Regering gesê dan het ek die Departement se rekenmeester, mnr. Braam Fourie bedrieg. Op ’n sewende aanklag is ek daarvan beskuldig dat ek ’n regeringstjek in my broer (wat toe die adjunk-sekretaris was) se persoonlike bankrekening inbetaal het.
Toe ek hierdie aanklagte sien het ek byna hardop gelag. Ek het nie geld gesteel nie en ek het nooit probeer om Braam Fourie te bedrieg nie. Maar die vraag wat my tot besinning gebring het was: Kon ek my onskuld bewys? Ek het verwag dat, in teenstelling met Suid-Afrika waar die bewyslas op die staat is, hulle hier in Frankryk die verdediging met die verantwoordelikheid gaan belas.
Toe is ’n nuwe element in die drama gebring.
Nadat hy klaar gepraat en die hofprosedures aan my verduidelik het, het die aanklaer skielik vorentoe geleun, die tolk geïgnoreer en in verbasende goeie Engels gesê: “Sê my dr. Rhoodie, waarom stel die Amerikaanse Regering so baie belang in jou saak?”
Ek kon aan ten minste twaalf redes dink, in verband met geheime projekte wat ek in die Verenigde State van stapel gestuur het soos die poging tot oorname van The Washington Star, maar ek het verkies om stil te bly.
“Op watter wyse stel hulle belang?” het ek gevra.
“Hulle wil met jou kom praat en hulle wil die besonderhede van die aanklagte weet. Hulle vermoed dat Amerikaners betrokke mag wees. Ek is nie seker of ons hulle gaan toelaat om in te meng nie”. Daarmee het hy opgestaan, hande geskud en uit die kantoor gestap.
Dit het my verbaas dat die Amerikaners nou so openlik belangstelling uitspreek. In Grasse het Henri Vincent aan my gesê dat die Staatsdepartement hom uit Washington geskakel het en ’n groot belangstelling uitgespreek het om my te sien. Hulle het my ’n vry reis na die VSA aangebied en vrywaring van vervolging vir enige wandaad, op voorwaarde dat ek voor ’n Kongres-Komitee wat die geheime projekte van Suid-Afrika in die Verenigde state ondersoek getuig. Die aanbod moes egter as hoogs vertroulik behandel word.
Op my instruksies het Vincent nooit die Staatsdepartement teruggeskakel nie. Terwyl ek in die gevangenis gesit het was die Amerikaners se belangstelling akademies. Hy het ook vermoed dat die Franse my nie sonder ’n verhoor kon laat gaan nie. Hy het ook in die regverdigheid van die Franse Howe geglo en dat ek vrygelaat sou word op grond daarvan dat my saak polities gemotiveerd was. Daarbenewens was daar geen uitleweringsverdrag tussen Frankryk en Suid-Afrika van krag nie. Die bestaande een het in 1972 verval en die twee Parlemente sou ’n nuwe een moes bekragtig voordat enigiemand uitgelewer kon word.
Wetlik was hy reg.
Polities was hy so naïef soos kan kom.
Henri Vincent was ’n “prima donna”. Hy het my ook daagliks daaraan herinner dat hy baie duur is en 14 uur per dag gewerk het, alhoewel die belangrike werk eintlik deur Mervin Gross, Etienne le Roux en Sas Strauss gedoen was. Op daardie tydstip het ek nie eens geweet wie vir Vincent betaal het nie. Maar Vincent het baie sake van Iranese vlugtelinge hanteer wat in die jongste tyd uit Iran gevlug het en deur die nuwe regering van die Ayatollah Khomeini ook op versonne aanklagte gesoek was. Sy swakheid was dat hy nog nooit voorheen ’n uitleweringsaak hanteer het nie. Nogtans, hy het die wet geken en het geweet dat indien hy kon bewys dat die saak teen my polities gemotiveerd was, die hof die Suid-Afrikaanse Regering se versoek om uitlewering sou weier. Alhoewel die Franse geen uitleweringsverdrag met Suid-Afrika gehad het nie, het hy daarop aangedring dat die saak nie alleen op grond van politieke motivering beveg word nie, maar ook op my verklaring dat ek onskuldig is aan die wandade waarvan die Regering my beskuldig het.
Voordat hy sy pleidooi begin opstel het, wou Vincent iets weet.
“Wat”, het hy gevra, “is die raamwerk van hierdie hele besigheid? Ek wil nie hê dat die hof hierdie saak in ’n vakuum moet beslis nie. Ek moet weet hoe jy jouself in hierdie gemors laat beland het. Die pers van die wêreld is daarbuite, derhalwe is dit nie slegs ’n huishoudelike saak vir Suid-Afrika of Frankryk nie. Ek kry ook die mees teenstrydige sieninge. Hier het ek ’n hoofartikel van AlHamishar. Dit is ’n baie belangrike koerant in Israel. Die hoofartikel sê dat indien jy vir Israel gewerk het en gedoen het wat jy in Suid-Afrika gedoen het, jy ’n medalje sou ontvang vir die mees bedrywige staatsamptenaar. Maar hier het ek een in Brittanje wat sê dat jy na Suid-Afrika teruggestuur moet word en een uit Suid-Afrika, in Beeld, wat jou bloed soek. Nog iets, ek het die eienaardigste dokumente gevind in die lêer wat die Suid-Afrikaanse Polisie na Frankryk gestuur het. Die Franse Polisie het ’n volledige kopie aan my gegee. Kyk hierna. ’n Lasbrief vir jou inhegtenisname is uitgereik. ’n Maand later, op 15 Maart skryf ’n sekere Generaal Kleinhaus oor die lasbrief, GEKANSELLEER. In Junie word dit hernu. Maar hier is weer ’n latere nota wat sê dat jou saak “in die yskas” gehou moet word en dat geen poging aangewend moet word om jou op te spoor nie? En kyk net hierna!”
Hy het twee ander amptelike dokumente aan my getoon.
Die lasbrief vir inhegtenisname was deur die polisie geregistreer voordat die Landdros dit geteken het. Professor Strauss vertel my dat dit ongehoord en uiters onreëlmatig is, “om die waarheid te sê, dit is wederregtelik”.
Ek het die dokumente noukeurig bestudeer. Dit het maar net bevestig wat ek begin vermoed het en wat my regsgeleerde vriend uit Kaapstad aan my in Cannes, drie weke voor my aanhouding, gesê het. Indien ek my mond gehou het en P. W. Botha en die Erasmus-Kommissie toegelaat het om my goeie naam en my jare van harde werk vir Suid-Afrika onder hul voete te vertrap, die saak in die yskas sou gebly het. Later het Mervin Gross aan my bevestig dat dit ook die boodskap was wat die Eerste Minister se Sekretaris in Kaapstad aan hom oorgedra het.
“Kyk Henri. Dit is ’n lang storie en ek sal probeer om dit so kort as moontlik te hou, maar jy sal sien, hierdie saak is van begin tot end polities gemotiveerd.”
In die klein ontvangskamertjie in Aix-en-Provence, natgesweet in die drukkende hitte, het ek kortliks aan Vincent vertel wat alles, tot en met daardie oomblik, gebeur het.
“Ek wil hê die Regters moet lees wat jy aan my vertel het”, het hy daarna gesê. “Skryf dit neer. Ek sal dit in Frans vertaal”.
Vir die volgende drie dae het ek dag en nag, op papier wat Henri aan my gegee het, geskryf en twee memorandums opgestel. In die eerste een het ek my verdediging teen die sewe aanklagtes van bedrog en diefstal noukeurig uiteengesit en aangedui van wie beëdigde verklarings verkry kon word.
Die internasionale belangstelling het snel aangegroei en wanneer Katy ookal by die gevangenis opgedaag het was daar altyd ’n paar verslaggewers en fotograwe saam met haar.
Katy se besoeke was ’n mengsel van smart en vreugde. Smart omdat ek nie my hande kon uitsteek en haar aanraak nie en van loutere blydskap om haar te sien en haar stem te hoor. Sy het my nooit van die oneindig baie probleme wat sy gehad het vertel nie. Die probleme om vanaf Juan-les-Pins na Aix-en-Provence te kom nie; die trein- en busstakings; die ure wat sy in die son moes staan; die aanhoudende druk van die pers dat sy iets moet sê. Sy het vriende gemaak met Suzanrie Vos van The Sunday Times in Londen en ’n paar verslaggewers van Suid-Afrika wat blykbaar geleer het om hierdie opgewekte, pragtige en onweerstaanbare vrou te bewonder en te respekteer, wat hulle kon laat lag, terwyl haar hart gebreek het.
Daar het ’n telegram van The International Herald Tribune gekom om te vra of ek vir die koerant ’n artikel wou skryf oor politieke verwikkelinge in Suid- Afrika, soortgelyk aan die een wat ek in 1974 vir hulle geskryf het. Daar was ook twee telegramme van twee van die mees prominente Juriste in die hele Frankryk wat hul dienste aangebied het om my te verdedig. Maar Vincent het vasgestaan dat om ’n kragtige regspan vanaf Parys in te bring, die drie Regters wat my saak moes aanhoor, sou antagoniseer. “Dit is die Franse mentaliteit”, het Henri Vincent aangevoer. Die Regters sal dit haat om onder spervuur van ’n span vanaf Parys geplaas te word. Jy weet, Parys is nie Frankryk nie. Dit is baie beter om iemand plaaslik, soos myself, te kry om die saak te hanteer. Indien ons te veel ophef maak deur mense vanaf Parys te kry, sal die Regters probeer om iets verdags te soek. Per slot van sake, ons het alreeds ’n sterk span hier en ons het ’n goeie saak. Moenie bekommerd wees nie. Ek kan jou nie op papier die waarborg gee dat die Hof die aansoek om uitlewering gaan verwerp nie, maar ons is nege-en-negentig persent seker”.
Ek het nie my agterdog uitgespreek dat Vincent in my saak nie alleen ’n winsgewende geleentheid gesien het nie, maar ook die geleentheid om naam vir homself te maak. Sy foto was reeds in al die groot koerante in Europa.
Die memorandum wat gehandel het oor my antwoorde op die aanklagtes teen my en wat ek drie dae later aan Vincent voorgelê het, is deur Gross, Strauss en Le Roux gelees. ’n Massa persknipsels, die gepubliseerde verslae van die Erasmus-Kommissie en ander dokumente is bygevoeg.
In my tweede memorandum het ek heel eerste ’n skets gegee van my aanstelling, die besluit om ’n geheime fonds te stig, die goedkeuring van die vyf-jaar program, die kennis wat Vorster, Horwood, Mulder en ander van al die geheime projekte gedra het en die deelname van Magnus Malan, Hoof van die Verdedigingsmag, en sy Minister mnr. P. W. Botha, in sekere geheime projekte van die Departement van Inligting.
Op 30 Julie is ek in kennis gestel dat ek die volgende dag in die hof sou verskyn om my pleidooi in te dien en dat die Hof dan oor die verhoordatum sou besluit. Ek het geweet dat ek die volgende dag in boeie voor die drie Regters gebring sou word. Die pers van die wêreld sou daar wees. Kameramanne en verslaggewers uit Suid-Afrika. Katy sou daar wees. Ek het ’n oomblik van vernedering ervaar by die gedagte daaraan dat my vrou my in handboeie sou sien.
Daardie aand het ek tot om 9.30 gelees, toe die ligte afgeskakel is. Ek het vir ure rusteloos in die bed rondgerol.
In teenstelling met die gevangenis in Grasse waar ’n mens net ’n klein vierkantjie van die naghemel kon sien, het die selle in Aix-en-Provence op die sentrale binnehof uitgekyk waar Napoleon sy perde gehou het. Die venster was baie groter en ek kon die naghemel sien. Die somerstof het die glans van die sterre benewel en daar was net ’n paar sigbaar.
Ek het onthou hoe ’n mens op die plaas in noord-wes Transvaal waar Katy se ouers gewoon het, die sterre in die aand kon bewonder. Daar was sterre te sien vanaf die horison, massas van hulle, tot daar bo by die Melkweg. ’n Onbeskryflike mooi skouspel. Na aand ete het ons altyd stoele buite toe geneem en die uitspansel noukeurig vir die Amerikaanse en Russiese satteliete bespied wat ten minste drie of vier keer vroeg-aand oorgekom het.
Ek het weer eens aan die komende verhoor gedink en die vernedering om, geboei, die hof binnegelei te word.
My gedagtes het teruggegaan na die vele mense wat ek in my lewe ontmoet het, die vlak waarop ek beweeg het en hoe ver die Suid-Afrikaanse owerhede my laat val het.
In Australië, waar ek en my jong vroutjie in September 1957 aangeland het, het ek baie vriende vir Suid-Afrika en vir myself as ’n rugbyspeler, naam gemaak. In 1955 het ek al senter vir Transvaal gespeel, saam met Joe Kaminer. Natie Rens, Basie van Wyk, Pa Pelser en ander groot figure was in dieselfde span. Ek het op die jeugdige ouderdom van 18 jaar in Pretoria vir Harlekyne se eerste span gespeel toe die span met vier Springbokke en tien spelers met inter-provinsiale ondervinding gespog het. In daardie jaar, 1951, het Harlekyne beide bekers in die Noord-Transvaalse liga gewen, die laaste keer wat hulle dit gedoen het. Toe ek gevra is om ’n paar woorde by die klub se 75ste verjaarsdag in 1978 te sê het ek die spelers, tong in die kies, daaraan herinner dat hoewel ek toe die enigste nie-provinsiale speler in daardie groot span was, ek ook die enigste geheelonthouer was.
My geheelonthouding het groot lagbuie onder die rugby broederskap in Canberra veroorsaak. In die kroeg na ’n rugbywedstryd het hulle altyd gesê:
“Rhoodie. Hy rook nie. Hy drink nie en hy het geen kinders nie”. Dit het nie lank geduur nie, want my enigste dogter, Annemarie, is in 1959 daar gebore, die jaar voordat Sharpville voorbladnuus in Australië gemaak het.
Terwyl ek by die venster in die Aix-en-Provence gevangenis uitgekyk het, het ek oor talle dinge gewonder. In 1960 is ek en my vrou na Washington.
Washington het sy eie soort uitdagings opgelewer.
Ons het met etlike jong politici vanaf Texas wat ook nuut in Washington was bevriend geraak en aan hulle hulp verleen. My vrou en ek het later van die Goewerneur van Texas, Price Daniëls, sertifikate ontvang wat ons as ere-burgers van Texas benoem het. Dit het geen regte aan die houer gegee nie. Dit was net simbolies, maar ek het geweet dat selfs in die nasleep van Sharpeville, dit moontlik was om in Washington vriende vir Suid-Afrika te werf. In die byna twee jaar wat ons in Washington deurgebring het, het ons met vele Kongreslede, koerantredakteurs en vooraanstaande staatspolitici bevriend geraak.
Ek het ook aan my besoek aan Texas gedink en hoe ek in Dallas op dieselfde dag as John F. Kennedy aangekom het. Hoe my huurmotor by ’n oorweg stilgehou het om te kyk hoe die Presidensiële optog die stad inbeweeg. Ek kon die jong president, en sy vrou Jacqueline duidelik sien. ’n Halfuur later, op pad na die lughawe, het die nuus oor die radio gekom dat die President geskiet is.
Net die vorige aand in Houston, het die President ’n funksie bygewoon in die hotel waar ek tuisgegaan het. By sy aankoms was ek in die voorportaal en Kennedy het minder as vyf tree vanwaar ek gestaan het verbygestap. Kennedy se dood was vir my ’n groot skok en ek het onmiddellik die res van my spreektoer gekanselleer en na Washington teruggevlieg.
’n Jaar later het ons na New York gegaan waar ons vir vier en ’n halfjaar in 'n woonstel in 1175 Yorklaan, teenaan die Oos-Rivier, gebly het. Hier het ons mense soos Julie Andrews en die sanger Dick Haymes ontmoet en het ons baie aande na die wêreld se grootste kunstenaars in die ou Metropolitan Opera Huis geluister. Ek het ook groot Amerikaanse openbare figure ontmoet. ’n Man wat my baie beïndruk het was generaal Frank Howley. Hy was Militêre Goewerneur van Berlyn na die Tweede Wêreld Oorlog en stigter van die vrye Universiteit van Berlyn. Toe ek hom ontmoet het was hy vise-President van New York Universiteit.
My taak as lid van die Suid-Afrikaanse Inligtingsdiens was om die pers in die VSA te bereik en ek het oor die lengte en breedte van die land gereis, besoek gebring aan meer as vyf-en-veertig state om redakteurs, radio-en-televisie joemaliste te ontmoet. Ek het mense by sulke groot koerante soos The New York Times, The Philadelphia Enquirer, The Chicago Tribune, The Washington Post en andere leer ken.
Ek het my eerste boek in daardie woonstel in New York geskryf. Ook my doktorale verhandeling. My enigste seun, Eschel jnr. is op 27 Julie 1963 in New York Hospitaal gebore.
By die venster in Aix-en-Provence het ek gestaan en dink aan die hoeveelheid tyd wat ek spandeer het om die VS A te deurreis en vriende vir my land te maak, die vele mense wat ek ontmoet het. Die belewenisse wat ’n boek op sy eie kan beslaan. Die ontnugtering met Suid-Afrika se Ambassadeurs.
Op ’n keer, toe Eric Louw onderweg na die Verenigde Volke was het dr. W.C. Naude, Suid-Afrika se Ambassadeur in die Verenigde State, my geskakel en my gevra om by die lughawe te wees wanneer die Minister
aankom. Vir dissiplinêre doeleindes was die Inligtingsdiens in New York aan die ambassadeur in Washington onderhorig. Ek het dit terloops aan Thys Botha, destyds Suid-Afrika se Ambassadeur by die V.V., genoem. ’n Opregte hondegeveg het tussen Botha en Naudè plaasgevind of ek na die lughawe moes gaan, al dan nie.
“Nooit!” het Botha oor die telefoon aan Naudè geskreeu. “Louw kom hierheen, na die Verenigde Volke en dit is nie deel van die Verenigde State nie, so jy bly hier uit!”
Dit was maar net een van die gebeure wat my laat glo het dat by mense soos Thys Botha, die voorreg om voor in die ry te staan om die Minister se hand te skud die meeste saak gemaak het. Hierdie was die manne wat aan die Minister die soort verslae geskryf het wat hom sou plesier en nie wat hy na regte moes gehoor het nie.
New York hou vir ons baie herinneringe in, een daarvan die diens wat ds. Koot Vorster, broer van John Vorster, in Afrikaans in die Presbiteriaanse Kerk op die hoek van 64ste straat en Parklaan gelei het om Eschel Rhoodie jnr. te doop.
Die Bybel wat hy gebruik het was dieselfde een wat ds. Vorster 20 jaar tevore aan my gegee het toe ek in die Nederduits-Gereformeerde Kerk in Buitenkantstraat, Kaapstad, aangeneem is.
Toe ons in 1965 na Suid-Afrika teruggekeer het, was ons vir meer as agt jaar uit die land afwesig en ek was so deur Suid-Afrika se diplomatieke pogings in die buiteland ontnugter dat ek gaan sit en ’n boek geskryf het wat my uiteindelik van aangesig tot aangesig met vele van die groot kokkedore in die Suid- Afrikaanse politiek gebring het.
The Paper Curtain het my onder die aandag van dr. Connie Mulder, generaal Van den Berg en mnr. Vorster gebring. Dit het na my aanstelling as Sekretaris van Inligting gelei en na die hoëvlak kontakte wat ek later met mense oral oor die wêreld gemaak het.
Ons was slegs twee jaar in Suid-Afrika terug voordat ons na Nederland oorgeplaas was. Gedurende hierdie tydperk het ek ook my tweede boek The Third Africa geskryf, waarin ek vir ’n konstellasie van state in Suidelike-Afrika op die grondslag van die Europese model gepleit het. Die boek is in die Verenigde State, Suid-Afrika en Europa gepubliseer. Dit was ’n boek wat sy tyd 12 jaar vooruit was, want dit was eers in 1980 dat die idee van 'n konstellasie van Suider-Afrikaanse State, amptelike Regeringsbeleid geword het. Die beroemde Britse skryfster Elspeth Huxley het ’n baie bemoedigende kommentaar oor die boek geskryf. So ook Professor Stefan Possony van die Hoover Institute for the study of War, Revolution and Peace, in San Francisco. Professor Charles Manning, Emeritus Professor van Intemasionale Sake aan die Universiteit van Londen het my visie van ’n “Organisasie van Suider-Afrikaanse State”, aangeprys.
In Nederland het ek my sportaktiwiteite voortgesit en omdat die Joegoeslawiese en Roemeense Ambassadeurs my tennismaats was, het ek die enigste Suid-Afrikaanse diplomaat geword wat partytjies agter die “Ystergordyn" bygewoon het.
In Aix-en-Provence het ek gesug by die gedagte aan die uitputtende vyf jaar wat ek tussen die Hollanders deurgebring het. Vir ’n Suid-Afrikaner was dit een van die moeilikste poste in die wêreld. Die kennis wat die Hollandse koerantredakteurs van Suid-Afrikaanse sake gehad het, het my vir die eerste keer laat besef dat om slegs genoegsame inligting van ’n positiewe aard aan die
pers te voorsien, nie genoeg was om hulle van Suid-Afrika se nek af te kry nie.
In Nederland het ek met my skryfwerk volgehou en nog ’n boek oor Suid-Wes Afrika klaargemaak. Die ses jaar lange gedingvoor die Wêreldhof in Den Haag het toe net ten einde geloop. Pik Botha was ’n lid van die Suid-Afrikaanse span en ons het lekker gesels terwyl hy my KWV geniet het.
Ek het reeds vir Colliers Encyclopedia in die VSA geskryf en het toe ook begin om vir die groot Larouse Ensiklopedie in Belgie te skryf. Op een of ander manier het ek ook daarin geslaag om twee jaar se studies in politieke wetenskap aan die Universiteit van Leiden onder professor Arend Lijphardt in te pas.
Dit was alreeds na middemag en net ’n paar uur voor my eerste verskyning in die hof. Ek het van die venster weggedraai en op my bed gaan sit. Ek het gedink hoe ek na my terugkeer uit Holland 16 uur per dag gewerk het om Suid-Afrika se belange te bevorder. Aan die enkele mislukkings, maar ook aan die talle suksesse.
Ek het altyd ons prestasies aan die reaksie van ons vyande en kritici gemeet en nie van ons vriende nie. By die V.V. het die anti-apartheid-eenheid om meer fondse gepleit om Suid-Afrika se “professionele propaganda aanslag" te neutraliseer. The Washington Post het op sy voorblad van Suid-Afrika se nuwe en hoogs-gesofistikeerde veldtog gepraat. Kent Crane, nou verbonde aan Ronald Reagan se groep, het op die dag wat die artikel verskyn het, aan Dr. Connie Mulder geskryf. n 1974 het The Guardian in London gerapporteer dat Suid-Afrika se nuwe
Inligtingsveldtog “noemenswaardige sukses” met die beïnvloeding van invloedryke Amerikaners behaal. Teen Januarie 1977 het US News and World Report gesê dat hierdie veldtog beslissende sukses in terme van kort-en langtermyn oogmerke behaal het. Hierdie veldtog het so suksesvol in die VSA gewerk dat Barbara Rogers ’n spesiale verslag in die liberale Africa Report (gepubliseer deur die African-American Institute) geskryf het waarin sy afgesluit het met die woorde dat die veldtog ernstig opgeneem moes word.
“Amerikaners sal die Suid-Afrikaanse Inligtingsveldtog en aktiwiteite uiters noukeurig moet bestudeer indien hulle ’n bevredigende aanbieding van hul eie standpunt wil verskaf.”
Dit was die werk wat Pik Botha later as “amateuragtig” probeer afmaak het. In die jare 1972-1978 het ek oral oor die wêreld gereis. Suid-Amerika, Australië, die Midde-Ooste, die Verre-Ooste, Skandinawië, Europa, Afrika.
In daardie jare het ek persoonlik kennis gemaak met President Ford, Presidente in Afrika soos Boigny, Senghor, Mobutu, Sese Seke, James Mancham, Bongo van Gabon, Koning Hassan van Morokko, Eerste Minister Rabin van Israel, die President en Eerste Minister van Taiwan, die Eerste Minister van Iran (een van die eerste manne wat deur die godsdienstige fanatici van die Ayatollah Khomeini tereggestel is) die Koning van Lesotho, tydens sy ballingskap in Holland, en talle politici, akademici en koerantredakteurs, te veel om op te noem.
Die Departement van Inligting het elke jaar sowat 200 buitelandse gaste na Suid-Afrika gebring, almal prominente persone op hulle gebied. ’n Verdere 250 het op eie koste na Suid-Afrika gevlieg waar hulle binneland as gaste van die Departement hanteer is. ’n Verdere paar honderd was oorsese besoekers wat ondersteuning in een of ander vorm ontvang het. Ek het probeer om met soveel van hierdie mense as wat menslik moontlik was te gesels. Dit is hoe ek Otto von Habsburg, die Aarts-Hertog van Oostenryk-Hongarye leer ken het, en met Beurt Servaas, uitgewer van die beroemde Saturday Evening Post, bevriend geraak het. Beroemde skrywers soos Allan Drury, wat in sy boek, A
Very Strange Society, na “Eschel en Katy” in sy inleiding verwys en met vele ek sedertdien gereelde briewe gewissel het. Taylor Caldwell, Walter Cronkite. In Europa het ek weer Nato se Sekretaris-Generaal, Joseph Luns, ontmoet met wie ek vroeër in Holland in aanraking gekom het toe hy Minister van Buitelandse Sake was en ook Chaban Delmas, voormalige Franse Eerste Minister.
Dr. Chris Barnard het ’n vriend geword.
In Suid-Afrika het ek myself in die binne-kring bevind van die mense wat eintlik die land regeer het. By ’n eetmaal in Groote Schuur het Katy en ek saam met die Mulders, die Van den Berghs en Jan en Bettie van Zyl Alberts aan tafel gesit, terwyl John Vorster aan die hoof van die tafel gestraal het en sy aangename en innemende vrou die ete opgedis het.
Wanneer Dr. Mulder uitstedig, of nie beskikbaar was nie het ek direkte tot die Eerste Minister gehad.
Toe John McGoff en Jay van Andel, Voorsitter van die reuse Am way Corporation na Suid-Afrika gevlieg het om by Vorster aan te dring om ’n ontmoeting met President Ford te probeer bewerkstellig, het die vier van ons vir ure in Libertas gesels. President Ford was in kennis gestel dat hy ’n oproep van mnr. Vorster kon verwag, maar laasgenoemde het volgehou dat die Amerikaners die eerste skuif moes maak. Van Andel, ’n goeie vriend van Ford, het tevergeefs aangevoer dat ’n mens in wêreldpolitiek die President van die V.S.A. se hulp inroep as daar ’n krisis op jou eie drumpel is - in hierdie geval Angola - jy wag nie dat die President jou moet telefoneer nie. Vorster het vir twaalf ure geweifel en toe besluit om nie vir Ford te skakel nie.
’n Guide geleentheid was daarmee heen. Geleenthede is nie aangegryp nie, en gevolglik het ’n orde van kwynende opsies kenmerkend van Vorster se regeringstermyn geword. Sy eie ondersteuners het openlik gesê dat Vorster die pas makeer by al die werklike ernstige vraagstukke wat Suid-Afrika in die gesig gestaar het.
“En kyk nou na my”, het ek gedink. “Deur my eie land as ’n misdadiger gebrandmerk. Ek wonder hoe Mike Geldenhuys, Kommissaris van Polisie, oor hierdie hele besigheid voel? Onthou hy hoeveel middagetes hy, generaal Van den Bergh en ek saam geniet het? Dat hy ook van The Citizen geweet het?
Hoe na-aan mekaar sy seun Albie en ek in ons werk in Frankryk en ons omswerwinge in Afrika geword het? Mike het sekerlik geweet dat as ek geld wou neem dit makliker sou gewees het om dit uit ons buitelandse fondse te doen. Ek sou sekerlik nie na Suid-Afrika gaan om my eie rekenmeester, Braam Fourie, ’n vriend van my, te bedrieg nie. Ek sou nie regeringstjeks vir my self
toe-eien en dan boonop my eie personeel gebruik om die dokumentasie te doen nie. Dis ondenkbaar. En tog, dit is waarvan ek basies aangekla was. Ek wonder of Mike Geldenhuys oor al hierdie dinge gelukkig kan voel? Ek veronderstel dat hy alles sal ontken as ek na Suid-Afrika teruggestuur word. Kyk maar na die boodskap wat generaal Van den Bergh aan my gestuur het - dat Mike sy rug op hom gedraai het. En om te dink dat toe Mike se vrou oorlede is - ’n wonderlike en dapper vrou - dit generaal Van den Bergh was wat, op versoek, in die kerk in Pretoria namens al die vriende gepraat het. Ek het altyd geweet dat sy sterwend was. Mike het my vertel, daarom het ek soms ’n rede gevind om haar seun, Albie, van Parys na Suid-Afrika vir konsultasie te bring sodat hy haar kon sien.”
Dit was drie-uur in die oggend, voordat ek uiteindelik aan die slaap geraak het.
Vervolg...