Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons weet dat 'n testament deur 'n persoon opgestel word wanneer hy nog leef, en dat dit eers in werking tree wanneer die testamentmaker te sterwe kom. Ook in die Bybel het sterfte met bloed 'n verband; daarom het ook die 1e Testament (die OT) met bloed gepaard gegaan toe diere geoffer is en hulle bloed vir mense as boetedoening moes dien. Die Nuwe Testament het ook met bloed gepaard gegaan toe Christus se bloed vir ons gevloei het. En die erfenis wat ons uit sy Testament ontvang, die ewige lewe, is die grootste nalatenskap wat enigiemand kan erf!
DIE WARE INLIGTING- SKANDAAL (38)
Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
Die doel met die plasing van hierdie inligting oor die destydse Inligtingskandaal is om die leser perspektief te gee oor hoe Suid-Afrika tot by die haglike verval van 'n swart regering gekom het. Die verraad wat destyds in die kabinet van Vorster, PW Botha, Pik Botha en De Klerk plaasgevind het, nie net teenoor ons Boerevolk nie, maar ook onder en teenoor mekaar in die parlement, getuig van hul veragtelike motiewe en handeling.
Hierdie gerugte en ander onbekookte stories oor Inligting se doen en lates wat kort voor die vergadering van die koukus op 27 September 1978 deur die P.W. Botha-Chris Heunis-kamp versprei is, het meer as enigiets anders daartoe gelei dat ’n goeie dosyn L.V.’s en Senatore nie vir Connie Mulder gestem het om Eerste Minister van Suid-Afrika te word nie. Dit was nie die meriete van die twee kandidate nie, maar die onware gerugte wat die stemmery beïnvloed het van hierdie onware gerugte, wat P.W. Botha aan bewind gebring het. En dit was sy politieke troepe wat met die verspreiding van die gerugte sy staatsgreep moontlik gemaak het.
Onmiddellik nadat ek gehoor het dat P.W. Botha as Eerste Minister gekies is, het ek uit die kantore waar ek besig was om die Kemp-Komitee met die evaluasie van die geheime projekte te help uitgestap en nooit weer teruggekeer nie.
Gedurende Oktober het my vrou en ek op ’n sakereis na Israel, Europa en die Verenigde State vertrek. Na ongeveer tien dae in Europa het ek in Parys se International Herald Tribune gelees dat Regter Anton Mostert na die nuwe Eerste Minister gegaan het en na ’n “argument” (wat tot vandag toe ’n raaisel bly) uitgestap en direk na die pers gegaan het met al die sogenaamde “getuienis” wat hy van Retief van Rooyen en Louis Luyt ingewin het.
Die verslag in die Tribune het gesê dat Mostert se onthullings skokgolwe die land gestuur het. Dit was ’n onderskatting van die ware reaksie.
Twee dae later het ek daarin geslaag om ’n vriend in Pretoria te skakel wat al die koerantknipsels voor hom gehad het. Hy het aan my al die besonderhede uitgelees van die getuienis wat Mostert onthul het. Ek het onmiddellik geweet dat die duiwel los is en dat die dak ineengestort het. Ook dat Vorster, alhoewel hy nou President was, polities gekruisig gaan word. Ek het ook besef dat Retief van Rooyen ’n adder in die huis van die Rhoodies was en dat Louis Luyt se optrede baie eienaardig was. Van Rooyen se “getuienis”, by uitstek sy weergawe van ’n gesprek met Les de Villiers waartydens hy beweer De Villiers aan hom gesê het dat “geld links en regs gesteel word” en dat ek De Villiers RI0 000 uit regeringsfondse aangebied het, was ’n infame leuen. Ek het De Villiers in New York gekontak waar ek drie dae later sou aankom. Hy het onmiddellik ’n telegram aan sy kantoor in Johannesburg gestuur en later ’n beëdigde verklaring dat Van Rooyen aan die Mostert-Kommissie leuens vertel het, afgelê. Die Erasmus-Kommissie het geweier om die stukke as bewysstukke te aanvaar.
Later het De Villiers persoonlik onder eed voor die Erasmus-Kommissie bevestig dat so ’n gesprek met Van Rooyen nooit eers plaasgevind het nie. Daar was niks “toevalligs” in Van Rooyen se verklaring nie. Dit was, soos mnr. Erasmus dit self opgesom het, “uit sy duim gesuig”.
Dr. Connie Mulder was briesend toe hy hierdie verslae gesien het en het onmiddellik na P.W. Botha gegaan en daarop aangedring dat ’n geregtelike Kommissie van Ondersoek benoem moes word om die hele saak te ondersoek. Om dubbel seker te maak dat hierdie uiters ernstige saak op die hoogste vlak ondersoek word, het hy by Botha aanbeveel dat die Kommissie van Ondersoek uit lede van die Appelhof, of twee Regters van die Hooggeregshof, onder Voorsitterskap van ’n Regter van die Appèlhof saamgestel word. P.W. Botha het ingestem. Per slot van rekening, Mulder was nog in die Kabinet en steeds die Leier van die Nasionale Party in die Transvaal. Tot op daardie punt en gedurende die eerste weke ná die verkiesing, het Botha dr. Mulder uiters versigtig hanteer. Botha kon nie die feit oor die hoof sien dat selfs ná al die stories wat versprei was, Mulder in die eerste stemming slegs ses stemme minder as hyself ingeoes het nie. Dit was ’n tasbare bewys van die aansienllke politieke gewig wat Mulder geniet het.
’n Paar dae nadat hy Eerste Minister geword het, het Botha vir Mulder ingeroep en aan hom gevra wat hy dan aan Retief van Rooyen gedoen het. Op Mulder se antwoord dat hy nog nooit eens die man ontmoet het nie, het Botha sy uiterste verbasing uitgespreek.
“Wel, hy het sekerlik sy mes vir jou ingehad. Maar weet jy Connie, niemand sal hom ooit weer vertrou nie. As hy dit aan jou kan doen, vir wie hy as geheime agent gewerk het, waarom kan hy nie dieselfde ding aan my doen nie? Ek sê nou vir jou ek sal uiters versigtig wees om nooit, ooit met hom betrokke te raak nie".
Hierna het die nuwe Eerste Minister ’n merkwaardige voorspelling gemaak.
“Jy weet Connie, die verkiesing het altyd net om die twee van ons gegaan. Pik was tog net ’n lastige faktor. So lank ons twee as ’n span saamtrek kan niks die Nasionale Party breek nie. As ons in botsing met mekaar kom sal dit die begin van die einde van Nasionale eenheid wees. Dit sal ’n lelike stryd tussen die Noorde en die Suide afgee, soos broer teen broer, met al die verbitterlng wat daarmee gepaard gaan.”
As gevolg daarvan was Mulder skoon uit die veld geslaan toe die Erasmus-Kommissie aangestel is. Instede van die sterk span regters wat P.W. Botha belowe het, het die Kommissie uit twee regeringsamptenare en ’n onbekende Regter van die Oranje-Vrystaat bestaan. Laasgenoemde was nog in vervloë dae die Nasionale Party se regsadviseur in die OVS, ’n goeie vriend van Alwyn Schlebusch. Voor 1948 was hy egter nog ’n ondersteuner van die Verenigde Party en het selfs in Generaal Smuts se Inligtingsdiens gewerk. Hy was een van talle mense wat oornag ’n Nasionalis geword het toe die Verenigde Party in 1948 onverwags verslaan is.
Mulder was geskok omdat P.W. Botha so onbeskaamd sy woord verbreek het. Die grootste skok van sy hele lewe het egter net daarna gevolg. Voordatdie volgende Kabinetsvergadering formeel geopen is, het P.W. Botha vir dr. Mulder versoek om sy bedankingsbrief daardie namiddag nog in te handig. As hy dit nie wil doen nie sou hy die Staatspresident vra om hom te ontsetel. Dit is duidelik dat Connie Mulder deur P. W. Botha skuldig bevind is nog voordat die Erasmus-Kommissie hul eerste byeenkoms gehad het.
Wat Botha gemotiveer het, is ’n kwessie van bespiegeling. In Afrika is die politieke tradisie dat geen sterk leier ’n ander sterk leier in een regering verdra nie. Sterk leiers is of President, Eerste Minister, in die tronk of dood. Botha mag moontlik die gedagte gekoester het dat Mulder altyd vir hom ’n bedreiging sou wees en, omdat hy van plan was om skielik en verreikende veranderinge in die bestaande en aanvaarde Nasionale Party beleidsrigtings aan te bring, moes dit vir hom vanselfsprekend wees dat ’n sterk Konserwatiewe politikus soos Connie Mulder, nooit daarvoor te vinde sou wees nie. Indien nie nou nie, dan in die toekoms wanneer nog meer verreikende veranderinge in die vooruitsig gestel word. Die veranderinge wat P.W. Botha in gedagte gehad het sou so drasties wees dat dit die werklike siel van die Nasionale Party sou verander of selfs bedreig.
Later sou mense na die Nasionale Party van Vorster circa 1978 en die Nasionale Party van P.W. Botha circa 1979 verwys. Daar was ’n wêreld se verskille tussen die twee. Maar wat P.W. Botha se motiewe ookal was om Connie Mulder te veroordeel nog voordat die Erasmus-Kommissie hul werksaamhede begin het, hy moes skielik begin bid, of seker maak, dat Connie Mulder inderdaad gekruisig word. Hy kon nie wettiglik die bevindinge van die Erasmus-Kommissie beïnvloed of vooruitloop nie, maar hy moes ongetwyfeld ook seker maak dat nie een van sy Kabinet betrek word nie. Derhalwe het hy die Kabinet weer eens bymekaar geroep en gevra of enige Minister enigiets met die geheime projekte van die Departement van Inligting te doen gehad het of van enige projekte geweet het wat die Erasmus-Kommissie verplig sou wees om te ondersoek, onder andere, The Citizen, Thor Communicators, The Washington Star, To The Point, UPI-TV in Londen, die Seychelles en soortgelyke sake. Soos een man het die Ministers ontken dat hulle betrokke was.
Daar was ’n pragtige spotprent deur Bob Connoly in The Rand Daily Mail. Die Kabinet was op die verhoog van die stadsaal. Die gehoor het gesit en wag op die oorhandiging van ’n tamaai silwer beker aan die Minister wat iets van die geheime projekte geweet het. Die Kabinet het agter op die verhoog dig teenmekaar ineengekrimp, die uitdrukking op hul gesigte een van vrees en ontsteltenis. Niemand wou die prys ontvang nie!
P.W. Botha kon nie openlik met die verrigtinge van die Kommissie inmeng nie, alhoewel die samestelling van die Kommissie self ernstige bedenkinge in die gedagtes van almal wat betrokke was veroorsaak het. Per slot van sake, volgens die wet was die kommissie maar net ’n verlengstuk van die regering. Dit was deur P.W. Botha saamgestel alhoewel die lede deur die Staatspresident, mnr. John Vorster, “benoem” is. Derhalwe moes die Kommissie aan die Staatspresident rapporteer wat persoonlik self diep by die ondersoek betrokke was. Dit was vir hom om te besluit hoe, wanneer en in watter vorm die verslag van die Kommissie hanteer moes word. Dan was daar die twee manne wat saam met Regter Erasmus gesit het. Hulle was brood-en-botter amptenare met loopbane in die staatsdiens. Sou hulle hul Eerste Minister en President so manmoedig beoordeel soos wat ’n konstitusioneel-onafhanklike Regter dit kon doen?
Aangesien P.W. Botha nie openlik met die werkinge van die Erasmus-Kommissie kon inmeng nie of openlik kon probeer om die bevindinge en aanbevelings te beïnvloed nie, het sy volgelinge nietemin ’n smeerveldtog teen Mulder, Van den Bergh en die Rhoodie-broers van stapel gestuur sonder presedent in die geskiedenis van Suid-Afrika. Dit was die mees blatante openbare vooroordeel. Om nie eens van verhoor-deur-die-pers te praat nie. Dit
het begin net nadat die eerste verslag van die Erasmus-Kommissie laat in 1978 verskyn het.
Nadat ek in die openbaar gesê het dat Owen Horwood, Jimmy Kruger, P.W. Botha en John Vorster van The Citizen projek kennis gedra het en dat Horwood en Vorster, in die besonder, alles omtrent die finansiering van die geheime projekte geweet het, het die veldtog teen ons soms histeriese proporsies aangeneem.
’n Vriend van my wat ’n Nasionale Party L.V. en sakeman was het dit later in ’n brief soos volg opgesom: “Man jy, Connie en Hendrik van den Bergh was elkeen, in eie reg, as ’n belangrike openbare figuur gesien. Wat julle ookal gesondig het is in die pers aangehaal en op die radio en televisie gebruik. Julle was gevra om belangrike byeenkomste toe te spreek, by universiteite en elders. Julle was gesien en aanvaar as mense wat die vyande van Suid-Afrika in die front linie beveg het. Julle rol in die daarstelling van detente met Swart-Afrika en die baanbrekerswerk ten opsigte van ’n nuwe verstandhouding met Israel was oral aan ingeligtes bekend. Indien die publiek julle sou glo; indien hulle sou glo dat Horwood en ander Ministers van die geheime projekte geweet het; geweet het van The Citizen en ander projekte wat Regter Erasmus deur middel van watter maatstaf weet ek nie, “onreëlmatig” bevind het, dan sou P.W. Botha moes bedank. Dit is wat hy aan die land belowe het. Hy het gesê: ‘Indien een Minister geweet het sal ek bedank en ’n algemene verkiesing uitroep’. Sy eie posisie in die party was toe so wankelrig soos nog iets, veral omdat sovele lede geweet het dat die storie oor Connie Mulder en die R2 miljoen Switserse bankrekening blote onsin was. Pik Botha se posisie was nog meer wankelrig, aangesien hy die stem van Transvaal verdeel het. Owen Horwood se posisie was haglik. Hy het sy Eerste Minister mislei. P. W. het sy versekerings aanvaar en sou eenvoudig belaglik lyk indien dit bewys sou word dat Horwood wel betrokke was.
“Die oplossing vir hierdie dilemma was eenvoudig om seker te maak dat die trio van Mulder, Van den Bergh en Rhoodie geheel en al gediskrediteer word. Om dit te bereik sou hulle elke denkbare middel gebruik. Julie werk, julle vorige suksesse, alles, het die teiken van gewetenlose verguising deur die P.W. Botha manne en hul spreekbuis in die pers geword. Julle is uitgestoot. Met weinig kans op sukses in die hof is al jou bates bevries. ’n Wet is gepasseer met waarskynlik geen ander doel as om die regering in staat te stel om jou te dreig dat jou pensioen weggeneem kan word, (’n Dreigement wat later deur Thys van Heerden van die Staatsprokureur se kantoor, voor my regsadviseurs herhaal is). Jou vrou is getreiter. Haar paspoort is weggeneem. Alles om jou en jou vriende in die oë van die publiek te diskrediteer. In hierdie proses is die hulp van Beeld aangevra om julle by elke moontlike geleentheid af te skiet. Of julle te verkleineer. Om julle te vemietig.
“Jy weet dat dit alles waar is. Indien al die blaam op julle afgeskuif kon word, veral op jou, Eschel Rhoodie, dan kon die regering daarop aanspraak maak dat hulle so wit soos sneeu is. Jy moes uit die weg geruim word sodat politici soos Owen Horwood kon bly lewe. Verstaan jy?
“Let op dat wat hulle ookal in die toekoms aan jou en Connie Mulder gaan doen, alles gebaseer is op instruksies om julle geloofwaardigheid te vernietig.”
Dit het my ’n geruime tyd geneem om die afskuwelike moraliteit van al hierdie dinge te absorbeer, maar ek het in my hart en siel geweet dat die brief die waarheid vertel het. Hier was ’n kernfaktor in die ware Inligtingskandaal. Ek het onthou hoe Pik Botha in Februarie 1979 aan twee Suid-Afrikaanse koerante vertel het dat die voormalige Departement van Inligting “amateuragtig
was” en sy hoofde “onbekwaam”. Hulle was ook “onbeholpe en naïef”, het hy gesê. Maar indien ’n mens die Hansard rekords van die Parlement ten opsigte van die ses jaar wat ek Sekretaris van Inligting was sou bestudeer, blyk die teenoorgestelde waar te wees. Tensy die horde LV’s wat soveel gepraat het oor die fantastiese werk wat ons gedoen het almal leuens vertel het! Ek onthou nog hoe Pik Botha my in die wandelgang voorgekeer het om sy algehele tevredenheid uit te spreek. Ons was deur koerante in die VSA oor ons sukses in die bevordering van Suid-Afrika se saak aangeval. In die V.N. het die anti-Apartheid-ondersteuners gekla oor die "diabolliese slim veldtog" wat ons sou gevoer het en vir ekstra geld gevra om die anti-apartheid-eenheid meer spierkrag te gee. Pik het my op die skouer geklop: “As ons vyande dit sê, dan weet ons julle was suksesvol". Daar was drie ander mense wat dit aangehoor het.
Ek onthou nog die vele pluimpies wat na ons kant toe gekom het, nie alleen van regeringskant nie, maar ook van die Opposisie. Selfs gedurende die debat oor die verslag van die Gekose Komitee oor Openbare Rekeninge, toe my administrasie erg moes deurloop, het daar van beide kante van die huis af lof gekom. Mnr. J.W. Greeff van die Nasionale Party: "Dr. Rhoodie tot sy krediet - het geweldige goeie werk in sy departement vir Suid-Afrika gedoen. Ek huiwer nie om sover dit sy werk aangaan, hom te loof en te sê dat hy alle lof verdien nie". Mnr. Greeff het sedertdien tot Parlement gevorder sodat sy oorwoë mening seker iets werd is.
Mnr. T. Aronson van die Nuwe Republiek Party: “Hy het my voorgekom as ’n persoon wat aan die bevordering van Suid-Afrika se belange toegewyd is. Niemand kan dit betwyfel dat hy ’n uiters bekwame en intelligente persoon is nie”.
Mnr. de Jongh van dieselfde Party: “Ek beskou hom, dit is my persoonlike mening, as ’n talentvolle en briljante man, selfs ’n kunstenaar en temperamentele spesialis op sy gebied. Ek beskou hom ook as ‘n toegewyde sakeman. Hy is by uitstek ’n super verkoopsman met charisma".
Mnr. W.M. Sutton, N.R.P.: “Die Minister het sy man geken as iemand met talent, entoesiasme, verbeeldingskrag, ywerig en gekwalifiseerd".
Ander Kabinetsministers en L.V.’s?
Wie is die 30 man wie se foto in die Jaarverslag van die Department van Inligting, (p/8) vir die jaar 1974 verskyn? Twee lede van mnr. Botha se Kabinet is herkenbaar: Mnr. Pen Kotzè en mnr. F.W. de Klerk. Hulle is ook dieselfde manne wat aan die begin van 1978 in die koukus-kamer van die Nasionale Party in Kaapstad ontmoet het. Maar hierdie keer was daar 46 L.V.’s teenwoordig, insluitende manne wat tans in mnr. P.W. Botha se Kabinet dien: Dawie de Villiers, Piet du Plessis, Louis Nel en Barend du Plessis.
By hierdie geleentheid, net soos in 1974, het dr. Connie Mulder vir hulle agter geslote deure in breë trekke uitgestippel wat die Departement van Inligting besig was om in die geheim te doen. In 1974 was hulle in hul noppies. In 1978 het hulle opgestaan en handegeklap. Om die waarheid te sê, dr Mulder het uit ’n lys wat ek vir daardie geleentheid opgestel het voorgelees.
Daar was nie ’n enkele persoon in daardie byeenkoms wat 'n enkele projek bevraagteken het nie. Inteendeel, dit was manne wat nou in die Kabinet sit, Pen Kotze, F.W. de Klerk, Dawie de Villiers en ander senior L.V.’s wat meer in hul skik as enigiemand anders was. Hulle het die werk wat ons doen openlik aangeprys. Agterna het manne wat ook nou in die kabinet is, my getelefoneer, sommige het my kom besoek, om hul waardering uit te spreek vir wat ons doen.
Kwalik die soort reaksie wat ’n mens verwag van Parlementariërs aan wie so pas van die amateuragtige, onhandige pogings van ’n spul naïewe en onbeholpe staatsamptenare vertel is!
Geeneen van die lede van mnr. Botha se kabinet wat daardie byeenkomste bygewoon het, sal nou skielik opspring en bieg nie. Politieke moraliteit is ’n eienaardige dierasie. Ek vermoed dat van die Treurnicht manne wat ook daar was dit sal geniet om die geheues van ander L.V.’s te verfris.
Vervolg...