Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Verstommend is die passiewe rol wat Adam by die sondeval gespeel het. Hy was heelwaarskynlik by Eva toe sy mislei is om die verbode vrug te eet. Hy het niks daaraan gedoen nie. Eva het minstens probeer om Satan te antwoord, maar ons hoor niks van Adam nie, net dat hy van die vrug geëet het. Hy het dus ook die keuse tussen sonde en lewe gehad.
DIE WARE INLIGTING- SKANDAAL (37)
Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
Die doel met die plasing van hierdie inligting oor die destydse Inligtingskandaal is om die leser perspektief te gee oor hoe Suid-Afrika tot by die haglike verval van 'n swart regering gekom het. Die verraad wat destyds in die kabinet van Vorster, PW Botha, Pik Botha en De Klerk plaasgevind het, nie net teenoor ons Boerevolk nie, maar ook onder en teenoor mekaar in die parlement, getuig van hul veragtelike motiewe en handeling.
In die volgende fase egter, het Anton Mostert, ’n baie meer geloofwaardige figuur as Van Rooyen, sy kaart gespeel: sy desperate telefoonoproep na mnr. Chris Heunis op die lughawe waar mnr. Heunis onderweg was om P.W. Botha te sien en ook om die koukus-vergadering van die Nasionale Party by te woon. Wie kon die egtheid en die dringendheid van die boodskap bevraagteken wat mnr. Heunis daarna oorgedra het? Veral toe hy ’n Regter van die Hooggeregshof as sy bron aangegee het?
Toe die inligting oor Mostert se oproep my bereik het was dit vir my baie eienaardig. Die Mostert-Kommissie kon elke buitelandse transaksie van die Departement van Inligting kontroleer het deur eenvoudig die Reserwebank te skakel of die rekenmeester van die Buro vir Staatsveiligheid, of Volkskas, die drie kanale wat al Inligting se oorplasings na die buiteland behartig het. Van Rooyen het ook te kenne gegee dat hy voor die Mostert-Kommissie oor The Citizen getuig het. Nogtans het Van Rooyen beter as enigiemand anders geweet dat al die geld vir die koerant in Suid-Afrika was. Hy het inderwaarheid die dokumente voor hom gehad. Hy moes ons gehelp het om die geld van Luyt terug te kry. Van watter moontlike belang kon The Citizen dus wees vir ’n Kommissie wat die onwettige vlug van kapitaal van Suid-Afrika af na die buiteland ondersoek?
Hy het, volgens die rekords, Regter Mostert vertel van geld wat die land binnegekom het, maar nie van fondse wat uitgestuur is nie. Hy het die Rand Daily Mail ook vertel dat hy deur Mostert gevra was om ’n beëdigde verklaring op te stel. Maar hoekom het Mostert hom in die eerste plek uitgekies? Hy het mos nie geweet dat Van Rooyen ’n geheime agent van Inligting was nie?
Die optrede van Regter Anton Mostert het ook vir my baie eienaardig voorgekom. Mostert moes geweet het dat ek beskikbaar was om te getuig. Om die waarheid te sê, mnr Koos Kemp wat die opsomming en waardebepaling van die geheime projekte by generaal Van den Bergh oorgeneem het, het dit aan Mostert gesê. Generaal Van den Bergh het op dieselfde dag afgetree dat mnr. Vorster weg is. Die enigste rede hiervoor was om nie aan P.W. Botha die bevrediging te gee om hom van sy pligte te onthef nie, indien Botha as Eerste Minister verkies word. Indien Mulder as Eerste Minister verkies word, sou die generaal onmiddellik as Hoof van die Buro vir Staatsveiligheid heraangestel word. Mulder het hom hierdie versekering in sy huis in Brynterion in my teenwoordigheid gegee en maak Van Rooyen se aantyging dat Van den Bergh Kabinet toe sou gaan ook onwaar.
Koos (Ysterman) Kemp wat deur die Kabinet aangewys is om by generaal Van den Bergh oor te neem het geweier om voor die Mostert-Kommissie te getuig tensy die Eerste Minister hom beveel om dit te doen. As ’n lid van die Buro vir Staatsveiligheid was hy deur die Wet beskerm. Nogtans, alhoewel Mostert dus geweet het dat ek Kemp behulpsaam was, het hy my nooit geroep om te getuig nie. Ek sou die geleentheid verwelkom het om dit te kon doen want Van Rooyen se getuienis voor Mostert was deurspek met foute, halwe-waarhede en ’n paar blatante leuens. Mostert se huiwering om my as getuie te roep was dubbel eienaardig omdat hyself ’n goedgekeurde geheime agent van die Departement van Inligting was.
Hier het ek dus die skouspel van een geheime agent, Retief van Rooyen wat voor ’n ander geheime agent, Anton Mostert getuig, oor geheime uitgawes vandie Departement maar wat geen verband met die valuta-ondersoek van Mostert se Kommissie gehou het nie!
Die presiese verhouding tussen Regter Mostert en advokaat Van Rooyen en, of Mostert onwetend ’n aktiewe lid van die groep manne geword het wat Connie Mulder se politieke sluipmoord beplan het, sal net deur ’n deeglike en indringende geregtelike ondersoek uitgepluis kon word - met ander woorde, nooit! Maar om van enige objektiewe buitestaander te verwag om te glo dat Van Rooyen nie opdrag ontvang het om met Mostert oor The Citizen te praat en dat Mostert geen rol, al is dit onbewustelik, in Connie Mulder se nederlaag gespeel het nie is om die onmoontlike te vra.
Een van die tergendste aspekte van Mostert se gedrag was sy volharding om, selfs ná Mulder se nederlaag, ongestaafde, onbeproefde - selfs hoorsê - getuienis aan die pers vry te stel. Daar is aan ons vertel dat Mostert en die nuutverkose Eerste Minister ’n kwaai geveg in P.W. Botha se kantoor oor hierdie saak gehad het, maar die volle verhaal van hierdie beweerde “botsing” is net aan die twee van hulle bekend. In elk geval, in ’n middernagtelike verklaring op 7 November 1978 het mnr. P.W. Botha skielik die Mostert-Kommissie beëindig. Mnr. Botha het verklaar dat Regter Mostert inderdaad die perke van sy opdrag oorskrei het en daar was ’n ooglopende en onhoubare verskil tussen die Regering se sienswyse en die optrede van Regter Mostert.
My eie siening was dat Anton Mostert klaar sy (onbewuste) rol in die ontplooiing van Botha se politieke spel gespeel het en nie langer van enige belang was nie.
Mnr. P.W. Botha het beweer dat Mostert klaarblyklik die opdrag van sy Kommissie in ’n veel wyer en uitgebreide konteks gesien het as wat bedoel of geregverdig was. “Hierdie standpunt word onder andere, bewys deur die ongestaafde inligting wat aan Regter Mostert gegee is en wat openbaar gemaak is op ’n ongetoetste wyse”, het mnr. Botha gesê. (Terwyl die Erasmus-Kommissie besig was om ongestaafde inligting openbaar te maak op ’n ongetoetste wyse het mnr. P.W. Botha sy vingernaels sit en bewonder. Praat van dubbele standaarde!)
Natuurlik was mnr. Botha eenhonderd persent korrek in verband met die ongestaafde en ongetoetste getuienis. Die getuienis (sic) is deur Mostert aanvaar en deur hom openbaar gemaak, sonder die geringste poging om hierdie ernstige aantygings te kontroleer. Hy was in ’n posisie om dit te doen en baie maklik ook. Die betrokke getuies was so te sê ’n klipgooi van hom af. Mnr. Mostert, as Regter van die Hooggeregshof, moes ongetwyfeld geweet het dat hy ook strydig met al die wette van normale geregtigheid en onpartydigheid opgetree het. In die proses is ek benadeel en belaster. Maar dat hy sy mandaat so uiters verkeerd kon vertolk? Nooit!! Anton Mostert is heeltemal te intelligent om so ’n fout te begaan.
En wat sê ’n mens van ’n senior advokaat, Retief van Rooyen, wat hoorsê-getuienis van so ’n ernstige aard aan sy mede-geheime agent verskaf? Ons weet reeds uit mnr. Vorster se verklaring dat Van Rooyen ’n storie-aandraer was. Ná die Biko-ondersoek het ’n Britse regsgeleerde verdoemende kritiek oor die beslissing uitgespreek en het ons Retief van Rooyen om sy skriftelike kommentaar gevra. Van Rooyen se volledige kommentaar is nie ter sprake nie, maar sy inleidende opmerkings is die moeite werd om weer aan te teken:
“Ek het groot geword in die tradisie van kriminele regspraak wat feitelike bevindinge verg, wat op ware feite en nie op veronderstellings of qfleidings gebaseer is nie.
“Ek het ook opgegroei in die tradisie van ’n regstelsel wat verwag dat ‘n getuie nie leuenagtig of ’n leuenaar genoem word, tensy ’n stewige grondslag daarvoor bestaan nie”. Hy het bygevoeg dat hierdie tradisies “die basiese hoekstene van ons regstelsel” vorm.
In die daaropvolgende jaar het Retief van Rooyen gerieflikheidshalwe alles van die tradisies vergeet waarin hy beweer het hy groot geword het toe hy 'n aktivis in Connie Mulder se politieke sluipmoord geword het. Hy het op die minste, hoorsê-getuienis aan Regter Mostert oorgedra. Sommige van sy getuienis was blote versinsels. Hy het gesê dat Les de Villiers aan hom gesê het dat “hulle” links en regs geld gesteel en dat ek vir De Villiers RI0 000 kontant uit die geheime rekening aangebied het. Uiteindelik het die bron van sy sogenaamde getuienis (De Villiers) hom voor die Erasmus-Kommissie as 'n leuenaar aan die kaak gestel.
Kom ons gaan ’n bietjie dieper in op Mostert se metodes as ’n Kommisaris by die ondersoek van “buitelandse valuta-transaksies”.
By sy ondervraging van Van Rooyen, het Mostert skielik uit die bloute die volgende vraag ingegooi: “Nou wat van die diamante?” Dit is onmoontlik om aan die indruk te ontkom dat Mostert en Retief van Rooyen vooraf van diamante gepraat het. Laasgenoemde se getuienis oor sy gesprekke met my, sover dit diamante aangaan, is eenvoudig ’n gruwelike verdraaiing.
Les de Villiers het dieselfde gesê aangaande homself. Van Rooyen het diamante gehad om te verkoop. Ek weet nie waar hy hulle gekry het nie, maar een aand het hy en sy vrou ons kom sien. Van Rooyen het ons ’n diamante te koop aangebied. Dit was ’n Kaapse geel diamant van omtrent 6 karaat. Ek het aan gom gesê ek stel nie belang nie aangesien my vrou alreeds ’n blou-wit diamantring het. Van Rooyen se verklaring onder eed voor Anton Mostert was dat ek gesê het ek stel net belang om blou-wit diamante te koop! Mostert het geen poging aangewend om Van Rooyen se bewerings aan my te stel nie.
Teen die tyd wat Van Rooyen met sy leuenagtige diamant stories klaar was het die Eerste Minister geglo dat ek met blou-wit diamante smokkel! Dit was Vorster se getuienis onder eed.
Kom ons kyk nou na die getuienis van mnr. Louis Luyt voor mnr. Mostert. Luyt daag by die Regter se kantoor op, onbewus van waaroor hy uitgevra gaan word, maar sekerlik in die verwagting dat dit oor die vlug van kapitaal vanaf Suid-Afrika gaan. Dit was tog die Kommissie se mandaat. Luyt was ook altyd onberispelik noukeurig in sy eie buitelandse valuta-transaksies. Hy kon dus onmoontlik daarvan bewus gewees het dat hy geroep word om oor The Citizen te kom praat. Maar wat gebeur toe? Hy kom daar aan, nie met sy prokureur of advokaat nie, maar met sy ouditeur. Die Regter het ’n reeks van sowat 40 vrae aan Luyt aangaande die koerant gestel. Luyt het nie alleen ’n perfekte bevredigende antwoord op elke vraag gegee nie, maar vir elke vraag het hy die korrekte dokumentasie byderhand gehad en tabellering van bedrae en presiese datums. Hulle is hulle te bekragtig!! Byna soos ’n hoërskoolleerling wat sy matrikulasie-eksamen aflê, nadat hy geleentheid gehad het om die vraestel vir ’n maand vooraf te bestudeer. Het hy miskien na die Regter gekom met die doel om aan hom alles wat hy van The Citizen weet te vertel?
Hier moet ek u terugneem na die ontmoeting in die Holiday Inn in April 1977 wat deur myself, dr. Mulder, Jan van Zyl Alberts, Luyt en Fourie du Preez bygewoon was. By die ontmoeting het ons aan Luyt vertel dat ons hom nie langer as eienaar van The Citizen wou gebruik nie. Die basiese rede hiervoor was die wantroue wat ontstaan het nadat Luyt die regering se geld, sonder ons toestemming, in sy eie maatskappye gestort het in plaas van in die bank soos hy aan die Minister en myself belowe het.
Luyt en ek het albei “warm” geword en uiteindelik op mekaar geskreeu. Hy was ’n man wat niks daarvan gehou het om ’n transaksie te laat vaar wat hy nie suksesvol deurgevoer het nie. Hy het dit ook gehaat om te verloor. Hy het ’n nasionale held en openbare figuur as gevolg van die stigting van ’n onafhanklike Engelstalige koerant geword en derhalwe moes Luyt siek gevoel het by die gedagte dat hy die koerant slegs agtien maande na sy totstandkoming moes opgee. Om nie eens te praat van die kollosale duik wat dit in sy ego sou maak nie. “Ek haat dit om nou pad te gee, want mense sal sê ek verlaat ’n sinkende skip” het hy ook gesê. Toe die vergadering klaar was het hy by die deur omgedraai en, volgens Alberts, na dr. Mulder en myself gekyk en met geklemde kake gemompel: “Hiervoor sal ek julle kry, wag net en kyk. Ek gaan julle politieke nekke breek”.
Dr. Mulder het dit moontlik nie gehoor nie, aangesien hy op pad na die badkamer was en ek het met my rug na hom gestaan en by die venster uitgekyk. Ek het net gehoor “wag maar en kyk”. Maar Alberts sweer dit is wat Luyt gesê het. Om die waarheid te sê, het Alberts en ek vir ’n rukkie daar bly sit en Luyt se opmerking bespreek voordat ons ook aan die Minister goeienag gesê en vertrek het.
Toe Luyt sy getuienis soos ’n goed-afgerigte dolfyn voor die Mostert-Kommissie uitgepak het en toe ek dit later in die koerante lees, het my gedagtes teruggegaan na die dreigement wat 00Luyt ’n jaar tevore sou geuiter het.
Na sy terugkeer van die Mostert-Kommissie het Retief van Rooyen aan Reynders vertel dat dr. Mulder gedagvaar gaan word om voor Mostcrt te verskyn insake ’n bedrag van R2 miljoen wat Mulder na bewering wederregtelik na ’n bank in Switserland oorgeplaas het. Reynders het hierdie storie aan my en generaal Van den Bergh herhaal. Hy het saamgestem dat dit onsin maar moontlik kon wees, maar in elk geval, dit kon nie geld van die Departement van Inligting gewees het nie. Dr. Mulder het daarna uit verskeie bronne vasgestel dat die storie oor die lengte en breedte van die land deur L.V.’s wat vir P. W. Botha
ondersteun, herhaal is. Toe Mulder vir Chris Heunis, P.W. Botha se regterhand, by die lughawe ontmoet het was hulle albei op pad na Kaapstad waar die koukus die volgende dag sou vergader. Heunis het aan Mulder gevra om hom In die lig van die komende Mostert dagvaarding te onttrek. Hy het ook die storie van die R2 miljoen herhaal. Mulder het dit summier verwerp, want hy het geweet dit was ’n leuen. Net na die aankoms in Kaapstad het van sy stom werwers aan hom vertel dat etlike PikBotha-ondersteuners ook die storie in die hande het. Hulle het nog orals rondgeskarrel en selfs Mulder-ondersteuners oor hierdie aantyging ingelig. Een uur voordat die Koukus ontmoet het om die nuwe Eerste Minister te kies, was hulle nog besig om die storie in die voorportaal van die Parlementshuis te versprei.
Geen wonder dus dat toe Mulder gereed gemaak het om by die koukuskamer van die Nasionale Party in te stap, ’n lid van sy span na hom gekom en gesê het dat alles verlore was. Later, maande later, het twee Senatore uit die Vrystaat spesiaal na Mulder in Randfontein gekom en aan hom vertel dat ook hulle deur hierdie storie mislei was. Inderwaarheid, Mulder was nooit gevra om voor die Mostert-Kommissie te verskyn nie, nie die dag, die week of die jaar daarna nie. Nooit. Kort na sy verkiesing het P.W. Botha ook ’n einde gemaak aan die bron van die storie: Die Mostert-Kommissie. ’n Gekose Komitee van die Parlement onder leiding van Hennie van der Walt het die ondersoek na die vlug van kapitaal en die oortreding van die valuta-beheermaatreëls oorgeneem en die werk afgehandel. In die Komitee se verslag was Connie Mulder se naam nie eens genoem nie en Mulder was ook nooit geroep om voor hierdie komitee te getuig nie.
Die Switserse bankstorie was maar net een faset van die Botha-kamp se uitoorlê politiek, maar dit was dodelik.
In die verspreiding van hierdie leuen oor Connie Mulder was die P.W. Botha-spilpunt skuldig aan een van die mees skandalige en immorele politieke gerugte in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse politiek. Dit in die soort maneuver wat ’n mens van die kundiges in die Kremlin sou verwag, in die hondegeveg om die leierskap wat gevolg het nadat Khruschev as President van die Sowjet-Unie uitgeskop is. Maar geensins van mense wat aan gebed deelgeneem het voor die stemmery in die koukus nie! Nie van mense wie haas onmiddellik daarna met ‘n belofte van “skoon administrasie” gekom het nie!
Vervolg...