Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
HERE, U weet beter as ek dat ek ouer word en dat ek eendag oud sal wees. Help my asseblief om nie praatsiek te word nie, en behoed my veral van die noodlottige gewoonte om iets te sê oor elke onderwerp en by elke geleentheid; help my asseblief om eerder te luister en daardeur 'n waardevolle bydrae te lewer.
DIE WARE INLIGTING- SKANDAAL (31)
Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
Die doel met die plasing van hierdie inligting oor die destydse Inligtingskandaal is om die leser perspektief te gee oor hoe Suid-Afrika tot by die haglike verval van 'n swart regering gekom het. Die verraad wat destyds in die kabinet van Vorster, PW Botha, Pik Botha en De Klerk plaasgevind het, nie net teenoor ons Boerevolk nie, maar ook onder en teenoor mekaar in die parlement, getuig van hul veragtelike motiewe en handeling.
SWART VRYDAG (1)
Aan die begin van 1978 het verdere inligting oor sommige van ons geheime projekte aan die pers uitgelek. Die inhoud van verslae wat in die pers gepubliseer is, het duidelik aangetoon dat slegs hoogs geheime inligting die weg na die pers gevind het, by voorbeeld oor Thor Communications, die Departement se finansiële pypleiding na verskeie organisasies in Suid-Afrika en in die buiteland.
Die inligting kon van die Ouditeur-Generaal se kantoor kom, of van advokaat Retief van Rooyen, die Direkteur van Thor. Ek het Van Rooyen, wie in daardie stadium alles deur sulke onthullings te verloor gehad het, uitgeskakel. Per slot van rekening, sy een bron van inkomste, mnr. John Vorster, was nog Eerste Minister. Nog net die Ouditeur-Generaal het oorgebly, of mnr. Vorster, aan wie hy gerapporteer het.
Verslae oor my twee besoeke aan die Seychelle het egter in sulke fyn besonderhede aan die pers uitgelek dat dit net van die Ouditeur-Generaal se ondersoek en tabellerings kon kom. Loot Reynders, die ouditeur van die Buro vir Staatsveiligheid, het met my saamgestem en ek het weer eens vir Gerald Barrie in sy kantoor beskuldig dat die lekkasies van sy kantoor afkomstig is. Weereens het Barrie heftig ontken dat hy verantwoordelik was.
Die lekkasies het volgehou, ten spyte daarvan dat ek aan Barrie geskryf het om hom teen die gevolge van nalatige hantering van korrespondensie te waarsku. Hy het nie geantwoord nie.
Daar was ook sekere inligting wat na die pers uitgelek het wat beslis nie van mnr. Barrie of sy kantoor kon gekom het nie, of van enige ander plek behalwe van ons eie binnekring nie. Op daardie stadium het ek nie die vaagste benul gehad wie dit kon wees nie. Vandag kan ek meer as net ’n intelligente raaiskoot maak.
Aan die begin van 1978 was die lekkasies aan die pers rede virbekommernis en ergenis, veral die telefoniese navrae, maar ons het geglo dat ons nog steeds die deksel kon ophou.
Op Vrydag 28 April 1978 het die onheil soos ’n bom toegeslaan. Generaal van den Bergh het my in Pretoria kom sien en my vertel dat ’n gedeelte van Gerald Barrie se eerste geheime verslag, of miskien die hele verslag, in die hande van The Sunday Express beland het en dat die koerant die inhoud daarvan die volgende Sondag sou publiseer. Generaal van den Bergh het ’n konferensie tussen mnr. Vorster, dr. Mulder, Barrie en die twee van ons aangevra. Dit is toegestaan en ons is aangesê om op 2 Mei by die Eerste Minister se woning, Groote Schuur bymekaar te kom. Waar ons vantevore net met persoonlike navrae en telefoonoproepe te doen gehad het, het Barrie se verslag die pers vir die eerste keer konkrete bewys van ons geheime operasies besorg.
Die Generaal en ek het in die laat namiddag na Kaapstad gevlieg. Ons is per huurmotor van die lughawe af na dr. Mulder se huis, Klein Schuur, wat net ’n paar honderd tree weg van Groote Schuur geleë is. Die huurmotorbestuurder het ons herken en onmiddellik sy storie aan The Cape Times verkoop. Die koerant het die volgende dag ’n verslag van ons ontmoeting met dr. Mulder gepubliseer. Hulle was klaarblyklik onbewus daarvan dat ons na Groote Schuur oorgestap het.
By Groote Schuur het die generaal aan mnr. Vorster verduidelik dat Kitt Katzin die vorige Vrydag na dr. Mulder gekom het met ’n afskrif van die berig wat hy wou publiseer en bereid is om een week vir dr. Mulder se kommentaar te wag voordat hy die storie publiseer. Dit het aan ons bewys dat niemand anders die inligting gehad het nie, ten minste geen ander koerant nie. Vroeër in die week het dieselfde koerant by ’n privaat tennis klub in Menlopark, Pretoria, opgedaag om my kommentaar te vra. Ek het geweier om selfs na die verslag te kyk. ’n Senior komiteelid en mede-speler, Pierre Verster (later Direkteur van die SABS) het aan hulle gevra om die perseel te verlaat. Van die ander kant van die draad af het hulle my egter dopgehou terwyl ek gespeel het. Kameras gereed. As ’n joernalis het ek altyd die ordentlike reël gevolg om nooit enige persoon te laat fotografeer of te ondervra sonder sy of haar toestemming nie.
Vandag se koerantmanne, veral die fotograwe, lag as hulle van sulke oudmodieuse hoflikheid hoor. Ek het hulle aanhoudende teenwoordigheid irriterend gevind en met my twee vingers gewys wat ek van hulle inbreuk op my privaatheid gedink het. Die telefoto-lens van die kamera het daardie teken vasgelê en die foto het op die voorblad van The Sunday Express beland en vandaar na ander koerante en tydskrifte oor die wêreld. My vrou het later dapper verduidelik dat ek aan my opponent gewys het dat sy eerste afslaan die net geraak het en dat hy dus nog twee balle oorgehad het om te dien. Ek wens ek het eerste daaraan gedink!
Voordat hy by Groote Schuur opgedaag het, was die generaal baie besig. lets wat net ’n handjievol mense geweet het was dat die Buro vir Staatsveiligheid ’n informant, ’n betaalde informant, in die hoogste range van die opposisie-pers gehad het. Hy is inderwaarheid nog steeds by ’n Engelstalige Sondagblad werksaam. Die Generaal het dit aan my en dr. Mulder bevestig en voor die Eerste Minister herhaal dat ’n senior lid van die Buro die informant in ’n kafee in Johannesburg ontmoet het. Hy het derhalwe geweet dat hulle net ’n fotokopie van die eerste sewentien bladsye van Barrie se eerste getikte geheime verslag in hul hande gehad het, plus ’n fotokopie van die laaste bladsye met Barrie se handtekening daarop. Wie ookal die verslag laat uitlek het, moes die laaste bladsy insluit, anders sou daar geen bewys wees dat die dokument eg was nie.
By die ontmoeting met mnr. Vorster in Groote Schuur het ek die Eerste Minister herinner dat ek Barrie keer op keer telefonies gewaarsku het, en later weer skriftelik, dat hierdie soort van ding kon gebeur. Barrie was daardie aand baie bedeesd, verreweg nie sy gewone hardgebaktheid nie. Ek het ook aan die Eerste Minister gesê dat ten spyte van ons vroeë ontmoeting in Februarie waar Barrie onderneem het om nie enige verdere besonderhede oor ons geheime uitgawes aan die Gekose Komitee te onthul nie, hy nietemin voortgegaan en dit op eie houtjie gedoen het.
Vorster het, veelseggend, nie vir Barrie oor die kole gehaal nie - net aan hom gevra om dit nie weer te doen nie. Barrie het geantwoord dat hy dit slegs sou doen “indien ek gedwing word”. Later het hy vrywilliglik bykomende inligting oor geheime besteding aan die Komitee verskaf op ’n stadium toe die voorsitter, mnr. Hennie van der Walt, op die punt gestaan het om die vergadering af te sluit. Daardie aand het ek ook onomwonde aan mnr. Vorster gesê dat my persoonlike lojaliteit aan Connie Mulder behoort: “Indien dr. Mulder se politieke loopbaan as gevolg van Barrie en andere se nalatigheid vernietig word sal die wêreld van my hoor”, het ek hom trompop vertel.
Vorster het my nie in die oë gekyk terwyl ek gepraat het nie, iets wat hy nooit voorheen gedoen het nie. Hy was uiters ongemaklik, byna asof hy aan ’n skuldige gewete begin ly het. Hy het na Van den Bergh gedraai en gesê “Ek wil hê dat jy more na my kantoor moet kom sodat ons na Barrie se verslag kan kyk en wat die koerante in hulle besit het. Dan moet jy later die regsadviseurs van South African Associated Newspapers (SAAN) ontmoet en hulle in kennis stel dat die projekte onder die Buro vir Staatsveiligheid resorteer en dus nie gepubliseer mag word nie”.
Ek was verlig want ek het geweet dat as generaal Van den Bergh dit doen daar min kans was dat enige verdere geheime ooit gepubliseer sal word. Die pers van Suid-Afrika het nog altyd die wetgewing wat die Buro vir Staatsveiligheid en die Spesiale Verdedigingsrekening beheer, streng nagekom. Albei het ook die beskerming van die Wet op Amptelike Geheime geniet.
Terwyl ons na dr. Mulder se huis teruggestap het, het ek aan hom gesê: “So. Die Eerste Minister het dus aan my ’n leuen vertel. Nou erken hy dat hy ’n skriftelike verslag van Barrie ontvang het. Nogtans het hy in Oktober verlede jaar en weer in Februarie vanjaar aan u en Generaal van den Bergh gesê dat hy geen geskrewe verslag ontvang het nie.”
Dr. Mulder was baie duidelik ontsteld, maar dit was moeilik om die man se lojaliteit teenoor sy leier te skud. Ek het vroeër aan dr. Mulder gesê dat die aanstelling van Pik Botha, ’n junior Parlementslid, byna die mees-junior, in die belangrike pos van Minister van Buitelandse Sake, ’n duidelike teken was dat Vorster sy weë van Mulder s’n geskei het. Normaalweg volg die Eerste Minister ’n sekere roetine in die aanstelling van Ministers. Dit is nie altyd die beste man wat gekies word nie. Hy nader die Leier van die Party in elke provinsie op ’n rotasie-basis vir nominasies. Hy is nie verplig om die provinsiale leier se aanbeveling te volg nie, maar het dit byna sonder uitsondering gedoen. Ten spyte van die party se lang geskiedenis van teenkanting teen ’n federale regeringstruktuur is die party self nasionaal as ’n federasie gestruktueer en elke provinsie is outonoom.
Dr. Mulder het nie vir Pik Botha aanbeveel nie. Mnr. Vorster het hom ingeroep en eenvoudig meegedeel dat hy besluit het om Pik Botha as Minister van Buitelandse Sake aan te stel. Mulder self het Botha gewantrou.
Nadat ons koffie by Mulder se huis, Klein Schuur gedrink het, het ek na my hotel gegaan en die volgende dag na Pretoria terug gevlieg.
Die gebeure daarna is in my geheue ingebrand omdat dit bevestig het dat mnr. Vorster die man was wat agter die selektiewe lekkasie van geheime inligting aan die Sunday Express was. Laasgenoemde het waarskynlik nie die vaagste benul gehad wie die verantwoordelike persoon was nie. Hulle was maar te gelukkig om die bewyse van ons geheime aktiwiteite te ontvang.
Nadat ek in Pretoria aangekom het, het dr. Mulder my uit Kaapstad geskakel en my gevra om by generaal Van den Bergh vas te stel wat sy gesprek met die prokureurs van SAAN opgelewer het. Tot my absolute verbystering het die generaal my meegedeel dat die Eerste Minister se instruksie was dat al die geheime waarna in die memorandum verwys word beskerm moes word maar dat die koerant toegelaat moet word om daardie items waarin ek persoonlik betrokke was, soos die Seychelles, te publiseer. (Dit is ’n feit dat die Sunday Express nie al die inligting wat in die memorandum was gepubliseer het nie, nie tot vandag toe nie, en daar was baie ander interessante name en items in mnr. Barrie se geheime verslag.)
Nadat die generaal hierdie verbysterende mededeling aan my gemaak het, het ek lank stil gesit en die hele situasie uitgeredeneer. Ek het geweet dat die Sunday Express dus nou die besonderhede van my duik-ekspedisies aan die Seychelles gaan publiseer. Ek het ook geweet dat die besoek aan die eilandrepubliek deur mnr. Vorster goedgekeur was en dat ons na die eiland as ’n toeristegroep op die uitdruklike versoek van die President van die Seychelles gevlieg het. 1) Nietemin, ek kon nie ’n rasionele verduideliking van die besoek aan die pers verstrek sonder om die werklike, geheime redes, vir die besoek teverskaf nie. “Dit plaas my in die posisie waar ek bedonderd is as ek iets sê en bedonderd is indien ek swyg”, het ek vir myself uitgemaak.
Ek het my telefoon opgetel en weer generaal Van den Bergh getelefoneer.
“Ek gaan hierdie saak aan Connie Mulder rapporteer” het ek aan hom gesê, “en ek gaan amptelik versoek dat julle (die Buro) en Mike (generaal Geldenhuys, Kommissaris van Polisie) ondersoek instel na hoe dit moontlik is vir ’n geheime verslag van die Ouditeur-Generaal, wat slegs vir die oë van die Eerste Minister bedoel was, om op die tafel van ’n koerant te beland”.
Ek het daarna briewe aan die Buro en die Polisie gerig om ondersoek na die diefstal in te stel, want dit is hoe ek dit gesien het, diefstal. Die volgende dag is ek na Kaapstad om met dr. Mulder te gesels. Ek het die Eerste Minister se beslissing aan dr. Mulder oorgedra en, net soos ek, kon hy sy ore nie glo nie.
“Ek kan net nie verstaan hoedat ’n Eerste Minister met al mnr. Vorster se mag en invloed op hierdie wyse kan optree nie”, het ek aan dr. Mulder gesê.
“Ek is seker hy sit agter al hierdie lekkasies en alhoewel die meerderheid van die Kabinet, mense soos Hendrik Schoeman, Jim Kruger en dr. Koornhof aan generaal Van den Bergh gesê het dat hulle agter u staan indien dit eendag by die kwessie van ’n opvolger vir mnr. Vorster kom, glo ek dat mnr. Vorster self sy rug op u gedraai het. Dit is waarom hy Pik Botha aangestel het. Ek is oortuig hy sit agter hierdie besigheid. Maar glo my, hy gaan dit nie kan beheer nie en die dinge stuur op ’n ramp af.”
Dr. Mulder het eers geweier om te glo dat mnr. Vorster die skuldige party was en het my vir my suspisies berispe. Dit was in die karakter van die man ingebou dat hy nie sy lojaliteit teenoor ’n persoon maklik afskryf nie. In latere jare toe die regering my verkeerdelik van bedrog beskuldig het, het Connie Mulder bly volhou dat hy in my onskuld glo en sal bly glo totdat dit anders in die hof bewys is. Hy het ’n klomp mense laat simpel lyk. Nietemin, te veel het gebeur en die omstandigheidsgetuienis was te oorweldigend dat ek nog enige vertroue in mnr. Vorster kon behou. Daar was die speletjie wat hy en Gerald Barrie gespeel het, sy leuens oor die verslae van Gerald Barrie wat hy kwansuis nooit sou ontvang het nie, sy konstante weiering oor ’n periode van ’n jaar om die betrokke partye om die tafel te bring sodat ek vir Barrie met sy halfgebakte stories kon konfronteer en nou, ten laaste, hierdie opdrag aan Generaal Van den Bergh om alles en almal behalwe myself te beskerm.
“Ek is jammer Minister” het ek aan die einde van die gesprek aan dr. Mulder gesê “maar ek gaan nie mnr. Vorster se sondebok in hierdie besigheid word nie.
“Ek gaan ’n verklaring aan die pers voorberei om The Sunday Express voor te spring. Ek wil ook die regering dwing om sy verantwoordelikheid vir die geheime fondse en die projek te erken. Die Eerste Minister het aan my ’n leuen oor Barrie se verslae vertel. Indien hierdie ding ontbloot word, gaan u en ek blameer word. Ons het nie mnr. Vorster se handtekening op enige dokumente nie. Alleenlik Senator Horwood s’n. Ons geniet ook nie die beskerming van die Wet op Amptelike Geheime nie. Dit is slegs die oorsprong van die fondse wat deur die Wet beskerm word, nie die projekte nie. Om die waarheid te sê, die pers kan eintlik publiseer wat hulle wil oor ons projekte. Niemand kan hulle aanraak nie. Solank hulle nie die finansiële bron openbaar nie.”
Dr. Mulder het byna geen poging aangewend om my af te raai nie, want ek glo dat hy op daardie tydstip die skrif teen die muur kon sien. Ek dink hy het begin besef, net soos ek, dat agter al die onthullings aan die pers en die stappe om eers vir my en dan homself te isoleer, een enkele magtige figuur gestaan het.
Ons moes nog drie maande wag voordat bykomende inligting aangaande die rol wat advokaat Retief van Rooyen gespeel het my in staat gestel het om twee en twee bymekaar te tel en vier in plaas van vyf te kry. Dr. Mulder het my wel gevra om my persverklaring vooraf met hom generaal Van den Bergh en die Eerste Minister uit te klaar en gevra dat die Generaal die Eerste Minister moet voorberei op wat ek van plan was om te doen.
Ek het my verklaring op 4 Mei 1978, in my kantoor op die sesde vloer van die Ad Astra-gebou in Pretoria gereed gemaak. My broer en Vlok Delport, toe Hoof van die Pers Skakeldiens van die Departement, het gehelp. Voordat ek my verklaring aan die pers uitgereik het, het ek telefonies met dr. Mulder by sy plaashuis in aanraking gekom. Die verbinding was egter so swak dat ons mekaar beswaarlik kon hoor. Ek het darem daarin geslaag om aan hom te sê dat ek by generaal Van den Bergh se huis was en dat terwyl ek bygestaan het, hy persoonlik, oor die telefoon, aan die Eerste Minister die versekering gegee het dat hy my verklaring gelees het en dat ek slegs die verantwoordelikheid vir die geheime fondse en die geheime projekte gelê het waar hulle hoort - voor die deur van die Regering.
Snaaks genoeg, het mnr. Vorster my nie verbied om die verklaring uit te reik nie. Ek dink hy het geweet dat dit reeds te laat was. Hy het net my tydsberekening betreur. Nou verstaan ek - hy sou glad nie omgegee het indien ek die verklaring uitgereik het nadat hy na die veiligheid van die Presidentskap oorgestap het nie.
Die lang drie-bladsy verklaring wat laat in die nag uitgegaan het, het soos volg begin:
“Die Regering het my in kennis gestel dat ’n geheime dokument, die eiendom van die Ouditeur-Generaal of deur die gesproke woord, of deur ’n fotokopie, aan die Sunday Express en ander persone uitgelek is.
“Om die inhoud van sulke geklassifiseerde dokumente te onthul, of toegang te verleen tot sulke dokumente, kan na baie ernstige gevolge lei. . . Ek wil graag noem dat die Departement van Inligting vir jare al deur die regering versoek is om sensitiewe en selfs hoogs geheime projekte te onderneem om die propaganda-oorlog wat teen Suid-Afrika gevoer word, teen te werk.
“Daar is in die geheim geld vir hierdie doel aangewend, selfs nog voor my aanstelling en ek het ten minste twee uiters belangrike geheime operasies van my voorganger geërf.
“Na my aanstelling in 1972, het ek teen-aksies teen die propaganda-oorlog geweldig uitgebrei.
“Die aksies is deur ’n geheime, hoewel nie-amptelike drieman-Kabinetskomitee gemonitor, van wie ek ook goedkeuring vir geheime projekte ontvang het en aan wie ek breedvoerige mondelinge en skriftelike verslae jaarliks en dikwels elke ses maande voorgelê het...
“Daar is ook aan my duidelik gemaak dat aangesien die fondse, sowel as die metodes waardeur dit verkry is, geheim was, die Wet op Amptelike Geheime van toepassing was.
“Die Ouditeur-Generaal is by meer as een geleentheid per brief gewaarsku dat geheime fondse en geheime projekte betrokke was. Die Ouditeur-Generaal het beweer dat die fondse nie geheim was nie. Aangesien ek sommige van sy geheime projekte geërf het en hom selfs van tyd tot tyd oor die vordering van nuwe geheime projekte ingelig het, kon ek nooit, en sal ek nooit, sy argument aanvaar nie.
“Ek is nou in besit gestel van ’n verslag wat die Sunday Express vir publikasies eerskomende Sondag voorberei het. Dit is byna woord vir woord op die Ouditeur-Generaal se nege-maande oue onbevestigde en spekulatiewe verslag gebaseer...
“Die Ouditeur-Generaal se verslag wat na die pers uitgelek het, het nie onderskeid tussen geheime- en ope-fondse gemaak nie, daardeur het dit so ’n verkeerde indruk geskep. Boonop het dit geen onderskeid tussen openlike en geheime finansiering van buitelandse reise gemaak nie.”
Op 8 Mei het mnr. Vorster in die Parlement opgestaan en bevestig dat die Regering alreeds in 1972 besluit het om in die geheim fondse van ander regeringsdepartemente af na die Departement van Inligting te kanaliseer en dat hy volle verantwoordelikheid aanvaar vir die wyse waarop fondse toegeken was. Hy het geen poging aangewend om ’n enkele punt in my verklaring aan die pers te weerspreek nie.
Daar was dit.
Ek het mnr. Vorster ten minste gedwing om sy eie rol in die finansiering van die geheime projekte te erken.
Mnr. Vorster het aan die Parlement gesê:
“Daar is besluit om fondse wat vir die bekamping van die sielkundige en propaganda aanslae teen die Republiek van Suid-Afrika toegesê is deur ander Departemente te kanaliseer wat die fondse sou kon gebruik vir hierdie doel indien hulle die nodige apparaat en die opgeleide personeel tot hul beskikking gehad het. Die doel was om die ondermyning van ons land se goeie boeke en stabiliteit te weerstaan. Dit kan derhalwe nie gesê word dat dit ongemagtigde fondse was nie en ek aanvaar volle verantwoordelikheid vir die wyse waarop die fondse toegeken is omdat dit na my oordeel in die hoogste belang van Suid-Afrika was.
“Sedert 1972 is sertifikate uitgereik dat die fondse wat op hierdie wyse beskikbaar gestel is op ’n ordentlike wyse vir die doel waarvoor dit benodig is, bestee is. In die tweede helfte van 1977 het die Ouditeur-Generaal my in kennis gestel dat hy oor vermeende onreëlmatighede besorgd is wat uit die verontagsaming van regulasies en instruksies deur die Departement van Inligting voortgespruit het. (Vergelyk dit met mnr. Vorster en dr. Diedcrichs so beslissing van Februarie 1974 dat geen reëls of regulasies geld nie.)
Terselfdertyd het baie stories en gerugte oor die Departement die rondte gedoen.
“Ek het aan die Ouditeur-Generaal gesê dat daar niks minder van hom as amptenaar van die Parlement verwag word as om op normale wyse die nodige ondersoek in te stel, soos verwag word en om aan die Parlement verslag te doen ongeag wie betrokke was of wat die gevolge mag wees. (Die betrokke wetgewing skakel juis ouditering van geheime fondse op ’n normale basis heeltemal uit.) Die Ouditeur-Generaal het uiteraard saamgestem en sy taak volgens die beste tradisies van sy amp uitgevoer. Ek het dit as onreëlmatig beskou om enige stappe te neem voordat die Ouditeur-Generaal sy ondersoek afgehandel en aan die Gekose Komitee oor Openbare Rekeninge gerapporteer het. Met die medewete en goedkeuring van dr. Mulder en die Ouditeur Generaal, het ek terselfdertyd ’n ander bekwame persoon (Reynders) aangestel om ten volle en beslissend alle beweerde onreëlmatighede, aantygings, stories en gerugte aangaande die misbruik van fondse te ondersoek.
“Intussen het dit duidelik geword dat die doeltreffendheid van die Departement en sy Hoof na soveel (koerante) verslae en verklarings vernietig is en wat onberekenbare skade aan die land aangerig het. In samewerking met die Staatsdiens Kommissie en ander betrokkenes sal daar ’n ondersoek ten opsigte van ’n algehele restruktuering van die Departement ingestel moet word, soos reeds aangekondig”.
Wat mnr. Vorster aan die Parlement gesê het en wat hy inderwwaarheid gedoen het, is twee verskillende dinge, byna totaal verskillend, en in die wete wat Barrie besig was om te doen was sy verwysing na die Ouditeur-Generaal blatant onwaar en onopreg.
Na mnr. Vorster se verklaring het ek formeel ’n polisie-ondersoek aangevra na die onthullings aan die pers soos later deur mnr. Jimmy Kruger, Minister van Justisie, aan die Parlement bevestig is. Tot my verbasing het beide Kruger en generaal Mike Geldenhuys (met wie se seun ek so nou in Frankryk en Afrika saamgewerk het) probeer om my oor te haal om nie die ondersoek af te dwing nie. Mike Geldenhuys was diplomaties maar Kruger was sy gewone astrante self en het my baie gou vertel dat die “baas” so voel.
Daar was net een “baas” vir Kruger en dit was mnr. Vorster. Ek was dronkgeslaan.
Hier is geheime projekte aan die pers uitgelek, ’n geheime dokument is gefotokopieer en op ‘n skinkbord aan Kitt Katzin van The Sunday Express oorhandig, ander dokumente van die Departement is verwyder en die hemel weet waarheen gestuur, en ek word gevra om dinge af te koel! Toe daar in 1981 fotokopieë van korreksies aan die eerste proewe van die Erasmus-Kommissie aan die Rand Daily Mail uitgelek het, is beide Generaal Visser en Brigadier Sherman haastig afgestuur om die lekkasie te ondersoek.
“Verraad!” het die Afrikaanse pers geskreeu.
“Vind die verraaier!”
Maar toe Gerald Barrie se hoogs vertroulike eensydige verslag, ’n baie meer sensitiewe en skadelike dokument, in die hande van die pers beland het, het niemand “verraad” geskreeu nie. Daar is nie eens ’n konstabel gestuur om die betrokke koerant te ondervra nie!
Die slegte reuk in die lug het vererger. Ek weet nie wat die polisie-ondersoek aan die lig gebring het nie, want die ondersoek is nooit voltooi nie. Net voordat ek bedank het, het ek Mike Geldenhuys in sy kantoor gesien. Hy het aan my gesê dat op instruksies van die Eerste Minister self, die polisie ondersoek afgelas is.
Ek het aan Mike die volle verhaal tot op daardie tydstip vertel en ek kon sien dat die man in ’n geweldige tweestryd gewikkel was. Ek het hom sedert 1972 geken. Hy het van baie van ons mees geheime operasies geweet. Hy was saam met ons aan boord van die vliegtuig toe ons John Vorster na die Ivoorkus geneem het. Ek het hom gerespekteer, net soos nou nog, en moontlik vir hierdie rede het ek myself daarvan weerhou om die voor die hand liggende opmerking aangaande Vorster se instruksie te maak, nl., dat Vorster nie wou hê dat iemand moet uitvind wie werklik die verslag aan Kitt Katzin uitgelek het nie.
Ek kan Mike Geldenhuys se laaste woorde nog goed onthou: “As daardie klein mannetjie (Barrie) hier instap om my boeke te ondersoek laat ek hom dadelik arresteer.”
Hendrik van den Bergh wou nie dinge laat lê nie. In daardie stadium was hy al suspisieus oor Vorster se motiewe en wat hy ookal op daardie tydstip gedink het, sy ondersoek het voortgegaan. ’n Baie senior Buro beampte was in beheer.
Ek was in die Generaal se kantoor toe die amptenaar gerapporteer het dat hulle verskeie uiters belangrike leidrade het asook verbasende inligting gevind het. Dit sou ’n week of twee duur voordat hulle die antwoord het. Twee weke later het ek ’n oproep van hom ontvang om op pad huis toe by die Concellium-gebou aan te doen. Ek het my broer Denys opgelaai na sy huis toe en hy het agter in die motor gaan sit sodat die amptenaar langs my kon inklim. Ons was reg voor die Concillium-gebou geparkeer. Die Buro man het herhaal dat volgens sy koerant kontak aan ’n ander agent bevestig het (’n ou skoolvriend van die koerantman) is net sewentien bladsye gefotokopieër.
Die Buro se man, geklee in ’n donker pak, silwer grys hare agteroorgekam, het my in die oë gekyk en gesê: “Ons weet dat ’n man in die Ouditeur-Gencraul se kantoor ’n telefoonoproep van ’n naby-geleë kafee af gemaak het. Hy was nie bewus daarvan dat die bestuurder, ’n Griek, ’n Buro-informant is nie en ons in ’n roetineverslag op ons hoede gestel dat daar oor die telefoon met The Express kontak gemaak is nie. Hy het gesê dat die man van groot somme geld, dokumente, ens., gepraat het. Die evalueerders by die Buro het dit nie in verband met die lekkasies van julle Departement gebring nie, want tot op hede het iemand in julle Departement nog onder verdenking gestaan.”
“En het julle aan die Griek gevra wie dit was?” het ek gevra.
“Ja. Ons het na sy kafee gegaan, maar daar is nou ’n nuwe bestuurder. Hy het gesê dat sy vriend na Griekeland teruggekeer het.
Wat die Buro se man aan my vertel het was geen verrassing nie. Generaal van den Bergh het alreeds die vorige dag aan mnr. Vorster, dr. Mulder en myself oor die telefoon die kern van die bevindinge oorgedra. Maar dit was die laaste wat ek van hierdie ondersoek gehoor het. Binne weke daarna het Van den Bergh by die kantore van die Departement ingetrek om die geheime projekte te begin evalueer.
’n Paar maande later het ek die agerende Hoof van die Buro getelefoneer om uit te vind wat hulle ontdek het. Hy het my ’n vae antwoord gegee en toe ek hom ’n maand later weer skakel, het hy onmiddellik aan my gesê dat op mnr. Vorster se instruksies, die ondersoek afgelas is.
In my persverklaring van 5 Mei, het ek gesê dat ek die verslag gesien het wat vir publikasie in The Sunday Express opgestel is en dat dit “byna woord vir woord” op Barrie se geheime verslag aan Vorster gebaseer was. Vorster het dit nie in sy openbare verklaring van 8 Mei 1978 weerspreek nie. Om die waarheid te se, tot vandag toe het niemand die korrektheid van my verklaring weerspreek nie. Die enigste reaksie in hierdie saak het van Barrie self gekom by wyse van ’n brief aan die pers in Kaapstad, byna ’n jaar na die gebeurtenis. In hierdie brief van Februarie 1979 het hy as volg geskryf: “Die waarheid is dat geheime inligting nie na die pers vanaf die Ouditeur-Generaal se kantoor uitgelek is nie”.
Hy het ook geskryf dat “ ’n hooggeplaasde amptenaar van die Buro vir Staatsveiligheid die saak deeglik ondersoek het en sy bevinding was dat geen amptenaar van die Oudit-Departement enigsins verantwoordelik was nie”.
Dit is nie wat die Buro aan my gesê het nie. Maar, die ware betekenis van Barrie se brief lê in wat hy nie gesê het nie. Eerstens, geen woord oor die polisie-ondersoek nie. Die Polisie het in die openbaar bevestig dat so ’n ondersoek aan die gang was. Daar moet onthou word dat nie slegs sekuriteit betrokke was nie, maar ook die moontlike oortreding van die Wet op Amptelike Geheime, wat ’n kriminele aangeleentheid is en wat die polisie, nie die Buro vir Staatsveiligheid nie, betrek.
Na meer as vyf jaar, wag ons nog steeds op die uitslag van die polisie-ondersoek. Niemand het ooit amptelik die publiek ingelig dat die ondersoek wat Kruger in die Parlement bevestig het, op bevel van John Vorster afgelas is nie. Maar daar is ander, selfs meer ernstige implikasies in Barrie se brief. Dit is algemeen aanvaar dat The Sunday Express in besit gekom het van geklassifiseerde materiaal. Dit is ook nie betwis dat dit van Barrie se verslag aan Vorster gekom het nie. In sy brief het Barrie nie ontken dat die inhoud van The Sunday Express se konsep-verslag alleenlik uit die oorspronklike wat in sy bewaring was verkry kon word nie. Barrie het net amptenare van sy Department vrygespreek. Barrie het later beweer dat hy ook ’n afskrif van sy verslag aan Connie Mulder voorsien het, ’n feit wat dr. Mulder konsekwent ontken het en wat in elk geval nie by Barrie se agter-die-rug-onderhandelinge met Vorster ingepas het nie. Connie Mulder was die onbestrede Kroonprins in die Nasionale Party op ’n tydstip toe dit algemeen aanvaar was dat Vorster nie meer lank sou aanbly nie. Mulder was derhalwe die man wat polities die meeste deur ’n lekkasie van geheime inligting aan die pers kon verloor. Dit is belaglik om te dink dat Mulder sy eie keel sou afsny deur Barrie se geheime verslag in The Sunday Express se hande te laat val. In elk geval, ons weet dat hy nie een gehad het nie anders sou dit in Mei by die vergadering in Groote Schuur geopper gewees het.
Die lekkasie was eintlik ’n baie eenvoudige saak om te ondersoek. Die beweging van Barrie se geheime verslag was net tussen twee manne, Barrie en Vorster. Barrie het nie sy verslag deur middel van tussengangers gestuur nie, nog van sy kant af, nog van Vorster se kant. Hy het die verslag persoonlik in Vorster se hande besorg. Dus, indien, soos Barrie later beweer het, hy en sy Department niks met die lekkasies te doen gehad het nie, of direk, of as gevolg van nalatigheid, dan is die logiese en direkte implikasie dat die bron net Vorster self kon gewees het.
Maar, al wat ons gekry het was ’n gordyn van stilswye. Die rot wat ek vir maande al geruik het, se stank het nou oorweldigend geword.
In Augustus 1978 het generaal Van den Bergh aan my, dr. Mulder en andere, bevestig dat Retief van Rooyen nie alleenlik die Eerste Minister se mees-vertroude regsadviseur was nie, maar ook sy beste informant in Pretoria. Van den Bergh het bevestig dat Van Rooyen alles wat in my huis gebeur het, van die vergaderings wat daargehou is, en van sy eiegesprekke met my, aan mnr. Vorster oorgedra het. (Later deur Vorster self onder eed bevestig.) Niks het my meer geskok as hierdie koelbloedige verraad nie. Dit was soos om 'n nagadder onder jou gunsteling stoel in die sitkamer te ontdek.
Ek het Retief van Rooyen in 1975 ontmoet toe ons albei meisies uitgeneem het wie aan die Onderwys Kollege in Pretoria studeer het. Ek was met my B. A. Graad aan die Universiteit van Pretoria besig en het aandklasse aan die buitemuurse afdeling geloop. Van Rooyen was ’n voltydse regsstudent. Die meisies met wie ons destyds uitgegaan het, Catharina (Katy) Bondesio en Mathilda (Tillie) Branders, het later ons vrouens geword.
Ons het dikwels saam gaan dans. Toe ons in 1971 van Holland af na byna veertien jaar in die buiteland terugkeer, het Katy en Tillie maklik hul vriendskap voortgesit. Tillie het my vrou so lief gehad oor haar positiewe benadering tot die probleme van die lewe dat sy dikwels gedigte aan haar opgedra het uit waardering vir wat Katy gedoen het om haar op te beur. Tillie was emstig siek en dikwels baie bedruk.
Die Van Rooyens het ons huisvriende geword. Soveel so, dat ons kinders saam met vakansie gegaan het. Soveel so dat Retief self ’n stukkie grond langs sy huis in Nature’s Valley gekoop het en aan my teen kosprys herverkoop het “sodat ons langs mekaar kon bly wanneer ons eendag aftree.”
Katy en Tilly het die beste van vriendinne gebly totdat Van Rooyen se rol in die Inligtingsdrama geopenbaar gemaak is. Hulle het met diepe hartseer uitmekaar gegaan.
Toe ek op die uitkyk vir ’n regsgeleerde was om as front op te tree in die hoedanigheid van direkteur van ons mees geheime finansiële organisasie, Thor Communications (Pty) Ltd., was ek aangenaam verras toe mnr. Vorster voorgestel het dat ek Van Rooyen moes vra. Hy het ’n direkteur van Thor geword. In daardie hoedanigheid en ten volle op hoogte van die doel van my besoek aan die Seychelles, het hy en sy dogter ook in 1977 saam met ons vir die diepsee-duikery gevlieg. Hy het geweet dat die staat aandele in die Luyt vliegtuig gehou het. Hy het baie omtrent sommige van ons geheime programme geweet. Hy was die man wat die regsdokumente opgestel het vir die oorplasing van fondse vanaf Thor na Ma-Afrika, die maatskappy wat deur André Pieterse gestig is om skouburge vir die Swart stedelike-gemeenskap te bou, waar ons films kon vertoon wat deur ’n ander geheime frontorganisasie, Heyns Films, vervaardig is. Hy het geweet wat die rol was van André Pieterse, Oscar Hurwitz en die ander twee direkteure van Thor. Hy het geweet van die oordrag van fondse vanuit Switserland. Hy het ook my sienswyse oor die Kleurling-vraagstuk geken.
Ek het my bes probeer om mnr. Vorster se beleid t.o.v. die Kleurlinge van S.A., beide in terme van sy regering se sosio-ekonomiese sowel as politieke doelwitte, aan die wêreld te verduidelik. Dit was my taak en ek het dit tot die beste van my vermoë gedoen.
Ek het al sy samesprekings met swart- en Kleurlingleiers bygewoon omdat ek die persverklaring wat normaalweg na so ’n bespreking uitgereik is, moes voorberei. Persoonlik het ek geglo dat mnr. Vorster en sy regering verkeerd was. Die onreg wat deel was van die beleid het S.A. se beeld oorsee benadeel. Ek het, met behulp van 'n aantal invloedryke vriende, 'n drukgroep gevorm, en ons het gepoog om sekere sleutel-kabinetsministers te oortuig dat 'n nuwe bedeling nodig was. Een van die manne wat met my saamgestem het, was advokaat Retief van Rooyen. Hy het met ons saamgestem, maar het gelyktydig ons aan mnr. Vorster verraai. Dit was die hoofoorsaak waarom mnr. Vorster van my ontslae wou raak. Ongelukkig het hy ’n groot fout gemaak om te glo dat dr. Mulder dieselfde siening as ek gehad het. Hy was verkeerd. Mulder het sy eie siening en standpunt gehad. Terwyl hy my standpunt en siening hoflik aangehoor het, het hy dit verwerp.
Vervolg...