Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Voel jy dat jou laste te swaar druk? Kniel dan neer! Want met elke neerkniel sal jou las ligter word! Vertel God alles. As jy Hom al die stukke gee, wil Hy jou gebroke hart heelmaak!
DIE WARE INLIGTING- SKANDAAL (28)
Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
Die doel met die plasing van hierdie inligting oor die destydse Inligtingskandaal is om die leser perspektief te gee oor hoe Suid-Afrika tot by die haglike verval van 'n swart regering gekom het. Die verraad wat destyds in die kabinet van Vorster, PW Botha, Pik Botha en De Klerk plaasgevind het, nie net teenoor ons Boerevolk nie, maar ook onder en teenoor mekaar in die parlement, getuig van hul veragtelike motiewe en handeling.
KRAKE IN DIE PLAFON (2)
Laat ons eers kyk na Waldeck se loopbaan aangesien hy die liggelowige Erasmus-Kommissie maklik oortuig het dat eerstens, my broer, dr. D.O. Rhoodie, voor hom op grond van familie-begunstiging bevorder is en, tweedens, dat hy (Waldeck) later inderdaad gedemoveer was.
Dit hou tred met die Erasmus-Kommissie se oorwoë doelwit om dr. Connie Mulder en sy genote te diskrediteer, dat hulle onbeskaamd die bedrewendheid, loopbaan en bevorderingskanse van ’n amptenaar beoordeel het terwyl ’n statutêre kommissie, die Staatsdiens Kommissie, reeds jare lank wettiglik met hierdie taak belas is.
Alhoewel Waldeck twintig jaar tevore by die Staatsdiens aangesluit het, het hy nooit ’n poging aangewend om op sy matrikulasie-kwalifikasie te verbeter nie. ’n Universiteitsgraad is uiteindelik as minimum toetrede-kwalifikasie vir professionele amptenare voorgeskryf. Teen Februarie 1975, op die ouderdom van 56 en, na sowat 38 jaar diens, het Waldeck niks verder as Onder-Sekretaris gevorder nie.
Terwyl die Departement van Inligting ’n “geslote departement” was, in die sin dat professionele amptenare soos dr. D.O. Rhoodie nie normaalweg vir bevordering buite hul eie Departemente kon kwalifiseer nie, was Waldeck ’n lid van die breër administratiewe vertakking en het derhalwe vir elke hoër vakante pos in dosyne Staatsdepartemente gekwalifiseer. Sy gebrek aan vordering kon derhalwe nie aan my optrede toegeskryf word nie, maar aan die bevoegde oordeel van die Staatsdiens Kommissie. Om die waarheid te sê, ek moes later ’n stryd aanknoop om die Kommissie te oorreed om hom na die rang van Adjunk-Sekretaris te bevorder, omdat ek gevind het dat die Kommissie Waldeck nie so hoog soos die Erasmus-Kommissie, die opposisie in die Parlement en die Ouditeur-Generaal, mnr. Barrie aangeskryf het nie. Laasgenoemde se hoëdunk van Waldeck het net opsigtelik geword nadat Waldeck ’n helpende hand in sy oudit-heksejag van 1977 verleen het.
Gedurende sy volle ses jaar as Sekretaris van Inligting, het mnr. Barrie nie, of wou hy nie, die Staatsdiens Kommissie oortuig dat Waldeck verdere bevordering verdien het. Aan die begin van 1971, tydens mnr. Barrie se dienstydperk by Inligting, was dr. D.O. Rhoodie as Inligtingskontroleur, en mnr. Waldeck as Onder-Sekretaris, op gelyke salarisskale. In April 1971 was mnr. Barrie aandadig in die bevordering van dr. D.O. Rhoodie na ’n rang met ’n salarisskaal gelykstaande aan ’n volle kerfhoër as die van Waldeck. Op hierdie basis was dr. Rhoodie dus, te danke aan mnr. Barrie, reeds in April 1971 Waldeck se senior.
As die Erasmus-Kommissie te onbekwaam was om hierdie feite op eie houtjie te ontdek, waarom het Gerald Barrie, wat hulle bygestaan het, nie hierdie inligting verskaf nie? W aldeck self sou dit nie doen nie - hy was te besig om ’n saak teen die Rhoodies op te bou en die Erasmus-Kommissie was oorgretig om hom te glo. Maar dit is nog nie al nie. Teen die einde van 1972 is dr. D.O. Rhoodie en Les de Villiers op aanbeveling van die StaatsdiensKommissie tot die rang van Adjunk-Sekretaris bevorder. Die Kommissie het geen beweegredes gevind om Waldeck te bevorder nie en ’n mens kan aanneem dat dit nie by gebrek aan vakante poste by ander Staatsdepartemente was nie. Daarbenewens moet dit in gedagte gehou word dat Kabinetsgoedkeuring, nie myne nie, vir bevordering na die rang van Adjunk-Sekretaris vereis word. Gevolglik is dr. Rhoodie en Les de Villiers se bevordering op Kabinetsvlak goedgekeur.
In die lig van die voorgaande feite bly daar nie veel van die Erasmus-Kommissie se aantyging van familie begunstiging oor nie. Daardie bewering is, soos enigeen kan insien, ongegrond en kwaadwillig. Dit was sekerlik onverantwoordelik. Daar bly feitlik niks oor van Waldeck se klagtes oor sy bevordering en demovering nie.
Om terug te gaan na 1972. Waldeck, wat beroepsgewys op pad na nêrens
was nie, het gevind dat sy dors na posisie nog verder deur die teenwoordigheid van twee stewige-ingegraafde administratiewe manne in die persone van Gerald Barrie en sy goeie vriend, Piet Weidemann, gefrustreerd word. Barrie se vertrek en my aanstelling het aan Waldeck sy kans gebied. In die eerste plek het hy my oortuig (een van die grootste foute wat ek nog ooit gemaak het) dat sy onmiddellike hoof, Piet Weidemann, lyf weggesteek het en dat hy, Waldeck, alles alleen moes doen. Op die ou end het Weidemann toestemming van die Minister gevra om met pension uit te tree. Dr. Mulder het ingestem. Hy het daarna nog in ’n tydelike hoedanigheid by die Departement gewerk.
Nadat Waldeck Weideman se plek ingeneem het, het hy begin om sy eie posisie te konsolideer. Aan die begin het ek hom vertrou en vir die eerste keer in die geskiedenis van die Departement van Inligting het die administratiewe afdeling die geleentheid gekry om die buitelandse kantore van die departement te besoek. Waldeck self het op groot skaal rondgereis. Hy het, op my versoek, alle Inligtingskonferensies in die buiteland bygewoon. Waldeck het klaarblyklik van die geheime fondse geweet, eerstens as gevolg van die bestaan van ’n spesiale afdeling en, tweedens, as gevolg van die verwysing na G-betalings (geheim) op die rekenmeester se rekords. Op ’n dag het hy die Adjunk-Sekretaris, dr. D.O. Rhoodie kom sien en aan hom vertel hoe graag hy wou hê dat sy vrou hom ook eenkeer op ’n oorsese toer moet vergesel. Dit was nie moontlik in terme van die Departement se “ope” begroting nie en ook nie in terme van die reguleerders wat die uitgawe van die oop begroting beheer nie. Waldeck het toe aan te voer dat die probleem omseil kan word deur geheime fondse vir sy vrou se lugreiskaartjie aan te wend. Hy het ook gesê dat die ander adjunk-sekretarisse betreklik dikwels die geleentheid kry vir oorsese toere en derhalwe in ’n beter posisie was om by geleentheid hul vrouens saam te neem as wat met hom die geval was. Die Minister se reël was dat senior adjunk-sekretarisse na elke vierde reis hul vrouens op staatskoste oorsee mag saamneem mits dit nie meer as een keer per jaar geskied het nie.
Die saak is na my verwys. Ek het in die bree konteks van ons geheime werk besluit dat dit takties in orde sou wees om aan sy versoek te voldoen, aangesien Waldeck een van die hoofde van die drie vertakkings van die Departement was. Ek het ook uit die sekuriteitsoogpunt daama gekyk, nl., dat dit nodig was om ’n toegewing te maak sodat die ontevredenheid van ’n amptenaar van sy senioriteit nie miskien ’n sekuriteitsrisiko word nie. Dit was miskien ’n subtiele manier aan Waldeck se kant om druk op my uit te oefen maar ek het besluit om nie in so ’n vroeë stadium negatiewe gedagtes te koester nie.
Waldeck het toe ’n bedrag in kontant van dr. D.O. Rhoodie ontvang met Braam Fourie as getuie. Hy het geweet dat dit onreëlmatig was. Hy het nie alleen willens en wetens die reëls verbreek nie (reëls wat hy, so het hy die Erasmus-Kommissie vertel, so pligsgetrou gehandhaaf het nie) maar hy het nagelaat om die inligting aan die Ouditeur-Generaal te verstrek. Daar was ook geen geskrewe Ministeriële goedkeuring vir hierdie reis nie. Net ’n mondelinge goedkeuring. Braam Fourie, ons rekenmeester, het uiteindelik aan Barrie hierdie onreëlmatige uitgawe uitgewys maar laasgenoemde het nooit enige stappe gedoen om hierdie geld terug te vorder soos wat hy met ander amptenare gedoen het nie. Hy het dit ook nie aan die Erasmus-Kommissie gerapporteer nie en dit opsetlik van mnr. Harry Schwartz en die Parlement se Gekose Komitee op Openbare Rekeninge weerhou - alhoewel hy dit in die geval van al die ander betrokke amptenare voorgelê het. Toe ek dit ontdek het ek geweet dat daar aan Waldeck vrywaring belowe is maar in terme van watter Wet sou net mnr. Barrie weet.
Noudat ek hierdie onreëlmatigheid aan die lig gebring het, sal dit baie interessant wees om te sien of mnr. Barrie daarop gaan aandring dat Waldeck die geld aan die staat terugbetaal. Ek twyfel nie dat hy dit sal doen nie, per slot van sake, hy moet sy reputasie in die pers en sy talle ondersteuners in die Parlementêre Opposisie in ag neem.
Waldeck se probleem was sy administratiewe magswellus. Hy het onder die amptenare in die buiteland die indruk geskep dat hy die enigste man was me! wie hulle oor tuisverlof, oorplasings en selfs bevorderings kon praat.
“Die Sekretaris is eenvoudig te besig om na al hierdie sake om te sien”, het hy aan buitelandse amptenare by ’n konferensie waar ek nie teenwoordig was nie, gesê.
By ’n ander geleentheid tydens my afwesigheid in die buiteland, het hy selfs op eie houtjie gereël vir die oorplasing van sekere administratiewe personeel lede na buitelandse poste, sonder my eie, of die Minister se toestemming. Vanselfsprekend het Gerald Barrie niks hiervan in sy verslag aan die Parlement opgehaal nie. Sy ooreenkoms met Waldeck het hom daarvan weerhou.
Toe al sy handelinge uiteindelik opgeweeg is en na vele klagtes van amptenare in die buiteland, het ek Waldeck ingeroep en aan hom gesê dat hy
nooit weer oorsee gestuur sou word nie. Ek sou hom ook nie weer inroep wanneer ons oor die verdienstelikheid van senior professionele personeel beraadslaag nie. Toe die Staatsdiens Kommissie ’n inspekteur gestuur het om die verdienstelikheid van die top-amptenare te bespreek, het ek aan hom gesê dat Waldeck magshonger en ontrou was en dat ek hom nie vir enige hoër pos kon aanbeveel nie. Die inspekteur het met my opsomming saamgestem net soos die Staatsdiens Kommissie se Hoofinspekteur ook later voor die Erasmus-Kommissie getuig het.
Barrie en Waldeck se heulery agter my rug het sulke afmetings geneem dat toe Waldeck vroeg in 1978 deur dr. Mulder tydens die reorganisasie van die top-struktuur van die Departement afgepensioneer is, Barrie en die opposisie-pers Waldeck se deugde in die openbaar tot so ’n mate aangeprys het dat dr. P. Rautenbach, Voorsitter van die Staatsdiens Kommissie ’n verklaring uitgereik het waarin hy Barrie en die pers so te sê daarvan beskuldig het dat hulle Waldeck “iets skuld”. Dr. Rautenbach het daaraan toegevoeg, en tereg ook, dat personeelsake en verbandhoudende oorwegings sake is waaroor die Staatsdiens Kommissie besluit. Dit is ’n feit waarvan mnr. Erasmus bewus was maar met opset geïgnoreer het.
Waarom het die Erasmus-Kommissie in die openbaar oortree op ’n gebied wat as “Personeel-vertroulik” beskou word en wat eksklusief vir die Staats- diens Kommissie gereserveer is? Weer eens is die rede so duidelik soos daglig: die Kommissie het hulle mes vir Connie Mulder en genote ingehad en enigeen wat hiertoe bygedra het was ’n model Staatsamptenaar.
Wat die pers betref, kan ek raai wat die “iets” was waarna dr. Rautenbach verwys het, want generaal van den Bergh het my vroeër gewaarsku dat Waldeck deur die Buro verdink word dat hy vertroulike inligting aan die pers gee en my gevra om horn te nader om Waldeck se telefoon te laat tap. Of die Buro vir Staatsveiligheid dit gedoen het weet ek nie. Dit is die enigste keer dat ek ooit amptelik versoek het dat een van my eie amptenare se telefone van ’n klikapparaat voorsien moes word.
Teen Januarie 1981 het ek finaal geweet dat Waldeck ’n kontak van The
Rand Daily Mail was, want ’n voormalige intieme vriend van my wat by die Mail werksaam was het my kom sien om my oor die lekkasie te waarsku. Ek het my broer ingeroep om te luister na wat hy te sê gehad het. Hy het bevestig dat Waldeck een van hulle bronne was.
Die persoon Waldeck soos deur die Erasmus-Kommissie, die opposisie pers en die Progressiewe Party voorgedra is, is klaarblyklik nie die persoon wat ons geken het nie.
Binne drie weke nadat Barrie en twee van sy assistente by my kantoor vir hulle oudit ingestap het is die eerste lekkasies aan die pers deur die sekuriteits-beampte, Charles More, aan my gerapporteer.
Die wyse waarop Barrie en sy assistente hul oudit uitgevoer het, het gelyk asof dit bereken was om onheil uit te nooi. Asof hulle wou hê dat sekere geheime moes uitlek. Afskrifte van sommige van hulle korrespondensie was op ’n keer in ’n toilet gevind. Ek het by verskeie geleenthede amptelik aan Barrie geskryf en horn gewaarsku dat hy hom nie by die reëls aangaande geheime korrespondensie soos deur die Eerste Minister se kantoor neergelê hou nie. Byvoorbeeld, Barrie het briewe aan my aangaande geheime projekte geskryf wat nie “vertroulik” gemerk was of in dubbel-koeverte geplaas was soos vereis word nie. Dit was nêrens in ’n register aangeteken nie maar is eenvoudig op my sekretaresse se lessenaar neergegooi indien sy nie in haar kantoor was nie.
Aan die begin het Barrie volgehou dat hy slegs in reise van amptenare in die buiteland belanggestel het. Hy het dr. Mulder, generaal Van den Bergh, myself en ander amptenare verseker dat hy “geensins belangstel” in ons geheime projekte nie, slegs in reis- en verblyfkoste van amptenare. Maar hy het nie reise van amptenare, seifs op geheime sendings as geheim beskou nie. Selfs in besoeke aan lande soos Egipte en sekere Afrika-State het hy volgehou dat die reis-aspek op sigself nie geheim was nie. Toe daar aan hom verduidelik is dat uit ’n begrotingsoogpunt, alle reise wat met ’n spesifieke projek verband hou asonderdeel van uitgawes vir daardie projek aangeteken moes word, wou hy steeds nie aanvaar dat die reis-gedeelte deur geheime fondse gedek moes word nie. Hy het geen redes verskaf nie. Later, in Februarie 1978, is hy in hierdie saak direk deur mnr. Vorster, voor generaal Van den Bergh, dr. Connie Mulder, dr. D.O. Rhoodie en myself daarop gewys dat hy verkeerd was.
Dit het later duidelik geword dat Barrie vir dr. Mulder, generaal Van den Bergh, myself en Braam Fourie mislei het toe hy gesê het dat hy slegs in reis- en verblyfkostes belangstel. Volgens sy eie handgeskrewe en getikte verslae aan mnr. Vorster van Julie en Augustus 1977, het hy in besonderheid op verskeie projekte van die Departement ingegaan. Maar omdat hy net die helfte van die storie geken het, en geweier het om met my te beraadslaag, was sy verslag aan mnr. Vorster onbekook en misleidend. Dit is veelseggend dat mnr. Vorster wel van die feite bewus was, maar dat hy nie probeer het om Barrie reg te help nie, byna asof hy so ’n verslag wou ontvang.
In Julie 1977 het ek met vakansie na Europa saam met my kinders gegaan. Ek het aan Barrie gesê dat ek met plesier sou agterbly en hom help om sy ondersoek af te handel en dadelik my besprekings sal kanselleer. Barrie het egter voor dr. D.O. Rhoodie, Les de Villiers en Braam Fourie aan my gesê dat dit geheel en al onnodig was.
“Nee wat”, het hy gesê, “ek doen maar net ’n deeglike oudit oor reisaspekte. Jy hoef nie daarvoor hier te wees nie”.
Dit was die tweede leuen wat hy aan my vertel het.
Vervolg...