Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons rus nie omdat ons werk klaar is nie maar omdat God ons beveel het om dit te doen en ons geskep het om dit nodig te hê; daarom moet jy ses dae werk maar op die sewende dag moet jy rus, of dit nou ploegtyd of oestyd is.
DIE WARE INLIGTING- SKANDAAL (24)
Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
Die doel met die plasing van hierdie inligting oor die destydse Inligtingskandaal is om die leser perspektief te gee oor hoe Suid-Afrika tot by die haglike verval van 'n swart regering gekom het. Die verraad wat destyds in die kabinet van Vorster, PW Botha, Pik Botha en De Klerk plaasgevind het, nie net teenoor ons Boerevolk nie, maar ook onder en teenoor mekaar in die parlement, getuig van hul veragtelike motiewe en handeling.
VERMORSING VAN GELD - vervolg
In retrospek het enkele van die geheime projekte inderdaad nie die resultate opgelewer wat ons verwag het nie. In verskeie ander gevalle het ons nie ons doelwit bereik nie. Sommige is nooit eens begin nie.
In verskeie gevalle het ons foute gemaak in die mense wat ons gekies het; of ons beplanning het nie vir die probleme wat later opgeduik het voorsiening gemaak nie. Hierin is ek so skuldig soos enigiemand anders. Maar weer eens, soos ek tevore aangedui het, is dit nie die volle verhaal nie.
Daar is ook sekere mislukkings waarop ek spesifiek aandag wil vestig omdat hulle uiters betekenisvol by die beantwoording van die vraag is: Wie het van wat geweet? Hulle is ook belangrik vanweë die beginsel van “kollektiewe verantwoordelikheid” wat die vorige kabinet van die Nasionale Party onderskryf het. In latere hoofstukke sal ek die bevindinge van die Erasmus-Kommissie in hierdie verband behandel, maar sekere ander projekte moet op hul eie ondersoek word omdat hulle “verkwisting van geld” behels het.
Daar is ander projekte wat bloot ’n teleurstellende wending geneem het. Die feit dat die Vorster-regering aan die slaap was toe Sjina se houding teenoor die Weste begin verander het was een. Vir mense wat oormatig streng in hul ideologiese opvattings is mag dit miskien vreemd klink, maar as mens verby die enger belange van die Nasionale Party na die strategiese posisie kyk waarin Suid-Afrika homself met betrekking tot die groot moondhede van die wêreld moes geplaas het, dan was dit sekerlik teleurstellend vir my.
Die bevryding van Sjina uit sy dertig-jaar lange isolasie, ’n isolasie wat deur die Weste ingestel is, veral deur die Verenigde State in die (vergeefse) hoop dat dit verandering in Kommunistiese Sjina teweeg sou bring, was vir die hele vrye wêreld bemoedigend. Hierin lê ’n les vir die Weste opgesluit in soverre dit Suid-Afrika aangaan. Dit was meer en herhaaldelik kontak tussen die Weste en Sjina wat die eerste betekenisvolle verandering in Sjina teweeggebring het en tot die vernietiging van die Maoistiese beginsels gelei het, nie meer en groter isolasie nie.
Omstandighede in Sjina en Suid-Afrika was en bly natuurlik oneindig verskillend. Die een is ’n totalitêre kommunistiese stelsel, die ander ’n beperkte demokrasie wat probeer om ’n vrye-ekonomie aan te moedig - alhoewel die staat meer sosialisties is as wat dit graag wil erken. Maar net ’n dwaas sal beweer dat verandering in Suid-Afrika onwelkom is en hoewel verandering nie noodwendig verbetering beteken nie, sal min mense ontken dat veranderinge in sportbeleid, in die sosio-ekonomiese peil van die Swartman, Kleurling en Indiërs en die afskaffing van vernederende rasse wetgewing, nie die kwaliteit van ons lewe verbeter of die politieke-temperatuur tussen die rasse verlaag het nie. Juis omdat hulle dit sien gebeur het, het die ANC, Moskou se strooipoppe, hulle aanslae op die burgerlike bevolking verhoog met die doel om ’n Wit-teenreaksie uit te lok.
As die Weste dus nut in meer en volgehoue kontak met Sjina sien sal hy dit uiteindelik ook ten opsigte van Suid-Afrika aanvaar.
Ek het frustrerende ure spandeer in argumente met die top echelon in die administrasie en in die politiek oor die noodsaaklikheid van hegter bande met Israel, maar net die gesamentlike aandrang van dr. Connie Mulder en generaal van den Bergh het mnr. Vorster daartoe gebring om my magtiging te gee om ’n hoë-vlak, geheime ontmoeting in Suid-Afrika te reël en later vir ’n spitsberaad met Eerste Minister Rabin van Israel. Wat in die geval van Israel gehelp het is dat Vorster eers nie geglo het dat ek samesprekings tussen horn en die belangrikste Presidente van die Franssprekende Afrika-State kon reël nie. Maar op die ou end het ek gedoen presies wat ek belowe het.
Wes-Afrika en Israel was een ding - Rooi Sjina was ’n perd van ’n gans ander kleur.
Ek het aangevoer dat as Amerika kontak met Sjina kon bewerkstellig dan kan Suid-Afrika dit ook doen. “Vir dertig jaar was die hele Amerikaanse buitelandse beleid in die Verre-Ooste op die totale isolasie en selfs die uitwissing van Rooi-Sjina gebaseer”, het ek aan dr. Mulder gesê. “Skielik het ons detente tussen die VSA en Sjina. Kissinger en Nixon se meesterwerk van detente met Sjina gaan die geskiedenis van die wêreld verander. Indien die Sjinese eers eenmaal ingegee het en hulle verhoudinge met die Weste begin normaliseer, dan is enigiets moontlik”.
In die Verenigde State en in Frankryk het hoë-vlak diplomatieke en politieke kontakte met wie ek vriende gedurende my lang jare in die buiteland geword het my ’n ernstige wenk gegee dat die Sjinese die standpunt gaan inneem van: “My vyande se vyande, is my vriende”. Omgekeerd moes ons standpunt gewees het dat ons vyand (Rusland) se vyand (Sjina) ons vriend behoort te wees. Die Sowjet-bedreiging in Afrika, veral na die ontplooiing van die Kubaanse soldate in Angola in opdrag van Rusland, het bewys dat die vernaamste gevaar vir Afrika nog altyd in Moskou gesetel was. In vergelyking met die Russe het die Sjinese vir jare ’n baie lae profiel in Afrika gehandhaaf. In Zurich het bankiers van Oman, Jordanië en Saoedi-Arabië aan my gesê dat die meerderheid van die Midde-Oosterse state ook die Russe as die ware bedreiging sien, veral in Oos-Afrika en die Horing van Afrika.
Ek het teenoor generaal van den Bergh voorgestel dat Suid-Afrika munt uit die nuwe standpunt van Sjina moet slaan. Mnr. Vorster het, kenmerkend van hom, gesê dat ons vir die huidige niks moet doen nie. Dr. Mulder was egter meer vasberade dat Suid-Afrika wel iets omtrent die saak moes doen. Mnr. Vorster, hoewel later nie geheel-en-al teen die idee gekant nie, het steeds onseker gevoel - of politieke uitinge in Suid-Afrika ten gunste van kontak met Sjina nie ’n ongunstige uitwerking op die kiesers en op ons verhoudinge met Taiwan mag hê nie. Beide Dr. Mulder en ek het gevoel dat die Weste en ons sogenaamde bondgenote by soveel geleenthede Suid-Afrika onder die agterstel geskop het, dat ons weinig kon verloor deur die land in ’n meer neutrale rigting in die wêreld-politiek te stuur. Ons het ook net die daarstelling van “kontakte” in gedagte gehad, nie die oorskakeling van ons missie van Taiwan na die vasteland van Sjina nie. Ons het ook gevoel dat as Buitelandse Sake kontak met sulke moordenaars soos Jean Bokassa van die Sentraal Afrikaanse Republiek kon aanvaar dat hulle nie oor Sjina ongelukkig kan voel nie.
Mnr. Vorster het uiteindelik aan dr. Mulder sy sin gegee en hy het ’n paar van Confucius se geliefkoosde gesegdes tydens debatte in die Parlement kwytgeraak. Die politieke-opposisie en hulle pers het onmiddellik ’n ophef daarvan gemaak. In die Afrikaanse pers was dit, soos verwag kon word, die anti-Mulder, anti-Noorde koerant, Beeld, wat die grootste lawaai gemaak het.
Natuurlik het dr. Mulder slegs ’n vlieër laat opgaan, maar terselfdertyd het hy alreeds belangrike inligting gehad waaraan hy kon oordeel dat my opsomming nie so ver uit die kol was om dit belaglik te maak nie.
Deur middel van ’n Pretoriase geneesheer wat, via Kanada, kontakte in Sjina gehad het en ook deur dr. Chris Barnard, wat vooraf op verkenning uitgegaan het, kon ek vasstel dat Sjina destyds inderdaad in ’n nuwe verhouding met Suid-Afrika belanggestel het. Ek het Chris Barnard en sy vrou Barbara gevra om op ons koste na Holland te gaan waar hulle ’n maaltyd saam met die Sjinese Ambassadeur aan die huis van ’n bekende Hollandse koerantredakteur geniet het. Die aangeleentheid van ’n besoek van die
Barnards aan Sjina is bespreek. ’n Soortgelyke bespreking het in Ottawa, Kanada, plaasgevind. Beide Ambassadeurs het onderneem, sonder om hulself te verbind, om ’n boodskap na Peking te stuur.
’n Paar maande later het ek ’n boodskap uit Den Haag en Ottawa ontvang om, oor presies agt weke, ’n teken van Peking by wyse van ’n verklaring wat na die Kaapse Seeroete sal verwys, te verwag. Presies agt weke later het dit gekom: ’n Verklaring van Sjina se Minister van Biuitelandse Sake dat die Sowjet-Unie se belangstelling in Suid-Afrika nie die politieke omstandighede van die Swartes was nie maar die land se strategiese minerale en metale en die seeroete om die Kaap. Ek het generaal van den Bergh oorgehaal om mnr. Vorster te sien en sy goedkeuring te kry vir die reëling van die Barnards se besoek aan Sjina, asook die van my vriend in Pretoria. Vorster het geskerm en onder druk, uiteindelik geweier. Die Sjinese wat op ons antwoord gewag het, het niks gehoor nie. Die laaste boodskap wat ek in 1978 ontvang het, was dat hulle voel dat hulle afgejak was en “gesig verloor” het.
Na my aftrede in 1978 het ek in ’n brief aan ’n Britse joernalis my siening van Sjina soos volg uiteengesit: “Ons het gedink dat Rooi-Sjina nie ’n natuurlike bondgenoot van die Russiese Imperialisme uitgemaak het nie. In vergelyking met Rusland, en logisties gesproke, was Sjina ’n ondergeskikte bedreiging.
Volgens die geskiedenis het Sjina dit geografies selde buite haar eie grense gewaag, terwyl die Russiese ekspansionisme deur enigeen gesien kan word.
Ons het ook gedink dat ’n mens nie weer eens ons eie Departement van Buitelandse Sake se een-dimensionele benadering ten opsigte van Taiwan en die Sjinese vasteland moes navolg nie; die gedagte was dat dit moontlik sou wees om vriendskaplike verhoudinge met albei te handhaaf. In geval ’n skiet-oorlog tussen die twee Verre-Oosterse lande sou uitbreek sou ons skaars ’n militêre faktor kan wees. Aan die ander kant sou ekonomiese bande met Rooi-Sjina groter moontlikhede vir Suid-Afrikaanse uitvoere open met ’n indirekte gunstige uitwerking op ons pogings om die ontwikkelende Swart bevolkingsgroepe in die Republiek ekonomies op te hef. Dit kon ook baie daartoe bydra om ons hand in die spel van internasionale politieke alliansies te versterk. Soos gewoonlik het mnr. Vorster met sy gebrek aan historiese visie ’n passiewe rol gespeel en dit aan Connie Mulder oorgelaat om die pas aan te gee.
Dr. Mulder het begin om in sy openbare- en Parlementêre toesprake ’n paar vlieers oor Rooi-Sjina te laat oopgaan. In die lig van die nuwe leierskap se standpunt dat Suid-Afrika ’n meer neutrale posisie tussen die Ooste en Weste moet inneem, is dit ironies om te sien hoe seksies van die Afrikaanse pers vir Connie Mulder probeer afhaal. Ten einde hulle politieke base te rugsteun moet hulle natuurlik probeer om Mulder in alle opsigte af te takel. Ek is daarvan oortuig dat indien mnr. Vorster nie so ’n gemors van die Inligtingsaangeleentheid gemaak het nie, ons die deure na Rooi-Sjina sou kon oopmaak.
Ons het alreeds kontak met hulle gemaak, met positiewe reaksies, en ’n hoëvlak besoek aan Sjina was reeds ter sprake gebring”.
In 1980 is ek reg bewys.
In sy strewe na globale eenheid om verdere Sowjet-agressie soos met die inval in Afghanistan teen te werk het die Sjinese beleid van “my vyande se vyande, is my vriende”, versterk na een van “alle anti-Sowjet volke is broers".
Sjinese kundiges in Hong Kong, wat gereelde politieke verklarings uil Peking monitor, het in 1980 gerapporteer dat Sjina Suid-Afrika in die toekoms aan sy internasionale gedrag sou beoordeel byvoorbeeld, sy houding teenoor Angola, Mosambiek, Namibië en Zimbabwe. Sjina se oorheersende siening van Suid-Afrika was dat die seeroete in die hande van ’n sterk anti-Sowjet staat moes bly en dat Rusland nie uiteindelik beheer oor die minerale rykdom van Suid-Afrika moes verkry nie.
Ek is steeds oortuig dat indien Suid-Afrika die voorsprong en kontakte wat opgebou is opgevolg het, dit die land in staat sou gestel het om handelsbetrekkinge met Sjina aan te knoop sonder om op enige wyse die diplomatieke bande met Nasionalistiese Sjina (Taiwan) in gevaar te stel. Terselfdertyd sou dit ’n verdere waarskuwing aan Moskou gerig het dat opposisie teen Sowjet imperialisme oor die aardbol strek en lande met uiteenlopende politieke sieninge verenig.
Vervolg...