Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mense is baie veiligheidsbewus. Polisse, versekering en aftreeskemas is aan die orde van die dag. Voorsorg is beter as nasorg. Desondanks word weinig voorsorg vir die lewe na die dood getref. Voor die dood wel, maar nie daarna nie. Waarom? Omdat baie mense nie aan ‘n lewe na die dood glo nie. Om nie daaraan te glo nie, is om nie aan God te glo nie. En dis dwaas! Wie aan God glo, glo ook aan ‘n lewe na die dood en moet voorsorg tref deur Jesus - deur bekering - as Verlosser te leer ken.
DIE WARE INLIGTING- SKANDAAL (23)
Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
Die doel met die plasing van hierdie inligting oor die destydse Inligtingskandaal is om die leser perspektief te gee oor hoe Suid-Afrika tot by die haglike verval van 'n swart regering gekom het. Die verraad wat destyds in die kabinet van Vorster, PW Botha, Pik Botha en De Klerk plaasgevind het, nie net teenoor ons Boerevolk nie, maar ook onder en teenoor mekaar in die parlement, getuig van hul veragtelike motiewe en handeling.
VERMORSING VAN GELD?
"Mnr. Vorster sou nie nodig gevind het om die kwessie van moraliteit te betwis nie. Die 'volkswil' is meer belangrik as moraliteit — ten minste in Suid-Afrika. Apartheid is die beste voorbeeld daarvan. Dit is moreel aanvegbaar maar vir miljoene blankes is dit ’n lewensbelangrike beskermingsfaktor wat in plek gehou moet word."
Die vyf-jaar geheime program vir 1974-1979 sou, versprei oor hierdie tydperk, ’n bedrag van R75 miljoen vereis. Dit het die R6 miljoen ingesluit wat die Kabinet vir The Washington Star projek goedgekeur het en ook die uitgawes aan die subskripsie vir 30 000 eksemplare van die internasionale uitgawe van To The Point.
Ek het tot dusver, so kortliks moontlik, die motiewe vir verskeie projekte geskets, hoe dit uitgevoer is en wat dit gekos het. Natuurlik nie almal nie, want sommige is nog in werking en moet (om mnre. Vorster en P.W. Botha aan te haal) in die “nasionale belang” voortgaan terwyl ander wat in belang van die militêre sekuriteit van die land onderneem is nooit onthul mag word nie.
Toe Pik Botha die Kabinet se goedgekeurde aanval op Connie Mulder en myself deur middel van Rapport geloods het, het joernaliste van dieselfde koerant aan my gesê dat die Kabinet hierdie stap geneem het om die inpak wat Les de Villiers se boek, Secret Information op lesers gehad het, af te stomp.
Rapport het verskeie volblad uittreksels uit die boek gepubliseer en die Eerste Minister het gevoel dat dit by lesers die indruk mag skep dat dr. Mulder en Kie tog iets goeds vir Suid-Afrika gedoen het. Dit kon nie verdra word nie. Rapport het ’n lang onderhoud met Pik Botha gepubliseer waarin hy, onder andere, sy voorbereide aantygings dat die hele program ’n vermorsing van geld was, die wêreld in gestuur het.
Pik Botha het verder as net hierdie beskuldigings gegaan. Hy het my ook bestempel as “’n verbeeldingryke amateur”. Dit is nogal ’n taamlike groot beskuldiging teenoor jou kollegas in die Kabinet wat destyds eenparig besluit het om die “amateur” as die Hoof van die Departement van Inligting aan te stel. Maar indien ek ’n “amateur” was, wie en wat is dan ’n “professionele” Inligtingsman? Ek het 22 jaar in Inligting gewerk, meer as 14 jaar in die buiteland, op vier vastelande. Ek het verskeie boeke oor Suid-Afrika in ’n internasionale konteks geskryf wat, uit alle oorde, nogal hoe lof ontvang het bv. Die Burger, die SAUK, Professor Charles Manning van London Universiteit, Beeld, die beroemde Britse skryfster Elspeth Huxley, Professor Stefan Possony van die Hoover Instituut in California, Prof. F.A. van Jaarsveld, Generaal S.L. Marshall van die VSA en talle ander. Die opposisie-pers het destyds geskryf dat ek ingebring was om aan die Departement “’n meer professionele aansig” te gee. Die Afrikaanse pers het dieselfde gesê. Maar nadat hierdie “amateur” weg is, wie het mnr. Pik Botha in sy plek as Hoof van Inligting aangestel? ’n Man wat nooit sy land in die buiteland gedien het nie, nooit as joernalis of redakteur gewerk het nie, geen radio- of televisie-ondervinding gehad het nie, wat nooit ’n enkele politieke boek oor Afrika of Suid-Afrika geskryf het nie, wie se vernaamste kragte daarin gelê het dat hy in die administratiewe vertakking van verskeie Departemente gewerk het. Is dit mnr. Botha se begrip van “professioneel” wanneer dit by Inligtingsake kom?
Mag die hemele Suid-Afrika daarvan bewaar dat mnr. Pik Botha ooit Eerste Minister word. Sy Kabinet sal seker Retief van Rooyen as Minister van Inligting insluit.
Wat my verbeelding betref, ja. Ek erken dat ek ’n “ryk” verbeelding het en ek bid dat dit vir altyd so sal bly. Indien die politici wat ons land regeer ’n bietjie meer verbeeldingskrag gehad het, sou ons nou, na 36 jaar van Nasionale Party Regering in ’n aansienlike beter toestand gewees het. Natuurlik kan ’n mens nie die kwaliteit van jou eie verbeelding beoordeel nie, maar ten minste een van mnr. P.W. Botha se getrouste adviseurs, Generaal Hein du Toit, nou professor in Nasionale Strategie aan RAU, het in 1981 geskryf: “Ek het groot, waardering vir sommige, dikwels briljante idees van dr. Rhoodie”. So, daar is darem hoop vir my!
Pik Botha se aanval in Rapport het gewemel van veralgemenings en mank gegaan aan feite. Die meriete van die projekte het nooit ter sprake gekom nie.
Ná Pik Botha se mening, en dié van die regering, was die hele program ’n totale mislukking. ’n Skadelike poging.
Hierdie aantygings is skendend en persoonlik lasterlik. En ek wil verder aantoon dat hulle ook kwaadwillig en onwaar is.
Tot nou toe kon die publiek, sekerlik die lesers van Rapport en ander koerante, nie seker wees of Pik Botha reg of verkeerd was nie. Daar is nie genoegsame feite, of selfs ’n algehele oorsig, oor die projekte aan hulle verskaf nie sodat hulle darem hul eie afleidings kon maak. Maar as die voorafgaande hoofstukke versigtig (en onpartydig) gelees word, dan sal enige regverdige en objektiewe persoon Pik Botha se aanval op ons pogings herken as blatante immorele politiek en ’n voortsetting van die regering se versigtig-beplande veldtog (deur middel van die pers en ander staatsinstansie) om die pogings van Mulder-Rhoodie (en generaal van den Bergh) in diskrediet te bring.
Ander lande in die wêreld het en gaan voort om die dinge te doen wat ons probeer het, maar net op ’n baie groter skaal. In die lig van Suid-Afrika se toenemende isolasie en wankelrige posisie gedurende die sewentiger-jare was die geheime inligtingsprogram ’n noodsaaklike onderneming in landsbelang.
Om die program globaal as ’n verkwisting van geld af te skryf wat geen resultate gelewer het nie is nie net feitelik onjuis nie, maar weerspieël ook Pik Botha se politieke sinisme en skynheiligheid. Om die waarheid te sê, die aard van sy aanval dui daarop dat hy in die opsig nie veel beter as die ANC, die Kommuniste en die anti-Apartheids-organisasies in Londen is nie en teen wie hy en sy amptenare oor hulle onbeskaafde en onbewese aanvalle op Suid- Afrika met reg te velde trek. Natuurlik, nie alle Suid-Afrikaners is so onnosel soos wat Pik Botha dink hulle is nie. Nou het hulle in hierdie boek basiese feite waarop hulle mnr. Botha se rekenkunde kan takseer. Nou sal hulle ook kan verstaan waarom die Daily Express in Londen geskryf het dat Suid-Afrika soms dinge moet doen wat moreel afkeurenswaardig is, maar noodsaaklik ten opsigte van oorlewing. Hulle sal ook kan verstaan waarom een van die grootste koerante in Israel destyds geskryf het dat indien ek vir enige land behalwe Suid-Afrika gewerk het, ek ’n kandidaat was vir die medalje vir die mees arbeidsame staatsamptenaar!
Hoe uiters openbarend ook is die feit dat lank nadat dr. Mulder en ek vertrek het, mnr. Pik Botha en sy Departement nog voortgaan om van die verskeie apparate wat ons tot stand gebring het gebruik te maak. Byvoorbeeld, hulle het ’n verdere R320 000 aan The Church League of South Africa spandeer, meer as wat ons in enige jaar aan die organisasie gegee het. Hulle het voortgegaan om Gerd Hennenhofer te gebruik om Suid-Afrikaanse Parlementslede na Duitsland te bring. Hy het Sydney Baron se kontrak in New York vir 1979-1980 hemu. Hulle het voortgegaan om in die geheim ’n tydskrif wat dr. Mulder en ek in 1973 begin het om Frans-Suid-Afrikaanse betrekkinge te bevordor te finansier. Hulle het voortgegaan met beleggingsseminare in die buiteland. Die kontrak met Heinz Behrens is in Duitsland hernu. Mnr. Botha het nie net een nie, maar twee lobbyiste in Washington aangestel, teen dubbel die koste vir die Suid-Afrikaanse belastingbetaler. Natuurlik glo ek dit is ’n goeie ding, maar dan moet ’n mens nie terselfdertyd iemand anders, wat dieselfde gedoen het, van geldverkwisting beskuldig nie. Dit is nie goeie strategie nie, inteendeel, komende van ’n man wat homself na net ’n jaar in die Kabinet as geskikte materiaal gesien het om die Eerste Minister van Suid-Afrika te word, is dit uiters onverantwoordelik om nie eens van die immoraliteit daarvan te praat nie.
Om ’n prys-etiket aan die program te hang, asof dit ’n stuk masjinerie is wat op die Randse Paasskou verkoop word, is normaalweg onsinnig, want ’n mens kan nie welwillendheid in terme van geld waardeer nie, net so min as wat jy 'n tydsbeperking aan die duur van daardie welwillendheid kan stel. Dr. Hilgard Muller en Dr. Koornhof het in 1977 verslaggewers in Kaapstad na IPSA so internasionale kongres oor tussen-groep akkomodasie meegedeel dat "die positiewe resultate van die konferensie sal bly deurwerk lank nadat die konferensie self vergeet is”. Dit is jammer om dus na Pik Botha se vlak to moet daal en prysetikette aan projekte te hang. Ongelukkig is dit nou noodsaaklik en onvermydelik aangesien Pik Botha nie die publiek van Suid-Afrika in sy vertroue geneem het nie en omdat al die jare van desperate harde werk wat aan die program gewy is, wel tasbare resultate opgelewer het en wat verdedig moet word.
Sommige programme het baie duisende Rande gekos en kan nooit beoordeel word of hulle ’n sukses of mislukking was nie; ander kan wel gekontroleer en ge-evalueer word.
Onder ons projek G.61 (deur die P.W. Botha administrasie herdoop tot TRAM 3/6/58) is sowat R250 000 aan die Afrika-diens van Radio Suid- Afrika beskikbaar gesstel om kassetopnames en radio-programme wat in Johannesburg opgestel is, na dosyne lande in Afrika te stuur. Te oordeel aan die duisende briewe wat ingekom het, was dit die moeite werd, veral as ’n mens in gedagte hou dat net om ’n brief uit die meeste Afrika-State na Suid-Afrika te kry, op sigself geen geringe prestasie was nie. Of het die SAUK gereken dat hulle deelgeneem het aan ’n vermorsing van geld? Indien wel, waarom het hulle dan jaar na jaar na ons teruggekom om meer geld vir dieselfde program te vra?
Waarom het Mnr. Botha dan voortgegaan om die geld aan hulle te gee, soos wat hy in die Parlement erken het?
Die waarde van mnr. William Simon se toespraak by die Rye (town) konferensie in die VSA (deur mnr. Pik Botha bygewoon) is deur dr. Gerhard de Kock, Goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, op sowat R25 miljoen geskat. Om mnr. Simon as spreker te kry het ’n betaling van slegs $10 000 geverg. Ek sou sê dit was geen verlies nie, maar ’n uitermate groot wins.
Met inagneming van hoe belangrik goeie verhoudinge met Wes-Duitsland vir Suid-Afrikaanse sakemanne is, is die Hennenhofer projek wat mnr. Botha die afgelope jare steeds gebruik het sekerlik ’n paar miljoen werd?
Die besluit van presidente van maatskappye in die VSA om met Gary Player te kom gholf speel om sodoende eerstehandse indrukke oor toestande in Suid-Afrika op te doen en om nie hulle beleggings uit die land te onttrek nie moet, konserwatief bereken, sowat R350 miljoen werd wees.
Om George Meany oor te haal om nie die AFL-CIO in ’n boikot van Suid-Afrikaanse skepe en vliegtuie te lei nie, is seker nog meer werd. Die aflasting van die voorgenome staking in Brittanje teen die hantering van pos na Suid-Afrika, was seker ’n paar miljoen werd.
Op die ou end kan ’n mens ’n oorweldigende sterk saak uitmaak dat die program honderde miljoene Rand werd was en dat dit skade aan Suid-Afrika tot meer as ’n biljoen Rand voorkom het.
Mnr. Pik Botha het gesê dat ons program net skade aangerig het. Dit hang alles net van u eie sienswyse af en wat u van ons verwag het. Maar ’n mens moet baie min verstand hê indien jy nie kan insien nie dat die voorbeelde wat ek aangehaal het, in eie reg, groot suksesse was of minstens uiters noodsaaklik was. Daar is baie meer voorbeelde wat genoem kan word.
Was die miljoene wat aan To The Point bestee was vermors?
Hoe kan ’n mens dit vasstel? Sekerlik net deur ’n vraelys aan elke leser voor te lê om hom te vra of sy kennis en begrip van verwikkelinge in Suid-Afrika deur die lees van To The Point verbeter is. Te oordeel aan die briewe wat die tydskrif deur die jare van prominente persone oral oor die wêreld ontvang het, sakelui, Lede van die Parlement, akademici, kerkmanne, studente, ens., begin mnr. Pik Botha dit baie moeilik vind om sy aanklag te bewys.
Wat van die produksie van die Zulu rolprent Udeliwe wat Hoofminister Gatsha Buthelezi soveel waardeer het? Het dit tot beter gesindhede bygedra dat die Zulu Koning uiteindelik iets in sy eie taal op die silwerdoek kon sien?
Hoe voel die N.G.-kerk oor die R151 300 wat ons aan die kantoor van dr. O’Brien Geldenhuys (Ekumeniese Verhoudinge) voorsien het om die Wêreldraad van Kerke te beveg? Die top echelon in die N.G.-Kerk het hiervan geweet. Dit het vir jare aangehou. Het dr. Gericke, dr. Snyman, dr. Kobus Potgieter en ds. Koot Vorster geglo dat hulle geld van die Suid-Afrikaanse regering geneem het en dit toe verkwis het? Is dit ook hoe professore Van der Walt en Hennie Coetzee van Potchefstroom voel oor die gelde wat hulle van ons ontvang het? Of Professor Charles Nieuwoudt van die Universiteit van Pretoria en sy Instituut vir Strategiese Studies? Ek het nie gehoor dat een van hulle die werk wat hulle gedoen het as ’n verkwisting beskryf het nie. Hulle het sekerlik nooit gehuiwer om die geld te neem nie. Hoe jammer tog dat hulle nie die moed van ’n Gary Player gehad het nie om na vore te kom en te sê dat hulle trots voel op hulle deelname aan die program. En wat van dr. Tommy Muller, Werner Ackermann, dr. Jan Hurter, Jan Pickard, Aaron Beare, Raymond Ackermann, Piet Liebenberg en Gerry Muller - hulle het tog almal geweet waar die fondse vandaan gekom het en waarvoor dit gebruik was. MnreMuller, Liebenberg en Hurter is bankiers van formaat. Het hulle bewustelik aan ’n verkwisting van geld deelgeneem?
Mnr. Pik Botha, mnr. P.W. Botha en selfs Regter Erasmus het gesê dat die Instituut vir die Studie van Plurale Samelewings aan die Universiteit van Pretoria sulke goeie werk gedoen het dat hulle die voortsetting van finansiële ondersteuning aanbeveel het. Laat dit nie mnr. Pik Botha klink, in Rooihuidtaal, na bleekgesig-praat-met gesplete-tong nie?
Landingsregte vir SAL in die Seychelle-eilande?
Hoeveel meer betaal SAL en hoeveel ekstra brandstof gebruik dit wanneer dit elders moet uitkyk op pad na Hong Kong? Ons program het baie minder gekos as wat sommige mense in ons Departement van Verdediging bereid was om in die Seychelle (met kol. Mike Hoare se mislukte staatsgreep) te waag, en niemand het gesneuwel nie. Ons het net sonbrand opgedoen.
The South African Freedom Foundation? Het mense soos Gerrie Muller van Nedbank, Raymond Ackermann en ander top sakemanne geglo dat hulle geld met die projek verkwis het? Indien wel, dan vind ek dit vreemd dat ’n hardkoppige sakeman soos Raymond Ackermann, na die groot Inligtingskandaal gesê het dat hy nie die werk van die stigting tot niet sou laat gaan nie en op die daad voortgegaan het om dit self te borg.
Donald de Kieffer, eertydse medewerker en tans ’n Reagan adviseur oor internasionale handel: Is Pik Botha, is enigeen in die Regering bereid om te sê dat die R900 000 wat tussen 1974-1978 aan de Kieffer en sy regsfirma betaal is, ’n verkwisting van geld was? Natuurlik nie! Pik Botha was wel drie jaar gelede bereid om dit te sê toe hy eh sy adviseurs verkeerdelik geglo het dat Ronald Reagan ’n “geen-hoop-regsgesinde” was, soos ’n voormalige Ambassadeur in Washington aan my gesê het. Noudat De Kieffer ’n Reagan raadgewer is, het Pik Botha skielik ontdek dat hy nie ons geld verkwis het nie!
Hierdie soort ommeswaai word politieke moraliteit genoem - wat altyd afstootlik is, maar te meer so wanneer dit deur mense toegepas word wat andere aanval. Toe Don de Kieffer in 1983 na Suid-Afrika gekom het, het Pik Botha alles gedoen behalwe om sy hand te soen. Dit was, om die minste te se, ’n volte face aan die kant van Botha genoeg om mens mislik te maak.
Wat van die groot publisiteit in die pers oor pro-Suid-Afrikaanse resolusies wat deur die hoofbestuur van The American Legion na hulle besoek aan Suid-Afrika aanvaar is? Die Legioen het ’n lidmaatskap wat miljoene beloop. Mnr. P.W. Botha kan aan Generaal Neil Webster vra wat hy van die status en belangrikheid van die Legioen dink. Wie het eerste die Legioen se topbestuurders na Suid-Afrika gebring? Sekerlik nie die Departement van Verdediging nie. Ook nie Buitelandse Sake nie. Ons het. Kan Generaal Webster sy verhouding met die Legioen in terme van geld bereken? Natuurlik nie - maar hy sal aan enigeen wat sê dat dit ’n vermorsing van geld is vertel om na die duiwel te vlieg - al is dit ook Pik Botha.
Tydens die Soweto-onluste van 1976 en 1977 het die Departement in noue samewerking met ander regeringsdepartemente verskeie vlugskrifte in die geheim gedruk wat op allerlei maniere onder die Swart bevolking versprei is om die geweld te probeer keer. Soms was dit anti-Kommunistiese propaganda.
By ander geleenthede het ons probeer om die planne van die militantes te ontwrig deur waninligting oor die byeenkomste of die vergaderplekke te versprei. Is enige poging om geweld in Suid-Afrika in toom te hou ’n verkwisting van geld? Die vraag of hierdie gedeelte van ons program ’n verkwisting van geld was, aldan nie, moet eintlik nie aan ons gestel word nie, maar aan die Suid-Afrikaanse Veiligheidsraad wat hierdie program goedgekeur het. Mnr. P.W. Botha en mnr. Pik Botha het op dieselfde Raad gedien toe
die pogings ge-evalueer is. Hulle het saamgestem dat dit moet voortgaan.
Het mnr. P.W. Botha en Generaal Magnus Malan gereken dit is geldverkwisting toe ons die generaals van Suid-Amerika en elders op die Departement van Inligting se koste na Suid-Afrika gebring het? Indien nie, het hulle 'n vreemde stilswye beswaar. Nogtans, om ware verkwisting te bepaal, is tog nie so moeilik nie. By voorbeeld, die rolprente wat dr. Mulder en ek vir die Departement van Inligting vervaardig het, het ’n wye veld gedek; die strategiese Kaapse Seeroete, die gewapende magte van Suid-Afrika; rolprente oor Wet en Orde, oor die strategiese metale en minerale van Suid-Afrika en Suid-Afrika as ’n ekonomiese kragsentrale vir Afrika, om maar ’n paar te noem. Ander het die mosaïek van ons bevolkingstruktuur en ons suksesse op wetenskaplike gebied uitgebeeld. Dit is die ware taak van ’n Inligtingsdepartement. Dit was welbestede geld. Maar deur die vervaardiging van rolprente oor Boesman rotskuns in die Drakensberg, die wilde blomme van Suid-Afrika, die lewe van ’n arend in die Drakensberge, ens. het my voorgangers beslis geld vermors. ’n Eerste-jaar student in politieke wetenskap kan dit uitwerk. Vir Pik Botha behoort dit nog makliker te wees. Die wêreld gaan gebrek aan kennis oor die politieke en ekonomiese feite in Suid-Afrika, nie aan kennis oor die voëls en die blomme van ons land nie.
Het dr. Hilgard Muller en Brand Fourie geld verkwis deur duur diplomatieke poste in Skandinawië en ander lande te vestig terwyl hulle hegter bande met Israel geïgnoreer, selfs teengestaan het? Ek glo dit. Baie ander mense glo dit ook. Enigeen in regeringskringe wat nie ’n idioot is nie, weet dat Suid-Afrika groot voordeel uit sy nouer betrekkinge met Israel, in terme van handel, tegnologie en ander items getrek het. Met inagneming van die eenparige siening in die Suid-Afrikaanse pers (na mnr. Vorster se terugkeer uit Israel) dat dit ’n uiters betekenisvolle “deurbraak” was, sou mnr. Pik Botha graag 'n prysetiket daaraan wou hang? Wat van mnr. P.W. Botha en die Departement van Verdediging? Hoeveel sal dit beloop - meer as R60 miljoen, of minder?
Wat my hartseer gemaak het was die traak-my-nie-agtige stilswye deur Nasionale politici soos Dawie de Villiers, Louis Nel, F.W. de Klerk, A.M. van Schoor, Paul van der Merwe, Dennis Worral, Marais Steyn, om maar net ’n paar te noem, oor dié sake. Hulle het aan programme deelgeneem wat hulle geweet het deur ons in die geheim gefinansier is. Waarom het hulle geweier om op te staan en te sê: “Wag ’n bietjie, mnr. Botha. Die werk wat ek gedoen het was nie ’n verkwisting van tyd of geld nie”. Waarom het hulle dit aaneen man oorgelaat, Hennie van der Walt, tans ’n adjunk-Minister, om op 30 September 1980 in Die Transvaler te sê dat mense moet ophou met hulle vooroordeel.
“Alhoewel daar foute gemaak is, is daar ook baie goeie werk gedoen”. ’n Baie manmoedige standpunt om in te neem, inderdaad ’n standpunt wat die huidige Minister van Polisie, mnr. Louis Le Grange beslis polities lafhartig laat voorkom. Het mnr. Le Grange as Adjunk Minister van Inligting nie self aan die hoof van die hele huishoudelike geheime program gestaan nie? Selfs sommige buitelandse programme? Hoe kon hy die aantygings wat Pik Botha gemaak het aanvaar? Het hy daaraan gedink dat deur so papbroekig te wees hy sy eie persoonlike pogings ook verdoem het, pogings wat hy in amptelike dokumente
as alles behalwe ’n verkwisting van geld beskryf het?
’n Vraag wat ek baie maal in die openbaar en vertroulik die hoof moes bied was of ek die stigting van The Citizen as immoreel, onwettig en ’n verkwisting van geld beskou al dan nie? Dit was sekerlik tegnies onwettig, aangesien die hele geheime program, streng gesproke, ongemagtigd was. Die geld wat bewillig was is sogrier Parlementêre goedkeuring bestee. Dit is egter die verantwoordelikheid van mnr. P.W. Botha en sy voorganger, dr. Owen Horwood en sy voorganger, en van die Vorster-kabinet waarin beide van hulle gedien het toe die fondse goedgekeur is. Indien u die redakteur van The Rand Daily Mail of Beeld is, dan sal u ongetwyfeld sê dat dit immoreel was. Ek sal egter in staat wees om baie mense te vind wat kan aanvoer dat Beeld in sy aanvalle op Rhodesië immoreel opgetree het omdat sy berigte dikwels op onbewese, verdraaide en selfs gefabriseerde materiaal gegrond was. (Die hoofartikel en spotprent in Beeld waarin hulle my van kwaadwillige geskindery oor die SAUK en die Departement van Inligting beskuldig is ’n goeie voorbeeld. Toe Pik Botha my korrek bewys, het Beeld soos die graf geswyg.)
Baie mense sal se dat The Rand Daily Mail se houding teenoor die blanke gemeenskap polities-immoreel is, of was. Ander sal sê dat deur alles wat die Eerste Minister doen klakkeloos na te aap of goed te keur, Beeld, Die Burger en Die Transvaler (onder Wimpie de Klerk) joernalistiek immoreel opgetree het of sekerlik intellektueel-oneerlik was. Die probleem is dat immoreel ’n term is wat Groep A aan ons optrede sal toedig, terwyl die ondersteuners van Groep B dit as goeie taktiek sal beskou. Dit hang daarvan af of jy polities wen of verloor. Meriete is ’n woord wat dan liewers vergeet moet word. Groep A kan net sowel sê dat ’n terroris ’n vryheidsvegter is (solank hy aan hulle kant is) terwyl Groep B hom as ’n moordenaar sal brandmerk.
Die Erasmus-Kommissie het die stigting van The Citizen met Staatsfondse immoreel bevind. Dit is omdat hulle nie hul huiswerk behoorlik gedoen het nie. Hulle het nie die miljoene wat aan To The Point in Johannesburg gegaan het, immoreel bevind nie. S.A. Panorama is ’n algemene foto-nuustydskrif, geheel en al, openlik, deur die belastingbetaler gefinansier. S.A. Panorama dek ’n gebied wat reeds deur privaatondernemings gedek word. Die logiese afleiding is dat indien ons S.A. Panorama in die geheim gefinansier het, dit immoreel sou wees! Die Kommissie het die poging om The Washington Starte koop, nie immoreel bevind nie, want die koerant was buite Suid-Afrika. Is dit dus moreel om lesers in Washington om die bos te lei, maar immoreel om dieselfde in Johannesburg te doen? In die oë van die Erasmus-Kommissie eindig morele oorwegings dus op die oewer van die Limpopo.
Sover dit my persoonlik aangaan was die oogmerke wat ons met die stigting van The Citizen gehad het gesond, positief en moreel. Ek het van honderde Suid-Afrikaners gehoor (wat op hulle beurt van duisende ander gehoor het) dat indien mnr. Vorster die stigting van die koerant op televisie verdedig het die oorgrote meerderheid van die bevolking hom sou ondersteun. Mnr. Vorster sou nie nodig gevind het om die kwessie van moraliteit te betwis nie. Die “volkswil” is meer belangrik in moraliteit — ten minste in Suid-Afrika. Apartheid is die beste voorbeeld
daarvan. Dit is moreel aanvegbaar maar vir miljoene blankes is dit ’n lewensbelangrike beskermingsfaktor wat in plek gehou moet word.
Was The Citizen projek ’n verkwisting van geld? Ek glo nie lesers van die koerant sou saamstem nie en sy merkwaardige groei in leserstal, nadat dit bekend geword het dat die regering die koerant gefinansier het, dui daarop dat tienduisend lesers saamstem. Sou hulle nie andersins eerder op ’n moreel-meerwaardige oggendblad ingeteken het nie? ’n Koerant gebore uit maagdelik-kapitalistiese onskuld soos The Rand Daily Mail?
Vervolg....