Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy hoef nie ander mense se lig uit te doof sodat jou eie gesien kan word nie. Wees eerder 'n held en steek helder lig in die wêreld aan oral waar jy gaan sodat ander mense ook kan sien.
DIE WARE INLIGTING- SKANDAAL (21)
Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
Die doel met die plasing van hierdie inligting oor die destydse Inligtingskandaal is om die leser perspektief te gee oor hoe Suid-Afrika tot by die haglike verval van 'n swart regering gekom het. Die verraad wat destyds in die kabinet van Vorster, PW Botha, Pik Botha en De Klerk plaasgevind het, nie net teenoor ons Boerevolk nie, maar ook onder en teenoor mekaar in die parlement, getuig van hul veragtelike motiewe en handeling
Ek het en wou Charles More se storie net nie vir die waarheid aanvaar nie alhoewel ek geweet het dat sy kontakte in die veiligheids- en inligtingsapparaat van die staat uitermate goed was. Twee weke later is Charles More onverwags oorlede...
’n Week daarna het Katzin met 17 bladsye van Gerald Barrie se geheime verslag op sy tafel gesit.
Die Citizen se geheim is deur net een man geblaas, een van ons geheime medewerkers, advokaat Retief van Rooyen.
In September 1978 het Retief van Rooyen se patriotisme en volksliefde vir hom net te veel geword. Sedert Oktober 1977 het die Pretoria advokaat alles van die geheime Staatsfondse en The Citizen geweet maar nou, ’n jaar later, en net ’n paar dae voor die verkiesing van ’n nuwe Eerste Minister, het sy “vaderlandsliefde” en sy gevoel van “verantwoordelikheid teenoor die volk” breekpunt bereik. Hy en Luyt het die aap uit die mou voor die Mostert- Kommissie gelaat. Die betrokke Kommissie het op daardie tydstip die “vlug” van geld na die buiteland ondersoek en kon geen belangstelling in The Citizen gehad het nie. Retief van Rooyen het ook sy kennis oor The Citizen ongevraagd aan Connie Mulder se politieke opponente gaan verraai.
Toe die bom ná Mostert en P.W. Botha se beweerde “rusie” gebars het wat daartoe gelei het dat Anton Mostert ’n perskonferensie belê het om die geheim van The Citizen aan die wêreld uit te lap, het Jussen en Alberts voortgegaan om die koerant vir nog ’n paar maande te bestuur en dit daarna aan Perskor verkoop.
Alhoewel ek Johnny Johnson, redakteur van The Citizen net een keer ontmoet het, was daar ’n paar goeie vriende van my by die koerant wat bitterlik oor Luyt se eiemagtigheid gekla het. Hulle het ook aan my vertel dat Johnson by verskeie geleenthede gedreig het om te bedank omdat hy nie langer Luyt se inmengery kon verduur nie. Luyt se personeelaanstellings het ons almal omgekrap. Ek het persoonlik, noulettend, enige inmenging vermy. Ek het nooit die redakteur of enige verslaggewer getelefoneer nie. Ek het by minder geleenthede met Aida Parker of ander politieke rubriekskrywers van die koerant gepraat, as byvoorbeeld met Dirk Richard van Die Vaderland of John d’Oliviera van The Star. Aida Parker het my nou en dan, net soos Jaap Theron, by my kantoor kom spreek maar nie meer nie, en ook nie minder nie, as bv. Gerry Reilly van The Rand Daily Mail of John Bums van The New York Times. Ek het geglo dat die koerant goed vaar en dat die styging van die oplaag van zero af tot 70 000 binne agtien maande bewys hiervan was. Dit was nie vir my nodig om die koerant van Pretoria af te probeer beheer nie, of om hoofartikels voor te stel nie. Ek glo nie Johnson en ek het meer as twee of drie keer, in soveel jare, met mekaar gepraat nie. Ons het mekaar slegs eenmaal jare voor die geboorte van The Citizen ontmoet.
Ek is vandag nog oortuig dat indien mnr. Vorster op televisie verskyn en die redes vir die stigting van die koerant met Regeringsfondse verduidelik het, en wat sy ware oogmerke was, die grootste gedeelte van die bevolking hom sou ondersteun het. Indien hy ’n verkiesing uitgeroep het, sou hy selfs nog meer setels verwerf het. Selfs toe hy by sy laaste kabinetsvergadering in Pretoria voorgesit het en die rol van die Departement van Inligting in die stigting van The Citizen verduidelik het, was daar blykbaar net vier Ministers wat gesê het dat hulle nie die beginsel van staatsfondse vir die stigting van ’n nie-politicke dagblad kon ondersteun nie.
Al wat nou moet gebeur is dat die The Rand Daily Mail moet opvou of van gedaante verwissel en dat The Citizen as enigste ware Engelstalige oggendblad moet voortbestaan. Dit sal die opperste ironie wees.
Die Washington Star- Die Vermiste Miljoene
Die ware verhaal van The Washington Star projek is nie net een van teleurstelling en bedrog nie, maar bevat ook die laaste onopgeloste raaisel van die Inligtingskandaal.
Tot hede toe, terwyl ek hierdie boek skryf, het niemand ooit probeer om aan die Suid-Afrikaanse publiek te verduidelik presies waarom die owerheid, wat bereid was om meer as ’n half-miljoen Rand van die belastingbetaler se geld te spandeer om my vir die beweerde verduistering van geheime fondse ten bedrae van R70 000 te vervolg, gepaardgaande met ’n uitleweringsverhoor in Frankryk voor die wêreld-media, geen ware poging aangewend het nie, (sover die publiek of die pers weet,) om John McGoff in die VSA vir die terugbetaling van sowat $7 miljoen aan geheime staatsfondse te vervolg.
Ongeag die regering se motief vir weerwraak teen my (omdat ek dit durf waag het om aan die wêreld te vertel dat hulle gelieg het en ook deel aan Die Groot Inligtingskandaal gehad het), bly dit nog altyd waar dat die Staat wat bereid was om Franse gebied vir R70 000 te betree, nie gewillig was om dieselfde in die VSA vir sowat $7 miljoen te doen nie. Daarbenewens het hulle en hul ondersoek-arm, die sogenaamde Staatstrustraad, tot groot uiterstes gegaan om die feit in die openbaar te betreur dat die “verdwene” McGoff-miljoene “onverklaarbaar” bly. Dit is ’n ware raaisel, want die regering weet net so goed soos ek, presies waar elke sent wat na McGoff gegaan het was, en waar dit op hierdie oomblik is.
My standpunt is dat hulle nie bereid was om enige stappe te doen om die meer as $7 miljoen wat McGoff hou, terug te kry nie, bloot omdat dit hulle polities nie gepas het om dit te doen nie. Daar is geen beter ammunisie om teen hulle voormalige politieke bondgenoot, dr. Connie Mulder en myself te gebruik as om deur die land te kan rondfluister: “daar is nog miljoene Rande waarvan geen rekenskap gedoen is nie - net Rhoodie en Mulder weet waarom.” Dit is alles ’n gemene onwaarheid en immorele politieke optrede.
Ek het daardie fluisteringe gehoor. Talle koerantmanne en -vroue het dit aan my herhaal. Petrovna Metelerkamp van Die Huisgenoot het in Frankryk aan my en Katy vertel dat Nasionale L.V.’s aangesê is om die gerug onder die kiesers te versprei dat daardie miljoene moontlik in ’n geheime rekening van Connie Mulder in ’n Switserse bank is. Dit strook met die gerugte wat die P.W. Botha faksie onder Nasionale Party Koukus lede net 24 uur voor sy verkiesing as Eerste Minister versprei het, dat Connie Mulder twee weke later gedagvaar gaan word om voor Regter Anton Mostert te verskyn vir ondervraging oor die miljoene wat hy, Mulder, in die geheim na ’n persoonlike rekening in Switserland oorgedra het. Twee voormalige Senatore wat lede van daardie Koukus was het dit later aan ons bevestig. Dr. Connie Mulder wag nou nog vir sy dagvaarding, want die hele fluisterveldtog oor miljoene in die Switserse bank is egter Nazi Goebbels taktiek: ’n groot leuen wat oor en oor vertel is in die hoop dat dit later geloofwaardigheid sal versamel.
Ek kan aan u vertel presies wat van daardie McGoff miljoene geword het. Dit sal ook verduidelik waarom ek oortuig is dat John McGoff ons mislei het en ons vertroue gruwelik verraai het. Hy het my sekerlik mislei, soos baie min mense dit ooit gedoen het.
Toe John McGoff in 1968 na Suid-Afrika gekom het, het hy as ’n oortuigde vriend van die land gekom. ’n Man wat oortuig was dat die VSA op die lange duur Suid-Afrika se welwillendheid sou nodig hê; sy strategiese hawens, sy strategiese metale en minerale, sy kapitalisties-georiënteerde industrieë en sy teenkanting teen Kommunisme. McGoff was destyds al ’n redelik welbekende mid-westerse uitgewer en voormalige President van die Michigan Kamer van Koophandel. Hy was ook invloedryk in Republikeinse politieke kringe, veral in die staat waar hy woonagtig was en hy het etlike belangrike kontakte in die Kongres en Senaat in Washington gehad. Hy was welbekend in Israel, was ’n vriend van Koning Hussein van Jordanië en het aansienlike invloed by die staatsuniversiteit van Michigan gehad. Om al hierdie dinge te weet, is om die bose opset te verstaan in aantygings dat McGoff geld in ruil vir sy welwillendheid ontvang het. McGoff het homself alreeds as ’n vriend van Suid-Afrika bewys en het dit vir baie jare gedoen, sonder dat die land hom moes aanspoor, lank voordat enige Suid-Afrikaanse amptenaar hom eens ontmoet het.
Die voorstel dat Suid-Afrika ondersteuning aan John McGoff vir die aankoop van The Washington Star moes verleen (teen ’n totale koste van $25 miljoen) is vroeg in 1974 vir die eerste keer deur Les de Villiers, net na sy terugkeer van ’n besoek aan New York, by ons aanhangig gemaak. McGoff en de Villiers was in 1969 al vriende en toe Connie Mulder en Gerald Barrie in 1971 die VSA besoek het, het hulle McGoff ontmoet. McGoff sou self sowat $15 miljoen bydra, of elders verkry. Die balans van $10 miljoen (destyds ongeveer R6 miljoen) moes deur Suid-Afrika in die geheim bygedra word.
Die motivering vir die projek was iets wat enigeen wat met die politiek in die VSA vertroud is maklik kon verstaan, veral die politiek in Washington D.C. self. Ek het twee jaar in Washington deurgebring en kon geredelik met John McGoff saamstem dat resolusies in die Kongres wat Suid-Afrikaanse aangeleenthede raak, toesprake in die Kongres wat daarop toegespits was om Suid-Afrika aan te val en sy beeld te beskadig, swaar op materiaal wat in The Washington Post gepubliseer was, gesteun het. Elke Kongreslid en Senator het ’n paar assistente wat in Afrika-aangeleenthede spesialiseer en assistente wat op ander terreine spesialiseer. Die leggers van Kongreslede en Senatore het uit hul nate gebars van artikels oor Suid-Afrika wat van die Verenigde Volke, The New York Times, The Rand Daily Mail en The Washington Post afkomstig was. Die meeste was egter materiaal uit The Washington Post. Ek weet, ek het gesien toe die assistente al daardie lêers tydens ons argumente oor rasse-verhoudinge in Suid-Afrika getrek het.
Die artikels wat in The Post verskyn het, het aan ewewigtigheid en perspektief mank gegaan en was dikwels skreiend anti-wit. The Post se korrespondente in Suid-Afrika het in “selektiewe verdraaiings” gespesialiseer, by uitstek op dié van menseregte. Die koerant se kolomme was vir enige amptelike kapsie teen die publikasie van die verdraaide materiaal gesluit. Op ’n keer, toe The Post ’n reeks van ses artikels oor Suid-Afrika aangebied het, was ek genoodsaak om advertensie spasie te koop ten einde die feite reg te stel.
Die fundamentele reg om te antwoord is nie eers aan ons toegestaan nie. In die jare wat sedert 1974 verby is, het die toestande net versleg. Die volgende uittreksels is uit die Maart 1980 uitgawe van A im Report gemaak en wat deur Accuracy in Media, ’n nie-winsgewende instansie in New York gepubliseer is. “Ons opname van items in The New York Times en The Washington Post van 1978 wat menseregte betref, toon dat nie een van die koerante ’n enkele storie oor menseregte in twee van die mees totalitere lande in die wêreld vandag, Albanië en Noord Korea gehad het nie. Aan die ander kant van die skaal, het menseregte in die Sowjet-Unie en Suid-Afrika die meeste aandag in beide The Times en The Post geniet.
The Times het 13 artikels oor ’n enkele wit Suid-Afrikaanse koerantman gehad, wat in die moeilikheid oor sy kritiek op die regering se rasse-beleid beland het, en daarna die land moes verlaat het. Dit was meer as wat oor menseregte in Pole, Bulgarye, Albanië en Hongarye tesame geskryf is en byna soveel as wat die hele jaar oor Idi Amin se Uganda geskryf is! The Washington Post en The Times se verslaggewing oor Suid-Afrika het die verkeerde indruk geskep dat die skending van menseregte grotendeels ’n probleem van die Sowjet-Unie in die Kommuniste-blok en van die blankes se onderdrukking van die swartes in Afrika is. Die beperkte aandag wat aan die massiewe skending van menseregte gegee word in lande van groot belang vir Amerikaners, soos bv. Kommunistiese Sjina en Kuba, en aan die onmenslike behandeling van swartes deur ander swartes, verhoog hierdie indruk. Daarbenewens, het die hewige konsentrasie op menseregte in hierdie twee lande geneig om ’n ander soort storie te oorskadu wat moontlik op die duur van meer belang vir voortbestaan van die Vrye Wêreld kon wees. Die Sowjetunie se gevaarlike versterking van sy militêre slaankrag, wat nou skielik tot die Amerikaanse bevolking deurgedring het, het naamlik relatief min aandag in beide The Times en The Post geniet. Daar was ook nie veel aandag aan die strategiese betekenis van Suid-Afrika geskenk nie alhoewel die weste se toegang tot noodsaaklike grondstowwe en die beveiliging van die belangrike seeroetes om die Kaap van Goeie Hoop, van groot betekenis is.
Ek sou self nie die onewewigtigheid van The Post beter kon beskryf het nie. The Washington Star, die opposisie-koerant vir The Post het ’n sirkulasie-syfer van 600 000 gehad, maar het baie min materiaal oor Suid-Afrika gepubliseer. Indien The Star slegs die helfte soveel aandag aan Suid-Afrika as The Post geskenk het, dan sou die wanbalans moontlik reggestel kon gewees het. Maar dit het nie. Wat meer is, indien die koerant in sy hoofartikel ’n aanval kon loods teen die veldtog om Suid-Afrika af te skryf, of ’n pleidooi kon lewer dat die Kongres beter oor Suid-Afrika ingelig moes wees alvorens enige resolusies gepasseer word, word die voordele van mede-eienaarskap van The Star redelik voor-die-handliggend.
In 1974 was daar reeds sterk aanhitsing in Washington en elders in die Verenigde State dat groot sakeondernemings hul beleggings uit Suid-Afrika moes onttrek. Indien artikels of hoofartikels in The Star slegs een prominente maatskappy kon oorreed om nie so ’n stap te neem nie, sou die belegging van $10 miljoen die moeite werd wees. Daarbenewens het sommige assistente van Senatore en Kongreslede aan my gesê dat hulle met plesier hul lêers oor Suid- Afrika met artikels uit The Washington Star sou hersien, as die koerant maar enige insiggewende artikels oor Suid-Afrika sou publiseer, te meer so, indien die koerant, soos The Washington Post, sy eie korrespondent in Suid-Afrika het.
“Eerstehandse weergawes deur Amerikaanse verslaggewers, wat dáár op die toneel is weeg beslis baie swaar”, het ’n assistent van Senator Talmadge aan my gesê. Hy het ’n ou Sjinese gesegde aan my gekwoteer: “Een eie besoek is meer werd as ’n honderd beskrywings van ander”.
Indien ons mede-eienaars van The Star kon word, dan sou dit die eerste verandering wees wat ek op sou aangedring het: ’n Star korrespondent in Suid-Afrika. Iemand wat nie sy feite versigtig sou selekteer om by die ideologiese fobies van sy koerant in te pas soos die manne van The Post gedoen het nie. In besonder sou ek op Afrika-dekking in diepte aangedring het om seker te maak dat Washington baie meer te wete kom oor hoe die res van Afrika hulle sake behartig. Dit is merkwaardig hoe jou perspektief op Suid-Afrika na ’n naweek in Dar-es-Salaam of ’n week in Kinshasha verbeter. Twee dae in Khartoum is genoeg om Soweto na Hollywood te laat lyk.
Nadat ek persoonlik met McGoff gepraat het, het ek die saak met dr. Connie Mulder bespreek. Kort daarna, in Februarie 1974 het McGoff na Suid-Afrika vir verdere samesprekings gevlieg waartydens hy ook mnr. John Vorster en dr. Nico Diederichs ontmoet het.
Dr. Diederichs het aan beide dr. Mulder en myself vertel dat hy ten gunste van die projek is omdat Washington se politiek Suid-Afrika werklik kon seermaak en dat alles en enigiets wat kon help om ’n meer ewewigtige beeld van Suid-Afrika na die Amerikaanse Kongres uit te dra, ondersteun moet word.
Hy het McGoff geken en vertrou. Diederichs en McGoff was in werklikheid goeie vriende en ek weet dat hulle ook by verskeie geleenthede mekaar in die VSA ontmoet het. Ongeveer twee weke later het dr. Diederichs aan dr. Mulder en my in die wandelgang van die Parlement gesê dat die Eerste Minister met die ander senior ministers van die Kabinet, ingesluit mnr. P.W. Botha, oorleg gepleeg het en dat almal ten gunste van hierdie soort “onkonvensionele” pogings was. Om die waarheid te sê, volgens die gepubliseerde getuienis van die Erasmus-Kommissie, soos per skriftelike getuienis van Admiraal Biermann en dié van die destydse adjunksekretaris van die Tesourie, mnr. Koert Pretorius, was die besluit, uiteindelik, tog deur die hele Kabinet geneem.
Gerald Browne, Sekretaris van Finansies, was ’n ander persoon met wie dr. Diederichs die projek bespreek het, in besonder die meganisme van die projek en hoe om die geld na McGoff deur te kry. Dr. Diederichs het ook aan Browne vertel dat die projek die goedkeuring van die Eerste Minister gehad het, aldus Browne se getuienis voor die Erasmus Kommissie.
Mnr. P.W. Botha se openbare ontkennings, dat hy nie geweet het waarvoor die geld gebruik is, of waarheen dit gegaan het nie, was net ’n poging om te ontken dat hy van projekte geweet het wat die Erasmus-Kommissie as “onreëlmatig” beskou het. Sy ontkenning is nie alleen onlogies nie maar dit maak ook geen politieke sin nie. Niemand wat mnr. Botha ken kan hulself voorstel dat hy net beveel is om R6 miljoen van sy geheime fonds te oorhandig, sonder om aan horn te vertel waarvoor dit bedoel is nie. Ministers het ’n wetlike verantwoordelikheid teenoor die Parlement, vir fondse wat aan hulle toevertrou word. Net so min sou enigeen wat weet hoe die top-echelon van die Nasionale Party te werk gaan, mnr. Botha se ontkenning geglo het. Dit sou die mees vanselfsprekende ding op aarde vir dr. Diederichs of mnr. Vorster gewees het om die aard van die projek en die bestemming van die geld kortliks te verduidelik, en om mnr. Botha te verseker dat ’n aanvullende R6 miljoen aan Verdediging beskikbaar gestel sou word wanneer die aanvullende begroting in September van daardie jaar opgemaak word.
Mnr. Botha se verklaring voor die Erasmus-Kommissie, dat hy daarteen gekant was dat sy fondse na die Departement van Inligting gaan, laat sy protes net meer verdag voorkom. Hy het tog geweet dat die geld vir The Washington Star nooit na Inligting gegaan het nie. Inderwaarheid het Inligting nie eens die transaksie hanteer nie. Die hele transaksie is deur die Minister van Finansies, die Sekretaris van Finansies en deur Verdediging afgehandel, en die geld het direk na die Reserwebank gegaan en vandaar oorsee. Dit was Gerald Browne, Sekretaris van Finansies, wat na Switserland gevlieg het om die nodige dokumente vir die oordrag van die geld aan McGoff te onderteken. Nie ek nie.
Vergelyk die voorafgaande feite met die domastrante wyse waarop mnr. Botha se spreekbuis, Beeld, volgehou het, selfs ná die publikasie van die Erasmus-Kommissie se getuienis, om aan sy lesers te vertel dat die Washington Star projek nie ’n kabinetsbesluit was nie; dat mnr. Botha nooit betrokke was nie en dat die verantwoordelikheid vir die besluit slegs op dr. Mulder en my skouers gerus het. Sulke verdraaiings, ten spyte van die feite, is ook kenmerkend van Pravda in Moskou.
Ek sal elders in hierdie boek ingaan op die ongelooflike flaters wat die Erasmus-Kommissie by hul ondervraging van mnr. Botha aangaande sy eie betrokkenheid by die Washington Star projek gemaak het. Geen argumente van mnr. Botha, of mnr. Erasmus (of Beeld) kan hoegenaamd die feit verbloem dat mnr. Botha se eie kabinetsgeskrifte, wat mnr. Erasmus gesien het, bewys dat die besluit om Verdedigingsfondse vir die Star projek (kodenaam Cradock) te gebruik wel ’n kabinetsbesluit was. Mnr. Botha was by daardie Kabinetsvergadering teenwoordig. Was hy aan die slaap toe hulle hierdie besluit bekragtig het? En wat van die bepalings van die wet wat vereis dat die Minister van Verdediging hom persoonlik moet vergewis van projekte wat uit die geheime rekening gefinansier word? Was dit nie growwe nalatigheid van mnr. Botha nie?
Om dr. Diederichs ’n denkbeeld te gee van hoeveel geld aan propaganda- projekte in die vyfjaar program beskikbaar gestel moet word, is The Washington Star projek in die program op ’n bedrag van R6,5 miljoen beraam. Omgereken, het dit op $10 miljoen Amerikaanse dollars neergekom.
Dr. Diederichs het aan Gerald Browne gesê dat die geld vir The Star ’n hulp-toelae was en nie as ’n lening wat terugbetaalbaar is gesien kon word nie. Dit was ook wat mnr. Vorster en dr. Diederichs aan dr. Mulder en my gesë het toe ons laat April 1974 in Kaapstad vergader het. Gedurende die gesprek is daar ook voortdurend na mnr. P.W. Botha en sy kennis hiervan verwys. John McGoff het vir homself naam gemaak omdat hy koerante wat besig was om geld te verloor oorgeneem en in winsgewende ondernemings omskep het. Dr. Diederichs het gesê dat selfs al sou The Washington Star ná oorname, aanhou om geld te verloor, of selfs in duie stort, die regering geen eis teen McGoff kan instel vir die geld wat Suid-Afrika bereid was om te belê nie. Op daardie tydstip was The Washington Star, ten spyte van sy sirkulasiesyfer van oor die 600 000, weliswaar besig om geld te verloor. Maar dr. Diederichs het ook nooit gesê dat die geld vir iets anders gebruik kon word nie, of vir die aankoop van ’n ander koerant nie. Dit het alles net oor The Washington Star gegaan.
In April 1974 kon dr. Connie Mulder dus nie alleenlik sy handtekening op die vyf jaar geheime program aanbring nie, maar hy kon ook byvoeg: “Sterretjie ook goedgekeur”. Sodoende het hy die “groen lig” aan The Washington Star projek gegee.
In September 1974 is die volle bedrag aan Thesaurus Continental Securities gestuur. Thesarus is ’n geaffilieerde maatskappy van die Union Bank of Switzerland waarvan dr. Bruno Saager, hoofbestuurder van die bank, ’n direkteur was. Hierdie maatskappy het, op hulle beurt, die geld aan McGoff se “Star Newspaper Company” in die VSA beskikbaar gestel. Dit was omskryf as ’n “lening” van Thesaurus, maar dit was natuurlike blote skyn. McGoff moes in staat wees om dokumentêre bewys te lewer dat die geld van ’n onberispelike bron afkomstig was, en dat dit syne was om na goeddunke te gebruik.
Die stryd om The Washington Star het begin toe ’n Texas olie-miljoener, Joe Aubritton, ook ’n aanbod gemaak het, maar nie alleenlik vir die koerant nie, ook vir die ander bates van The Star wat ’n radio-stasie en twee televisie-stasies ingesluit het. Op die ou einde het Aubritton, ’n getroue ondersteuner van die Demokrate en van President Lyndon B. Johnson, die goedkeuring van die Federal Communications Commission verkry wat oor sulke transaksies, waarby monopolies betrokke is, moet besluit.
Daar het meer as sewe maande verloop vandat Mulder in April 1974 geskryf het: “Sterretjie ook goedgekeur”, voordat daar ’n finale besluit oor die aankoop van The Star geneem is. In die tussentyd was die $10 miljoen - volgens McGoff - in ’n bank belê en het meer as $800 000 aan rente verdien. Dit was op hierdie tydstip dat McGoff weer na Les de Villiers gegaan het en voorgestel het dat die rente tesame met sy eie fondse gebruik word om die beherende blok aandele in The Sacramento Union te koop, die grootste en belangrikste koerant in die hoofstad van Kalifornië.” Ongeveer $2 miljoen was in totaal hiervoor nodig”, het McGoff gesê.
Les de Villiers het weer, soos gewoonlik, sterk ten gunste van McGoff so voorstel betoog.
McGoff het na Suid-Affika gevlieg om my te sien. Ek wou graag meer besonderhede oor die bates van die Sacramento Union hê, maar het intussen die saak in beginsel met dr. Mulder bespreek. Ek het aan dr. Mulder vertel dat die Sacramento koerant baie belangrik was. Dit was finansieel gesond (volgens syfers wat McGoff aan ons verskaf het) en Kalifornië was die digbevolkste staat in die VSA. Die Sacramento Union kon dus effektiewe ondersteuning verleen aan konserwatiewe politici soos mnr. Ronald Reagan vir wie dr. Mulder in 1973 en 1974 in die VSA ontmoet het, en van wie daar in die toekoms baie verwag word.
Aangesien niemand so ’n lang uitgerekte stryd in die oomame van The Washington Star in die vooruitsig gestel het nie, het dr. Mulder gereken dat die rente wat op die totale bedrag wat aan die Star projek bewillig is verdien is, wel in The Sacramento Union saam met McGoff se eie bydrae belê kon word. Die Minister het dit goedgekeur en later het die kabinetskomitee dit bekragtig.
Met McGoff se aankoms in Pretoria was dr. Mulder in Kaapstad en Les de Villiers en ek het McGoff in die Burgerspark Hotel in Pretoria ontmoet. Nadat McGoff die besonderhede oor die koerant se beraamde sirkulasiesyfer, die inkomste uit reklame, depresiasie oor die volgende twee jaar, kapitale waarde, bates, ens. verskaf het, het ek dr. Mulder se goedkeuring oorgedra, naamlik, dat McGoff die rente op die $10 miljoen kan gebruik om saam met sy eie fondse die beherende aandele in die koerant te koop. The Sacramento Union was in ’n splintemuwe gebou gehuisves, met nuwe toerusting en was as 'n “goeie aankopie” beskou. Daar was min gevaar dat dit tot niet sou gaan, om die waarheid te se, dit is nog steeds aan die gang en is in 1982 teen ’n reuse wins van die hand gesit. Maar oor hierdie verkoop meer lateraan.
Vervolg...