Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
VANDAG het God vir jou die geskenk van 86 000 sekondes gegee. Het jy een van hulle gebruik om vir Hóm dankie te sê?
DIE WARE INLIGTING- SKANDAAL (13)
Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
"Maar wanneer ’n mens van aanvaarbaarheid praat... ...dan sou dit sosio-politieke rekonstruksie van Suid-Afrika kos op ’n skaal wat vir die Blanke bevolking geheel-en-al onaanvaarbaar sou wees, met ander woorde, ’n Swart meerderheidsregering in ’n eenheidstaat. Daarvoor was ons nie te vinde nie."
Frankryk was ook die bymekaarkomplek met verskeie ander betaalde agente wat in die Seychelles, Nigerië, Madagaskar, Egipte, Senegal, ens., werksaam was, of wat invloedryk in die Ivoorkus, Morokko en ander Afrikastate was. Een van die medewerkers was so goedgeplaas dat hy vir ons afskrifte van diplomatieke kabels kon bekom wat verskeie Afrika regerings aan hulle Ambassades in Parys vir voorlegging aan die Franse Sekretaris van Buitelandse Sake gestuur het.
In een van die agentskappe wat David Abramson in Frankryk oorgeneem het, het die seun van die Franse President sowel as ’n voormalige Franse Kabinetsminister, direkteurskappe gehou. Op hierdie wyse het Abramson daarin geslaag om ’n uitnodiging van die regering van President Sadat te ontvang om Egipte te besoek, op ’n tydstip toe sulke uitnodigings aan Jode, selfs sakemanne, uiters seldsaam was.
Meer as R100 000 is deur Abramson gekanaliseer na France Eur-Afrique, ’n prestige politieke maandblad wat die Departement in April 1975 in alles, behalwe naam, oorgeneem het. Ander Franse tydskrifte wat in die hande van
die Departement en van Abramson en Pegg as gesamentlike eienaars beland het was Gault & Millau en Marie Nouvelle.
In Engeland het Abramson ook met onderhandelinge vir die oomame van Drum International begin wat in Nigerië, Kenia, Tanzanië, Zambië en Suid-Afrika gepubliseer was. Hy het ook namens Suid-Afrika die goedgevestigde tydskrif West Africa wat in Nigerië gepubliseer is oorgeneem asook administratiewe beheer oor African Development, ’n kwartaalblad wat deur Lawrence Morgan in Londen gepubliseer was. Alhoewel laasgenoemde meer Suid-Afrikaans gerig was, en aangedui het hoe die Swart tuislande ontwikkel word, was die oogmerke met die ander tydskrifte wat in Wes-en-Oos-Afrika gepubliseer is, by uitstek om detente, dialoog en handel met Suid-Afrika te bevorder.
West Africa het Suid-Afrika meer as R100 000 gekos om aan te koop en te administreer, voordat dit in 1978 vir sowat R120 000 verkoop is. Die tydskrif het meer as R100 000 in kontant gehad wat in die maatskappy se koffers in Lagos gelê het, maar die Nigeriese Regering wou nie die geld uit die land laat gaan nie. Daar is besluit om die tydskrif te verkoop toe Nigerië in Junie 1977 die nasionalisering van alle media in besit van buitelandse eienaars gelas het.
Toe Abramson nie daarin kon slaag om beheer oor Drum International en Drum South Africa te verkry nie, hoofsaaklik omdat die eienaar van die aandele, Jim Bailey, twee jaar geneem het om te besluit of hy wil verkoop of nie, het Abramson, met die Kabinetskomitee se toestemming, ’n nuwe tydskrif in Johannesburg met die naam Pace as kompetisie vir Bailey se Drum gelanseer.
Die belangrikheid van ’n tydskrif soos Marie Nouvelle, wat eintlik die tydskrif vir die plaaslike owerhede in Frankryk was, kan aan die feit beoordeel word dat dit betaalde subskripsies van 33 000 dorps- en stadsrade reg deur Frankryk gehad het. In teenstelling met Suid-Afrika, is die plaaslike munisipaliteite in Frankryk sterk polities-georienteerd en vorm hulle ’n massiewe drukgroep in die Franse politiek. Toe dr. Mulder die bedrag van R160 000 vir die aankoop van die tydskrif goedgekeur het, het hy gevoel dat uit ’n propaganda-oogpunt gesien dit ’n verdienstelike belegging sou wees. Soos hy dit aan mnr. Vorster gestel het, die tydskrif het minder as ’n kwart gekos van wat ons elke jaar vir ’n tydskrif soos S.A. Panorama betaal het, met die verskil – Marie Nouvelle was uit inkomste van subskripsies en advertensies selfonderhoudend.
Hoewel Gault & Milleau R500 000 gekos het, was dit ook houdend. Dit was ’n toonaangewende tydskrif vir die voedsel en wyn industrie in Frankryk, maar meer belangrik, dit het ’n omvattende reeks reisgidse oor al die lande van die wêreld gepubliseer. Dit het generaal Van den Bergh se belangstelling geprikkel want toe Morgan Grampian verkoop is, het die geleenthede om die Generaal se manne na verskeie lande van die wêreld as joemaliste van Fodors Travel Guide te stuur deur die mat geval.
Tot groot ontsteltenis van dr. Mulder en veral Abramson en Pegg, het die Erasmus-Kommissie die Morgan Grampian projek oopgekrap en die rol van Abramson en Pegg blootgelê - alhoewel die projek op sigself nie as onreëlmatig bevind is nie. Maar, so kortsigtig was die Kommissie dat dit nie eers gewag het om uit te vind omtrent al die ander aktiwiteite waarby Abramson en Pegg in Eiiropa namens die Regering betrokke was nie. Toe die twee ontmasker is, het hulle Europese vennote in Gault & Milleau, in Marie Nouvelle en in Vacance, almal kop uitgetrek. Hierdie stommiteit van die Erasmus-Kommissie het nie net daartoe gelei dat die Regering sowat R700 000 in die proses verloor het nie, maar ook tot massiewe persoonlike verliese aan die kant van Abramson en Pegg wat meer as ’n miljoen Rand van hul persoonlike fondse in dieselfde projek belê het. Abramson en Pegg, in teenstelling met Louis Luyt, is nooit vir hierdie persoonlike verliese vergoed nie.
Indien die Erasmus-Kommissie besin het voordat hy die projek geopenbaar het kon al hierdie dinge gespaar gebly het, maar so angstig was die regering van mnr. P.W. Botha om genoeg sondebokke vir al Inligting se “onreëlmatighede” te vind en so angstig was die Erasmus-Kommissie om hulle te plesier, dat hulle nie in ag geneem het dat hulle optrede na ’n totale finansiële verlies vir die Suid-Afrikaanse belastingbetaler kon lei wat net in hierdie een projek twee-honderd maal meer is as wat hulle gereken het dat ek vir myself uit die geheime fondse geneem het, en wat in elk geval geblyk het om onwaar te wees.
In Wes-Duitsland was die projekte ook baie omvattend. Sedert 1973 het Graaf Donhoff, ’n hoog-aangeskrewe middeljarige Duitse aristokraat, as ’n politeke medewerker vir Suid-Afrika gewerk. Tot en met Junie 1978, het hy sowat R35 000 aan salaris ontvang en sowat R20 000 aan werklike uitgawes in verband met sy werk spandeer. In teenstelling met die Amerikaanse medewerker, Donald de Kieffer wat heel openlik gewerk het, het Graaf Donhoff meesal agter die skerms opgetree.
Een van die geheime projekte wat ek van Gerald Barrie, my voorganger, gëerf het was die dienste van PRO-International, ’n Duitse firma in Hamburg, wat aan Heinz Behrens behoort het en in 1960 aangestel is om die massiewe anti-Suid-Afrikaanse publisiteit in die Duitse pers te help teenwerk. Behrens was verantwoordelik vir meer as 600 individuele persverslae oor Suid-Afrika wat elke jaar in die Duitse pers verskyn het. As ’n voormalige hoof van Deutsche Presse Agentur (die Duitse nuusagentskap) het hy toegang tot so tesê alle Duitse koerante gehad. Hy het ook televisie-nuus en radio-programme geplaas. Daarbenewens het hy sowat 15 Duitse media-verteenwoordigers elke jaar na Suid-Afrika gebring. Tot en met Junie 1978, het Behrens ’n totaal van R1 420 000 van Suid-Afrika ontvang. In terme van uitgawes was sy skakelprogram gelykstaande aan die van Sydney Baron Inc., in New York, maar my eie mening is dat Behrens veel meer bereik het.
Behrens het uitstekende werk vir Suid-Afrika gedoen en het ’n vertroueling van dr. Nico Diederichs geword toe hy nog Minister van Finansies was. Hy het ook agter die skerms ’n groot rol gespeel om Duitse beleggings in Suid-Afrika te bevorder. Gerald Barrie het ongetwyfeld ’n goeie man gekies en ’n gocie belegging gemaak.
In die middel-sewentigerjare was die aanslag van die linksgesinde pers in Duitsland, en van die Lutherse en Evangeliese Kerke en die verskeie anti-apartheidsorganisasies wat soos paddastoele opgeskiet het, so oorweldigcnd dat verdere maatreëls getref moes word. Die Kabinetskomitee het goedgckcur dat oor ’n vier-jaar periode sowat R335 000 na die Deutsch-Siid-Afrikanische Gesellschaft, ’n pro-Suid-Afrikaanse groep in Duitsland wat 30 verskillende takke in verskeie Duitse stede beman het, gekanaliseer is. Teen 1978 het die bydrae aan hierdie groep se aktiwiteite jaarliks meer as R100 000 beloop.
Ek het altyd gevoel dat Graaf Donhoff onmoontlik al die politieke lobbywerk alleen kon behartig. Destyds het Heinz Behrens wat PRO-International van uit Hamburg beheer het, aan my gesê dat die Duitse politici nie veel van Donald Sole die Suid-Afrikaanse Ambassadeur in Duitsland gehou het nie.
Hulle het hom of as ’n “professionele diplomaat” of as ’n “Englander” beskryf. Wat hulle as ’n Ambassadeur wou gesien het was ’n egter Afrikaner, iemand wat werklik die Afrikaner-Regering se standpunt kon uiteensit wanneer hy met die Duitse Ministerie van Buitelandse Sake of die politici in die Bundestag gesels. Ek wou dit self nie glo nie, totdat ’n Duitse parlementslid gesê het dat hulle dieselfde sou voel indien die Ivoorkus ’n Blanke Ambassadeur in plaas van ’n Swarte in Bonn het.
Ek het dus voorgestel dat Donhoff se aktiwiteite deur ’n organisasie ondcr bestuur van Gerd Hennenhofer, voormalige hoofredakteur van Der Spiegel aangevul word. Met so ’n agtergrond, sou niemand hom vir ’n houtpop van Suid-Afrika aansien nie. Instede van ’n direke aanstelling, het ek voorgestel dat hy as die Duitse verteenwoordiger van The Foreign Affairs Association optree. Dit sou die perfekte dekmantel wees om Hennenhofer se belangstelling in Suid-Afrika te verklaar. Sy taak sou nie alleen wees om die belange van die F.A.A. in Duitsland te bevorder en om agtergrondstukke, boeke en brosjures in Duits te publiseer nie, maar ook om konferensies te belê. Daarbenewens moes hy aktief invloed onder Duitse politici op die hoogste vlak probeer uitoefen. Hy moes reëlings tref vir die besoek van 16 tot 20 Duitse politici aan Suid-Afrika elke jaar en ook vir die besoek van ’n gelyke getal Suid-Afrikaanse politici na Duitsland.
Sedert 1975 het Hennenhofer se organisasie sowat R515 000 aan geheime betalings van ons ontvang, maar dit was weereens ’n baie verdienstelike belegging. Sommige van die mees suksesvolste konferensies waarby Suid-Afrikaanse sakemanne en politici nog ooit in die buiteland betrokke was, was deur Cas de Villiers van die FAA en Gerd Hennenhofer gereël. Sommige van die mees prominente Duitse politici wat Suid-Afrika ooit besoek het, het onder die beskerming van die Hennenhofer-ooreenkoms hierheen gekom. Sommige van die belangrikste privaat-oudiensies met senior Duitse Kabinetsministers vir besoekende Suid-Afrikaanse sakelui, politici en Lede van die Parlement, is deur Hennenhofer gereël. Die Suid-Afrikaanse verteenwoordigers is deur my en De Villiers uitgesoek en die N.P. lede het geweet dat hulle in die geheim deur die Staatgeborg word: F.W. de Klerk, Louis Nel, Dawie de Villiers, Barend du Plessis, Dennis Worral, en andere. Het hulle gereken dat hulle besoeke ’n vermorsing van tyd en geld was? Soos wat Pik Botha gesê het? Een van die dinge wat my sinisme nog meer aangewakker het toe Pik Botha ons van wanbesteding en die vermorsing van R60 miljoen op die geheime projekte beskuldig het, was dat hy toe goed geweet het dat die Hennenhofer-organisasie nog steeds deur sy Departement gebruik word. Om die waarheid te sê, aan die begin van 1980 het verskeie prominente Suid-Afrikaanse polilici Duitsland nog steeds onder beskerming van dieselfde Hennenhofer besoek. Ek was nie oorspronklik van plan om die omvang van Hennenhofer se aktiwiteite bloot te lê nie, of dat hy in 1975 al deur ons vir hierdie taak gekies is nie, maar dit illustreer een van die vele geheime operasies wat ons begin het en wat die Regering nog handhaaf - hierdie keer onder die kodenaam TRAM/6/8 – en wat Pik Botha as ’n “verkwisting van geld” bestempel het.
Dr. Mulder het ook ’n bestedingvan R150 000 goedgekeur ten einde ’n nuwe kerkliggaam in Duitsland tot stand te bring wat daarop ingestel sou wees om die invloedryke Lutherse-Evangelie-Kerk te beveg. Laasgenoemde was vinnig besig om selfs die linksgesinde politici en media in hul veldtog om Suid-Afrika in diskrediet te bring verby te steek en seer te maak. Drie prominente Duilse kerkmanne is na Suid-Afrika gebring om met ons (en ander kerkmanne) die uitvoerbaarheid van so ’n projek te bespreek. ’n Horde van ondergeskikle kwasterighede in die regering se beleid teenoor die Swartman, het hulle egler afgeskrik. Ek het altyd geglo dat, voordat ’n verteenwoordiger op ’n voltydse basis aangestel word, hy eers drie of vier weke op sy eie in Suid-Afrika mocs deurbring om te sien of hy met die situasie alhier kan meeleef. Indien die persoon gevoel het dat daar genoeg meriete in die Suid-Afrikaanse leefwyse, in regeringsbeleid, gesteek het, sodat hy die toedrag van sake vertroulik of in die openbaar kon verdedig, dan kon ons besigheid gesels. Indien die voorgenome agent egter gevoel het dat daar te veel dinge was wat hy nooit sou kon verkoop of in die openbaar (of vertroulik) kon verdedig nie, soos soms gebeur het, is die belegging van sowat R3 000 om hom na Suid-Afrika te bring eenvoudig afgeskryf. Dit het nie dikwels gebeur nie. Suid-Afrika se naam is so sleg oorsee dat meeste besoekers uitermate verras is wanneer hulle die ware Suid-Afrika van aangesig tot aangesig ontmoet! Deur middel van spesiale seminare wat Cas de Villiers en Gerd Hennenhofer in Duitsland gereël het, was ons in staat om ’n duik te maak in die linksgesinde veldtog in die buiteland teen Duitse beleggings in Suid-Afrika.
By een geleentheid is ’n spesiale boek, inderwaarheid ’n uitstekende werk vir ons deur ’n professor by Wits saamgestel, nl.: Pawns on the African Chessboard: South Africa’s Strategic Metals and Minerals. Dit is vertaal en spesiaal in Duits vir die konferensie gepubliseer. Die Duitsers het gedink dat dit die belangrikste en beste publikasie was wat nog ooit uit Suid-Afrika gekom het.
Op die meer proefondervindelike front, het ons ook probeer om ’n vastrapplek in die Skandinawiese lande te kry waar ons diplomate in die duurste kantore gesit het, groot salarisse ontvang het, maar te bang was om Suid-Afrika se vlag voor die gebou te laat wapper “uit vrees om raakgesien te word”. Praat van geld mors! En hierdie was die lande wat die voortou in die Verenigde Volke geneem het en in die Vergadersale van Europa om nie alleen Suid-Afrika in diskrediet te bring nie, maar om selfs die mees geloofwaardige voornemens van die Blanke gemeenskap belaglik te maak. Daarom het ons projek Agneta van stapel gestuur. Dit het interessante en ongelooflike resultate opgelewer.
In die geval van Finland het ons ’n roetineprosedure gevolg deur goedgesinde Finse joemaliste van geld te voorsien vir besoek aan Suid-Afrika en om in die geheim die publikasie van een of twee boeke te subsidieer. Mikko Uhlo is ’n voorbeeld. Die meeste van die Skandinawiese aktiwiteite het egter rondom die veldtog van Anders Lange, ’n Noorweegse politikus en sakeman, en na sy dood, om sy vrou Karen, gedraai. Ons het fondse aan Lange se politieke party voorsien wat hulle in staat gestel het om ’n weeklikse koerant te lanseer. Daama het ons meer fondse beskikbaar gestel sodat sy party ’n behoorlike veldtog in die algemene verkiesing daardie jaar kon reël. Tot ons grootste verbasing, en die van die res van Noorweë, het ons met ’n politieke party met vier Lede in die Parlement geëindig.
Dit was Owen Horwood wat geskerts het dat as hulle my genoeg geld gegee het, ek moontlik met die meerderheidsparty, en die bewind, in Noorweë kon eindig. Na Anders Lange se dood het ons voortgegaan om finansiële hulp aan sy vrou, Karen, te verleen sodat sy die aktiwiteite kon voortsit.
Daar was egter nie veel van hierdie eksperimentele pogings nie. Ons Europese pogings was in 99 per sent van die gevalle gemik op die mening-vormers en besluitnemers in die regering, die verkose politici en die media. Die soort van aktiwiteite waarmee ons in Brittanje en Nederland besig was om die lewe van die anti-apartheidsbewegings te versuur was ook eintlik baie beperk. Ons het nie soseer in die afslaan van aanvalle geglo nie as wat ons angstig was om die sterk punte van Suid-Afrika na vore te bring.
Nie alle projekte in Europa is in hierdie hoofstuk opgeneem nie. Ons was byvoorbeeld baie meer aktief om die publikasie van pro-Suid-Afrikaanse manuskripte in boekvorm moontlik te maak as wat hierdie hoofstuk mag aandui. In werklikheid het ons oor ’n drie jaar periode soveel as R400,000 spandeer om die manuskripte van skrywers soos Wolfgang Schneider, Jurg Meister, Le Guebe, Giniewski en andere in Europa te publiseer.
Daar was ook ander organisasies in Switzerland en Oostenryk wal duisende Rande van ons ontvang het om hulle in staat te stel om Suid-Afrika se belange te bevorder. Ons het baie geld aan ’n Franse tussenganger betaal wat ons hulp verleen het met die finansiering van die politieke kompanje van J. Resampe in Madagaskar. Die Amerikaners en die Franse het geglo dat Resampe ’n goeie kans gehad het om Eerste Minister te word. In der waarheid is ons deur die Franse agter die skerms aktief aangemoedig om Resampe te steun aangesien dit hulle hande sou skoon laat!
Ons het finansiële hulp aan organisasies in Suid-Afrika en Europa verleen om hulle in staat te stel om ’n hele kampanje van briefskrywery aan die pers en kerkorganisasies moontlik te maak.
Ons het uitstallings, konferensies en seminare aan groot universiteite gcborg waar Suid-Afrika se saak positief gestel kon word. Deur verskeie frontorganisasies in Suid-Afrika in te span het ons daarin geslaag om tientalle belangrike Europese politici, joernaliste en akademici na Suid-Afrika te bring wat andersins nooit in die land sou gekom het nie. In totaal het ons ongeveer R712 000 spandeer net om belangrike besoekers in die geheim na Suid-Afrika te bring.
Ons het ook hulp verleen aan ander organisasies in hulle poging om Marxisme as ideologie op ’n globale skaal te beveg, omdat die Marxistiese doelwit, om die vrye wêreld onder te ploeg, ook vir ons ’n bron van kommer is.
Ons ondersteuning aan Kontinent in Wes-Duitsland is aan die blad via ’n Hamburgse sakeman, J. Seelmaeker besorg en het R55 000 oor ’n drie jaar periode beloop.Daar is ook reuse bedrae uitgegee om die militante vakbonde van ons rug af te kry. Hierdie, en etlike ander projekte, kan egter nie in enige detail openbaar gemaak word nie hetsy omdat hulle moontlik nog aan die gang is en ook omdat dit die noodsaaklike belange van ander partye raak wat vir altyd beskerm moet word. As ’n voorbeeld van laasgenoemde noem ek die rolprentmaatskappy wat ek en andere in ’n Europese land opgerig het en wat op sy beurt met ander produksie-maatskappye in ander lande gekontrakteer het, om hoë-kwaliteit rolprente vir buitelandse televisie te maak waarin Suid-Afrika se strategie se belangrikheid geillustreer is. In my tyd het ons meer as R407 000 aan hierdie projek spandeer. Die vrugte daarvan het op Amerikaanse, Skandinawiese, Australiese en Europese beeldradio verskyn. Niemand sou ooit kan aflei dat die program deur ons opgestel en, nog minder, gefinansier is nie. Die Suid-Afrikaanse hoek is altyd subtiel ingebring aangesien enige oorbelading van Suid-Afrikaanse standpunte natuurlik agterdog sal skep. Hierdie rolprente is nie weggegee nie maar soos enige ander produk verkoop sodat, afgesien van die goeie publisiteit vir die land, ons nog van die uitgawes ook teruggekry het.
Weer eens is dit nodig om te beklemtoon dat van hierdie projekte aangepak was net om die bestaande, kritiese houding van buitelandse regerings teenoor Suid-Afrika te temper. Ons was altyd die mening toegedaan dat, indien hierdie projekte nie in werking gestel is nie, die toestand verder kon versleg, of selfs handuit kon geruk het.
Op hierdie wyse he dr. Mulder en ek, nie alleen in Afrika, Latyns-Amerika, en die Verenigde State probeer om Suid-Afrika teen aanvalle in die media, politieke kringe, in die kerke en universiteite te verdedig nie, maar ook in Europa, Australië, Nieu-Seeland, Madagaskar, Indië, Japan, Sri-Lanka en Skandinawië. Een ding is duidelik: hierdie was ’n basies-weldeurdagte, goedbeplande en goedbegonne program, nie met die vooruitsig om binne die eerste vyfjaar wondere te verrig nie, maar, soos met mnr. Vorster ooreengekom, om die fondamente vir die tweede vyf-jaar program te lê wanneer baie van die projekte vir behoorlike eksploitasie gereed sou wees. Ek moes dikwels aan my amptenare verduidelik dat die Sowjet-Unie sekere duur projekte soms vir 20 jaar rustend hou voordat hulle suksesvol geaktiveer word. Die druk wat Suid-Afrika in die gesig gestaar het en die wêreldwye vyandigheid wat gedurende die afgelope dertig jaar gegroei het, sou nie na vyf jaar verdwyn nie. Dit sou ’n lang harde stryd kos, wat moontlik nog tien jaar kon voortduur, voordat Suid-Afrika verstaan word, al word hy nie waardeer nie. Maar wanneer ’n mens van aanvaarbaarheid praat en die soort vriendskaplike verhoudinge wat, bv., tussen die Verenigde State en Brittanje bestaan, en wat in die vooroorlogse tyd tussen Brittanje en Suid-Afrika bestaan het, dan sou dit sosio-politieke rekonstruksie van Suid-Afrika kos op ’n skaal wat vir die Blanke bevolking geheel-en-al onaanvaarbaar sou wees, met ander woorde, ’n Swart meerderheidsregering in ’n eenheidstaat. Daarvoor was ons nie te vinde nie.
Vervolg...