Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Weet jy dat jy jou hele lewe kan verander deur jou houding en gesindheid te verander? Probeer dit gerus in die positiewe sin!
DIE WARE INLIGTING- SKANDAAL (11)
Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
GEHEIME PROJEKTE IN EUROPA
Die Regering se geheime Inligtingsprogram in Europa was grootliks op Brittanje, Wes-Duitsland, Frankryk en Nederland toegespits. Hierdie lande was Suid-Afrika se belangrikste handelsvennote, die belangrikste beleggers in Suid-Afrika se industrieë, was verskaffers van tegnologie en het onder die geledere van die gematigdes getel.
Nederland was om ’n spesifieke politieke rede belangrik. Die meeste westerse nuusmedia en hul regerings kon nooit, of wou nooit, die aard van ’n aparte Blanke Suid-Afrikaanse identiteit wat op eie bodem wortel geskiet het verstaan nie. Hulle kon nie verstaan dat Afrikaans ’n produk van Blanke nasionalisme was nie en dat die Blanke bevolking, veral die Afrikaners, ’n aparte volk was, in dieselfde sin as wat die Nederlanders gedink het hulle van die Duitsers, die Engelse of die Franse verskil het.
Selfs in hoë politieke kringe het die mite bestaan dat die Blankes eintlik Europese koloniste was, laat aankomelinge wat die land met geweld van ’n reeds gevestigde Swart inboorling-nasie verower het. Volgens hulle was daar geen verskil tussen ’n Afrikaner-boer wat naby Caledon op ’n familie-plaas swoeg wat 250 jaar gelede gevestig is en ’n Fransman wat in 1939 na Algerië gevlug het nie. Volgens hulle kon die “Hollandssprekende” boere in Suid-Afrika net so maklik na Nederland teruggaan as wat die Hollanders in die laat veertiger-jare uit Indonesië na Nederland kon terugkeer.
Met so ’n betreurenswaardige gebrek aan kennis van die Blanke samelewing in Suid-Afrika, was en bly politici en sakemanne, om nie eens die kerke en sogenaamde intellektuele kringe te noem nie, ’n maklike teiken vir propaganda wat deur die anti-apartheid gemeenskap, die ANC, die Kommuniste en
verskeie linkse organisasies en kerke afgevuur word. Laasgenoemde was die mense wat die wêreld oortuig het dat die Afrikaners in Suid-Afrika maar net ’n klomp Hollanders was - ’n soort verlengstuk van Holland. By die Verenigde Volke was die stem van die Nederlandse afvaardiging deur die hele Westerse-blok in enige kwessie wat Suid-Afrika geraak het, streng onder die oë geneem.
Indien die Nederlandse afvaardiging teen hul “vriende en familie” in Suid-Afrika gestem het, so het hulle geredeneer, sou die res van die VN dit ook doen.
Aangesien die goeie hoedanighede van enige situasie in Suid-Afrika soos die volksreg van die Blankes selde, indien ooit, in die V.V. noukeurig bespreek is, het die mite bly voortbestaan. Daarom was dit van groot belang vir Suid-Afrika om ’n beter insig by meningsvormers en besluitnemers in Holland tuis te
bring.
Britse bande met Suid-Afrika was nog altyd baie sterk, veral familiebande, toerisme en handel. Brittanje was beslis ’n beter ingeligte samelewing, maar dit was nog ver benede die vlak waar enige gebeurlikheid in Suid-Afrika of enige regeringsinisiatief teen ’n meer of min volledige agtergrond opgeweeg kon word.
Agter in my kop was daar ’n plan dat professor John Hutchinson se Londense kantoor van die Atlantic Council, op sekere terreine by die werk waarmee Geoffrey Stewart-Smith van die Foreign Affairs Research Institute in Londen besig was kon inskakel. Die F.A.R.I. het ’n goeie reputasie gehad en was standvastig anti-Kommunisties, maar daar was ’n gebrek aan kontak met Suid-Afrika en ook aan fondse. Die Instituut moes verskeie nuusbulletins, agtergrondmateriaal, publikasies en boeke uitgee en ook konferensies belê. Dit het ook beheer gehad oor die Foreign Affairs Publishing Co., in Londen. Maar
as gevolg van gebrek aan fondse kon hul hul eie doelstellings nie verwesenlik nie.
Van die begin van 1975 af het ek die instituut in Londen gesien as die ideale platform van waar die strategiese belangrikheid van Suid-Afrika onder die soeklig geplaas kon word.
Ek het die direkteur in Londen gaan sien en aan hom genoegsame fondse vir ’n volskaalse program beloof. Die voorwaarde was dat hy algemene kontrole van ons aanvaar en dat Suid-Afrika in die aktiwiteite van die Instituut sterk na vore sal kom. Onder andere moes Britse Parlementslede meer volledig oor Suid-Afrika ingelig word.
Smith het weke-lank hieroor nagedink en toe na Suid-Afrika gevlieg om my in my kantoor in Pretoria te sien. Hy het ingestem om die voorwaardes te aanvaar en ons het oor die grootte van ons finansiële oorplasing asook die modus operandi ooreengekom.
Van 1 Junie 1975 af was Smith deur ’n geskrewe kontrak aan die Foreign Affairs Association (FAA) van Cas de Villiers in Pretoria verbind van wie hy ook sy instruksies ontvang het. Daar was ook van Smith verwag om die belange van die FAA in Engeland te verteenwoordig en te promoveer. Ons instruksies aan die Foreign Affairs Research Institute het ’n nota bevat dat die instituut aanhoudend die soeklig op politieke dubbel-standaarde moet werp, klem op Suid-Afrika se belangrikheid as ’n standvastige bondgenoot in tye van nood moet lê, sy strategiese waarde in ’n militêre- en ekonomiese sin moet beklemtoon en die olie-roete rondom die Kaap moet aksentueer.
Die F.A.R.I. moes ook internasionale konferensies reël waar die bedreiging teen Suid-Afrika uitgespel moes word. Die instituut se konferensie in Brighton in Engeland in 1978 is o.a. deur admiraal James Johnson, dr Jack Penn, dr Jan du Plessis en Cas de Villiers bygewoon, almal op ons onkoste.
Geoffrey Stewart-Smith was nie ’n maklike man om mee saam te werk nie. Hy was behep met die bedreiging wat Kommunisme vir die noodsaaklike belange van beide Suid-Afrika en die Weste ingehou het. Daarom het dr. Connie Mulder besluit om sy organisasie aan die South African Freedom Foundation (SAFF) in Johannesburg te koppel. Die SAFF was ’n voltydse frontorganisasie van die Departement van Inligting, onder beheer van R.F. (Red) Metrowich, ’n bekende joemalis en politieke navorser. Onder dekmantel van
die bevordering van ’n vrye ekonomie was die eintlike doelwit van die organisasie om Kommunisme te beveg. Die SAFF sou ook Suid-Afrika se verteenwoordiger in die World Anti-Communist League wees en wat sy hoofkantoor in Taiwan gehad het.
Van 1 Augustus 1977 af, het die Foreign Affairs Research Institute in Londen dus onder die leiding van Red Metrowich se SAFF gekom. Dit was ’n duur projek en aan die einde van Junie 1978 het Smith se organisasie (kodenaam Guard-projek G.52) sowat R440 000 van die Departement van Inligting via sy frontorganisasies, die FAA in Pretoria en die SAFF in Sandton, Johannesburg ontvang. Die instituut het ’n indrukwekkende hoeveelheid boeke en agtergrondstukke die lig laat sien.
Afgesien daarvan dat twee Britse Arbeider Parlementslede betaalde informante van die Departement van Inligting was, betaal om lede van die onderskeie anti-apartheidsgroepe te word ten einde die Departement ten volle op hoogte van hul planne te hou - het ons ook daarop gekonsentreer om L. V. ’s uit die geledere van beide die Arbeider- en Tory Partye oor te haal om na Suid-Afrika te kom en die situasie eerstehands op te som. Net soos in die geval van die Amerikaanse Kongres, het ons geglo dat persoonlike waarneming van omstandighede in Suid-Afrika dikwels van meer waarde was as al die amptelike literatuur wat die Regering geproduseer het.
’n Paar Britse Parlementslede het Suid-Afrika openlik as gaste van die Departement van Inligting besoek. Ander het as gaste van die South African Foundation gekom, maar verskeie prominente lede kon nie waag om as amptelike gaste of selfs as gaste van die “privaat” gefinansierde FAA te kom nie. Ten einde hierdie probleem te omseil, het dr. D.O. Rhoodie “Operation Bowler Hat” voorgestel.
Dit was ietwat van ’n probleem om in London ’n getroue ondersteuner van Suid-Afrika te vind, ’n welgestelde sakeman, om as gasheer op te tree vir ’n private program waarin lede van die Suid-Afrikaanse Parlement uitgenooi sou word om Brittanje te besoek en omgekeerd. Ons het so ’n persoon gevind. Op sy beurt het die destydse adjunk-Speaker, dr. Paul van der Merwe, in Suid-Afrika as gasheer vir die Britse Parlementslede opgetree wat deur middel van Operation Bowler Hat na Suid-Afrika gebring is.
Op hierdie wyse kon senior Britse- en Suid-Afrikaanse Parlementslede stilweg mekaar privaat ontmoet en sodoende ook eerstehandse indrukke van die omstandighede in beide lande verkry. Elkeen wat aan hierdie program deelgeneem het, het dit uiters effektief gevind en was vol lof daarvoor. Tot en met 31 Maart l978 is sowat R46 000 aan die projek spandeer, meesal aan reis-en verblyfkostes. Meeste van die Suid-Afrikaanse Parlementslede en Senatore het geweet dat die Departement van Inligting hierdie onderneming in die geheim gefinansier het. Sommige van hulle sit vandag in die Kabinet.
Dr. Mulder en ek het ook na die toekoms gekyk. Uitverslae wat deur dr. D.O. .Rhoodie en professor NJ. Rhoodie opgestel is en deur ontleding van verslae wat deur verskeie buitelandse inligtingskantore van die Departement ingedien is, het dit duidelik geword dat die druk op Suid-Afrika nie gedurende die laat sewentiger en vroeë tagtigerjare sou verslap nie, maar eerder sou verskerp, veral vanuit Europa. Net die aard van die druk sou begin verander. Prof. N.J. Rhoodie se waarnemings was gegrond op inligting wat hy by verskeie internasionale sosiologiese kongresse in die VSA en Europa bymekaar gemaak het.
Die groot Westerse moondhede het die meerderheid van die Latyns-Amerikaanse en Europese lande, asook verskeie Derde-Wêreld lande, oortuig dat die gebruik van geweld om Suid-Afrika te dwing om van sy apartheidsbeleid af te sien, nie sou werk nie. Suid-Afrika was te sterk, te onafhanklik en het te veel troefkaarte in die vorm van strategiese metale en minerale gehou om ’n maklike prooi te word. As Rhodesië (met net 250 000 Blankes) vir meer as 12 jaar kon voortbestaan, dan kon Suid-Afrika, met sy meer as 4 miljoen (ongeveer 4.5miljoen) Blankes, sy ontsaglike sekondêre nywerhede en gesofistikeerde militêre produksie vir dekades uithou. Maar ’n diepsinnige ontleding het ook onthul dat Blanke Suid-Afrikaners sensitief was vir aanvalle op hul godsdienstige sin vir wat reg of verkeerd is. ’n Konsensus het in Westerse state ontwikkel dat Suid-Afrika die teiken moet word, nie van ’n totale aanslag nie, maar van gesamentlike druk op die gebied van menseregte.
Die Westerse standpunt was deur die Carter Administrasie geformuleer en hoewel Carter spoedig met groot probleme gesit het in sy program ten opsigte van ’n groot moondheid soos die Sowjet-Unie,het hy tog in 1976 ’n proses aan die gang gesit wat nooit regtig opgehou het nie. Die aard van die kritiek teen Suid-Afrika het op subtiele wyse verander en as ’n mens The New York Times en The Washington Post gereeld gelees het, kon jy byna sien hoe die aksent, binne die bestek van twee jaar, op die aspek van menseregte begin val het. Die Thatcher en Reagan regerings se doel is steeds om Suid-Afrika eerstens in konstruktiewe dialoog te betrek om sy samewerking in die netelige Namibië-S.W.A.-vraagstuk te verkry en, tweedens, om toe te sien dat die verbetering van menseregte in Suid-Afrika meer aandag geniet. In besonder wil hulle dat ekonomiese, opvoedkundige en sosiale geleenthede vir die nie-Blankes asook hulle inspraak op politieke vlak verbeter.
Baie min intelligente Suid-Afrikaners wat in die buiteland reis, het dit nog ooit moeilik gevind om hul reg tot selfbeskikking, hul eie nasionalisme, of hul reg om hul eie identiteit te beskerm, te verdedig. Waar hulle gestruikel het, almal van hulle, was in konfrontasie met regeringswetgewing, plaaslike regulasies of Blanke gesindhede teenoor anderskleuriges, wat op die skending van laasgenoemde se fundamentele menseregte neergekom het.
Die regering van mnr. Vorster was oortuig daarvan dat hierdie nuwe druk uiteindelik die weerstand van die Blanke bevolking sou verswak. Daarom is Pik Botha se gedenkwaardige liberale toespraak oor menseregte by die Veiligheidsraad van die Verenigde Volke goedgekeur, om sodoende die wind uit die seile van Suid-Afrika se kritici te haal. Maar, meer as net een toespraak was nodig, veral as die regering nie van plan was om die basiese karakter van die Suid-Afrikaanse samelewing te verander nie. Dit was sekerlik nie mnr. Vorster se bedoeling nie, daarom dat hy mnr. P.W. Botha in sommige opsigte as ’n soort uitlandse politieke figuur beskou het. Mnr. Vorster se siening was ook dié van dr. C.P. Mulder, wie se geloof in Blanke-leierskap, Blanke hegemonie, onwrikbaar is.
In samewerking met professor N.J. Rhoodie, het dr. D.O. Rhoodie uiteindelik ’n projek uitgewerk waardeur ’n instituut vir menseregte aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit gestig kon word, met ’n soortgelyke liggaam in Londen. Die organisasie in Londen sou alle bona fide analise en studies oor menseregte ondersteun, mits dit nie eksklusief oor Suid-Afrika handel nie. Die idee was altyd om menseregte in Suid-Afrika saam met die in verskeie ander lande te laat ondersoek. Ek het uit my eie studies, sowel as die van verskeie ander organisasies in die buiteland, geweet dat wanneer menseregte in Suid-Afrika met die in die 155 ander state van die wêreld vergelyk word, Suid-
Afrika baie goed sou vaar.
Ek het ’n uitdrukking kwytgeraak wat mnr. Vorster later by verskeie geleenthede in die openbaar gebruik het: “Suid-Afrika mag nou wel nie onder die top vyf-en-twintig in die klas van menseregte tel nie, maar dit is darem ook nie onder die laaste honderd en dertig nie.” Vergelyk Kurt Glaser en Stefan Possony se bevindinge in hulle boek Victims of Politics, Columbia University Press, 1979.
Daar sou van die Londense organisasie verwag word om al die besoekende studente of navorsers na die Instituut vir Menseregte in Suid-Afrika te verwys. Laasgenoemde sou ook deur middel van sekere kritiese publikasies, verseker dat dit goed aan die wêreld-media en aan universiteite van die Westerse wêreld bekend sou word. Daar is gehoop dat mense wat ongebonde na Suid-Afrika kom om navorsing te doen, hulle heel eerste na hierdie Instituut sou wend. Hier sou hulle in hul navorsing op so ’n wyse ondersteun word dat daar geen
moontlikheid vir die gewone eensydige akademiese produk sou wees wat Suid-Afrika in die verlede soveel skade berokken het nie.
Dr. Mulder het van die formaat van die instituut gehou soos dit in ’n geheime memorandum deur Professor N.J. Rhoodie opgestel is. Die Kabinetskomitee het ook daarvan gehou en goedkeuring is verleen dat ’n bedrag van R250 000 in die 1979-80 begroting vir die stigting van die instituut in Suid-Afrika en sy eweknie in London opgeneem word. Die Universiteit van Suid-Afrika het reeds in beginsel goedkeuring verleen dat die Instituut vir Menseregte in Pretoria by die universiteit gehuisves kon word. Ek weet nie wat van die projek geword het nie behalwe dat mnr. Vorster ná die eerste lekkasies van ons geheime projekte aan die pers in 1978 die universiteitsowerhede gevra het om voorlopig nie met die projek voort te gaan nie.
Behalwe vir ons poging om ’n groot belang in die Amerikaanse koerant The Washington Star te verkry was die regering se poging om die beherende aandele in die Britse uitgewersreus Morgan Grampian te verkry die duurste projek wat ons in die buiteland moes uitvoer. Die bedrag geld wat by die poging betrokke was het by die R6 miljoen beloop.
Die meeste koerantverslae en kritiek oor hierdie projek wat deur finansiers David Abramson en Stuart Pegg hanteer was, het die prysenswaardige doelstelling van hierdie projek totaal misgekyk.
In die vyf-jaar geheime program wat die regering in 1974 van stapel gestuur het, was ’n bedrag van R2 miljoen beskikbaar gestel vir die eerste fase van die oorname, of aankoop, van ’n groot uitgewersaak in Brittanje, met vertakkings in al die Engelssprekende lande in die wêreld.
Wat ek en dr. D.O. Rhoodie in die verskeie lande ontdek het waarheen ons diplomatieke loopbane ons geneem het, was dat die boekrakke van universiteite en openbare biblioteke in Westerse Lande met werke van anti-Suid-Afrikaanse brigades oorbelaai was. By sommige Amerikaanse universiteite wat ek gedurende my ses-jaar skof in die VSA besoek het, het die afdeling oor Suid-Afrikaanse politiek soos die personeregister van verbanne Suid-Afrikaanse Kommuniste gelees. Ruth First en Gowa Mbeki, en ’n horde Marxistiese mede-reisigers, of linkse sosialiste.
In ’n memorandum aan dr. Mulder het ek geskryf dat agtereenvolgcnde Buitelandse Ministers en Ministers van Onderwys van hierdie situasie moes geweet het. Maar wat het hulle in die verband gedoen? Niks! “Geen wonder dus”, het ek geskryf, “dat ’n hele geslag van studente van die Verenigde State op ’n dieet van linksgesinde en kommunistiese literatuur oor Suid-Afrika opgegroei het nie. Kan ons hulle kwalik neem omdat hulle elke Blanke Suid-Afrikaner haat? Ons weet waarom mev. Helen Suzman deur studente van die Universiteit van Kalifornië ’n fascis in vermomming genoem was omdat,
volgens die boeke wat aan hulle voorgeskryf is, elkeen wat nie ’n honderd persent vir die Swart proletariaat of Marxisme in Suid-Afrika is nie, afgesien van rassisties, ook fascisties is.”
In my memorandum het ek voorgestel dat ná die oorname van ’n groot buitelandse uitgewersaak, skrywers in die buiteland en Suid-Afrika aangestel kon word om manuskripte te skryf wat die ewewig sou herstel. Hierdie manuskripte kan deur die buitelandse uitgewersaak gepubliseer word. Pro-Apartheids boeke was nie nodig nie. ’n Manuskrip wat net ’n gebalanseerde weergawe van die voor- en nadele van apartheid weergee sou steeds honderd persent beter as die werke van Joe Slovo, Govan Mbeki, Brian Bunting, Edward Roux en Ruth First, almal Kommuniste, gewees het. Daarbenewens het ek gepleit dat die Departement van Inligting ook moet begin met ’n program om openlik boeke oor Suid-Afrika aan universiteite en opvoedkundige instansies in die buiteland te stuur. Teen ’n bedrag van R200 000 per jaar kon twintig boeke, soos The Official Yearbook, boeke oor onderwys en gesondheid in Suid-Afrika, ens., elke jaar aan ’n duisend universiteite en openbare biblioteke oorsee gestuur word. Na 10 jaar sou daar in elke groot Westerse universiteits en openbare biblioteek minstens ’n kernbiblioteek van goeie navorsingsboeke oor Suid-Afrika bestaan het. Dr. Mulder het goedkeuring vir albei projekte verleen.
In die geheime program is goedkeuring verleen om ’n uitgewersaak te koop. Die oorspronklike teiken was Hutchinson Uitgewers in Londen, en tot R5 miljoen, versprei oor ’n twee- tot drie-jaar periode, is vir hierdie projek opsy gesit. In 1975 is Red Metrowich (voorheen van die S.A.U.K. en die Afrika Instituut) na Switserland gestuur om ’n maatskappy te stig, of te koop, wat as front vir die Departement in die voorgenome oorname van Hutchinsons sou
dien. Hy het daarin geslaag om Production Editoriale vir sowat R18 000 aan te koop. Dit was ’n Switserse maatskappy wat in tegniese en algemene publikasies gespesialiseer het. Maar voor hierdie maatskappy gebruik kon word, het David Abramson op die toneel verskyn.
David Abramson, ’n Joodse prokureur en sakeman, het ook in die aankoop van ’n groot uitgewersaak in Brittanje belanggestel maar hy het probleme gehad om die geld daarvoor uit die land te kry. Nadat hy hieroor met dr. Diederichs gepraat het, is hy afsonderlik na generaal van den Bergh en na my verwys. Dr. Diederichs het geweet dat hyself, mnr. Vorster en dr. Mulder so ’n projek goedgekeur het en dat Abramson en ek moontlik kragte kon saamspan.
Ek het aan die einde van 1975 alleen met Abramson gepraat en aan hom gevra om ’n uitvoerbaarheidstudie van die oorname van ’n belangrike Britse maatskappy te maak. Abramson het ingestem en gesê dat hy ook sy vennoot, Stuart Pegg, sou betrek.
In 1975 het ons alreeds R25 000 vir ’n uitvoerbaarheidstudie oor ’n moontlike oorname van Paris Match in Frankryk betaal, daarom het ons Abramson en Pegg R30 000 aangebied vir die meer diepgaande verslag wat in die geval van die Britse ondememing nodig sou wees.
Vroeg in 1976 het ek Abramson se verslag ontvang. Ek het Abramson daarop na Van den Bergh verwys, ten einde laasgenoemde se reaksie te toets. Beide Abramson en ek het ’n belangrike Britse uitgewersaak, met kontakte en verspreidingspunte oral oor die wêreld, ook as ’n moontlike dekmantel vir generaal van den Bergh se agente gesien om in lande waar dit normaalweg moeilik sou wees om sonder die beskerming van ’n diplomatieke paspoort te fungeer, in te kom. Ek het met opset nie aan generaal van den Bergh vertel dat ek en Abramson alreeds ontmoet het nie en dat ek ’n uitvoerbaarheidstudie in my hande gehad het nie. Nadat generaal van den Bergh egter in Februarie met Abramson gesels het, was ook hy, onafhanklik, van die noodsaaklikheid van die projek oortuig. Hy het ’n ete in sy privaat-eetkamer vir homself, David Abramson, generaal Mike Geldenhuys en myself geskeduleer.
Generaal van den Bergh het saamgestem dat die projek skitterende geleenthede bied. Morgan-Grampian het byvoorbeeld Fodors, die wêreld se grootste toeriste-gids gepubliseer, selfs oor lande soos China, Egipte, die Sudan, almal plekke waar die generaal baie graag van sy mense vir eerstehandse evaluasies wou inkry. Daar kon moeilik beter dekking wees as ’n kameraman of ’n joemalis wat navorsing vir die Fodorsgids doen. Die gevoel was egter dat ek in beheer moes wees omdat publikasies hierby betrokke was.
Interessant genoeg, na die oorname misluk het, is daar vasgestel dat daar alreeds nie minder nie as 17 CIA-agente in die Fodors-opset geplant was.
Aan die begin wou dr. Mulder slegs 20 persent deelname in die Morgan Grampion projek hê, net genoeg om die regering ’n werkbare aandeel in die projek te gee en om 20 persent van die winste te verkry. Nadat Mulder egter in Februarie/Maart die Abramson-Pegg verslag bestudeer het, het hy daarop gewys dat Morgan Grampian kapitaal van oor die R24 miljoen in die bank, en bates van R40 miljoen gehad het. Indien ’n 51 persent oorname vir ’n paar miljoen rand bewerkstellig kon word sou al daardie bates onmiddellik vir ander projekte beskikbaar wees. Aan hierdie gedagtegang het ek toegevoeg dat Morgan Grampian inderwaarheid die basis kon wees waarop ’n tweede vyf-jaar program gebou kon word. Hierdie program was vir 1980-1985 in die vooruitsig gestel en sou onder meer op die oorname van verskeie prominente koerante en tydskrifte in die Westerse wêreld, insluitend The Observer in Engeland, gekonsentreer het. ’n Beter instrument vir hierdie poging as Morgan Grampian kon nouliks bedink word.
Later, toe hy die werksaamhede van Morgan Grampian aan die Kemp Komitee moes uiteensit, het Abramson gesê:
“Intussen, afgesien van Fodors en die Martin Spring-operasie, het dr. E.M. Rhoodie ons versoek om Israel en Frankryk te besoek en ondersoek in te stel oor hoe ons Morgan Grampian verder kon gebruik. In Frankryk is ons voorgestel aan mnr. Jean-Jacques Servan-Schreiber, vooraanstaande regsgesinde Franse politikus wat sowat sewentig setels in die Franse Volksraad beheer het en ook aan sy Amerikaanse regsadviseur, Sam Pisar. Stuart Pegg en ek het mnr. Servan-Schreiber en mnr. Pisar in Parys in April 1976 besoek en ongeveer ’n week saam met hulle deurgebring. Hierdie besoek het gevolg op ’n vorige besoek aan hulle deur dr. Connie Mulder en dr. Eschel Rhoodie, want mnr. Servan-Schreiber wou graag ’n nuwe vennoot vir sy weeklikse nuustydskrif, L ’Expresse inbring. Dit is een van die grootste, indien nie die heel grootste nuustydskrif in die Franse taal.
“’n Vennootskap sou ongetwyfeld ’n vet slag wees as dit moontlik was om dit te bewerkstellig en terselfdertyd die Franse wetgewing op perseienaarskap te omseil. Dit sou moontlik wees om hierdie transaksie deur Morgan Grampian te beklink, want die maatskappy was groot genoeg - met ’n kapitale basis van oor die £12 000 (sterling) en bates van heelwat meer as £20 000 000.
“Ek het die hoofbestuurder en die finansiële direkteur van Morgan Grampian na Parys gestuur om L Expresse indringend te ondersoek en hulle het ’n paar diepgaande gesprekke met die betrokke partye gevoer. Op uitdruklike aanbeveling van my vennoot, Stuart Pegg, het ons egter weggeskram van die besprekings, want ons het gevoel dat ons nie op die bona Jides van mnr. Servan-Schreiber kon peil trek nie aangesien hy verwag het dat al die betalings buite Frankryk gemaak moet word, ’n Gedeelte van ons ooreenkoms het gelui dat, indien die maatskappy, d.w.s. L Expresse, verdere finansiële steun nodig
sou vind, hy en ons proporsioneel volgens ons aandeelhouding sou bydra d.w.s. 51 persent vir ons en 49 persent vir hom.. Indien hy al sy geld uit Frankryk sou neem, was daar geen manier waarop hy dit wettiglik na Frankryk kon terugbring nie en dit het baie duidelik geword dat hy nie van plan was om dit te doen nie. Gevolglik het ons aan die onderhandeling onttrek en L Expresse is daaropvolgend aan meneer - nou Sir James Goldsmith, ’n Britse nyweraar met uitgebreide belange in Frankryk, verkoop.
“Ek het toe geglo en ek glo nou nog, dat dit die regte rigting was om in te slaan en dat Morgan Grampian die ideale weg was waarlangs LExpresse bekom kon word. Om die waarheid te sê, mnr. Pisar, ’n welbekende regsgeleerde in Frankryk en Amerika, het geglo dat die struktuur die heel beste was wat hy nog ooit teengekom het.
Om op hierdie manier van Morgan Grampian gebruik te maak, het absoluut ooreengestem met my oorspronklike plan dat dit vir ons as Suid-Arikaners noodsaaklik was om ’n kragtige basis, met stukrag te bekom. Daar was geen sin hoegenaamd daarin om x-honderd-duisend of x-miljoen Rand aan elke projek te bestee nie. Wat ons nodig gehad het, was ’n maatskappy, groot genoeg, respektabel genoeg en standvastig genoeg, om daardie maatskappy in staat te stel om enige aankope te doen, soos en wanneer nodig. Hierdie was ’n toepaslike geval. Ons sou etlike miljoene dollars spandeer het om ’n aandeel in Morgan Grampian te verkry, maar dan sou ons Morgan Grampian gebruik om L Expresse vir ’n verdere twaalf of dertien miljoen dollar te koop, sonder dat dit die land enigiets sou kos. Inderwaarheid, sou ons LExpresse weer kon
gebruik om ander bates in Frankryk te bekom sodat Suid-Afrika se finansiële uitgawe tot sy oorspronklike belegging beperk is, eerder as ’n aanhoudendeuitvloei van kapitaal elke keer wanneer ’n nuwe projek aangepak word.
Voorts is dit ’n fundamentele beginsel van my, dat die besigheid winsgewend moet wees en op ’n soliede sakegrondslag bedryf word en nie as ’n soort gesubsidieerde afdeling van die Departement van Openbare Werke nie. Gesonde sakebestuur moet in elke ondememing ingestel en gehandhaaf word sodatdie werksaamhede in staat sal wees om enige onpartydige ondersoek van buite af te oorleef.
In Morgan Grampian het ons die ideale weg gevind - uitstekende kapitaal, goeie bestuur en uitgebreide bates, ’n notering op die Londense Aandelemark, projekte op internasionale skaal en in staat om vir al ons oogmerke gebruik te word.
Instede van ’n 20 persent aandeel, het die Kabinetskomitee dus besluit om al die geld te voorsien vir ’n 50 persent aandeel, waarin die Departement 50 persent van die wins sou kry en die twee medewerkers Abramson en Pegg die res. Die Komitee se argument was: “Hoe harder hulle werk, hoe meer kry hulle en ons en, in elke geval, ons kan nie verwag om mense met internasionale ervaring te vind om so ’n multi-miljoen pond ondememing slegs vir ’n salaris te bestuur nie.”
Twee dinge het egter die de jure oomame van Morgan Grampian uiteindelik onmoontlik gemaak.
In die eerste instansie het wetgewing in Brittanje vereis dat sodra 'n aandeelhouer meer as 30 persent van die aandele in ’n openbare maatskappy verkry hy ook ’n aanbod vir al die ander aandele moet maak, die hele een honderd persent. In daardie stadium, toe Abramson en Pegg alreeds byna dertig persent verkry het, het die maatskappy gefloreer. Die Suid-Afrikaansc
Tesourie het weer op dieselfde tyd net eenvoudig nie die bykomende 9 miljoen wat vir die res van die aandele nodig was gehad nie. Alhoewel ek nog betoog het dat, indien die R9 miljoen gebruik word, die regering beheer oor ’n maatskappy sou verkry wat tweemaal daardie bedrag aan kontant in die bank het en bates, werklike bates, van meer as R40 miljoen het, kon die bedrag net nie in daardie sleutel periode gevind word nie. “Die R9 miljoen kan binne veertien dae of drie weke gevind word”, het Owen Horwood aan ons gesê,
“maar teen daardie tyd sal die waarde van die aandele alweer met ’n verdere twee of drie miljoen rand gestyg het.”
Hy was reg.
Van ’n voor-belastingwins van net meer as R1 miljoen in 1975 het die winste tot R4 200 000 in 1976 gestyg. Die eenheidskoste van die aandele op die mark het begin weghardloop van die perke wat ons volgens die begroting vasgestel het. Abramson het toe ’n blink idee gekry hoe om die hele probleem te oorbrug.
Hy het voorgestel dat die regering die reuse Hortorsgroep in Suid-Afrika moes koop. Hortors, 'n maatskappy met winste wat miljoene beloop, was ook 'n uitgewersaak. Deur Hortors-aandele in die Morgan Grampain-groep te stel en omgekeerd, kon 'n 50 persent de jure kontrole oor Morgan Grampian verkry word, sonder om 'n aanbod vir 100 persent van die aandele te maak.
My gedagtes het vooruitgesnel. Indien Hortors gekoop kon word, kon die maatskappy ook gebruik word om To The Point uit te koop, wat toe al 'n hoë winsdrempel bereik het, asook The Citizen. Die Hortors-wins kon dan die verliese van The Citizensy absorbeer, tot tyd en wyl (hopelik binne 3 jaar) die koerant ook winsdrempel bereik het en nie meer so 'n massiewe las op die staat sou wees nie. Daarbenewens kon Hortors gebruik word om ander publikasies in Suid-Afrika te loods, selfs koerante in Swart-gebiede van die land, terwyl Abramson en Pegg daarvoor kon sorg dat Morgan Grampian sy reedsbestaande meer as 40 belangrike internasionale publikasies uitbrei om ook, onder andere Franse, Hollandse en Duitse publikasies in te sluit. Ons het ook 'n minderheidsaandeel in die winsgewende Springer-groep in Duitsland, Paris Hatci Frankryk, Het Parool of De Volkskrant in Holland en The Observe, Londen, in gedagte gehad.
Hoe ons ookal geargumenteer het, die regering het op daardie tydstip net nie meer fondse geredelik beskikbaar gehad nie. In die stadium het Trafal House in Londen 'n aanbod vir al die Morgan Grampian aandele gemaak/ Aangesien hulle geen belang in Hortors getoon het nie, is die plan laat vaar dat ons aandele aan Trafalgar teen 'n wins van sowat R4 miljoen verkoop.
Met die Morgan Grampian-Hortors samesmelting van die baan het mnr Vorster en die Kabinetskomitee die oorname van die Hortors-groep, maatskappye, waarvan twee op die Johannesburgse Aandelebeurs genoteer was, goedgekeur. Hortors het sulke groot drukkers soos die Cape , Transvaal Printing and Publishing Company ingesluit wat, onder andere belangrike regeringspublikasies soos Hansard gedruk het. In totaal het die maatskappy sowat 25 verskillende tydskrifte in Suid-Afrika gepubliseer.
In April 1977 het Abramson 59 persent van die aandele gekoop, nadat eers die hele transaksie, insluitend die rol van Abramson en Pegg met Reserwebank uitgeklaar het. Vir die kooptransaksie het Abramson die geld gebruik wat uit die verkoop van die Morgan Grampian aandele verkry is. Die res van die aandele is gekoop met geld wat verkry is deur die aandele-kapitaal in Hortors te verminder.
Die aandelesertifikate, plus die blanko sekuriteitsoordragvorm wat Abramson en Pegg in hul hoedanigheid as direkteure en aandeelhouers van maatskappy wat Hortors gekoop het geteken het is toe aan my oorhandig.
Ek het dit in my brandkas in die brandkluis van die Departement van Inligting in Pretoria toegesluit.
In Desember 1978 het Hortors met die goedkeuring van die Kabinetskomitee 'n nuwe Swart tydskrif, Pace, geloods. Die sirkulasiesyfer was 275 000.
Met Hortors op 'n rekord-wins in die daaropvolgende jaar ingestel en met die Regering uiteindelik in besit van 'n ideale instrument om sy huishoudelike, anti-Marxistiese propaganda-oorlog te voer, sowel as 'n nuwe middel om buitelandse nuusmedia te bekom, het die Inligtingskandaal skielik ontplof!
Suggesties in die pers, insonderheid die SAAN-groep, dat daar bloot persoonlike oogmerke, verryking van individue ens., in die Morgan Grampian transaksie betrokke was, is nie alleenlik kwaadwillig nie, maar loutere onsin. Die aandele van Morgan Grampian, die blanko oordragvorms, was net soos in die geval van Hortors al die tyd in my kluis in Pretoria bewaar en beide mnr. Vorster en dr. Mulder, sowel as Braam Fourie (my rekenmeester) en generaal van den Bergh het hiervan geweet. Ook die Suid-Afrikaanse Reserwebank. En Generaal Mike Geldenhuys. Daar was geen manier waarop met hierdie belegging gepeuter kon word, deur enigeen, indien dit nie ten strengste ooreengekom het met wat die Kabinetskomitee goedgekeur het nie.
Die Erasmus-Kommissie het deur publikasie van sy getuienis oor Morgan Grampian en Hortors, Suid-Afrika van sy eerste en laaste geleentheid ontneem om 'n buitelandse publikasie-platform te skep vanwaar oor die jare 'n program van oornames geloods kon word wat uiteindelik vir Suid-Afrika 'n betekenisvolle stem in die invloedryke media van die Westerse wereld kon besorg het. Ek het net een woord vir die optrede van die Erasmus-Kommissie: Stommiteit. Nie kortsigtigheid nie, maar loutere stommiteit. Die Kommissie kon geen fout met die algemene oogmerke en finansiële operasies van die maatskappy vind nie. Die mandaat van die Erasmus-Kommissie was om beweerde "onreëlmatighede" in die Departement van Inligting te ondersoek. Nie om suksesvolle operasies te openbaar en dus te vernietig nie. Indien die Morgan Grampian projek (of die Hortors-oorname) nie 'n onreëlmatigheid was nie, waarom dan die bevindinge openbaar maak?
In Engeland het ons die nou beroemde Club of Ten geloods wat die Regering tot en met Junie 1978, toe ek die diens verlaat het, byna R800 000 gekos het. Hiervan het voormalige Regter Gerald Sparrow vanaf 1 April 1973 tot Februarie 1977 'n totaal van R27 585 as salaris ontvang wat hy nie aan die Britse belastingowerhede hoef te verklaar het nie, omdat dit in die geheim aan hom betaal is. As 'n geheel, was die projek 'n geweldige sukses.
Die Club of Ten se aktiwiteite het konsternasie onder die anti-SuidAfrikaanse elemente in die hoofstede van Brittanje, die Verenigde State en Holland veroorsaak soos niks anders wat ooit aangepak is nie.
Normaalweg kan 'n regering wat vyandig teenoor Suid-Afrika gesind was, asook die verskeie anti-apartheids organisasies, op liberale publisiteit in die daaglikse pers vir kritiek op SuidAfrika reken. Nou het dieselfde koerante egter skielik begin om half-blad en vol-blad advertensies te druk wat daardie einste regerings, die Verenigde Volke, die anti-apartheid-organisasies en die Wêreld-Raad van Kerke, oor hul skynheiligheid en dubbelstandaarde aangeval het.
Ons kritici was gebelgd dat die koerante soiets kan doen. Daarbenewens het die Klub in sy reklame net harde onomstootlike feite genoem. Hy was nooit daarvan beskuldig dat hy onjuisthede, of seilfs verdraaide statistieke gepubliseer het
nie. Die klub is aangeval omdat, wat gese was, seergemaak het.
Enige amptelike poging van Suid-Afrika om die soort reklame in die pers by wyse van nuuskonferensies of amptelike nuusvrystellings te kry, sou geen kans gehad het nie. Persverklarings deur Suid-Afrikaanse leiers was eenvoudig geïgnoreer. Ons het egter geweet dat baie invloedryke koerante ’n karige finansiële bestaan gemaak het. In werklikheid, was daar weinig koerante in die westerse wêreld wat so ’n groot en gemaklike wins gemaak het dat hulle kon bekostig om ’n volblad advertensie van die hand te wys. Bowendien het die organisasie, ten spyte van koerant-ondersoeke, blykbaar bona fide onder-steuning van privaat ondernemings en private individue in die Verenigde State en Suid-Afrika ontvang.
Gerald Sparrow was as ’n voormalige Britse Regter en skrywer van etlike boeke die ideale kandidaat om die projek te beheer. Hy was met ’n Oosterling getroud en was inskiklik solank die persoonlike toelae wat aan hom betaal was voldoende en geheim gehou is.
Die advertensies van die Klub, wat almal in Suid-Afrika deur myself of Les de Villiers geskryf is, was modelle van akkuraatheid en het van enige verduideliking van apartheid weggeskram. Ek het geweet ons kon nie bekostig om op ’n enkele onjuistheid uitgevang te word nie. Die advertensies kon ook nie gebruik word om ons huishoudelike beleid te bevorder nie. Dit was die werk van die Departement van Inligting. Die advertensies het gruweldade elders in die wêreld uitgewys asook rassisme en menseslagtings en dan ’n pleidooi tot die lesers gerig om die advertensie aan hul Regerings te stuur met ’n boodskap om net so kragdadig op te tree as wat hulle altyd in Suid-Afrika se geval gedoen het. Hierdie advertensies het in die belangrikste koerante van die wêreld verskyn, van Sydney in Australia tot in Washington in die VSA. Dit was in Parlemente aangehaal en as basis vir persverslae gebruik. Individue het dit gebruik om vrae aan hul regerings te stel. Baie gou het nie honderde nie, maar duisende briewe en tjeks ter ondersteuning van die werksaamhede van The Club of Ten na Londen begin instroom. Ten spyte van sy voorkeur aan Suid-Afrika het die Klub ook mokerhoue aan die politieke linksgesindes en die koerante wat hulle ondersteun het, toegedien. Die Verenigde Volke, die Wêreldraad van Kerke, die regeringspers in die Sowjet-Unie, almal het in protes getjank, maar daar was eintlik niks wat hulle kon doen nie. Koerante het geld nodig om te bestaan en advertensies het inkomste beteken.
Suid-Afrika het uiteindelik, teen groot koste van tyd en geld daarin geslaag om ’n organisasie daar te stel wat werklik besig was om ergernis en rooi gesigte in linksgesinde kringe in Londen, Washington, Den Haag, Sydney, Parys, New York, Ottawa en Moskou te veroorsaak. Onbegryplik egter het die Suid-Afrikaanse Engelstalige koerante, wat in hul hoofartikels gekla het dat die wêreld ’n verwerplike dubbele standaard toepas wanneer verwikkelinge in Suid-Afrika ge-evalueer word, harder as die buitelandse koerante gewerk om hierdie organisasie oop te krap en te vemietig. Uiteindelik moes The Rand Daily Mail op tjek-boek joemalistiek terugval om sy oogmerke te bereik.
Niemand het meer hulp aan The Guardian en The Observer in Londen verleen om die Club of Ten te ontmasker as Suid-Afrika se eie opposisie pers nie. Nogtans het die joernaliste oor een ding saamgestem: die boodskap en inhoud van die berigte wat die Club of Ten geplaas het was polities gebalanseerd en feitelik korrek; die berigte het die soort dinge gesê wat mense behoort te sê en wat Suid-Afrika se politici probeer het om oor te dra. Die enigste probleem was dat die buitelandse pers nie na die politici geluister het nie. Die Club of Ten het hierdie probleem omseil. Die Suid-Afrikaanse verslaggewers het egter onmiddellik hemel en aarde versit om die ondersteuners van hierdie Klub te ontmasker. Is die Rand Daily Mail en verslaggewers soos Mervyn Rees, Chris Day en Don Marshall trots op wat hulle bereik het?
Daar is baie min mense in Suid-Afrika wat nie met die argument saamstem nie, dat die land elke wettige en morele reg het om wapens te bekom om homself teen ’n buitelandse aanslag te verdedig. Maar ek het tot die oortuiging gekom dat indien sommige Engelstalige opposisie-koerante in Suid-Afrika ’n wettige manier kon vind om die land se wapenaankoop-aktiwiteite in die buiteland - waarvan ek self heelwat geweet het - kon ontdek en publiseer, hulle nie ’n oomblik sou huiwer om dit te doen nie. Nie alleen omdat dit ’n goeie storie sou wees nie, maar bloot om die Regering in die verleentheid te stel. Die ander oorwegings, dat die verkryging van die wapens noodsaaklik was en om dit in die geheim te bekom ook onvermydelik was, sal vir hulle van sekondêre belang wees. Hierdie benadering van verskeie Engelstalige koerante het tot die oormaatpersmaatreëls in Suid-Afrika bygedra. Die Club of Ten het my hierdie les geleer, meer as wat enigiets anders ooit gedoen het.
Vervolg...