Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ongelowiges kan nooit goeie volksleiers wees nie omdat dit wat vir die Evangelie skadelik is, ook vir ‘n volk skadelik is.
DIE WARE INLIGTING- SKANDAAL (7)
Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
GEHEIME PROJEKTE IN DIE AMERIKAS
In die lig van die Verenigde State se belangrikheid as die leier van die Vrye Wêreld, het ons vanselfsprekend ’n groot deel van ons tyd, geld en kragte daar spandeer in ’n poging om Suid-Afrika se beeld onder die meningsvormers en besluitnemers te verbeter.
Suid-Amerika was ook ’n doelwit, maar in ’n veel mindere mate as die Verenigde State wat Les de Villiers en ek so goed geken het. Beide van ons het meer as ses jaar daar deurgebring.
Een van ons probleme in verband met Suid-Amerika was ’n gebrek aan inligting. In een van ons programme het ons derhalwe geheime finansiële ondersteuning aan die Suid-Afrikaanse Buitelandse Handelsorganisasie (SAFTO) verleen ten einde sekere van hulle Spaanssprekende verteenwoordigers in staat te stel om feitlik elke land in Suid-Amerika te besoek. Dit was hulle taak om verslae oor die politieke situasie in elke land op te stel en ook vas te stel wat die kanse was om ’n inligtingsveldtog, openlik, of in die geheim, suksesvol in
enige van daardie lande van stapel te stuur. Nadat hulle my ingelig het, is hulle] na die Buro vir Staatsveiligheid verwys wat ook in hul bevindinge belanggestel het.
In 1977 het ons ’n kontraktuele ooreenkoms met Harry Muller, ’n sakeman en professionele skakel konsultant in Buenos-Aires aangegaan. Hy was ook Voorsitter van die Suid-Afrikaans-Argentynse Kamer van Koophandel. Die
kontrak het gelui dat vir die som van R110 000, Muller ’n totaal van 600 berigte oor Suid-Afrika in koerante in die nege mees belangrike lande van Suid-Amerika geplaas sou kry. Hierdie berigte moes nie toerisme of artikels van algemene belang insluit nie, wel ekonomiese ontwikkeling, politieke vordering, verbeterde omstandighede vir nie-blankes en verwante onderwerpe.
Aan die einde van 1977 was dossiere oor Muller se werk op my lessenaar. Hy het sonder twyfel aan dit voldoen waarvoor hy betaal is. Daar was meer as 800 koerantknipsels. Die verslae was positief en die artikels was oor die algemeen ryklik met foto’s geïllustreer. Ons het bereken dat, sou ons dieselfde spasie vir reklame moes koop, met inagneming van die verskeidenheid koerante waarin die verslae verskyn het, dit ons by die R390 000 sou gekos het.
Soos almal ook weet, is ’n verslag, ’n positiewe verslag, onder die handtekening van een van die koerante se gereelde verslaggewers tienmaal soveel werd as enige amptelik-betaalde advertensie, omdat dit ’n “onafhanklike” mening weerspieël.
Om Muller in die verkryging van die regte inligting behulpsaam te wees en om die regte verslae saam te stel, het ek Bettie van Wyk, redaktrise van S.A. Panorama, na ’n kantoor oorgeplaas vanwaar sy direk en alleenlik met Muller kon saamwerk. Sy moes ook seker maak dat hy al die regte foto’s ontvang.
Later in daardie jaar het ek egter van ’n goedgesinde joemalis in Buenos Aires wie ek ontmoet het toe hy as gas van die Departement van Inligting op besoek in Suid-Afrika was, vemeem dat Muller hom genader het om positiewe berigte oor Suid-Afrika te skryf. Muller sou hom vir elke artikel wat onder sy eie naam verskyn ’n sekere bedrag betaal. Toe hy aan die einde van die jaar in Pretoria aan my verslag gedoen het, het Muller dit self bevestig en gese dit was die beste manier om seker te maak dat die regte berigte in die regte koerante verskyn.
Muller het ook, deur middel van ’n geheime betaling, gereël dat ’n belangrike televisie-span van Buenos Aires na Umtata gekom het om ’n spesiale program oor die onafhanklikwording van die Transkei te maak. Die program is in Buenos Aires en etlike ander Latyns-Amerikaanse lande gebeeldsaai.
Ons sou heelwaarskynlik met hierdie program volgehou het was dit nie dat daar ’n “lek” in koerantkringe oor Muller se aktiwiteite ontstaan het nie. Ek het geen gewetensbesware om joernaliste te betaal om positiewe nuusberigte oor Suid-Afrika onder hulle name te skryf nie. As daar geen ander manier was om sulke artikels in die pers te kry nie, en die hemel weet, ons amptelike verteenwoordigers in Suid-Amerika het vir meer as twee dekades probeer, dan was ek bereid om die ander manier te probeer. En die Kabinetskomitee het met my saamgestem.
In baie dele van die wêreld sal joernaliste jou gewoonlik vertel dat hulle die gewete van die mensdom verteenwoordig, terwyl hulle in die geheim van ander regerings betaling ontvang om presies te doen wat ons in Latyns-Amerika gedoen het. Die Oos-blok lande het hulle “gekoopte vriende” in die pers. Die Weste ook. Toe die voormalige Adjunk-hoof van die Tjeggoslowaakse Geheime Diens etlike jare gelede na die Weste oorgeloop het, het hy vertel dat ’n relatief hoë persentasie van hulle geheime agente in die Weste joemaliste is. Briltanje se Sir James Goldsmith het in 1981 aan die media-groep van Brittanje se Konserwatiewe Party gesê dat generaal Sejna, nog ’n hoogaangeskrewe Tjeggiese Inligtingsoffisier, erken het dat die veldtog van die Duitse nuustydskrif Der Spiegel, om die konserwatiewe Bavariaanse politikus, Franz Joseph Strauss, in diskrediet te bring, deur die K.G.B. georganiseer is. Hoe dit ookal sy, Harry Muller se dossiere het my die een ding nie vertel waarin ons werklik belanggestel het nie: of daar opregte belangstelling in positiewe ontwikkelings in Suid-Afrika by die Latyns-Amerikaanse pers bestaan het. Al wat ons
geweet het is dat hulle vir geld bereid is om goeie dinge oor Suid-Afrika te skryf.
Toe ek die verslae na dr. Connie Mulder geneem het, was ek deur vertwyfeling in twee geskeur. As ons soveel positiewe publisiteit (800 verslae) vir Suid-Afrika vir R110 000 kon bekom, het ek aan die een kant geredeneer, dink net wat ons met ’n miljoen Rand kon verrig! Aan die ander kant het dr. Mulder en ek albei gevoel dat daar groot gevaar bestaan dat die projek op die lappe sou kom, hoofsaaklik omdat Muller ons aan die begin nooit laat verstaan het dat hyop ’n groot skaal “inkopies” gaan doen nie. Ons was onder die indruk gebring dat dit sy hoë-vlak kontakte sou wees wat die aanvoorwerk sou doen.
Ons het dus nie Muller se kontrak hernu nie. Indien die nuus sou uitlek, sou dit ’n hele aantal jare duur voordat enige koerantredakteur wat sy sout werd is enige positiewe artikels oor Suid-Afrika sou publiseer, selfs wat deur sy eie verslaggewers geskryf is, tensy dit deur die erkende intemasionale nuus- en foto-agentskappe soos Associated Press, Reuters en United Press aangevoer is.
In die Verenigde State het ons op die Amerikaanse Kongres gekonsentreer- om redes wat ek elders in hierdie geskrif uitspel; op koerante (nie televisie nie -
dit was eenvoudig te duur) kerk-organisasies, vakunies, die akademiese- en sakegemeenskap. Ons was nie oor televisie besorg nie, aangesien die Manville-verslag reeds aangetoon het dat in soverre dit Suid-Afrika betref, mense nie halfpad soveel peil op televisie as op koerante en nuustydskrifte vir hul inligting getrek het nie. Vandag nog, 1984, word koerante en nuustydskrifte deur die volwasse bevolking van die Verenigde State baie hoër as televisie-programme as ’n bron van betroubare beriggewing aangeslaan.
Waarskynlik een van die moeilikste take wat ons aangepak het, was om te verhoed dat maatskappye, stadsrade, universiteite en seifs state oorgehaal word om beleggings uit Suid-Afrika of beleggings in Amerikaanse maatskappye met belange in Suid-Afrika te onttrek. In besigheidskringe het hulle daama as“corporate disengagement” verwys. Die magtige Polaroid maatskappy was een van die eerste belangrike slagoffers van anti-Suid-Afrikaanse pressie-groepe. Ford, General Motors, Chrysler, Union Carbide, verskeie banke, universiteite soos Yale, Harvard en Princeton was almal teikens van protesgroepe.
Die Metodiste- en Presbiteriaanse Kerke het ’n hoofrol in hierdie onttrekkingsaksie gespeel.
Die literatuur wat kerklike-organisasies dwarsdeur die Verenigde State versprei het, was nie die blatant-onware soort wat die ANC en die Kommunistiese
Party gewoonlik produseer nie. Dit was baie meer subtiel. Juis omdat dit nie van klinkklare onwaarhede deurspek was nie, maar van halwe-waarhede en verdraaiings, was dit meer moeilik om as onwaar te bewys. Die kwaliteit en inslag van hul dokumente was hoofsaaklik die werk van uitgeweke predikante en priesters van Suid-Afrika af, sommige van wie vloeiend Afrikaans kon praat bv. Kenneth Carstens wat voortdurend Afrikaanse boeke en koerante as sy bronne van inligting aangehaal het. Die meerderheid van hulle inligting,sowat tagtig persent, was egter nog steeds van The Rand Daily Mail, The Financial Times en The Sunday Times in daardie volgorde afkomstig. Meer of min dieselfde volgorde kan in dokumente oor apartheid gevind word wal deur die Verenigde Volke se Apartheidseenheid gepubliseer is.
In ons poging om die veldtog teen nuwe beleggings in Suid-Afrika om die onttrekking van reeds-bestaande fondse te beveg, het ons van bestaande groepe in die Verenigde State, wat Suid-Afrika goedgesind is, gebruik gemaak soos bv. Americans Concerned With South Africa, meesal mense met heelwal goudaandele; ons eie skakelmaatskappy in New York; ons medewerker in Washington, Donald de Kieffer; Gary Player, publikasies wat deur verskeie frontorganisasies in Suid-Afrika, soos Prescon Business News, voorberei is, gedrukte verslae oor beleggings in Suid-Afrika wat by intemasionale konferensies aangebied is wat ons gereël en gefinansier het; konferensies in die Verenigde State gereël deur frontorganisasies wat ons in Suid-Afrika gevestig het, soos die Foreign Affairs Association (F.A.A.) en ander Suid-Afrikaners en instansies.
So te sê al die aktiwiteite en publikasies van hierdie instansies en individue is vanaf die 6de vloer van die Ad Astra-gebou in Pretoria saamgeknoop om by die aktiwiteite van ander groot privaatinstansies in te pas. Die Rotariërs, Lion Internasionaal, die Internasionale Junior Kamer van Koophandel, die nuusburo Afripix (wat in Johannesburg deur ons opgerig is) sowel as ‘n besoekersprogram vir Amerikaanse joemaliste en politici waarin ander ‘n frontorganisasies soos die F.A.A. en die Southern Africa Freedom Foundation ‘n groot rol gespeel het, was almal op een of ander wyse hierby ingeskakel.
Alles wat ons probeer bereik het, was daarop gemik om Suid-Afrika as 'n land van strategiese belang in die Vrye Wêreld voor te stel. Ons het die land a-polities en ideologies standvastig geskilder. ’n Land wat vanweë sy strategiese metale en minerale ekonomies belangrik is. ’n Goeie bondgenoot in oorlogstyd. 'n Land waar Kommunisme nie geduld word nie. ’n Land waar daar wel
vordering op die gebied van rasse-verhoudings plaasvind, stadig, maar nietemin seker. ’n Land met wie die Weste meer kontak moet hê, nie minder nie en waarin die Verenigde State die leiding moet neem. Ons het selde probeer om apartheid te verkoop of te verdedig. Laasgenoemde was deel van die normale aktiwiteite van die departement wat byvoorbeeld Die Realiteit van Multi
Nasionale Ontwikkeling in ses tale gepubliseer en in sy tienduisende wêreldwyd versprei het.
Tussen 1975 en 1978 het ek van my goeie betrekkinge met Hubert Jussen, eienaar van To The Point gebruik gemaak om jaarliks ’n Suid-Afrikaanse bylaag in besigheidsnuustydskrifte in die wêreld te publiseer. Sirkulasie: 800,000. Ons het ’n groot geheime subsidie vir reklamedoeleindes voorsien wat deur verskeie regeringsinstansies gebruik is.
Die inhoud self was deur joemaliste van To The Point voorberei wie vanselfsprekend, totaal onbewus daarvan was dat die geld wat die publikasie van die bylaag moontlik gemaak het, van Pretoria afkomstig was.
Die bestuurder van To The Point, Jan van Zyl Alberts, het Suid-Afrika deurkruis om betaalde advertensies vir die bylaag te verkry, maar, soos ek eenmaal aan mnr. Vorster, dr. Mulder en dr. Horwood gesê het, “terwyl almal dit as ’n fantastiese produksieveldtog vir belegging in Suid-Afrika beskou het, het dit net fantasties gebly solank iemand anders daarvoor betaal”. Alhoewel sommige private maatskappye tog advertensies geplaas het, moes ons nogtans ’n totaal van R288 000 vir die vier uitgawes tussen 1975 en 1978 inbetaal.
Omdat dit ’n private en nie ’n regeringstempel gedra het nie was die bylaag in Business Week ’n reuse sukses. Die Direkteur van die destydse beleggingskorporasie vir die tuislande het aan ons geskryf dat sy organisasie binne een jaar 3 000 briewe van die Verenigde State ontvang het. En dit in reaksie op een advertensie wat ons gratis aan sy organisasie voorsien het. Die eerste bylaag, in 1975, het in totaal meer as 26 000 briewe uit die V.S.A. gelok. Briewe van sakemanne, politici, akademici en andere. Heelwat winsgewende transaksies het vir Suid-Afrika uit hierdie gereelde jaarlikse bylaag in Business
Week gevloei.
Prescon Business News is in Johannesburg deur Martin Spring, voormalige redakteur van The Financial Gazette gestig maar tussen 1977 en 1978 het ons hom finansieel tot ’n bedrag van R47 000 ondersteun. Duisende eksemplare van hierdie finansiele nuusbrief, gunstig vir Suid-Afrika, is aan ’n gekeurde lys van sakemanne wat deur ons voorsien was, asook aan politici, finansiële redakteurs, beleggingsmaatskappye, kerkleiers en akademici in die Verenigde State gestuur. By verskeie geleenthede het ons vir die vliegtuigkaartjies en huisvesting van Spring betaal om beleggingsseminare oor Suid-Afrika in die Verenigde State en Brittanje by te woon en toe te spreek.
Gedurende dr. Connie Mulder se besoek aan die Verenigde State in 1973,is hy deur John McGoff, koerantuitgewer van East Lansing, Michigan, aan Donald de Kieffer, ’n jong opkomende prokureur van die langgevestigde regsfirma van Shannon, Collier, Rill en Edwards in Washington voorgestel.
McGoff het geglo dat Suid-Afrika ’n politieke medewerker met regskennis in Washington nodig gehad het om sy Inligtingsdepartement te verteenwoordig. As ’n Amerikaanse burger, kon so ’n persoon veel meer gemaklik tussen die Amerikaanse politici in Washington beweeg en met veel groter vrymoedigheid praat as wat dit vir enige Suid-Afrikaanse diplomaat moontlik was. Vandaar dat soveel regerings lobyiste in Washington het.
Op elke besoek aan Washington het ek ’n aantal prominente Amerikaanse politici ontmoet, senatore en kongreslede. By hierdie geleentheid gesels waaronder Senator John Sparkman.
Don de Kieffer, die jong briljante regsgeleerde wat Suid-Afrika se eerste voltydse lobbyis in Washington geword het, het meer hoë-vlak politieke skakeling vir Suid-Afrika in Washington bewerkstellig as enigiemand anders. Pik Botha het, nadat hy Minister van Inligting geword het, de Kieffer ontslaan omdat hy met my en dr. Mulder bevriend was. In sy plek het mnr. Botha twee firmas van lobbyiste aangestel, een waarvan deur pres. Reagan ontslaan is toe hy vroeër by hom in diens was. Nadat mnr. Reagan president geword het, is de Kieffer in Reagan se administrasie in 'n hoë posisie aangestel as adviseur t.o.v. buitelandse handel. Hierna het Pik Botha dadelik sy deuntjie gewysig. Dit noem mens mos politieke moraliteit...
Vervolg...