Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons lewe word deur ons gedagtes ingekleur. Daarom is eerbare gedagtes die moeder van alle wysheid. ‘n Eerbare volksleier se karakter word soos kunstige borduurwerk stekie vir stekie al hoe mooier. Dit bring nie net sonskyn in sy eie lewe nie, maar ook in diè van sy volksgenote.
DIE WARE INLIGTING- SKANDAAL (6)
Dr Eschel Rhoodie (1984)
Lees reeks by Die ware inligtingskandaal
In die vroeë sewentigerjare was die prognose een van 'n ware verskerpte sielkundige- en propaganda-oorlog en dit het binne 'n paar jaar werklikheid geword. Suid-Afrika was feitlik onvoorbereid. Baie het daaroor gepraat, maar min het probeer om iets daaraan te doen. Die Inligtingsdepartement het 'n tekort aan personeel gehad. Hulle het baie min geld vir grootskaalse aktiwiteite beskikbaar gehad. Na ses jaar van Gerald Barrie se rentmeesterskap, het die Departement in selftevredenheid verswelg.
Gedurende die 1970 - 1973 periode het dit ook duidelik geword dat die beleid van afsonderlike ontwikkeling op sy eie nie sal verkoop nie. Die beste akademici wat Suid-Afrika op die gebied van groepsverhoudinge gehad het, waarvan my broer, professor N.J.Rhoodie een was, het probleme ondervind. Alhoewel hy destyds as "te liberaal" deur talle Afrikaanse politici en akademici beskou is, was sy sienswyses in die VSA "te konserwatief" gesien.
Die konvensionele diplomasie van die afgelope 25 jaar het Suid-Afrika nêrens gebring nie.
Die enigste alternatief was om eenvoudig oor en onder die hindernisse te gaan ten einde die meningsvormers en besluitnemers te bereik. Om nie apartheid nie maar net ons sterk kaarte te speel: die strategiese minerale en metale van Suid-Afrika, die strategiese see-roete, Suid-Afrika se stabiliteit, sy geskiedenis as bondgenoot in tye van konflik, sy vermoë om voedsel en tegnologie te produseer en uit te voer. Wat ons sou moes doen was om kommunikasielyne daar te stel en organisasies in die lewe te roep wat, oenskynlik, "onafhanklik" sou wees maar eintlik Suid-Afrika se amptelike boodskap sou uitdra.
Op die ou end was dit presies wat ons gedoen het.
Die diplomate kon nie hulle boodskap na die Wit Huis in Washington deurkry nie, dus het Inligting'n lyn gevind - deur private kanale - wat tot heel bo in die Carter administrasie gelei het.
Pro-Suid-Afrikaanse politieke manuskripte is nie gepubliseer nie, dus is planne beraam om 'n belangrike uitgewersmaatskappy oorsee te koop.
Suid-Afrika was voortdurend op TV gehamer, dus is daar geld beskikbaar gestel om gelyke sê in die grootste televisie-nuus verspreidingdiens in die wêreld te kry.
Teen die einde van 1972 was dr. Mulder oortuig dat Suid-Afrika sy inligtingsprogram drasties sou moes verander.
Heel eerste moes die pas van die konvensionele aktiwiteite versnel word. Hierin het hy my 'n gewillige bondgenoot gevind, want ek het geglo dat selfs konvensionele skakel en inligtingsprogramme van groot belang is. Soos dit later deur ons wereldwye geheime markontleding bewys is, het 'n groot persentasie van mense oorsee verkies om hulle inligting direk van die verteenwoordigers van vreemde lande te verkry, en nie deur nuusagentskappe of ander instansies in hul eie state nie.
Tweedens, moes daar 'n program vir samespreking met die Eerste Minister en die Minister van Finansies en ander senior Ministers uitgewerk word. Daarna sou hy van my 'n volskaalse uiteensetting verwag waarin ek die teikengroepe en die metodes wat gebruik sou word moes verduidelik.
In 1973 het ek dr. Mulder gevra, en uit die staatskas die fondse vir die markontleding in 14 lande van die wêreld verkry. Die projek het R280 000 gekos en die Departement vir die eerste keer van 'n diepgaande ontleding voorsien van wat mense oorsee nou eintlik van Suid-Afrika gedink het; wat die regerings gedink het, sakelui, studente, godsdienstige groepe, jonk en oud, die pers, die werkers, die politici, ens. Die ontleding is deur Richard Manville Inc. onderneem,'n New Yorkse firma wat in sulke ondersoeke gespesialiseer het. Om die feit dat Suid-Afrika vir die analise betaal het te kamoefleer, is ander lande, soos bv. Kanada, Uganda, Nigerië, Indië en die Sowjet-Unie ook ingesluit.
Die uitslae het eens en vir altyd bewys dat in daardie 14 lande 'n uitermaat aan onkunde oor Suid-Afrikaanse aangeleenthede aan die orde van die dag was. Suid-Afrika het in der waarheid niks beter as Uganda gevaar nie. In WesDuitsland, een van ons vernaamste handelsvennote en buitelandse beleggers het Rusland, Chili en Indië 'n baie beter beeld as Suid-Afrika geniet.
Terselfdertyd was daar bemoedigende tekens: Die feit dat in alle lande die oorgrote meerderheid van mense teen inmenging van plaaslike politieke instansies en hulle eie regerings in Suid-Afrika se huishoudelike sake gekant is, en dat koerante en nuustydskrifte, nie (duur) televisie nie, hulle vernaamste bronne van inligting was.
Manville is na Suid-Afrika gebring om sy analise aan te bied. Die studie het sewentien boekdele beslaan en wat, opmekaar gestapel, nege voet hoog was. Dr. Mulder het mnr. Vorster, dr. Diederichs en dr. Hilgard Muller na Inligting genooi. In die klein teater op die sewende vloer van die Ad Astragebou het Manville die resultate van die studie met kleurskyfies toegelig, wat hy op 'n groot skerm geprojekteer het.
Mnr. Vorster en die ander was geskok, maar ook beïndruk. In Japan het 50 persent van die mense geweet wie Gary Player is, net een persent het van Vorster gehoor en alhoewel sy voorganger toe reeds agtjaar oorlede was het die meeste Japannese nog geglo dat dr. Verwoerd die Eerste Minister was.
Agterna het mnr. Vorster aan my gevra om te reël dat 'n soort aanbieding ook aan hoofde van alle regeringsdepartemente gemaak word. Dit het uiteindelik in die H.F. Verwoerdgebou in Kaapstad plaasgevind. Dries Pretorius, Sekretaris van die Tesourie het aan die einde opgestaan en gesê dat hy gelukkig voel omdat die inligtingsprogram einde ten laaste op 'n "professionele wyse" aangepak word.
Ek glo nie Brand Fourie of Gerald Barrie was oor hierdie opmerking gelukkig nie.
Die studie het veel tot Vorster se uiteindelike besluit bygedra om die eerste van 'n reeks vyf-jaarpropaganda-offensiewe van stapel te stuur. As Afrika se beeld nie veel beter as die van Uganda was nie, dan het metodes, diplomatiek en andersins, ooglopend misluk.
Gedurende 1973 het ons alreeds 'n aantal geheime projekte van stapel gestuur, waarvan die meeste met sukses begin is en in 'n kort tydjie t resultate gelewer het. Die belangrikste hiervan was om die syfer van ons subskripsies vir buitelandse verspreiding van To The Point tot oor die 30 000 te verhoog. Briewe het na die bestuur en redaksionele personeel in Johannesburg begin terug sypel dat buitelandse lesers To The Point bo Time en Neii verkies in soverre dit nuusdekking oor Suider-Afrika raak.
In Nairobi is 'n nuusagentskap tot stand gebring wat kort te vore programme en ander nuus oor Suid-Afrika na Europa begin uitstuur het.
Carl Breyer, wat saam met my by To The Point gewerk het, het my gevra om 'n fotonuusagentskap te finansier. Hy sou dit gebruik om foto's en artikels na sewentig groot Duitse, Hollandse, Switserse, Oostenrykse en Franse publikasiea deur te stuur. Breyer is toe as 'n voltydse geheime medewerker aangestel. Sy salaris en alle koste van sy internasionale fotonuusdiens is uit Inligting se geheime rekening verhaal. Breyer het sy werk goed gedoen en tientalle artikels het in belangrike Europese publikasies onder sy naam begin verskyn. (Interessant genoeg, na die Inligtingskandaal het Breyer dieselfde publikasies gebruik om 'n paar uiters neerhalende artikels oor Hubert Jussen en Martin Duyzings van To The Point, en ook oor myself te skryf.) Hy het ook verskeie Afrika-politieke spitsberade van ministers en staatshoofde bygewoon om die departement van denkrigtings in die OAE en ander organisasies op hoogte te hou.
Die totale bedrag wat jaarliks aan die Breyer-operasie bestee is, het ongeveer R26 000 beloop, maar ek het gevoel dit was die geld werd. Dit sou tien keer soveel kos om in dieselfde koerante en tydskrifte advertensie-spasie, gelykstaande aan die wat Breyer se artikels opgeneem het, te koop en dit sou twintigkeer minder effektief gewees het. Die meeste van Breyer se foto's en artikels is in Pretoria uitgeklaar en "gesensor" alvorens dit uitgestuur is. Breyer het ook 'n vername bron van inligting geword oor ander joemaliste in Europa wat as potensiële gaste van die Departement van Inligting gekwalifiseer het.
In Parys het die Departement van Inligting feitlik beheer van die falende maar hoogsaangeskrewe, konserwatiewe intellektuele tydskrf, Le Monde Moderne oorgeneem deur net 'n geheime kwartaallikse subskripsie-bestelling van 2 000 kopieë te plaas. Uiteindelik was die voortbestaan van die tydskrif geheel en al van hierdie fonds afhanklik.
Die eerste van etlike Institute is in die lewe geroep.
In Parys is die uitgewer van Le Monde Moderne, Jean Vigneau, en ook `doyen' van die perskorps in Parys betaal om 'n studiegroep, The Institute for the Study of the Modem World, op te rig. Die gedagte was om Franse parlementariërs, politici, koerantredakteurs en sakelui van 'n diepgaande ontleding van toestande in kern-lande van die wêreld te voorsien. Suid-Afrika sou een wees. Ons het die temas uitgesoek.
Verskeie boeke is deur die departement in die geheim gefinansier deur finansiele dekking vir die eerste oplaag te verseker. Langs hierdie weg is pro-Suid-Afrikaanse boeke, bv deur Paul Giniewski en Jacques le Guebe in Frankryk gepubliseer.
Le Guebe is as 'n deeltydse politieke medewerker aangestel. In sy hoedanigheid as gewese Franse diplomaat het hy uitstekende kontak met die Franse Buitelandse Ministerie en ook ander Franse politici gehad. Hy was elke sent van sy salaris werd. Louis Pienaar, later Suid-Afrika se Ambassadeur in Frankryk, het sy eerste groep Franse Parlementslede by 'n middagmaal ontmoet wat deur Le Guebe en Vigneau gereël is.
Die proses is in ander lande herhaal en toe dr. Mulder aan die einde van 1973 al hierdie projekte geskets het, was die Eerste Minister oortuig dat die tyd ryp was om amptelik nuwe riglyne vir die Departement van Inligting en wat die Departement ook teen inmenging aan die kant van 'n lewensmoë Departement van Buitelandse Sake sou beskerm. Sy brief van Desember 1973 wat aan lede van sy kabinet en hul sekretarisse gesirkuleer is, was saaklik.
52
Kantoor van die Eerste Minister
Prime Minister's Office
PRETORIA
0136
Geagte Kollega
VERANTWOORDELIKHEDE EN PLIGTE VAN DIE DEPARTEMENT VAN INLIGTING IN DIE BUITELAND
In die lig van toenemende politiek en propaganda-aanslae teen die Republiek, beide in intensiteit en omvang, asook die onortodokse en gesofistikeerde vorme wat dit aanneem, het dit noodsaaklik geword om die funksie van die Departement van Inligting in die bevordering van landsbelange in die algemeen en nasionale veiligheid in besonder dienooreenkomstig aan te pas. Hierdie situasie stel hoër en nuwe eise en die Departement se organisasie, werksmetodes en middele sal derhalwe hierby aangepas word.
Die opdrag aan die Departement van Inligting en sy doelstelling in die buiteland is om reeds aangekondigde regeringsbeleid, asook alle tersaaklike feite aangaande die Republiek en Suidwes-Afrika en sy bevolkingsgroepe op alle moontlike wyses aan die bevolkings van ander lande en in besonder aan meningsvormers en besluitnemers op alle terreine oor te dra. Hierdie opdrag spruit voort uit die Staatspresident se kennisgewing van die daarstelling van 'n Departement van Inligting en, tot datum, binne die raamwerk van latere beleidsopdragte deur die Eerste Minister aan Departemente gesirkuleer. In die Staatspresident se aankondiging vervat in Regeringskennisgewing nr. 1142 van 1 Desember 1961 word die verskaffing van inligting oor die bevolkingsgroepe van Suid-Afrika en Suidwes-Afrika, en van hulle ontwikkeling, aan die bevolkings van Suid-Afrika en van ander lande aan die Departement van Inligting toevertrou (paragraaf b en c) asook die koOrdinasie, binne en buitelands, van alle staatspublisiteitsdienste (paragraaf d) . . . .
Die uitvoering van die opdrag van die Departement, die verwesenliking van sy doelstelling, die metodiek wat aangewend word, asook die finansiering van alle aksies, maak deel uit van die portefeuljeverantwoordelikheid van die Minister van Inligting. Laasgenoemde sal in hierdie verband met die Minister van Buitelandse Sake oorleg pleeg. In die uitvoering van sy opdrag is dit aan die Minister van Inligting oorgelaat om te bepaal water metodes, middele en aksies, hetsy openbaar of geheim, noodsaaklik en mees effektief sal wees om bogenoemde doelstelling te verwesenlik.
Die Minister van Inligting raadpleeg uit die aard van die saak ook die Eerste Minister oor die belangriker inligtingsaspekte en -projekte en sal lede van die kabinet raadpleeg oor daardie aangeleenthede waarin hulle betrokke mag wees.
Hierdie opdrag vervang alle vorige opdragte in soverre dit die Departement van Inligting raak.
Sal u asseblief u Departementshoofde dienooreenkomstig inlig.
Met vriendelike groete
Sy Edele dr. C.P. Mulder, L.V. Minister van Inligting
Privaatsak X241
PRETORIA
0001
Hierdie instruksies is ook met volle samewerking van dr. Hilgard bedink as 'n manier om Buitelandse Sake in die uitvoering van projekte te omseil. Dit moes ook 'n einde maak aan klagtes van Buite Sake amptenare aan die pers dat inligting op hulle terrein oortree.
Vervolg...