Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God het sy Seun gestuur om elkeen van ons se sondes op Hom, Jesus, te neem en aan die kruis daarvoor te betaal; en Hy het sy Heilige Gees vir ons hier gelaat om ons te versterk en die evangelie in almal se harte te bewerk. Maar mense met harde harte bied weerstand teen die Gees van God, terwyl geesvervulde harte die langverwagte boodskap met blydskap ontvang. As jy een van dié met 'n verharde hart is, gebruik jou laaste geleenthede om die Gees te ontvang, want ons Messias kom ons weer haal om voor die troon van God te staan – ook jý sal daar moet verantwoording doen!
POLITIEKE KORREKTHEID
ʼn Marxistiese slagyster
Andrè van den Berg
Lees meer van hierdie skrywer by Andrè van den Berg
DIE WAARHEID het talle karikature waarvan die sosiale euwel wat as politieke korrektheid bekend staan een van die skadelikste is. Dit het veld begin wen toe kommunisme in Oos Europa ineen begin stort het. Politieke korrektheid poog om stabiele volke se trotse geskiedenis te herskryf as vergoeding vir sg. onregte van die verlede. Ironies genoeg, het dit nêrens ter wêreld enige onreg herstel nie, maar dit eerder help skep. Bestendige regerings is ontwrig en polities korrek-vertrapte lande is geskep.
Politieke korrektheid het in 1923 in die Frankfurt Skool van Denke (Duitsland) ontstaan en sou aanvanklik die Instituut van Marxisme genoem word. Daar is toe op die Instituut van Sosiale Navorsing besluit ten einde die bose wortels van Marxisme te verbloem. Die doel van hierdie instituut was om ʼn oplossing te vind vir ʼn probleem waarmee die kommuniste geworstel het - hulle ideologie het nie genoegsame steun verkry nie.
Die rede hiervoor was die Weste se vertroue in enkelinge se vermoë om hul eie politieke heil uit te werk. Kommunisme daarenteen glo dat enkelinge niks is nie en dat ʼn sinvolle politieke bestel slegs deur die groep geskep en onderhou kan word. Daarom het hulle na maniere begin soek om die regte van enkelinge te ondergrawe en die Westerse wêreld aan te spoor om hulself te vernietig.
Om hierin te slaag, moes die Weste se taalgebruik en denkpatroon verander word. Enkelinge moes soos die groep begin dink. Daarvoor is politieke korrektheid as ʼn intellektuele dwangbuis ontwerp om mense te gekondisioneer om hulself aan die hoofstroom te onderwerp en soos die meerderheid te dink.
Gevolglik is politieke korrektheid wesentlik Marxisme met alles wat daarmee gepaard gaan soos ʼn verlies aan vryheid van spraak, die beheer van mense se gedagtes, die ontwrigting van die tradisionele samelewingsorde en uiteindelik ʼn totalitêre staat wat ʼn onverbiddelike gelykheid op sy burgers afdwing.
Politieke korrektheid is ʼn gekonsentreerde boosheid wat op algehele uitwissing van die tradisionele Westerse kultuur ingestel is en wat enkelinge op ʼn tirannieke wyse in ʼn kunsmatige eensydigheid indwing. Nugtere denke word gesmoor sodat mense nie meer mag nie sê wat hulle dink nie.
Om polities korrek te wees, het in talle Westerse lande aanklank gevind. Baie mense sal hul siele verkoop om polities korrek te wees en daarvoor aangeprys te word. Wie die minste weet, glo onsin die maklikste! Sommige van hierdie mense se lewens is egter so vrot dat dit aan misdadigheid grens; mense wat soos engele praat, maar soos duiwels leef! Teenstanders hiervan word as politieke fossiele gebrandmerk.
Politieke korrektheid het aan Marxiste die politieke mag besorg om hul weergawe van hemel op aarde op massas af te dwing. Hulle doen hulself as nierassisties en mense met goeie politieke insig voor. Die ironie is dat politieke korrektheid nog nêrens ter wêreld enige verbetering aangebring het nie. Dis eerder ʼn spoedwal op die pad van staatkundige bestendigheid en landsvrede.
Politieke korrektheid verklaar oorlog teen waarneembare werklikhede deur voor die hand liggende waarhede as struikelblokke te beskou. Desondanks gaan dit voort om mense siende blind te maak en gesonde samelewings met Marxisme te vergiftig. In plaas van kinders op skool met die waarheid te voed, word hulle met die onsmaaklike brousel van politieke korrektheid gevoer.
In die politiek gebeur niks toevallig nie. Politieke korrektheid is niks anders as ʼn subtiele organisering van rassehaat nie, die geykte Marxistiese klassestryd. Eerbare mense word gedwing om hul lotsgebondenheid met kultureel vreemde mense te aanvaar en word die reg ontneem om sekere voorkeure uit te oefen of om gedagtes wat vir sommige aanstootlik mag klink, uit te spreek. Die gevolg is ʼn ongebalanseerde, misdaad-geteisterde samelewing.
Oral waar politieke korrektheid te lande kom, daal sedes en styg misdaad en rassepolarisasie. Dit laat nie net onuitwisbare spore van verbittering agter nie, maar skep ook ʼn gees van onverantwoordelikheid. Hoe meer polities korrek ʼn land is, hoe minder verantwoordelikheid aanvaar die leiersfigure. Hulle wil mag maar nie verantwoordelikhede hê nie.
Daarbenewens is politieke korrektheid ook taalkundige oorlogvoering teen reg en geregtigheid. Dit gaan oor hoe ʼn ding gesê word en nie waarom dit gesê word nie. Stellings, idees en woorde wat jare lank gebruik is, word sonder meer as polities onjuis veroordeel. Dit maak mense stil. Hulle sê nie meer vir mekaar wat hul hinder ten einde hindernisse op te klaar nie. Dis ʼn ongemaklike atmosfeer wat mense op die spreekwoordelike eiers laat loop uit vrees dat hulle ʼn taalkundige doodsonde kan begaan.
Politieke korrektheid is verdraagsaam jeens gruwels. Homoseksualisme word bv. nie veroordeel nie en mense word mislei om te glo dat alle godsdienste in beginsel eenders is. Wie dit beveg, loop hom baie gou teen die god van die New Age vas. Die Belhar-belydenis is Marxisties en gevolglik teologies onjuis. Desondanks onderskryf talle ontspoorde kerke dit vir geen ander rede nie as dat dit polities korrek is. Die stert swaai die hond!
Polities korrekte mense is oorhoeks sensitief vir negatiewe verwysing na anderskleuriges. Daar mag bv. nie na ʼn persoon se VIGS-status verwys word nie omdat VIGS hoofsaaklik onder swartes voorkom. Verwarde denke los nie probleme op nie maar herrangskik dit eerder.
Politieke korrektheid is ʼn vorm van sensuur omdat dit mense verhoed om te sê wat gesê moet word. Mense besef nie dat hulle hul stem in ʼn gedwonge, kunsmatige eendersheid verloor nie. Spyt kom egter altyd te laat as mense nie leer wat om betyds te vermy nie.
Suid-Afrika staan op die drumpel van georganiseerde bloedvergieting. Terwyl eerbare burgers verbete teen ʼn stroom van agteruitgang swem, spoed ander onverpoosd in polities korrekte doodloopstrate voort. Waarskuwings val op dowe ore. Die galbrakery oor apartheid is net te soet. Mag God gee dat die dag gou aanbreek dat die sirene van die werklikheid harder as die geskreeu vir politieke korrektheid loei!