Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Gelowiges is nie magsbehep nie, maar onttroon eerder hulself sodat God alleen op die troon van hul lewe sit. Dis lynreg teen die gees van Isebel! Hierdie gees/gesindheid voer in baie mense se lewens die botoon, veral politici wat leierskap as ʼn persoonlike besitting beskou waaraan vasgehou moet word.
ANC- AANSLAG OP DIE KERK (12) (SLOT)
Prof AWG Raath
Lees reeks by Kerk as instrument van ANC-revolusie
(Let daarop dat hierdie reeks oorspronklik in 1989 geskryf is, vandaar verwysings na later-veranderde situasies.)
" ...so weerspieël die nuwe konstitusionele riglyne van die ANC bepaalde toegewings en aanpassings om op die korttermyn nie te veel weerstand op te wek nie, ten einde die langtermyn-strategieë van die Marxistiese revolusie te bereik."
SOSIALISTIESE LEGALITEIT EN DIE ANC SE NUWE KONSTITUSIONELE RIGLYNE
Wat is Sosialistiese Legaliteit?
Volgens die klassieke Marxisme bepaal die ekonomiese substruktuur van ’n samelewing die bowe-struktuur daarvan. Aldus het Karl Marx probeer bewys dat die kapitalisme op alle terreine van die samelewing weerspieël word, naamlik op sosiale gebied, op juridiese gebied, op politieke gebied en op die terrein van die geesteslewe. Wat die kapitalisme in besonder betref, het Marx probeer bewys dat daar twee sosiale groepe is, naamlik die bourgeoisie, wat die produksiemiddele besit, en die proletariaat, wat die sosiaal onbevoorregte klas is (Marx en Engels, Werke (1961-1965, vol. 2, pp.324-407 (Engels, Die Lage der arbeitenden Klasse in England)).
Volgens Marx weerspieël die regsorde die kapitalistiese produksiewyse tot dié mate dat die bevoorregte klas sy posisie wil konsolideer en wil probeer om die feitelike situasie tot ’n “sollensprinzip” te verhef.
Volgens Marx is die reg slegs die erkenning van die feite en nie iets vanuit ’n metafisiese oorsprong nie. Die reg is nie ewig en onveranderlik nie, maar relatief tot die stand van die produksieverhoudinge. Marx (Marx en Engels, Werke (1961-1965, vol. 23, pp.99-100) (Marx, Das Kapital)) stel dit soos volg:
“Die regsverhoudinge, waarvan die verdrag die vorm is, of hy wettig ontwikkeld is of nie, is ’n wilsverhouding waarin die ekonomiese verhouding weerspieël word. Die inhoud van hierdie regs- of wilsverhouding is met die ekonomiese verhouding self gegee. Die persone is vir mekaar niks anders nie as die verteenwoordigers van goedere, dit wil sê ware-eienaars.
Om ’n einde aan die kapitalisme te maak, pleit Marx en Engels daarvoor dat daar ’n revolusie in belang van die kommunisme moet plaasvind. Hierdie revolusie behels die volgende aspekte: Eerstens moet die proletariaat die staatsmag van die bourgeoisie afneem en dit vir homself toe-eien. Dit is die eerste stadium van die revolusie (sien byvoorbeeld Marx en Engels, Werke, 1961-1965, vol. 4, p.481).
Tweedens volg hierop die sistematiese afbreek van die kapitalisme en die vestiging van ’n kommunistiese samelewing. Van hierdie tweede fase van die revolusie het Marx {Werke, 1961-1965, vol. 19, p.28) gesê:
“Tussen die kapitalistiese en die kommunistiese samelewings lê die tydperk van die revolusionêre transformasie van die een na die ander. Hiermee gaan ook ’n politieke oorgangstydperk saam, waarin die staat niks anders kan wees nie as die revolusionere diktatuur van die proletariaat.”
Dit beteken dat die proletariaat in dié tydperk die enigste regerende klas sal wees en dat hulle sal dikteer. In essensie kom dit daarop neer dat die proletariaat sy politieke mag sal gebruik om die bourgeoisie stap vir stap alle kapitaal te ontneem, om alle produksiemiddele in die hande van die staat, dit wil sê die proletariaat wat as heersende klas georganiseer is, te sentraliseer en die hoeveelheid produksiekragte so vinnig moontlik te vermeerder.
Die derde en laaste stadium van die revolusie word gekenmerk deur die afwesigheid van die staat; deur die gemeenskaplike besit en beheer van kapitaal; en deur die afwesigheid van klasse, klasse-idee en klass-einstellings. Die ekonomiese lewe sal plaasvind op die grondslag van arbeid en vergoeding volgens behoefte. In sy werk Anti-Duhring het Engels beweer dat die kommunisme vir almal ’n goeie lewensbestaan sou verseker.
“...’n bestaan wat nie slegs materieël geheel en al voldoende is en dag na dag ryker word nie, maar ’n bestaan wat aan almal die volkome vrye ontwikkeling en beoefening van hul liggaamlike en geestelike vermoëns waarborg” (Marx en Engels, Werke, 1961-1965, vol. 20, pp.263-264 (Engels, Hernn Eugen Diihring’s Umwalzung der Wissenschaft)).
Ná die Russiese revolusie in 1917 is die standpunt in die USSR gehuldig dat die beginsel van legaliteit onmiddellik afgeskaf sou kon word, deur dit met die revolusionêre bewussyn van die proletariaat te vervang. Met die verloop van tyd is egter ingesien dat die finale kommunistiese fase in die samelewing nie spoedig bereik sou word nie. Mettertyd is gedurende hierdie “oorgangstydperk” vir ’n beginsel van “sosialistiese legaliteit” voorsiening gemaak, in terme waarvan die reg dieselfde status as in “bourgeoisie”-lande verkry het.
Die beginsel van sosialistiese legaliteit beteken dat sowjet-burgers die landswette moet gehoorsaam omdat hulle regverdig is, en hulle is regverdig omdat die staat ’n sosialistiese staat is wat in die belang van die hele bevolking bestaan en nie slegs terwille van ’n bevoorregte klas nie. Volgens die Marxiste verskil sosialistiese legaliteit aansienlik van legaliteit in Westerse regsteslels, omdat die beginsel in nie-sosialistiese lande bloot ’n voortsetting is van ’n wesenlike onregverdige sosiale orde.
Die beginsel van sosialistiese legaliteit is onlosmaaklik met die ekonomiese struktuur van die samelewing verbonde. V.M. Tchikvadze (“Socialist Legality in the USSR” in Le concept de la legalite dans les pays socialistes, 1961, p.206) stel dit soos volg:
“The economic structure of society and the material conditions of the ruling class determine the social consciousness, the will and the interests that find their expression in law. To dissociate law from the economy, to analyze the legal system independently of the existing economic relations is therefore incompatible with the basic principles of the Soviet legal science”.
Hiermee wil Tchikvadze ook sê dat die reg nie “verabsoluteer” moet word nie, maar dat dit slegs sinvol kan wees indien dit aan die ekonomiese belange van die sosialistiese staat ondergeskik is. Die reg is dus onderworpe aan die belange van die sosialistiese staat soos dit deur die Opperste Sowjet neergelê word. Dit beteken dat die Opperste Sowjet nie aan die reg gebonde is nie; die USSR is nie ’n staat wat aan die regstaatsbeginsel gebonde is nie, maar ’n staat waar die gekolektiveerde ekonomiese belange en die sosialistiese staatsbelang eerste gestel word.
Perestroika en Sosialistiese Legalitiet
Soos wat die Kommunistiese Party van die Sowjet-Unie (KPSU) toenemend besef dat die oorgangsfase vanaf die kapitalisme na die kommunisme langer is as wat aanvanklik gemeen is, word groter klem op die begrippe “perestroika” en “sosialistiese legaliteit” gelê.
Met die begrip “perestroika” of “herstrukturering” probeer die KPSU die indruk skep dat ’n groter mate van liberalisering in die Sowjetdenke oor die reg en die staat ingevoer word en dat daar verder van die Marxisme-Leninisme wegbeweeg word. Hierdie is egter slegs ’n skyn ten einde op die korttermyn bepaalde kompromieë met die vyande van die Marxisme te sluit sodat die langtermyndoelwitte van die internasionale kommunisme bereik kan word. Dit is geensins die bedoeling van die KPSU om die Marxisties-Leninistiese grondslae van sy filosofie te laat vaar nie. In sy boek Perestroika (1987, p.96) stel Mikhail Gorbachev die opportunistiese grondslae van perestroika soos volg:
“Lenin never believed that the road to socialism would be straight. He knew how to change slogans when life required it”.
Elders verklaar hy:
“What we need is not ‘pure’ doctrinaire, invented socialism, but real, Leninist socialism”.
Van die opportunistiese wyse waarop perestroika op Leninistiese gronde bevorder moet word, verklaar Gorbachev (ibid., p.66):
“In politics and ideology we are seeking to revive the living spirit of Leninism. Many decades of being mesmerized by dogma, by a rule-book approach have had their effect. Today we want to inject a genuinely creative spirit into our theoretical work. This is difficult, but it must be done. Creative thought seems to be consolidating”.
In hierdie nuwe opportunistiese benaderingswyse, word ook klem op sosialistiese legaliteit gelê; inteendeel, sosialistiese legaliteit is die uitvloeisel van “herstrukturering”. Van legaliteit verklaar Gorbachev (ibid., p.110):
“In other words, work on a tremendous scale beckons, the goal being to consolidate the legal foundations of socialism. Law and legality are not just concomitants in the deepening of our democracy and acceleration of social progress. These are working instruments in the restructuring and a reliable guarantee of it being irreversible”.
In aansluiting hierby het A. Luckyanov, sekretaris van die Sentrale Komitee van die KPSU, in ’n opsomming van ’n verslag oor die konferensie oor ontwikkelinge in die konstitusionele stelsel, gehou in Moskou vanaf 15 tot 17 Junie 1987, soos volg verklaar:
"... perestroika concerns not only the bodies running the economy. It also fully applies to all other institutions of the state, including the entire totality of bodies linked to the provision of legality, law and order. Moreover, the questions of strengthening socialist legality are being advanced today to one of the top places inasmuch as genuine democracy does not exist outside the law and above the law... It should always be remembered that breaches of legality and mistakes in the activities of law enforcement bodies are most painfully perceived by the working people”.
Van die belangrikste resultate van perestroika in die USSR is onder andere ’n nuwe “Fundamentele Strafkode”, sowel as ’n nuwe “Russiese Sosialistiese Federatiewe Kriminele Kode van die Sowjet-Republiek”. Voorts is ook voorsiening gemaak vir ’n Appelwet wat op 1 Januarie 1988 in werking getree het om arbitrêre optrede van amptenare aan bande te lê. Hiermee word ’n poging aangewend om artikel 58 van die konstitusie van die USSR van 1977 in werking te stel. Hierdie artikel maak voorsiening vir die ondersoek van klagtes van beweerde wangedrag deur staatsamptenare. Die inhoud van artikel 58 is soos volg:
“Citizens of the USSR have the right to lodge a complaint against the actions of officials, state bodies and public bodies. Complaints shall be examined according to the procedure and within the time limit established by law. Actions by officials that contravene the law or exceed their powers, and infringe the rights of citizens, may be appealed against in a court in the manner prescribed by law.
Citizens of the USSR have the right to compensation for damage resulting from unlawful actions by state organisations, or by officials in the performance of their duties”.
Hierdie ontwikkelinge in die USSR skep die indruk dat liberalistiese regsopvattinge in die regstelsel van die USSR ingevoer word. Dit is egter geensins die geval nie. Die Opperste Sowjet bly steeds bo die reg verhewe, terwyl die staat enige van die regte in die konstitusie genoem, kan opskort indien die staatsbelang dit vereis. Op sy beurt is die staatsbelang stewig op die ekonomies-sosialistiese belange van die Marxistiese filosofie gevestig.
Sosialistiese Legaliteit en die Nuwe Konstitusionele Riglyne
Soos wat sosialistiese legaliteit ’n bepaalde toegewing aan die kant van die Marxistiese regime in die USSR is om op die korttermyn vir bepaalde juridiese kompromieë voorsiening te maak, ten einde op die langtermyn na die finale fase van die sosialistiese revolusie deur te steek, so weerspieël die nuwe konstitusionele riglyne van die ANC bepaalde toegewings en aanpassings om op die korttermyn nie te veel weerstand op te wek nie, ten einde die langtermyn-strategieë van die Marxistiese revolusie te bereik. As sodanig is “perestroika” en “glasnost” slegs kontemporêre vergestaltings van die opportunisme wat Marxistiese werkswyses die afgelope een honderd jaar kenmerk.
Die ANC/SAKP-alliansie besef dat hulle slegs hulle langtermyndoelwitte kan bereik indien hulle bereid is om op die korttermyn bepaalde aanpassings aan hulle juridiese en konstitusionele uitgangspunte te maak. Dit is hierdie tipiese Marxistiese opportunisme wat die ANC met sy Freedom Charter onderskei van Azapo en die National Forum met hul Manifesto of the Azanian People, wat as ’n alternatief tot die Freedom Charter voorgehou word. Alhoewel sowel die ANC as Azapo en die National Forum Marxistiese groeperinge is, staan laasgenoemde organisasies daarop dat daar direk tot die finale fase van die sosialistiese revolusie deurgesteek moet word en ’n kommunistiese gemeenskapslewe gevestig moet word, terwyl die ANC daarop aandring dat die finale kommunistiese fase slegs bereik kan word deur volgens al die fases van die Marxistiese revolusie te handel. Die rede vir hierdie verskil is daarin geleë dat die ANC/SAKP-alliansie bekommerd is dat deur oorhaastige en drastiese optrede die breë massa van die bevolking nie daartoe sal oorgaan om eers die staatsmag in die hande te kry en sodoende ’n diktatuur van die proletariaat te vestig nie. Aldus het Mzala by geleentheid van die dertigjarige herdenking van die Freedom Charter (“The Freedom Charter and its Relevance Today” in Selected Writings on the Freedom Charter, 1985, p.84) verklaar:
“... it is true, ... unlike the Azanian Manifesto (which pretends to be socialist), the Freedom Charter is not a socialist document but a national democratic document.
The Freedom Charter is based on the historic realities of our country...”.
Voorts verklaar Mzala (ibid., p.85):
“The real essence of the present phase of our revolution is not the winning of socialism but, as the Freedom Charter reflects, the winning of people’s democracy, a true republic with power to the people, all the people!
The drafters of the Azanian Manifesto fail to see the revolutionary significance of this step, that is, the significance of the struggle for true national independence and self-determination”.
Vir die ANC bly die Freedom Charter die grondslag waarop dit takties met nuwe opportunisme kan maneuvreer, ten einde die breë massa van die bevolking vir sy Marxistiese doelwitte te mobiliseer en ’n diktatuur van die proletariaat te vestig. Die wye en vae terme van die Freedom Charter leen hulle uitstekend hiertoe, sonder dat die Marxistiese grondgedagtes wat hierdie dokument onderlê, eksplisiet in die gedrang kom.
As sodanig is die nuwe konstitusionele riglyne van die ANC bloot ’n konkretisering van die opportunisme wat die Marxisme kenmerk en wat mettertyd in “perestroika” en “sosialistiese legaliteit” neerslag gevind het. Dit is byvoorbeeld opmerklik dat ten spyte van die “nuwe beeld” van inskiklikheid en redelikheid wat met die nuwe riglyne vertoon word, daar geensins van die sosialistiese gronde van die Marxistiese regsdenke wegbeweeg is nie. So byvoorbeeld word die reg om die algemene konteks waarin die ekonomiese lewe moet plaasvind te bepaal, vir die staat gereserveer (klousule 15); die staat kan bepaal wat die grense van die regte en verpligtinge is, wat aan eiendomsreg en die private produksievermoë verbonde is (klousule 15).
Ingevolge klousule 8 bly die Freedom Charter die grondslag vir ’n kode van menseregte in ’n toekomstige konstitusie en dit terwyl die ANC/SAKP-alliansie in gebreke bly om die wye en vae terminologie van die Charter op te klaar. Tereg het W.J. Booyse in ’n onlangse artikel “A Critique of Crucial Concepts in the Freedom Chartef' (1987, South African Freedom Review, p. 18) verklaar:
“When analysing crucial concepts in the Freedom Charter it becomes clear that this document can be interpreted in many different ways”.
Hy gaan voort:
“Against the backdrop of this Marxist-Leninist inter-pretation of the Freedom Charter, it becomes evident that the ANC/SACP Marxist-Leninist alliance is not in a position to implement the Freedom Charter in a normal and free society”.
Vir sover die nuwe konstitusionele riglyne opportunisties op die Freedom Charter voortborduur, moet dit verwerp word. Tereg het Booyse dit soos volg gestel:
“Until the ANC/SACP Marxist-Leninist alliance publicly state their interpretation of the Freedom Charter, release their hidden agenda and amended Freedom Charter, the Freedom Charter as it is known today must be rejected, because all South Africans have been misled”.
In ’n neutedop som dit die juridiese opportunisme op wat deur die jare die internasionale ekspansionisme van die Marxisme gekenmerk het, terwyl dit met begrippe soos “sosialistiese legaliteit”, “hervorming” en “perestroika” baie mense se oë vir hulle ware staatkundige en juridiese oogmerke sluit.
Soos wat die kerk 'n uitstekende intrument in die hande van die ANC geword het en grootliks daarvoor verantwoordelik was dat die Afrikaner geswig het voor die kommunistiese aanslag, so het die verdraaiing van die regstelsel verder gesorg dat totale beheer deur die ANC verkry is. Hierdie was kenmerkend van die eerste fases van kommunistiese oorname deur die ANC. Die laaste fase wag egter nog en sal nie gekenmerk word deur die toegewings en aanpassings van die korttermyn nie. Die laaste fase van die sogenaamde Nasionale Demokratiese Revolusie in Suid-Afrika sal 'n bloedige en gewelddadige vorm aanneem en gekenmerk word aan groot lewensverlies en barbaarse optrede. Mag God sy volk in Suid-Afrika in daardie tyd bewaar, in sy genadevolle liefde die land weer reinig en weer 'n Christenregering instel om tot eer van sy Naam te regeer!
EINDE