Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons moet onsself aanvaar soos ons is want dit is hoe God ons geskep het. Aanvaarding beteken dat jy waardevol is net soos jy is. Dit laat jou toe om die ware jy te wees. Jy word nie ingedwing in iemand anders se idee van wie jy werklik is nie. Dit beteken jou idees word ernstig opgeneem omdat dit jouself weerspieël. Jy kan praat oor hoe jy binnekant voel – en iemand gee werklik om. Ware selfaanvaarding word nie in die krag van prositiewe denke, kopspeletjies of sielkunde gevind nie; dit is 'n geloofsdaad wat deur die genade van God plaasvind.
ANC- AANSLAG OP DIE KERK (11)
Prof AWG Raath
Lees reeks by Kerk as instrument van ANC-revolusie
(Let daarop dat hierdie reeks oorspronklik in 1989 geskryf is, vandaar verwysings na later-veranderde situasies.)
" Mag dit ons gebed in hierdie dae wees om nie deur cliche’s van 'herstrukturering' en 'openheid' en oproepe van 'menseregte' en 'demokrasie' self-vernietigende kompromieë te sluit nie."
“GRONDWETLIKE RIGLYNE VIR ’n ‘POST-APARTHEID’ SUID-AFRIKA”
In ’n vorige uitgawe van Roepingen Riglyne (jaargang 36, Maart 1988) het ek daarop gewys dat enige interpretasie van die Freedom Charter teen die agtergrond en op die grondslag van die uitgangspunte van die revolusionêre ANC/SAKP-Alliansie beoordeel moet word. Ook is daarop gewys dat daar vandag heelwat standpunte in omloop is wat die inhoud van die Freedom Charter beoordeel, sonder om met die werklike bedoelinge van die ANC en die SAKP met hierdie dokument, rekening te hou. Hierdie naïewe aanvaarding van die idees van die ANC/SAKP-alliansie is egter nie tot die Freedom Charter beperk nie, maar betref ook die nuutste konstitusionele riglyne van die ANC wat onlangs die lig gesien het. Vervolgens word hierdie konstitusionele voorstelle kortliks, in die lig van die uitgangspunte van die revolusionêre alliansie, krities beoordeel. Daar behoort egter by oorweging van hierdie voorstelle, ook met die derde been van die revolusionêre driehoek, naamlik die Kommunistiese Party van die Sowjet-Unie (KPSU), rekening gehou te word.
Die KPSU en die Beleid van “Glasnost” en “Perestroika”
Die Marxistiese sosialisme huldig die standpunt dat die menslike gemeenskap deur die produksieproses bepaal word. Die ekonomiese lewe van ’n samelewing bepaal al sy ander uitingsvorme. In hul werk: Zur Kritik der Politischen Okonomie verklaar Marx en Engels (vol. 13, p.809) dat die mense in die maatskaplike produksie van hul lewe in bepaalde, noodsaaklike, van hul wil onafhanklike, verhoudinge optree. Hierdie produksieverhoudinge stem ooreen met ’n bepaalde ontwikkelingstadium van hul materiële produksiekragte. Die geheel van hierdie produksieverhoudinge vorm die ekonomiese struktuur van die samelewing, die reële basis waarop ’n juridiese en politieke howebou homself verhef en waaraan bepaalde maatskaplike bewussynsvorme beantwoord. In die algemeen bepaal die produksiewyse van die materiële lewe die sosiale, politieke en geestelike lewensproses. Dit is nie die bewussyn van die mense wat hul syn bepaal nie, maar omgekeerd, hul maatskaplike syn wat hul bewussyn bepaal. Die implikasie hiervan is dat indien regs- en staatshervorminge teweeggebring word, dit slegs met ’n herstrukturering van die produksieverhoudinge, oftewel die ekonomiese struktuur van die samelewing, bewerkstellig kan word. Dit is wesenlik wat in die USSR gebeur het; deur perestroika (herstrukturering) van die ekonomie probeer die USSR sy juridiese en staatkundige probleme te bowe kom en ’n beeld van “gematigheid” en “redelikheid” in die oë van die Weste skep.
Herstrukturering
Hierdie “herstrukturering” word met ’n beleid van groter opportunisme, oftewel glasnost (openheid), gekoppel om die Marxistiese sosialisme meer doeltreffend te bevorder. Hiermee probeer die USSR ook meer daadwerklik om die guns van die Weste te wen. Op regsgebied het hierdie beleid reeds tot enkele belangrike koersaanpassings gelei. Hierdie koersaanpassings is grootliks daarop gerig om die oorgangsproses na die finale kommunistiese fase, volgens die Marxistiese beleid, so vlot as moontlik te laat verloop. Enkele gevolge van hierdie beleidsaanpassings kan genoem word.
(a) In die Washington Times van 23 Julie 1986, is bekend gemaak dat ’n dokument wat deur ’n hoë amptenaar wat in die Kremlin opgestel is en ’n beroep doen vir die instelling van politieke partye in die USSR, vryheid van spraak en die pers, op 22 Julie in ’n Britse koerant gepubliseer is.
(b) Sedert 1986 het M. Gorbachev herhaalde pogings aangewend om die inhoud van die beginsel van sosialistiese legaliteit so aanneemlik as moontlik te maak. In sy bekende boek Perestroika (1987, p. 105) verklaar Gorbachev dat die nakoming van die reg ’n saak van beginsel vir die USSR is; demokrasie kan nie bestaan en ontwikkel sonder die regstaatsbeginsel (“rule of law”) nie, omdat die reg daarop gerig is om die samelewing teen misbruik van mag te beskerm en landsburgers hulle regte en vryhede te waarborg.
(c) Op 6 Oktober 1987, het die KPSU verklaar dat regswetenskap daarop gerig is om die vereistes van herstrukturering in die regswerklikheid gestalte te laat kry:
“The juridical science is to translate the requirements of restructuring, its present and future into the legal language and to express restructuring in a system of state and legal norms. Economic sovereignty of the producer and the interests of the consumer, broader self-management, democracy, openness in public life, activisation of the human factor, the strict respect for the rights and liberties of all members of society, social justice and other basic elements of restructuring should be codified in corresponding legal forms.” (Kommunist, tydskrif van die KPSU).
Dit is opvallend dat hierdie “nuwe” beleid van die KPSU tot groter opportunisme, “openheid” en “herstrukturering” aan die kant van die ANC gelei het. Met die nuwe konstitusionele riglyne probeer die ANC 'n meer aanvaarbare beleid aan liberale kringe in die Weste voorhou. Dit kom onder andere na vore in die klem op ’n menseregte-handves in ’n toekomstige grondwet van die RSA en die verkondiging van ’n “beperkte" nasionalisering van eiendom wat in ’n “verborge inhoud” in die riglyne vervat is, en waarmee deeglik rekening gehou moet word. Hierdie vraag word beantwoord met verwysing na werklike uitsprake van die KPSU, SAKP en die, ANC in hierdie verband.
Die Riglyne vir ’n “Post-Apartheid Suid-Afrika”
In die konstitusionele riglyne van die ANC word besondere klem op die begrippe “demokrasie”, “vryheid” en “gelykheid” geld, begrippe waaraan die revolusionêre driehoek van die KPSU, SAKP, en ANC besondere betekenisse heg.
(a) Die Begrip Demokrasie
Vir die Marxistiese sosialis is die ware demokrasie afhanklik van die voorafgaande vestiging van “wetenskaplike sosialisme”; die veelparty demokrasieë van die westerse wêreld is bloot “bourgeois demokrasieë”, dit is skyn-demokrasie waaragter die kapitaliste die ware aard van hulle onderdrukkende oorheersing verberg. In hierdie verband verklaar die KPSU byvoorbeeld dat ’n bourgeois-republiek, hoe demokraties ookal, altyd in die praktyk - as gevolg van die bestaan van private kapitalistiese eiendomsreg van die produksiewyses - ’n diktatuur van die bourgeoisie - sal wees (Programme of the Communist Party of The Soviet Union, 1962, p.273).
Die SAKP verklaar dat onder die leiding van die Marxisties-Leninistiese Party en in alliansie met die werkersgroepe, moet die werkersklas die toestand van diktatuur van die kapitalisme vernietig, en vervang met die diktatuur van die werkersklas (Programme of the South African Communist Party, 1981, p.291).
In soortgelyke trant verklaar die ANC dat die Parlement van Suid-Afrika geheel en al omvorm sal word in ’n Volksraad van die massa. Die huidige administrasie sal vernietig, opgebreek en deur ’n demokratiese regering van die massa vervang word (Revolutionary Programme of the ANC, 1985, p.8).
Oor die feit dat die enigste ware demokrasie ’n diktatuur van die proletariaat is, stem al drie instansies saam. Aldus verklaar die KPSU byvoorbeeld dat ’n diktatuur van die proletariaat die ware demokrasie verteenwoodig, ’n demokrasie vir die werkersklas (Programme of the Communist Party of the Soviet Union, supra., p.273).
Soortgelyk verklaar die SAKP “The New Constitution” in Umsebenzi (vol. 1, no. 1,1985, p.4) dat die hoogste doel van die Party die oprigting van ’n kommunistiese samelewing is, waarheen dit deur die beginsels van die Marxisme-Leninisme gelei word. Die vestiging van ’n sosialistiese republiek in Suid-Afrika vereis dat politieke en ekonomiese mag stewig in die hande van die werkersklas geplaas moet word.
In ’n Sechaba van 1985 (deel 3,1985, p.30) verklaar die ANC dat politieke vryheid in Suid-Afrika behels dat die apartheid-regime deur ’n demokratiese republiek van die massa vervang moet word en soos dit deur die Freedom Charter erken word.
Die KPSU verklaar onomwonde dat ’n demokrasie van die massa ’n vorm van politieke organisasie van die samelewing is, en wat in verskeie lande van Europa en Asië, as ’n gevolg van die demokratiese revolusies van die massas in die 1940’s tot stand gekom het. Dit het begin as ’n revolusionêre demokratiese mag, gelei deur die werkersklas, en wat in die verloop van die ontwikkeling van die demokratiese revolusie in ’n sosialistiese revolusie verander het; in ’n vorm van proletariese diktatuur met ’n aantal duidelike kenmerke - ’n veelpartystelsel waarin die Marxisties-Leninistiese Party ’n leidende rol speel en die bestaan van nasionale fronte wat al die progressiewe massa-organisasies saam verenig (Socialism : Theory and Practice, 1983, p.25).
In die publikasie ANC Speaks (p. 24) verklaar die ANC dat as gevolg van die seëvierende revolusie ’n “Democratic People’s Republic” in Suid-Afrika geproklameer sal word. In Sechaba (September 1985, p.30) se die ANC voorts dat slegs hierdie “vergadering”, as gevolg van die revolusionêre oorwinning deur die hele bevolking, in staat is om die doelwitte van die Freedom Charter te bereik, en die nuwe staat van “volksdemokrasie” teen die rassistiese en imperialistiese teen-revolusie te beskerm.
(b) Vryheid en Getykheid
Vir die KPSU, SAKP en ANC kan “vryheid” slegs onder ’n sosialistiese stelsel verseker word. Op sy beurt vereis dit weer die vestiging van die “diktatuur van die proletariaat” in Suid-Afrika, onder die leiding van die SAKP. “Vryheid” word altyd in ’n kollektiwistiese sin, en nooit in die individuele betekenis van die woord gebruik nie.
Wat gelykheid betref, aanvaar die Marxisme dat onregverdigheid en ongelykheid die produkte van die “kapitalistiese stelsel” is, en dat die regering deel van hierdie “stelsel” is. Al drie die partye in die revolusionêre alliansie aanvaar dat die bevolking deur die kapitalisme van hulle geboortereg beroof is en dat ons land nooit werklik voorspoedig sal wees voordat ’n Marxistiese bedeling in Suid-Afrika aanvaar word nie.
(c) Die Nuwe Konstitusionele Riglyne
Volgens die nuwe riglyne is die Freedom Charter die eerste Suid-Afrikaanse dokument van sy soort wat stewig op die demokratiese beginsels gevestig is. Die Freedom Charter moet nou, volgens die ANC, van ’n visie vir die toekoms na ’n konstitusionele werklikheid verander word (p. 1). Die klem word daarop gelê dat die onmiddellike doel is om ’n regverdige en demokratiese gemeenskap te skep wat die gevolge van eeue van koloniale verowering en blanke oorheersing ongedaan sal maak en alle wette wat rasse-onderdrukking en diskriminasie veroorloof, sal vernietig. Volgens die ANC moet die strukture en instellings van apartheid afgetakel word en met “demokratiese” strukture vervang word (p. 2).
Bykomend vereis die ANC dat konstitusionele voorsiening vir korrektiewe optrede gemaak word, waardeur ’n spoedige en onomkeerbare herverdeling van rykdom kan plaasvind en fasiliteite vir al die inwoners oopgestel kan word (p. 2).
Ook word klem daarop gelê dat die grondwet die fundamentele menseregte van die inwoners moet beskerm; dat gelyke regte vir alle individue ongeag ras, kleur, geslag of geloof moet bestaan, terwyl die gelyke kulturele, taal- en godsdienstige regte van almal beskerm moet word (p. 2).
As uitvloeisel hiervan word verklaar dat Suid-Afrika ’n onafhanklike, demokratiese, nie-rassige eenheidstaat sal wees (par.l); alle owerheidsorgane, insluitende justisie, veiligheid en die gewapende magte sal verteenwoordigend van die volk as geheel wees (par. 4); die bevolking sal die reg hê om te stem op die beginsel van “een mens een stem” (par. 5); die konstitusie sal ’n handves van menseregte, op die grondslag van die Freedom Charter bevat (par. 8); die staat sal die konstitusionele plig hê om aktiewe stappe te neem om ekonomiese en sosiale ongelykhede as gevolg van rasse-diskriminasie uit te wis (par. 10); die staat sal verseker dat die totale ekonomie die belange en welsyn van alle dele van die bevolking dien (par. 14); die staat sal die reg hê om die algemene konteks te bepaal waarin ekonomiese ontwikkeling plaasvind, en die grense van die regte en verpligtinge met betrekking tot die eienaarskap en gebruik van die private produktiese kapasiteit te bepaal (art. 15); die ekonomie sal ’n gemengde een wees met ’n publieke sektor, ’n private sektor en “koöperatiewe” sektor en ’n klein skaal familiesektor.
Enkele Kritiese Opmerkings
(a) Die konstitusionele riglyne kan nie los van die Marxisties- sosialistiese grondgedagtes van die KPSU, SAKP en ANC beoordeel word nie. Al drie die komponente van hierdie revolusionêre driehoek is op ’n Marxisties-Leninistiese lees geskoei.
(b) Die beleid van “glasnost” en “perestroika” is nie ’n wegbeweging van die Marxisme-Leninisme nie, maar is eerder ’n bevestiging daarvan. Aldus verklaar Mickhael Gorbachev dat hierdie beleid ’n terugkeer na die ware grondslae van die Marxisme-Leninisme is.
“In politics and ideology we are seeking to revive the living spirit of Leninism. Many decades of being mesmerized by dogma, by a rule-book approach have had their effect. Today we want to inject a genuinely creative spirit into our theoretical work. This is difficult but it most be done” {Perestroika, 1987, p.66).
(c) Die KPSU verkondig hierdie “nuwe beleid” op grond van die gedagte om groter opportunistiese strydmetodes in die verspreiding van die Marxistiese sosialisme aan te wend. Hierdie metodes word gebruik om die tradisionele ideologiese opponente van die USSR om die bos te lei, sodat die tradisionele Marxisties-Leninistiese strydmetodes verborge bly. Van hierdie opportunisme verklaar Gorbachev byvoorbeeld (Perestroika, supra., p.26) dal Lenin diep bekommerd oor die toekoms van die sosialisme was. Lenin het ingesien dat die sosialisme ernstige probleme ondervind, vandaar die aanwending van metodes wat nie eie aan die sosialisme self blyk te wees nie.
(d) Die konsep van menseregte wat in die konstitusionele riglyne vermeld word, is nie iets nuuts nie; reeds in die Freedom Charter word ’n verskeidenheid van sosialistiese regte op Marxistiese grondslag aangetref. Hierdie regte het volgens die Marxisme slegs ’n tydelike rol om te speel. Hierdie rol is tot die fase van “sosialistiese legaliteit” beperk en sal mettertyd vanself in die niet verdwyn wanneer die diktatuur van die proletariaat tot stand kom.
(e) In elke geval moet die menseregte waarna verwys word in Marxisties-sosialistiese sin verstaan word. Aldus kan die regte waarna verwys word slegs op die grondslag van die Marxistiese sosialisme verwesenlik word, aangesien ware gelykheid nie in ’n kapitalistiese stelsel moontlik is nie. Soortgelyke regte en waarborge is ook te vinde in deel II, hoofstuk VI, van die Sowjet-Konstitusie van 1977.
Vir die Marxis kan gelyke regte en geleenthede slegs in ’n Marxistiese stelsel verwesenlik word en nooit in ’n kapitalistiese bedeling nie. Die verwysings na die Freedom Charter voer in effek ook die grondgedagtes van die Marxisme by hierdie konstitusionele riglyne in.
(f) Alhoewel dit met die eerste oogopslag wil lyk asof daar 'n kompromie met die kapitalisme ten aansien van die ekonomiese regte gesluit word (par. 16), is dit nie effektief die geval nie omdat paragraaf 15 die bevoegdheid om die aard van die ekonomie en eiendomsreg te bepaal volkome in die hand van die staatsowerheid, oftewel proletariese diktatuur, plaas.
(g) Die Marxistiese sosialisme gebruik tot ’n groot mate die uiterlike skyn van die liberalisme (as ’n liberale bourgeoisie) om deur middel van slagspreuke van “menseregte”, “vryheid”, “gelykheid” en “demokrasie” alle moontlike verset teen die huidige regering in die RSA te monster. Hierdie vaagklinkende begrippe het egter ’n duidelike en onbetwiste Marxisties-sosialistiese betekenis.
Die gevaar is nou dat Suid-Afrikaners deur die uiterlike skyn van liberalisme en vredesmotiewe in die val van die Marxisme-Leninisme kan beland. Ook die onlangse konstitusionele riglyne van die ANC verraai ’n verborge en versluierde Marxistiese agenda wat vanuit ’n Christelik-Calvinistiese oogpunt in alle opsigte te verwerp is. Mag dit ons gebed in hierdie dae wees om nie deur cliche’s van “herstrukturering” en “openheid” en oproepe van “menseregte” en “demokrasie” self-vernietigende kompromieë te sluit nie.
Vervolg...