Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons werk nie so hard op hierdie aarde om iets te besit nie; ons werk sodat ons iets kan word.
ANC- AANSLAG OP DIE KERK (8)
Prof AWG Raath
Lees reeks by Kerk as instrument van ANC-revolusie
(Let daarop dat hierdie reeks oorspronklik in 1989 geskryf is, vandaar verwysings na later-veranderde situasies oa ANC-SAKP-alliansie ens.)
"Dat die ANC nie ’n ware regstaatmodel in gedagte het nie, maar ’n magstaat in stand sal hou, blyk uit die wye reeks vae misdrywe waarvoor in die Kode voorsiening gemaak word... Dat die reg en regsnorme vir die ANC bloot ’n noodsaaklike euwel is, waarmee by die eerste beste geleentheid weggedoen moet word, kom ook na vore... ... Die beheer en kontrole van die ANC se gesagsliggame oor die regbank, in die lig van die geweldoogmerke van hierdie organisasie, behoort enige staatsonderdaan wat nie aan die kommunistiese party behoort nie, met skok en afkeer te vervul."
DIE KRIMINELE EN SIVIELE KODE VAN DIE ANC: ’N AANSLAG OP DIE REGBANK
Sedert 1984 het die ANC ’n heftige aanval op die Suid-Afrikaanse regbank geloods. Aldus verklaar die ANC (Februarie 1985, Sechaba, pp.l, 2) dat die Suid-Afrikaanse regbank ’n onderdrukkende instrument te midde van ’n beleid van “hervorming” geword het. In ’n volgende Sechaba (Maart 1985, pp. 19-20) verklaar die ANC dat die howe deel van die terrein van revolusionêre stryd (fields of struggle) geword het.
Voorts word verklaar dat wat swartmense betref, die howe in Suid-Afrika instrumente van onderdrukking geword het. In Mei 1985 word in die Sechaba beweer dat die howe instrumente van onreg geword het. Deur die bank was dit egter die onafhanklikheid van die Suid-Afrikaanse regbank wat heftig aangeval is. Onder die opskrif “Your Lordship is a biased Racist” word in Sechaba van Januarie 1986 (pp.20-27) beweer dat die Suid-Afrikaanse regsinstellinge bevooroordeeld is en dat hiermee ’n onregverdige regsbedeling in stand gehou word. In die Sechaba van November 1987 (pp.7-10) word beweer dat die Suid-Afrikaanse regbank, soos in enige klassesamelewing, waarvan apartheid in koloniale Suid-Afrika ’n voorbeeld is, deel van die onderdrukkende staatsmasjinerie is; dat dit ’n instrument van “klasseregering” is en ’n orgaan van onderdrukking van een deur ’n ander. Van die regters in Suid-Afrika word gesê dat hulle vooroordele jeens swartmense spruit uit dieselfde “klassesamelewing”. Voorts word beweer dat die regters uit ’n klein blanke minderheidsgroep se geledere kom, en bepaalde vooroordele jeens die swart meerderheid in Suid-Afrika het.
Wat egter besonder interessant is, is die feit dat in 1985, ten tye van hierdie heftige kritiek op die regbank, ’n sogenaamde Kriminele en Siviele Kode van die ANC verskyn het. In hierdie Kode word onder andere die ANC se standpunte oor die regbank uiteengesit en wat toegepas sal word indien die ANC eendag aan bewind sou kom. In hierdie Kode vind ons die duidelikste getuienis van die feit dat die regbank en ander regsinstellinge vir die ANC blote instrumente is waardeur die ANC met ’n magsdiktatuur ’n diktatuur van die proletariaat wil vestig. Hierdie dokument wat, volgens Tony Stirling, deur die ANC opgestel is, is ’n skokkende getuienis van die opportunisme waarmee die ANC die Suid-Afrikaanse regbank en regsinstellings wil diskrediteer, terwyl die alternatief wat deur die ANC voorgehou word ’n sin vir makabere regspleging deur die beweging self openbaar. In die opsienbarende artikel van Stirling (1988-03-16, The Citizen, p.13) word in hooftrekke die belangrikste fasette van die Kode bespreek. Volgens Stirling het akademici wat om hulle kommentaar op die dokument genader is, soos volg gereageer (p. 13):
“Among other things they said it was based on a ‘form of revolutionary law’, and had been drawn up in support of the ANC’s aims. It was designed not only to protect the ANC’s leaders, but strict adherence to the document would entitle the ANC to ‘declare almost anyone a criminal’.
Under the document the ANC or its organs were set up as ‘judge, jury and executioners’, and it was clear that an independent judiciary would not be tolerated.”
Vervolgens dien daar op enkele aspekte van Stirling se opmerkings gelet te word.
Die ANC en die Reg
Die belangrikste grondslae van die ANC se regsbeskouing wentel rondom die gedagte dat die kapitalistiese Suid-Afrikaanse staat in ’n proletariese diktatuur omskep moet word. Hiermee wil die ANC op tipiese Marxsitiese wyse uiteindelik die sogenaamde “revolusionêre stryd” ten gunste van die werkersklasse beëindig. Om dit te kan bewerkstellig, moet die rykdomme van die land onder die werkers van die land verdeel word. In die Freedom Charter van 1955 word dit soos volg gestel:
“The national wealth of our country, the heritage of all South Africans, shall be restored to the people”.
Voorts word verklaar:
“The mineral wealth beneath the soil, the banks and the monopoly industry shall be transferred to the ownership of the people as a whole”.
Vir die Marxistiese ANC/SAKP-alliansie is dit belangrik dat ’n einde aan vrye onderneming gemaak en private besit genasionaliseer moet word. In hierdie proses moet ’n diktatuur van die ekonomiese arbeidsklasse tot stand gebring word. As sodanig is die staat wesenlik ’n ekonomiese magsinstansie in die hande van die proletariaat en waarin die reg ’n ondergeskikte rol moet speel.
In hierdie verband is die volgende aspekte in die Kode van besondere belang:
(a) Vir die ANC is dit belangrik dat alle teenstand teen die beweging uitgeskakel moet word. Volgens die Kode (vol. II, hoofstuk II) is die misdaad van hoogverraad onder andere geleë in verbreking van die trou wat onderdane aan die “bevrydingsbeweging” verskuldig is.
Hoogverraad bestaan ook uit enige hulp aan die vyande van die “bevrydingsbeweging” hetsy binne of buite die landsgrense (vol. II, hoofstuk II, art. 3). In aansluiting hierby word die aandag op die besonder wye omskrywing van hoogverraad gevestig, synde enige handeling wat in die oë van die regsprekende owerhede as dislojaliteit, ontrouheid of afvalligheid aan die doelwitte van die “bevrydingsbeweging” vertolk kan word (vol. II, hoofstuk II, art. 3).
Die ANC gaan selfs sover om enige weerstand teen die doelstellinge of “aansien” van die beweging as hoogverraad strafbaar te stel (vol.II, hoofstuk II, art. 5).
In die Kode word voorts ook enige verset teen die ANC in die vorm van terrorisme (vol. II, hoofstuk III); sameswering teen die oogmerke van die ANC (vol. II, hoofstuk IV); teen-revolusionêre propaganda teen die beweging (vol. II, hoofstuk VII); verontagsaming van enige bevel van die beweging (vol. Ill, hoofstuk III), ensomeer, strafbaar gestel.
(b) Dat die ANC nie ’n ware regstaatmodel in gedagte het nie, maar ’n magstaat in stand sal hou, blyk uit die wye reeks vae misdrywe waarvoor in die Kode voorsiening gemaak word. So word byvoorbeeld enige handeling strafbaar gestel wat: die “gewoonlik aanvaarde norme van morele optrede” oorskry en daardeur wederregtelik enige verbode handeling verrig, en sal ’n daad van “persoonlike wangedrag” strafbaar wees (vol. VI, hoofstuk I); wat teen die fatsoenlikheid (common propriety) indruis (vol. VI), wat neerkom op die ontbloting van die menslike liggaam vir sover dit teen die “goeie sedes” is (vol. VI, hoofstuk III); wat neerkom op onbehoorlike aanmatigende gedrag teenoor kinders (vol. VI, hoofstuk IV), ensomeer.
Wat verset teen die ANC as sodanig betref, word daar vir ’n verskeidenheid “misdrywe teen die revolusie” voorsiening gemaak, wat daarop gerig is om enige weerstand teen die ANC te onderdruk. so word byvoorbeeld enige optrede verbied wat gerig is teen die bepalings van die Freedom Charter (vol. II, hoofstuk I, art. 1); enige teen-revoIusionêre optrede wat gerig is teen die verwesenliking van die bevrydingstryd (vol. II, hoofstuk I, art. 2), ensomeer. Bykomstig word ook ’n verskeidenheid handelinge verbied wat neerkom op propaganda teen die ANC (vol. II, hoofstuk VII). so word byvoorbeeld bepaal dat enige propaganda-aktiwiteite wat gebruik maak van publikasies, pamflette ensomeer, om verset teen die “bevrydingsbeweging” te monster en of valse aantygings teen die leierskap van die beweging maak of die eenheid van die Suid-Afrikaanse bevolking versteur, strafbaar is (vol. II, hoofstuk I, art. 2 e.v.)
Die ANC en die Regbank
Die volgende is enkele belangrike bepalings waarvoor in die Kode voorsiening gemaak word:
(a) By die vestiging van ’n diktatuur deur die ANC is dit belangrik dat alle middele en ekonomiese mag gebruik word om die revolusionêrc oogmerke van die beweging te bevorder. Selfs die howe moet onder beheer van die ANC funksioneer.
Van ’n onafhanklike regbank is daar onder ’n ANC-regime geen sprake nie. Volgens die Kode word voorsiening vir ’n hoogste Nasionale Hof gemaak, wat onder beheer van die ANC staan (vol.
Ill, hoofstuk I, art. 1). Daar word uitdruklik bepaal dat die Nasionale Uitvoerende Komitee van die ANC ’n Nasionale Hof sal instel en wat sy “revolusionêre regsprekende funksies” in ooreenstemming met die konstitusie en norme van die ANC en gebruike van die “Suid-Afrikaanse Vryheidsbeweging” sal uitoefen.
Volgens die Kode sal hierdie hof onbeperkte strafjurisdiksie hê, behalwe soos bepaal mag word deur die NUK van die ANC (vol. VII, hoofstuk I, art. 3). Vanaf hierdie “hoogste” hof is daar ’n direkte appèl na die NUK van die ANC (vol. VII, hoofstuk I, art. 5). Laasgenoemde bepaling lui dat hierdie hof oorspronklike en appèljurisdiksie in alle politieke, kriminele en siviele sake sal beskik. Vanaf hierdie hof bestaan daar ’n appèl na die NUK en die President van die ANC. Van regters wat in die Nasionale Hof dien, word ’n onvoorwaardelike lojaliteit aan die ANC verwag (vol. VII, hoofstuk I, art. 7). Hierdie regters kan na willekeur deur die NUK ontslaan word (vol. VII, hoofstuk I, art. 7) en alle doodvonnisse en vonnisse van tien jaar en Ianger is outomaties deur die NUK hersienbaar (vol. VII, hoofstuk I, art. 10).
Van die onafhanklikheid van laerhowe kom daar ook niks tereg nie. Die Kode maak voorsiening dat die NUK Streekshowe sal instel en dat hierdie howe hulle taak in samewerking met die Streeks-Politieke Owerheid van ’n betrokke gebied sal uitoefen (vol. VII, hoofstuk II). Hierdie howe staan onder direkte beheer van die ANC vir sover al die lede van hierdie hof deur die NUK van die ANC aangewys sal word (vol. VII, hoofstuk II).
In die Kode word vir die instelling van ’n Streektribunaal voorsiening gemaak. Hierdie tribunaal sal deur die Revolusionêre Raad van die ANC aangestel en deur die NUK in hulle poste bevestig word. Hierdie tribunaal sal bestaan uit vyf persone wat lede moet wees van die revolusionêre vleuel van die ANC-Umkhonto we Sizwe. Een lid moet kom uit die kommissariaat van die ANC, een lid uit die veiligheidsorgane van die ANC, sowel as drie ander lede (vol. VII, hoofstuk V, art. 2).
(b) Dat die reg en regsnorme vir die ANC bloot ’n noodsaaklike euwel is, waarmee by die eerste beste geleentheid weggedoen moet word, kom ook na vore uit die onpresiese en vae bepalings ten aansien van regstoepassing deur die howe. Die beginsel wat in die Kode na vore kom, behels dat misdrywe so wyd as moontlik omskryf moet word en dat die vryheid aan die howe onder ANC-beheer gelaat sal word om inhoud daaraan te gee. So is byvoorbeeld hoogverraad ’n vae omskrewe misdaad wat in hoofsaak die ANC beskerm en waardeur ’n verskeidenheid handelinge van “persoonlike wangedrag” strafbaar gestel word (byvoorbeeld vol. II, hoofstuk III).
(c) Dat regshandhawing in ’n toekomstige Suid-Afrika onder ANC-bewind grootliks ’n bysaak is, blyk ook uit die kwalifikasies wat van die regters in die hoogste hof in die land as vereiste gestel word. Benewens die feit dat hierdie regters ’n onbetwiste lojaliteit teenoor die ANC verskuldig is, word slegs vereis dat hulle “waar moontlik ’n algemene idee van regsprosedures behoort te hê” (vol. VII, hoofstuk I, art. 7).
Wat die inhoud van klagstate betref, word geen vaste vereistes gestel nie. Daar word slegs vereis dat “indien omstandighede dit toelaat” die misdryf waarvan ’n beskuldigde aangekla word, uiteengesit moet word (vol. VIII, hoofstuk I, art. 2). Dat hier ’n groot moontlikheid vir arbitrêre regspleging bestaan, is voor die hand liggend.
Van regsverteenwoordigers word geen formele regskwalifikasies vereis nie. Daar word in die Kode bepaal dat alle beskuldigdes aanspraak op ’n regsverteenwoordiger sal hê, wat nie noodwendig regskwalifikasies sal hê nie (vol. VIII, hoofstuk II).
(d) Van die howe onder ANC-beheer word voorts verwag dat hulle met die heersende politieke omstandighede van die vryheidsbeweging rekening sal hou. Die Kode lui in hierdie verband dat die keuse van straf en die uitvoering daarvan onder andere sal berus op die bestaande toestande in ’n gegewe gebied en op die politieke situasie geskep deur die vooruitgang van die “bevrydingstryd” (vol. IX, hoofstuk XV, arts. 1 en 2).
Kommentaar
Die feit dat die ANC/SAKP-alliansie op die lees van die Marxisme-Leninisme geskoei is, bepaal tot ’n groot mate die inhoud van die Kode. Die opvattings van die Marxisme oor die staat en die reg in hierdie verband is welbekend. Só skryf K Marx en F. Engels byvoorbeeld dat in die oorgang van die kapitalisme na die kommunisme die “staatsmasjien opgeblaas” en “vernietig” moet word en ander magsorgane in die plek daarvan in die lewe geroep moet word. In 1891 verklaar Engels byvoorbeeld (Marx en Engels, Werke, vol. 22, p. 197 (Engels Einleitung zu Karl Marx ‘Biirgerkrieg in Frankreich’, Aüsgabe 1891):
“Die Kommune moes van die begin af erken dat die arbeidersklas, as hy eenmaal die mag verkry het, hom nie met die ou staatsmasjien kan behelp nie; dat hierdie arbeidersklas, ten einde sy pas verkreë heerskappy nie weer te verloor nie, enersyds die hele ou onderdrukkingsapparaat wat tot op daardie tydstip teen homself gebruik is, moet tot niet maak...”
Volgens Marx sluit die ou staatsmasjien ook die kerk en die regbank in (Marx en Engels, Werke, vol. 17, p.336 (Marx, Der Bügerkrieg in Frankreich)). In die plek van regshandhawing stel die Marxisme- Leninisme ekonomiese magshandhawing deur middel van die diktatuur van die kommunistiese party. Hierdie grondgedagtes kom ook in die Kode na vore:
(a) Die regbank is bloot ’n instrument wat onder beheer van die Party staan en waardeur die Party sy diktatuur op regsgebied kan handhaaf. In die Sowjet-Unie kom dit byvoorbeeld daarop neer dat streng beheer deur die Kommunistiese Party van die Sowjet-Unie (KPSU) oor die howe uitgeoefen word. ’n Dekreet van 24 November 1917 het byvoorbeeld in beginsel vir die populêre verkiesing van regters voorsiening gemaak. In die praktyk het dit egter daarop neergekom dat die kandidate deur die KPSU genomineer is. Voorts is hierdie regters onderhewig aan moontlike sensuur deur die KPSU.
In die ANC se Kriminele en Siviele Kode word blatante inmenging in regspraak deur die Party tot sy skrikwekkende uiterstes gevoer.
Wat nog meer kommerwekkend is, is die feit dat die staat met die ANC of die Party vereenselwig word. Hiermee word alle regs- en staatsinstellings in diens van die Party gestel. Albert Boiter (Marxism, Communism and Western Society, 1972, p. 117) verklaar van die beheer deur die KPSU soos volg:
“The party controls all other institutions, both voluntary and state, by being, in the words of the constitution, their ‘directing core’ (rukovodiashch.ee vaidro). This core is in fact the party ‘cell’, made up of all the party members in each institution, which ensures the adoption of the party line on all occasions, often through the party groups which are set up inside committees and conferences”.
Die beheer en kontrole van die ANC se gesagsliggame oor die regbank, in die lig van die geweldoogmerke van hierdie organisasie, behoort enige staatsonderdaan wat nie aan die kommunistiese party behoort nie, met skok en afkeer te vervul.
Wat die beheer en kontrole van die kommunistiese party oor die regbank en die rol van regsgeleerdes in ’n kommunistiese bedeling betref, is dit van belang om op die volgende te let: Eerstens wat die rol van die regsprofessie betref, word in ’n onlangse uitgawe van die Literary Gazette van Moskou (Sleeper, A Lexikon of Marxist-Lenenist Semanticx, 1983, p. 149) ges6:
“(i)t is necessary to give up once and for all the ridiculous ideas of some sort of special lawyer’s ethics which by virtue of the peculiarities of the profession justifies a departure from the principles of communist morality and rules of socialist intercourse which are compulsary for Soviet people. A Soviet lawyer cannot confine his task merely to the interest of the client, as a seperate isolated person, but must always think in the first instance of the interests of the people’s, the interests of the state”.
Voorts (ibid., p.149) word verklaar:
“(i)n the role of the lawyer in the work of individual citizens, (the Soviet lawyer) struggles for establishment of the truth, guiding himself by state and public interest.
The procurator representative of the state prosecution, and the judge, who carries out justice, pursue that same goal”.
Dat die regbank in diens van die politieke oogmerke van die Kommunistiese Party staan, word in die Moscow University Herald no. 11 (Sleeper, ibid., p.73) uitdruklik bevestig:
“Since the court is one of the organs through which the dominant class exercises its rule, it cannot be outside of politics; what is more, the activities of the courts are always political activities. In our Soviet state, measures are taken to see to it that the court is in reality a conductor of the policy of the communist party and the Soviet regime. The independence of the judges referred to in Article 112 of the Stalin Constitution does not and cannot signify their independence of politics”.
Dit is duidelik dat ’n Marxisties-Leninistiese samelewingsorde nie die onafhanklikheid van die regbank, ’n hoeksteen van enige normale en vrye samelewing kan waarborg, of ’n billike verhoor aan sy onderdane kan verseker nie.
(b) Die wye en vae misdaadomskrywings in die Kode, in terme waarvan feitlik enige verset teen die ANC as hoogverraad strafbaar gestel kan word, is lynreg in stryd met die strafregtelike “legaliteitsbeginsel” wat onder meer vereis dat die reg vir die onderdaan toeganklik moet wees en dat statutêre misdrywe in uitdruklike terme moet uitspel wat die strafverbieding teen die onderdaan moet wees. Volgens Burchell en Hunt South African Criminal Law and Procedure (vol. I, 1983) kom dit op die volgende neer:
“The principle of legality means that ‘an offender should not be punished for any action without a clear and definite legal basis’”.
Voorts word ook verwag dat die straf vir ’n misdaad vooraf deur die reg voorgeskryf sal word. As sodanig poog die “legaliteitsbeginsel” om arbitrêre, geheime of onmenslike en swaar strawwe te verhoed. In die Kode word die straf tot ’n groot mate in die hande van die regbank onder party-beheer gelaat om die omvang van strawwe te bepaal. Maar selfs dit is nie die einde nie, want voorsiening word ook gemaak vir die toepassing van norme ten aansien van die vordering van die bevrydingsrevolusie. Dit behoort enige staatsburger met afgryse te vervul om te dink dat die “halssnoermoorde” deur die sogenaamde “people’s courts”, op aanstigting van die ANC, die standaardvorm van regspleging kan word vir mense wat daarvan aangekla word dat hulle in stryd met die Marxistiese revolusie, oftewel die “revolusionêre bevrydingstryd” handel.
Die formaat en inhoud van die Kode getuig van die laakbare wyse waarop revolusionêres die reg en die staat as magsinstrumente wil aanwend om die Marxistiese revolusie in Suid-Afrika te voltrek. Dit bly in hierdie tye onbegryplik hoe regslui hoegenaamd met ’n revolusionêre organisasie soos die ANC gaan onderhandel en ’n mate van legitimiteit aan hierdie organisasie verleen, terwyl die beweging niks anders as ’n geweldsbende in skaapsklere is nie. Die indruk wat ’n mens vorm is dat die felheid waarmee die ANC sy aanslag op die regbank loods, bloot daarop gerig is om die bestaande regsinstellings in Suid-Afrika met ’n Marxistiese sisteem van regspleging, onder ANC-beheer, tot stand te bring.
Vervolg...