Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie is die mense wat die tekens van die tye, ook van dié tye waarin ons nou leef, duidelik raaksien en akkuraat verstaan? In Mt 16 sê Jesus sommer reguit dat 'n slegte en owerspelige geslag tevergeefs sal soek na tekens maar dat dit nie aan hom gegee sal word nie. Dus gee die HERE self aan mense hierdie insig – aan wie dan? Net aan diegene wie hulle harte op Hom rig, met Hom 'n oop verhouding het – aan hulle sal Hy die wysheid gee om betyds te weet wat om te doen in elke situasie.
WIE IS DIE AFRIKANER- BROEDERBOND? (3)
Lees reeks by Wie is die Afrikaner-Broederbond?
B Schoeman
DIE SPORTBELEID
"Slegs twee maande ná hierdie debat kom Vorster in die Volksraad met sy eerste sportverklaring waarvan die belangrikste kenmerk sy gebrek aan 'duidelike standpuntstelling' is. Met hierdie metode van baie praat sonder om iets duidelik te sê, sou vir taamlik lank voortgegaan word.... teenoor die vroeëre 'duidelike standpuntstelling' het nou 'n nuwe norm gegeld: moenie die volk inlig oor die implikasies nie! Hou hulle in die duister. Vertraag terugvoering van sekere dele daarvan, sodat die volk nie agterkom waarheen dit lei nie! Verberg die onheil agter die deure van vertroulikheid totdat die proses sover gevorder het dat die afsonderlike voortbestaan van ons Afrikanervolk vernietig is."
Reeds in 'n buitengewone omsendbrief van 1 Augustus 1952 verklaar die UR onder meer: "Ons organisasie wat op kulturele, maatskaplike, ekonomiese en opvoedkundige terreine optree en arbei, verwag van al sy lede, soos by hulle instelling belowe, om hulle in die huidige tyds- en wêreld-omstandighede van gelykskakeling en uitwissing van alle verskille soos nooit voorheen nie te beywer vir die afsonderlike voortbestaan van ons Afrikanervolk, nie as 'n doel op sigself nie, maar as doelbewuste draer van die Christelike leefwyse en beskawing in Afrika. Die vernietiging of selfvernietiging van ons volk as afsonderlike nasionale gemeenskap in Suidelike Afrika kan in hierdie sin net lei tot bevordering en uitbreiding van die anti-christelike Kommunisme in Afrika."
In aansluiting hierby word dan in 'n volgende paragraaf verklaar: "In die jongste tyd het ook ons sportlewe in die gedrang gekom as gebied om integrasie tussen Blank en Nie-blank tot vernietiging van ons aparte Christelik-Westerse nasieskap te bevorder. Ook in die geval van hierdie aanslag, gesteun deur die uitbreiding van beroepsport in ons land waar dit primêr gaan om geld wat maklik oor enige beginsellyn rol, handel dit nie om blote slim ontduik- of omseilmaatreëls nie, maar om duidelike standpuntstelling en blywende afweer."
In 1952 staan die Uitvoerende Raad dus op die standpunt dat integrasie op sportgebied, selfs in die beperkte sin wat dit op daardie tydstip ter sprake was, deel is van die aanslag om die afsonderlike voortbestaan van die Afrikanervolk te vernietig; dat dit meehelp tot die bevordering en uitbreiding van die Kommunisme; dat ontduik- of omseilmaatreëls niks sal help nie; dat die antwoord lê in duidelike standpuntstelling en blywende afweer, en dat hierdie blywende afweer van elke lid van die AB verwag word, soos by sy instelling belowe.
Dat dit ook die standpunt was wat die Regering ingeneem het, blyk uit verskeie verklarings van politieke leiers in daardie tyd en daarna oor die sportkwessie. In Die Transvaler van 1 Oktober 1959 word byvoorbeeld soos volg verslag gedoen oor 'n toespraak van Vorster die vorige dag op 'n byeenkoms van die Nasionale Jeugbond aan die Universiteit van Pretoria: "Adv. Vorster het gesê dat steeds groter druk op Suid-Afrika uitgeoefen word om nie alleen toe te laat dat Nieblanke sportspanne hierdie land moet besoek nie, maar dat Suid-Afrika ook Nieblankes na internasionale byeenkomste moet stuur om die Unie daar te verteenwoordig. Hy het gewaarsku dat die druk met verloop van tyd groter sal word. Indien hierdie land hom stel op die standpunt van integrasie en die standpunt dat die beleid van aparte Bantoetuistes verkeerd is, sal daar uiteindelik onder die druk geswig word. Daar sal dan toegegee moet word aan die eise van absolute gelykheid ook op sportgebied."
Vorster praat hier nie net as 'n lid van die Broederbond nie, maar ook as 'n lid van die Regering, want op daardie tydstip was hy reeds Adjunk-minister. Hy het dus inderwaarheid regeringsbeleid by die NJB-byeenkoms in Pretoria gestel.
Dit was dan ook die standpunt soos herbevestig in 'n kabinetsverklaring oor sport in 1963 deur die destydse Minister, sen. Jan de Klerk, en weer in 1965 na Verwoerd se Loskopdam-toespraak waarin hy juis oor hierdie aangeleentheid gepraat het.
Die verklaring van 1965 lui onder meer: "Die Kabinet het vroeër en nou weer eenparig teen die ontvangs van gemengde spanne besluit ... Ook het ek onlangs weer met dr. Craven en ander oor die probleem onomwonde gepraat, hom ondubbelsinnig meegedeel dat Maori's nie as lede van 'n toerspan aanvaarbaar sou wees nie."
Dit is belangrik om daarop te let dat dit in hierdie kabinetsverklaring nog net om die ontvangs van gemengde spanne gaan en nie by benadering om veelrassige sportbeoefening plaaslik nie.
Aan die begin van Februarie 1967 word 'n debat in die Volksraad gevoer en pleit die Verenigde Party vir die ontvangs van gemengde spanne. Dit was nadat die All Blacktoer deur Suid-Afrika na dr. Verwoerd se Loskopdamtoespraak en die kabinetsverklaring daarna in die slag gebly het. Dit is veelseggend dat in daardie debat van Februarie 1967 die NP eenparig was in sy afkeuring van die ontvangs van gemengde spanne. Spreker na spreker het aan die Opposisielede gevra waarheen die proses moet lei nadat die eerste toegewing gemaak is en wat die uitwerking daarvan op sosiale gebied sou wees.
Slegs twee maande ná hierdie debat kom Vorster in die Volksraad met sy eerste sportverklaring waarvan die belangrikste kenmerk sy gebrek aan "duidelike standpuntstelling" is. Met hierdie metode van baie praat sonder om iets duidelik te sê, sou vir taamlik lank voortgegaan word. Hoe onduidelik die hele gedoente was, blyk uit Vorster se oordrewe poging om die duidelikheid daarvan te beklemtoon as hy op die Bondsraad van 1968 se: "Nou laat ek duidelik vir u sê, ek weet van niks, op hierdie moment weet ek van niks wat vorentoe kan gebeur wat daardie toer in die wiele behoort te ry nie. Ek wil dit nou baie duidelik stel, want ek het daarmee gehandel in die duidelikste taal en terme. Ek het baie duidelik gestel wat ons standpunt is ..."
Op 1 Oktober 1968 beveel die UR se sportkomitee aan dat "die beleid van afsonderlike ontwikkeling ook op sportgebied toegepas moet word en dat geen mededinging tussen Blank en Nieblank binnelands moet plaasvind nie." Op die oog af lyk dit na 'n bevestiging van die ou AB-standpunt, maar net soos by Vorster is die misleidende dubbelsprakigheid reeds hier aanwesig. Dit lê opgesluit in die gebruik van die woord "binnelandse", want later sou dit blyk dat in die spraakgebruik van die nuwe politiek die woord "binnelands" 'n heel besondere betekenis gekry het. Dit sou al meer betrekking hê op slegs mededinging op plaaslike, klub- en provinsiale vlak, terwyl byeenkomste waarin besoekende buitelandse spelers betrokke is, nie geraak sou word nie.
Selfs Trernicht het, voordat hy oor baie beleidsake "beter standpunte" gekry het, in Hoofstad teen hierdie gebruik van die woord beswaar gemaak met die opmerking dat as buitelandse spelers in Suid-Afrika speel, hulle dan binnelands speel en aan die binnelandse beleid onderworpe moet wees. Die bres vir die magte wat ook op sportgebied veg vir die "vernietiging van ons aparte Christelik-Westerse nasieskap" (AB-omsendbrief, 1 Augustus 1952), was egter geslaan in sowel die Regering as die UR en vorentoe sou slegs al meer toegewings volg.
Ná die konfrontasie op die Transvaalse kongres van die NP aan die begin van September 1969 volg dan ook die aksie om diegene wat by die tradisionele NP-en AB-standpunt bly staan het, uit die Party te dryf. Dit sou van kwaad tot erger gaan en die verwarring binne die regeringsgeledere het al groter geword. As getroue stutorganisasie het die UR, onder leiding van Meyer, slegs agterna gedraf en telkens aan die AB-afdelings die versekering gegee dat die nuwe sportbeleid nie sou lei tot die aftakeling van die tradisionele apartheidsbeleid nie.
Nieteenstaande al Vorster se duidelik-onduidelike verklarings kon niemand naderhand met enige mate van sekerheid meer sê wat die sportbeleid nou werklik behels nie. Vorster was, volgens sy eie woorde, nie 'n man vir bloudrukke nie, maar vir die praktiese politiek. Maar die praktiese politiek kry daagliks met nuwe situasies en probleme te doen en sonder 'n bloudruk wat op beginselstandpunte berus, beland jy in 'n oneindige doolhof. Iemand moes die knoop vir Vorster deurhaak; iemand moes hom aan 'n bloudruk help wat aan sy pragmatisme 'n skyn van beginselgebondenheid en doelgerigtheid kon gee. Hiervoor was die UR van die AB dan die aangewese en gewillige stutorganisasie.
In April 1971 berig die UR in 'n omsendbrief en studiestuk oor sport dat "'n vrugbare tweedaagse samespreking tussen 'n groot aantal vriende uit verskillende sportbeheerliggame vanoor die hele land" gehou is. Dan rapporteer die UR verder: '"n Komitee uit hulle midde het 'n aantal fundamentele formuleringe vir oorweging aan die UR voorgelê." Voorts word berig: "Hierdie beleidsformuleringe is deur die UR oorweeg en aan vriende in verantwoordelike kringe voorgelê, en dit word verwag dat die formuleringe in die volgende dae en weke neerslag sal vind in amptelike regeringsverklarings."
Die UR nooi dan die verskillende afdelings om kommentaar daarop te lewer. Daardeur moes natuurlik die indruk geskep word dat in die binnekringe nie vooraf kant en klaar oor die nuwe beleid besluit is nie. Connie Mulder en Andries Treurnicht, albei UR-lede op daardie tydstip, het nog probeer beduie dat die UR hier maar net besig was "om vertoë te rig." Die UR se eie bewoording en wat daarna gebeur het, bevestig egter dat 'n mens nie hier met "vertoë" te doen het nie, maar met 'n klaargemaakte sportbeleid. Die keuse van die woorde "volgende dae en weke" bewys ook dat die UR met Vorster oor beleid ooreengekom het voordat dit aan AB-afdelings bekend gemaak is. Vorster was so dankbaar om nog 'n meesterplan vir sy praktiese politiek te kry, dat hy dit in die Parlement aangekondig het voordat die afdelings dit behoorlik onder oë gekry en kon bespreek het — laat staan nog kommentaar daarop lewer.
Benewens die feit dat die UR die bepalings van die AB se grondwet en reglement minag deur 'n beleid vir 'n politieke party op te stel, is dit 'n beleid wat nie net totaal in stryd is met die ou NP-beleid nie, maar ook totaal in stryd met die vroeëre standpunt van die UR, soos blyk uit die aangehaalde omsendbrief van 1 Augustus 1952. Wat van die "blywende afweer" in daardie omsendbrief van 1952 geword het, blyk as die UR in die stuk oor sy sportbeleid verskonend verklaar: "Sosiale vermenging moet sover moontlik uitgeskakel word." Let op die woorde "sover moontlik".
Maar die morele verval blyk op sy ergste uit die UR se uitgesproke bereidheid om die volk oor die implikasie van hierdie beleid in die duister te hou. Die UR skryf in verband met sy sportbeleid: "Dit hoef nie onmiddellik al sy implikasies bekend gemaak of geïmplementeer te word nie. In baie gevalle sou die maksimum remming en vertraging, wat versoenbaar is met die uiteindelike doelstellings wat ons wil bereik, wenslik wees."
Dus, teenoor die vroeëre "duidelike standpuntstelling het nou 'n nuwe norm gegeld: moenie die volk inlig oor die implikasies nie! Hou hulle in die duister. Vertraag terugvoering van sekere dele daarvan, sodat die volk nie agterkom waarheen dit lei nie! Verberg die onheil agter die deure van vertroulikheid totdat die proses sover gevorder het dat "die afsonderlike voortbestaan van ons Afrikanervolk vernietig is.
So is dan Vorster se "veelvolkige sportbeleid" vai 1971 gebore uit die "fundamentele formuleringe” van die UR. Dit is egter interessant dat saam met hierdie stuk getiteld "Sportbeleid", 'n begeleidende stuk gesirkuleer is met die titel "Sport en die huidige aanslae teen Suid-.Afrika” In hierdie stuk word sterk klem gelê op die rol sport in die internasionale politiek sou speel en veral op die waarde van sport. Daar word wel gesê dat sport nie belangiker as beginsels — ook die beginsels van afsonderlike ontwikkeling geag moet word nie, maar die stuk in sy geheel is sonder twyfel daarop ingestel om die leser onder die indruk te bring dat sport so belangrik is dat veel daarvoor opgeoffer moet word.
Dit is nie nodig om hier baie breedvoerig stil te staan by die UR se bloudruk vir mnr. Vorster se "veelvolkige sportbeleid nie. Die volgende hoofpunte is voldoende om te illustreer hoe die UR onder leiding van Meyer van sy oorspronklike standpuntstelling" wat nog op 1 Oktober 1968 het, afgewyk het:
1. Die volkebenadering ... vorm ook die uitgangspunt ten opsigte van sportbeleid ... Daar moet egter onderskei word tussen persoonlike en intervolkere of interstaatlike sportverhoudinge. Anders as op die persoonlike vlak moet enigiets wat binne die huidige Suidelike Afrika op die intervolkere vlak geskied, in dieselfde lig as dinge op interstaatlike vlak gesien word. Derhalwe moet aan die amptelike verteenwoordigers van 'n bepaalde volk op sportgebied in beginsel erkenning gegee word deur mededinging met verteenwoordigers en spanne van ander volkere ...
2. Lede van verteenwoordigende spanne van ander lande moet as verteenwoordigers van daardie lande, gekies volgens hulle beleid en maatstawwe, behandel word. Hier kan Suid-Afrika nie eise stel ten opsigte van Blank en Nieblank nie ...
3. Wanneer 'n nasionale verteenwoordigende span uit die buiteland 'n toer in Suid-Afrika onderneem, kan daar in die toerprogram vir die span ook voorsiening gemaak word vir 'n wedstryd(e) teen 'n span wat 'n ander volk verteenwoordig as wat die toer reël ...
4. Mededinging tussen verteenwoordigende spanne van die
onderskeie volke in Suid-Afrika mag met die goedkeuring van die betrokke owerheid plaasvind.
- Terwyl internasionale affiliasie dit nog noodsaak dat daar slegs een span uit Suid-Afrika ... kan deelneem, kan 'n gesamentlike span vir daardie doel uit die verskillende volkere gekies word om op toer te gaan.
'n Stuk wat in Oktober 1971 deur die UR uitgestuur is onder die titel "Kommentaar insake studiestuk oor sportbeleid", is interessant. Nadat die verskillende afdelings wat gereageer het, hartlik bedank word vir hulle kommentaar en gedagtes, word gemeld dat 'n "besondere komitee" aandag skenk aan die verskillende punte wat deur afdelings geopper is.
In paragraaf 3 van die stuk word dan verder soos volg gerapporteer: "Enkele afdelings het dit oorbodig beskou om kommentaar te lewer omdat, soos hulle dit gestel het, die beleid reeds in die openbaar gestel was toe hulle die studiestuk ter insae gekry het en hulle dus nie vooraf in die saak geken is nie. Dit is jammer, want soos verwag kan word, gaan die meeste probleme wat afdelings raakgesien het, oor die praktiese toepassing van die beleid en sal daar ook steeds in die toekoms praktiese probleme ontstaan waaroor daar telkens besin moet word. Die openhartige kommentaar en aanbevelings van afdelings word dus selfs nog in hierdie stadium deur die UR verwelkom."
Uit die dokument is dit duidelik dat die UR se nuwe sportbeleid met wydverspreide kommer in afdelings ontvang is. Die omsendbrief noem self die volgende:
4.1. Kommer oor die korrekte toepassing van die volksgrondslag van die beleid.
4.2. Die vrees dat ons beleid van afsonderlike ontwikkeling afgetakel mag word deurdat daar op sportgebied toegewings gemaak word.
4.3. Daar moet ernstig gewaak word teen gemengde sosiale verkeer na sportwedstryde, gemengde toeskouers, integrasie, die kondisionering van die Blankes ten gunste van integrasie, gemengde deelname aan plaaslike sport, ens.
4.4. Die vrees dat die sportbeleid die deur op 'n skrefie oopmaak en dat dit die dun end van die wig mag wees.
In die daaropvolgende paragraaf maak die UR geen geheim meer daarvan wie se sportbeleid dit is nie. Dit is nou nie meer "vertoë" wat die UR tot die Regering gerig het, soos Treurnicht en Mulder die saak in die openbaar wou plooi nie. Die UR eien vir hom die outeursreg op die beleid toe en skryf: "Die UR wil dit baie duidelik stel dat daar by die opstel van die beleid nie aan druk van buite oorweging verleen is nie en dat die beleid nie as 'n toegewing in die verband gesien moet word nie. Die UR het tewens by die opstel van die beleid van die standpunt uitgegaan dat daar geen toegewings gemaak moet word nie. Die UR beskou die bepaling van die sportbeleid, soos in ons studiestuk omskryf, as die logiese deurvoering van ons beleid van afsonderlike ontwikkeling op die sportterrein."
As gelet word op hoe die UR se nuwe sportbeleid van hierdie punt af ontwikkel het tot waar die UR in 1981 ook die riglyne vir gemengde sport op skoolvlak neergelê het, is dit ongetwyfeld die wrangste stuk ironie dat in Oktober 1971 se omsendbrief gepraat word van "geen toegewings" en "geen oorweging wat aan buitelandse druk" verleen is nie. Om dit as 'n uitvloeisel van die beleid van afsonderlike ontwikkeling te stel, is om 'n totale bespotting van die beleid van Verwoerd en sy voorgangers te maak.
Die Oktoberstuk gaan dan voort en verduidelik dat die opstel van die sportbeleid aandag gekry het omdat geoordeel is dat ad hoc-reëlings dikwels probleme skep. "Aangesien die administrasie van die meeste sportsoorte in die hande van persone is wat nie die Afrikanersaak of regeringsbeleid goedgesind is nie, kon hulle telkens probleemsituasies skep en verleentheid veroorsaak. Daar is geoordeel dat dit tyd geword het dat die inisiatief in verband met tussenvolkige sportsituasies in die hande van die Regering moet kom deur die vaslegging van 'n goedgefundeerde beleid," lui die stuk voorts.
Na tien jaar was die regeringspolitici wat baie gesteld daarop dat die reëling van sportsituasies in die hande van sportadministrateurs gelaat word en dat die Regering nie daarby betrokke wil wees nie. En later was dit juis daardie
sportadministrateurs, die meeste van wie in die Broederbond sit en wat in die Broederbond se sportkomitee van 1971 gedien het, wat die hardste geskel het op regeringsleiers en regeringsbeleid van die verlede wat dan vir die huidige sportisolasie verantwoordelik sou wees.
Dit is egter paragraaf 7 van die UR-stuk wat die leser later byna die hande in ongeloof laat saamslaan het. Dit lui:
7. By die nagaan of ondersoek van die beleid het die volgende as uitgangspunt gegeld:
7.1. Die sportbeleid moet binne die raamwerk van ons beleid van afsonderlike ontwikkeling gesien en gevestig word.
7.2. Geen oorweging durf aan toegewings geskenk te word nie.
7.3. Die beleid moet op suiwer beginsels gebaseer word — prinsipiële denke is dus noodsaaklik (asof 'n mens iets anders as prinsipiële denke in 'n organisa-sie soos die AB sou verwag het).
7.4. Absolute eerlikheid moet aan die dag gelê word ... 7.5. Die beleid moet daarmee rekening hou dat elke
volk sy eie identiteit moet behou.
Om die yslikheid van hierdie woorde ten volle te begryp, moet gelet word op waar sport in Suid-Afrika tien jaar later gestaan het nadat die UR vir Suid-Afrika 'n nuwe sportbeleid "binne die raamwerk van afsonderlike ontwikkeling" geformuleer het. Binne hierdie tien jaar het die UR se sportbeleid gevorder van gemengde byeenkomste op sogenaamde "interstaatlike" vlak tot gemengde sportbeoefening op nasionale, provinsiale en klub-vlak. En later ook in die skole. Tien jaar nadat die UR vir senior sport 'n nuwe beleid uitgewerk het om Swart en Wit op Suid-Afrikaanse sportvelde bymekaar te bring, het hy ook in 1981 op dieselfde basis vir die Blanke skole "sportriglyne" neergelê. En net soos in daardie tien jaar tevore woorde soos "veelvolkig", "intervolkere" en "interstaatlik" uitgevind is om mense wys te maak dat wat hulle sien nie is wat hulle sien nie, net so is weer woorde uitgevind om gemengde sport in skoolkinders en ouers se kele af te druk. Toe is dit "junior sport" en "sport binne skoolverband" waarmee die misleiding voortgesit is.
En dan verklaar die UR nog in 1971 vroom: "Uit kommentaar van afdelings blyk dit verder dat dit noodsaaklik is om nie deur die gebruik van sekere terme verwarring te skep nie. So moet die term 'veelrassige' liefs vermy word en moet daar eerder van 'veelvolkige' byeenkomste gepraat word." En dan is "absolute eerlikheid" as een van die uitgangspunte by die opstel van die nuwe beleid gestel!
As dit verwerplik was dat 'n organisasie soos die AB hom laat gebruik het om die deur vir totale veelrassige sport in Suid-Afrika oop te maak, dan is die optrede van die UR daarna ewe verwerplik. In paragraaf 10 van die aangehaalde dokument word verklaar: "Waar afdelings nog twyfel mag hê oor die prinsipiële grondslag waarop die sportbeleid gefundeer is, of sake wat daaruit voortspruit, sal die UR probeer reël dat geskikte vriende saamtrekke oor die aangeleentheid toespreek. Laat ons voortgaan om die hele aangeleentheid openhartig te bespreek en die saak of sake waaroor ons verskil, vertroulik in eie geledere uit te pluis, sodat ons na buite eendragtig kan optree."
Eendragtig om die volk wys te maak dat geen afwyking van beleid ingetree het nie en dat alles maar die "logiese konsekwensie" van die beleid van afsonderlike ontwikkeling is.
Onder die "geskikte vriende" wat 'n kruisvaart deur die land namens die UR onderneem het, was Treurnicht, wat nog in 1968 as redakteur geskryf het "ons beoefen ons sport apart", maar in 1981 op Randfontein amper die hoed wat hy net-net wou lig vir daardie onderwysers wat gekant is teen 'n veelrassige Craven-week, ingesluk het toe 'n paar koerante hom daaroor gevat het.
Koornhof was nog een van daardie "geskikte vriende" wat agter die geslote deure van Broederbondafdelings allerlei versekerings en beloftes gemaak het. Dit is egter dieselfde Koornhof wat nie lank daarna nie in 'n onderhoud met 'n buitelandse joernalis verklaar het: "Die gebruik van die woord veelvolkig is om die Blankes te paai en veelrassig om die buiteland tevrede te stel." En dan spog Koornhof, as Minister van Sport, 'n jaar of twee hierna dat, met enkele uitsonderings, alle sportsoorte in Suid-Afrika volledig geïntegreer is.
In 1971 was een van die baie klagtes van AB-afdelings dat "daar ernstig gewaak moet word teen gemengde sosiale verkeer na sportwedstryde, gemengde toeskouers, integrasie, gemengde deelname aan plaaslike sport." In 1981 stuur die Eerste Minister van Suid-Afrika en self 'n leidende AB-lid 'n brief saam met 'n afvaardiging na die Internasionale Krieketkonferensie in Londen waarin hy plegtig onderneem dat die laaste oorblywende wetgewende maatreëls teen totale rassevermenging op sportgebied deur hom afgeskaf gaan word. Dit was nadat Botha op die Transvaalse kongres van
die Nasionale Party uitgevaar het teen daardie mense wat geen beswaar het dat Blankes en Kleurlinge saam op die grens veg nie, maar weier dat hulle saam op die sportveld mag speel.
In die parlementsitting van 1981 is die daad by die woord gevoeg om die laaste oorblywende wetgewende beletsels teen rassevermenging op sportgebied te verwyder. Bepalings in die Drankwet en die Groepsgebiedewet wat dit verbied het, word geskrap, sodat Wit en Swart vryelik op die sportveld en daarna in Blanke klubs en in Blanke kroeë en hotelle kan verkeer. Natuurlik is dit vorentoe deur die integrasioniste gebruik as hefboom om rassevermenging ook op ander terreine te bevorder. Die argument is dikwels gehoor: As dit op sportgebied gedoen mag word, waarom nie ook op ander terreine nie?
Wat het van die UR se "prinsipiële" denke van Oktober 1971 geword? In 1981 verklaar die UR, onder voorsitterskap van Carel Boshoff, in 'n studiestuk getiteld 'Sportkontak op skolevlak tussen Blank en Nie-Blank': "Natuurlik sal sportkontak oor kulturele en etniese grense heen groter verantwoordelikhede meebring ten opsigte van die opvoedingsbemoeienis van elke volksgroep met sy kinders. Daar sal ook sonder twyfel sosiale en ander probleme opduik, maar die kinders moet onder kontrole daartoe opgevoed word om die situasie te hanteer ... In hierdie verband moet die optrede van die skool, wat die belewing van intermenslike verhoudinge betref, berus op die oordeelkundige beoordeling van 'n verskeidenheid omstandighede, asook moontlike implikasies wat hulle optrede vir die onderwys en vir ons land mag inhou. Dit geld ook vir die deelname van 'n skool aan veelvolkige sportbedrywighede en veral ook aan kompetisies teen private Blanke skole wat enkele Nie-Blanke leerlinge wat met goedkeuring van die owerheid tot die skole toegelaat is, insluit."
So groot was die verraad, en nog groter die breinspoelingsproses teen en met die Afrikanervolk, wat meegebring dat ons vandag in 2012 'n verknegte, verminkte en amper uitgemoorde klein oorblyfsel is van die eens vooruitstrewende volk onder leiding van 'n ware leier, dr HF Verwoerd.