Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesus het alles vir ons kom doen op aarde; selfs sy uitroep: "My God, my God, waarom het U My verlaat?" het beteken dat ons as Christene nooit weer daardie vraag hoef te vra nie!
EINDE VAN PRIVATE EIENDOMSREG
Die Afrikaner
Gevaarligte oor privaatbesit in Suid-Afrika
Geen vergoeding vir onteiening
Wetgewing wat gevaartekens uitstuur omtrent privaat eiendomsreg in Suid-Afrika dien tans op die ANC-regime se parlementêre agenda en wek plaaslik en oorsee groot kommer.
Buitelandse diplomate asook oorsese sakeorganisasies het na ’n aanvanklike swye hul kommer uitgespreek oor die wysigings aan die Wet oor die Regulering van die Privaatsekuriteitsbedryf, die wysigings aan die Wet op Mineraal- en Petroleumbronontwikkeling en die nuwe Wet op Intellektuele Eiendom.
Verskeie lande is trouens al in kennis gestel dat die Wetsontwerp op die Bevordering en Beskerming van Beleggings bestaande ooreenkomste gaan vervang en Suid-Afrika het begin om van die ooreenkomste te kanselleer.
Die ernstige implikasies van die Beleggingswetsontwerp blyk uit ’n uitspraak van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) wat sê dat dié wetgewing, in kombinasie met dieWetsontwerp op die Herstel van Grondregte, “die einde van private eiendomsreg in Suid-Afrika sal beteken – nie net in die landbou nie, maar dwarsdeur die ekonomie”.
Die IRV voeg by: “Ons is van mening dat die regering en die African National Congress (ANC) die weg voorberei om op private eiendom beslag te lê en dit onder arm gemeenskappe te versprei indien en wanneer hulle dit nodig ag. Daardie tyd sal kom wanneer die politieke druk op die ANC so groot is dat hy bang is dat hy ’n toekomstige verkiesing gaan verloor.”
Dr Anthea Jeffery, die hoof van spesiale navorsing by die IRV, sê in haar analise oor die wetgewing: “Die Beleggingswetsontwerp is in wese ’n nuwe onteieningsmaatreël wat op alle eienaars van eiendom in Suid-Afrika, plaaslik sowel as buitelanders, van toepassing sal wees. Dit sal waarskynlik ook meebring dat baie mense geen vergoeding vir die verlies van hulle eiendom ontvang nie, mits die staat dit oorneem, nie as eienaar nie, maar eerder in ‘voogdyskap’ vir die benadeeldes. “Saam met die Wysigingswetsontwerp op die Herstel van Grondregte van 2013 kan dit daartoe lei dat eiendom van uiteenlopende aard deur die staat in ‘voogdyskap’ vir grondeisers geneem word, sonder enige vergoeding vir die vorige eienaars”, sê sy.
Doktor Jeffery skryf voorts: “Die Wetsontwerp op die Bevordering en Beskerming van Beleggings van 2013 is in November verlede jaar deur die Departement van Handel en Nywerheid in die Staatskoerant gepubliseer. Die toegelate drie maande vir kommentaar deur die publiek het aan die einde van Januarie 2014 verstryk.
“Die eintlike gevaar van die Wetsontwerp is egter nie dat plaaslike eienaars van eiendom tot ‘billike en regverdige’ vergoeding van minder as markwaarde beperk sal word nie, maar dat hulle hoegenaamd geen vergoeding sal ontvang nie”, sê sy.
“Hierdie gevaar spruit uit ’n sleutelklousule in die Beleggingswetsontwerp wat bepaal dat verskeie handelinge ‘nie op onteieningshandelinge neerkom nie’. Ingevolge die Wetsontwerp sal daar dus geen onteiening wees nie waar die regering se optrede lei tot ‘die ontneming van eiendom’ maar ‘die staat nie eienaarskap verkry nie’ en ‘daar geen permanente vernietiging van die ekonomiese waarde van die belegging is nie’.
“Die bewoording van hierdie bepaling kan teruggespoor word na ’n meerderheidsuitspraak van die Konstitusionele Hof in April 2013. Hierdie uitspraak, wat deur hoofregter Mogoeng Mogoeng gelewer is, het daaroor gegaan of onteiening plaasgevind het as ’n ongebruikte (en onomgeskakelde) private mynreg ‘opgehou het om te bestaan’ ingevolge die Wet op Mineraal- en Petroleumbronontwikkeling van 2002.
“ Regter Mogoeng het bevind dat Sebenza Pty Ltd, wat die onderhawige steenkoolmynreg besit het, onderhewig was aan ’n ‘verpligte ontneming’ van sy reg ingevolge die MPRDA.
Voorts berus ‘die voogdyskap’ van hierdie hulpbron nou ‘by die staat namens die mense van Suid-Afrika’. Die staat het egter nie eienaarskap van die mynreg verkry nie. Die staat is bloot ’n ‘voog’ of ‘geleibuis’ waardeur ‘breër en billike toegang tot mineraalhulpbronne verwesenlik kan word’.
“Aangesien die ontneming van eienaarskap van Sebenza nie met die verkryging van eienaarskap deur die staat gepaardgegaan het nie, het daar geen onteiening plaasgevind nie, aldus die hoofregter se bevinding. Gevolglik is geen vergoeding betaalbaar nie”.
Dr. Jeffery het vervolgens daarop gewys: “Wanneer die Beleggingswetsontwerp eers op die wetboek is, kan die regering sy reëls gebruik om verdere maatreëls te tref om alle mynbougrond, mynboutoerusting en ander mynboubates op die staat as die voog van die nasie se minerale hulpbronne te laat oorgaan, en saam daarmee swart Suid-Afrikaners in die besonder nooi om by die Departement van Minerale Hulpbronne aansoek te doen vir ’n lisensie om ’n deel van hierdie bates vir ’n bepaalde tydperk te gebruik.
“Soortgelyke maatreëls, wat bedoel is om ’n soortgelyke uitkoms teweeg te bring, kan getref word met betrekking tot alle ander “beleggings” wat deur die Beleggingswetsontwerp gedek word. Dit word breed omskryf om maatskappye, aandele, grond, roerende eiendom en intellektuele eiendom in te sluit, saam met mynregte en soortgelyke ‘lisensies, magtigings of permitte... om ekonomiese en kommersiële handelinge te verrig’.
“Die Beleggingswetsontwerp moet ook gelees word in die konteks van die Wysigingswetsontwerp op die Herstel van Grondregte van 2013 wat die regering beoog om voor die algemene verkiesing van Mei 2014 deur die parlement te druk. Die Herstelwetsontwerp verskuif die spertyd vir die indiening van grondeise van Desember 1998 tot Desember 2018. In hierdie verlengde tydperk sal daar waarskynlik sowat 379 000 nuwe grondeise ingedien word, volgens die regering se eie reguleringsimpakontleding.
Die afhandeling van hierdie eise kan die staat sowat R179 miljard kos, volgens die ontleding.” “Maar in die 2013/14 finansiële jaar was die begroting vir restitusie ongeveer R3 miljard.
Hoe gaan die staat dan die geld kry om al hierdie nuwe eise te skik, veral aangesien sowat 8 000 bestaande eise nog afgehandel moet word?”
In haar slotopmerking gee sy die kommerwekkende antwoord: Die Beleggingswetsontwerp kan natuurlik ’n oplossing bied. Indien die staat betwiste grond as ‘voog’oorneem vir grondeisers, sal daar geen onteiening uit hierdie ontnemingvoortvloei nie – en gevolglik sal daar geen vergoeding wees om te betaal nie.