Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Solank daar nog hoop is, is dit net 'n lafaard wat moed opgee; hoop is 'n droom wat altyd aanhou al is ons wakker want dit word gebore daar waar mens bo jou eie wanhoop uitstyg.
BROKKIES UIT DIE BOEK BELLA VOS (6)
Geskryf deur Philip Venter (u kan die boek bekom deur hom te skakel by 083 444 7672)
Die eertydse grootwildjagter en skrywer, Robert Ruark het in ‘n gedig hulde gebring aan die geur en smaak van spek in die oggend. Selfs die gehardste teenstanders van die eet van varkvleis kan watertand nader staan as spek op die spyskaart is, veral as die geur daarvan begin rondhang. Dis bloot menslik. Vanaand is die derde maal dat die Kampers Martie se spesiale Bosvarkspek sal beproef. Dis miskien die onbeskrywendste woord daarvoor denkbaar. Nee, hulle sal, soos in die verlede, elke greintjie daarvan afsmul.
Vir die soveelste maal is Nicodemus verwonderd oor die vermoëns en integriteit van die vroue waarmee die groep geseën is. Nie net is hulle intelligent en oopkop nie, maar is net so betroubaar en bekwaam in die gevegte, het uithouvermoë en vasbyt, maar hulle kan ook planne maak.
Waar manne, as hulle op hulle eie gelaat word, sommer net vinnig enigiets sal eet, maak vroue moeite met voorbereiding en die geur van enigiets waarop hulle hulle hande kan slaan.
Hulle is ook meer geneig om eerlik te wees oor planne, of dit uitvoerbaar of onnosel is. Vroue is, ten spyte van die algemene opvatting, baie meer prakties as manne en die sprekendste voorbeeld hiervan is die geur wat oor die kamp dryf. Vanaand eet ons weereens lekker.
Nadat die skottelgoed opgeruim en gewas is (waarmee die manne moet help), is daar ‘n tyd waar die groep by mekaar sit en gesels. Sommige van die gesprekke en onderwerpe is in klein groepies, soos die jongmense wat eenkant sit en lag oor iets, ‘n groep van die ouer manne wat sit en pyp rook waar hulle nie die ander kan pla nie, maar hier naby die vuur, half toegesnoes in dik baadjies, met koffie of tee in bekers (en hier en daar aangeflikker met die tuisgestookte alkohol) sit die ander en praat. Aanvanklik oor ditjies en datjies, maar uiteindelik en onvermydelik, oor die huidige situasie.
“Het julle agtergekom, dwarsdeur die dertig jaar van die nuwe regering, maar veral die laaste paar jaar, hoe apartheid weer uitgehaal, afgestof en uitgehang is? Baie mense was al baie moeg daarvoor en het gedink dis nou tyd dat sy spook tot ruste kom, maar dit het inteendeel net meer aandag gekry?”
“Ja,” sê Lara. “Julle moet onthou dat ons jong mense nie apartheid werklik kan onthou nie. Dis asof dit eeue voor ons bestaan het, so ver was ons daarvan verwyderd.”
“Lara, wat weet jy daarvan? Vertel ons uit jou, as jong vrou, se oogpunt.”
“Ek weet dit was net sleg, of so dink ek. Mense is verontmenslik, verag, uitgebuit, kon nie grond besit nie, is uit werksgeleenthede uitgeskakel, mag nie verhoudings met ander kleure gehad het nie, moes dompasse dra om te kan beweeg en is deurlopend mishandel deur die apartheidsregime.”
Daar is ‘n hele ruk stilte, voordat iemand waag om te praat.
“Van dit is inderdaad so,” antwoord Nicolaas, die groot neef van Nicodemus. “Ek dink nie hulle is verontmenslik nie en definitief nie verag nie. Hulle mag grond besit het, in van die mooiste plekke in ons land en omgewing. Was jy al in diep Vendaland, Zululand, Lesotho en sulke plekke? Daar mog hulle na hartelus gekoop of besit het. Weet julle hoeveel geld het die ou regering bewillig vir die opheffing van die mense? Skole, sale, elektrisiteit, lopende water, parke, ontwikkelings op landelike plekke en fabrieke. Wat is oor daarvan?
“Ek dink ons gaan in sirkels praat daaroor. Wat ek wil sê is dat die nalatenskap van apartheid ‘n ontwikkelde land was, met eerste wêreldse infrastruktuur en ‘n gesonde geldeenheid. Dis nie ter sprake nie. Wat wel is, die feit dat dit gedurende die laaste tyd van die ANC op die voorgrond gestel is. Elke keer as daar ‘n groot gemors ontstaan het, was dit die ‘legacy’ van apartheid. Ek glo dat dit nie net oor die verskoning van onbekwaamheid en onkundigheid gedoen is nie, maar om die wêreld te herinner daaraan dat hulle geen reg het om die verval en korrupsie te kritiseer nie. Die skuld van apartheid was die finale troefkaart in elke argument waarin die ou regering gekritiseer is, en die nuwe een mee verskoon is. En nie net binnelands nie, maar veral oorsee. Gaan kyk mooi, die apartheidskaart is elke keer op die saailande van buitelandse media gegooi, waar dit behoorlik kon ontkiem en baie vrug dra. Dit was bloot ‘n mondsnoerings-tegniek, eerder as ‘n verskoning”
*
“Business?”
Die frisgeboude doeanebeampte kyk na die paspoorte en die briewe van die universiteite (nie heeltemal bo verdenking nie), waarin Bill Jones as ‘n professor in argeologie en geskiedenis bekendgestel word en sy reisgenote as navorsers en selfs amateur-historici, wat deur Afrika op reis is en op soek na spore van die antieke Hyksos, ‘n veglustige nasie van die oertyd.
“Oh, now I see – a study-group?”
“Yes indeed.”
Bill raak ‘n paar tegniese punte aan oor hulle akademiese reis en vra die beampte selfs ‘n paar vrae daaroor. Natuurlik weet hy niks daarvan nie, siende dat die Hyksos nie werklik ooit in Afrika ‘n entiteit was nie, maar hy sal dit nou nie erken nie. Hy vra nog ‘n paar kursoriese vrae, kyk die manne een-een deur, maak seker die paspoortfotos en die gesigte lyk min of meer na mekaar, wil weet of hulle iets te verklaar het, veral vuurwapens of dwelms, is heimlik beïndruk deur die klaarblyklike rykdom van die manne en die voorkoms van hulle voertuie en na ‘n relatiewe kort tydperk is hulle verby die doeane en ry uit die hawegebied.
*
Wanneer ‘n mens die onvermydelike aanvaar en daarmee vrede maak, kry jy gemoedsrus. Die baklei daarteen is dikwels baie meer vol trauma as die uiteinde.
In Suid-Afrika begin al meer en meer mense aanvaar dat die land ten gronde bestuur word – indien jy kan aanvaar dat “bestuur” die proses is waarin jy die mure van ‘n vallende gebou probeer regop hou - en uiteindelik sal nie veel oorbly om mee te kan werk nie. Dis soos ‘n mens wat sy huis sien afbrand en in plaas daarvan om die vlamme te probeer doodspuit, eerder in sy gedagtes kan voorsien hoe mooi die nuwe een gaan lyk wat hy sal bou.
In 1994 het almal asem opgehou oor die nuwe regering van Nelson Mandela. Sommiges het na die Noorde gekyk bokant die Limpopo en die ergste gevrees. Ander het gesê ons sal nie dieselfde pad as Zimbabe, Zambië, die DRK, Rwanda, Somalië en ander Afrika-lande loop nie, want ons is anders en ons situasie is anders. Niemand kon werklik sê wat “anders” beteken nie.
Miskien was die agteruitgang ‘n bietjie stadiger, veral gedurende die eerste vyf jaar, maar dit het in erns begin na 2004, meer spoed gevang na 2009 toe Zuma aan bewind kom en het onkeerbare momentum ervaar met die aanbreek van Ramaphosa se “New Dawn” – ja die son het opgekom oor die ruïnes van ‘n eens magtige en welvarende land.
Die voorheen positiefgesindes ervaar ‘n reeks skokke, waarvan die kultuurskok miskien die uitstaande een is. Daarbenewens die besef dat geen mens van Europese afkoms werklik welkom is nie – net hulle geld. Alhoewel ander faktore ‘n belangrike rol gespeel het, soos kaderontplooing, Transformasie, Regstellende Aksie, gepaardgaande met swak beplanning, bestuur, uitvoering van swak planne, en ‘n doelgerigte poging om die land finaal te laat sink, het Eskom die afgrond ingeseil en bykans elke vlak van die ekonomie en die samelewing saamgevat op ‘n benoude en angsrillende rit. Nadat die stof gaan lê het, het rook daaruit opgestyg.
*
Waar Max teen die storm die reën, wind en modder en gladde rotswande sy pad oopveg na waar Bella behoort te wees, begin hy algaande die uitdaging geniet.
Die voertuig is meer bekwaam as wat hy verwag het en sy vaardigheid as drywer neem toe met elke hindernis wat hy baasraak. Hy weet ook dat ‘n verkeerde besluit, ‘n oorhaastige of te laat besluit, aksie, draai, rem of voet wat van ‘n natbereënde pedaal afgly, sy en die voertuig se einde kan veroorsaak, maar hy het nou al daamee vrede gemaak en hy kom agter dat hy hiervan hou.
Om die terrein beter te kan ervaar en om so ver as moontlik te kan sien, het hy die seil afgehaal en net oor die agterkant van die voertuig gespan om sy beddegoed, kos en klere te beskerm teen die water. Die ou reënpak wat hy aan het, hou die meeste van die siendende storm uit en weg van sy vel af. In plaas daarvan om die rit te probeer wegwens, kyk hy wat hy en die voertuig kan oorwin en dis asof die berg saamspeel en dieper, hoër, gladder en oënskynlik gevaarliker hindernisse in die pad gooi.
Wanneer die bande op ‘n skuins en kantelende rots te veel begin gly en Max vrees dat hy terug sal gly na waar hy vandaan kom, gryp die Coopers eenvoudig vas en gee daardie effense momentum.
As die modder onder in ou stroompies, wat nou diep strome is, neig om die kar vas te hou, klim die toerteller amper onbeperk teen die nokaste op, tot die kar die greep daarvan afskud. As die neus te veel lig en hy bang is vir agteroor slaan, sal die Frontier op die regte oomblik sy agterkant lig om ekwilibrium te herstel.
Die roete, indien ‘n mens dit so kan noem, kronkel en klim, sak en loop skuins, sodat hy nooit werklik momentum kan opbou nie.
Hier, hoog in die berg, is die mis dikwels so dig dat hy teen kruippas moet luier om net seker te wees daar is nog een of ander stuk moederaarde voor hom. Die hoofligte maak nie veel van ‘n duik daarin nie en as dit nie was vir die laaggemonteerde misligte nie, sou hy vir lang ente niks kon uitmaak nie.
Twee maal moes hy op sy instinkte staatmaak, die voertuig tot stilstand bring, handrem stewig optrek en uitklim, net om agter te kom die pad gaan nie verder nie – een maal met ‘n baie skerp draai na links en niks voor hom nie, behalwe ‘n onbepaalbaar-diep afgrond en die ander keer tot teenaan ‘n loodregte rotswand. Dan moes hy loop totdat hy weer op die regte “pad” kon kom.
Sy bo-arms en beenspiere word lam van die inspanning en hy is baie dankbaar vir kragstuur en ‘n servo-hulp remstelsel. Hy is moeg en sweet selfs onder die reënklere, ten spyte van die koue, van blote inpanning. En tog geniet hy dit volkome.
*
Bella sien dat haar hande en gewrigte blouerig en byna veldeurskynend is in die effense lig. Dis amper te veel inspanning om haar hande op te lig en onder die komberse in te druk.
Sy verloor liggaamshitte en moet elke onsie gewilligheid wat sy kan bymekaarskraap, gebruik om die klein gasstofie oop te draai en aan te steek. Vir lang minute kyk sy asof in ‘n trans na die water wat uiteindelik klein borreltjies maak, te stoom en uiteindelik te kook.
In die beker kookwater los sy twee teelepels Bovril op en bring dit stadig na haar mond toe. Die emaljebeker brand haar lippe effens, maar as sy na drie asemblase daarop dit weer na haar mond bring, is die smaak en hitte amper histeries lekker. Sy voel die warm vloeistof al die pad met haar slukpyp af na haar maag beweeg en dit heerlik verhit. Sy neem ‘n te groot sluk en verstik effens. Met die beker wyd gehou dat sy nie mors nie, kug sy ‘n paar maal en drink dan weer ‘n bietjie.
“Max, kom tog nou net! Dis nie meer pret of snaaks nie.”
*
In teenstelling met waar Max en Bella hulle bevind, is Kris se groep verby die stad en ervaar hulle die opwinding van groot enjins, ewe groot bande, oop vlaktes van harde woestynpad en feitlik geen snelheidsbeperkings nie.
Die stadigste voertuie is die Hummers, die Unimog en die MAN-4X4. Hulle het maar ‘n topsnelheid van minder as 110 kilometer per uur en die Hemmit skaars meer. Die ML is tevrede met die spoed, maar die Brabus Mercedes se bestuurders – hulle los mekaar af – is erg gefrustreerd. Nogtans loop die kilometers gewillig onder al die groot bande deur. Hulle almal besef dit is ‘n uiters-lang afstand vanaf die noorde na die suide van Afrika en hulle berus daarin dat hulle vir baie dae aanmekaar sal ry.
Wanneer hulle vroegaand ‘n laer trek op ‘n oop stuk aarde langs die pad, klaar aandete genuttig het, en die gape begin lank word, roep Bill vir Kris eenkant toe. Hy loop na waar die Brabus se agterkant effens verby die Hemmit se bak weggesteek is van die ander.
“Come have a look here, mate.”
Met ‘n spesiale sok aan ‘n kort T-stukkie, wat deel is van sy bos sleutels, draai hy een van die tien-kantige koppe van die linker paneel, net onder heel boonste deel, se skroewe. ‘n Suisgeluid word hoorbaar en die hele saamgestelde lig, met ‘n gedeelte van die agterste paneel by die modderskerm, loop op koeëllaers uit. Dit laat ‘n sterk paneel van bykans twee meter by twee honderd millimeter hoog en twee honderd diep, sigbaar. Teen die verseëlde flap, aan die binnekant, is twee lang gewere sigbaar. Bill haal nie een uit.
“MacMillan semi-auto .50 BMG calibre. Good for almost a mile and a half.”
Daar is twee aan die een kant van die bak en nog twee, in .416 Barrett-kaliber aan die ander kant.
“Never know what we may run into, hey?”
“Ammo?”
“In the roof-lining. Not much – about five hundred rounds.”
“Mother’s little old surprise fairy?”
“Never call an hairy, mean old bastard of a man with a rifle in his hands a fairy, hey?”
Kris staan ‘n volle minuut en dink na al die implikasies van wat hy nou gesien het, behalwe van die moeilikheid waarin hulle sal kom met hierdie ordonans.
“Veteran?”
“SAS. Ex-member.”