Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons moedeloos raak oor ons land se ellendige toestand, of ons volk se nog ellendiger situasie, onthou dat die gebede van die regverdige tot groot krag is - God het 'n deel van ons volk hul knieë nie voor Baäl laat buig nie en hulle bid en Hy hoor hulle! Soos Hy aan Elia gesê het toe dié gekla het dat die hele volk ten gronde is: Hy het vir Hom 7 000 man uitgehou . Daar is nog Afrikaners en Christene wat opreg bid vir ons volk en land!
MOEILIKE VERLEDE?
Ds AE van den Berg
“En God het laat kom wat hy begeer het”. (1 Kron.4:.10)
Wie 'n rivier of waterstroom terugwaarts volg, kom op een of ander tyd by die bron daarvan uit. Dis gewoonlik ’n fontein, oog of iets soortgelyk. Wat is die bron van jou lewe? Wat laat jou lewe vloei?
Die Bybel sê dat God die Bron van alle lewe is. Ongelukkig wil die meeste mense geen bande met Hom hê nie; selfs leiers: “Die konings van die aarde staan gereed en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” (Ps.2:2,3).
Die diepte van ons lewe hang van die diepte van ons lewensbron af. Hoe dieper hierdie bron, hoe dieper is ons lewe. Mense sonder God het geen diepte nie. “So is die goddelose mense…. soos kaf wat die wind verstrooi” (Ps.1:4).
Die Satan wil hê dat ons die wêreld as lewensbron moet beskou. Baie mense doen dit en struikel. In 2 Tim.4:10 word van Demas gesê dat hy die geloof verlaat het omdat hy die wêreld liefgekry het.
Oor die bron van ons lewe besluit onsself. Besluiteloosheid is hinderlik. By geleentheid raas Elia met sy volk: “Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom na; en as Baal dit is, volg hom na!” (1Kon18:21). Kies jou lewensbron duidelik. Moenie dat mense wonder waar jy staan nie. Paulus sê:“...sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listig tot dwaling te bring” (Efes.4:14).
Die OT Jode het hul kinders soms vreemde name as gevolg van onaangename gebeure gegee. Jakob beteken hakskeen-gryper omdat hy tydens geboorte aan sy tweelingbroer se hakskeen vasgehou het. Figuurlik gesproke beteken die naam bedrieër – iemand wat vir ander strikke stel. Jakob het baie mense ingeloop totdat God in sy lewe ingegryp en sy naam verander het.
Om 'n kind ’n slegte naam te gee weens slegte ervaring is wreed. Dis egter sprekend van ’n wêreld wat negatiewe beelde op ander wil afdruk. Dit bly egter die persoon se keuse of hy dit toelaat of nie. Jakob het op ’n punt in sy lewe gekom waar hy met God se hulp die beeld wat die wêreld op hom afgedruk het, afgeskud het. God het hom ’n ander naam gegee, Israel, omdat hy met God se hulp van die stigma wat aan hom gekleef het, ontslae geraak het.
Mense dink nog steeds eenders. Moeders met moeilike kinders sê dikwels: “Ek het geweet dat hy ’n moeilike kind gaan wees want ek het moeilik geboorte aan hom geskenk”. Wat sê so ’n persoon eintlik? Dat sy kind ’n gebore verloorder is? Dis ’n gerieflike bos om hul verkeerde kinderopvoeding te verskuil!
Ons teksverse staan in die middel van ’n lang Joodse geslagsregister. Name word vinnig opgenoem, tot by Jabes. Al wat ons van hom weet, is in twee verse opgeteken. Hy was een van daardie kinders wat ’n ongunstige naam weens ’n moeilike bevalling ontvang het. Jabes beteken hartseer. Daarmee is die beeld van die lewe wat hy sou lei, op hom afgedruk; ’n pynlike, hartseer lewe vol drama en smart.
In die oë van die wêreld was Jabes ’n gebore verloorder. Sy naam het mense herinner aan hoe hy as ’n pyn in die agterstewe in die wêreld gekom het! Kon Jabes bo sy lotsbestemming uitstyg? Ja, hy het. In 1 Kron.4:1-10 styg sy naam bo al die ander name uit. Daar word nie gesê dat sy lewe vol maneskyn en rose was nie. Al wat die skrywer sê, is dat Jabes sy verlede met die hulp van God oorwin het.
Die lewe is soos kaartspel. ’n Gelukkige lewe word nie bepaal of jy met ’n goeie hand gedeel word nie, maar of jy ’n slegte hand goed speel. Jabes het ’n slegte hand ontvang. Sy naam het soos lood aan hom gehang. Die ommeswaai het gekom toe hy God gevra het om hom te help om anders as sy naam te leef. En God het sy gebed verhoor.
Die Satan sê dat ons gebore verloorders is. Jabes het dit nie geglo nie want hy het God in sy lewe ingelaat. Hy het gevoel hoe bose magte hom omsingel en hoe God hulle gestuit het. Om gelowig te word, moet jy jou lewensomstandighede vir God gee. “My seun, gee my jou hart en laat jou oë ’n welgevalle hê in my weë” (Spr.23:26). “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorsprong van die lewe” (Spr.4:23).
Gelowiges vra God nie vir ’n beter hand kaarte nie, maar vir genade om ’n slegte hand goed te speel. God verander ons ongunstige omstandighede nie in ’n oogwink nie. Ons gaan deur dieselfde beproewing as ongelowiges. Al verskil is dat gelowiges nie alleen is nie maar God as Helper het. “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk ...” (Rom.8:28).
Ongelowiges word deur hul verlede beheer; gelowiges deur hul toekoms. Jabes het nie toegelaat dat sy swak naam en/of verlede hom kniehalter nie. Sy lewe het waarskynlik nie dramaties verander nie. Al wat saak gemaak het, was dat hy met God se hulp van die slegte invloed van sy verlede ontslae geraak het.
Nog ’n gelowige wat hom nie deur slegte omstandighede laat kniehalter het nie, was Jeremia. Hy was in Jerusalem was toe Babel die stad binnegeval het. Omdat God dit vooraf aan hom openbaar en hy dit geprofeteer het, was die koning so kwaad, dat hy hom in die tronk gegooi het. God het die profeet egter getoon dat die volk na verloop van jare weer sou terugkeer,
Terwyl Jeremia in die tronk was, het ’n familielid hom besoek. Sy erfgrond, wat deur vyandige soldate beset was, was te koop. Wat sou hy doen? Hy het mos geprofeteer dat Juda na Jerusalem sou terugkeer. Hoe nou? Sou hy sy geld sit waar sy mond was?
Jeremia het dit gekoop en die spot van Jerusalem geword. Juda was dan op die punt om alles te verloor! Nee, Jeremia het sy geld gesit waar sy geloof was. En God het dit beloon. Na die ballingskap het hy hom op die erfplaas gaan vestig.
Alhoewel Juda is sy volk se sonde gestraf is, het Jeremia nie toegelaat dat die verlede sy toekoms bepaal nie. Hy het soos Jabes sy geloof in God gestel. Hy het geweet dat as hy in die verlede leef, hy die toekoms verkeerd sou vertolk.
Wie net bly terugkyk, sal nooit weet waarheen hy gaan nie. Die verlede het alleenlik nut indien ons dit gebruik om uit ons foute te leer. Let op die wonderlike wisselwerking – deur uit ons foute te leer, beplan ons vir die toekoms en deur vir die toekoms te beplan, kry ons die hede in fokus!
Baie mense val in hul verlede vas. Hulle is bang vir die toekoms, bang vir die beeld wat die wêreld op hulle wil afdruk. Niks is so verslawend soos vrees nie. Ek onthou as kind hoe die oumense spookstories vertel het, gewoonlik net voor slaaptyd. As ek bed toe moes gaan, het ek die kombers oor my kop getrek met net ’n klein opening om asem te haal. ’n Ketting kon my nie so vas aan daardie bed soos daardie spookstories hou nie.
Vrees verlam ’n mens. Maar slegte herinneringe aan die verlede maak van baie mense gevangenes van vrees. Dis nie wat God wil hê nie! As ons gesondig het, moet ons dit voor God bely. Wie dit saamdra, is soos ’n persoon wat 'n bottel laat val en die skerwe in sy broeksak steek om hom gedurig te krap!
Wat verwag God van sy kinders? Om hul kop op te tel en soos Jabes op God te vertrou. “Want God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim.1:7).