Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons weet dat daar eintlik net twee keuses in die lewe is sal ons meer betrokke raak by die dinge wat gedoen moet word: ons kan kies om betrokke te wees en die pyn daarmee saam verwerk; of ons kan kies om onbetrokke by dinge om ons te wees en die verveling daarvan verduur.
HOE LYK JOU VREDE OP HIERDIE KERSDAG?
Ds Andrè van den Berg
“Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ʼn welbehae” - Luk.2:14
Op Kersdag ervaar talle gelowiges ʼn ambivalensie. Hierdie groot woord beteken om twee uiteenlopende ervarings gelyktydig te ervaar. Dis soos om te wil lag en ter selfde tyd ook te wil huil. Kersdag is enersyds ʼn vreugdevolle dag maar andersyds ook ʼn hartseer dag. Vir gelowiges is dit ʼn vreugdevolle dag omdat Jesus se koms na die aarde herdenk word, maar andersyds ook ʼn hartseer dag omdat die meeste mense dit vir die verkeerde rede vier.
Kyk maar net hoe gaan dit tydens die Kerstyd. Handelsomgewings is ʼn miernes van bedrywigheid; mense jaag van die bank na die winkels en soms selfs wéér terug bank toe! Kerstyd is die tyd van die jaar waar mense oorboord gaan met buitensporige aankope en vergrype. En dit maak gelowiges opreg hartseer. Kerstyd moet eerder daardie tyd van die jaar wees om voor God stil te raak en met die geestesoor die engelekoor van die grootsheid van Christus hoor sing, net soos wat die skaapwagters hulle daardie nag in Betlehem hoor sing het.
Daardie skaapwagters was nie net bly nie, maar het mense dadelik gaan vertel dat die langverwagte Messias waarvan die profete deur die eeue heen voorspel het uiteindelik gekom het. Kersfees gaan oor Jesus en oor niemand of niks anders nie! Wie Kersfees op enige ander wyse vier, vier dit onwaardig!
Mense raak so besig met Kersfeesreëlings dat hulle vergeet oor Wie dit werklik gaan. Kersfees sonder Jesus Christus is soos ʼn skulp minus die pêrel. Nee, gelowiges wil eerder iets van die skaapwagters se ervaring van daardie eerste Kersfees op aarde in die gees beleef. Daarsonder sal niemand Kersfeesvreugde ervaar nie en sal “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ʼn welbehae” by die een oor in en by die ander een uitgaan.
Die skaapwagters van Betlehem was nie toevallig die enigste mense wat daardie engelekoor gehoor het nie. God het dit so bestem. Skaapwagters was maar baie eenvoudige mense sonder openbare aansien. Nogtans het God dit so beskik dat hulle die lied van die engele die duidelikste van alle mense gehoor het. Hulle hoor die engele sing: “Eer aan God in die hoogste hemel”.
Ons moet egter weet dat God se eer nooit van mense afhang nie. Hy is die Here en sal alle eer vir ewig en altyd hê. Dit maak nie saak wat die wêreld sê of die mensdom doen nie; God hét al die eer. Kersfees mag nooit bloot ʼn gesellige familiebyeenkoms of tyd wees om ou vriende op te soek nie. Kersfees is ʼn tyd om God se eer onder onverskillige familie, vriende en volksgenote te bevorder.
Luk.2:14 vermeld iets groots – vrede. Dis wonderlik om met Kersfees Jesus Christus as Messias en Verlosser te vereer, en baie gelowiges doen dit. Maar wat het van die vrede waarvan die engele gesing het, in Suid-Afrika geword? Waar is die vrede van Christus wanneer kinders verkrag, aangerand en selfs om die lewe gebring word? Waar is die vrede van Christus wanneer boere op hul plase vermoor word? Waar is die vrede van Christus wanneer duisende mense jaarliks deur booswigte aangerand, beroof en dikwels vermoor word? Die vrede van Christus ontbreek in die reënboognasie se hele politieke mondering!
Die vrede waarvan die engele daardie nag gesing het, is nie net iets tussen mense nie, maar ook tussen God en mens. Met die eerste Kersdag op aarde het God die oordeel oor die sondeval opgehef deur in Christus vrede met sy skepping te maak. Ongelukkig het die skepping nie vrede met Hom gemaak nie. Mense het die hand wat God in Jesus na die verlore mens uitgesteek het, eerder op Golgota aan ʼn houtkruis vasgespyker!
Ons hoor gereeld in die nuusmedia van vredespogings en vredesverdrae wat gesluit word. Dis alles mensgemaakte vrede wat gewoonlik misluk. Die geringste ding steek maar net weer die lont aan die brand. Slegs as God se vrede in menseharte woon, is dit duursaam soos wat die geskiedenis van Suid-Amerika van getuig. In 1901 was Chili en Argentinië in ʼn stryd gewikkel. Die twee leërs het met geweldige groot troepemagte weerskante van die grenslyn saamgetrek, gereed om oorlog te maak.
Die leiers aan weerskante was egter Christene en het ter elfder ure besluit om ʼn laaste poging aan te wend om deur onderhandeling die dreigende oorlog af te weer. Nadat hulle ernstig om vrede gebid het, het beide die leërs teruggetrek en was daar sedertdien nooit weer onvrede tussen die twee lande nie.
Wat hierdie vrede soveel merkwaardiger gemaak het, was dat beide regerings kort daarna ʼn standbeeld van Christus op die plek van die onderhandelings opgerig het. Dis die hoogste standbeeld ter wêreld – 3,832 meter bo seevlak in die Andesgebergte. Dit word die Christus van die Andes genoem. En waarvan is dit gemaak? Van die kanonne wat vir die oorlog gebruik sou word!
Die standbeeld is op 13 Maart 1904 ingewy met die aangrypende onderskrif: “Hierdie berge sal eerder wankel en tot stof verkrummel as wat Argentyne en Chilene die vrede wat hulle aan die voete van Christus die Verlosser gesluit het, ongedaan sal maak”. Ja, vrede het ook sy oorwinnings. Dis net jammer dat daar meer monumente vir oorloë as vir vrede in die wêreld opgerig is!
Gelowiges ervaar ʼn vrede baie anders as dié van die wêreld. Hierdie vrede is deel van die bekeringspakket in Christus: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie” (Joh.14:27). Die vrede van Christus is die enigste wat mense in onrustige tye werklik rustig maak. Jesus se optrede op die aarde is immers aan kalmte in die aangesig van beproewing gekenmerk. Alle vrede buite Jesus om is ʼn hersenskim en tevergeefs. Ware vrede is eintlik nie duur nie. Dis die namaaksels wat so duur is!
Telkens wanneer sondaars tot bekering kom, ervaar ons as gelowiges God se vrede in die praktyk en hoor ons die engelekoor met ons geestesoor sing: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ʼn welbehae”.
In die slotreël hoor ons:” ...in die mense ʼn welbehae” en ons laat die kop in skaamte sak omdat ons so dikwels ons eie belange bo God stel. Hoe kan God in sondaars ʼn welbehae hê? Bybelvertalers het Luk.2:14 selfs anders probeer vertaal omdat die oorspronklike vertaling nie vir hulle sin maak nie. In die Vulgaat, die Latynse vertaling van die Bybel, lui hierdie slotgedeelte: “...vir die mense wat in God ʼn welbehae het”. ʼn Ander een vertaal Luk.2:14 met: “...vir die mense wat met welbehae op God se groot dade en verlossingswoorde reageer”. Maar dis nie wat daar staan nie! Daar staan in die Grieks: “Eer aan die hoogste God en vrede op aarde vir mense in wie Hy groot blydskap het”.
God het blydskap in mense soos ek en jy al stel ons Hom ook hoe dikwels teleur. Hy maak met ons soos ʼn ouer met sy kind – omdat hy sy kind liefhet, sal hy hom, wanneer hy oortree, vergewe en nooit verstoot nie.
Luk.2:14 draai om die as van vrede. Vrede is die mooiste vorm van gelukkig wees. Is jy gelukkig? Het jy vrede in jou hart? Niemand kan vrede met lippe verkondig as dit nie in sy hart is nie, al is hy ook hoe ryk. Sonder vrede in die hart beteken rykdom net so min soos ʼn goue pantoffel aan ʼn seer voet!
Hoe lyk die vrede in jou lewe? En in dié van jou gesin? Vrede in ʼn huis bring orde in ʼn gesin. ʼn Ordelike gesin bring rus in ʼn volk en ʼn rustige volk bring vrede in die wêreld; dit waarna almal smag. En kyk waar begin dit – vrede in jou eie hart.
Laat ons vanoggend dankbaar saamsing: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ʼn welbehae”. Hierdie eeu oue boodskap is nog steeds dieselfde boodskap wat ons aan ʼn wêreld sonder Christus en sonder vrede moet uitdra. Want waar daar geloof is, heers daar liefde. En waar daar liefde is, heers daar vrede en waar daar vrede is, regeer Christus. En waar Christus regeer, ontbreek dit sy kinders aan niks nie.