Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons wat in hierdie NSA so woedend kan word oor alles wat verkeerd is moet daarteen waak om dit in ons huise in te dra. Wees verdraagsaam teenoor diegene wat jy liefhet: "As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie 'n dag kwaad afsluit nie." Ef 4:26
GENADEDOOD
Ds A.E. van den Berg
“Daar is geen mens wat heerskappy het oor die wind om die wind teë te hou nie, en niemand het mag oor die dag van die dood nie ...” (Pred.8:8).
Genadedood is 'n misleidende benaming vir eiewillige lewe beëindiging en verskil in beginsel niks van moord nie want 'n lewe word wederregtelik geneem. Ongelukkig is mense al so gewoond aan lelike dinge wat in glanspapier toegedraai is, dat dit maar aanvaar word. Dink aan onreg soos regstellende aksie en swart bemagtiging wat niks anders as gewettigde onreg pleging is nie.
Genadedood is die bewustelike optrede om 'n persoon so pynloos as moontlik te laat sterf – dus 'n verkorting van die sterwensproses. Dit word hoofsaaklik in gevalle uitgevoer waar iemand aan 'n ongeneeslike siekte ly en erge pyn verduur. Die behoefte om so 'n mens se pyn te verlig, is dan by medici so sterk dat dit die natuurlike drang om die lewe te behou, geheel oorskadu en verskil dus niks van veeartse nie.
Genadedood kom ter sprake as daar menslik gesproke 'n duidelike aanduiding van 'n spoedige dood is. Maar kan 'n mens dit werklik bepaal? Onthou: Sekerheid is relatief. Die dood het sy eie tyd al is die liggaam dikwels die aambeeld van pyn en beproewing.
Talle lande het al genadedood gewettig. België is die eerste een waar kinders wat terminaal siek is dit mag aanvra. Sedert 2002 kan enigeen ouer as 12 jaar dit in Nederland aanvra. In 2012 was daar alreeds 1,432 gevalle van genadedood in hierdie land aangeteken.
Die vraag of die genadedood in Suid-Afrika gewettig moet word, was 'n paar jaar gelede sterk in die nuus toe die omstrede Desmond Tutu sy ondersteuning daarvoor bekend gemaak en nog 'n gruwel in ons land ontsondig het. Hy was ook ten gunste van aborsie, homoseksuele verhoudings en huwelike van dieselfde geslag – en dit 'n sogenaamde kerkleier!
Tutu het die genadedood as 'n menseregte kwessie en nie as 'n Bybelse saak geag nie. Hy was destyds ook in die nuus toe hy gesê het dat net omdat iets in die Bybel staan, dit nie noodwendig waar is nie. Hy het na Paulus se briewe verwys waarin homoseksualisme veroordeel word. Tutu se eie dogter is lesbies.
Genadedood is nie net in God se oog verkeerd nie maar ook in die mediese wetenskap. Medici durf nie genees sowel as doodmaak nie. Hierdie stryd is niks nuut nie maar een van die oudste verhale in die Bybel - Job se wens om eerder te sterf as om verder te ly. “En mag dit God behaag om my te verpletter, sy hand uit te strek en my af te sny!” (Job 6:9).
Die Bybel erken sulke gevoelens, maar onderskryf nie die genadedood nie. Die profeet Elia wat vir Agab gevlug, onder 'n besembos gaan lê en gewens het om te sterf, is 'n sprekende voorbeeld (1 Kon.19:4). Toe 'n Filistynse oorwinning 'n uitgemaakte saak was, het Saul sy wapendraer om die genadedood gevra: “Trek jou swaard uit en deurboor my daarmee...” (1 Kron10:4).
Alhoewel die lewe die somtotaal van ons besluite is, gee God ons geen reg om oor die lengte van ons lewe te besluit nie; slegs oor die gehalte. Ons weet dat ons almal gaan sterf. Dis 'n skuld wat vereffen moet word. Die Bybel laat egter vir die mens geen ruimte om die dood te verhaas nie. Dit moet ons egter nie moedeloos maak nie. Niks gebeur met gelowiges waarvoor God hulle nie die nodige krag daarvoor gee nie.
God verstaan dat ons soms so moedeloos kan word dat ons soos Elia wens om te sterf. Ons leef egter nie op gevoel nie, maar deur die geloof. Gelowiges word lewenslank deur geestelike oortuigings gelei; ook as dit by pyn, lyding en die dood kom.
God se weë is nie ons weë nie. Hy stap soms moeilike paaie met ons. Hy bly egter die Gewer en Onderhouer van die lewe: “U is alleen Here, U het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërskare gemaak .... en U hou alles in die lewe....” (Neh 9:6). Ons het derhalwe geen reg om ons eie lewe te beëindig nie.
Job het so moedeloos in sy beproewing geword, dat hy aan selfmoord gedink het. Elihu waarsku: “Moet ook nie jou toevlug neem tot sonde nie, jy verkies dit immers bo swaarkry” (Job 36:21). So ook genadedood. Mense weet dis verkeerd, maar gaan nogtans daarmee voort net om van pyn verlos te word. God verstaan sulke gevalle, maar verskoon geen menslike optrede daarteen nie. Die besluit oor wanneer en hoe ons sterf, berus by God alleen. “... en niemand het mag oor die dag van die dood nie....” (Pred 8:8).
Genadedood is 'n vergryp teen God se doel met die lewe. Hy gee die lewe. Dis ʼn gawe. Wie dit beëindig, gooi hierdie geskenk as te ware in sy gesig terug. 'n Nee, die reg om 'n lewe te beëindig, berus by God alleen.
Genadedood is 'n tameletjie vir medici. Enersyds wil geen dokter iemand se lewe in eie hande neem nie. Andersyds wil hulle die sterwensproses nie lank laat duur nie. Gevolglik doen sommige hulle die nodige voorbereiding waarna die persoon self die proses aan die gang sit. Dit verander niks aan die feit dat dit selfmoord en sonde is nie – 'n ydele poging om God se wil uit te daag!
Die moderne mensdom het in ʼn doodskultuur verstrengel geraak; aborsies neem oorhand toe en wetgewing ten gunste van die genadedood word aangemoedig. Dis 'n klemverskuiwing van die lewe na die dood. God se wil op lewe word omgekeer. Genadedood smaad die lewe en omhels die vloek!
Die dood is 'n natuurlike vyand: “Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood” (1 Kor 15:26). Die lewe daarenteen is 'n gawe van God: “En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas....” (Gen.2:7). Selfs toe daar 'n keuse tussen lewe en dood ontstaan het, is Israel aangesê om die lewe te kies: “... Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag” (Deut.30:19).
Alle sondaars is bestem om te sterf. Dawid sê: “Gedenk van watter lewensduur ek is, tot watter nietigheid U al die mensekinders geskape het!” (Ps.89:48). God gee die lewe. Ons is huurders daarvan. Hy kan die huur enige tyd opskort!
Dit gebeur soms dat God sy doel met mense deur lyding bereik. Lyding maak mense nederig en laat hulle hul afhanklikheid van God besef. Daarom het Hy meegevoel met elkeen wat tot Hom bid om hul lyding te beëindig. Hy weet egter die beste. Sy tydsberekening is volmaak. Koning Salomo skryf: “Daar is geen mens wat heerskappy het oor die wind om die wind teë te hou nie, en niemand het mag oor die dag van die dood nie ...” (Pred.8:8).
Die lewe is nie ’n besitting is waaraan ons moet vasklou nie. Dis 'n huiswaarts reis waarna gelowiges moet uitsien: “Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam te woon en by die Here in te woon” (2 Kor.5:8). Hoe ons sterf is onbelangrik. Hoe ons leef, is baie belangriker.
Die argument word aangevoer dat die genadedood 'n genadige uitweg is vir iemand wat weens pyn en lyding sy menswaardigheid verloor het. Was Jesus dan nie ook lydend op aarde nie? Moet Hy nie vir ons ʼn voorbeeld wees nie?
Die Bybel is baie duidelik. Wie sy lewe voortydig beëindig, pleeg selfmoord en oortree die sesde gebod. Laat ons wat Jesus ken elke dag voluit lewe al eindig dit ook met erge pyn en lyding. Laat dit 'n blywende getuienis wees vir almal wat ons geken het. Kom ons hardloop op die lewensbaan totdat die doodsklok vir elkeen van ons lui!