Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kundigheid vloei soos ‘n sterk stroom deur ‘n eerbare volksleier se lewe sonder dat hy daarmee te koop loop. Hy dra dit soos ‘n sakhorlosie uit die oog en haal dit net uit as iemand daarna vra.
AS ‘N TRONK ‘N TEMPEL WORD
Ds A.E. van den Berg
“En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister” (Hand.16:25).
Paulus was ongeveer 65 jaar oud toe hy in Rome weens sy geloof in Jesus onthoof is. Kort voor sy teregstelling skryf hy aan die plaaslike gemeente om hul geloof in ʼn godvyandige omgewing op te pas. “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom.12:2).
Gelowiges is anders as ongelowige mense; hulle dink, praat en doen dinge anders. Daarbenewens reageer hulle ook anders as normaalweg soos uit die gebeure in Hand.16 blyk. Dit vertel die verhaal van hoe gelowiges in baie slegte omstandighede met God se krag van ’n tronk ’n tempel gemaak het.
Die boek Handelinge vertel die verhaal hoe die evangelie van Jerusalem tot in Rome beweeg het. Alles het by ’n handjievol dissipels in Jerusalem begin wat Jesus se hemelvaart aanskou het en die uitstorting van die Heilige Gees daarna. Handelinge eindig waar Paulus die boodskap van verlossing in Jesus in Rome verkondig het.
Hoofstuk 16 beskryf ’n belangrike oomblik in hierdie opmars van die evangelie na Rome en vertel van iets wat, die oomblik toe die evangelie in Europa aankom, gebeur het. Tot op daardie stadium was die evangelie feitlik net in die Midde-Ooste gehoor. Alles het verander toe Paulus in ʼn naggesig ’n Masedoniese man sien wat hom gesmeek het om hulle te kom help.
Dit was ʼn roepstem van die Here en laat ʼn mens aan die roeping van Jesaja dink: “Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my” (Jes.6:8).
Na hierdie naggesig het Paulus en sy reisgeselskap na wat vandag Griekeland is vertrek, in Filippi aangekom en die evangelie begin verkondig. Die evangelie van Jesus Christus het met die aanvang van die kerstening van Europa ʼn reuse-tree vorentoe gegee en dit komende uit Asië!.
Satan het nie op hom laat wag nie en die evangelie begin teenstaan. Daarvoor het hy die geldgierigheid van sekere mense asook die staatsmasjinerie van die eertydse Romeinse ryk gebruik om die draers van die blye boodskap in die tronk te laat beland. Satan wou keer dat die evangelie Europa verder inneem en gehoop dat die tronk die evangeliste sou afskrik en gou na Asië laat terugkeer.
Die Romeinse wêreld was vir baie dinge bekend, maar beslis nie vir luukse tronke en menswaardige behandeling nie. Daarom was Paulus en Silas se situasie uiters benard. Eers onskuldig in hegtenis geneem; sonder ’n verhoor veroordeel en wreed met stokke geslaan. Daarbenewens het hulle met onversorgde wonde en sonder mediese sorg in ʼn stikdonker tronk soos uiters gevaarlike misdadigers met hul voete in ’n houtblok vasgeklem, gesit.
Onder sulke omstandighede sou woede en bitterheid verstaan kan word. Paulus en Silas kon God maklik verkwalik het. Hulle het dan hul lewe vir sy werk opgeoffer en kyk wat gebeur toe met hulle! Toe gebeur die teenoorgestelde en het daardie stikdonker nag in die tronk soos ’n tempel geword.
In plaas van te vloek, bid hulle. In plaas van te kerm, sing hulle sodat die ander gevangenes dit gehoor het - lofsange vir hulle God, liedere waarmee hulle vir Hom sê hoe dankbaar hulle vir die redding van hul siele is!
Daardie tronk het as’t ware ʼn tempel geword - daardie vuil, donker hool het ’n plek van erediens geword. Die tronk-lug wat elke dag vol vloeke van bewaarders en die kreune van die gevangenes was, het vol klanke van geestelike liedere geword. Kinders van God is net anders; hulle maak van hul tronke tempels!
Hoe het hulle dit reggekry? Hoe kry enige mens dit reg om onder sulke haglike omstandighede God met gebed, sang en lofprysing te loof? Ondenkbaar of nie? Wat is ’n nag in die tronk vir die saak van die Here as jy daaraan dink hoe Hy die helse smarte moes verduur en vir jou sonde gely het? Wat is ’n nag, ’n week, ’n maand, of ’n leeftyd se swaarkry, as jy weet dat jy die Nuwe Jerusalem gaan beërwe?
As jy deur die wedergeboorte ’n kind van die Here geword het, is jy anders; ’n nuwe soort mens, ’n mens wat as’t ware van voor af gebore is. “Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor.5:17). As jy in Jesus nuut word, maak jy van elke plek waar jy kom, ’n plek waar God verheerlik kan word.
Kry ons dit reg om anders te wees? Kry ons dit reg om anders te dink en te praat. Reageer ons in tye van beproewing anders as wat mense normaalweg doen? Of sing ons net op Sondae lofsange en ook net as dit met ons goed gaan? Het ons al begin om van al die plekke waar ons kom, tempels te maak?
Daar is tronke in baie mense se lewens. Vir party voel dit asof hulle werk soos ’n tronk is. Vir ander voel dit weer asof hulle siektetoestand gevangenes van hulle maak. Ander word deur die hartseer van ongunstige huislike omstandighede vasgeketting en baie van ons volksgenote is gevangenes van die droewige omstandighede in ons land waarvan die nuusmedia oorloop.
Het ons al ooit begin om ons weersin in ongunstige omstandighede en gevoelens van verbittering wat so maklik by ons opkom, dood te bid, dood te sing en dit as’t ware met ons blydskap in Jesus dood te smoor? Of sal ons eers lofsange sing as ons uit ons onderskeie tronke is? Wie so optree verskil niks van die heidene nie.
By geleentheid praat ʼn vrou baie ernstig met haar predikant oor haar ongunstige lewensomstandighede en kla dat die Here nie mooi met haar maak nie. Sy kom dan so gereeld kerk toe. Hy vra haar toe of dit al met haar goed gegaan het. Sy het haar kop bevestigend geknik. “Het jy die Here toe daarvoor geloof?” vra hy haar. Sy het nie en haar kop in skaamte laat sak.
Gelowiges loof die Here onder alle omstandighede – in die tempels sowel as die tronke in hul lewe. Al is ons in slegte omstandighede vasgevang, stukkend of selfs platgeslaan, het ons steeds rede om bly en dankbaar teenoor Jesus te wees.
Na die dood van Job se tien kinders op een dag en verlies van al sy rykdom, hoor ons hom sê: “Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Die Here het gegee, en die Here het geneem: die Naam van die Here sy geloof!(Job.1:21).
Die daaropvolgende vers lui: “By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie”. Net geloof kan dit doen!
Gaan maak van jou tronk ’n tempel. Jy mag verbaas wees oor wie daardeur aangespreek word. Daarna beleef jy hoe die boeie van neerslagtigheid van jou afval en die tronkdeure oopgaan!
“Laat alles wat asem het, die Here loof! Halleluja!” (Ps.150:6).