Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is talle verbitterde mense wat reguit beweer dat hulle in geen vorm van liefde glo nie. Hoor wat die Woord oor liefde sê: "Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde." 1 Johannes 4:8
DIE ANTICHRIS (4)
Ds A.E. van den Berg
“Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelge-nootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af.... en raak nie aan wat onrein is nie....”(2 Kor.6:14,17).
Die Bybel waarsku ons dat die mensdom kort voor die wederkoms van Jesus ernstig mislei gaan word. Mense gaan leuens vir die waarheid en die waarheid vir leuens aansien, waarna geestelike afvalligheid as God se straf orkaansterkte in kerke gaan bereik. “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thess.2:11,12).
Spore van dié laaste afvalligheid is reeds in kerke sigbaar. Teoloë bevraagteken toenemend sekere grondwaarhede van die Skrif en ontvang selfs toekennings vir hul dwalings! Hierdie misleiers word nie tot verantwoording opgeroep en leertug op hulle toegepas nie. En so beweeg hoofstroomkerke al hoe verder weg van die geseënde uitroepteken dat Jesus die enigste Verlosser is – na ʼn vraagteken of Hy werklik die enigste Verlosser is?
Is dit toevallig dat al hierdie dwaalgeeste uit kerke kom wat gemene sake met die Roomse Kerk (RK) het? Sit daar nie iets hieragter nie? Daar is wel nl. die kerk se voorbereiding vir die een wêreldregering van die Antichris! Petrus skryf dat die afval by kerke begin: “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?” (1 Pet.4:17). As kerke skeef trap, kan lidmate nie reguit loop nie!
Die Antichris gaan mense op alle lewensgebiede beheer hetsy die sosiale, kerklike en sakewêreld sodat niemand sonder sy goedkeuring handel kan dryf nie. God beperk egter sy optrede. Die Antichris sal nie een tree oor die sperstreep gee wat God vir hom getrek het nie! Hy weet dat sy regering deur God beëindig gaan word en dat hy saam met sy hoof (Satan) en voorbereider (valse profeet) in die ewige hel gaan beland.
Soos wat Lot en sy gesin Sodom en Gomorra moes verlaat om die verwoesting daarvan te kon oorleef, sal gelowiges geen verbintenis met die RK (ekumene) durf hê nie. Paulus waarsku vroeg: “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie...” (2 Kor.6:17).
Die valse profeet se optrede sal deur ʼn magdom van wondertekens gekenmerk word. Hy gaan selfs Elia naboots deur vuur uit die hemel te laat neerdaal. Dit en baie ander tekens sal maak dat die Antichris aanbid word: “En hy maak dat almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ʼn merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word” (Openb.13:16).
Wat die merk van die dier (Openb.14:9) presies gaan wees, weet niemand nie. Sommige glo dat dit ʼn mikrorekenaarskyfie is wat as ʼn identifikasieteken onder die vel ingeplant gaan word. Niemand weet vir seker nie. Die 666 gaan myns insiens nie oor werklike merktekens nie, maar oor veel erger dinge - die houvas wat Satan op die mensdom verkry. Dit gaan voor kom asof niemand hom kan teenstaan nie. Die vraag: “Wie kan teen hom oorlog voer?” (Openb.13:4) is Satan se spottery met Christus aan Wie alle mag behoort.
Die uitverkorenes behou die geloof totdat Jesus op die wolke kom en die boek van die lewe (burgerskapregister) gelees word. Wie die merk van die Antichris ontvang, gaan hel toe: “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openb.20:15).
Die Antichris gaan die mensdom betower deur iets waarna die wêreld smag – om vrede en veiligheid op aarde te bewerkstellig. Dit sal egter valse vrede en veiligheid en op die einde erger as oorlog wees. “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid; dan oorval ʼn skielike verderf hulle soos die barensnood ʼn swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess.5:3).
Mense is tans meer as ooit begaan oor wêreldvrede en veiligheid. Met die verskyning van die Antichris bring hy die onstuimige golwe van opstand en geweld in die wêreld skynbaar tot bedaring. Mense sal glo dat die rus en vrede waarna gesmag word aangebreek het en sal hom wat dit bewerkstellig het, aanbid. Daarna wys die Antichris sy ware kleure!
Alhoewel die aanslag van Satan en sy twee handlangers fel gaan wees, leef gelowiges met die Bybelse gerusstelling dat God op sy troon is en die skepping beheer (Ps.11). Hy bepaal alles tot en met die einde van die wêreld. “En Hy antwoord hulle: Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie” (Hand.1:7). Hy voer besluite met mag uit!
Baie gelowiges gaan soos die martelare van ouds met hul lewe vir hul geloof in Jesus betaal. Hy waarsku: “Dan sal hulle julle aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Mt.24:9,22).
Gelowiges troos hulle daaraan dat Jesus die Antichris gaan vernietig. Sy lot is reeds verseël. “ ...hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess.2:8). Gelowiges moet hulle egter vir die finale stryd gereedmaak: "Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu (Ef. 6:11,12).
Godsdiens in die verkeerde hande is uiters gevaarlik. Die Romeinse keisers het miljoene mense met godsdiens beheer. Dit gaan weer gebeur wanneer die Antichris as eindtyd-Babiloniër die geskiedenis op dieselfde wyse gaan afsluit as wat Nimrod,die eerste Babiloniese koning, dit begin het: as ʼn geweldenaar op ʼn troon wat homself in sy eie ryk wou vergoddelik.
Gelowiges mag nie soos die dissipels in ʼn krisis-uur aan die slaap gevang word nie. Elke gelowige het ʼn heilige verpligting om diegene wat slaap, wakker te skud en soos die eertydse wagte op die stadsmure alarm te maak.
In sy Sendbriewe waarsku Johannes gelowiges teen ʼn bose groepering wat toe alreeds in die kerk werksaam was. Hulle het hulself as gelowiges voorgedoen, maar was in werklikheid dienaars van Satan. Hulle het ʼn vreemde boodskap verkondig wat mense laat dwaal het.
Paulus het ook met hulle te doen gekry en die gemeentes in Galasië wat vir hulle geval het tereg gewys: “O, onverstandige Galasiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie ? (Gal. 3:1). Wie die waarheid nie huldig nie, is aan God se verkeerde kant: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Luk. 6:46).
Paulus onderrig Timoteus in ʼn baie groot waarheid: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Tim.3:16,17).
Aan die einde van die tyd gaan niks gelowiges so duidelik van ongelowiges onderskei nie as hulle liefde vir die waarheid. Dit sal die gom wees wat gelowiges aan mekaar gaan hou totdat Jesus kom. Daar sal vir gelowiges geen edeler ding wees om te doen as om die waarheid teen dwaalleer te verdedig nie.
Nadat Paulus vir Jesus op die Damaskuspad ontmoet het, vra hy: “Here, wat wil U hê moet ek doen?” Dis ʼn universele vraag. Wat verlang Jesus van ons? Wat moet ons vir Hom doen? Ons moet dringend met misleide volksgenote praat en hulle waarsku om betyds uit kerke pad te gee wat ekumenies gemene sake met die RK het en hul kerklike bande sonder enige gewetensverwyte verbreek.
Roomse Katolisisme is die forum van die Antichris en die uiterste vorm van ontrouheid aan die Evangelie van verlossing. Gelowiges durf geen gemene sake met haar hê nie: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af.... en raak nie aan wat onrein is nie....” (2 Kor.6:14,17).