Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Here, ek weet nie wat ek van U moet vra nie. U alleen weet wat ek nodig het. U het my liewer as wat ek myself kan hê. Vader, gee asb aan u kind wat hy self nie weet hoe hy dit van u moet vra nie. Ek bring maar net my hart na U en maak dit voor U oop. Amen.
VEILIG IN DIE VRESE VAN DIE HERE
Ds Andrè van den Berg
“DIE vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug. My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; want dit is ’n lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou hals” - Spr.1:7-9
Spreuke begin met die woorde: “Die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel” (Spr.1:1). Salomo was ʼn groot koning en die seun van ʼn besondere koning. Salomo was magtig in sy optrede sodat mense voor hom gebuig en sy opdragte gehoorsaam het.
Let op hoe hy in sy gesagsposisie teenoor sy ma opgetree het. Batseba is destyds onder lelike omstandighede met sy pa getroud nadat hy haar eerste man laat doodmaak het. Desondanks alles het sy Salomo se ma gebly. Luister hoe behandel hy haar: “Toe Batseba dan ingaan na koning Salomo om met hom ... te spreek, het die koning opgestaan om haar te ontmoet en voor haar gebuig; daarna het hy op sy troon gaan sit en vir die moeder van die koning ’n stoel laat neersit, en sy het aan sy regterhand plaas geneem” (1 Kon.2:19).
Al was Salomo die skrywer van drie Bybelboeke, was hy nie ʼn volmaakte mens of koning nie. Om die waarheid te sê was nie een van die Bybelskrywers volmaakte mense nie. God het egter sy gedagtes so gelei om drie Bybelboeke te skryf waarvan Spreuke een is.
Salomo skryf in Spr.1:7-9 oor die ses wyshede waarsonder geen gesin geseënd kan optree nie. Die wyshede is nie van die soort wat in algemene handboeke oor oueropvoeding voorkom nie. Sulke boeke is te vol van wêreldse wyshede en mis die doel wanneer dit aan Bybelse leiding ontbreek.
Spreuke handel nie net oor algemene lewenswyshede nie, maar wil sondaars in die regte verhouding met God bring. Salomo bid: “Hou valsheid en leuentaal ver van my af; gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is; dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die HERE? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie” (Spr.30:8,9).
Die eerste van die ses waarhede van Spr.1:7-9 is dat gesinne deur die wil van God ontstaan het; vaders, moeders en kinders wat innig met mekaar verbonde is. Vers 8 lui: “ My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie”.
God se plan met gesinne is uit die eerste hoofstuk van die Bybel duidelik: “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde...” (1:27,28)
God se plan met gesinne begin so vroeg as in die Tuin van Eden. Die huwelik begin by ʼn diepgaande liefdesverhouding tussen een man en een vrou waaruit kinders gebore word. Daarom is homoseksualisme ʼn spottery met die huwelik as instelling van God. Daaruit kan geen kinders gebore of voorbeeldige gesinne gevorm word nie.
Die tweede groot wysheid is dat die gesin God se skool is. Gesinne is die plek waar kinders leer hoe om reg te leef. Luister na vers 8: “ My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie”. Die vader is die instrukteur en die moeder die onderwyseres. Dit werk soos ʼn skool.
Die aarde moet nie net met mense gevul word nie, maar met goed opgevoede en gedissiplineerde mense. Daarvoor is gesonde gesinsbande onontbeerlik. Die gesin is immers die plek waar die volgende geslag gebore en geleer word hoe om reg te leef. En dis ʼn groot onderneming en verantwoordelikheid. Daarvoor het God selfs ʼn heilige kontrak (die verbond) met die mens aangegaan.
Eerbied vir God is die derde groot wysheid en fondament van gesinslewe. “Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis...” (:7). Dit beteken dat ouers hul kinders leer om God te eerbiedig. ʼn Gesin is nie bloot die plek waar kinders groot word nie. Dis die plek waar hulle van hul ouers lewenswaardes in oorleg met God se Woord aanleer. Die gesin is ʼn skool en eerbied vir God die curriculum. Wie ʼn kind sonder God grootmaak, maak ʼn slim duiwel groot!
Vierdens gee God vir vaders en moeders verantwoordelikheid in hierdie skool. “ My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie”. Dit sê nie dat vaders kinders moet leer en moeders net doeke omruil nie. Dit sê ook nie dat vaders hulle maar kapot kan werk en opvoeding aan moeders oorlaat nie. Nee, dis ʼn span en samewerking uit die hoogste rakke!
Wie van kleins af Godvresend opgevoed word, val nie sommer in die lewe nie. Sulke opvoeding bly ʼn kind by. Let op Paulus se woorde aan Timoteus: ” ...en as ek my herinner die ongeveinsde geloof wat in jou is, wat eers gewoon het in jou grootmoeder Loïs en in jou moeder Eunice, en wat — daarvan is ek oortuig — ook in jou is ( 2 Tim.1:5). “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Tim 3:14,15).
Dis ʼn merkwaardige getuienis as in ag geneem word dat Timoteus se vader ʼn Griek (Hand.16:3) en waarskynlik ongelowig was. Sy geloof was aan sy moeder en ouma te danke wat hom van kindsbeen af eerbied en liefde vir God geleer het. Hulle het vir hom gedoen wat sy vader nie kon of wou doen nie. Timoteus se aangeleerde liefde vir die Skrifte het hom tot die geloof in Christus gebring.
Spr.1:8 waarsku kinders teen twee versoekings rakende ouers se gesag. Die eerste het te doen met ʼn kind in die huis en die tweede met ʼn kind weg van die huis. In die huis is die versoeking om nie na sy ouers te luister nie. Daarom skryf Salomo: “My seun, luister na die tug van jou vader...” Weg van die huis is die versoeking daar om dit wat hy geleer is, te veronagsaam. Salomo sê: “.... en verwerp die onderwysing van jou moeder nie; ...”
Kinders, luister na julle ouers t.w.v. God. Dis vir God so belangrik dat Hy dit deel van die 10 Gebooie gemaak het! “Eer jou vader en jou moeder soos die HERE jou God jou beveel het, dat jou dae verleng mag word en dat dit met jou goed mag gaan in die land wat die HERE jou God aan jou gee.” (Deut.5:16).
In die sesde plek bestem God ʼn beloning vir kinders wat na hul ouers luister: Salomo se: “want dit is ’n lieflike krans vir jou hoof en sierlike kettings vir jou hals” (:9). Die vers maak dit duidelik dat kinders se gehoorsaamheid God se besondere guns wegdra. Om die Satan se versoeking om jou eie kop te volg te oorwin en na jou ouers te luister, is soos ʼn kroon op die kop en ʼn medalje om die nek.
In Efes.6:2,3 skryf Paulus: “Eer jou vader en jou moeder — dit is die eerste gebod met ’n belofte — sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde” Al die gebooie hou seën in, maar met hierdie gebod gaan God as’t ware uit sy pad om kinders te seën.
Om gehoorsaam aan ouers en eerbiedig voor God te leef, het onmeetlike lewenswaardes: “In die vrees van die HERE lê ’n sterk sekerheid, ook vir die kinders van ’n sodanige sal daar ’n toevlug wees. Die vrees van die HERE is ’n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk” (Spr.14:25,27). “Die vrees van die HERE is tot die lewe; en versadig bring ’n mens die nag deur, sonder om deur ’n onheil besoek te word” (Spr.19:23).
Kinders is lewenslank eerbied aan ouers verskuldig: “Luister na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie. Koop waarheid en verkoop dit nie, ook wysheid en tug en verstand. Die vader van ’n regverdige juig baie; en as iemand ’n wyse verwek het, dan is hy bly oor hom. Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het” (Spr.23:22-25).
Ouers, gee julle kinders eerder ʼn deeglike opvoeding as luukshede. Bestee meer tyd en minder geld aan kinders. Gelukkige kinders sit dikwels op arm ouers se skote. Daarbenewens is geen kind arm solank as wat hy godvresende ouers het nie. Voed julle kinders in die vrese van die Here op. Sorg dat hulle Sondae in die kerk is want hoe meer kindervinger afdrukke daar op kerkbanke is, hoe minder sal daar op polisie-rekords wees!