Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dit is weer naby Moedersdag. Dan moet ons moeders maar onthou: die beste wat jy vir jou kinders kan gee, is jou deernis, jou teenwoordigheid, jou liefde en vergifnis – kortom, jouself. En aan ons kinders: dít is al wat 'n moeder terugvra!
HABAKKUK
Ds AE van den Berg
"Waarom talm God so lank in sy oordeel aan die suidpunt van Afrika? Waarom verbrand Hy nie die trotse, goddelose bewindhebbers en afgodsdienaars tot as soos wat Hy met Sodom en Gomorra gedoen het nie?... ...Ons staan op die vooraand van ’n nuwe jaar. Die skade wat die getygolf van onreg, geweld, korrupsie en afgodiese verering van booswigte hierdie land deur eie toedoen getref het, sal nooit bereken word nie."
“Hoe lank, o Here, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld! - maar U help nie? Waarom laat U my onreg sien …..Ja, verwoesting en geweld is voor my oë….” - Hab.1:2+3
Habakkuk se naam is ’n beskrywing van sy lewe en beteken omhels of worstel. Hy was regverdig, het die Wet van God omhels en met God geworstel. Hy het egter ’n probleem gehad; dit het vir hom gevoel asof sy geloof hom niks baat nie. Sy samelewing was weens verraad ontwrig, booswigte het al hoe ryker en gelowiges al hoe meer veronreg geword. Gevolglik vra die profeet: “Here, U kan mos iets hieraan doen, waarom doen U niks nie?”
Wat in Juda gebeur het, gebeur ook in Suid-Afrika – gelowiges kry bitter swaar in hierdie onreg-bedeling!
Sonde, boosheid, onreg, diskriminasie, ontwrigting en verwarring is aan die orde van die dag. Mense het nie meer inbors nie! Die staat minag God se Wet en ontspoorde kerke verwater Bybelse riglyne vir die lewe. Ja, die kerklike wêreld het so oppervlakkig geword, dat prediking weinig effek het. Gevolglik worstel baie gelowiges soos ’n Habakkuk van ouds met God se weë en vra: “Here, waarom doen U niks hieraan nie?”God verseker die profeet dat sy oordeel oor Juda voor die deur is en daarvoor gaan Hy die volk se grootste vyand, die Babiloniërs, gebruik! Hy gaan hulle aan bewind laat kom om Juda te tug. Juda het die Babiloniërs goed geken – ’n wrede, genadelose nasie wat God getart en teen wie geen nasie opgewasse was nie.
Laat ons nooit vergeet dat alles en almal aan God se mag onderworpe is nie. Hy gebruik selfs booswigte as instrumente in sy Hand - ’n karwats om stout kinders ’n loesing mee te gee. God het by geleentheid selfs ’n bose gees gebruik om die afvallige koning Saul te teister!
Toe Habakkuk tot God vir ’n verandering in Juda se volkslewe gebid het, het hy heimlik vir ’n herlewing gehoop. God antwoord met oordeel! Dieselfde ding het in Suid-Afrika gebeur – toe die volkslewe verval en baie gelowiges vir herlewing gebid het, het God oordeel gestuur en die vyand as tugroede gebruik.
Dis wonderlik om in die hand van ’n genadige God te wees; ons moet egter ook weet dat sy genade ook straf op sonde insluit. Ons aanbid ’n liefdevolle dog regverdige God! Hy wil ons van sonde laat wegdraai. Daarom red God ook sy kerk in tye van teologiese verwarring om ons na die smal pad terug te bring sodat ons nie in die hel beland nie.
Habakkuk het vir Juda se herlewing gebid, maar moes hom vir God se oordeel regmaak! Dis nie lekker om God se oordeel oor jou eie volk te aanvaar nie. Habakkuk worstel met die gedagte dat God die vyand as tugroede in sy Hand gaan gebruik. Hy glo dat Juda, al het hulle afvallig geword, steeds God se mense is en regverdiger as die Babiloniërs. Hulle is dan heidene. Hoe verdra God hulle enigsins? Habakkuk soek ’n beter antwoord vir sy aanklag. “Op my wagtoring wil ek gaan staan en op ’n skansmuur my stel en ek wil speur om te sien wat Hy in my sal spreek en wat ek op my klagte moet antwoord” (2:1).
God het Habakkuk geantwoord en verseker dat Hy nie net Juda gaan straf nie, maar ook die vyand wat vir ’n paar jaar oor hulle sal heers. Juda se tug sal tot sy herstel dien, maar dié van die vyand tot sy vernietiging. God se oordeel gaan Juda gesond maak; sy oordeel oor Babilon sal dié se dood veroorsaak.
Waarom talm God so lank in sy oordeel aan die suidpunt van Afrika? Waarom verbrand Hy nie die trotse, goddelose bewindhebbers en afgodsdienaars tot as soos wat Hy met Sodom en Gomorra gedoen het nie? Weet een ding: God se weë is nie ons weë nie en sy tyd nie ons tyd nie. Al wat ons met sekerheid weet, is dat Hy op sy tyd met die goddelose sal afreken. Dis die vertroosting wat Hy vir Habakkuk in ’n tyd van onsekerheid oor die toekoms gegee het.
God antwoord Habakkuk se klagte en verseker hom dat die vyand se dag van afrekening kom. Hy straf alle boosheid veral trots, die Babiloniërs se grootste oortreding: “Kyk, sy siel is opgeblase in hom en nie reg nie…” (2:4). Hulle het geglo dat niemand, nie eens ’n God, hulle uit die kussings sou lig nie. En toe kom die oordeel - God duld geen mededinger nie! Jesaja voorspel dit:
“Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God ….Ek wil klim op die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil” (Jes.14).
Babilon was nooit tevrede met die grootte van sy ryk nie en wou altyd meer hê. God het dit net tot op ’n punt geduld en deur Habakkuk ’n klagstaat teen hulle opgestel. Hulle gaan vir ’n hele paar oortredings gestraf word. Hulle onreg en geweld het ten hemel geskreeu: ” Wee hom wat ’n stad bou met bloed en ’n vesting stig deur onreg” (2:12). So ook hul sedeloosheid en eerloosheid: “Jy het jou versadig met skande in plaas van met eer” (2:16).
Net een groep mense sou die oordeel van God oorleef: “Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe” (2:4). God skaar Hom in nood by gelowiges totdat die nood verby is. God bemoedig Habakkuk deur hom te verseker dat Hy met die vyand gaan afreken. En dit gee hom moed vir die toekoms. Daarom is die hele hoofstuk drie ’n dankgebed aan God. Die opskrif is: Gebed van die profeet.
Habakkuk was geesdriftig om in die krisistyd sy geloof in God se oppermag uit te leef en te blom waar hy geplant was. “Die Here jou God is by jou, ’n held wat verlossing skenk…” (3:16). Daarom het Habakkuk hom opnuut aan God gewy en in Hom gejubel al het dit ook sleg met sy volk gegaan en was oordeel voor die deur. God het hom opgetel dat hy vêrder as die hier en die nou sien.
Habakkuk beteken mos omhels of worstel. Eers het hy met God se manier van dinge doen geworstel en daarna God se doel met Juda omhels en op die voorsegging vertrou dat die vyand se dag van afrekening sal aanbreek. Juda sal getug, maar Babel vernietig word. Hy het getrou gebly, God se oordeel oor Juda sien kom, maar ook Juda se vrymaking toe God die Perse as instrument in Sy hand gebruik het en Babel vernietig is!
Dis baie onaangenaam om soos Juda eers deur verraad in eie kring saggemaak en daarna met vyandige getalle oorheers te word. Elia is ’n klassieke voorbeeld hiervan. Koning Agab het die weg van God verlaat en afgodery ingevoer waarna die hele Israel, altans so het dit vir Elia gevoel, dit gelate aanvaar het. Toe hy by die Here daaroor kla, het God hom verseker dat hy nie alleen was nie, maar dat 7000 Israeliete die knie nie voor Baäl gebuig het nie en dat Hy die land ter wille van hulle nie sou prysgee nie.
Ons staan op die vooraand van ’n nuwe jaar. Die skade wat die getygolf van onreg, geweld, korrupsie en afgodiese verering van booswigte hierdie land deur eie toedoen getref het, sal nooit bereken word nie. Moet egter nie toelaat dat onreg jou siel skaad nie. Kinders van God het altyd hoop vir die toekoms. Wat Hy vir Juda gedoen het, sal Hy ook vir die Boerevolk doen. Hy tug en red.