Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Liefde is die sterkste wapen wat God ons in die stryd teen die sonde gegee het. Hoe meer lierfde, hoe minder probleme, hoe minder spanning. Moenie jou liefde in 'n weegskaal plaas nie; liefde wat afgemeet word is nie liefde nie maar berekeninge. Laat jou liefde spontaan wees, eg, dan kom daar 'n diep vreugde in jou.
WAS JESUS WERKLIK GOD...
...en het Hy fisies opgestaan uit die dood?
Anita Joubert
DEEL EEN
The Da Vinci Code?
Dan Brown beweer in sy boek, The Da Vinci Code, dat daar wel so ’n persoon soos Jesus Christus bestaan het, maar Hy is om politieke redes deur keiser Konstantyn vergoddelik omdat laasgenoemde voordeel wou trek uit die geweldige invloed wat Jesus gehad het. Hy het nie regtig opgestaan uit die dood soos die Bybel dit verkondig nie, meen Brown. Hy was glo net ’n wyse leermeester en ’n goeie man wat deur ‘n sameswering van die Romeinse Keiser in die vierde eeu na Christus, Goddelike status verkry het. Volgens Brown is die Sinodesitting van Nicea deur Konstantyn in 325 n.C. bymekaar geroep, en daar is alles geswaai deur ‘n stemming sodat Jesus soos ‘n God begin lyk het. Die boodskap van die boek is dat dit ‘n openbaring van die bes bewaarde sameswering en geheim in die geskiedenis van die bestaan van die mensdom is. Hierdie geheim is toegesmeer en weggesteek deur ‘n geheime organisasie in die Rooms Katolieke Kerk, genoem “Opus Dei”. Volgens die boek het verskeie groot denkers en kunstenaars deur die eeue leidrade geplant ten spyte van die feit dat die Roomse Kerk probeer het om die ware feite weg te steek. Die skrywer beweer dus dat:
- Die Romeinse Keiser deur ‘n sameswering daarin geslaag het om Jesus eers in die vierde eeu n.C. te vergoddelik.
- Keiser Konstantyn persoonlik die boeke van die Nuwe Testament uitgesoek en tot kanoniek verklaar het, met ander woorde, as gesaghebbend genoeg om in die Bybel opgeneem te word. Sodoende kon hy sorg dat alle boeke wat nie Jesus se goddelikheid onderskryf nie, uit die Bybel weggelaat word.
- Die Gnostiese Evangelies deur mans verban is sodat hulle daardeur vroue kon onderdruk.
- Jesus en Maria Magdalena in die geheim getroud was en ‘n kind gehad het.
- Daar duisende geheime dokumente bestaan wat al die sleutelpunte van die Christendom verkeerd bewys.
Die Da Vinci Code is ‘n buitengewone goeie samesweringsroman. Dit was ‘n blitsverkoper en daar is ook ‘n film met die storie vervaardig. As dit egter die waarheid is, beteken dit dat ons as Christene belieg is deur die Kerk, deur die Bybel en deur die geskiedenis. Selfs ook deur hulle vir wie ons die meeste vertrou het, nl. ons ouers en onderwysers; en dit alles net ter wille van iemand se magsbehebtheid.
Watter eienskappe moet ‘n leuen moet hê om geloofwaardig te wees? Dit moet so na as moontlik aan die waarheid wees. Hierdie roman is gebaseer op ware gebeurtenisse (die Sinodesitting van Nicea), mense wat werklik bestaan het (Konstantyn en Arius) en dokumente wat werklik bestaan (die Gnostiese Evangelies). Maar kom ons kyk na wat werklik gebeur het.
Sinodesitting van Nicea
Christene het Jesus as God aanbid reeds vanaf die eerste eeu, lank voor die regeringstyd van Konstantyn of voordat die Sinodesitting van Nicea plaasgevind het. Hulle is in hierdie tyd ontsettend wreed vervolg en doodgemaak vir hulle geloof. Konstantyn het, volgens historiese bronne, terwyl hy in ‘n oorlog betrokke was, ‘n helder visioen van ‘n kruis gehad waarop die woorde geskryf was: “Oorwin in die Naam hiervan.” Hy het die oorlogsveld ingemarsjeer onder die teken van die kruis en sodoende die beheer van die hele Romeinse Ryk oorgeneem.
Konstantyn se bekering was ‘n baie belangrike draaipunt in die Kerk se geskiedenis. Rome was nou ‘n Christelike Ryk en vir die eerste keer in die 300 jaar na Jesus se dood, opstanding en hemelvaart was dit veilig en selfs nogal heel aanvaarbaar om ‘n Christen te wees. Die oostelike en westelike dele van die Romeinse Ryk was baie verdeeld, hoofsaaklik as gevolg van verskeie sektes en kultusse wat tot stand gekom het ooas gevolg van ‘n stryery oor Jesus se identiteit. Kontantyn wou graag eenheid tussen die twee ryke bewerkstellig en ‘n einde maak aan die verskille. ‘n Kerkleier in die oostelike Ryk, Arius, het beweer dat God net een was. Jesus was volgens hom ‘n spesiaal geskape wese, hoër as die engele, maar nie God nie. Athanasius en die meeste ander kerkleiers aan die ander kant was oortuig daarvan dat Jesus God self, in die vlees, was. Konstantyn wou hierdie stryery tot ‘n einde bring en het gehoop om daarmee vrede en eenheid tussen die twee Ryke aan te moedig. Daarom het hy in 325 n.C. die Sinodesitting by Nicea saamgeroep waar 318 biskoppe van die Kerk bymekaar gekom het om oor hierdie saak te besin.
Wat het die vroeë Kerk geglo?
Die belangrikste vraag is: Wat het die vroeë Kerk geglo wat deur die apostels aan hulle geleer is? Omtrent 30 jaar na Jesus se dood en opstanding, het Paulus aan die Fillipense geskryf dat Jesus God is wat mens geword het (Fil.2:6-9). In Johannes 1:1-4 en ook 14 skryf die dissipel Johannes, wat baie na aan Jesus was en ‘n ooggetuie van alles wat Hy gedoen en gesê het, dat die Woord wat van die begin af daar was, self ook God was, dat Hy alles geskape het en ‘n mens geword het en onder ons kom woon het. Hierdie Skrifgedeelte is gevind in ‘n antieke manuskrip wat gedateer is tussen 175-225 n.C. Met ander woorde, daar is duidelik van Jesus as God gepraat meer as 100 jaar voordat die Sinodesitting van Nicea plaasgevind het. Daar is lank en intens by die Sinodesitting gedebatteer oor hierdie saak voordat tot stemming oorgegaan is. Aan die einde is met ‘n oorweldigende meerderheid, 316 biskoppe teen 2, gestem dat God Drie-enig, Vader, Seun en Heilige Gees is. Arius is eenparig deur die Raad tot ‘n ketter verklaar omdat dit wat hy geleer het, teenstrydig was met dit wat die apostels geleer het.
The Da Vinci Deception
In sy boek, The Da Vinci Deception, wat ‘n analisering is van Brown se The Da Vinci Code, sê dr. Erwin Lutzer dat Konstantyn nie kon besluit watter boeke in die Bybel moet kom nie, want teen die tyd van die Sinodesitting van Nicea, was die vroeë Kerk al vir meer as twee honderd jaar besig om die boeke te lees wat as gesagvol beskou is. Die Kerk was reeds wyd verspreid en het reeds honderde duisende, indien nie miljoene nie, lidmate gehad. Almal van hulle was bekend met die Nuwe Testamentiese boeke en dit wat deur die apostels geleer is, en aan volgende geslagte oorgedra is. Hoe kon die keiser daarin slaag om in te meng en soveel mense wat so oortuig was van dit wat hulle glo, se koppe so te swaai? Ek dink ook dit is nie moontlik nie.
Wat is die Gnostiese evangelies?
Die woord ‘Gnosties’ kom van die Griekse woord ‘gnosis’, wat kennis beteken. Die skrywers van die Gnostiese Evangelies was dus ‘n groep mense wat hulself as besonder ingelig beskou het met ‘n geheime, spesiale kennis wat verberg is vir gewone mense. Hierdie uitspraak dat daar sekere mense is wat oor ‘n geheime, spesiale kennis beskik wat vir gewone mense verberg is, het ek ook al in my leeftyd vanuit mense se monde gehoor. Volgens hulle het Jesus nie regtig opgestaan en is Hy nie regtig God nie, maar as ons gewone mense dit wil glo, dan is dit goed vir ons, maar hulle weet van beter. Hulle beskik glo oor kennis wat net aan sekere hoogs intelligente mense geopenbaar word. Hoe verwaand kan ‘n mens wees?
In teenstelling met Brown se storie, is die waarheid dat dit nie Konstantyn was wat die Gnostiese evangelies as nie-Kanonniek beskou het nie, maar die apostels self. Daar was reeds baie van hierdie filosofieë in omloop enkele dekades na Jesus se dood. Die apostels het baie moeite gedoen om in hulle lering en geskrifte gelowiges te waarsku teen hierdie dwaalleringe wat in stryd was met die waarheid van Jesus Christus, waarvan hulle ooggetuies was.
Johannes sê in 1 Joh. 2:22: “Wie is die leuenaar anders as hy wat nie wil erken dat Jesus werklik die Christus is nie? Hy is die antichris, hy wat nie die Vader en die Seun wil erken nie.” Omdat hulle die apostels se lering nagevolg het, het die vroeë kerk eenparig die Gnostiese leer as vals beoordeel. Die kerkvader Irenaeus, het 140 jaar voor die Sinodesitting van Nicea, bevestig dat die Gnostici deur die kerk as dwaalleraars beskou word en hy het ook hulle ‘evangelies’ verwerp. Ook die kerkvader, Origines, het vroeg in die derde eeu gesê dat uit alles wat geskryf is, net dit wat die kerk reeds goedgekeur het, nl. die vier Evangelies, aanvaar moet word.
Brown suggereer in sy boek dat Konstantyn se motivering om die Gnostiese evangelies te verban, was om vrouens in die kerk te onderdruk. Tog is dit ironies dat dit juis die Evangelie van Thomas, ‘n Gnostiese evangelie, is wat vrouens verkleineer. In sterk teenstelling hiermee behandel die Jesus van die Bybelse Evangelies altyd vroue met respek en waardigheid.
Teksverse soos dié in Galasiërs waar Paulus skryf: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een” (Gal.3:28), was baie rewolusionêr vir die tyd waarin Jesus geleef het. Vrouens se status is deur Jesus se lering verhoog, nie verlaag nie.
Die Gnostiese evangelies word gedateer in ongeveer 120-300 n.C. en geen geloofwaardige geleerde glo dat enige van die evangelies deur die persoon wie se naam dit dra, geskryf kan wees nie. Norman Geisler, ‘n bekende Nuwe Testamentiese geleerde, skryf oor die Evangelie van Petrus en die Handelinge van Johannes, (hierdie twee boeke moet nie verwar word met die Nuwe Testamentiese boeke wat deur Petrus en Johannes geskryf is nie) dat dit geskryf is deur mense in die tweede eeu, (en later) wat wou voorgee dat hulle oor apostoliese gesag beskik, om sodoende meer outoriteit aan hulle lering te gee. In Geisler se eie woorde: “Today we call this fraud and forgery.”
Die sappigste gedeelte van die hele Da Vinci Conspiracy, is die bewering dat Jesus en Maria Magdalena in die geheim getroud was en ‘n kind gehad het. Maria is dan ook, volgens die storie, die legendariese “Holy Grail” van die Roomse Kerk. Dit is glo ‘n geheim wat dig bewaar is deur die Priory of Sion. Sir Isaac Newton, Botticelli, Victor Hugo en Leonardo da Vinci, word almal as lede van die Priory of Sion gemeld. Wat nie gesê word nie, is dat hierdie organisasie binne die Roomse Kerk, eers in 1956 gestig is, 437 jaar na Leonardo da Vinci se dood. Hy sou dus baie moeilik ‘n lid daarvan kon wees...
Die enigste verwysing wat naastenby tot so ‘n bewering aanleiding kon gee, word gevind in die Evangelie van Fillipus, waar gesê word dat Jesus vir Maria gesoen het. Om iemand met ‘n vriendskaplike kus te groet, was alombekend gedurende die eerste eeu, en geensins ‘n aanduiding van ‘n romantiese verhouding nie. Aangesien die Evangelie van Fillipus ook ‘n Gnostiese skrywe onder ‘n vals naam is en gedateer is in die tydperk 150-220 n.C., is ook hierdie bewering histories ongegrond. Volgens oorlewering, is die ‘Holy Grail’ van die Roomse Kerk, vermoedelik die beker waaruit Jesus sy laaste Nagmaal gedrink het.
Omdat die verhouding tussen Jesus en die Kerk in die Bybel metafories vergelyk word met dié van ‘n Bruidegom en sy bruid, die Kerk, op Wie se koms sy steeds wag sodat Hy haar kan kom haal om die simboliese huwelik te voltrek, is hierdie bewering natuurlik ‘n baie fyn en slu uitgedinkte manier om by Christus-gelowiges ‘n saadjie van twyfel te saai. Elke gelowige wat met hierdie verwagting leef, verwag ‘n Bruidegom wat heilig, rein en volmaak gaan wees. Wanneer ons hier van die Kerk praat, word daarmee nie bedoel die georganiseerde kerk soos ons dit vandag ken nie, maar die onsigbare Kerk van die Here Jesus, nl. elkeen wat in Jesus glo as Here, gekruisig en opgestaan uit die dood.
As daar werklik ‘duisende’ dokumente bestaan het wat kon bewys dat die Christendom toe al die tyd op ’n bedrogspul gebou is, sou die sogenaamde teologiese geleerdes wat Jesus se Godheid betwis, mos gejuig en getriomfeer het in hulle oorwinning. Vals geskrifte onder vals name wat al eeue gelede deur die vroeë kerk verwerp is vir hulle vals uitsprake en nie ‘n geheim nie. Dit is nie korrek om te sê die Gnostiese evangelies is deur iemand uitgesluit uit die Bybel nie. Die Gnostiese evangelies het hulself uitgesluit. Dit was nie in harmonie met die getuienisse oor Jesus wat deur die vroeë Christene as betroubaar beskou is nie.
DEEL TWEE volg: Ooggetuies...