Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons maak so dikwels die fout om tug as genadelose straf te sien. Geen klein kindjie of kind van God kan egter sonder tug 'n verstandige 'grootmens' word nie. Die doel van tug is tog positiewe verandering, groei, bekering, verbetering, en dit vind altyd plaas in 'n gees van sagmoedigheid en liefde. Laat ons ons kinders tugtig sodat hulle gebalanseerde volwassenes sal word, en laat ons ons as volwassenes ons deur die Woord van God betugtig sodat ons ons sonde sal bely en laat staan.
STUDIE- HANDLEIDING – JAKOBUS 3:13-18
’n Studiehandleiding vir die Bybelboek Jakobus in die Nuwe Testament
Anita Joubert
Jakobus 3:13-18 Hemelse wysheid teenoor aardse en demoniese wysheid
In verse 13 tot 18 gaan Jakobus weer terug na die begin van die hoofstuk toe hy gesê het dat hulle nie moet probeer om almal leermeesters te wil wees nie, want iemand wat ander leer, sal swaarder geoordeel word. So ’n persoon moet met liefde en genade leef. Hy sal dan aan ander kan wys wat die beherende krag is waaruit hy leef. Wanneer hy voortgedryf word deur bitterheid, selfsugtigheid en ambisie, dan is sy optrede vals en stem nie ooreen met die waarheid wat hy bely nie.
Volgens Barclay staan daar in vers 14 twee versoekinge uit waarteen leermeesters moet waak:
- Die eerste is die versoeking om nie verwaand en arrogant te word nie. Een van die Joodse wysgere het gesê: “Hy wat verwaand is in besluitneming, is dwaas, dom en opgepof in die gees.”
- Die tweede versoeking is om nie bitter te word nie. Wanneer geleerde mense van mekaar verskil, dan bring dit altyd passie en emosies na vore. Dit is een van die moeilikste dinge in die lewe om te argumenteer sonder om seer te voel, of self seer te maak. ’n Mens moet so oortuig wees van dit wat hy glo, dat ’n ander se opinie of redenasie hom nie raak of seermaak nie.
Jakobus gee in hierdie gedeelte vir ons vier maniere waarop ’n persoon verkeerde lering kan gee:
- Fanatiese lering word met ongebalanseerde geweld oorgedra in plaas van goed beredeneerde oortuiging.
- Bitterheid veroorsaak dat die teenstanders vyandigheid aanvoel, eerder as vriendskaplikheid.
- ’n Leermeester met selfsug en ambisie, is meer gretig om homself te bewys en aandag te kry, as om die waarheid aan ander te leer.
- ’n Verwaande leermeester is so trots op sy kennis, dat hy nie in nederigheid kan besef hoe min hy eintlik weet nie. ’n Ware leermeester is baie meer bewus van dít wat hy nie weet nie, as van dít wat hy wel weet.
Jakobus gee in verse 15 tot 16, aan hierdie soort kennis wat tot sulke verwaandheid lei, drie eienskappe:
- Dit is aards.Dit word met aardse en wêreldse standaarde gemeet, en die doelwitte van hierdie wysheid, is wêreldse doelwitte.
- Dit het die eienskappe van die natuurmens (the natural man). Volgens Barclay is die Griekse woord wat Jakobus hier gebruik, psuchikos, moeilik om te vertaal. Dit is afgelei van die woord psuchĕ, wat “siel” beteken. Die antieke geleerdes het geleer dat die mens uit “liggaam, siel en gees” bestaan. Ons verwar “siel” met wat hulle “gees” genoem het. “Siel” is dit wat ons ook met diere in gemeen het, naamlik emosies, drange en instinkte. Ons “gees” (pneuma), is iets wat net ons, as mense, besit. Jakobus sê dus eintlik hier, dat hierdie soort verwaandheid ’n kennis is wat niks anders is as ’n dierlike instink nie. Dit is dié soort wysheid wat veroorsaak dat ’n dier knor en aanval, met niks anders in gedagte, as sy persoonlike oorlewing nie.
- Dit is demonies. Die bron daarvan kom nie van God af nie, maar van die duiwel. Dit skep die soort situasie waarin die duiwel homself kan verlustig, want sy heel groot karaktereienskap, is verwaandheid.
In vers 16 beskryf Jakobus die gevolge van sulke soort wysheid. Die mees merkbare daarvan is dat dit wanorde veroorsaak. In plaas daarvan om mense bymekaar te bring, dryf dit mense uitmekaar. In plaas van vrede, veroorsaak dit stryd en rusies. Daar is mense wat so slim en skerpsinnig is, dat ander hulle kan beny, maar oral waar hulle kom, in elke groep, kerk of persoonlike verhouding, veroorsaak hulle net onenigheid.
In die Apokriewe boek, “Die Wysheid van Salomo”, word hierdie soort wysheid beskryf as die “asem van die krag van God, ’n uitstraling van die glorie van die Almagtige.” Ons kry ook verskeie verse in Spreuke en Psalms oor hierdie soort wysheid. Lees gerus Spreuke 3:17; 9:1; 11:2; 14:16; 16:16. DiePsalmskrywer vra in Psalm 90:12: “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.”
Hierdie wysheid van Bo is, soos dit deur die Nuwe Lewende Vertaling vertaal is:
- Suiwer: Wêreldse wysheid kan nie God se lig verdra nie, maar ware wysheid kan.
- Vredeliewend: Jakobus gebruik die woord eirĕnikos. Dit is nie die soort vrede van die Stoïsyne nie, wat vir hulle verbeel het dat hulle net niks mag voel nie, dan sal hulle vrede hê. Dit beteken vrede tussen mense en vrede tussen God en mens. Ware wysheid produseer regte verhoudings.
- Inskiklik: Die Griekse woord wat Jakobus gebruik, is epieikĕs. Barclay sê dat dit die heel moeilikste Griekse woord in die hele Nuwe Testament is om te vertaal. ’n Persoon wat epieikĕs is, is iemand wat weet wanneer dit verkeerd sal wees om die streng letter van die wet toe te pas. So ’n persoon weet hoe om te vergewe wanneer geregtigheid, goeie oordeel vereis. Dit is iemand wat altyd onthou dat daar belangriker dinge in die lewe is, as reëls en regulasies. Dit is die optrede teenoor ander, wat elkeen van ons soms ook graag sou wou ontvang.
- Bedagsaam: So ’n persoon is bereid om na rede te luister, sonder om hardvogtig te wees. Dit beteken nie om swak en ruggraatloos te wees nie.
- Toon ontferming: met goeie gevolge(ander vertalings sê goeie vrugte). Die Griekse woord wat Jakobus gebruik, is eleos. Dit beteken om genade met iemand te hê wat swaarkry, al is dit sy eie skuld. Christelike ontferming of genade is ’n weerkaatsing van God se genade, vir ’n mensdom wat hulle ellende oor hulself gebring het. Dit is ’n soort genade wat goeie vrugte voortbring; met ander woorde praktiese hulp. Ons kan nie sê dat ons jammer is vir iemand, as ons nie probeer om hom te help nie.
- Diskrimineer nooit:Hierdie soort wysheid is gebaseer op Christelike sekerheid wat na ons toe kom van God af, deur Jesus Christus. Dit is die wete dat God ons almal ewe lief het en Jesus vir ons almal gesterf het.
- Altyd opreg:Dit is eerlik, gee nooit voor om iets te wees wat dit nie is nie, en doen niks vir eie gewin nie.
Ons moet onthou dat eirĕne(vers 18),beteken “die regte verhoudings tussen mense.” Wat Jakobus hier sê, is dat ons almal probeer om ’n oes te ontvang wat deur ’n goeie lewe opgelewer word. Die saad wat ’n goeie oes lewer, kan egter nooit floreer in enige ander atmosfeer anders, as waar daar goeie verhoudings tussen mense is nie. ’n Oesland waar daar stryd en bitterheid is, se grond is bar en droog en die saad kan nooit so daarin groei dat dit ’n beloning kan oplewer nie.