Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Word almal geoordeel? Ja, maar nie almal word veroordeel nie. Slegs diegene wat sonder Jesus gesterf het. En die gelowiges? Oor hulle aanvanklike klagstaat is die bloed van Christus gestort: “....En die bloed van Christus reinig ons van alle sonde” (1 Joh.1:7). Dis God se uitveër!
STUDIE- HANDLEIDING – MATTEUS 16
’n Studiehandleiding by die lees van die Nuwe Testament
Die Evangelie van Matteus
Anita Joubert
Matteus 16:1-4 Die Fariseërs en die Sadduseërs was twee groepe wie se geloofsieninge lynreg teenoor mekaar gestaan het. Die Fariseërs het die skriftelike, sowel as die mondelingse wet tot in die fynste besonderheid onderhou, terwyl die Sadduseërs net die geskrewe wette in die Bybel aanvaar en onderhou het. Die Fariseërs het aan die bestaan van engele en aan die opstanding na die dood geglo, terwyl die Sadduseërs glad nie daaraan geglo het nie. Paulus het van hierdie verskil in hulle geloofsiening gebruik gemaak toe hy voor die Sanhedrin moes verskyn (Hand 23:6). Die Fariseërs het glad nie ’n politieke belangstelling gehad nie en was bereid om onder enige regering te staan wat hulle toegelaat het om hulle eie godsdienstige wette en rituele na te kom. Die Fariseërs was op die uitkyk vir hulle messias wat moes kom, en het daarna verlang, terwyl die Sadduseërs glad nie belang gestel het daarin nie. Dit was amper onmoontlik om twee meer uiteenlopende groepe mense te vind, maar in hulle vyandigheid teenoor Jesus, het hulle saamgestaan en bymekaar gekom om te besluit hoe hulle vir Jesus gaan elimineer.
Hulle het van Jesus ’n teken vereis. Die Jode het altyd ’n profeet of ’n leier en sy boodskap se geloofwaardigheid en egtheid aan een of ander buitengewone teken beoordeel (Matt 12:38-40). Jesus se antwoord aan hulle is egter baie betekenisvol. Hulle is baie slim wanneer hulle die tekens van die weer moet lees en beoordeel, maar die grootste teken van alle tye wat voor hulle staan, kan hulle nie raaksien nie. Volgens Jesus is die enigste teken wat hulle sal kry, die teken van Jona. Ons het reeds in Matteus 12:38-40 gesien wat die teken van Jona was. Die teken van Jona was nie die feit dat hy deur ’n groot vis ingesluk is en vir die drie dae en drie nagte in sy maag was nie (Jona 1:17). Die teken van Jona was Jesus self en die boodskap wat Hy van God af gebring het. Dit is asof Jesus vir hulle sê dat hulle deur Hom met God en sy waarheid gekonfronteer word. Hulle het niks meer nodig nie, maar hulle is so blind dat hulle dit nie kan sien nie.
Ons vind hier nie net waarheid nie, maar ook ’n waarskuwing. Jesus Christus is God se laaste woord. Tot by Hom is God se boodskap vir die hele wêreld om te sien en te hoor en te verstaan. As iemand nie vir God in Hom kan sien nie, dan sal hy vir God nooit kan sien nie. Wanneer ons met Jesus gekonfronteer word, dan word ons met God se finale woord en oproep tot ons redding gekonfronteer. Wat kan dan oorbly vir diegene wat weier om te luister na hierdie laaste woord en hierdie laaste oproep verwerp?
Matteus 16:5-12 Volgens Barclay het ons hier te doen met ’n moeilik verstaanbare Skrifgedeelte en kan ons eintlik maar net raai wat presies Jesus hiermee bedoel het. Jesus en sy dissipels het na die oorkant van die meer toe gegaan, en die dissipels het vergeet om vir hulle brood saam te neem. Hulle was bekommerd daaroor, maar Jesus waarsku hulle teen die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs. Die woord “suurdeeg” het twee betekenisse. Die letterlik betekenis daarvan is ’n stukkie gefermenteerde deeg, waarsonder ’n mens nie kan brood bak nie. Die dissipels het gedink dat dit van hierdie soort suurdeeg is wat Jesus praat. Hulle gedagtes was gefokus op die brood wat hulle vergeet het, en hulle het gedink dat Jesus hulle teen een of ander soort gevaarlike suurdeeg waarsku. ’n Ortodokse Jood mag nie brood geëet het wat deur ’n nie-Jood gehanteer is nie, en hulle het gedink dat Jesus hulle waarsku om nie aan die ander kant van die meer brood te eet waarvan die suurdeeg besoedel is nie.
Jesus moes hulle daaraan herinner dat Hy sonder enige moeite eers die vyfduisend en toe later die vierduisend mense gevoed het en dat daar elke keer ’n hele aantal mandjies vol oorgebly het. Hulle moes Hom net vertrou! Toe Jesus sy waarskuwing herhaal, het hulle verstaan dat Hy nie van gewone suurdeeg praat nie. Vir die Jode was suurdeeg altyd simbolies van die bose. Dit het gestaan vir alles wat verrot en sleg was. ’n Klein stukkie suurdeeg het die vermoë om ’n hele baksel deeg te laat rys. Net so kon ’n klein bietjie boosheid ’n hele samelewing verrot en negatief beïnvloed.
Ons kan net bespiegel oor wat Jesus presies in gedagte gehad het, met sy woorde, maar wat ons wel kan weet, is hoe die Fariseërs en Sadduseërs se koppe gewerk het:
- Die Fariseërs het godsdiens gesien in terme van wette, reëls en regulasies. Dit was vir hulle uiterlike rituele en reinigingswette. Hulle het gedink dat Jesus hulle waarsku teen ’n reeks uiterlike aksies en om te vergeet dat dit ’n mense se hart is wat saakmaak.
- Die Sadduseërs was baie ryk en aristokraties, en hulle was diep in die politiek betrokke. Jesus kon sy dissipels net sowel gewaarsku het om nooit die koninkryk van God met uiterlike dinge te verwar nie, en om nie te dink dat mense deur politieke aksies hervorm kan word nie. Ware seëninge is die seëninge van die hart, en ware verandering vind plaas wanneer ’n mens se hart verander.
Matteus 16:13-16 Die einde het vinnig nader gekom en Jesus het elke tydjie wat Hy alleen met sy dissipels kon deurbring, nodig gehad. Daar was nog so baie wat Hy vir hulle moes sê en leer, maar daar was ook baie dinge wat hulle nie kon verstaan of hanteer nie.
Sesarea-Filippi was oos van die See van Galilea geleë en was buite die ryk van Herodus, die regeerder van Galilea. Die bevolking daar was hoofsaaklik nie-Joods en Jesus kon die twaalf dissipels daar in vrede leer. Jesus se tyd op aarde was nie meer lank nie, en die vraag was of enigiemand Hom herken het en verstaan het wie Hy was? Was daar enigiemand wat die werk vir sy koninkryk sou voortsit? Dit was ’n wesenlike probleem, want die voortbestaan van die Christelike geloof het daarvan afgehang. Al was daar net ’n paar mense wat die waarheid besef het, dan was die werk veilig. Daarom het Jesus alles op die spel geplaas deur vir sy dissipels te vra of hulle weet wie Hy is. Die omgewing wat Hy gekies het om vir hulle hierdie belangrike vraag te vra, is van groot belang. Die omgewing was deurtrek met tempels vir die Baäl- en Siriese godsdienste. Daar was ook ’n groot, majestieuse wit marmer tempel wat vir Caesar gebou is deur Herodus die Grote. Wanneer ’n mens vanaf ’n afstand na Caesarea Filippi gekyk het, dan het die glinsterende marmer tempel ’n mens aan die luisterryke Rome herinner.
Ons vind hier ’n heel dramatiese toneel. ’n Galilese skrynwerker, sonder enige heenkome of geld, met twaalf doodgewone mans by Hom, word deur die ortodokse Jode gesoek en hulle beplan om Hom dood te maak omdat Hy ’n gevaarlike dwaalleraar is, volgens hulle. Hy staan hier in ’n omgewing wat oortrek is van afgodstempels en die weelde van keiser-aanbidding, en op hierdie plek, van alle plekke, vra Hy vir sy dissipels of hulle weet wie Hy is. Hy verwag dat hulle vir Hom sal sê dat Hy die Seun van God is. Dit is asof Jesus doelbewus hierdie agtergrond uitgekies het waarteen Petrus se belydenis: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Matt 13:16), soos ’n helder lig kon uitstaan. Dit was nodig om, voordat hulle verder gereis het na Jerusalem waar die kruis op Hom gewag het, dat sy dissipels duidelik moes besef wie en wat Hy was.
Jesus het eers aan sy dissipels gevra wat die ander mense van Hom sê. Sommige het gedink dat Hy Johannes die Doper was wat weer lewendig geword het. Herodus Antipas was dus nie die enigste persoon wat gedink het dat Johannes so ’n besondere persoon was, dat hy uit die dood kon terugkom nie.
Ander mense het gesê dat Hy Elia is. Deur dit te sê, het die mense beweer dat Jesus net so groot as een van die grootste profete in die geskiedenis van Israel was. Hulle het ook daarmee gesê dat Jesus die voorloper van die Messias is wat sou kom. Die profeet Maleagi het gesê: “Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur voordat die dag van die Here kom, die groot, die verskriklike dag” (Mal 4:5). Tot vandag toe nog verwag die Jode dat Elia sal terugkeer voordat hulle messias kom, en hulle laat nog steeds ’n sitplek oop aan die Pasga-tafel wanneer hulle die Pasga vier.
Daar is ook mense wat gesê het dat Jesus die profeet Jeremia is, wat teruggekeer het. Die mense het geglo dat Jeremia die Verbondsark en die wierookaltaar êrens op ’n eensame plek op Berg Nebo versteek het voordat die mense in ballingskap weggevoer is. Hy sou terugkeer om dit te gaan uithaal en sodoende sou die heerlikheid van die Here weer na die mense terugkeer. Hy is dus ook as ’n voorloper beskou van die Messias wat hulle verwag het en hy sou sy land kom help in hulle tyd van groot nood.
Die mense het aan Jesus ’n groot eer bewys deur Hom as Elia of Jeremia aan te sien, aangesien hulle geglo het dat, wanneer hierdie twee profete verskyn, die Gesalfde van God op pad is en dat die koninkryk van God baie naby moet wees. Vir Jesus was die heel belangrikste vraag egter: “Maar julle, wie sê julle, is Ek?” (Matt 16:15). Daar moes seker ’n oomblik van stilte gewees het, voordat Petrus sy groot ontdekking en belydenis gemaak het. Jesus het geweet dat sy werk veilig was. Ten minste een van sy dissipels het verstaan en Hom herken as die Messias, die Gesalfde van God.
Ons kan twee groot waarhede in hierdie Skrifgedeelte raaksien:
- Petrus het besef dat menslike kwaliteite en eienskappe, maak nie saak hoe wonderlik nie, net eenvoudig nie voldoende is om vir Jesus te beskryf nie. Die Jode het geglo dat die profetiese stem van God vir vierhonderd jaar lank stil was. In Jesus Christus kon hulle weer die gesagvolle stem van God hoor, maar dit was nie genoeg nie. Petrus kon nie ’n teologiese verduideliking of ’n filosofiese uiteensetting gee van wat aan hom geopenbaar is nie. Hy het net geweet dat Jesus die Seun van die lewende God is.
- Ons sien ook hier dat ons belewenis en ontdekking van Jesus Christus, ’n persoonlike ontdekking moet wees. Toe Pilatus vir Jesus gevra het of Hy die koning van die Jode is, het Jesus vir hom gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?” (Joh 18:34). Ons kan nie bekostig om tweedehandse kennis van Jesus te hê nie. Baie briljante persone en denkers het al goeie opsommings oor die lering van Jesus gegee, maar Hom steeds nie geken nie. Christenskap bestaan daaruit om Jesus persoonlik te ken. Hy vra nie net vir Petrus nie, Hy vra ook vir elkeen van ons, wat ons van Hom dink en van Hom sê.
Matt 16:17-19 Die Rooms Katolieke Kerk het ’n baie groot deel van hulle lering op hierdie verse as fondament gebou. Dit is ’n siening wat vir ons as Protestantse gelowiges baie onaanvaarbaar is. Hulle het besluit dat die sleutels om te besluit wie in die hemel toegelaat gaan word en wie nie, aan Petrus gegee is. Volgens hulle het Petrus ook die mag ontvang om sondes te vergewe.
Hulle het ook beweer dat Petrus, met hierdie besondere mag, die biskop van Rome geword het. Hierdie spesiale gesag en bevoegdheid, het na al die latere biskoppe van Rome afgewentel en behoort vandag aan die Pous, wat die hoof van die Kerk en die Biskop van Rome is.
Wanneer ons kyk wat Jesus presies met hierdie woorde bedoel het, dan sien ons dat hier woordspeling gebruik word. In Grieks is Petrus se naam Petros, en ’n rots is petra. In Aramees is Petrus se naam Chefas, en dit is ook presies dieselfde woord vir rots. Daar is dus in beide tale woordspeling. Onmiddellik nadat Petrus sy groot ontdekking en belydenis gemaak het, sê Jesus vir hom dat hy Petrus, die rots is en dat Jesus sy kerk op die rots sal bou.
Jesus prys ook vir Petrus hier, en die woordgebruik is glad nie vreemd vir enige Jood nie. Die rabbi’s het ook van Abraham as die “rots” gepraat waarop die nasie en God se doel met Israel gebou is.
Om enigeen ’n “rots” te noem, was ’n geweldige groot kompliment. Geen Jood wat die Ou Testament goed geken het, kon ooit hierdie woord gebruik sonder om aan God te dink nie. Hy alleen is die ware “rots”.
Daar is vier moontlike verklarings van wat presies Jesus met hierdie woorde bedoel het:
- Die kerkvader Augustinus was van mening dat Jesus bedoel het dat Hyself die rots is en dat Hy op Homself sy kerk sal bou.
- ’n Tweede verduideliking is dat die rots die waarheid is dat Jesus Christus die Seun van die lewende God is. Hierdie groot waarheid is goddelik aan Petrus geopenbaar en dit is inderdaad die sluitsteen van die kerk se lering. Tog kan die woordspeling nie deur hierdie verklaring mooi na vore kom nie.
- Die derde verduideliking is dat die “rots” Petrus se geloof is. Op die geloof wat Petrus uitgespreek het, is die kerk gebou. Dit was die vonk van geloof wat wêreldwyd die kerk van Jesus aan die brand gesteek het.
- Die vierde verduideliking bly steeds die mees aanvaarbare. Petrus is die rots, maar hy is nie die rots waarop die kerk gebou is nie; daardie rots is God self. Petrus was net die eerste persoon op aarde wat ontdek het wie Jesus was en die geloofstap geneem het om in Hom die Seun van die lewende God raak te sien. Met ander woorde, Petrus was die eerste lidmaat van die kerk. As ons so daarna kyk, dan ís die hele kerk op hom gebou. Deur die eeue was elke persoon wat dieselfde ontdekking as Petrus gemaak het, nog ’n steen wat bygevoeg is tot die kerk van Christus.
Die Nuwe Testament gebruik dikwels die prentjie van ’n gebou wanneer daar van die kerk gepraat word. Dit word egter vanuit verskillende gesigspunte gedoen. Hier is Petrus die fondament van die kerk. In Efesiërs 2:20 is die apostels en profete die fondament van die gebou. In vers 21 van dieselfde gedeelte, is Jesus die hoeksteen; die krag wat die hele kerk aanmekaar hou. Toe Jesus dus hier vir Petrus gesê het dat die kerk op hom gebou sal word, het Hy nie bedoel dat die kerk van Petrus afhang nie, maar dat dit van Homself en van God as die ware rots afhanklik is.
Ons moet nooit dink dat die kerk ’n gebou of ’n institusie is met ’n kerkgebou, kantore, kerkdienste en bedrywighede nie. Die Aramese woord wat Jesus hier gebruik, is qahal. Dit is dieselfde woord wat in die Ou Testament gebruik word vir die vergadering of die samekoms van Israel. Jesus sê dus eintlik hier vir Petrus dat hy wat Petrus is, die begin is van die nuwe, ware Israel; die nuwe volk van God; die nuwe gemeenskap van diegene wat in sy Naam glo, wat deur die liefde van God omarm word.
Dan gaan Jesus voort deur te sê dat die magte van die doderyk nie sy kerk sal oorweldig nie. Die duiwel het hard probeer deur die afgelope tweeduisend jaar om Jesus se verlossingswerk aan die kruis en in mense se harte stop te sit. Tog groei die kerk van die Here Jesus vandag vinniger as ooit in die geskiedenis van die wêreld, en God se volmaakte verlossingsplan nader sy voltooiing.
In vers 19 sien ons dat Jesus vir Petrus voorregte gee wat ook sekere verantwoordelikhede insluit. Hy sê dat Hy aan hom die sleutels van die koninkryk van die hemel sal gee. Hierdie woorde impliseer altyd ’n besondere soort mag. In die Ou Testament behoort die sleutels van enigiets aan God. Hy besit die sleutels van geboorte, reën, lewe en opstanding uit die dood. In die Nuwe Testament word hierdie woorde gebruik om vir Jesus te beskryf. Lees gerus Openbaring 1:18 en ook 3:7. Hierdie woorde dui op ’n sekere goddelike reg, en dit kan nie as onbenullig beskou word nie.
Al hierdie Nuwe Testamentiese beelde dui op en verwys terug na ’n prentjie in Jesaja 22:22. Jesaja beskryf hier die gesag wat aan Eljakim gegee is. Hy sou vir die inwoners van Juda ’n vader wees en die sleutels van die huis van die koning sou aan hom gegee word. Wat Eljakim oopgesluit het, sou niemand kon toesluit nie en wat hy toegesluit het, kon niemand oopsluit nie.
Petrus sou dus die verantwoordelikheid vir die koninkryk van die hemel aanvaar, en die hele klem was op oopsluit, en nie toesluit nie. Dit het oorweldigend waar geword op Pinksterdag toe Petrus die deur oopgemaak het vir drieduisend siele (Hand 2:41). Hy het die deur oopgemaak na die groot nie-Joodse wêreld deur Kornelius, die kaptein van die Italiaanse regiment (Hand 10). In Handelinge 15 lees ons hoedat die vergadering in Jerusalem die deur wyd oopgemaak het vir die nie-Jode, en dat dit Petrus se getuienis was wat dit vir hulle moontlik gemaak het. Die belofte aan Petrus dat hy die deur na die koninkryk van God sou kon oopsluit vir duisende mense, is ook aan elke Christen gemaak. Elkeen van ons kan die deur vir ander oopsluit sodat hulle in die groot belofte van Jesus Christus kan ingaan.
Om dinge oop te sluit en toe te sluit, was baie bekend vir die Jode. Die bekende rabbi’s het die gesag gehad om dinge toe te laat en dinge te verbied. Hulle kon besluite neem oor sake rakende die wet. Jesus sê dus hier vir Petrus dat daar groot verantwoordelikhede op hom sal rus. Hy sal besluite moet neem wat die welvaart van die hele kerk sal beïnvloed. Dit sal sulke belangrike besluite wees, dat dit mense se ewige toekoms sal raak. Ons sien dus dat hierdie verse niks met allerlei vormgodsdiens te make het nie, maar dat dit gaan oor mense se redding.
Elkeen van ons behoort die groot ontdekking wat Petrus gemaak het, ook vir onsself te maak. En as ons dit gedoen het, en ons so bevoorreg is om te weet wie Jesus is, dan rus dieselfde verantwoordelikhede op ons as wat op Petrus gerus het.
Matt 16:20-23 Alhoewel Jesus se dissipels begryp het dat Hy God se gestuurde was, het hulle nog steeds nie mooi kon verstaan wat dit presies beteken nie. Dit het vir hulle iets heeltemal anders beteken as vir Jesus self. Hulle het nog steeds ’n oorwinnende oorlogskoning in hulle gedagtes gehad wat die Romeine uit Palestina sou verdryf en aan Israel hulle vryheid sou teruggee. Dit is waarom Jesus hulle tot stilte gemaan het. As hulle aan die mense hulle eie idees sou gaan verkondig, dan sou dit tot ’n rebellie gelei het wat in ’n ramp kon eindig. Voordat hulle vir Jesus as die Messias kon verkondig, moes hulle eers leer wat dit beteken.
Petrus se reaksie in vers 22, is ’n bewys van hoe ver die dissipels van regtig verstaan wie die Messias, die Seun van die lewende God is. Jesus begin om hulle oë oop te maak vir die feit dat daar vir Hom geen ander pad as die pad na die kruis is nie. Hy sê vir hulle dat Hy Jerusalem toe moet gaan om te gaan ly onder die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifgeleerdes. Die Sanhedrin is uit hierdie drie groepe mense saamgestel. Jesus sê dus eintlik vir sy dissipels dat dit die ortodokse leiers van sy land is wat Hom gaan doodmaak.
Petrus het groot geword met die idee dat daar ’n messias sou kom wat met krag, glorie en oorwinning die Jode sou bevry van die Romeinse oorheersing. Vir hom was die gedagte van ’n lydende Messias wat gekruisig moes word, absoluut ondenkbaar. Hy wou eintlik vir Jesus sê dat hulle Hom sou beskerm en nooit toelaat dat daar so ’n vreeslike ding met Hom gebeur nie. En dan kom die groot bestraffing in vers 23: “Moenie in My pad staan nie, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê.”
Jesus het verseker nie hierdie woorde met woede in sy stem en in sy hart gesê nie. Hy het dit gesê soos iemand wie se hart verwond is. Hy moes gedink het aan sy versoekings in die woestyn, toe Satan probeer het om Hom die pad van eer, aansien, mag, oorwinning en aardse besittings te laat loop (Matt 4:1-11). Dit is presies dieselfde versoekings waarmee die duiwel Hom nou weer van vooraf kom versoek. Lukas skryf vir ons in Lukas 4:13 dat die duiwel vir Jesus, nadat hy hom versoek het, vir ’n tyd lank met rus gelaat het. Keer op keer het hy weer probeer. Niemand wil graag so ’n gruweldood sterf soos wat vir Jesus voorgelê het nie. Selfs in die Tuin van Getsemane het hierdie versoeking weer na Jesus gekom (Matt 26:37-42). Petrus konfronteer eintlik nou vir Jesus hier met die versoeking van ’n ander uitweg. Sy idee was nie God se idee nie, maar dié van ’n mens.
Die woord “satan” beteken “teenstaander.” Satan is nie net ’n bose gees nie, hy is ook enige invloed wat ons van die moelike pad wat God voor ons gesit het om te loop, wil laat wegdraai. Hy is enige krag wat in ons werk om God se doel, deur menslike begeertes te laat vervang.
Wat die versoeking vir Jesus so erg gemaak het, is omdat dit gekom het van iemand wat Hom lief gehad het. Die moeilikste versoeking ooit, is wanneer dit kom uit beskermende liefde. Ware liefde is nie liefde wat mense vashou nie, maar hulle toelaat om God se opdragte in hulle lewens uit te voer en ’n gehoorsame volgeling van die Here Jesus te wees. Dit het Jesus se hart verwond om te hoor hoedat die Satan deur Petrus se misplaasde liefde vir Hom, met Hom praat.
Dit is baie interessant om te weet dat daar in die oorspronklike Grieks, eintlik geskryf is dat Jesus vir Petrus, en ook vir Satan gesê het dat hy agter Hom moet gaan staan. Van die vroeë kerkvaders, soos Origines, sê dat Jesus eintlik daarmee bedoel het dat Petrus weer Jesus se volgeling moet wees, en dat dit nie andersom kan wees nie.
Satan kan ook nooit Jesus se volgeling wees nie. In sy diaboliese trots het hy geweier om onderdanig te wees, daarom is hy Satan. Solank as wat ons bereid is om onsself aan God en Jesus Christus as ons Koning te onderwerp, al het ons hard geval, kan ons weer opstaan en is daar vir ons hoop.
Matt 16:24-26 Jesus het die mense oor en oor met die uitdagings van die Christelike lewe gekonfronteer. Lees gerus die volgende Skrifgedeeltes: Matteus 10:37-39; Mark 8:34-37; Lukas 9:23-27, 14:25-27’ 17:33; Johannes 12:25). Daar is drie dinge wat iemand wat ’n Christen wil wees, bereid moet wees om te doen:
- Hy of sy moet bereid wees om homself te verloën. Ons dink gewoonlik dat dit beteken om sekere regte of luukshede vir ’n tyd lank prys te gee vir ’n goeie doel. Dit is egter maar ’n baie klein gedeelte van wat Jesus daarmee bedoel het. Om jouself te verloën, beteken om vir eens en vir altyd van jou eie troon wat jy vir jouself gebou het, af te klim en vir God op jou lewenstroon toe te laat. Dit beteken om elke oomblik van jou lewe vir jouself nee te sê en vir God ja te sê.
- Hy of sy moet sy kruis opneem. Dit beteken om ’n lewe van opoffering te leef. Die Christen se lewe is ’n lewe van opofferende diens. Soms is die plek waar ons die grootste diens aan Jesus kan lewer, op ’n plek waar die beloning baie klein is en ons geen eer sal ontvang nie. Soms is dit nodig om die gemak van ’n aand voor die televisie of ander vermaak op te offer, om ons kruis daagliks op te neem (Matt 10:38). Die Christenlewe is altyd meer besorgdheid oor ander as jouself.
- Hy of sy moet werklik volgelinge van Jesus wees. Dit beteken volkome gehoorsaamheid in gedagte, woord en daad. Christene loop altyd in Jesus se voetspore, waarheen dit ook al mag lei.
Daar is ’n groot veskil tussen om te lewe of om net te bestaan. Om te lewe, is wanneer alles in die lewe vir ’n mens die moeite werd is, wanneer daar vrede en vreugde in jou hart is, en elke oomblik ’n opwinding.
Matteus het hierdie woorde van Jesus neergeskryf in ongeveer 80 tot 90 n.C. Dit was in ’n tyd toe Christene bitterlik vervolg is. Ons gaan nou weer so ’n tyd binne. Mag ons altyd onthou dat ons deur ons aardse lewens neer te lê, en getrou te wees tot die dood toe, die ewige lewe in besit sal neem. Jesus se woorde in vers 26, is baie duideliker verstaanbaar in die King James Vertaling: “For what is a man profited, if he shall gain the whole world, and lose his own soul? Or what shall a man give in exchange for his soul?” (Matt 16:26). Nog nooit het hierdie teksvers vir my persoonlik soveel betekenis gekry nie, soos in die tyd waarin ons nou leef, waar die merk van die dier so ’n werklikheid geword het (Op 13:16-17).
Matteus 16:27-28 Ons kry in hierdie verse ’n waarskuwing, asook ’n belofte:
- Ons word hier gewaarsku dat daar ’n onvermydelike oordeel gaan kom. Die lewe gaan êrens heen, en dit sluit ’n dag van afrekening in. Ons kan dit nie ontsnap nie. Ons het in die vorige verse gesien wat die standaard vir hierdie oordeel is. Mense wat selfsugtig aan hulle eie sekuriteit, gemak, gerief, rykdom en aardse sukses vasklou, se ewige lewe is op die spel. Diegene wat diensbare lewens lei, diensbaar aan Jesus en aan ander mense, kan ’n hemelse beloning verwag.
- Matteus laat dit hier klink asof Jesus bedoel het dat Hy gaan terugkeer nog in die leeftyd van hulle wat daar na Hom luister. Ons kan egter die werklike bedoeling van Jesus se woorde lees in die Markusevangelie: “Dit verseker Ek julle: Daar is party van dié wat hier staan, wat beslis nie sterwe voordat hulle gesien het dat die koninkryk van God met krag gekom het nie” (Mark 9:1). Jesus praat hier van die magtige werking van sy koninkryk, en sy woorde het waar geword. Baie van die mense wat daar gestaan het, het die kragtige uitstorting van die Heilige Gees beleef op Pinksterdag (Hand 2:1-13). Hulle het gesien hoedat Jode en nie-Jode deur die evangelie van God se liefde vir die mensdom oorrompel is. Hulle het gesien hoedat hierdie evangelie dwarsoor Klein-Asië, oor Europa en tot in Rome versprei het.