NUUTSTE BYDRAES

Gedagtes vir elke dag

Of lees almal by Gedagtes vir elke dag

Vasgevang in jou eie klein wêreld van nuttelose dinge? Stop dit! Net jy kan. Doen iets wat slegs tot eer van die HERE se naam strek, daar is so baie te doen; en sien hoe jou lewe betekenis en vreugde kry.

STUDIE- HANDLEIDING – MATTEUS 6

’n Studiehandleiding by die lees van die Nuwe Testament

Die Evangelie van Matteus

Anita Joubert

Inleidend tot Matteus 6:1-18 In hierdie eerste agtien verse word ons gekonfronteer met ’n baie belangrike vraag, naamlik: “Wat sê Jesus vir ons oor beloning in die lewe van “ ’n Christen?” Hy noem drie maal dat God diegene gaan beloon wat vir Hom dié soort diens lewer wat Hy begeer (verse 4; 6; 18). Hierdie kwessie is so belangrik, dat dit nodig is om dit eers te ondersoek voordat ons voortgaan om hoofstuk 6 in fyner besonderhede te bestudeer.

Daar is deur die eeue dikwels deur kerkvaders beweer dat beloning geen plek in die lewe van ’n Christen het nie, en dat ons moet goed doen ter wille daarvan dat ons gered is. Hierdie siening klink baie edel en vroom, maar dit is nie die siening wat Jesus gehad het nie. Hy het gesê dat die regte manier van vrygewig wees, bid en vas, alles vir ons loon sal besorg. Hierdie is geensins die enigste geleentheid waar Jesus sy dissipels hieroor geleer het nie. In Matteus 5:12 sê Hy dat hulle bly en verheug moet wees wanneer hulle ter wille van Hom beledig en vervolg word, want hulle loon in die hemel sal groot wees. Elkeen wat aan ’n onbelangrike persoon ’n beker water gee omdat hy ’n dissipel van Jesus is, sal beloon word (Matt 10:42). Die betekenis van die gelykenis oor die muntstukke in Matteus 25:14-30, gaan gedeeltelik daaroor dat ons vir getroue diens, beloning sal ontvang. In die gelykenis oor die laaste oordeel, is die lering ook baie duidelik dat ons beloning, of straf, sal ontvang wat betref ons reaksie teenoor die nood van ander mense (Matt 25:31-46).

Ons moet versigtig wees om nie meer geestelik oor hierdie saak te wees as wat Jesus self was nie. Daar is sekere baie duidelike feite wat ons oor hierdie saak moet oplet:

  1. Dit is ’n baie logiese lewensreël dat enige aksie waarmee niks bereik word nie, nutteloos en betekenisloos is. Indien ’n Christen se lewe geen einddoel het, of iets bereik wat ’n vreugde is om waar te neem nie, dan het dit geen betekenis nie. Geen een wat glo in die Bybel en die Christelike belofte daarvan, kan glo dat ons goedheid teenoor mekaar hier op aarde, geen verdere resultaat sal oplewer nie.
  2. Om alle beloning en straf uit ons geloofslewe te verban, is om in werklikheid te sê dat ongeregtigheid die laaste sê sal hê. Om dit reguit te stel, sou dit beteken dat daar geen sin in is om goed te wees nie, en geen spesiale rede waarom ons op ’n spesifieke manier hoef te leef nie. Om alle straf en beloning te verwyder uit ons Christelike geloof en verwagting, is om te sê dat God nie regverdig is, of liefde is nie.

Daar is egter twee belangrike aspekte in verband met die Christelike verstaan van beloning wat baie duidelik gestel moet word:

  1. Toe Jesus van beloning gepraat het, het Hy definitief nie materiële loon bedoel nie. Dit is wel so dat in die Ou Testament die idees van goedheid en voorspoed baie nou aan mekaar verbind is. Wanneer ’n man voorspoedig was, sy oeste groot en sy kinders baie, dan is hy as ’n goeie man beskou. Maar dit is presies die probleem wat ons sien in die boek Job. Job se vriende het gekom om vir hom te vertel dat al sy teëspoed die gevolg was van sy eie sonde. Die hele bedoeling van die boek Job, is juis om die gedagte dat materiële voorspoed en vroomheid hand aan hand loop, teë te spreek. Die Psalmskrywer sê in Psalm 37:25 dat hy nog nooit die nageslag van ’n regverdige gesien het wat ’n gebrek aan brood het nie. In Psalm 91:7-10 word ons ook belowe dat al sou daar tien duisend val aan ons regterhand, dit nie naby aan ons sou kom nie. Tog het Jesus sy dissipels vervolging, verdrukking en die dood belowe. Dit is baie duidelik dat Hy nie in terme van materiële voorspoed gedink het nie.
  2. Dit is ook nodig om te onthou dat die hoogste beloning kom nie vir die persoon wat altyd daarna soek nie. Wanneer ’n persoon altyd loop en bereken watter vergoeding, soos hy glo, hy vir homself verdien het, dan sal hy dít waarna hy soek, misloop. Die rede daarvoor is dat mense wat altyd hulle loon bereken, na God en na die lewe op ’n verkeerde manier kyk. Sulke mense dink aan God as ’n regter of ’n rekenmeester, en bowenal dink hulle aan die hele lewe in terme van ’n wet, of ’n balansstaat met ’n krediet- en ’n debietkant.

Die groot mistasting van hierdie siening, is dat dit nie aan die lewe dink in terme van liefde nie. Wanneer ons iemand diep en innig liefhet met ’n nederige en onselfsugtige liefde, dan is ons baie seker daarvan dat, al sou ons aan daardie persoon alles gee wat ons kan, dan sou ons nog steeds in die skuld wees by daardie persoon. Wanneer ons iemand regtig liefhet, dan is die laaste ding waaraan ons dink, dat ons ’n beloning verdien het. Die groot teenstelling van die Christelike loon, is dat diegene wat dink dat dit aan hulle verskuldig is en dit bereken, dit nie sal ontvang nie. Hulle wie se enigste motief liefde is, en nooit eers aan loon dink nie, sal dit ontvang. Die vreemde gedagte is dat loon aan die een kant ’n byproduk van ons lewens is, maar aan die ander kant die groot einddoel van ’n Christen se lewe.

Die vraag wat ons nou moet vra, is wat is hierdie beloning wat ons gaan ontvang?

  1. Ons kan begin deur een basiese en algemene waarheid raak te sien. Die beloning van ’n Christelike lewe, word net deur ’n Geesvervulde persoon as beloning raakgesien. ’n Materialistiese persoon sal dit nie as beloning beskou nie.
  2. Tevredenheid is ’n groot Christelike vergoeding. Om die regte ding te doen en aan die Here Jesus gehoorsaam te wees, al kos dit ook wat, bring altyd tevredenheid. ’n Mens mag dalk as gevolg daarvan jou materiële voorspoed verloor, of in die tronk beland, of self doodgemaak word. So ’n persoon mag dalk ongewild of alleen wees, maar in sy hart is nog steeds daardie tevredenheid wat die kroon van die lewe is.
  3. Nog ’n beloning van die Christelike lewe, is nog meer werk om te doen. Die groot teenstelling van die Christelike lewe, is dat wanneer ’n taak goed afgehandel is, dit nog meer en groter take tot gevolg het. In die gelykenis van die muntstukke, sien ons dat die getroue slaaf nog groter verantwoordelikheid gekry het (Matt 25:14-30). ’n Briljante jong musikant wat hard oefen, word nie beloon met makliker musiekstukke nie. Hy word uitgedaag met nog meer ingewikkelde musiekstukke. Net so is die Christelike beloning, dat God meer van ons verwag wanneer ons toegewyd lewe.
  4. Die grootste van alle Christelike belonings, is die vooruitsig om eendag vir God en die Here Jesus te kan sien. Vir ’n wêreldse persoon, is dit ’n skrikwekkende gedagte, want hy ken nie vir God nie en wil Hom liewer vermy. Wanneer iemand egter sy hele lewe deur probeer het om aan God gehooraam te wees, dan groei hy nader aan God en kan aan die einde, sonder vrees maar met vreugde, uitsien om voor Hom te verskyn. Hy kan dan die grootste beloning van almal te ontvang, naamlik die kroon van die lewe.

Matteus 6:1 Vir die Jode was daar veral drie baie groot goeie werke van die godsdienstige lewe, naamlik die gee van aalmoese, gebed en vas. Jesus het dit geensins geminag nie, maar wat vir Hom ’n bekommernis was, was dat hierdie mooi dinge met die verkeerde motiewe gedoen is. Hy waarsku die mense dat wanneer hulle dit doen sodat hulle daarvoor eer kan ontvang, dan verloor dit sy waarde. Sommige mense het gegee sodat hulle die samelewing se lof kon ontvang. Hulle het dikwels op so ’n manier gebid dat hulle gebede nie regtig aan God gerig was nie, maar aan almal om hulle. Wanneer hulle gevas het, wou hulle graag hê dat die ander mense moet sien hoe gedissiplineerd en goed hulle is.

Jesus sê telkens dat sulke mense hulle beloning klaar weg het (Matt 6:2; 6:16). Die Griekse woord wat gebruik word, is die werkwoord apechein, wat in die besigheidswêreld gebruik is wanneer ’n volle betaling ontvang is. Jesus sê dus hier vir die mense dat wanneer dit hulle doel is om wêreldse vergoeding te ontvang, sal hulle dit ongetwyfeld kry, maar dan moet hulle nie dink dat hulle die vergoeding sal ontvang wat net God alleen kan gee nie.

Dit is net ’n baie kortsigtige mens wat na beloning van hierdie lewe streef en daardeur die beloning van die ewigheid verloor.

Matteus 6:2-4 Vir die Jode was dit een van die mees heilige dinge wat hulle kon doen deur die armes te help. Hulle het geglo dat hulle daardeur meriete by God verdien. Hulle kon selfs daardeur versoening en vergifnis vir sonde verkry. Die hoogste lering van die rabbi’s was presies dieselfde as dié van Jesus, naamlik dat die ontvanger nie moes weet wie die gewer was nie. Dit was selfs nog beter as die gewer ook nie geweet wie dit ontvang het nie.

Maar, soos met so baie dinge in die lewe, het die beginsel nie in die praktyk gegeld nie. Dit het te dikwels gebeur dat die gewer op so ’n manier gegee het, dat hy persoonlike eer daarvoor kon kry. Jesus het sulke mense hupokritĕs genoem. Dit is die Griekse woord vir ’n akteur. Mense wat vrygewig is sodat hulle hulself kan vereer, speel eintlik toneel, want hulle is nie werklik vrygewig nie. Waarom gee mense dan?

  1. Mense gee dikwels uit ’n pligsgevoel, en nie uit liefde nie. Hulle dink dat dit ’n plig is wat hulle nie kan ontsnap nie, omdat hulle daardeur in God se goeie boekies kan kom. So ’n persoon gee baie keer baie vrygewig, maar iets wat hy nooit gee nie, is van homself. Daarom is sy vrygewigheid nooit volledig nie.
  2. Mense gee omdat hulle eer daarvoor wil ontvang. Die kans is baie goed dat as niemand sou weet dat hulle gee nie, hulle dit glad nie sou doen nie. Hulle gee hoofsaaklik, nie om die persoon in nood te help nie, maar om hulle eie ydelheid en behoefte aan mag, te bevredig.
  3. Daar is mense wat gee omdat hulle nie anders kan nie. Die liefde en gaafheid in hulle harte is so oorvloedig, dat dit oorloop in ’n gevoel van verantwoordelikheid vir mense in nood. Dit is die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het. Paulus skryf aan die gemeente in Korinte: “Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word (2 Kor 8:9).

Ons vrygewigheid moet die instinktiewe oorvloei van ’n liefdevolle hart wees. Ons moet onsself aan ander gee, soos wat Jesus Christus Homself aan ons gegee het.

Matteus 6:5-8 Geen geloof het nog ooit gebed hoër geag as die Joodse geloof nie. Die rabbi’s het ’n spreukwoord gehad wat sê dat diegene wat in hulle huise bid, dit omring met ’n muur wat sterker as yster is. Die probleem is dat daar sekere foute in die Joodse gebedsgewoontes ingesluip het. Dit is iets wat in enige gemeenskap kan gebeur waar gebed ernstig opgeneem word.

  1. Gebed het in ’n vorm verval. Daar is twee dinge vir elke Jood voorgeskryf wat hy elke dag moes doen. Die eerste was die Shema, wat uit drie kort Skrifgedeeltes bestaan het wat hy elke oggend en elke aand moes opsê. Dit was Deuteronomium 6:4-9, Deuteronomium 11:13-21 en Numeri 15:37-41. Hulle moes dit voor nege uur in die oggend en nege uur in die aand doen. Alhoewel dit pragtige Skrifgedeeltes is, kan dit baie maklik sommer net ’n leë herhaling word; wat wel gebeur het. Die tweede ding wat hulle moes doen, was om die Shemonĕh ’esreh drie maal per dag op te sê. Dit het uit agtien gebede bestaan en is tot vandag toe nog die gebruik in alle Joodse sinagoges. Dit het mettertyd negentien pragtige gebede geword. Dieselfde probleem het egter ontstaan. Sommige Jode het hierdie gebede met liefdevolle toewyding gebid, maar daar was diegene vir wie hierdie pragtige gebede sommer net ’n herhaling van woorde was. Tog is ons as Christene nie in ’n posisie om te kritiseer nie, want ons doen by baie geleenthede presies dieselfde met die mooi gebed wat Jesus vir ons geleer het om te bid.
  2. Verderaan het die Joodse liturgie ook nog vaste gebede vir verskillende geleenthede voorsien. Daar was bykans geen gebeurtenis of geleentheid waarvoor daar nie ’n gebed was nie. Die bedoeling hieragter was baie mooi en aangrypend. Elke geleentheid en gebeure in die lewe moet na God se teenwoordigheid gebring word. Omdat die gebede egter so voorskriftelik was, het die hele stelsel homself tot vormgodsdiens geleen en dit het maklik gebeur dat die gebede sonder enige betekenis afgerammel is.
  3. Die toegewyde Jode het drie maal per dag gebid. Hulle mag dalk werklik ’n intieme gesprek met God gehad het, maar dikwels was dit maar net ’n formaliteit wat afgehandel moes word.
  4. Daar was ook ’n neiging om gebed met sekere plekke van aanbidding te verbind, soos byvoorbeeld die sinagoge of die tempel. Sekere rabbi’s het sover gegaan as om te sê dat gebed net effektief is, as dit in die tempel gebid is. Ons lees in die Nuwe Testament dat selfs die dissipels na die tempel gegaan het vir die uur van gebed (Hand 3:1). Die probleem van elke stelsel, lê nie in die stelsel nie, maar in hulle wat dit gebruik.
  5. Daar was ’n geneigdheid onder die Jode om ontsettende lang gebede te bid. Vandag nog vind ons soms ’n onbewustelike idee by mense, dat hoe langer hulle by God se deur vertoef, hoe meer kan hulle sy goedgesindheid verdien. Die skrywer van Prediker sê: “Moenie te gou praat nie, moenie oorhaastig ’n belofte aan God maak nie, want Hy is in die hemel en jy op die aarde” (Pred 5:1).
  6. Die Jode was geneig, soos baie mense ook in die Midde-Ooste, om hulleself letterlik te hipnotiseer deur die herhaling van ’n sinsnede of selfs net een woord. In 1 Konings 18:26 lees ons dat die Baälprofete van die oggend af tot die middag aanhoudend uitgeroep het: “Baäl, antwoord ons!” In Handelinge lees ons hoedat die skare in Efesiërs vir twee ure lank aanhoudend geskreeu het: “Groot is Artemis van die Efesiërs” (Hand 19:34). Die Jode het ’n soortgelyke ding met hulle gebede gedoen.
  7. Die belangrikste fout wat Jesus met die Jode se gebede gevind het, was dat hulle so gebid het, dat hulle raakgesien moes word. Hulle het staande, met uitgestrekte arms, twee maal per dag, in die oggend en in die aand, gebid. Hulle moes bid net waar hulle op daardie tydstip was. Dit was maklik vir ’n aandagsoekende Jood om te sorg dat hy juis tydens daardie tyd op ’n besige straathoek of stadplein is, sodat die hele wêreld kan sien hoe toegewyd hy is.

In werklikheid het Jesus hier twee groot reëls vir gebed neergelê:

  1. Ware gebed moet altyd aan God geoffer word. Die probleem wat Jesus gehad het met die Jode se gebede, was dat dit eerder aan die mense rondom hulle gerig was, as aan God.
  2. Ons moet altyd onthou dat die God tot wie ons bid, ’n liefdevolle God is wat meer as gewillig is om ons gebede te beantwoord as wat óns is om te bid. Sy goedheid en genade hoef nie uit Hom uit getrek te word nie. Ons hoef Hom nie te vertoorn om ons gebede te beantwoord nie. Wanneer ons dít onthou, dan kan ons na God toe gaan met die versugting en begeertes van ons harte, en op ons lippe die woorde: “Laat U wil geskied!”

Matteus 6:9-15 Inleidend Voordat ons na die gebed van die Here Jesus in diepte gaan kyk, is daar sekere algemene feite waarna ons moet oplet. Jesus het met hierdie gebed, sy dissipels geleer om te bid. Beide Matteus en Lukas is baie duidelik daaromtrent. Daarom is hierdie ’n gebed wat net ’n persoon wat werklik toegewyd is aan Jesus Christus, betekenisvol kan bid.

Dit is nie ’n gebed wat vir kinders bedoel is, soos wat so dikwels gedink word nie. Hierdie gebed behoort net deur iemand gebid te word wat weet en verstaan wat hy sê, en dit is nie moontlik totdat so ’n persoon ’n volgeling van Jesus geword het nie.

Dit is ook belangrik om na die volgorde van die ses gebedsversoeke in die gebed op te let. Die eerste drie het te make met God en sy heerlikheid. Die tweede groepie van drie gaan oor ons en ons behoeftes. Dit wys vir ons dat wanneer God sy regmatige plek in ons lewens kry, dan val al die ander dinge in plek. Gebed kan nooit ’n poging wees om God se arm te probeer draai nie. Gebed is altyd ’n poging om ons wil ondergeskik te stel aan die wil van God.

Die tweede gedeelte van die gebed, die gedeelte wat oor ons behoeftes gaan, is in ’n verstommende eenheid uiteengesit. Dit handel oor die drie essensiële menslike behoeftes en die drie sfere van tyd waarin ons almal beweeg. Eerstens vra ons vir brood. Sodoende bring ons dit wat ons nodig het vir ons lewensonderhoud, na die teenwoordigheid van God. Tweedens vra ons vir vergifnis. Daarmee bring ons ons verlede na die teenwoordigheid van God. Derdens vra ons hulp in versoeking, en daarmee plaas ons die toekoms in die hande van God. In hierdie kort gebed, leer ons om ons hede, ons verlede en ons toekoms voor die genadetroon van God neer te lê.

Hierdie is egter nie net ’n gebed wat ons hele lewe na God toe bring nie, dit is ook ’n gebed wat God in sy geheel na ons toe bring. Wanneer ons vir ons daaglikse brood vra, dan rig ons ons gedagtes op God die Vader, Skepper en Onderhouer van alles. Wanneer ons om vergifnis vra, dan rig ons ons gedagtes onmiddellik op God die Seun, Jesus Christus ons Redder en Verlosser. Wanneer ons hulp vra vir die toekomstige versoekinge, dan rig ons ons gedagtes onmiddellik op God die Heilige Gees, ons Trooster, Versterker, Gids en Wag op ons lewenspad.

Matteus 6:9 Daar is al dikwels gesê dat die gebruik van die woord “Vader” vir God, ’n kort opsomming is van die Christelike geloof. Die feit dat God ons “Vader” is, verskaf nie net aan ons stabiliteit en sekuriteit in die sienbare wêreld om ons nie, maar ook in die onsienbare wêreld. Sendelinge vertel dat die grootste verligting wat ’n bekeerling uit die afgodedom beleef, is wanneer hy besef dat daar net een God is. Ons ervaar hierdie wêreld dikwels as baie vyandig teenoor ons, met sy swaarkry en dood. As ons met sekerheid kan weet dat daar agter alles nie ’n jaloerse, spottende god is, soos wat die geval is met baie van die afgode nie, maar ’n God wie se Naam Vader is, dan is die lewe, al bly dit soms donker, draaglik. Dit help baie as ons altyd onthou dat hierdie lewe nie bedoel is vir ons gemak nie, maar vir opleiding vir die lewe hierna.

Wanneer God ons Vader is, dan is ons verhouding met ander mense ook in plek, want Hy is Vader van alle mense. Hierdie gebed leer ons nie om te bid “My Vader” nie, maar “Ons Vader.” Dit is betekenisvol dat daar nêrens in hierdie gebed die woorde, “ek, myne of myself”, voorkom nie. God is niemand se uitsluitlike besitting nie.

Wanneer God ons Vader is, dan is ons verhouding met onsself ook in plek. Daar kom tye in elke mens se lewe dat jy jouself haat en baie bewus is van jou eie onwaardigheid. Dit is dan wanneer ons kan onthou dat ons vir God belangrik is, en dat ons deur sy genade, deel is van ’n koninklike nageslag, kinders van die allerhoogste God.

Wanneer God ons Vader is, dan is ons verhouding met God self ook in plek. Daardeur is God se grootheid, majesteit en krag binne ons bereik, alhoewel Hy steeds God bly, en ons sy kinders.

Die volgende paar woorde van vers 9: “... wat in die hemel is,” is vir ons van die uiterste belang. Daarin is twee baie groot waarhede saamgevat. Dit herinner ons aan God se heiligheid, maar ook aan sy mag. Dit is baie maklik om God se heiligheid goedkoop te maak en die hele gedagte van God as Vader te gebruik as ’n verskoning vir ’n oppervlakkige geloof sonder respek vir God. God is vol liefde, maar Hy is ook heilig. Dit is opmerklik hoe min Jesus self die woord “Vader” vir God gebruik het. Omdat die Evangelie van Markus die vroegste van die Evangelies is, kan ons dit beskou as die naaste weergawe van Jesus se woorde toe Hy op aarde was. In Markus sien ons dat Jesus net ses maal vir God as “Vader” aangespreek het, en nooit buite die sirkel van sy dissipels nie. Vir Jesus was die woord “Vader”, so heilig, dat Hy dit nie ligtelik gebruik het nie, en ook net tussen mense wat iets kon verstaan van wat Hy daarmee bedoel het. Ons moet God nooit sien as ’n ouer wat nie sy ouerlike plig nakom deur ewe verdraagsaam sy oë te sluit vir ons sondes en foute nie. Hierdie God wat ons, ons Vader mag noem, is steeds dié God in wie se teenwoordigheid ons moet ingaan met eerbied, aanbidding en bewondering. God is ons Vader in die hemel, en Hy is liefde en heiligheid in een.

Die woorde “... wat in die hemel is,” herinner ons ook aan die krag van God. In menslike liefde is daar altyd die tragedie van frustrasie. Menslike liefde kan baie intens wees, en tog is ons daarin hulpeloos. Elkeen wat ’n kind het wat op die verkeerde pad is, of ’n geliefde wat ontrou is, ken daardie magtelose gevoel. Met God is dit anders. Wanneer ons sê: “Ons Vader wat in die hemel is,” dan plaas ons die liefde van God en die krag van God langs mekaar. Ons sê dan vir onsself dat God se krag altyd deur sy liefde gemotifeer word, en dat alles daarom altyd vir ons ten goede sal meewerk.

Kom ons kyk na die betekenis van die woorde “laat u Naam geheilig word.” Die Griekse woord wat gewoonlik met “heilig” vertaal is, is hagios. Die eintlike betekenis van hagios, is “anders” of “afgesonder”. So is enigiets wat hagios is, anders as dit waarvoor so iets gewoonlik gebruik word. Hierdie woorde beteken dus dat God se Naam anders gebruik moet word as enige ander naam en dat aan sy Naam ’n posisie gegee moet word wat absoluut uniek is. In Hebreeus is ’n naam ook nie net sommer die naam wat ’n persoon genoem word nie. Dit beskryf die karakter, die persoonlikheid en die geaardheid van die persoon wat die naam genoem word. Ons sien dikwels in die Psalms, dat daar vertroue geplaas word in die Naam van die Here, hulle God (Ps 20:8).

Om dus eerbied aan God te bewys, is daar vier baie belangrike vereistes:

  1. Ons moet glo dat God bestaan. Ons kan nie eerbied betoon aan iemand wat nie bestaan nie. Dit is opvallend dat die Bybel nêrens probeer om die bestaan van God te bewys nie. Volgens die Bybel, is God ’n aksioom. Dit is ’n grondstelling wat sonder bewys as waar aangeneem word. Die Bybelskrywers sou gesê het dat dit onnodig was om te bewys dat God bestaan, want hulle het Hom elke dag en elke oomblik in hulle lewens ervaar. ’n Man het nie nodig om te bewys dat sy vrou bestaan nie, want hulle leef elke dag in mekaar se teenwoordigheid. Net so het die Bybelskrywers elke dag in God se teenwoordigheid geleef. As ons egter tog wel ons menslike verstand moet gebruik om die bestaan van God te probeer bewys, dan kan ons maar net kyk na die wêreld waarin ons leef. Dit is soos ’n goedgeoliede masjien wat in perfekte orde werk en ons kan nie anders as om te erken, dat daar êrens Iemand moet wees wat dit alles so gemaak het nie. Geen mens kon nog ooit lewe skep nie. Ons het die lewe nie van ons ouers ontvang nie, maar van ’n almagtige God.
  2. Voordat ons aan God eerbied kan betoon, moet ons nie net glo dat Hy bestaan nie, maar ons moet ook weet watse soort God Hy is. Niemand kon eerbied betoon aan die Griekse gode met hulle oorloë, hulle haat en owerspel, hulle immorele lewenswyses en skelmstreke nie. In God is daar heiligheid, regverdigheid en liefde, alles in een Persoon, saamgevat.
  3. Dit is moontlik om te glo dat God bestaan en te weet hoe Hy is, en nog steeds nie eerbied vir Hom te hê nie. Dit gebeur wanneer ons nie konstant bewus is van Hom nie. Om aan Hom eerbied te betoon, moet ons in ’n God-gevulde wêreld leef. Ons moet ’n lewe lei waarin ons nooit van Hom vergeet nie. Hierdie bewustheid van God moet nie tot sogenaamde heilige plekke, soos die kerkgebou, beperk wees nie. Dit moet ’n bewustheid van God wees; elke oomblik van ons lewens en op elke plek waarheen ons gaan.
  4. Een laaste belangrike vereiste om aan God eerbied te betoon, is om in gehoorsaamheid en volkome onderdanigheid aan Hom te leef. Martin Luther het gesê dat God se Naam tussen ons geheilig word, wanneer ons verstandelike oortuigings en ons fisiese optrede, ten volle ondergeskik is aan die wil van God.

Matteus 6:10 Die koninkryk van God, is ’n kenmerkende begrip van die hele Nuwe Testament. Dit is die woorde wat die heel meeste in gebed, prediking en in Christelike literatuur gebruik word, as enige ander woorde. Daarom is dit belangrik dat ons weet wat daarmee bedoel word. Tydens Jesus se heel eerste verskyning op die geskiedenistoneel, het Hy in Galilea begin om die goeie nuus van die koninkryk van God aan te kondig (Mark 1:14-15). Jesus het die aankondiging van die koninkryk van God wat naby gekom het, as sy plig beskou (Luk 4:43; Mark 1:38). Jesus het van die koninkryk van God op drie verskillende maniere gepraat, en daarom is dit effens verwarrend. Hy het van die koninkryk gepraat in die verlede tyd. Hy het gesê dat Abraham, Isak, Jakob en al die profete in die koninkryk was (Luk 13:28; Matt 8:11). Jesus het ook van die koninkryk van God gepraat in die hede. Hy het gesê dat die koninkryk van God tussen hulle is (Luk 17:21). Dan het Hy ook van die koninkryk van God gepraat asof dit in die toekoms is, en Hy het sy dissipels geleer om te bid vir die koms van die koninkryk van God.

Die sleutel om hierdie woorde te verstaan, vind ons hier Matteus 6:10. Die Hebreeuse taal het die neiging om iets wat gesê word, te herhaal of te laat weerklink. Ons vind baie voorbeelde daarvan in die Psalms. Voorbeelde daarvan is in Psalm 46:2; Psalm 46:8 en Psalm 23:2. Lees dit gerus. Dit is presies wat Jesus ook hier gedoen het. Die tweede gedeelte van vers 10 verduidelik, weerklink en belig die eerste gedeelte. Dit verklaar ook vir ons hoedat die koninkryk in die verlede, die hede en ook die toekoms tegelykertyd kan wees. Enige een in die geskiedenis van die mensdom, wat die wil van God gedoen het en nog gaan doen, is binne in die koninkryk van God. Om deel van God se koninkryk te wees, is om aan Hom gehoorsaam te wees. God se koninkryk vereis van my om my wil, my hart, my lewe, aan God ondergeskik te stel.

Uit dit alles wat ons nou geleer het, sien ons dat dit die heel belangrikste ding in die wêreld is, om aan God se wil gehoorsaam te wees. Die gesindheid waarmee ons vir God sê: “Laat U wil geskied,” is die heel belangrikste. Mens kan dit met verskillende gesindhede vir Hom sê:

  1. Mense sê dit soms met ’n gesindheid van oorgee. Hulle aanvaar dat God te sterk is vir hulle en dat dit sinneloos is om hulle koppe aan te hou stamp teen die mure van die heelal. Hulle aanvaar die wil God bloot omdat hulle geen ander keuse het as om in te gee nie.
  2. Mense sê dit soms met ’n gesindheid van bitterheid en gegriefdheid, so asof God se ystervoet hulle vertrap. Hulle voel dat God hulle vyand is, en weliswaar ’n vyand wat so sterk is, dat hulle nie kan weerstand bied nie. So ’n persoon aanvaar God se wil met bitterheid en smeulende woede.
  3. Laastens kry ons diegene wat dit kan sê in volmaakte liefde en vertroue. Hulle sê dit met blydskap en vertroue, al gebeur wat ook al. Ons as Christene kan verseker wees van die wysheid van God. Hy is die lewensdeskundige, en sy leiding kan ons nooit op die verkeerde pad lei nie. Ons kan ook verseker wees van die liefde van God. Ons glo nie in ’n spottende, vermakerige afgod nie. Ons glo in die God van liefde. Paulus het gesê: “Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge uit genade skenk nie?” (Rom 8:32).

Matteus 6:11 ’n Mens sou dink dat hierdie die één deel van die gebed is wat nie verduideliking nodig het nie. Dit lyk op die oog af eenvoudig, maar baie verskillende interpretasies is al vir hierdie vers gegee waarmee ons nie noodwendig altyd hoef saam te stem nie. Tog kan ons nie een daarvan verwerp as vals nie, omdat elkeen daarvan sy eie waarheid omvat.

  1. Daar is al gesê dat dat hierdie brood, na die brood by die nagmaal verwys. Ons vra dan deur hierdie gebed vir die geestelike voedsel wat ons as Christene by gebruik van die nagmaal ontvang.
  2. Ander Woorduitlêers het al gesê dat hierdie brood dui op die geestelike voedsel van die Woord van God. Dit is dus ’n gebed om die ware lering, en die nodige waarheid, wat voedsel vir gees, hart en siel is, te vra.
  3. Volgens ander dui die brood op Jesus self. Hy is die brood van die lewe (Joh 6:33-35). Ons vra dus om elke dag deur Hom, wat die lewende brood is, gevoed te word. Hy het self gesê dat ons sy liggaam moet eet en sy bloed drink (Joh 6:53).
  4. In Lukas:14:15 lees ons dat ’n omstander vir Jesus gesê het: “Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem.” Sommige het dus geglo dat die brood dui op die brood wat ons eendag in die hemelse koninkryk gaan eet.

Omdat die Griekse woord epiousios, die woord “brood” voorafgaan, glo Barclay dat hierdie versoek doodeenvoudig net dit beteken wat daar staan. “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Epiousios beteken “hierdie komende dag.” Hierdie is dus ’n eenvoudige gebed wat vra dat God aan ons dít sal voorsien wat ons in hierdie komende dag nodig het.

Uit hierdie eenvoudige versoek kan ons vyf dinge aflei:

  1. God gee ook vir ons liggame om. Jesus het dit vir ons gewys deurdat Hy soveel tyd spandeer het om mense se siektes te genees en hulle liggame te voed. Hy was begaan oor die skare wat agter Hom aangekom het en niks gehad het om te eet nie. Enige lering wat die liggaam verkleineer of minag, is verkeerd. Ons kan ook sien wat God van ons liggame dink deurdat Jesus ’n menslike liggaam aangeneem het. Ons redding behels ons hele wese, ons gees, liggaam en verstand.
  2. Hierdie gebedsversoek leer ons om net een dag op slag te leef en ons nie te bekommer oor die dag van môre en die onbekende toekoms nie. Jesus se gedagtes moes verseker teruggegaan het na die gebeure in die woestyn en die storie van die manna (Eks 16:1-21). Die Israeliete mag net genoeg manna bymekaar gemaak het vir daardie dag. Wanneer hulle probeer het om dit op te gaar, het dit sleg geword.
  3. Deur hierdie gebed te bid, gee ons aan God die plek in ons lewens wat Hom toekom. Ons erken daardeur dat dit van Hom is dat ons ons lewensonderhoud ontvang. Alle lewende dinge soos saad wat groei, kom van God af. So is alles wat ons eet, ’n direkte geskenk van God af.
  4. Hierdie gebedsversoek leer ook vir ons hoe gebed werk. Dit herinner ons daaraan dat gebed en werk hand aan hand loop. Wanneer ons gebid het, moet ons voortgaan om te werk sodat die gebed beantwoord kan word. Gebed, net soos geloof, sonder werke is dood. Met die bid van hierdie gebed erken ons dat ons sonder God niks kan doen nie, en dat sonder ons moeite en samewerking, kan God ook niks vir ons doen nie.
  5. Ons moet daarop let dat Jesus nie geleer het: “Gee mý vandag mý daaglikse brood” nie, maar “Gee óns vandag óns daaglikse brood.” Die probleem in hierdie wêreld is nie dat daar nie genoeg lewensbehoeftes is nie. Die probleem is dat dit nie goed versprei word nie. Hierdie gebed leer ons om nie selfsugtig in ons gebede te wees nie. Wanneer ons dit bid, dan kan ons help dat God antwoord deur aan ander te gee wat minder bevoorreg as ons is. Hierdie gebed is nie net ’n versoek dat ons ons daaglikse brood sal ontvang nie, maar ook ’n gebed dat ons dit met ander sal deel.

Matteus 6:12 en 14-15 Voordat ons hierdie gebed kan bid, moet ons ten minste ’n sondebesef hê. Sonde is deesdae nie ’n baie gewilde woord nie. Die probleem is dat die meeste mense ’n verkeerde verstaan van sonde het. Hulle sal maklik erken dat die dief, die moordenaar, die dronkaard of die owerspelige almal sondaars is. Wanneer ’n persoon nie self aan sulke sondes skuldig is nie, en ordentlike goeie lewens lei, dan voel hulle dat sonde niks met hulle te doen het nie. Die Nuwe Testament gebruik vyf verskillende Griekse woorde vir sonde:

  1. Die mees algemene woord is hamartia. Dit beteken om jou doel te mis. Met ander woorde, sonde is om te misluk, om te wees wat ons bedoel is om te wees, of wat ons kon wees. Is daar enigeen van ons wat kan aanspraak maak daarop dat ons alles is wat ons kan wees en alles gedoen het wat ons kon doen?
  2. Die tweede woord is parabasis. Dit beteken letterlik om die grens oor te steek. Sonde is dus om die grenslyn tussen reg en verkeerd oor te steek. Slaag ons ooit daarin om altyd aan die regte kant van waarheid of valsheid te bly? Bly ons altyd aan die regte kant van die lyn tussen onselfsugtigheid en selfsug? Wanneer ons so daaraan dink, dan is daar niemand wat kan beweer dat hy sonder sonde is nie.
  3. Die derde woord is paraptõma. Dit is die woord wat gebruik word wanneer iemand op ’n gladde pad gly. Die beste van ons kan “gly” en beheer verloor en in sonde beland.
  4. Die vierde woord is anomia, wat wetteloosheid beteken. Anomia is die sonde van ’n persoon wat weet wat reg en wat verkeerd is. Dit is die sonde van iemand wat die wet ken, maar dit doelbewus oortree. Die eerste van alle menslike instinkte, is om te doen wat ons lus het om te doen; om ons eie ek te bevredig.
  5. Die vyfde woord is opheilēma. Dit is die woord watMatteus hier gebruik en dit beteken “skuld”. Dit beteken dus om in gebreke te bly om jou skuld te betaal. Niemand van ons kan daarop aanspraak maak dat ons op ’n volmaakte wyse ons plig teenoor God en teenoor ander mense nagekom het nie. So iets bestaan nie in hierdie wêreld nie. Hierdie versoek in Jesus se gebed, is dus iets wat ons almal moet bid.

Dit is baie belangrik dat ons weet wat ons sê wanneer ons hierdie gebed bid. Dit is dié gebedsversoek wat ’n mens eintlik bang maak, want ons vra dat ons vergewe sal word in dieselfde mate as wat ons ander mense vergewe wat teenoor ons sondig. In verse 14 en 15 sê Jesus in baie duidelike woorde dat God ons kan vergewe as ons ander mense vergewe, maar as ons weier om ander mense te vergewe, dan weier God ook om ons te vergewe. Menslike vergifnis en Goddelike vergifnis is dus onlosmaaklik aan mekaar verbind, en kan nie geskei word nie. As ons dit altyd onthou, dan kom daar tye in ons lewe dat ons dit liewer nie moet waag om hierdie gebedsversoek oor ons lippe te laat kom nie.

Om daarin te slaag om hierdie Christelike vergifnis in ons lewens te hê, is daar drie dinge wat nodig is:

  1. Om moet leer om te verstaan. Daar is altyd ’n rede waarom mense dinge doen. Emosionele pyn, bekommernis, misverstande en vorige pynlike ervarings, is alles dinge wat mense nors en onvriendelik laat optree. Vergifnis is altyd baie makliker as ons probeer om te verstaan voordat ons veroordeel.
  2. Ons moet leer om te vergeet. So lank as wat ons loop en broei op ’n belediging of ’n onaangename gebeurtenis, is daar geen hoop dat ons dit ooit kan vergeet nie. Dit is gevaarlik om te sê dat jy nooit iets sal vergeet nie. Dit veroorsaak dat dit naderhand menslik onmoontlik is om te vergewe.
  3. Ons moet leer om lief te hê. Ons het reeds gesien dat die Christelike liefde, agapē, daardie onoorwinlike toegeneëntheid teenoor iemand is, wat vir hom of haar net die allerbeste wil hê. Dit maak nie saak wat hy aan ons doen of hoe hy of sy ons behandel nie. Dit is dié soort liefde waartoe ons in staat is net wanneer Jesus Christus, want Hy is agapē-liefde, in ons harte kom woon. Hy kan dit nie doen as ons Hom nie innooi nie.

Matteus 6:13 Die woord “versoeking”, het altyd vir ons ’n baie negatiewe betekenis. Dit beteken dat ons verlei word om in sonde te verval. Die Griekse woord wat gebruik word, peirazein, is op ander plekke in die Nuwe Testament baie beter vertaal met die woord “toets”. Om versoek te word, beteken om verlei te word om sonde te doen, maar om getoets te word, is om aan ’n toets onderwerp te word, waarin jou krag, lojaliteit en gehoorsaamheid getoets word. Ons lees in die Ou Testament hoedat God Abraham se lojaliteit getoets het deur van hom te vra om sy seun Isak te offer (Gen 22:2). Dit is tog duidelik dat God nie hier vir Abraham in sonde wou verlei nie. In Matteus 4:1 lees ons dat Jesus deur die Heilige Gees die woestyn ingelei is om deur die duiwel versoek te word. As ons die woord “versoek”, hier verstaan as dat dit beteken dat Hy in sonde verlei moes word, dan maak dit van die Heilige Gees ’n vennoot om te probeer om Jesus te laat sonde doen, wat net nie moontlik is nie. Jesus is getoets, en dit is een van die groot waarhede daarvan. Toetsing of versoeking is nie bedoel om ons tot ’n val te bring nie. Die bedoeling daarvan is om van ons sterker en beter mense te maak. Soms dop ons die toets, maar ons is nie veronderstel om dit te dop nie. Dit is bedoel om ons te suiwer. In ’n sekere sin is versoeking of toetsing nie die straf van menswees nie; dit is die heerlikheid en glorie daarvan om ’n kind van God te wees. Ons moet getoets word voordat God ons kragtig in sy diens kan gebruik.

Wanneer ons die Bybel lees, is dit ook baie duidelik dat daar geen twyfel is oor die bestaan van die Bose in hierdie wêreld nie. Barclay is van mening dat hierdie gebedsversoek se korrekte vertaling moet wees dat ons moet vra om van die Bose, met ander woorde die duiwel self, verlos te word. Die Bybel beskryf vir ons die Bose nie as ’n abstrakte krag of beginsel nie, maar as ’n persoon wat direk in teenstand teenoor God is.

In Hebreeus beteken die woord “Satan” net bloot teenstander. ’n Persoon kan ook ’n satan genoem word, wanneer hy iemand of ’n volk, se teenstander is. So lees ons in 1 Samuel 29:4 dat die leiers van die Filistyne bang was dat Dawid in ’n geveg teen hulle sal draai. Hy sou dan hulle teenstander wees. Ons lees ook in Job 1:6 dat die hemelwesens op ’n dag voor God kom staan het en dat Satan ook onder hulle was. In hierdie stadium was hy die hemelse aanklaer van mensewesens. In Openbaring 12:10 lees ons dat die aanklaer van ons medegelowiges, wat ons dag en nag voor God aangekla het, uit die hemel uitgegooi is.

Dit is nie ’n baie groot stap verder vir ’n individu wat ’n saak teen iemand moet voorlê, om sommer ’n saak op te maak teen daardie persoon nie. So is dit is presies wat die duiwel doen. Sy ander naam, “duiwel”, kom van die Griekse woord diabolos, wat kwaadpraat of lasteraar beteken. Hy het dus die lasteraar par excellence, geword. Hy is die aanklaer van mense, die krag wat daarop uit is om die doel en werk van God te frustreer en teë te werk en om die menslike ras te vernietig. Hy staan vir enigiets wat teen die mens en teen God is. Dit is vir verlossing van hierdie vernietigende werk van Satan, dat Jesus ons leer om te bid.

Ons lewens is voortdurend onder aanval deur versoekings, maar geen vyand kan ’n aanval loods as hy nie eers ’n vastrapplek gekry het nie. Dit is goed as ons weet wat die vastrapplekke is wat hy as versoekings gebruik, dan kan ons dit makliker oorwin:

  1. Soms kom die aanvalle van versoekings van buite onsself. Daar is dikwels mense wat ’n slegte invloed op ons het en in wie se geselskap ons dit baie moeilik vind om die eerbare ding te doen. Ons moet versigtig wees wie ons kies as vriende en in watter gemeenskappe ons beweeg. Groepsdruk het ’n baie gevaarlike invloed, veral op jongmense.
  2. Een van die tragiese feite is dat ons versoekings soms kom van mense vir wie ons lief is. Dit kom soms van mense wat vir ons lief is, en nie die minste bedoeling het om ons seer te maak nie. Hulle wil ons dikwels goeie raad gee en keer dat ons ons lewens weggooi, soos wat hulle dit sien. Hulle verhoed ons dan om dít te doen wat ons weet wat die regte ding is om te doen, en wat God wil hê dat ons moet doen.
  3. ’n Baie vreemde manier waarop versoekings na ’n mens kom, veral na jong mense, is deur groepsdruk. Mense doen dinge wat hulle nooit andersins sou doen nie, omdat hulle dink dat hulle vriende hulle bewonder. Die bekende kerkvader Augustinus het na sy bekering gesê, dat hy vir sy vriende sou vertel dat hy dinge gedoen het wat hy eers regtig gedoen het nie, omdat hy hulle bewondering nodig gehad het.
  4. Versoeking kom nie van buite onsself nie, maar ook van binne. As daar geen swak plek binne in ons was wat as vastrapplek kon dien nie, dan was dit nie nodig om versoeking te oorwin nie. In elkeen van ons is ’n swak plek, en dit is vandaar dat versoeking sy aanval loods. As ons nie waaksaam is nie, dan kan versoeking ons deur hierdie swak plek vernietig.
  5. Vreemd genoeg, versoeking kom soms nie vanaf ons swakste plek nie, maar ook vanaf ons sterkste punt. Daar is niks wat vir versoeking so ’n sterk wegspringkans gee soos ’n oormaat selfvertroue nie.

Kom ons kyk nou na die verskillende maniere waarmee ons die aanvalle van versoeking kan beveg:

  1. Die eenvoudigste verdediging is “selfrespek”. Toe Nehemia se lewe in gevaar was en daar voorgestel is dat hy in die tempel gaan wegkruip om sy lewe te spaar, was sy woorde: “Sal ’n man soos ek vlug?” (Neh 6:11). ’n Mens kan baie dinge ontvlug, maar nooit jouself nie. Jy moet die res van jou lewe met jou gewete saamleef.
  2. ’n Tweede verdediging is tradisie. Ons kan nooit ons erfenis en dit wat geslagte lank opgebou is, ignoreer nie. Ons behoort aan ’n land, ’n skool, ’n familie en ’n kerk. Ons kan nie ons tradisies verraai nie.
  3. Daar is ook die verdediging van hulle wat ons lief het en vir wie ons lief is. Baie mense sou gesondig het as die enigste straf wat gedra moes word, net deur hulleself gedra is. Hulle word egter van sonde bewaar, omdat hulle besef dat hulle nie die pyn in ’n geliefde se oë kan verdra nie, en nie iemand anders se lewe kan en wil verwoes nie.
  4. Laastens is daar die verdediging van Jesus Christus se onontvlugbare teenwoordigheid in ons lewens. Daarom onthou ons altyd om só te leef, dat Hy na ons kan kyk.

Matteus 6:16-18 Die Jode het vandat die son opgekom het, tot dit weer onder gegaan het, gevas. Gedurende daardie tyd mag hulle geen normale etes geëet het nie. Daar was net een verpligte vasdag per jaar, en dit was op die Groot Versoendag (Lev 16:30). Op daardie dag moes elkeen homself misken deur nie te eet, te bad, iemand te salf of seksuele omgang te hê nie. Selfs die jong kinders moes al begin leer, deur een of ander vorm van vas op daardie dag te doen.

Alhoewel daar net die een verpligte vasdag was, het die Jode graag van private vas gebruik gemaak:

  1. Hulle het gevas wanneer daar gerou is. Tussen die tyd van afsterwe van ’n geliefde en die begrafnis, moes die roubeklaers hulle van alle wyn en vleis weerhou.
  2. Hulle het gevas wanneer hulle wou vergoed vir sonde wat gedoen is. Ons lees in een van die Apokriewe boeke dat Reuben vir sewe jaar lank geen drank gedrink het of vleis geëet het, omdat hy wou boete doen vir sy aandeel aan Josef se verkoop as ’n slaaf.
  3. Hulle het dikwels gevas wanneer die hele volk hulleself wou verootmoedig. In 1 Samuel 7:6 lees ons dat Samuel van die volk verwag het om te vas en hulle sonde te bely toe hulle vir Baäl aanbid het. Nehemia het ook die volk beveel om te vas en hulle sondes te bely (Neh 9:1).
  4. In baie gevalle was vas ’n voorbereiding vir ’n openbaring. Moses het vir veertig dae en veertig nagte op die berg gevas (Eks 24:18). Daniël het gevas in afwagting op die antwoord van die Here (Dan 9:3). Jesus het self ook gevas in afwagting op die vuurproef van versoeking in die woestyn (Matt 4:2). Wanneer ’n persoon se liggaam gedissiplineer is, dan is sy verstandelike en geestelike vermoëns op sy waaksaamste en helderste.
  5. Soms is vas ’n pleidooi wat aan God gerig word. Wanneer dit baie droog was en die oes was in gevaar, dan is ’n nasionale vasdag uitgeroep om tot God te pleit vir reën.

Daar was drie hoofgedagtes rondom Joodse vasdae:

  1. Vas was ’n doelbewuste poging om God se aandag te verkry.
  2. Dit was ook ’n doelbewuste poging om te bewys dat hulle berou opreg was.
  3. Daar is ook baie dikwels gevas namens iemand anders.

Alhoewel die beginsel van vas baie edel en opreg was, was daar ook gevare aan verbonde. Die grootste gevaar was dat sommige wou vas om vir ander mense te wys hoe vroom en gedissiplineerd hulle was. Dit is presies dít wat Jesus hier veroordeel het. Hy het vas veroordeel wanneer dit gebruik word as ’n pronkerige parade van vroomheid. Wanneer dit markdae was, was die dorpe en ook Jerusalem, vol mense van die plattelandse omgewing. Die gevolg was dat diegene wat met hulle vas wou aandag trek, een van die markdae gekies het en dan seker gemaak het dat hy ’n groot gehoor het wat kan sien hoe vroom hy is en dit dan bewonder. Hulle het doelbewus deur die strate met ongekamde hare, verkreukelde klere en witgesmeerde gesigte geloop. Dit was geen optrede van nederigheid nie, maar dit was ’n doelbewuste gespog wat uit geestelike hoogmoed voortgespruit het.

Daar is geen geestelike waarde in vas wanneer dit vir ons eie gewin gedoen word nie.

Alhoewel Jesus hierdie verkeerde manier van vas veroordeel het, het sy woorde geïmpliseer dat daar ook ’n regte manier is om te vas. Hy het nooit bedoel dat vas heeltemal uit ons lewens moes verdwyn nie. Om te vas, is nie net goed vir ons gesondheid nie, maar ook vir ons selfdissipline. Deur op ’n korrekte manier te vas, verhoed ’n mens dat enige plesier ’n gewoonte word wat jou lewe beheer. Dit vestig in ons die vermoë om sonder dinge klaar te kom, en om dit wat ons het, meer te waardeer.

Matteus 6:19-21 In ons elke dag se lewe is dit wys om net dié dinge bymekaar te maak wat sal hou. Of dit nou klere is, ’n kar, ’n mat, meubels, of wat ook al. Dit is net logies om nie geld of tyd te spandeer op iets wat nie van goeie gehalte is nie. Dit is presies waarteen Jesus ons hier waarsku. Ons moet nie konsentreer en tyd en energie spandeer, op iets wat nie gaan hou nie.

Jesus gebruik drie voorbeelde hier wat betrekking het op die drie groot bronne van rykdom in Palestina:

  1. Hy vertel vir die mense om dié dinge te vermy wat deur die mot vernietig kan word. In die Midde-Ooste het ’n deel van elkeen se persoonlike rykdom uit sy fyn en deftige klere bestaan. Ons lees dat Gehasi, toe hy ’n verbode wins wou maak uit Naäman, nadat Elisa vir Naäman genees het, vir hom vier en dertig kilogram silwer en twee stelle klere gevra het (2 Kon 5:22). Omdat Naäman ’n gesiene man was, sou sy klere baie deftig en duursaam wees. Dit is egter baie dom om jou hart op so iets te sit, want wanneer dit gestoor word en die vismotte kom dit by, dan bly daar niks van oor nie, en al die mooi is verlore.
  2. Hy vertel ook vir die mense om dinge te vermy wat deur roes vernietig kan word. Die woord wat met “roes” vertaal is, is die Griekse woord brõsis, en dit beteken letterlik om iets weg te eet. Dit het niks met die woord “roes” te doen soos wat ons dit ken en waarmee dit vertaal is nie. In die Midde-Ooste het baie persone se individuele rykdom gelê in groot hoeveelhede mielies en koring wat hulle in groot skure gestoor het. Wanneer daar in hierdie store rotte of wurms uitgebroei het, dan kon dit gebeur dat so ’n persoon se hele rykdom opgeëet word.
  3. Die mense moes ook nie skatte bymekaar maak wat diewe sou wou steel nie. Die Griekse woord wat gebruik is, diorussein, beteken letterlik “om deur te breek”. Die meeste van die huise in Palestina was van niks sterker gebou as gebakte klei nie. Inbrekers kon toegang tot ’n huis verkry deur net letterlik ’n gat deur die muur te grawe. Die verwysing hier is na mense wat vir hulle goud in hul huise opgegaar het, en op ’n dag, wanneer hulle by die huis gekom het, gevind het dat diewe deur die muur gebreek het en dat die skat weg is.

As ons slim is, dan sal ons ons tyd en aandag en geluk bou op dinge wat ons nie kan verloor nie, maar wat ewigheidswaarde het.

Die Jode was baie bekend met die uitdrukking “skatte in die hemel.” Hulle het so ’n skat in die hemel met twee dinge in besonder geïdentifiseer:

  1. Hulle het gesê dat ’n persoon met goeie dade aan iemand hier op aarde, vir hom ’n skat in die hemel verdien. Hulle het verskeie mooi stories hieroor vertel en hulle het aan dieselfde beginsel geglo wat Jesus hier oorgedra het. Iets wat in selfsug bymekaar gemaak word, sal verlore gaan, maar iets wat vrygewig weggegee word, bring altyd vir ons ’n skat in die hemel. Dit was ook die beginsel van die vroeë Christelike kerk. Hulle het liefdevol omgesien na die armes, die siekes en die hulpeloses. Toe ’n Romeinse soldaat vir een van die diakens van ’n gemeente gevra het waar hulle skatte is, het hy na die weduwees en die wese gewys, na die siekes en die hongeriges wat gevoed word, en gesê: “Daar is die skatte van ons kerk.”
  2. Die Jode het ook altyd die woorde “skatte in die hemel” met karakter verbind. Een van die Joodse rabbi’s het gesê dat nie goud of silwer of kosbare edelstene ’n mens in jou laaste uur kan vergesel nie. Net jou kennis van die wet en jou goeie werke. Dit is baie waar. Die enigste ding wat ons saam met ons na die lewe hierna kan neem, is onsself, en dit wat ons geglo en gedoen het.

Jesus eindig hierdie gesprek deur te sê dat dáár waar ons skat is, daar sal ons hart ook wees. Wanneer ’n persoon se oë dwarsdeur sy lewe op die ewigheid gevestig is, dan sal hy die dinge van hierdie wêreld van baie min waarde ag. Hy sal hierdie lewe met vreugde verlaat, want hy gaan uiteindelik na God toe. Jesus het nooit gesê dat hierdie wêreld onbelangrik is nie, maar Hy het dit oor en oor beklemtoon dat die belangrikheid daarvan lê in dit waarheen dit lei. Hierdie lewe is net ’n stadium op ons lewenspad, daarom moet ons nooit ons harte verloor op die dinge van hierdie wêreld nie. Ons oë moet altyd gevestig wees op die doel hierna.

Matteus 6:22-23 Die gedagte agter hierdie woorde is kinderlik eenvoudig. Die oog word beskou as die venster waardeur die lig die hele liggaam binnegaan. Die toestand van die venster bepaal hoeveel lig daar in ’n vertrek is. As die venster helder, skoon en nie bedek is nie, dan vloei lig die vertrek binne en verlig elke hoekie van die vertrek. As die glas van die venster egter vuil, dof of beskadig is, dan word die lig verhinder om die vertrek te verlig.

Net so, sê Jesus, word die lig wat in enige persoon se hart en siel ingaan, bepaal deur die geestelike toestand van sy oë waardeur dit moet gaan, want die oog is die venster van die hele liggaam. Daar is sekere dinge wat ons oë kan verblind en veroorsaak dat ons sig misvormd is:

  1. Die eerste is vooroordeel. Daar is niks wat ons gesonde oordeel so kan verwoes soos vooroordeel nie. Een van die nodigste dinge in die lewe, is dat ons vreesloos moet selfondersoek doen om seker te maak dat ons nie die slagoffers is van ons eie onredelike vooroordele nie.
  2. Die tweede is jaloesie. Baie huwelike en baie vriendskappe het al as wrakke gestrand op die rotse van jaloesie. Heel onskuldige optredes word dikwels so maklik verkeerd vertolk wanneer die een persoon se sig deur jaloesie verblind is.
  3. Verwaandheid kan ook ons visie misvorm. Dit het eintlik ’n dubbele uitwerking op dit wat ons sien. Dit veroorsaak dat ons nie onsself kan sien soos wat ons werklik is nie, maar dit verhoed ook dat ons ander mense kan sien soos wat hulle werklik is. Wanneer iemand oortuig is van sy eie verbygaande wysheid, dan is hy nooit in staat om sy eie dwaasheid raak te sien nie. As hy blind is vir alles behalwe sy eie deugde, dan sal hy nooit sy eie foute kan raaksien nie. Hulle sal nooit hulleself krities kan beoordeel nie, en dus ook nooit hulleself kan verbeter nie.

Jesus sê hier, as ons oog goed is, sal ons hele liggaam lig hê, maar wanneer ons oog sleg is, sal ons hele liggaam sonder lig wees. Volgens Barclay beteken die Griekse woord wat met “goed” vertaal is, eintlik “vrygewig”. Die Griekse woord wat met “sleg” vertaal is, behoort eintlik met “inhaligheid” of “wrokkigheid” vertaal te word. Wat Jesus dus eintlik hier sê, is dat daar niks in die lewe is, wat vir jou so ’n helder en skoon uitkyk op jou eie lewe gee, asook op die lewens van ander mense, as goedhartigheid en vrygewigheid nie. Daar is ook niks wat jou uitkyk op die lewe so kan misvorm en skeeftrek, soos wrokkigheid, inhaligheid en selfsug nie.

Ons moet nie net vrygewig wees in ons oordeel van ander mense nie, maar ook in aksies. Dit is so kenmerkend van mense om altyd die slegste van ander te dink en oor te vertel. Dit is eers wanneer ons onsself in ander se plek kan stel, dat ons ander mense en dinge helder kan sien. ’n Wrokkige en inhalige mens kan nie met homself saamleef nie; hy kan nie saam met ander mense leef nie en dit is ook onmoontlik vir hom om saam met God te leef. Daar is niemand so vrygewig soos God nie, en daar kan geen gemeenskap wees tussen God, wie se hart oorloop van liefde nie, en ’n persoon wie se hart gevries is van gemeenheid en suinigheid nie. Dit is dus net die vrygewige oog wat helder kan sien, want dit is die enigste oog wat kan kyk soos wat God kyk.

Matteus 6:24 Vir iemand wat in die antieke wêreld grootgeword het, sou hierdie ’n baie bekende prentjie gewees het. Hulle het presies geweet wat ’n slaaf is en wat die eienaar van ’n slaaf is. Volgens Barclay verstaan ons baie beter wat Jesus hier gesê het, wanneer ons vers 24 soos volg vertaal: “Niemand kan ’n slaaf van twee eienaars wees nie.” ’n Slaaf was, volgens wet, nie ’n mens nie, maar ’n ding. Hulle het geen regte gehad nie en die eienaar kon met sy slaaf maak net soos wat hy wou. Hulle was slegs lewende gereedskap, en sy eienaar kon hom verkoop, slaan, uitgooi buite toe of selfs doodmaak, as hy wou. Sy eienaar het hom besit soos wat hy enige ander besitting besit het. Hy het geen tyd van sy eie gehad nie en elke oomblik van sy lewe het aan sy eienaar behoort.

Ons behoort ook aan God en het geen regte van ons eie nie. Ons kan nooit vra: “Wat is ek lus om te doen nie?” Ons moet altyd vra: “Wat wil God hê moet ek doen?” Ons tyd is ook nie ons eie nie. Ons het nooit ’n aftyd waarin ons nie Christene hoef te wees nie. Om ’n Christen te wees, is ’n voltydse taak.

Jesus gaan dan voort om te sê dat ons nie vir God én Mammon kan dien nie. Die betekenis van die woord mammon, het oor ’n lang tyd ontwikkel vanaf “die rykdom van ’n persoon wat hy aan ’n ander persoon toevertrou het, om vir hom in veilige bewaring te hou,” tot “iets waarin mense hulle vertroue plaas.” Dit is later met ’n hoofletter gespel en is toe as ’n god beskou. Die geskiedenis van hierdie woord wys vir ons hoedat aardse besittings, ’n mens se lewe kan opslurp sodat hy later al sy vertroue daarin plaas.

Hierdie lering van Jesus oor aardse besittings, leer vir ons drie groot basiese beginsels:

  1. Alle dinge behoort aan God. Die Bybel maak dit vir ons oorvloediglik duidelik. “Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daarop woon, alles behoort aan die Here” (Ps 24:1). In Jesus se lering is dit die eienaar wat aan sy slawe die goue muntstukke gee (Matt 25:15). Dit is ook

die grondbesitter wat aan die huurders sy wingerd toevertrou het (Matt 22:33). Hierdie beginsel het verreikende gevolge. Daar is niks in hierdie wêreld waarvan ons kan sê: “Dit behoort aan my nie.”

  1. Die tweede basiese beginsel is dat mense altyd belangriker is as dinge. As enigiets verkry moet word of geld verdien moet word ten koste van mense, dan is dit verkeerd. Wanneer hierdie beginsel geïgnoreer word, dan kan ons maar weet dat daar altyd ’n ramp sal volg.
  2. Die derde beginsel is dat aardse besittings altyd ondergeskik is aan die plek in ons lewens wat net God moet beset. Die besit van rykdom, geld en aardse besittings, is nie sonde nie, maar dit is ’n groot verantwoordelikheid. Dit is ’n saak van baie gebed, want dan moet ons weet wat God wil hê wat ons daarmee moet doen.

Daar is altyd twee groot, baie belangrike vrae oor besittings wat ons moet beantwoord:

  1. Hoe het ons ons besittings verkry? Het ons dit op so ’n manier bymekaar gemaak dat ons bly en gelukkig is dat Jesus dit kon sien? Of het ons dit op so ’n manier gedoen dat ons dit liewer vir Hom sou wegsteek? Besittings moet altyd op ’n eerbare en eerlike wyse verkry word. Dit gebeur so dikwels dat mense hulleself ten koste van ander mense verryk.
  2. Die tweede vraag is: “Hoe gebruik ek my besittings?” Besittings kan soms geheel en al nutteloos wees vir ons, en nutteloosheid lei altyd tot rampspoedigheid. Rykdom gee ook mag, en soms gebruik korrupte mense hulle besittings om ander mense korrup te maak. In die oë van die Here is dit ’n baie groot sonde. Wanneer ons ons besittings gebruik om ander mense te help en gelukkig te maak, dan moet ons onthou dat Jesus gesê het: “Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang” (Hand 20:35).

Matteus 6:25-34 Wanneer Jesus in vers 25 sê: “Moet julle nie bekommer nie,” dan bedoel Hy nie dat ons ’n onverskillige, roekelose houding teenoor die lewe moet hê nie. Die Griekse woord wat gebruik word, is merimnan. Dit beteken om angstig en benoud wakker te lê en skoon siek van bekommernis te wees. Jesus leer die mense hier om verstandig te lewe, maar in vertroue en rustigheid, met die wete dat God vir hulle sorg. In hierdie paar verse gebruik Jesus sewe argumente as verdediging teen bekommernis:

  1. Hy begin in vers 25 deur te beklemtoon dat God aan ons die lewe gegee het. As Hy aan ons die lewe gegee het, kan ons Hom verseker vertrou vir die kleiner dinge ook. Hy het vir ons liggame gegee, en daarom kan ons Hom vertrou dat Hy vir ons klere sal gee om ons liggame mee aan te trek. Hy sal vir ons die dinge gee wat ons nodig het om die lewe wat Hy vir ons gegee het, in stand te hou.
  2. In vers 26 praat Jesus van die wilde voëls wat geen bekommernis in hulle lewens het nie en geen begeerte om op te gaar nie, en tog gaan hulle lewens aan. Die punt wat Jesus hier wil tuisbring, is nie dat die voëls niks doen nie. Daar word gesê dat geen lewende wese harder werk om ’n bestaan te maak, as ’n mossie nie. Die punt wat Jesus wil maak, is dat hulle hulle nie bekommer nie. ’n Voëltjie het nie dieselfde menslike swakheid om sy sekuriteit te soek deur dinge bymekaar te maak en op te gaar nie.
  3. In vers 27 bewys Jesus dat dit nutteloos is om jouself te bekommer. Dit kan nie jou lewe verleng nie. Inteendeel, spanning en angs verkort ons lewens.
  4. Vanaf vers 28 tot vers 30 praat Jesus van die veldlelies soos iemand wat die veld liefhet. Hierdie veldlelies het net vir een dag teen die heuwelhange van Palestina geblom, en in daardie kort tydperk was hulle geklee met die skoonheid van ’n koningskleed. Daarna, wanneer hulle verdroog het, dan word dit verbrand. ’n Palestynse oond was van klei gebou. Wanneer iemand die temperatuur daarvan vinnig wou verhoog, dan het hy ’n handvol droë gras of blomme daarin gegooi. Deurdat dit vinnig vlam gevat het, het dit die temperatuur van die oond vinnig verhoog. As God dan ’n kortstondige blom so mooi klee, hoeveel te meer dan nie ook ons as mense nie; die kroon van sy skepping.
  5. In vers 32 sê Jesus dat bekommernis ’n karaktereienskap is van die heidene, en nie van iemand wat die ware God ken nie. As ons onsself bekommer, dan wantrou ons vir God, vir wie ons ons Vader noem en glo dat Hy ons liefhet.
  6. In verse 33 gee Jesus vir ons ’n manier waarop ons bekommernis kan oorwin. Ons moet op die koninkryk van God konsentreer. Ons het reeds gesien dat die koninkryk van God en die wil van God, een en dieselfde ding is (Matt 6:10). Deur dus te konsentreer op God se koninkryk en sy wil in ons lewens te aanvaar, kan ons bekommernis uit ons lewens weer. So ’n groot liefde soos wat God vir ons het, kan alles wat ons doen inspireer en ons hele wese domineer.
  7. Die laaste raad wat Jesus in vers 34 het om bekommernis te oorwin, is om die kuns te bemeester om net een dag op ’n slag te lewe. Die Jode het graag gesê dat mense hulle nie oor môre moet bekommer nie, want dalk leef hulle môre nie eers meer nie.”

Om dit alles op te som, kan ons sê dat Jesus gesê het dat bekommernis onnodig, nutteloos en sleg vir ’n mens is, en ’n belediging vir God. Om te bekommer, is om blind te wees, want dan kyk ons nie na die voëls en die lelies van die veld nie. Om jouself oor dinge te bekommer, is ongeloof. Daar mag dalk groter sondes wees as om jouself te bekommer, maar dit is ongetwyfeld die mees verminkende van alle sondes.

Opsoek na inligting?

  • UBUNTU; Herbedink

    Die gonswoord van 'n dekade of wat gelede, nl 'Ubuntu', het 'n mens nuuskierig gemaak. Wat sou die mooiklinkende woord: 'u-bun-tu' wat blykbaar oornag groot handelswaarde ontwikkel het, werklik beteken? Nadat Desmond Tutu in 'n videosnit die betekenis verduidelik het as:'I am because we are' en Bill Clinton daarop probeer verbeter het met: 'I am because you are', kon dit nie anders nie. Dié saak moes ondersoek word.

    Na 'n ompad deur Afrika en selfs die antieke geskiedenis, is weer in die eie tyd, by uitsprake van Mbeki, Tutu, Steve Biko en andere uitgekom. Daarna is na Ubuntu en die wêreldpolitiek gekyk, maar ook na 'n ubuntuplan en ekonomiese seifbeskikking met die oog op oorlewing.

    Die skrywer, Tobie Hart, slaag met hierdie werk om die leser te boei met aktuele inligting wat elkeen raak. Ook die voorblad, met reënboog en standbeeld praat met die leser.

    Die boek, teen R260-00 per harde kopie kan bestel word by: Groep 7 Drukkers Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees..         Die boek is ook in Engels beskikbaar as Ubuntu: Re-invented

     
  • BYBEL 1933/53-druk nou gratis

    Gelofteland is dankbaar om aan al ons lesers die 1933/53-uitgawe van die Bybel gratis te voorsien. Al wat u hoef te doen is om 'n e-pos na

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    te stuur met die versoek om die Bybel te ontvang, en ons sal dit aan u stuur.

     

    _____________________

     

     Laserskywe in stelle van 10 te koop

    VRYHEIDSBEDIENING

    Ds. Andre van den Berg werk sedert November 1990 weekliks met volksgenote in die gevangenis in Pretoria-Sentraal. Hy bied ʼn reeks laserskywe teen R200 (posgeld uitgesluit) per stel van 10 aan. Die opbrengs van hierdie verkope gaan vir Gevangenisbediening.

    Dit handel oor aktuele onderwerpe soos:

    1. Die lewe hiernamaals.
    2. Word verantwoordelik oud.
    3. Die pad na die ewigheid.
    4. Bied beproewing die hoof.
    5. Raad vir tieners.
    6. Gelowige kinderopvoeding.
    7. Oorwin depressie.
    8. Kikker jou huwelik op .
    9. Alle mense is nie gelyk nie.
    10. Homoseksualisme - ʼn gruwel vir God.

    Bestel by:

    E-pos: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Sel: 074 967 5187

    Bankbesonderhede:

    ABSA

    VRYHEIDSBEDIENING

    9062088855

    _______________

     

    Skryf in vir die gratis e-blad OORSIG EN REPLIEK

    'n Blad wat dmv verduidelikende agtergrond by die kern van ons volk se
    stryd uitkom.

    Kontak die redakteur by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    Lees ons gereelde uittreksels daaruit hier op Gelofteland by OORSIG EN REPLIEK

    __________
     
    DIE HISTORIESE KOMPAS
    _________ 
     
    BOEKRESENSIE:

    Die Legkaart van ons Lewe – ‘n Boodskap van Hoop

    Lees meer oor dié getuienis by:

    DIE LEGKAART VAN ONS LEWE

    __________

    BOEKRESENSIE:

    DIE VOLMAAKTE REPUBLIEK – Christen-Teokratiese Separatisme

    Suid-Afrika verkeer tans in 'n kommerwekkende toestand omdat mense se kennis oor die Bybel en die Staat so verwater het dat land en volk as gevolg hiervan ten gronde gaan.

    Hierdie boek uit die pen van ds AE van den Berg, het in gedrukte vorm verskyn.  Dit bring helder perspektief oor rasseverskille en natuurlike skeiding wat sal lei tot die herstel van Suid-Afrika. Die land het 'n dringende behoefte wat landsburgers van geestelike denke sal laat verander en van onregte en gewaande vryheid sal bevry.

    Sinvolle besluite in die lig van God se Woord, en onophoudelik gebed dat bevryding spoedig verwesenlik word, is noodsaaklik. Politiek is erns en harde werk wat wet en orde handhaaf en durf nie in eerlose hande gelaat te word nie. God is 'n God van orde, en mense word aangemoedig om die koninkryk van God eerste te stel.

    U kan hierdie boek bestel by ds A E van den Berg

    Tel: 074 967 5187  of by

    vryheidsbediening

    @gmail.com

    Prys: R50-00

     
  •                                                                        ______________

     

    BOEKE TE KOOP

    ‘n Nuwe Trek: Terug na u God

    Die Oerteks van die lotsbepalende 1838-Gelofte

    J L du Toit & dr L du Toit

    'n Bundel oor die bronne vir die 1838-Gelofte is nou ook by Exclusive Books in Suid-Afrika beskikbaar: 

    Alhoewel die nuutste prys op Exclusive Books se netwerf tans R191 per boek is kan u dit vir so min as R60 per boek direk by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. bestel.

    Lees meer by: 'N NUWE TREK: TERUG NA GOD

    _______________

    ONDERSTEUN U VOLKSGENOTE IN DIE GEVANGENIS

    Wil u meer oor aktuele onderwerpe lees of vir iemand 'n besondere geskenk gee? Goeie voornemens;  Dink reg, leef reg; Moenie bekommer nie; Leuens; Woestyngedagtes, en Niks ontbreek nie, is van die aktuele onderwerpe wat in twee besondere preekbundels behandel word. Vir slegs R60 elk of R100 vir beide kan u 'n waardevolle bydrae maak vir u volksgenote in die gevangenis. Ondersteun hulle asseblief en bestel nou hierdie preekbundels by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

                                                                           ________________

     

    GOD PRAAT MET DIE BOEREVOLK – DEEL 2

    Hierdie bundel, net soos deel I, is saamgestel uit twintig van die beste boodskappe wat sterk op ons volkslewe gerig is. Die inhoud bestaan uit aktuele onderwerpe wat die daaglikse lewe van elke Christen raak. Die koste beloop slegs R60 (posgeld uitgesluit) en is 'n uitstekende geskenk vir die regte persoon. Die inkomste gaan in geheel aan gevangenisdiens vir ons volksgenote.
    Plaas u bestelling per e-pos by ds Andrè van den Berg by

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

    of skakel hom by 074 967 5187

    ________________

    Bestel 'n uitstekende digbundel deur BOERIUS
    Volledige besonderhede hier:

    Gietoffers van my Siel


    _________________

    Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.

     
  •  

    DIE CHARISMATIESE GEVAAR
    Mense word so maklik deur dwaalleringe mislei. In hierdie boek word talle kwelvrae beantwoord.

VERGADERING-

PROSEDURES

(GRATIS)

Daar is min mense wat nog die waarde van 'n ordelike byeenkoms bedink en kan uitvoer. Sonder hierdie kennis en orde en gedissiplineerde toepassing daarvan sal 'n byeenkoms in wanorde verval en die doel van die vergadering nie bereik word nie. Die boekie kom handig te pas in alle omstandighede waar 'n vergadering van persone plaasvind, ongeag die sakelys of doel van die byeenkoms.

Klik hier om die boekie wat u op hoogte kan bring van korrekte vergaderingprosedures, gratis af te laai. Indien u van Windows 10 gebruik maak sal die inhoud outomaties onder die lêer "Downloads" geberg word en kan dit daar gehaal en gebêre word waar ookal dit maklik gevind kan word.

 

GRATIS E-BOEKE EN VERSBUNDELS OM AF TE LAAI:

 

As God volke aan hul eie lot oorlaat

Die waarheid oor ons volk en die Nuwe SA

Volksverraad geskryf deur adv. P.J. Pretorius

'n Oorblyfsel... deur genade alleen

Christen-Teokratiese Separatisme

Verse van Verset

Vreedsame Naasbestaan = Afsonderlike Ontwikkeling

No Ships in the Harbour

Ons heilsverhaal in die Ou Testament

Daniel

Evolusie - kan ek dit glo?

Petrus, die rots

Romeo en Juliet

Ester

Apokriewe - By modderpoele of suiwer fonteine?

Midsomernagdroom - Shakespeare in Afrikaans

Die Openbaring van Henog

Die Derde Tempel

Macbeth - Shakespeare in Afrikaans

Met ryperd en mauser

Goue strate het nie stof nie

Derdepoort

Die Laaste Pous

Josef

Rut

Drie Eeue van Onreg

Ons Geskiedenis

Engelse skandvlekke

Voortrekker-Pioniers in Oos-Transvaal

_______________

 

 

1919: VRYHEIDSDEPUTASIE KEER TERUG

1800: GRAAFF- REINETSE REBELLE GEVONNIS

1917: OOM JAPIE HELPMEKAAR

SKERP SLAGSPREUKE

(Lees die reeks by SKERP SLAGSPREUKE)

                                                                         __________________

 

AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES

(Lees by AFRIKAANSE IDIOME EN GESEGDES - die hele reeks

                                                                         __________________                                                                  

In die sweet van sy aanskyn eet die Adamskind sy brood; in die sweet van 'n ander se aanskyn sy pastei.

Leer jou ambag so goed dat jy jou altyd kan verhuur aan 'n baas wat daar minder kennis van het as jy. Dan sal jy sy baas wees.

'n Presiese baas hou nie nalatige knegte lank nie. Dié wat hy nie wegja nie loop weg.

Maak in die somer hout bymekaar en sit in die winter by die vuur.

Besoekers aanlyn

Ons het 1978 gaste aanlyn