Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
'n Ware vriend staan nooit in jou pad nie – net wanneer jy op die afdraande pad is!
DIE WONDERS VAN GOD!
GELOFTEDAG 2024
Hannes Ollewagen
Joh. 12:1-11
“En Maria het ‘n pond egte, baie kosbare nardussalf geneem en die voete van Jesus gesalf en sy voete afgedroog met haar hare. En die huis is vervul met die reuk van die salf.” (:3).
Die besoek wat Christus aan hierdie familie se huis bring, het ’n heel ander stemming as die vorige besoek waarvan ons lees. Die vorige keer wat Christus vir Martha, Maria en Lasarus besoek het, was Lasarus dood. Christus kom en vind hierdie mense in ’n ellendige toestand, maar te midde van hierdie slegte omstandighede het hulle steeds met verwagting en geloof op Hom gehoop. “En toe Maria kom waar Jesus was en Hom sien, val sy aan sy voete neer en sê vir Hom: Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie.” (Joh. 11:33). Hierdie hoop van Maria-hulle beskaam dan ook nie. Christus gebruik hierdie ellendige toestand om die krag van God vir hulle wat glo aan die skare op hierdie dag teenwoordig te openbaar. “Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie? Hulle neem toe die steen weg waar die oorledene lê. En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het; en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.”(:40-42). En met ’n enkele bevel verander God hierdie ellendige toestand in ’n situasie van onbeskryflike dankbaarheid en vreugde. “En nadat Hy dit gesê het, het Hy met ’n groot stem geroep: Lasarus, kom uit! En die oorledene het uitgekom, ....” (:43&44).
Wanneer Christus hierdie man en sy twee susters weer besoek, is die dankbaarheid van hierdie mense uit hul optrede kennelik sigbaar. Hulle het vir Hom daar ’n maaltyd berei. En benewens hierdie maaltyd wat vir Hom berei word, kom Maria ook nader met ’n pond egte, baie kosbare nardussalf waarmee sy Hom salf. Dit is duidelik dat haar dankbaarheid teenoor Hom ontsaglik groot is en die guns wat Hy aan hulle bewys het haar diep raak. Maria wou nie haar dankbaarheid teenoor Hom net in woorde uiter nie, maar sy het gekom om deur haar optrede haar dankbaarheid aan Hom te betoon. Benewens die feit dat die salf wat Maria spesiaal vir hierdie geleentheid gebruik duidelik ’n baie duur produk was, blyk dit ook dat Maria niks van hierdie kosbare salf probeer terughou of spaar nie. Ons lees in Matt. 26 ook van hierdie gebeure en die dissipels het Maria se handeling met hierdie kosbare salf selfs as ’n verkwisting beskou. “En toe sy dissipels dit sien, was hulle verontwaardig en sê: Waarvoor is hierdie verkwisting?” (Matt. 26:8). So ruim en amper oormatig is hierdie salf gebruik dat die huis vervul is met die reuk van hierdie salf – ’n heerlike geur. Ja, was hierdie lieflike reuk van die kosbare nardussalf wat die huis vervul het nie in skrille kontras met die reuk van die dood wat die graf gevul het die vorige keer toe Jesus en hierdie familie byeen was nie! “Jesus sê: Neem die steen weg. Martha, die suster van die oorledene, sê vir Hom: Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood.” (Joh. 11:39).
Wanneer ons soos vandag hier byeen is om die wonderlike gebeure in die lewe van ons volk tydens Geloftedag te herdenk, is daar vir my soveel ooreenstemming in ons volkslewe teenoor die gebeure waarvan ons vanoggend gelees het. Daar in Natal - Desember 1838 by Bloedrivier – was ons nie ook maar in ’n verskriklike ellendige toestand toe God ons volk daar besoek het nie? Die doodsreuk van Piet Retief en sy kommando by Umgungundlovu,die moorde by Bloukrans en Wenen asook die tragedie van Italeni nog walglik en skerp in ons neus. ’n Mens sou seker nie oordryf om te sê dat ons volk daar by Bloedrivier reeds met een voet in die graf gestaan het nie. En dan, in hierdie ellendige toestand in Natal weet ons voorsate ook, soos die familie van Lasarus, dat ons hoop en verwagting in Hom is. Hierdie mense rig die hart en oog tot God en bid Hom ook om barmhartigheid, genade en ontferming. En soos wat God vir Lasarus en sy susters barmhartig en genadig was, was Hy ook ons voorouers barmhartig en genadig om hulle op wonderbaarlike wyse te beskerm en te red. Ons kan op heel gepaste wyse die getuienis van Jeremia in Klaagliedere 3:25 hier aanhaal. “Tet. Goed is die Here vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek.”
Na hierdie wonder wat God aan Lasarus en sy familie gedoen het, is Hy natuurlik met sy volgende besoek by hierdie familie as die Eregas ontvang. Daar is nie alleen vir Hom ’n maaltyd berei nie, maar Maria het Hom ook met daardie kosbare en duur nardussalf gesalf. Hierdie mense se optrede was ’n duidelike en opregte getuienis van die diepe, diepe dankbaarheid wat hulle vir sy barmhartigheid en goedheid gehad het. Hierdie bewonderingswaardige optrede van hierdie mense voer ook my gedagtes weer tot by ons volk vandag. Dit laat by my die vraag ontstaan – “Hoe word Hy – wat soveel barmhartigheid en genade aan ons volk bewys het by Bloedrivier en dan ook in die jare daarna – vandag in ons volkshuis ontvang en verwelkom?” Word die roem en die eer van die oorwinning werklik aan Hom gegee? Hierdie is dalk ’n ongemaklike vraag, maar dit is nietemin ’n belangrike vraag wat aan ons gestel moet word. En kom ons bespreek dit. Die logiese, beskaafde en regte reaksie teenoor hierdie wonderlike God wat aan ons soveel barmhartigheid bewys behoort mos ongetwyfeld te wees dat ons met opgewondenheid daarna sal uitsien om Hom in ons volkshuis te ontvang. Ons behoort ook opgewonde te wees om Hom as die Eregas te ontvang en met alles wat ons het te dien. En tog is dit nie heeltemal die geval nie. Hoeveel mense is nie vandag maar net besig om hul “normale gang” te gaan met geen gedagtenis oor God vir sy weldade nie? En hoeveel mense is daar nie wat hierdie dag maar net as ’n lekker vakansiedag beskou en hulself met allerhande vorme van vermaak besig hou nie? ’n Mens hoor selfs van sommige mense die belaglike argument dat hulle nie deur die Gelofte van Bloedrivier verbind is nie, omdat nie hulle of enige van hulle direkte familie daar teenwoordig was nie. So ’n tipe verskoning onderstreep net ’n persoon se absolute gebrekkige kennis van God. Ek sê dit om twee redes. Ten eerste omdat ’n persoon met ’n gesonde kennis en begrip van God ’n verbintenis soos hierdie Gelofte as ’n absolute voorreg en eer sal beskou eerder as ’n onaangename las waarvan jy jouself wil loswikkel. En dan ten tweede omdat so ’n mens onder die wanindruk verkeer dat God ’n mens se toestemming nodig het om sy besluite te bekragtig. Daar is dan boonop ook vandag hoeveel mense wat iewers staan en een of ander verwronge gedagte van “sogenaamde versoening” verkondig – ’n versoening met die goddeloosheid van hierdie wêreld! Sou dit betaamlik gewees het vir Lasarus en sy familie om te ontken dat Christus vir Lasarus uit die dode opgewek en op hierdie wonderbaarlike wyse gered het? Natuurlik nie! Nou hoe kan dit betaamlik wees om die oorwinning wat God aan ons volk op wonderbaarlike wyse geskenk het te misken?
Geliefdes, toe Maria die kosbare nardussalf geneem en Jesus daarmee gesalf het, was daar ook die suggestie deur sommige gemaak dat haar optrede onbetaamlik is. Daar is gestel dat hierdie ’n verkwisting was. En tog spreek Christus haar nie hieroor aan nie. Inteendeel, Hy prys haar optrede. “Maar toe Jesus dit merk, sê Hy vir hulle: Waarom val julle die vrou lastig? Want sy het 'n goeie werk aan My gedoen.Want die armes het julle altyd by julle, maar My het julle nie altyd nie.Want toe sy hierdie salf op my liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op my begrafnis. Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie verkondig sal word in die hele wêreld, sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot 'n gedagtenis aan haar.” (Matt. 26:10-13). Maria het in haar dankbaarheid teenoor God, Hom nie alleen met hierdie kosbare salf gesalf nie, maar sy het niks hiervan probeer terughou nie. Sy het nie net ’n bietjie van hierdie salf gebruik om Hom te salf nie, dit blyk dat sy alles gebruik het. Ja, die reuk van hierdie salf het die huis vervul. En die ander wat teenwoordig was se kritiek t.o.v. die volle oorgawe waarmee sy haar Meester gedien het, het haar min geskeel. Behoort ons as bevoorregte volk wat hierdie wonderdade van God in ons volkslewe ook kan sien nie hierdie voorbeeld van Maria na te volg nie? Ons behoort Hom ook met soveel dankbaarheid, opregtheid en met volle oorgawe te dien. Ons moenie op hierdie of daardie terrein van ons lewe ’n bietjie probeer terughou nie, maar behoort Hom met alles wat ons het en wel ook op elke lewensterrein Hom op eerbiedige wyse te dien. Moet ons volkshuishouding nie ook gevul wees met die aangename geur van Christus tot eer van God nie? Luister na die woorde uit 2 Kor. 2:14&15. “MAAR God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei. Want ons is ’n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan;”.
’n Laaste punt wat ek in hierdie verband wil aanraak, is die rede waarom God hierdie wonderdade verrig het. Hy het Lasarus uit die dode opgewek sodat sy mag openbaar kon word en God daardeur verheerlik kon word. “Jesus sê vir haar: Het Ek nie vir jou gesê, as jy glo, sal jy die heerlikheid van God sien nie? Hulle neem toe die steen weg waar die oorledene lê. En Jesus het sy oë opgeslaan en gesê: Vader, Ek dank U dat U My verhoor het; en Ek het geweet dat U My altyd verhoor, maar ter wille van die skare wat rondom staan, het Ek dit gesê, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.” (Joh. 11:40-42). Christus was wel bewus van Lasarus se siekte en het doelbewus twee dae vertoef in die plek waar Hy was. Hy het Hom nie gehaas om Lasarus gesond te gaan maak nie, want so het dit God behaag om sy heerlikheid te openbaar. Hy gaan egter later, in menslike terme “te laat”, na Lasarus en dié se twee susters en verrig hierdie wonder om Lasarus uit die dode op te wek waardeur God se naam verheerlik sou word. Dit was in ons volk se geval nie anders nie. God het Hom nie oor ons ontferm omdat Hy om een of ander rede dit aan ons verskuldig was nie, of omdat ons hierdie uitsonderlike volk was wat Hy nodig gehad het om sy Naam te verheerlik nie. Maar Hy het hierdie wonder aan ons volk juis hier by Bloedrivier gedoen sodat sy Naam ook daardeur verheerlik sou word. En soos wat hulle wat in die tyd van Lasarus ongelowig en kleingelowig was na hierdie maaltyd kon gaan en vir Lasarus lewend aan die tafel saam met Christus kon sien sodat hulle sou glo, so moet die wêreld na ons volk kyk om ook van sy krag en heerlikheid oortuig te word. En ons, ons kinders en alle geslagte ná ons wat deur God se wil nog in aansyn geroep sal word, is die eer van hierdie wonder en weldade van God aan Hom verskuldig. Sy opdrag in hierdie verband is duidelik. “Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste; en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” (Ps. 50:14&15).