Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As 'n trein deur 'n tonnel gaan en dit donker om jou word, gooi jy nie die treinkaartjie weg en spring van die trein af nie. Jy sit stil en vertrou die ingenieur.
DIENSBAAR MET HART EN MOND
Hannes Ollewagen
Klaagl. 3:1-66
“Noen. Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die Here bekeer;laat ons ons hart saam met die hande ophef tot God in die hemel en sê: Óns het oortree en ons was wederstrewig — Ú het nie vergewe nie.” (:40-42).
’n Goeie ding wat die afgelope dekade onder ons volk te sien was, is die gedurige bespreking van verootmoediging voor God. ’n Mens sien en hoor dikwels van mense wat hieroor praat en ook selfs van byeenkomste in hierdie verband. Ek dink dat die woorde uit 2 Kron. 7:13-15 selfs ’n betreklike bekende teks onder ons volk geword het. “As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek.”
Dit is tog belangrik dat ons moet besin wat bekering en verootmoediging voor God werklik behels. ’n Byeenkoms waar ons voor God bid en ons sonde voor Hom bely, is nie ’n afhandeling van hierdie saak nie. Luister mooi na die woorde uit 2 Kron. 7 – “...hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë...” – verootmoedig en bid en syy aangesig soek en ons bekeer van ons verkeerde weë. Die bekering en verootmoediging voor God is ’n omvattende en deurplopende proses van daadwerklike verandering in ons hele lewe eerder as iets wat ons op een dag met ’n gebed afhandel. ’n Opregte gebed voor Hom en ’n besef van ons verkeerdheid is dalk die begin hiervan eerder as die afhandeling van ons verantwoordelikheid in hierdie verband.
Ons moet versigtig wees dat ons nie met ’n proses van verootmoediging omgaan soos wat menige “Christene” met hul geloof omgaan nie. Hier verwys ek na daardie gedrag van mense wat dink dat hul met ’n uur se kerkbywoning in ’n week hul geloofsverantwoordelikheid ten volle nagekom het. Hoe hul lewens buite die kerk daar uitsien is vir hul eintlik nie ’n kwessie nie. Hierdie oppervlakkige soort Godsdiens wat in woorde en vertoon alleen bestaan, word skerp deur God op verskeie plekke in sy Woord aangespreek. Ek dink dadelik aan Ps. 50 wat juis handel oor die ware Godsdiens. “Maar aan die goddelose sê God: Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond —terwyl jy die tug haat en my woorde agter jou werp? As jy 'n dief sien, dan geval dit jou by hom, en jou deel is met die egbrekers. Jou mond laat jy los in boosheid, en jou tong vleg bedrog. Jy sit en praat teen jou broer, die seun van jou moeder beskimp jy. Hierdie dinge het jy gedoen, en sou Ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy! Ek gaan jou straf en jou dit ordelik voor oë stel. Verstaan dit tog, o Godvergeters, sodat Ek nie verskeur sonder dat iemand red nie.” En dan is daar ook die baie bekende gedeelte uit Open. 3:15&16. “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.”
Ons moenie hierdie fout in volksverootmoediging begaan nie. ’n Ware verootmoediging en bekering tot God behels ’n deurlopende proses waar ons volgens die woorde van Jeremia in Klaagliedere 3 ons weë naspeur en deursoek en ons tot die Here bekeer. Dit behels derhalwe dat ons ons lewens en ons handelinge in oënskou sal neem en gedurig sal ondersoek waar ons lewens nie in ooreenstemming met die insettinge en verordeninge van God se Woord is nie ten einde daardie sake te kan regstel. Ons moet ophou om te doen wat kwaad is en ons moet God se Woord deursoek en naspeur om te leer om te doen wat goed is. Ons moenie vir onsself besluit wat goed is nie, maar ons tot God se Woord wend om daaruit te leer wat goed is. Luister na die duidelike voorskrif in Jes. 1:16-18. “Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee. Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” Ja, met hierdie opregte gesindheid van bekering en verootmoediging wat ook in ons optrede en lewens sigbaar moet word, sal ons verhouding met God herstel word. “AS jý jou hart berei en jou hande uitbrei na Hom— as daar ongeregtigheid in jou hand is, verwyder dit, en laat geen onreg in jou tente woon nie —ja, dan sal jy jou aangesig kan ophef, vry van smet; en jy sal vasstaan sonder om te vrees. Ja, jý sal die moeite vergeet; soos aan water wat verbygeloop het, sal jy daaraan dink. En helderder as die middag sal die lewe oprys; is dit donker — dit sal wees soos die môre!En jy sal vertrou, want daar is verwagting; en kyk jy rond — jy sal in veiligheid gaan slaap.” (Job 11:13-18).
Dit is interessant dat Job sowel as Jeremia stel dat die mens sy hart en hande tot God moet uitbrei of ophef. Hierdie verootmoediging voor God behels dus dat ons dit met die regte gesindheid moet doen, maar dit behels ook dat ons handelinge, ons optrede reg moet wees. Ons kan nie maar onsself sus met die valse troos dat “my hart darem reg is voor God” terwyl my dade van die teendeel getuig nie. Charles Spurgeon stel dit so mooi in een van sy preke dat bekering wat nie ’n daadwerklike verandering in dade voortbring nie, nie ’n ware bekering was nie. En hiervan getuig Jakobus ook in Jak. 2:14&17. “WAT baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie? Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.” Net so min as wat die “regte gesindheid” sonder die dade wat hierby pas vir God aanneemlik is, is ’n oppervlakkige vertoon van godsdienstigheid in ’n leë en onbekeerde hart vir Hom. “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” (Matt. 15:8&9).
Mag ons in ons aksies tot verootmoediging hierdie belangrike saak onthou, naamlik dat dit primêr oor God en sy eer behoort te gaan eerder as dat ons dit net doen om ’n einde aan ons volk se swaarkry met God te probeer beding. Ja, mag ons liefde vir Hom só opreg wees dat ons Hom in waarheid sal soek omdat ons naby aan Hom wil wees oor ons Hom diep en innig liefhet en nie net omdat ons probeer om uit sy Hand voorspoed en seën te probeer kry nie. En mag ons dade, die werk van ons hande eindelik ook getuig van ons ware bekering met ’n opregte gesindheid voor Hom. “Wie mag klim op die berg van die Here? En wie mag staan in sy heilige plek? Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie. Hy sal seën wegdra van die Here en geregtigheid van die God van sy heil.” (Ps. 24:3-5).