Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
'n Mens se kruis hier op aarde is nie 'n las nie, dis 'n skat aan jou gegee sodat jy daaruit kan leer en groei – moet dit dus nie sleep nie, dra dit!
ONS SAL SELF?
Hannes Ollewagen
Ps. 147:1-20
“Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie. Die HERE het ’n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop.” (:10&11).
’n Mens hoor die afgelope tyd op politieke gebied gereeld die wekroep – “Ons sal self”. Dit weerklink omtrent oraloor soos ’n nuwe gonswoord. Dit is dus nodig dat ons oor hierdie wekroep of ingesteldheid sal besin om vas te stel of dit met die riglyn vir ons lewe vanuit God se Woord belyn kan word.
Wanneer ons sê – “ons sal self” – impliseer dit dat ons verantwoordelikheid vir ons eie toekoms en lot aanvaar. En hiermee kan ek heelhartig saamstem. Persoonlike verantwoordelikheid is ’n gesonde beginsel wat in die Woord van God duidelik uitgespel word. Dit word in Eségiël 18 in die hele hoofstuk onder die opskrif “Die persoonlike verantwoordelikheid” behandel. God het die mens se persoonlike aanspreeklikheid ook alreeds in die tyd van Moses duidelik neergelê. “Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word.” (Deut. 24.16).
Ons lees ook in Gal. 6:4&5 waar Paulus aan die Galásiërs hieroor skryf. “Maar laat elkeen sy eie werk op die proef stel; en dan sal hy grond vir roem hê alleen wat homself betref en nie wat die ander betref nie. Want elkeen sal sy eie pak dra.” En wanneer ons van hierdie persoonlike verantwoordelikheid van elke mens lees wat in Romeine 14:12 aangespreek word, besef ons dat die aanvaarding van ’n persoonlike verantwoordelikheid by elke mens onontbeerlik is vir die redding van ons siele. “So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.” Indien die redding van ons siele vir ons belangrik is, sal ons persoonlik daarvoor verantwoordelikheid neem. Wanneer ons vir die saligheid van ons siele persoonlike verantwoordelik aanvaar, beteken dit egter nie dat ons onsself red nie. “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” (Efés. 2:8&9). Dit beteken dat ek verantwoordelik genoeg daarmee sal handel om dit nie net aan “toeval” oor te laat nie, maar dit met sorg in die Hande te plaas van die Een wat my siel kan red. “So laat dan ook die wat volgens die wil van God ly, hulle siele aan Hom as die getroue Skepper toevertrou met goeie dade.” (1 Pet. 4:19).
Ons moet verstaan dat daar ’n verskil in is om verantwoordelikheid te aanvaar en om iets persoonlik te hanteer. Wanneer ’n mens verantwoordelikheid aanvaar beteken dit nie noodwendig dat jy die betrokke saak persoonlik hanteer nie. Jy neem persoonlik verantwoordelikheid, maar kan dalk besef dat ’n ander met groter kundigheid of vaardigheid die saak beter as jyself kan hanteer en daarom sal ’n mens dit dan aan ’n ander, wat jy met die betrokke saak vertrou, toevertrou. Dink byvoorbeeld aan die eenvoudige en praktiese voorbeeld van ’n sakeman wat kundiges in sy onderneming aanstel om hom met verskillende sake soos bemarking, finansies, regsake, personeelaangeleenthede en dergelike sake by te staan. Die eienaar is uiteindelik vir die uitkoms in elke afdeling verantwoordelik, maar hy hanteer nie noodwendig al die verskillende afdelings self nie. Hy neem egter wel die uiters belangrike besluit, nl. aan wie se sorg elke betrokke afdeling toevertrou moet word. En as hy hierin ’n oordeelsfout begaan, sal die gevolge van sy verkeerde besluit bes moontlik rampspoedige gevolge vir sy onderneming inhou. Ons kan op hierdie punt weer die saak van ’n mens se persoonlike verantwoordelikheid in die geloof ook weer ophaal. Die mens wat sy saligheid nie aan Christus toevertrou nie omdat hy dink dat hyself beter sy eie heil voor God kan werk sal ongelukkig uitvind dat die uitkoms van hierdie oordeelsfout net so rampspoedig is as die mens wat gedink het dat dit nie nodig is om sy verantwoordelikheid in hierdie verband ernstig op te neem nie en dit gewoon aan “toeval” oorgelaat het.
Dit bring my by die punt in hierdie wekroep van “ons sal self” wat my tot onrustigheid stem. Dit wat goed is hierin, is die wekroep tot verantwoordelikheid – m.a.w. dat ons as ’n volk moet besef dat ons nie ons toekoms aan tyd en “toeval” kan oorlaat nie. ’n Mens mag nie met jou eie lewe, of met jou volk se lewe so onverskillig handel nie. Die gevaar in hierdie wekroep lê egter daarin dat die indruk by mense gewek word dat ons in die “roem van wie ons is”, in ons eie krag, vir die toekoms van ons volk sal veg en vir onsself ’n toekoms hier sal bou. Dit is ’n onverskillige lewensbeskouïng en ook verwaand om te dink dat ons self meer te vertrou is met ons volk se toekoms as wat God daarmee te vertrou is. Ons lees in Jeremia 42 waar God se volk op hierdie wyse gehandel het met noodlottige gevolg. Hulle het God oor hul toekoms geraadpleeg, maar toe hulle nie die antwoord ontvang wat hulle wou gehad het nie, het hul besluit om self met hul toekoms te handel in plaas daarvan om God met hul toekoms te vertrou en sy leiding te volg. “Want julle het gedwaal ten koste van julle lewe, dat júlle my na die HERE julle God gestuur het, met die woorde: Bid tot die HERE onse God vir ons; en net soos die HERE onse God sal sê, maak dit ons so bekend en ons sal dit doen. So het ek julle dit dan vandag bekend gemaak, en julle het nie geluister na die stem van die HERE julle God, naamlik na alles waarmee Hy my na julle gestuur het nie. Weet dan nou verseker dat julle deur die swaard, die hongersnood en die pes sal sterwe in die plek waarheen julle verkies om te trek om daar as vreemdelinge te vertoef.” (Jer. 42:20-22).
Die geskiedenis van die volk Israel is vir ons gegee sodat ons daaruit moet leer en nie hulle foute moet herhaal nie. Ons moet besef dat dit inderdaad van kardinale belang is dat ons sal opstaan en verantwoordelikheid vir ons volk se toekoms sal aanvaar. En ewe belangrik is dat ons moet besef dat die mees verantwoordelike wyse waarop ons met ons volk se toekoms te werk kan gaan, is om dit veilig in die Hande van God Drie-enig te lê. Ons moet onsself daarop toespits om in ’n gesonde verhouding met Hom te staan, om onsself voor Hom te voorootmoedig en ons rug op die sonde te keer in plaas daarvan om Hom die rug te keer. En wanneer ons in ware liefde en ootmoed met Hom leef, sal ons nie oor ons eie lot wil seggenskap uitoefen nie, maar ons sal Hom volkome daarmee vertrou. Ons sal ook die vrymoedigheid hê om in ware ootmoed tot Hom te bid om ons lot te verander in erkenning dat Hy die Een is wat eindelik ook oor ons volk se lot tot sy eer beskik. “EN as al hierdie dinge oor jou kom, die seën en die vloek wat ek jou voorgehou het, en jy dit ter harte neem onder al die nasies waarheen die Here jou God jou verdryf het,en jy jou tot die Here jou God bekeer en na sy stem luister net soos ek jou vandag beveel, jy en jou kinders, met jou hele hart en met jou hele siel,dan sal die Here jou God jou lot verander en Hom oor jou ontferm; en Hy sal jou weer versamel uit al die volke waarheen die Here jou God jou verstrooi het.” (Deut. 30:1-3).
Ek hoop derhalwe dat hierdie wekroep ons volk se verantwoordelikheidsin sal wakker maak, maar dat dit ons nie tot verwaandeheid en onverantwoordelikheid sal aanspoor nie. Mag ons met volwasse verantwoordelikheid optree om dit wat ons verantwoordelikheid is na te kom terwyl ons dit wat in God se Hand moet wees in sy Hand sal plaas. In sy krag is daar vir ons verlossing terwyl vertroue in ons eie krag vir ons niks anders as ’n struikelblok sal wees nie.
“Want so sê die Here Here, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie en het gesê: Nee, maar op perde sal ons vlieg — daarom sal julle moet vlug! en: Op renperde sal ons ry — daarom sal julle vervolgers laat jaag! Eenduisend van julle sal vlug vir die oorlogsgeroep van een enkele, vir die oorlogsgeroep van vyf, totdat julle oorbly soos 'n vlagpaal op 'n bergtop en soos 'n banier op 'n heuwel.” (Jes. 30:15-17).