Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Almal wonder een of ander tyd wat beteken die begrip liefde tussen mense werklik. 1 Kor 13 vertel dit vir ons en in alledaagse idioom beteken dit: toe ek waardeloos gevoel het, het jy tyd gehad om na my te luister; toe ek nie kon bid nie, het jy saam met my gebid; toe ek bang was, was jy teer met my; toe ek suksesvol was, het jy jou verheug in my prestasies; omdat jy jou eie beperkinge kon aanvaar, het ek geleer om myne te aanvaar; toe ek 'n klankbord nodig gehad het, was jy objektief; toe ek fouteer het, het jy gewag en gehoop ek kom tot myself; toe ek jou seergemaak het, het jy my vergewe; toe ek eensaam was, het jou geloof my ondersteun.
Slotsom: Vanweë jou teenwoordigheid in my lewe, het ek gegroei in my liefde vir Christus: hierin is jou liefde onsterflik.
HY IS NOOIT TE LAAT NIE
Hannes Ollewagen
Mark. 5:21-43
“En daar kom een van die owerstes van die sinagoge met die naam van Jaïrus; en toe hy Hom sien, val hy aan sy voete neer en smeek Hom dringend en sê: My dogtertjie is op haar uiterste; kom lê haar die hande op, sodat sy gesond kan word, en sy sal lewe. En Hy het saam met hom gegaan. En ’n groot menigte het Hom gevolg en Hom verdring.” (:22 - 24).
“Terwyl Hy nog spreek, kom daar mense van die owerste van die sinagoge se huis en sê: U dogter is dood. Waarom val u die Meester nog lastig? Maar dadelik, toe Jesus die woord hoor wat gespreek is, sê Hy vir die owerste van die sinagoge: Moenie vrees nie; glo net.” (:35 & 36).
Kan u uself die magtelose frustrasie van Jaïrus indink? Hy haas hom na Jesus om hulp vir sy liewe kind wat baie, baie siek is – op haar uiterste. Dit is ’n dringende saak. Asof die skare wat Jesus onderweg gevolg en Hom verdring het vir Jaïrus nie genoeg frustrasie moes inhou nie is daar nog ’n vrou wat ook in haar nood na Christus kom en Hom aanraak. En Hy stop midde hierdie dringende reis om eers aan haar aandag te skenk.
’n Mens kan seker verwag dat Jaïrus vir haar wou vra of sy nie haar beurt kon afwag nie? Kon sy nie net vir die volgende dag gewag het nie? Dit is tog nie asof één dag in haar lewe tot die dood sou lei soos wat dit die geval met sy dogtertjie was nie. En dan kom die boodskappers hulle ook inderdaad tegemoet daar waar hulle langs die pad opgehou is om die verpletterende nuus aan Jaïrus mee te deel dat die dogtertjie dood is. Maar voordat Jaïrus kan wonder of kan vra of sy nie gered kon word as hulle nie langs die pad opgehou of getalm het nie stel Christus hom gerus dat hulle steeds “betyds” sal wees. “Maar dadelik, toe Jesus die woord hoor wat gespreek is, sê Hy vir die owerste van die sinagoge: Moenie vrees nie; glo net.” (:36). Vrees nie, Jaïrus, Ek is nóóit te laat nie – ongeag wat jou boodskappers berig. Ek, God, is deur niks gebonde nie – ook nie tyd nie. Konsepte soos “onmoontlik” of “te laat” raak Hom nie.
Hoe mooi voorbeeld is Jaïrus se gedrag dan ook nie. Ten eerste wend hy hom tot Christus om hulp – hy gaan smeek Hom in nederigheid om hulp en glo dat Hy hulle kan help. En daarna lees ons nêrens daarvan dat Jaïrus Christus aanmaan oor die feit dat Hy gedurende hierdie dringende tog stop om eers aan ander – menslik gesproke minder dringende sake – aandag te skenk nie. En nadat hy die boodskap ontvang dat sy dogtertjie reeds dood is, lees ons nie dat hy teenoor Christus murmureer omdat Hy getalm het en dalk betyds kon wees nie. En ook nie dat dit nodeloos is om steeds te gaan omdat dit nou buitendien te laat is nie. Só ’n tipe opstandigheid of woede is nie by hom aanwesig nie, maar gedurigdeur ’n stille vertroue op die hulp van God en daarmee saam ’n stille gehoorsaamheid om elke instruksie van Christus uit te voer.
Hierdie is sekerlik ’n kosbare les vir elke gelowige. Ek wonder hoeveel mense het in hul lewens al ophou bid slegs omdat God nie vinnig genoeg na hul sin op hul bedes reageer het nie? En ’n lewe sonder gebed sal tot ’n ongesonde geloofslewe en ’n ongesonde verhouding met God lei. Behalwe uit die lewe van Jaïrus maak God dit uit talle ander gedeeltes uit sy Woord vir ons duidelik dat ons met geduld op sy hulp moet vertrou, aanhou glo en wag. Dink aan die gelykenis uit Lukas 18 wat begin met ’n verduideliking waarom Christus hierdie gelykenis vertel. “EN Hy het ook aan hulle ’n gelykenis vertel met die oog daarop dat ’n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie,” (Luk. 18:1). En dan gee Hy die pertinente opdrag dat ons ook in ons gebede en geloof moet volhard. “Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?”.
Benewens Jaïrus wat in daardie moeilike omstandighede op God se hulp enduit bly wag het, is daar ook vir ons ander voorbeelde. Dink maar aan die lewe van Abraham. God skenk aan Abraham die belofte van ’n groot nageslag. “Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê: Hierdie een sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees. Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.” (Gén. 15:4-6). Hierdie belofte van God aan Abraham word nie binne ’n dag of twee of selfs ‘n jaar of twee vervul nie. Abraham wag geduldig vir niks minder nie as dertien jaar op hierdie belofte van God. En op die ouderdom van honderd jaar vervul God hierdie belofte aan Abraham. “En Abraham was honderd jaar oud toe sy seun Isak vir hom gebore is.” (Gén. 21:5).
Ek dink ook aan die voorbeeld uit die lewe van koning Dawid. Nadat hy al deur Samuel as koning gesalf is, het hy gedurig voor Saul gevlug wat hom wou vermoor. Dit was omtrent algemene kennis in Israel dat Dawid in die plek van Saul koning sou word. “En nou, kyk, ek weet jy sal sekerlik koning word, en die koningskap oor Israel sal in jou hand standhou.” (1 Sam. 24:21). Saul het uit eie krag probeer optree om te verhoed dat Dawid koning word terwyl Dawid deurgaans nie alleen op God se hulp nie, maar ook op God se tyd, gewag het. “En die manne van Dawid sê aan hom: Kyk, dit is die dag dat die Here aan u sê: Nou gee Ek jou vyand in jou hand, en maak met hom soos goed is in jou oë. Toe staan Dawid op en sny stilletjies die slip van Saul se mantel af.Maar daarna het Dawid se gewete hom gepla, omdat hy die slip van Saul afgesny het,en hy het aan sy manne gesê: Mag die Here my bewaar dat ek so iets aan my heer, die gesalfde van die Here, sou doen om my hand teen hom uit te steek; want hy is die gesalfde van die Here. En Dawid het sy manne streng bestraf en hulle nie toegelaat om teen Saul op te staan nie....”. (1 Sam. 24:5-8). Dawid sou seker kon redeneer dat hy reeds as koning gesalf is en dat hy eenvoudig hierdie proses kon aanhelp deur Saul te vermoor. Hy weerhou homself egter hiervan en laat dit in God se hande om die dag en tyd hiervoor te bepaal.
Ek sluit vandag vir ons af met die pragtige gedeelte uit Jesaja 40 wat vir ons leer en herinner dat God daarvoor begrip het dat ons moedeloos raak, maar terselfdertyd ons vermaan om op God te wag en op sy hulp te vertrou eerder as om onsself uit te put in ons pogings om in eie krag onsself te help. Wanneer ons moedeloos en ongeduldig raak moet ons onsself daaraan herinner dat God se hulp nimmer te laat is nie.
“WAAROM sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby? Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ’n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie. Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” (Jes. 40:27-31).