Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Tyd is die natuur se manier om te voorkom dat alles gelyktydig gebeur. Moet dan nie stukkies tyd vermors nie, benut elke oomblik, anders gebeur alles later gelyktydig.
DIE DERDE TEMPEL (4)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by DIE DERDE TEMPEL
TEMPELVOORWERPE
1. Die opdrag
Die heilige voorwerpe wat vir die Tabernakel gemaak is, is ook later in die Eerste Tempel gebruik. Dit was afbeeldings van hemelse dinge:
“Hulle wat ʼn afbeeldsel en skaduwee van die hemelse dinge bedien, soos Moses ʼn goddelike bevel ontvang het toe hy die tabernakel sou voltooi; want Hy het gesê: Kyk dat jy alles maak volgens die voorbeeld wat jy op die berg getoon is” (Hebr.8:5).
2. Koemran
2.1 Die Koperrol
Wat na die verwoesting van die tempel van die heilige voorwerpe geword het, is nie seker nie. Tydens die Romeinse beleg van Jerusalem het lede van die Esseners en Selote, twee Joods-nasionale godsdiensgroepe, die tempel met mag en mening verdedig. Toe die skrif egter aan die muur kom, het hulle van die heilige voorwerpe uit die tempel verwyder en naby die Dooiesee begrawe om dit uit Romeinse hande te hou.
Die opspraakwekkende ontdekking van die eerste Dooiesee rolle by Koemran (1947) het lig op die gebeure tydens die beleg van Jerusalem gewerp. Die Koperrol (263x30cm) wat in 1953 by Koemran ontdek is, gee besonderhede van die plekke waar sommige van die voorwerpe versteek is. Dit sluit die salwingsolie en hoëpriesterlike borsplaat in.
Ongelukkig het 2000 jaar se wind- en sporadiese watererosie die topografiese voorkoms van hierdie gebied so drasties verander, dat die aanduidings van die Koperrol vandag onduidelik is. Daar kan wel in die toekoms opspraakwekkende ontdekkings gemaak word!
Benewens die gewone argeologiese metodes, maak navorsers deesdae ook van gevorderde tegnologie gebruik. ‘n NASA-span het ‘n toestel ontwerp wat voorwerpe met behulp van elektroniese frekwensie etlike meter onder die grond kan opspoor. Dit het alreeds etlike grotte, tonnels en kamers met hul inhoud in die Koemrangebied blootgelê.
Een van dié lesings het getoon dat daar minstens 40 verseëlde kleihouers met perkamentrolle in ʼn sekere grot versteek lê. Ander lesings het nog ʼn koperrol, potte, hout- en verskeie metaalvoorwerpe aangedui. Daar word tans daarna gegrawe. Dit gaan egter ʼn hele paar jaar neem omdat die betrokke grot 13 meter onder die grond is en navorsers streng volgens argeologiese aanwysings werk.
Israel verwelkom ook buitelandse argeoloë. Die Talmoed voorspel dat nie-Jode gaan help om baie van die heilige voorwerpe terug te vind. Buitelanders het baie van die mannekrag asook boumateriaal vir die Eerste Tempel voorsien. Dit gaan weer gebeur!
Volgens die Koperrol bestaan die versteekte skatte uit 3,282 talente goud en 1,280 talente silwer - 98 en 38 ton onderskeidelik! As daar in gedagte gehou word dat die tempel ook Israel se bank was, is dit nie vergesog nie. Cicero skryf dat benewens die tempelbelasting Israel ook bydraes van Jode in die verstrooiing ontvang het. Op daardie tydstip het ongeveer 10 miljoen Jode buite Israel gewoon.
Toe genl. Pompei Jerusalem in 63nC beleër het, het hy 10,000 talente (300 ton) se edelmetale geëis en van die Jode ontvang. Baie van die rykdom is van die halfsikkel tempelbelasting verkry wat elke manlike burger van Israel asook buitelanders opgelê is. Daarbenewens het proseliete ook sekere bydraes gemaak; mense wat nie van Joodse afkoms was nie, maar die Judaïsme aanvaar het. ʼn Halfsikkel was destyds aan twee dae se arbeidersloon gelykstaande.
Hierdie belasting het vir Israel groot rykdom gebring en is deur tempelwagte bewaar. Indien ʼn wag aan diens geslaap het, het die hoofwag die klere aan sy lyf aan die brand gesteek en hom daarna ontslaan. Dis waar die Engelse uitdrukking you’re fired vandaan kom. Dit verklaar ook Openb.16:15: “Kyk, Ek kom soos ʼn dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop…”
Die veiligheid van die tempel was aan ʼn hoofman met bekwame wagte toevertrou (Hand.4:1). Hy het die sleutels van die tempel gedra - die sleutelfiguur. Die tempel is 24 uur per dag bewaak. Veral snags wanneer die nagwag uit 240 Levitiete en 24 ander stamlede bestaan het. Rowers het dikwels snags toegeslaan. “Maar die dag van die Here sal kom soos ʼn dief in die nag….” (2 Petr.3:10).
2.2 Die Esegiël-teëls
Benewens die Koperrol is daar nog ʼn bron wat lig op die verlore heilige voorwerpe werp - die Esegiël-teëls. Hierdie 66 albaster en swart basaltteëls is jare gelede in die graf van die profeet Esegiël in Kafr Al-Kafil (Irak) gevind. Dit was destyds nie ongewoon om belangrike manuskripte en ander geskrewe materiaal saam met die liggaam van ʼn belangrike persoon te begrawe nie. Die Talmoed noem dit ook.
Die Esegiël-teëls maak van toegewyde priesters melding wat van die tempelskatte na geheime wegsteekplekke naby die berg Karmel geneem het. Hierdie teëls word tans in die Yad Ben Zvi Instituut in Jerusalem bewaar en kan geleerdes moontlik help om van die heilige voorwerpe op te spoor.
3. Die ashouer
Reinigingswater was vir die Jode baie belangrik. Die as van ʼn rooi koei wat op die Olyfberg geoffer is, was ʼn belangrike bestanddeel daarvan. Die Mishneh Tora sê dat so ʼn koei 2-4 jaar oud moes wees. Reinigings-water is uit haar as verkry nadat dit met ʼn sekere rooi garedraad, sederolie en hissop gemeng is. So ʼn dier moes suiwer rooi wees. Een haar van ʼn ander kleur sou haar ongeskik vir die offer gemaak het. Suiwer rooi beeste is skaars. Die meeste het een of ander kleurgebrek.
Volgens die Mishneh Tora is die rooi koei maar min geoffer. Een keer tydens Israel se woestyntog en ʼn ander keer in die tyd van Esra. Daarna is dit net vyf keer tot en met die verwoesting van die Tweede Tempel geoffer. Die as van vorige offers is telkens by die nuwes gevoeg om ʼn fisiese voortsetting van die offer te verkry.
Hierdie reinigingswater het groot medisinale waarde gehad. Dit het kieme vernietig en ontsteking voorkom. Die sederolie daarin is van ʼn sekere jenewerbessie wat in die Sinai-gebied gegroei het, verkry. Dit het die vel geprikkel sodat die hande vinnig gevryf moes word. Die hisopolie daarin is ʼn ontsmettingsmiddel wat vandag nog gebruik word. Dit het die Jode teen dodelike ontsteking beskerm.
Die Jode se persoonlike gesondheidsorg het hulle kop en skouers bo die heidennasies laat uitstaan. As in gedagte gehou word dat die gevaar van kieme en ontsteking eers teen die 1880’s ontdek is nadat medici die noodsaaklikheid vir basiese higiëne begin verstaan het, is dit wonderlik dat God dit alreeds meer as 3500 jaar tevore onder sy volk se aandag gebring het!
ʼn Perkamentrol wat in 1952 by Koemran gevind is, meld dat die laaste offer van die rooi koei in 68 nC, d.w.s. minder as twee jaar voor die verwoesting van Jerusalem, plaasgevind het. By hierdie geleentheid het die priesters die as in ʼn kleihouertjie gesit en laat begrawe ten einde dit later weer te herwin. Wat ʼn opskudding sal dit nie veroorsaak indien hierdie as gevind word nie! Dit sal ʼn wesenlike bydrae tot die reiniging van die Derde Tempel lewer.
4. Die salwingsolie
Inligting uit die Koperrol het tot ʼn suksesvolle soektog na die shemen afarsimon, ʼn heilige salwingsolie, gelei. Hierdie olie het na die verwoesting van die Tweede Tempel verlore geraak. ʼn Paar jaar gelede is ʼn kleihouer met olie wat al tot ‘n gelatienagtige stof verhard het in ‘n grot by Koemran gevind. Dit was in palmblare toegedraai en ʼn meter diep begrawe om dit teen hoë temperature te bewaar.
Tydens ʼn ontleding daarvan is bevind dat dit al vyf die bestanddele wat vir die salwing van konings voorgeskryf is, bevat (Ex.30:23-31). Navorsing het getoon dat dit bykans 2,000 jaar oud was. Die Talmoed sê dat ʼn druppel salwingsolie water melkerig wit maak. Hierdie olie het!
Een van die bestanddele daarvan is ʼn baie skaars balsem-olie. Dis in die verlede so waardevol geag, dat Kleopatra haar minnaar, Markus Antonius, vir ʼn laning balsembome by ʼn oase naby Jerigo gevra het. Op daardie tydstip was daar net twee lanings in Palestina bekend - een by Jerigo en die ander by Engedi.
Toe dit duidelik was dat Jerusalem verwoes gaan word, het Joodse priesters hierdie twee lanings laat afbrand om te verhoed dat dit in vyandshande val. Daarna kon geen salwingsolie gemaak word nie.
Miskien was dit ʼn bydraende faktor waarom daar nie weer ʼn tempel gebou is nie. Sonder salwingsolie kan geen priester of heilige voorwerp gesalf word nie. Vandag is dit wel moontlik. Dinge is besig om vir die bou van die Derde Tempel in plek te val.
5. Dalk in Jerusalem?
Dis moontlik dat baie van die heilige voorwerpe Jerusalem nooit verlaat het nie, maar iewers onder die Tempelberg versteek is. Salomo het juis hierdie ondergrondse plekke laat inrig om inwoners en kosbaarhede teen vyandige aanvalle te beskerm. Dis ook vir die berging van graan en ander lewensmiddele gebruik om Jerusalem vir minstens 10 jaar van lewensmiddele te voorsien. Geen stad was so goed teen ʼn beleg ingerig nie. Jerusalem is 27 keer aangeval; meer as enige ander stad ter wêreld!
Toe argeoloë ʼn paar jaar gelede op die ou Wespoort afkom, het WAQF geeïs dat die tonnel onmiddellik met beton afgesluit moes word. Mense wat in die tonnel was, het daarna gesê dat alhoewel hulle nie nader kon gaan nie, hulle verskeie goue voorwerpe op ʼn afstand gesien het.
6. Die goue kandelaar
Baie van die tempelvoorwerpe wat tydens die Romeine verwoesting van Jerusalem gebuit is, is heelwaarskynlik met verloop van tyd vir ander gebruike opgesmelt. Sommige het later in besit van die Roomse Kerk gekom. Heelwaarskynlik ook die goue kandelaar (menora) wat op ‘n driepoot in die tempel gestaan het.
Exodus meld dat hierdie kandelaar sewe arms gehad het en van suiwer goud gemaak is. Dit was die simbool van Joodse gesag en is op verskeie muntstukke in die tyd van die Tweede Tempel uitgebeeld.
Israel dring al baie jare by die Roomse Kerk aan om die voorbeeld van die eertydse Perse te volg wat al die skatte wat die Babiloniërs gebuit het aan die Jode terugbesorg het. “En koning Kores het die voorwerpe van die huis van die Here uitgelewer wat Nebukadneser uit Jerusalem weggevoer en in die huis van sy god gesit het” (Esra 1:7).
In 2004 het twee rabbis, Shlomo Amar en Yonah Metzger, pous Johannes Paulus II in die Vatikaan besoek. Tydens ʼn gesprek het rabbi Amar hom na die verlore tempelvoorwerpe en goue kandelaar (menora) gevra omdat hy geweet het dat dit in Rome was. Alhoewel die pous dit heftig ontken het, het die rabbis geweet dat hy lieg.
Geskiedkundige bronne bevestig dat die seëvierende Romeinse soldate baie van die tempelvoorwerpe na Rome weggevoer en daarna as oorlogsbuit in die Tempel van Vrede uitgestal het. Die goue kandelaar word bv. op die triomfboog van Titus afgebeeld wat vir die oorwinnings-mars van die terugkerende Romeinse leër opgerig is. Pous Pius VII het in 1821 herstelwerk daaraan gedoen en ʼn gedenkplaat laat aanbring wat lui dat die triomfboog vir beide godsdiens en kuns belangrik is.
Die Jode verag hierdie triomfboog wat soldate uitbeeld wat die goue kandelaar soos ʼn oorwinningstrofeë dra. Dit spreek van nederlaag en ʼn ontheiliging van dit wat heilig is. Met die herstel van die staat Israel in 1948 is dit waarvoor die triomfboog staan, gedane sake en behoort die kandelaar terug te kom. Dit sal die onreg wat genl. Titus die Jode aangedoen het, omkeer.
Die Verbondsark.. vervolg