Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Huigelary is 'n wêreldtendens. Dit is so dat byna al die Blankes wat in die VSA teen apartheid is, in Blanke woonbuurtes woon. Thomas Jefferson, 3e president van die VSA, het geskryf dat alle mense van hulle geboorte af gelyk is, maar hyself het sy hele lewe deur slawe aangehou...
DIE DERDE TEMPEL (1)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by DIE DERDE TEMPEL
Inleiding
Om te weet waarheen die mensdom oppad is, moet ʼn mens verstaan hoe hulle daar gekom het. Die huidige wêreldsituasie is die gevolg van duisende jare se geskiedenis wat by Israel begin het en weer daar gaan eindig. Israel was van meet af aan deel van God se groot plan met die mensdom. Daarom is die einde van die wêreld onlosmaaklik met die lot van Israel verweef.
Israel is baie anders as enige ander volk op aarde. Haar geskiedenis is geskryf alvorens dit gebeur het. Min volke steur hulle vandag aan die lot van Israel. Sommige draai selfs die rug op haar. Dit bied aan vyandelikes die geleentheid om geweld in Israel te ontketen.
Met die totstandkoming van Israel as staat, het die horlosie van die wêreld die laaste minute van tyd op aarde begin aftik. Dit word aan ʼn reeks gebeure gekenmerk wat besig is om in vervulling te gaan. Die bou van die Derde Tempel op die Tempelberg in Jerusalem is een daarvan.
Baie Jode sien die afwesigheid van ʼn eie heiligdom in Jerusalem as ʼn aanklag teen die Joodse volk. Rome het die Vatikaan en die Islamiete die Kaäba. Die Jode het slegs ʼn muur. Waarom moet hulle in hul eie land voor ʼn muur bid as hulle dit ʼn tempel kan doen?
Die verwoesting van die Tweede Tempel in 70 nC en die daaropvolgende verstrooiing van die volk, het die hart uit die Joodse godsdiensbelewing gepluk. Die verstrooides het 19 eeue lank vir ʼn terugkeer na Israel en die herbou van die Derde Tempel gebid. Tydens die jaarlikse Paasfees en Yom Kippur (Versoeningsdag) het hulle mekaar altyd met die volgende woorde gegroet: “Volgende jaar in Jerusalem!”
Toegewydes se versugting om ʼn tempel op ʼn vrye vaderlandsbodem te hê, het hulle in die verstrooiing selfs driemaal per dag in die rigting van Jerusalem laat bid (Dan.6:11). Vandag is hulle op die vooraand van die verwerkliking van hierdie eeu-oue droom. Daarom staan hulle die Islamitiese beheer van die Tempelberg al hoe meer teen.
Die Joodse besitname van die Tempelberg is profeties voorspel. Soos wat die Berlynmuur moes val om Oos-Europa van Russiese oorheersing te bevry, sal die Islamiete die beheer oor die Tempelberg moet verloor alvorens die Derde Tempel gebou kan word.
HOOFSTUK 1
DIE STAAT ISRAEL
1. Die ontstaan
God het die herstel van Israel deur profete beloof. Esegiël is die duidelikste hieroor: “en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land. En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeeld wees nie” (Eseg.37:21,22).
Daarom het die Jode, ten spyte van al hul ongunstige belewenisse, gesweer om Jerusalem nooit te versaak nie. Hulle het oorloë geveg, teen gedugte magte te staan gekom, twee verwoestings van die tempel aanskou en selfs drie ballingskappe oorleef. Desondanks het hulle geglo dat God hulle op sy eie tyd na hul vaderland sou laat terugkeer.
Op 15 Mei 1948 is hierdie vir bykans 50 geslagte Joodse bannelinge vervul toe ʼn ramshoring in Jerusalem geblaas en die staat Israel gebore is. Daarmee het die tyd van verlossing, soos die Jode glo, aangebreek en die vyeboom begin bot (Mt.24:32). Die vyeboom is ʼn eeue oue simbool vir Israel (Rigt.9:10; 1 Kon.4:25; Luk.13:7; Joh.1:50). Die gesig wat Esegiël van die vallei vol doodsbeendere wat lewendig geword het ontvang het, is vervul (Eseg.37)!
2. Jerusalem in die spervuur
Toe die VVO (latere VN) die Palestynse kwessie in 1947 ter tafel geneem het, is aanbeveel dat die stad Jerusalem geïnternasionaliseer moes word. (Die plaaslike Arabiere staan as Palestyne bekend). Alhoewel die gewraakte voorstel Jode dwars in die krop gesteek het, het hulle dit bloot aanvaar om ʼn voet in die deur te kry. Die Arabiese state was egter nie so inskiklik nie. Jordanië het Israel in Mei 1948 aangeval en Oos-Jerusalem beset. Jerusalem was vir die eerste keer in die geskiedenis ʼn verdeelde stad en sou vir 19 jaar so bly.
Israel se hoofstad was aanvanklik in Wes-Jerusalem. Jordanië het die oostelike deel van die stad beheer waar die meeste heiligdomme is. In 1950 het sy hierdie gebied sowel as dié wes van die Jordaanrivier by haar eie grondgebied ingelyf. Dit het nie net die Jode omgekrap nie, maar ook ander Arabiese lande wat Jordanië se lidmaatskap aan die Arabiese Bond wou opskort.
Nadat ʼn ooreenkoms bereik is, kon Jordanië die besette gebied vir die Palestyne in trust hou. Gevolglik was Jerusalem van 1948-67 tussen Israel en Jordanië verdeel. Omdat Jordanië en die ander lede van die Arabiese Bond in ʼn staat van oorlog met Israel verkeer het, was Jerusalem in twee kampe met betonmure, ondergrondse skuilings, doringsdraad, mynvelde en ander versterkings verdeel.
In 1949 het die VVO ʼn skietstakingsooreenkoms en vredesreëlings tussen Israel en Jordanië bewerkstellig. Net hierna het Jordanië die ooreenkoms verbreek en Israel belet om die Wesmuur en die Joodse begraafplaas teen die Olyfberg te besoek.
Om alles te bekroon, het Jordanië die begraafplaas willens en wetens ontwy deur ʼn pad bo-oor die Olyfberg na ʼn nuwe hotel te bou. Dit het baie van die ou grafte in die slag laat bly. Van die grafstene is selfs as sypaadjies en toilette in die kamp van die Jordanies-Arabiese Legioen gebruik! Daarna is ʼn aantal wonings insluitende 58 sinagoges in die Joodse woonbuurt in die Ou Stad so beskadig, dat dit gesloop moes word.
Die Jode was nie die enigstes wat onder vyandelike optrede deurgeloop het nie. Christene is ook aan bande gelê. Slegs ʼn beperkte getal is toegelaat om die Ou Stad en Betlehem tydens die Kerstyd te besoek. Gevolglik het baie Christene Jerusalem verlaat. Van die 25,000 Christene wat in 1949 daar gewoon het, het slegs 13,000 in 1967oorgebly.
3. Die Sesdagoorlog
3.1 ʼn Onafwendbare oorlog
Die Sesdagoorlog was ʼn keerpunt in die geskiedenis van die staat Israel. Egipte het haar skielik uit die suide, Jordanië uit die ooste en Sirië uit die noorde aangeval. Daar was ook verskeie bombardemente vanuit die Middellandse See. God het egter aan ʼn klein, onvoorbereide Israeli leër ʼn roemryke oorwinning soos op die dag van Midean (Rigt.7) gegee.
Na hierdie oorlog het ongeveer 200,000 Jode op die Tempelberg saamgekom om vir die eerste keer in 2,000 jaar by die fondament van hul verwoeste tempel te bid. Dit word allerweë as die grootste Joodse pelgrimstog sedert die verwoesting van die Tweede Tempel beskou. Shlomo Goren, die hoofrabbyn, het by hierdie geleentheid saam met die seëvierende soldate ʼn dankseggingsdiens gehou en dit Yom Yerushalayim (Jerusalemdag) genoem. Dit het daarna ‘n openbare vakansiedag geword.
Israel het alle neerhalende wetgewing op die Tempelberg opgeskort. Niemand sou voortaan verbied word om ʼn heiligdom op die Tempelberg te besoek nie. Die gesag van die heiligdomme is aan die onderskeie gelowe oorgedra. Gevolglik stroom miljoene Moslems en Christene sedert 1967 na die Tempelberg. Wyle president Anwar Sadat van Egipte was ook by geleentheid daar.
3.2 ʼn Onbesonne flater
Israel het egter ʼn baie groot fout gemaak toe genl. Moshe Dayan, die Minister van Verdediging, met die Islamitiese Hoëraad vir Godsdiens-aangeleenthede (WAQF) gesprek gevoer en die administratiewe gesag van die Tempelberg aan hulle oorhandig het. Dayan wou skynbaar nie ʼn tweede Vatikaan in Jerusalem skep nie. Ongelukkig het sy misplaaste welwillendheidgebaar die Jode die Tempelberg gekos en die allerheiligste plek in vyandshande laat beland!
Sedertdien is die Tempelberg die middelpunt van Joods-Islamitiese botsings soos Christus ook voorspel het: “…en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk.21:24). Jode word selfs deur hul regering verbied om op die Tempelberg te aanbid omdat dit die Islamiete opstandig kan maak!
Islamiete verhinder Jode om die Derde Tempel te bou en dreig hulle selfs met ʼn jihad (heilige oorlog). Die Jode het in 2007 ʼn voorsmaak hiervan gehad toe uitgrawings gedoen moes word om ʼn toegangshelling op die Tempelberg te herstel. Ten spyte daarvan dat dit 55 meter van die naaste Islamitiese heiligdom was, was daar byna oorlog!
WAQF is onverbiddelik in hul gesag op die Tempelberg. Toe ʼn breuk van 700 mm in September 2002 in die suidelike muur ontstaan het, het WAQF geen Joodse ondersoekspan toegelaat nie. Na ʼn ooreenkoms met die regering, het Jordaniese ingenieurs die herstelwerk van 250 vk.meter in Januarie 2004 teen ʼn koste van $140,000 afgehandel.
Om sake te vererger, het ʼn aardbewing op 11 Februarie 2004 skade aan die oostelike muur aangerig. Vyf dae later het ʼn deel van die stutmuur wat vanaf die Wesmuurplaza na die Poort van die More strek, ineengestort. Kort hierna is bevind dat die gedeelte wat as die Stalle van Salomo bekend staan, onstabiel was en op bidders kon omval. Koning Abdullah van Jordanië het dit as ʼn slenter van die Jode afgemaak om Islamiete te verhoed om daar te aanbid. Nadat twee kleiner mure kort hierna ineengestort het, is daar egter baie vinnig opgetree!
4. ‘n Uitgemaakte saak
Ten spyte van alle teenstand sal die Derde Tempel op die Tempelberg gebou word, al moet dit ook deur wapengeweld vooraf gegaan word. Die geboorte van die staat Israel is geen toevalligheid nie, maar ʼn belofte van God wat vervul is.
“En Ek sal ʼn verbond van vrede met hulle sluit, dit sal ʼn ewige verbond met hulle wees; en Ek sal hulle daar bring en hulle vermenigvuldig; en Ek sal my heiligdom in hulle midde vestig vir ewig. En my tabernakel sal oor hulle wees, en Ek sal vir hulle ʼn God wees…En die nasies sal weet dat Ek die HERE is wat Israel heilig as my heiligdom vir ewig in hulle midde wees” (Eseg.37:26-28).
Die bou van die Derde Tempel kan net so min gekeer word as wat die lewe agteruit kan beweeg. Derhalwe keer Israel se vyande tevergeefs! Wie teen God veg, verloor altyd (Jes.62:8). Dieselfde geslag wat die staat Israel in 1948 tot stand sien kom het, sal ook die bou van die Derde Tempel aanskou (Mt.24:32-34). ʼn Geslag word op 70 jaar bereken.
‘n Eertydse hoofrabbyn, Israel Eldad, het in 1948 gesê dat die Joodse volk in dieselfde situasie as koning Dawid was toe hy Jerusalem van die heidene bevry het. Na dié bevryding is die tempel binne die bestek van ‘n geslag gebou. Eldad het voorspel dat dit weer sou gebeur. Dieselfde geslag wat die ontstaan van die staat
Hoofstuk 2 vervolg...