Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie die waarheid verdedig, kan dit nie in eie krag doen nie, maar slegs met God s’n wat Hy beloof: “Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob, volkie Israel! Ek help jou, spreek die Here, en jou Losser is die Heilige van Israel” (Jes.41:14).
MENSEREGTE...
...VAN LIBERALISME TOT TOTALE INEENSTORTING
Jeanette Koekemoer
“Dink u nog dat die uitvoering van ‘menseregte’ ‘n onskuldige, goeie stap was vir die sogenaamde arme, onderdrukte agtergeblewenes in Suid-Afrika? Indien wel, sal u binnekort anders dink wanneer u met u eie oë die ineenstorting van so ‘n regime beleef wat tradisioneel gepaard gaan met barbaarse geweld. Mag die Here sy kinders in hierdie land vergewe, beskerm, ons land reinig en self kom regeer want ons was nie in staat om die verval te keer nie!”
Vandag is dit weer sogenaamd Menseregte-dag. Waaroor gaan hierdie menseregte-obsessie wat so hard deur die regering van die dag gedryf word? Is dit ‘n opregbedoelde poging om mense wat ‘tevore onderdruk’ is of ‘agtergebly’ het, te beskerm en op te hef? Of is dit die onderbou van die totale ineenstorting van ons land wat ons binnekort met ons eie oë gaan sien? Het dit begin met wat regter Broome sou noem “onondersoekte liberalisme wat totaal verwyderd staan van die werklikheid”?
Regter FN Broome, voormalige Regter-president van Natal, sê in sy deurdagte toespraak, “Menseregte”, “Human Rights” voor die Instituut van Stadsklerke in Mei 1964:
“Nie almal wat in Suid-Afrika oor menseregte praat, word deur sinistêre bedekte motiewe aangespoor nie. Die meeste van hulle is waarskynlik edelmoedige mense wat slegs die goeie vir hulle medemens begeer. Maar laat ons nogtans op ons hoede wees. Ons moet nie die growwe fout begaan om te veronderstel dat elke liberaal ’n vermomde kommunis is nie, maar ons moet versigtig wees vir wat die President van ’n Amerikaanse universiteit onlangs ‘onondersoekte liberalisme’ genoem het en wat, na ek veronderstel, vae, filosofiese liberalisme beteken wat geen verband met die praktiese werklikhede van die lewe het nie”.
Onthou, hierdie toespraak is in 1964 gelewer, lank voor ons land deur misleiers aan ‘n kommunistiese swart regime op ‘n silwer skinkbord oorhandig is. Vandag is Suid-Afrika ‘n volkome kommunistiese land waar die meerderheid nie meer die edelmoedige mense is wat slegs die goeie vir hulle medemens begeer nie, maar juis die teenoorgestelde. Soos ‘n leraar onlangs vanaf ‘n kansel gesê het: “Daar is vandag geen liefde meer vir die naaste sigbaar nie; elkeen leef vir homself, sy eie belange en plesier, in die grootste selfsug, wat ‘n skande!”. Dit klink soos Openbaring waar geskryf staan dat tekens van die eindtye onder andere mense is wat liefhebbers van hulself en genot sal wees.
Maar om terug te keer na ‘onondersoekte liberalisme’. Soos die destydse Regskommissie se voorgestelde Menseregte-akte in Werkstuk 25 bevestig:
“Die leerstelling van menseregte is niks anders as onondersoekte liberalisme in hierdie sin nie”.
Hiermee is die liberalisme en die universeël egalitariese (menende die beginsel dat alle mense gelyk is) inhoud van die “rule of law” doeltreffend blootgelê. Dit behoort inderwaarheid te lui: “the rule of liberal law”. Die protagoniste van die “rule of law” was dus inderdaad pleitbesorgers vir die liberale politiek wat tot die oorname van ‘n swart, korrupte kommunistiese regering gelei het.
Die inkorporering van ’n Handves van Menseregte in die Suid-Afrikaanse Grondwet is al sedert die laat tagtigerjare bepleit vanuit sekere regsakademiese kringe. Daar is toe aangevoer dat so ’n verklaring ’n doeltreffende wyse sal wees waarop beskerming gebied kan word aan individuele regte van alle persone. So ’n verklaring, lui die argument, staan bokant die tydelikheid, veranderlikheid en onvoorspelbaarheid van politieke wisselinge. Derhalwe sal geen individu kwansuis enige rede tot kommer oor die stand van sy regte hê nie, omdat watter regering ook al die bewind voer, hy aan die bepalings van die menseregtedeklarasie onderworpe sal wees en binne die beperkings daarvan sal moet optree.
Die Verklaring sou verhewe staan bo ander wette weens die onbuigsaamheid daarvan: ’n twee-derde of selfs groter meerderheid (of ’n sogenaamde konsensusbesluit) is vereis om die bepalings ongedaan te maak. Derhalwe is dit geïnsuleer teen sosio-politieke veranderinge, onaangetas deur magsverskuiwings en bied dit kwansuis ’n klinkklare en permanente beskerming van regte. Die vraag behoort te wees: wié se regte...
Die politieke swakhede van hierdie argument is so duidelik dat dit byna geen kommentaar behoef nie. Om te dink dat ’n blote grondwetlike dokument in die pad kan staan van politieke magte wat dít wat in die dokument vervat is, wil vernietig, grens onteenseglik aan wensdenkery. Politieke magsvergryp word nié voorkom deur teoretiese verklarings nie, maar deur teenoorstaande politieke magte wat mekaar bedwing en balanseer waarvan vandag in Suid-Afrika geen sprake is nie, geen politieke mag wat die land en sy mense se belange eerste stel en as ware opponent vir die oligargie in die regeerstoel dien nie. Hiervan het ons huidiglik meer as genoeg bewyse.
Presies dieselfde beskuldiging as wat gewoonlik teen die Afrikaner gemaak is — dat hy homself angsvallig wil beskerm deur statutêre reëlings — kan vandag ingebring word teen voorstanders van die Handves van Menseregte. Sou daar enige angsvalligheid verbonde wees aan selfbeskermende statutere maatreëls, is die voorstanders van Menseregte angsvallig in die oortreffende trap. Dit is juis omdat waar ’n gewone wet bloot deur ’n gewone parlementêre meerderheid verander kan word, word ’n veel groter meerderheid vereis vir die wysiging van ’n verskanste grondwet. Verder handel ’n wet net oor enkele sake, terwyl die Handves van Menseregte ’n omvattende dokument is wat fundamentele beginsels oor ’n wye veld bevat. Laat ons dan hierdie beskuldiging met die minagting behandel wat dit verdien.
Die waarheid oor hierdie menseregtekultus is dat dit geskep is om veral die rassekwessie uit die gesprek uit te skakel, om die mindere rasse dieselfde rang te gee as die ander rasse en hulle uiteindelik deur getalle die oorwig te gee. En dit is presies wat in Suid-Afrika gebeur het. Die protagoniste vir menseregte het dus vanaf 1964 met ‘onondersoekte liberalisme’ gevorder tot vandag waar die Handves van Menseregte die bybel van die huidige regime geword het; meer belangrik en onomkeerbaar as enige ander wetgewing, die ‘rule of law’ van die ANC, gedryf deur wit liberale regsakademici.
Enige politieke misstappe van die regering word eenvoudig deur die regbank — die hoofkwartier van die liberale idee — ongedaan gemaak deur dit aan die hand van die Deklarasie ongeldig te verklaar. Onaantasbare “reg” word dus gemaak van politieke idees. Die ironie is duidelik. Die idee van regsoewereiniteit het begin as ’n liberale gedagte, maar het eindelik geëindig in ’n onaantasbare vorm van ondemokratiese totalitarisme wat die oorsaak is vir die misdaad en ekonomiese ineenstorting in ons land, nou gedryf deur ‘n onbevoegde, onaantasbare kommunistiese regime.
Dink u nog dat die uitvoering van ‘menseregte’ ‘n onskuldige, goeie stap was vir die sogenaamde arme, onderdrukte agtergeblewenes in Suid-Afrika? Indien wel, sal u binnekort anders dink wanneer u met u eie oë die ineenstorting van so ‘n regime beleef wat tradisioneel gepaard gaan met barbaarse geweld. Mag die Here sy kinders in hierdie land vergewe, beskerm, ons land reinig en self kom regeer want ons was nie in staat om die verval te keer nie!